Читать книгу In my vel - Azille Coetzee - Страница 5
Kolonialiteit
ОглавлениеEers ná my aankoms in Nederland besef ek dat ek nog altyd half onbewustelik die idee gekoester het dat Europa vir my ’n tuiskoms sou wees. ’n Stilswyende aanname dat ek hier sou aankom en dat ek naatloos sou kon oorskakel na ’n Europese bestaan, verál ’n Nederlandse een.
Maar hoe langer ek hier is, hoe meer begin ek die gevoel kry dat hier ’n hele stel kulturele reëls, konvensies en aannames is waarvolgens almal leef, maar waartoe ek geen toegang het nie. My lewe aan die suidpunt van Afrika het my nie voorberei op hierdie wêreld nie, al is my vel spierwit en al klink my taal amper soos Nederlands. My lewenslange assosiasie met hierdie kultuur, op grond van die populêre narratief van Afrikaneroorsprong, is volledig eensydig.
Daar is reëls vir wanneer ’n mens jasse en skoene moet aanhou en uittrek. Meer as een keer vra ’n Nederlander effens spottend hoekom ek my jas aanhet. En skoene. Dis weer ’n heel ander storie. Ek kry toenemend die indruk dat om nie te weet hoe om met jasse en skoene binnenshuis om te gaan nie, op ’n manier ’n gebrek aan beskaafdheid verklap. Elke keer wanneer ek oor ’n pad stap terwyl die voetgangerlig nog rooi is, kan ek sien hoe my Nederlandse vriende onthou dat ek van “Afrika” is waar ons ’n byna primitiewe geringskatting het van belangrike reëls wat orde in die samelewing verseker.
Ons is te fisiek, ons manier van mense drukkies gee en aanraak in gesprekke, is ongemaklik vir die Nederlanders, wat hulself as individualisties en “rasioneel” beskou op ’n manier wat hulle van ’n sekere soort liggaamlikheid weerhou. Ons benadering tot tyd is ’n verdere teken van ons “suidelikheid” – hoe ons ure lank om ’n etenstafel kan sit en eet en gesels, impliseer ’n luiheid, gebrek aan ambisie en ’n skandelike soort doelloosheid, wat ons wel met die Italianers deel (nog ’n nasie wat as ’n bietjie “onbeskaafd” beskou word in Noord-Europa).
Nederlanders is besig, haastig, werk volgens ’n skedule en het geen tyd vir ginnegaap nie. As jy ’n afspraak het met ’n Nederlander om drankies te drink van halfvyf die middag tot kwart-voor-sewe in die aand, staan die Nederlander kwart-voor-sewe van die tafel af op en vertrek na sy volgende afspraak. Al die afsprake netjies aangeteken in ’n “agenda” (die dagboek, ’n objek wat sentraal tot die Nederlandse identiteit en selfverstaan is). Ons praat te hard, ons drink te veel, ons lag te maklik en ons wil onsself net ’n bietjie te veel geniet. Ons is nét nie “wit” genoeg nie.
Wanneer ek op ons klein balkonnetjie staan en kyk hoe die Nederlanders hul gang gaan in die Sarphatistraat – groepe studente wat klas toe loop, jong ouers wat behendig met bakfietse vol kinders skool toe ry, stylvolle huisvrouens wat inkopies gaan doen in die Albert Heijn af in die straat – voel ek wêrelde verwyderd van hierdie selfversekerde nasie wat op hul stil en ordelike manier so volledig die misterieuse ideaal van kontinentale sofistikasie beliggaam.
Nederland genees my spoedig van enige illusies oor my eie Europeesheid. Op grond waarvan dié eksistensiële verbintenis met hierdie vreemde plek? Hierdie heimlike, duidelik onbeantwoorde identifikasie met ’n ander kontinent?
By verdere nadenke besef ek dis niks minder as kulturele kondisionering nie. In Suid-Afrika is die wit vel van die Afrikaner, en die taal wat ons praat, dinge wat ons voorhou as “bewyse” van ’n Europese herkoms en pedigree. Ons oë is verlangend op die Weste gerig. Ons luister oor die algemeen na Westerse musiek, lees Westerse boeke, en as ons met vakansie gaan, dan reis ons graag na Europa, eerder as in Afrika. Ons doen kursusse om Frans te leer praat, eerder as isiXhosa of isiZulu. As ons politici foute maak of as nog ’n korrupsieskandaal oopgekrap word, dan spreek wit Suid-Afrikaners hul kommer uit dat Suid-Afrika nou ook die “pad van Afrika” gaan loop.
