Читать книгу In my vel - Azille Coetzee - Страница 4
Die Sarphatistraat
ОглавлениеDie Sarphatistraat in Amsterdam is breed en boomryk. Die woonstelgeboue wat aan beide kante uitkyk op die straat is hoog en mooi en het almal die kenmerkende Nederlandse gewels. Volg jy die straat in die oostelike rigting kom jy uit by Amsterdam se bekende dieretuin, sowel as die operahuis, die botaniese tuin en die Tropenmuseum. Volg jy die straat na wes, gaan jy oor die Amstelrivier in die rigting van die Rijksmuseum.
Die straat is bekend in Nederland omdat dit verewig is in die beroemde openingsin van een van die kortverhale van die twintigste-eeuse Nederlandse skrywer Nescio. Nescio begin “De Uitvreter” met die woorde: Behalve den man, die de Sarphatistraat de mooiste plek van Europa vond, heb ik nooit een wonderlijker kerel gekend dan den uitvreter. Dis vir my steeds glad nie duidelik wat Nescio nou eintlik hier sê oor die Sarphatistraat nie (of oor die uitvreter, in daardie geval), maar blykbaar was die Sarphatistraat in Nescio se tyd geag as ’n voorbeeld van negentiende-eeuse wansmaak. Vandag is dit egter ’n gesogte adres.
Kort ná ons aankoms in Amsterdam, trek ek en C in ’n woonstel in op die tweede vloer van een van die mooi geboue in hierdie straat. Die woonstel is gemeubileerd, maar net met die basiese. In Nederland, waar middelklas die norm is en die meeste tweedehandse dinge geen waarde het nie, sit mense die meubels wat hulle nie meer wil hê nie soggens saam met die vullis uit. Vroegoggend op vullisdae gaan stap ons deur die buurt en binne ’n paar weke het ons ’n rusbank en ’n paar stoele, ’n wasgoedrak, ’n potplant of twee, ’n vollengte spieël en ’n lessenaar bymekaargemaak. C tel ’n ou deur op en maak daarvan vir ons ’n groot eetkamertafel, waar tot twaalf mense kan sit en eet.
Ons woonstel is ’n klipgooi van een van die beste Amsterdamse klubs van daardie jaar: Trouw. Die klub is in die gebou waar die koerant Trouw voorheen gedruk is. Die koerant is oorspronklik gedurende die Tweede Wêreldoorlog begin deur ’n groep ortodokse protestante as deel van die weerstandsbeweging teen die Nazi-besetting van Nederland.
Trouw, die klub, gaan kreatief en ironies met hierdie geskiedenis om. ’n Soort huldeblyk aan die Berlynse ondergrondse klubs, soos Berghain, en ’n goddelose viering van vleeslike plesier en oorgawe, dae en nagte lank aaneen. Honderde dansende mooi lang, jong blonde Amsterdammers. Wanneer ons vriende uit Suid-Afrika kom kuier, neem ons hulle soontoe.
Een van die kampusse van die Universiteit van Amsterdam sit ook hier in die Sarphatistraat, en op enige dag is die straat vol studente wat in groepe of twee-twee na hul klasse loop. Om die draai is die Kriterion, ’n pragtige klein universiteitsbioskoop met ’n kroeg en ’n sitkamer met rooi fluweelgordyne en ou leerbanke waar studente en inwoners van die buurt ure lank vertoef voor en ná ’n kunsfliek.
Soggens as dit nie reën nie, gaan draf ons langs die statige Amstelrivier wat digby die Sarphatistraat deur die stad loop tot heel noord by die IJ, wat dan aansluit by die Noordsee. Daar is ’n klein daggawinkeltjie reg oorkant ons woonstel en ’n bekende bakkery met vars brood en goeie koffie ’n paar tree verder.
Die enigste voortdurende frustrasie van ons woonstel is die bed. Eerder as ’n dubbelbed het ons twee enkelbeddens wat teen mekaar geskuif is, en weg van mekaar skuif wanneer ons te na aan mekaar probeer slaap. Die eienaar van die woonstel is nie bereid om vir ons ’n dubbelbed aan te skaf nie omdat hulle ’n hyskraan nodig sal hê om dit in die woonstel te kry. C koop vir ons ’n bolaagmatrassie, juis ontwerp om die skynbaar algemene Nederlandse probleem van die “vervelende naat” aan te spreek.
