Читать книгу Wysheid - Benescke Janse van Rensburg - Страница 6

2 Beskerm jy jou huwelik?

Оглавление

Spreuke 2

1My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, 2hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. 3Roep insig by, vra na gesonde begrip. 4Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ’n verborge skat. 5Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken. 6Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. 7Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe. 8Hy sien toe dat reg geskied, Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars. 9As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry in wat regverdig en reg en billik is en sal jy op die goeie pad bly. 10Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, 11oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak. 12Dit sal jou weghou van die verkeerde pad af en van mense af wat verkeerde dinge verkondig, 13van dié af wat die regte paaie verlaat om op donker paaie te loop. 14Hulle verheug hulle daarin om te doen wat sleg is en juig die wandade van die slegte mens toe; 15hulle paaie is krom en hulle koers is verkeerd. 16Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af, die vrou met die verleidelike praatjies, 17wat haar eie man verlaat en die verbond van haar God vergeet het. 18Haar huis lei ’n mens na die dood toe, haar spore bring jou by die dooies uit. 19Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie; hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie. 20Loop jy liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges, 21want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word, 22maar slegte mense sal weggevee word uit die land, bedrieërs sal uitgeroei word.

’n Ligte windjie speel deur Dirk se hare waar hy doelgerig in die straat afstap. ’n Entjie voor hom gaan staan die beeldskone vrou weer. Sy draai haar gesig na hom. Sodra hulle oogkontak maak, glimlag sy voordat sy om nog ’n hoek verdwyn. Dirk se hart bokspring. Nog nooit het hy só ’n mooi vrou gesien nie. En nog nooit was sy begeerte om tot by haar te kom so groot nie. Met al groter treë stap Dirk soos ’n perd agter ’n verleidelike wortel aan. Hy móét by haar uitkom. Hy móét meer van haar sien.

Op die oog af lyk hierdie situasie onskuldig: ’n man wat ’n aantreklike vrou gewaar en haar graag beter wil leer ken. Maar delf dieper en geskok vind jy dat Dirk ’n getroude man is met twee kinders by die huis. Ook dat die vrou agter wie hy aanstap, een van sy werkkollegas is – en self ook getroud is. Vir weke reeds het sy Dirk met haar verleidelike praatjies en komplimente betower. Aan die begin het hy dit as “niks” afgemaak. Tog, waar hy nou in die straat afstap, terwyl die adrenalien deur sy are bruis, word die waarskuwing in sy hart deur sy passie en begeerte uitgedoof.

Om nog ’n draai, deur nog ’n donker stegie, op teen die trappe. Dan bereik hy die woonstel – hul ontmoetingsplek. Dirk haal ’n slag diep asem voordat hy die deur oopstoot, instap en die deur weer saggies agter hom toetrek.

Die donkerte in die vertrek tref hom. ’n Koggelende lag klink op vanuit die hoek. ’n Koue rilling skiet teen Dirk se ruggraat af. Wat maak hy hier? Hy draai om om uit die kamer te vlug, maar die deurknop het verdwyn. In die flou straatlig wat deur die venster instroom, sien hy stapels geraamtes van mans wat voor hom na dieselfde vertrek gelok is. Bewend kyk hy op. Voor hom staan die kollega wat nou in ’n bose gedrog verander het!

Dirk het net soos die Spreukeskrywer, Salomo, in een van die vyand se oudste strikke getrap: Verbode verhoudings. Salomo se fout het begin toe hy (ten spyte van sy pa, Dawid, en ook Moses se waarskuwings) as deel van ’n politieke ooreenkoms met ’n ongelowige vrou van ’n vyandige nasie van Israel getrou het. Hierna het hy nog sewe honderd ander vroue en drie honderd byvroue (heelparty uit ongelowige nasies) tot sy harem bygevoeg. Die gevolg? Die vroue het mettertyd vir Salomo van God af weggerokkel. Onder hulle invloed het hy selfs in ’n stadium voor ’n afgodsbeel gebuig!

Hoewel Salomo besef het dat hy gesondig het en na God teruggekeer het, moes hy ’n duur prys vir sy dade betaal. Geen wonder hy gee in Spreuke 2:1–2 en 16–19 hierdie raad aan sy seun nie: “My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan … Die wysheid sal jou weghou van die slegte vrou af, die vrou met die verleidelike praatjies, wat haar eie man verlaat en die verbond van haar God vergeet het. Haar huis lei ’n mens na die dood toe, haar spore bring jou by die dooies uit. Mense wat na haar toe gaan, kom nie een terug nie; hulle kom nie weer op die paaie van die lewe nie.”

Die huweliksverbond is vir God heilig. Dit is daarom te verstane dat die vyand alles in sy mag sal doen om huwelike aan te val en te verwoes. Hierdie aanvalle kom gereeld in die vorm van “onskuldige” e-posse of SMS’e van iemand buite jou huwelik. Dit gee aan jou ’n gevoel van opwinding. Staak jy dit nie, gee jy dit krag. En net soos Dirk word jy al dieper in die lokval ingelei wanneer ’n onsigbare band tussen jou en die persoon buite jou huwelik gevorm word – terwyl jou huwelik daaronder ly. Hy wuif vir jou. Sy glimlag vir jou. En God sien alles. Gaan jy dit stopsit? Beskerm jou huwelik sodat jy nie in daardie kamer beland waar die koggellag jóú begroet nie.

Gebed vir ’n getroude leser

Vader God, dankie dat ek my huwelik aan U kan opdra. Ek bid vir bonatuurlike beskerming sodat geen planne van die Bose sal slaag nie en U my deur u Heilige Gees sal versterk om van elke versoeking weg te stap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Gebed vir iemand in ’n buite-egtelike verhouding

Vader God, ek kom vandag na U toe in die Naam van Jesus Christus. Ek besef dat ek betrokke geraak het by iets wat my eie en ook my gesin se lewens geweldige skade kan aandoen. Ek smeek U om my te versterk om weg te stap van hierdie verkeerde verhouding. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Lees Spreuke 2:16–19 en Spreuke 22:13 en 26–28. Wat is die gevolge van ’n buite-egtelike verhouding? Hoe kan ons ons huwelike daarteen beskerm?

2 Lees Spreuke 2:1–5. Wat is die waarde van wysheid in jou lewe?

3 Lees Spreuke 2:6–13. God gee kennis en wysheid. Watter voordele hou dit vir regverdige mense in wat kies om Hom te volg?

4 In Spreuke 2:12–15 sê die Spreukeskrywer dat wysheid ons van verkeerde mense wat verkeerde dinge verkondig sal weghou. Is daar mense in jou lewe wat jy liefs moet vermy? Hoe kan jy dit taktvol doen?

5 Lees Spreuke 2:20–22. Wat is die belofte aan mense wat onberispelik leef? En wat is die waarskuwing aan bedrieërs?

6 Watter teksverse het vir jou in Hoofstuk 2 uitgestaan? Hoekom?

Wysheid

Подняться наверх