Читать книгу Wysheid - Benescke Janse van Rensburg - Страница 5

1 Die grondslag van wysheid

Оглавление

Spreuke 1

1Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. 2Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. 3So sal hulle ’n behoorlike opvoeding ontvang en ’n sin vir regverdigheid, reg en billikheid. 4Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word, jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree. 5Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer 6om spreuke en sinspelings, woorde en raaisels van wyse mense te begryp. 7Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag. 8My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: 9dit sal jou lewe versier soos ’n krans jou kop en ’n kettinkie jou hals. 10As sondaars jou wil verlei, my seun, moenie toegee nie. 11Hulle sal vir jou sê: “Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom, ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie; 12kom ons laat mense verdwyn soos die dood dit doen, ons maak gesonde mense dood! 13Ons vat al wat waardevol is en ons maak huise vol met wat ons roof. 14Jy kan deel in die buit, dit sal ons almal s’n wees.” 15Moenie met hulle saamgaan nie, my seun, bly van hulle pad af; 16hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle wil gaan moord pleeg. 17’n Voël wat ’n net sien wat vir hom gespan is, vlieg nie daarin vas nie, 18maar hierdie mense span vir hulleself ’n net, hulle gaan hulle ondergang met oop oë tegemoet. 19So gaan dit met elkeen wat vat wat hom nie toekom nie: rowery kos hom sy lewe. 20Wysheid is ’n vrou wat langs die straat staan en roep, sy laat haar stem hoor op die stadspleine, 21sy roep bo die rumoer uit, by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het: 22“Julle onkundiges, hoe lank gaan julle nog vashou aan julle onkunde, gaan die grootpraters hulle pratery geniet en die swape ’n afkeer hê van kennis? 23As julle luister na my teregwysing, gee ek julle my wysheid in oorvloed en leer ek julle my woorde begryp. 24“Ek het geroep en julle wou nie luister nie, ek het my hand uitgesteek en julle het dit nie gegryp nie. 25Julle het my raad alles in die wind geslaan, julle wou julle nie laat teregwys nie. 26Daarom sal ek lag as die ongeluk julle tref, ek sal met julle spot wanneer die angs julle oorval, 27wanneer daar nood en kwelling oor julle kom. Die angs sal soos ’n storm oor julle kom, die ongeluk sal julle tref soos ’n orkaan. 28Dán sal julle my roep en ek sal nie antwoord nie, julle sal my soek en my nie kry nie. 29Julle het ’n afkeer van kennis gehad, julle het geweier om die Here te dien, 30julle het my raad verontagsaam en elke teregwysing van my geminag. 31Julle sal die vrugte van julle optrede pluk, julle sal van julle eie planne walg. 32“Die onkundiges se dwaling kos hulle die dood, die dwase word vernietig deur hulle selfversekerdheid, 33maar wie na my luister, sal veilig wees en hoef geen ramp te vrees nie.”

Die fondament van enige gebou bepaal hoe hoog dit gebou kan word voordat dit inmekaar stort. Die raamwerk van die boot se romp bepaal hoe stewig dit gebou kan word om die storms van die oseaan te deurstaan. En die diepte van die wortels van ’n boom bepaal hoe hoog die boom kan oprank in die lug sonder dat dit deur ’n woeste wind omgewaai word.

Die Psalmdigter Dawid het verstaan dat ’n mens niks kan vermag sonder wysheid nie en dat wysheid begin met die dien van God. Luister weer na sy woorde in Psalm 111:10: “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig.” Dawid moes hierdie insig aan sy seun, Salomo, oorgedra het wat hom as koning opgevolg het.

In 970 vC, net nadat Salomo as koning van Israel aangewys is, het hy al die militêre offisiere, die regters, familiehoofde en elke ander leier van Israel in die vergadertent saamgeroep sodat hulle by God kon hoor wat Hy vir die toekoms van Israel beplan. Salomo het geweet dat hy nie die volk sou kon regeer as God hom nie daarin gelei het nie.

In die droom wat Salomo die aand ná die ontmoeting in die vergadertent gehad het, het God aan hom een vraag gestel: “Salomo, jy kan vra net wat jy wil hê en Ek sal dit vir jou gee.” In 2 Kronieke 1:8–10 vind ons Salomo se antwoord: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys en my koning in sy plek gemaak. Vervul nou, Here God, u belofte aan my vader Dawid, want U het my koning gemaak oor ’n volk so baie soos die stof van die aarde. Gee my nou wysheid en kennis dat ek hierdie volk reg kan lei, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer?”

Omdat Salomo vir wysheid gevra het, het God ook rykdom, besittings, aansien en ’n lang lewe bygevoeg. Só het Salomo die rykste en wysste man op aarde geword. In die boek van Spreuke deel hy van hierdie Godgegewe wysheid met ons. Salomo het, soos sy pa, Dawid, geweet dat ware wysheid by die dien van God begin. Luister na sy woorde in Spreuke 1:7: “Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer” (Die Bybel vir Almal).

Dit is hierdie respek vir God wat Salomo se lewe en keuses gerig het. Wat is die grondslag of fondament van jou lewe vandag? Bou jy dit op God? Mag jy jou lewe en keuses so inrig dat dit van respek en ontsag vir God spreek.

Gebed

Vader God, baie dankie dat u Woord ’n riglyn vir my lewe is. Skenk asseblief ook aan my wysheid sodat ek keuses kan maak wat spreek van respek en eerbied vir U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Lees Spreuke 1:2–6. Waarom is die boek van Spreuke geskryf?

2 Lees Spreuke 1:7. Waar begin wysheid? Wat beteken dit om ontsag en respek vir God te hê?

3 Lees Spreuke 1:10–19. Wat is die gevolge van korrupte mense wat dinge vat wat nie aan hulle behoort nie?

4 Lees Spreuke 1:25–31. Wat is die gevolge as ons God se raad en wysheid minag en op ons eie insigte staatmaak?

5 Lees Spreuke 1:32–33. Wat is die gevolge as ons God se wysheid volg?

6 Watter teksverse het vir jou in Hoofstuk 1 uitgestaan? Hoekom?

Wysheid

Подняться наверх