Maar dit help nie veel nie, en waar ons altyd styf teen mekaar geslaap het, rol ons nou die meeste nagte albei terug tot op ons eie aparte enkelbed voor ons aan die slaap raak.
Daar is meer as ’n vervelende naat tussen ons daardie jaar in die Sarphatistraat. Ek is gevul met ’n rustelose onbehae. My Suid-Afrikaansheid kleef aan my. In hierdie verhouding sleep ek my herkoms met my saam.
C ry fiets soos ’n Bloemfonteiner, en ek soos ’n kind. Ons Nederlands is vrot van die Afrikaans. Ons estetiek is verkeerd – teen die minimalistiese, androgene styl en kleurlose monotonie van die Nederlanders lyk ek soos ’n tannie en C lyk net grof en ’n bietjie arm.
Ek wil uit, ek wil aan die kontoere van my vorige lewe ontsnap. Daar is ’n nuwe self wat vir my wag in hierdie stad, in hierdie Noord-Europese land.
Ons maak vinnig ’n nuwe vriendekring bymekaar. In die variëteit en onkonvensionaliteit daarvan lyk dit baie soos ons Suid-Afrikaanse vriendekringe.
Daar is Melle, ’n Nederlandse kunstenaar wat bedags in ’n supermark werk, en wie se emosionaliteit en ongekunsteldheid hom ’n bietjie van ’n buitestander in Nederlandse kringe maak, maar ’n onmiddellike treffer by C. Hy bou groot wiskundige papierstrukture met gevoude papiervorms. Melle meet, knip, vou en plak sorgvuldig en pynlik presies totdat iets gestalte kry volgens die onfeilbare reëls van geometrie.
Daar is Myriam, ’n Franse argitek, en Camillo, ’n energieke Colombiaan. Ons is vriende met Italianers, ’n nasie wat net soos Suid-Afrikaners te hard praat, te veel eet en drink en nie te ver vooruit planne maak nie. Giovanni is ’n aantreklike PhD-kandidaat in wiskunde, wat honderde vroue verlei. Antonio is ’n aspirantskrywer en ’n kommunis. Een laatnag by ’n dinnerpartytjie in ons woonstel spring hy op ’n stoel en demonstreer hoe ’n Italiaanse kommunistiese betoging daar uitsien: “Compagni!” Ná sy passievolle toespraak in kragtige Italiaans kry almal ’n beurt om luidkeels die kapitalisme te verdoem onder toejuiging van die groep. Ure lank. Net soos in Napels, sê Antonio.
Maar hierdie is nie my herinnering nie, dis C s’n. Soos baie ander aande is ek elders, uit in die stad, op soek na god weet wat.
Behalwe al hierdie interessante en kleurryke Europeërs, het ons natuurlik ook ’n paar Suid-Afrikaanse vriende in Amsterdam.
Daar is baie soorte Suid-Afrikaners in Nederland, maar ek ken veral drie tipes. Daar is die ouditeurs. In grosse word hulle oorgeplaas van Deloitte of PWC in Kaapstad of Johannesburg na Amsterdam, waar hulle dan ongestoord hul Suid-Afrikaanse lewe voortsit. Naweke braai hulle saam, stream die rugby en drink brandewyn wat hulle van Suid-Afrika af bring. Hulle verdien baie geld en die naweke wanneer hulle nie braai nie, toer hulle. Hulle leer nie Nederlands nie, want hulle werk in Engels en praat Afrikaans onder mekaar. Hulle verlang na Suid-Afrika, maar verkies Amsterdam waar hulle vry kan wees van die las van die misdaad, armoede en identiteitspolitiek van Suid-Afrika. Wanneer hulle uitgaan, gaan hulle Coco’s Outback toe agter die Rembrandtplein, ’n Australiese bar wat al die rugbywedstryde uitsaai en wat op Saterdae in ’n ekstragroot Tollies of Nubar ontaard. Ek ken een of twee sulke groepe Suid-Afrikaanse ouditeurs, saam met wie ek soms brandewyn, of tequila shots by Coco’s gaan drink.
