Читать книгу Wanneer woorde ontbreek - Braam Klopper - Страница 6

“Maar ek sal nie weet wat om te sê nie!”

Оглавление

Het dit al met jou gebeur dat iemand vir wie jy omgee ’n geliefde aan die dood afgestaan het? Was jou eerste gedagte dalk ook: “Ek wil met hulle kontak maak”? Was jou tweede gedagte dalk: “Maar ek sal nie weet wat om vir hulle te sê nie”?

As jy so voel, is hierdie boek vir jou bedoel. Om nie te weet wat om vir iemand te sê ná die dood van ’n geliefde nie, kan die heel beste beginpunt wees om te kan help! Selfs om nie ’n enkele woord te sê nie, kan meer vertroostend wees as om verklarings en antwoorde te gee wat bedroefdes meer verwar as wat dit hulle troos.

Het jy geweet?

Om mense betekenisvol by te staan en vir hulle iets te beteken, hoef jy nie:

•’n klomp slim antwoorde te ken nie,

•’n klomp Bybeltekste uit jou kop te ken nie,

•moeilike vrae oor die dood te kan beantwoord nie,

•baie te kan praat nie,

•hardop te kan bid nie.

Jy hoef net:

•te wys jy gee om,

•bereid te wees om te luister,

•jou insig te verbreed oor hoe die proses van rou normaalweg verloop.

Jy kan ’n verskil maak!

Daar is talle wonderlike boeke oor wat gebeur wanneer ’n geliefde sterf. Daarin kan bedroefdes baie raad en bemoediging kry. Maar mense wat in sulke omstandighede is, sukkel om te lees en om dit wat hulle lees, in te neem! Die waarde van hierdie boeke kom dan nie tot sy reg nie. Daarom maak bedroefdes in so ’n tyd baie sterk staat op die hulp en ondersteuning van vriende, familie en belangstellendes.

Jy kan deur jou belangstelling en ondersteuning ’n wesenlike verskil maak aan mense en hoe hulle hulle smart deurwerk. Navorsing toon dat bedroefdes die hulp en ondersteuning van vriende, familie en belangstellendes uitsonder as dié faktor wat die grootste verskil tydens hulle rou gemaak het. Dokters, sielkundiges en psigiaters is dit eens dat die ondersteuning van mense die belangrikste voorkomingsmaatreël teen die ontwikkeling van gekompliseerde roureaksies is. Mense se betrokkenheid help meestal dat die proses van rou kan begin en op dreef kom.

Deur mense in hulle smart betekenisvol by te staan, doen jy aan hulle een van die wonderlikste dade wat hulle ooit sal beleef. Jy kan ’n verskil maak aan hoe mense die proses van rou aanpak en deurwerk en hoe hulle “anderkant sal uitkom”.

Dit kan jy verwag

Hierdie boek kan jou met die volgende help:

•Jy sal ’n breë insig kry in die verloop van die proses van rou.

•Jy sal kennis opdoen oor spesifieke routake wat bedroefdes moet deurwerk.

•Jy kry praktiese riglyne oor hoe jy bedroefdes kan help om hierdie routake deur te werk.

•Jy word bewus van die tipiese slaggate wat vermy moet word.

•Jy kry perspektief oor die begrippe: Die wil van God en Die grootste troos ten opsigte van die dood.

Vir wie is hierdie gids bedoel?

•Vir elkeen wat iemand ken wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het en wat so ’n persoon graag wil bystaan, bemoedig of vertroos.

•Vir bedroefdes wat hulleself midde-in die proses van rou bevind, wat meer wil weet oor die verloop van rou en wat probeer om te begryp wat met hulle aan die gebeur is. Vir jou kan hierdie gids ’n “vriend” word wat verstaan hoe jy voel en wat jou dikwels sal gerusstel dat dit wat jy beleef normaal is. Dit sal jou ook voorberei op wat nog vorentoe op jou wag in die proses van die deurwerking van jou rou. Die gids sal aan jou praktiese routake uitspel waardeur jy moet werk om te kan groei en genees. Die grootste waarde lê waarskynlik in die praktiese riglyne oor hoe om die routake deur te werk.

•Vir bedroefdes wat lank terug ’n geliefde aan die dood afgestaan het, maar nog steeds voel dat hulle nie “oor daardie dood kom nie”. Jy het miskien iewers in die proses van rou vasgeval en nie gevorder om die hele proses deur te werk nie. Hierdie gids kan jou lei om te besef by watter een van die routake jy dalk vasgeval het en hoe om daardie routaak deur te werk, sodat die proses in sy geheel afgehandel kan word.