Onder ons heers daar ’n konsensus (wat dikwels onuitgesproke tussen die reëls hang, maar vele male ook eksplisiet geartikuleer word, afhangende van die geselskap) dat dit wat Europees is, beter of meer gevorderd is as dit van Afrika. Hierdie idee word herhaaldelik bevestig in die populêre kultuur, media, filosofiese denke, en literatuur. Die geskiedskrywing getuig van Westerlinge wat hul bes probeer om lig en vrede na die donker kontinent te bring, maar ongelukkig bewys Afrika sigself herhaaldelik verlore, onherstelbaar en irrasioneel.
Die aanspraak dat wit mense in Suid-Afrika meer Europees is as African, word nie net gemaak deur wit Suid-Afrikaners self nie. Dit word ook téén wit Suid-Afrikaners gebruik in die politieke diskoers. Ons hoor dit in uitsprake van politieke leiers wanneer hulle na wit Suid-Afrikaners as koloniste verwys wat nie meer geregtig is daarop om grond te besit in Suid-Afrika nie, en moet teruggaan Europa toe as hulle ’n probleem daarmee het.
Daar is natuurlik ’n paar wit Suid-Afrikaners wat geen illusies oor ’n Europese herkoms koester nie, en aan hulself dink as van Afrika. Hierteen word daar soms oortuigende politieke beswaar aangeteken. In Suid-Afrika, waar wit mense hulself tot baie onlangs amptelik as etnies “Europees” geklassifiseer het en hierdie “status” gebruik het om swart Suid-Afrikaners te onderdruk, lyk die skielike behoefte van sommige wit Suid-Afrikaners om hulself as Afrikane te bestempel, eenvoudig soos opportunistiese manteldraaiery. Noudat daar nie meer soveel voordele daaraan verbonde is om Europeër te wees in Suid-Afrika nie, wil ons skielik verwelkom word as Afrikane. En, as ’n mens in ag neem dat die meeste wit Suid-Afrikaners steeds geen inheemse tale praat nie, en oor die algemeen nog steeds alles wat Westers is, verkies bo dit wat van Afrika is, dan het ons nie veel verweer teen hierdie soort argument nie.
Om ’n wit Suid-Afrikaner te wees in hierdie sin is om in ’n soort liminale ruimte te verkeer. Ons is in Afrika, eeue al, maar ons teenwoordigheid is omstrede en voel fragiel, ons tuishorendheid word voortdurend in twyfel getrek deur onsself en deur ander.
In Afrika is ek Europeër, en in Europa is ek Afrikaan. My herkoms is ’n inkoherensie waarvoor niemand eienaarskap wil neem nie.
Ek is geen born free nie. Maar ek was net agt jaar oud met die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. En vier jaar oud toe Nelson Mandela vrygelaat is. My kinderjare het oorvleuel met die eerste euforiese oorgangsjare van ons land. My ma het ons geleer ons mag nie sommer net van “Mandela” praat nie, maar dat ons moet sê Meneer Mandela of President Mandela, omdat hy ons wit mense vergewe het eerder as om wraak te neem.
Behalwe die landwye viering van die koms van die universeel geliefde en vergewensgesinde president Mandela, was daar geen teken in mý kinderjare dat apartheid tot ’n einde gekom het nie.