C, wat geen aptyt het vir nostalgie of ’n Afrikaanse laertrekkery nie, vermy hulle meestal.
Daar is ook Suid-Afrikaners in Nederland wat die teenoorgestelde doen as die ouditeurs, Suid-Afrikaners wat hulself volledig inleef in die Nederlandse taal en kultuur en deel word van die samelewing. Hierdie Suid-Afrikaners praat perfekte Nederlands en kyk nie terug nie. Hul (Suid-)Afrikaansheid is ’n bygedagte – iets wat hulle nie belemmer of te veel besig hou nie, iets waaroor hulle nie wroeg en treur nie. Ek dink met tyd sou C een van hierdie soort Suid-Afrikaners in Nederland kon geword het, as hy ’n groter verbintenis met die Nederlandse kultuur en samelewing gevoel het en die landskap meer tot hom gespreek het.
En dan is daar die hunkerende Suid-Afrikaners wat hulself ordentlik in Nederland gevestig het, deur hul loopbaan of ’n huwelik, of blote wilskrag, maar wat nie die gevoel van tydelikheid kan afskud nie. Wat aanhou voel dat hulle besig is om ’n ideale lewe op te voer, terwyl hul regte lewens êrens anders vir hulle wag. Op ’n ander kontinent, in ’n ander land, ’n plek met meer sonskyn, of terug in Suid-Afrika miskien.
Hierdie Suid-Afrikaners het ’n eensaamheid wat rondom hulle hang, ’n vae aura van melankoliese onbestendigheid. My en C se Suid-Afrikaanse vriende in Amsterdam is meestal van hierdie soort, interessant en aantreklik as gevolg van die emosionele onbeskikbaarheid en kreatiwiteit wat vloei uit so ’n chroniese verlange na niks spesifieks nie.
Elke keer nes ek dink dat ek nou min of meer ’n basiese houvas het op hoe dinge in Nederland werk, dan vang iets my onkant. By die eerste middageteseminaar by my fakulteit moet ek twee keer kyk toe die middagete uitgepak word.
Saam met hul brood en kaas sit die klomp belangrike professors en melk drink. ’n Mens kan kies tussen dikmelk, volroom of laevet. Die departementshoof neem ’n boksie volroom, skeur dit oop en vat ’n lang sluk. Dis so ’n private gebaar, asof ek hom aantref in sy onderbroek.
Selfs die Nederlandse honde is anders. Op my en C se oggenddraffies langs die rivier kom ons altyd baie honde teë wat saam met hul eienaars wandel. Ek maak net twee keer die fout om ’n hond se kop te probeer vryf. Eienaar en hond lyk ewe ongemaklik wanneer ek nader loop met ’n uitgesteekte hand. Albei kyk benoud weg en draai so half van die paadjie af.
Ek kry die boodskap. Ná ses maande in Nederland kom ek en C agter dat ons nog nie een keer ’n hond hoor blaf het nie.
“Dink jy hulle word maar net so opgelei?” wonder C. In ’n land waar daar geen gevaar is nie, ontwikkel honde se psiges seker ook anders.
Ons besoek die Amsterdamse diereskuiling. Dis meestal diere wat agtergelaat is deur eienaars wat weens ouderdom dood is. Elkeen van die diere daar het ’n profiel op die diereskuiling se webblad, waar hul individuele voorkeure, vrese, allergieë en gewoontes breedvoerig uiteengesit is. By die skuiling het baie diere hul eie kamers en is daar allerhande vorme van vermaak vir hulle: klimrame, sandputte, balle en vrywilligers wat met hulle speel en stap.
Ek wil ook registreer as vrywilliger, maar die skuiling het ’n ooraanbod van helpers en my naam kom op ’n waglys. Buite staan ’n paar diereambulanse geparkeer.
Is dit moontlik? kyk ek en C vir mekaar.