Ek het grootgeword in die noordelike voorstede van Kaapstad, agter die sogenaamde “boereworsgordyn” wat die Engelse en Afrikaanse voorstede van Kaapstad skei. Om daar uit te kom, ry jy met die N1 uit Kaapstad en ná twintig kilometer neem jy die Jip de Jager-afrit. Jip de Jager is ’n oudburgemeester van Bellville, wie se kleindogter saam met my op skool was. Sodra jy saam met ou Jip die N1 verlaat, kondig die noordelike voorstede sigself duidelik in Afrikaans aan, op ’n manier wat al die stereotipes bevestig, met kenmerkende opskrifte op koerantplakkate: die samestelling van die WP-rugbyspan, Malema wat die wit mense met grondonteiening dreig, en dalk ’n bietjie Joost en Amor in die ou dae. Hier sien jy ook wit bedelaars by die verkeersligte met Afrikaanse boodskappe op hul plakkate. Dalk is hulle van hier óf dis waar ’n mens die meeste aalmoese kan verdien met ’n Afrikaanse pleidooi. Dis nie dat Afrikaners nie bestaan, of minder Afrikaans is, in die Kaapse middestad of suidelike voorstede nie. Daar is hulle net meer selfbewus. In Bellville het ons safety in numbers.
Ry aan met Jip de Jager en soos jy oor die bult kom, strek die groen gholfbaan en die lowergroen tuine van Welgemoed voor jou uit. Met die NG kerk aan jou linkerkant. Hier, in die smaakvolle huise en boomryke tuine, het ons almal geleer drink en dagga rook by huispartytjies wanneer vriende se ouers op hul oorsese vakansies gaan. Op die klankbaan van Fokofpolisiekar, natuurlik, soos dit goeie, rebelse Afrikaner-middelklastieners betaam.
Maar ry nog verder, tot waar Jip de Jager kruis met Van Riebeeckshof, daar draai jy links en ry op met die bult tot jy by Welgedacht uitkom. Dis hier waar ek grootgeword het.
Welgedacht is wat ons in Suid-Afrika ’n sekuriteitskompleks noem. Amper een van die eerstes van sy soort in die Kaap. Jy teken in by die hek, waar daar ’n hele span swart en bruin sekuriteitswagte is om jou by te staan as jy ’n inwoner is, en om jou te ondersoek as moontlike bedreiging as jy nie is nie. Nadat jy ingeteken het, ry jy by ’n soort wit park of villa in met groen grasperke, damme, speelparke, en die verkeersborde wat jou waarsku om op te pas vir die eende wat die pad oorsteek.
In Amsterdam het Nederlanders my gereeld, met groot besorgdheid (of groot veroordeling, afhangende van met wie ’n mens praat), vertel hulle het gehoor dat wit mense in Suid-Afrika almal in “compounds” woon omdat ons lewens in gevaar is. My eerste reaksie was om dit heftig te ontken, en mense te verseker dat dit darem nou nie só gevaarlik in Suid-Afrika is nie! Net om ná die tyd te moet erken dat ek wel in ’n “sekuriteitskompleks” grootgeword het, een met ’n mooi Nederlandse naam nogal.
In Welgedacht het ek die soort kinderjare gehad waarvan apartheid-Suid-Afrika net kon droom: veilig tussen ander wit ryk mense (of gemaklik middelklas, soos ons). Ek moes wel die buitewêreld aandurf om skool toe te gaan, maar daar ook het die “nuwe” Suid-Afrika waaroor almal so senuagtig was geen bedreiging ingehou nie.
Ek was ’n trotse leerling van die Hoërskool DF Malan. Die skool is in 1954 begin vir wit Afrikaners in Bellville – ’n area wat beskou is as ’n “opvanggebied van Afrikaanssprekende intrekkers van die platteland”, met inagneming van die feit dat die “nuwelinge vreemd en verlate in die gemengde stadsatmosfeer is” (so lig die skool se webwerf ’n mens in). En dr. DF Malan het self die hoeksteen van die gebou in 1956 gelê. Hy was sekerlik te bejaard vir die fisieke arbeid daarvan, maar ek neem aan hy was seremonieel teenwoordig.
In my hoërskooljare, ’n halwe eeu ná die gedenkwaardige hoeksteenlegging, en amper ’n dekade ná die einde van apartheid, was daar steeds omtrent net wit leerders in hierdie skool. Alhoewel die klein groepie bruin leerders daarin geslaag het om ’n kenmerkende (en gerespekteerde) “coloured” subkultuur in die skool te vestig, was dit die wit Afrikaanse kultuur wat die hoofstroom gevorm het en waarby jy moes inpas as jy wou “presteer” volgens die standaarde van die skool. Dat DF Malan bekend staan as dié argitek van apartheid, het ons seker almal geweet, maar niemand het baie omgegee nie. Elke oggend het ons pligsgetrou ons skoollied gesing, waarin ons, “elk Afrikaner”, DF Malan se “grootsheid” prys, en hoe ons strewe om “ons DF Malan in ere te hou”.
Ek dink dis juis al hierdie Afrikaner-middelklasgemak en ’n diep onderliggende gevoel van onvanpastheid wat gelei het tot ’n baie interessante kultuur in die Hoërskool DF Malan. Dit is hier, en in my hoërskooljare, waar Afrikaanse musiek ’n nuwe asem en ’n nuwe voorkoms gekry het. Fokofpolisiekar het begin in ’n motorhuis in Welgemoed, waar ’n paar seuns met ’n ongekende varsheid, oorspronklikheid en rou disillusie uitgevaar het teen die lewe in die Afrikaanse voorstede van ons jeug. ’n Opwindende Afrikaanse punk-rebellie teen die middelklas se wit kokon waarin ons nog so gemaklik geleef het (en steeds doen). Fokofpolisiekar het ons gewys dat daar meer as een manier is om die Afrikaner-identiteit uit te leef. Afrikaansheid hoef nie meer preutse Christelikheid en konvensionaliteit te beteken nie. Ons kan die white picket fence transendeer en lewens leef wat sáák maak, in voeling en in kontak met die realiteite van die wêreld en ons land. En ons hoef nie te kies tussen ons taal en ’n meer verligte bestaan nie. Dis moontlik om Afrikaans op nuwe maniere te gebruik, om dit in te span vir ’n ander soort lewe. Fokofpolisiekar het die taal oopgemaak vir ’n nuwe generasie Afrikaners.
In retrospek sien ek die beperkinge van hierdie beweging wat ek as so aangrypend ervaar het. Fokofpolisiekar het hul deel gedoen, maar hul jong Afrikaanse volgelinge het die geleentheid verkwis. Naweek ná naweek was ons ’n pynlik homogene groep wit Afrikaanse tieners wat gesit en sigarette rook het by Fokofpolisiekar se konserte. Ons het nou net op ’n meer selfvoldane manier die wit middelklas-Afrikaner-solipsisme bewoon. Ons was “ander soort” Afrikaners.
Nou, vyftien jaar later, het ons ons ouers geword. Woon ons self agter die white picket fences, met twee kinders, ’n SUV, ’n hond. Braai ons oor-en-weer by mekaar, ons wit Afrikaanse middelklasvriende. Oor-en-weer en oor-en-weer. Gereguleer, geroetineer, apaties. En Francois van Coke sing beteuelde ballades wat soos soetkoek verkoop onder oud en jonk.
Ná hoër skool is ek en die meeste van my vriende Universiteit Stellenbosch toe. Nog ’n wit Afrikaanse kokon, waarin ons onselfbewus wit, Afrikaans en middelklas kon wees, in ons rustige Bolandse onwetendheid, ver verwyderd van die uitdagings van die “nuwe” Suid-Afrika.
Ek was in Harmonie Dameskoshuis. Soos ossewanooiens het ons in formasie “geskakel” met manskoshuise (’n gepaste eufemisme vir die interaksies wat láter die aand sou plaasvind ná ’n paar boksies late harvest-wyn by Bohemia, die gewilde kampuskroeg vir die “alternatiewe” soort student). Nodeloos om te sê, het Harmonie geen swart inwoners gehad nie, en toe die eerste een haar verskyning maak ’n jaar ná my aankoms, het die Harmoniet wat saam met haar in ’n kamer geplaas is, die koshuis verlaat weens kultuurverskille. In Harmonie het ons net een kultuur geken.
Akademies gesproke, net soos in die Hoërskool DF Malan, was wat ek geleer het by die Universiteit Stellenbosch geanker in die wit Westerse wêreld. Dit was net in die Engelse literatuurkursusse waar daar soms ’n fokus op postkoloniale literatuur was, waar ek enigsins Afrika-stemme gehoor het.
Verder kon ek net so wel in Europa gewees het. In filosofie was dit Plato, Kant, Rawls en Nietzsche en in die regte was dit Johannes Voet en Grotius.