Die Nederlandse ondernemingsgees bruis deur die stad. Vir die ekspats en toeriste is Koningsdag suiwer ’n geleentheid vir ligsinnigheid en dronk wees in die strate. Maar vir die Nederlanders beteken dit ook iets veel belangrikers: dis die dag van die vrijmarkt. Waar almal al hul ou goed wat hulle nie meer wil hê nie op straat voor hul woonstelle uitstal en aan mekaar probeer verkoop. As jou kind kan sing, dan laat jy hom dit sommer ook doen met ’n oranje hoedjie op sy kop, vir nog ’n ekstra paar eurosente. Die hele land word ’n vlooimark, skaamteloos.
Ek en C drink bier en verkyk ons aan die nasie van die koopman so in sy element. Die VOC was daardie tyd vir die wêreldekonomie wat Microsoft vandag vir ons is, vertel C terwyl ons rondjes lopen deur die uitbundige Jordaanbuurt.
Toe ons weg is uit Suid-Afrika het ek gedink dat ek darem nou vir eers klaar rondom braaivleisvure gestaan het, net om agter te kom dat bbq ’n gunsteling-someraktiwiteit onder die Nederlanders is. In die begin van ons eerste somer in Amsterdam word ek en C vir die eerste keer genooi na so ’n geleentheid in die park deur ’n paar Suid-Afrikaners wat nou al gesout is in die ding.
Ons koop ’n weggooibraai by die Albert Heijn. Dis so groot soos ’n oondpan, van ’n harde foelierige materiaal gemaak en het kole in die onderkant. Dan gaan sit ’n mens in Vondelpark, steek hierdie braaibak aan en braai jou tjoppies een vir een op die klein vierkantjie foelie wat op die gras lê. Baie snaaks.
Maar daar is iets te sê vir hierdie somersaand-bbq’s. Ek drink ’n Nederburg Shiraz en dra ’n somersrok. Die park is propvol mense en ek kry my eerste blootstelling aan die opwinding en uitgelate feestelikheid waarmee die son in Noord-Europa begroet word. Wanneer die hele samelewing vir ’n oomblik saam stilstaan, ontspan en die reëls waardeur alles so perfek bymekaargehou word, ’n bietjie verslap. Wel, tot ’n mate. Later die aand urineer ’n vriend van ons agter een of ander bos in ’n uithoek van die park, en toe die polisie hom betrap, word hy met 150 euro beboet.
“Wildplassen,” noem hulle dit.
Een van die voordele daarvan om in ’n nuwe land te woon, is die manier hoe jou geskiedenis wegval. Elke ontmoeting is ’n geleentheid om jouself te herskep, of om die self te wees waarmee jy identifiseer op daardie spesifieke dag, sonder dat iemand jou verantwoordbaar hou vir wie jy gister was.
In ’n mens se eie land, waar jy diep wortels het, is die meeste nuwe ontmoetings reeds ingekleur deur gedeelde geskiedenis. Jy verstaan mense al klaar omdat jy hul vriende ken, of omdat jy die stad goed ken waar hulle vandaan kom en omdat jy die kultuur van die hoër skool waarin hulle was, verstaan. Jy ken iemand al ’n bietjie voor jy hulle ontmoet, want julle het al van mekaar gehoor en jy weet hoe hulle inpas in die lewens van ander mense wat jy goed ken. Hierdie gesitueerdheid is beperkend, dit skep verwagtinge en hou ’n mens gebonde aan ’n spesifieke geskiedenis. Ná 27 jaar in die Kaap, deurentyd omring deur min of meer dieselfde mense, het my buitelyne verhard.
In Amsterdam begin ek deur klein dade van identiteitsrebellie hierdie gesedimenteerde self ondermyn, omvorm en herskep. Ek koop my eerste paar hoëhakskoene, wat só nie “ek” is nie (sal my Suid-Afrikaanse vriendinne onmiddellik opmerk), en trek dit daardie selfde aand na ’n partytjie toe aan. Eers hobbel ek selfbewus en onseker daarop rond, maar wanneer ek agterkom dat my nuwe vriendinne geen teenstrydigheid opmerk nie, begin ek lang, selfversekerde treë gee, soos wat ’n mens net kan doen in ’n paar baie hoë hakke. Veel later die aand pak ek die riskante taak aan om met hierdie skoene huis toe te fiets deur die nat strate, en ek glimlag agter my groot wolserp in bewondering vir hierdie avontuurlustige nuwe vrou.