Ek en my Suid-Afrikaanse vriend Siegfried stap deur die Rijksmuseum. Dis doodstil en styf en ons is dik van die lag oor een of ander ding. En elke keer as een van die museumbeamptes ons ’n streng kyk gee, bars ons van voor af uit.
Oproerig. Suid-Afrikaners in museums.
Siegfried is met ’n Beierse man getroud en woon op ’n afgeleë dorpie in die Swartwoud in Duitsland. Siegfried kom gereeld in Amsterdam, maar dis sy eerste keer in die Rijksmuseum, so ek is verbaas toe hy ná ’n uur al sê hy wil gaan. Ons klim op ons fietse en ry deur die motreën na Café Brecht, ’n Duitse thuiskamerkafee op die Weteringschans. Dit lyk soos ’n mens se ouma se sitkamer, vol beblomde banke en tierlantyntjies, kleurryke muurpapier, koekblikke en kitsch skilderye (ook die gebruiklike Tretchikoff-prints) in goue rame. In die dag kom ’n mens hierheen vir muntthee en taart, en in die aand raak dit ’n lekker besige kroeg vol mooi Amsterdammers.
Dis ’n donker, koue laatmiddag, ek en Siegfried drink stomende koppies tee.
“So, wat dink jy van die Rijksmuseum?” vra ek.
Hy vat ’n sluk, sit sy koppie neer en sê kliphard: “Ag, dis sommer vir my ’n klomp bullshit.” Ek wag vir hom om te begin lag, ek neem aan hy maak al weer ’n grap. Maar hy is ernstig. “Die Goue Eeu, gmf,” snork hy.
Ek dog die Nederlanders langsaan ons kry ’n oorval oor hierdie kettery. “Heel raar,” sê die een vir die ander.
“Praat net bietjie sagter, Sieg,” sê ek.
“Dis hulle wat moet skaam wees,” sê hy.
“Wat? Waarvan praat jy? Skaam vir die ongekende opbloei van kuns en kultuur? Skaam vir Rembrandt? Skaam vir al daardie pragtige kulturele artefakte?” vra ek.
“Nee.” Siegfried rol sy oë vir my onkritiese bewondering vir enige iets Nederlands. “Skaam vir al daardie slawe waarin hulle gehandel het om hierdie sogenaamde Goue Eeu te befonds. ’n Mens kan hulle sien staan in die agtergrond van die skilderye. En skaam vir al die mooi dinge wat hulle van hul kolonies gesteel het. En skaam dat hulle ’n hele nasionale museum afstaan aan die viering van hul rykdom en kulturele prestasies, sonder enige verwysing na die uitbuiting en wreedheid wat dit onderlê.”
Siegfried vat nog ’n sluk tee en vee ’n paar verdwaalde reëndruppels van sy serp af.
En net toe ek dink hy is klaar: “En al daardie ou wit baarde! Not a vibe.”
Kort ná my aankoms in Nederland is Nelson Mandela oorlede. Ek is by ’n Sinterklaaspartytjie by die studentekroeg van my universiteit. My eerste kennismaking met Nederland se geïnstitusionaliseerde blackface-kultuur.
Laatnag, toe die drie vate bier wat die studenteorganisasie vir hierdie geleentheid bekom het lankal leeg is, begin die berigte van oudpresident Mandela se dood op die televisieskerms verskyn. Ek en twee Suid-Afrikaanse vriende sit dronkerig en tranerig by die kroeg nadat ons luidkeels vir almal wat wou hoor, vertel het óns is Suid-Afrikaners en dis óns held wat heengegaan het.
Die volgende paar dae lê ek ure lank in my pajamas, siek van die heimwee, en kyk op CNN na die rouende Suid-Afrikaners wat verdrietig saam sing en dans in al die Suid-Afrikaanse stede in die helder Desemberson.
’n Week later neem ek en ’n Suid-Afrikaanse vriendin, opgestop in donsbaadjies en serpe, die trein om ’n huldeblyk aan Nelson Mandela by te woon by een van die groot Nederlandse universiteite in die suide. Die universiteit het ’n paneel van kenners saamgestel om te praat oor die brandende vraag: wat gaan van Suid-Afrika word noudat Mandela nie meer daar is nie? So asof hy nie nou al jare uit die politiek was nie. Asof hy nog steeds die enigste wonderwerk is wat ons arme ou land bymekaarhou.