Ter viering van die nuutgevonde vryheid laat ek ’n fyn goue ringetjie deur my septum skiet.
Maar, leer ek mettertyd in Amsterdam, die netwerk van mense waarmee ’n mens onvermydelik in jou eie land verweef is, is ook ’n luukse. Dit laat ons toe om makliker geken te word. En dit verbind ons dikwels met die soort mense wat ons die graagste wil ken, dit bied ’n kortpad na vriende wat ons kan verstaan, en romantiese partners wat ons lank kan liefhê.
Van C het ek gehoor lank voor ek hom ontmoet het. Jare gelede op Stellenbosch. Daar is mos mense van wie ander mense praat, en C is een van hulle.
Ek het pas uit ’n verhouding gekom wat aanvanklik gelyk het na iets belangriks, maar wat toe maar net weggekrimp het, en ek was weer vuur en vlam op die dating scene. Daar was ’n baskitaarspeler met wie ek nagte lank gesit en vry het in die diepste drinkgate van Stellenbosch; ’n Christen-onderwyser saam met wie ek op lang staptogte gegaan het in Jonkershoek; en ’n melankoliese eks met wie ek te gou weer in ou patrone verval het.
’n Vriendin van my het uitgegaan met een van C se vriende. C het pas teruggekeer ná ’n paar jaar in die Ooste. Hy kan Mandaryns praat, hy het kaalvoet deur die Himalajas gestap, hy was maande lank in ’n Boeddhistiese tempel waar ’n mens nie ’n woord mag praat nie en agt uur per dag mediteer, hy het finalejaarfisika geslaag met 100%.
“Jy móét hom ontmoet!” het my vriendin my verseker. Alles halwe waarhede, soos sulke stories maar altyd is. En, het ek later geleer, hierdie stories verteenwoordig slegs een aspek van die komplekse, veelsydige en multidimensionele mens wat C is. Maar ek was dit eens met my vriendin, dis ’n man wat ek moet ontmoet.
Ons eerste ontmoeting was net romanties in retrospek. Ek het saam met die onderwyser opgedaag by ’n partytjie waar C ook was. Dit was by ’n groot studentehuis in Uniepark op Stellenbosch waar C se vriende gebly het. Die huis was so groot, met so ’n groot erf en swembad, dat die ouens dit “Die Kingdom” gedoop het, ’n naam wat die afskilferende mure en verwaarloosde tuin komies weerspreek het.
Die ouens het begin poker speel en ná ’n uur of twee was dit net C en my date by die tafel oor. Ek kan nie eens onthou wie uiteindelik gewen het nie, maar wanneer ek hulle so in my geestesoog sien, laat in die nag by kerslig in diep konsentrasie gebuig oor hul kaarte, met leë rooiwynbottels en asbakke vol sigaretstompies rondom hulle, hou ek daarvan om te dink aan daardie spel as C se eerste liefdesverklaring aan my.
In die jare wat volg, het C my leer swem in die see, slaap in ’n tent. Hy leer my bome se name en voëlgeluide. Hy weet hoe alles werk, hy verduidelik dinge vir my, geduldig en vrygewig. Hy is rof en roekeloos, maar daar is ’n grasie, amper ’n soort elegansie in sy lang ledemate. Hy mediteer elke oggend ’n uur lank voor ek wakker word.
In daardie eerste paar jaar baklei ons baie. Dieselfde geveg oor en oor. C is sterk en hiperonafhanklik, die resultaat van ’n goeie Vrystaatse opvoeding gekombineer met sy opleiding in Oosterse spiritualiteit. My kwesbaarheid, afhanklikheid, skrik hom af, stoot hom weg. Ook wanneer ek hom nié nodig het nie, verloor ek hom, laat hy gaan van my, by voorbaat.