Die paneel van kenners bestaan uit twee Nederlanders, ’n Ghanees en ’n Nigeriër. Die Ghanees en die Nigeriër was nog nooit in Suid-Afrika nie, en hulle maak dit van die begin af duidelik dat hulle nie veel van die Suid-Afrikaanse konteks weet nie, maar tog word hulle aangespreek as die experts van die aand. Want wie kan nou onderskei tussen al hierdie ellendige lande op die donker kontinent?
Iemand sê iets oor die Limpopo-handboekskandaal en toe is dit al waaroor die res van die aand gepraat word. Die Europeërs is natuurlik vreeslik ontstig oor daardie storie.
So neem ek afskeid van Nelson Mandela, dink ek ongelowig toe ek laat daardie nag op die trein sit op pad terug Amsterdam toe, met die ysreën wat in vlae teen my venster waai.
Terwyl ek in Nederland is, is daar intensiewe studentebetogings in Amsterdam.
Die studente van die Universiteit van Amsterdam okkupeer die Maagdenhuis, ’n administratiewe gebou, uit protes teen die toenemende korporatisering van die universiteit. Mettertyd lei dit tot dringende debatvoering en toenemende onstabiliteit in die universiteitstrukture.
Terselfdertyd gebeur die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-betoging in Suid-Afrika. Een van die groot Nederlandse koerante berig oor die Suid-Afrikaanse studenteopstande, en by die artikel plaas hulle ’n groot foto van jong swart mense wat rondsit in bome op ’n bosserige plek.
Ek kry ’n e-pos van die een of ander vereniging van Afrika-studente in Europa, waarin PhD-studente uit Afrika genooi word om artikels te skryf oor wat dit vandag beteken, hoe dit werk om ’n PhD in of uit Afrika te skryf, in of uit Yaoundé, Ouagadougou, Dakar, Nairobi, Tunisië, Maputo. You will be a Doctor, my Child gaan die boek se naam wees.
Ek lees hierdie naam weer, sê dit hardop. ’n Sin vol hoop, hoop wat aangestuur word tussen generasies, al glad gevat wanneer dit koel in my palm beland. Op die uitnodiging is daar ’n ou sepiafoto van ’n jong swart vrou in ’n gradeplegtigheidstoga, met die ikoniese vierkantige tosselhoed op haar kop. Haar hande is losweg gevou. Sy kyk voor haar uit, ernstig, dalk effens sardonies.
Die uitnodiging verduidelik om ’n PhD aan te pak, vereis ’n gepaste institusionele raamwerk, sowel as finansiële en materiële ondersteuning, onafhanklikheid, tyd. Om ’n PhD te doen, vereis hulpbronne, stabiliteit. Die uitnodiging noem dat hoër onderwys in verskeie Afrika-lande koloniale fondamente het. Dat die universiteit self gebou is met die Westerling sentraal daarin. Die uitnodiging vra: hoe doen ons PhD’s in Afrika, of as Afrikane? Watter soort kennis produseer ons, en teen watter koste?
Ek besluit om ’n essay te skryf en in te stuur. Ek wil skryf oor hoe ek tussen twee wêrelde staan, as mens en filosoof. En dan ondersoek wat hierdie posisionering vir my denke en projek beteken.
You will be a Doctor, my Child, lees ek weer die melankoliese sin. Dis nie vir my bedoel nie. Ek dra nie generasies se drome van vooruitgang op my skouers nie. Ek hoef nie ’n pad oop te veg nie, my PhD is nie iets wat geskiedenis herskryf nie. Ek kan dit doen as ek wil, maar ek hoef ook nie. My loopbaan is nie simbolies nie, dra nie daardie soort gewig nie, want ek is wit en die wêreld lê oop voor my, my weg is gebaan.
Stellenbosch Universiteit is gebou vir my. Of ten minste vir ’n manlike weergawe van my. Vir die Coetzees, die Van der Merwes, die Laubshers, die Cilliers’s, die Rabes.
Ek is ’n vis in die water in daardie gange. ’n Ervaring so in kontras met die stories wat baie van die swart studente by Stellenbosch vandag vertel oor hoe dit ’n instelling is wat hulle uitsluit, teenstaan, hulle oor en oor daaraan herinner dat hul teenwoordigheid ’n anomalie of ’n wonderwerk is in die konteks van die geskiedenis van die plek.
Ja, jou oupagrootjie het al in die 1920’s op Stellenbosch studeer. En later, in die 1940’s, weer teruggegaan vir sy M. Willem was sy naam. Het ek jou nooit van hom vertel nie?
Antwoord my ma op my boodskap. Nee, sy het nie.
O hy was ’n feminis net soos jy. Sy meestersverhandeling gaan oor die opvoeding van die dogters.
Wel, daar het jy dit.
Dis Vrijmibo – Vrijdagmiddagborrel – drankies ná werk op ’n Vrydagmiddag.
’n Suid-Afrikaanse kollega van C wat onlangs ’n paar jaar in Swaziland gewoon het, vertel hoe baie hy van die Swazi’s hou omdat hulle “glad nie aggressief is nie”. In kontras met ander swart mense in Afrika, soos die Zoeloemense, byvoorbeeld.
“En,” vra C hom, “wie is meer aggressief, die Nederlanders of die Franse?”
Hy lag lekker.
“Wel, ek sal nou nie eintlik Europeërs in sulke terme beskryf nie.”
“O ja?” vra C.
“Die Franse is definitief soms ’n bietjie onbeskof, en die Nederlanders kan arrogant voorkom. Maar nie aggressief nie.”
“En wat van die Amerikaners met al hul oorloë?” vra C.
“Wel,” dink sy kollega, “hulle is maglustig, en sterk, sal ek sê. Maar tog nie aggressief nie. Jy weet wat ek bedoel, man!”
Ja, C weet presies. In die effense trek van sy mond en die afwending van sy blik kan ek sien wat hy sien. In sy kop flits ’n bebloede tafereel. Europa wat toesak op Afrika, die Ooste, Suid-Amerika, en alles in die pad verwoes met verbysterende geweld. Marteling, verkragting, onthoofding, mensejag, ontvoering, slawehandel, dwangarbeid. Honderde jare aaneen, in die naam van die “beskaafde” praktyk van “ontdekking”, gereserveer vir die Europeër met sy wit vel. Die verspreiding van die Westerse beskawing, die Rede, die huigelagtige “humanisme”, is ’n slagveld. ’n Eindeloos winsgewende een. In sy geestesoog sien C nie net groeiende stapels swart liggame nie, maar ponde en gulde en sakke vol goud, uitswellende Europese buike.
En wanneer die swart mense hul aanvanklike gasvryheid berou, hul wapens opneem en hulle verset teen hierdie bloeddorstige arrogansie en gierigheid, dan geld dit as “bewyse” van hul eie barbaarsheid.
Eeue later, eers ’n paar dekades gelede, onttrek die Europeërs hulle uit die kolonies en laat samelewings agter wat aan flarde is, deurdrenk van bloed, vergruis onder gesamentlike trauma, kulture wat onherstelbaar verwring en uitgevee is. En dan skud die Westerse wêreld sy kop wanneer hierdie samelewings in chaos verval, of nie binne ’n dekade weer op hul voete kom nie. Kyk hoe primitief, sê ons, wanneer daar burgeroorlog is. Of etniese geweld volgens die politiese groewe wat die koloniale moondhede geskep het om gesamentlike teenstand te deaktiveer. Kyk hoe aggressief is hulle.
Want hulle is swart en ons is wit, en wanneer ons moor en martel, is dit in die naam van beskawing en Rede en is dit geseën deur die liewe Here, maar wanneer hulle dit doen, is dit die verval van barbare. In ons wêreld figureer Afrika as die rampsalige skadukant van die Weste, en die Afrikaan as die donker drogbeeld van die rasionele wit Subjek.
Terug in Suid-Afrika maak nog ’n wit boer ’n plaaswerker of vrugtedief aan die agterkant van sy bakkie vas en sleep hom oor die grondpad tot daar min van hom oor is. ’n Óú apartheid-trick. Maar wanneer ons die lot van die land bekla dan skud ons ons koppe, dis die swart mense se skuld, sê ons, kyk hoe aggressief is hulle.