Maar ons is verlief en meestal onafskeidbaar, vir baie jare.
Dit was my idee om Nederland toe te trek. Ek wou ’n PhD gaan doen by ’n oorsese universiteit en daar was beurse beskikbaar.
C, ’n ewige avonturier, was ook lus vir ’n skuif. Ek het ’n promotor gevind by die Vrije Universiteit Amsterdam: ’n indrukwekkende, toeganklike feministiese filosoof met dieselfde naam as my ma, iets wat ek as ’n goeie teken beskou het. Dit was eers later dat ek besef het ek dat die universiteit wat ek gekies het was ook die alma mater van baie Suid-Afrikaanse apartheidsleiers. Net soos my universiteit hier in Suid-Afrika.
Die Vrije Universiteit is begin as ’n ortodoks-protestantse (of calvinistiese) universiteit en beskou sigself steeds tot ’n mate as ’n instansie gefundeer in die religie. Daarom is dit een van die enigste universiteite in Nederland waar ’n mens vandag Moslem-studente met hoofbedekkings sal sien rondloop. Generaal Hertzog draai seker in sy graf om.
Op Stellenbosch het C in ’n soort kommune gewoon. Hy het ’n groot, lendelam huis in Jamestown gehuur, op ’n plot wat afloop tot teen die Bloukliprivier. Hy het geadverteer dat hy op soek is na huismaats wat in ’n kommunale bestaan belangstel en het vinnig die gepaste kandidate gevind. Onder andere ’n kunstenaar wat stadig maar seker die grond omskep in ’n lewende, bewegende kunswerk, en sy partner wat boeke met die hand bind. Ook ’n ou vriend wat sulke groot partytjies hou dat die musiek nog dae ná die tyd in die hele buurt se ore suis.
Ek woon in Welgevonden tussen al die honderde jong wit moeders wat hul prams op en af stoot deur die singels. C het nog altyd meer visie as ek gehad.
Ná ’n paar jaar, toe C al ’n mate van ontnugtering met die kommune bereik het, trek ons saam in ’n klein kothuis op ’n plaas buite Stellenbosch in. Maar dis minder romanties as wat ek gehoop het. Ná Jamestown is C reg vir ’n volgende projek.
Hy koop ’n erf en begin ’n huis bou. ’n Omgewingsvriendelike huis. Elke baksteen, vensterraam, teël en deurknop vind hy tweedehands in verskillende uithoeke van die Wes-Kaap. Hy word heeltemal opgeneem deur hierdie edele taak, en hy is nooit tuis nie. Ek het nie die wysheid en die geduld om hom die ruimte te gee om hierdie ding te doen nie.
Ek is verveeld en eensaam. En ek was jonk en rusteloos. Ek ís jonk en rusteloos. Ek fantaseer oor al die ander lewens wat ek kan leef, al die ander selwe wat ek kan wees, saam met ander mense, op ander plekke. Daar gaan ’n kloof tussen ons oop, of iets in my, wat nie weggaan toe die huis klaar is en ons later knus en gemaklik herenig is in ’n idilliese lewe in die Sarphatistraat in Amsterdam nie.
Ná ’n verhouding van sewe goeie jare, een daarvan in Amsterdam, skud ek C af soos ou klere. Nadat ons dit saam heelpad tot in Europa gemaak het. En hy, hard en sterk, los my om my gang te gaan.
Eers later, toe ek met ’n splinternuwe Nederlandse man op ’n Amsterdamse grag woon en myself in gebroke Nederlands onsuksesvol probeer herskep tussen ’n klomp mense wat my nie verstaan nie, begin ek besef waar ek die fout gemaak het.
Een vir een verdeel ek en C die paar goedjies wat ons sover in hierdie nuwe land bymekaargemaak het, presies ’n jaar nadat ons in die Sarphatistraat aangekom het. Die meeste boeke is myne. Die meubels is syne, behalwe die spieël en ’n pienk stoel. Met twee tasse is ek op die trem daar weg.
C maak die deur agter my toe, moeg en gelate.