•Vir rougroepe. Dit is groepe mense wat iemand aan die dood afgestaan het en byeenkom om hulle verlies te bespreek, met mekaar te deel en saam te groei in die verwerking van hulle smart.

•Vir omgeegroepe, selgroepe of Bybelstudiegroepe wat hulleself beter wil toerus om te kan uitreik na bedroefdes en om hulle sinvol by te staan.

•Vir predikante wat die bystaan van bedroefdes as ’n moeilike deel van hulle beroep beleef. Al die terapeutiese beginsels vir rouberading word hier op ’n praktiese wyse aangebied. Dit kan vir hulle bevrydend wees en hulle daarvan red om in teologiserings en geykte gesegdes vas te val wanneer hulle die gevoel beleef van: “Maar wat sê ’n mens in sulke omstandighede?”

•Vir kerkraadslede wat graag die hande en voete van Jesus wil wees wanneer hulle wykslede wat bedroef is, bystaan.

•Vir maatskaplike werkers, omdat hulle dikwels juis te maak het met diegene wat agterbly ná die dood en met die moeilike probleme wat daarmee gepaardgaan.

•Vir dokters en verpleegpersoneel. Terwyl hulle feitlik daagliks met die dood in aanraking is, maak die verwerking van iemand se dood en die verloop van die proses van rou nie deel uit van hulle formele opleiding nie.

Hoe om hierdie boek te gebruik

In hierdie boek word aandag gegee aan die spesifieke routake wat bedroefdes moet deurwerk.

•Moenie die gids haastig probeer deurwerk nie.

•As jy iemand aan die dood afgestaan het wat baie na aan jou was, moet jy by elke afdeling nadink en jouself afvra:

–Hoe het ek in daardie stadium gevoel?

–Wat het my gehelp om ’n spesifieke routaak deur te werk?

–Wat het sekere take vir my bemoeilik?

–Watter van die dinge wat mense gedoen het, het my gehelp?

–Was daar enigiets wat ander gedoen het wat dit vir my moeiliker gemaak het?

–Is daar enige van die routake wat behandel word wat ek nog nie deurgewerk het nie?

•Bespreek dit wat jy uit die boek leer met ander mense.

•Wanneer jy aktief betrokke raak by die bystand van bedroefdes, moet jy na aanleiding van die gids probeer identifiseer met watter routaak hulle spesifiek besig is. Lees dan weer daardie betrokke gedeelte en probeer dit wat jy geleer het, prakties toepas.

•Maak vir jouself aantekeninge oor vrae, belewenisse, herinnerings en riglyne wat by jou opkom terwyl jy met spesifieke afdelings besig is.

Het jy geweet?

Waarom vind ’n mens dit moeilik om bedroefdes by te staan?

Dit is belangrik om te verstaan waarom iets wat baie normaal behoort te wees, in ons tyd baie moeilik geword het.

In die verlede

So 50 jaar en langer gelede het daar persentasiegewys baie meer mense gesterf (byvoorbeeld aan siektes wat vandag geneesbaar is). Die meeste mense het by hulle huise gesterf en dit het beteken dat hulle families dikwels teenwoordig was. Die versorging van die liggaam ná die dood is meestal deur die familie self gedoen. Baie blootstelling aan die dood het daartoe gelei dat die dood nie vir mense iets vreemds was nie.

Die situasie vandag

Deesdae sterf mense meestal in hospitale, waakeenhede en ander inrigtings soos ouetehuise of weg van hulle huise af as gevolg van motorongelukke of geweld. Kinders word in die meeste gevalle uitgesluit van die dood en ernstige siekte. Professionele persone, soos verpleegpersoneel en begrafnisondernemers, het die versorging van die liggaam ná die dood geheel en al uit die hande van die naasbestaandes geneem.

Vandag het ons baie minder direkte blootstelling aan die dood en aan ander bedroefdes as wat vroeër die geval was. Dit lei tot die vreemdheid van die dood vir ons. Ons is meestal geneig om aan die dood as iets “abnormaals” te dink. Ons het eintlik in ’n negatiewe kringloop beland. Hoe vreemder die situasie van die dood vir ons word, hoe minder blootstelling kry ons daaraan en hoe minder blootstelling ons kry, hoe vreemder raak die situasie vir ons.

Dink na oor …

Gebruik die kans om jouself te evalueer en vas te stel wat jy met die deurlees van dié boek wil bereik.

1.Hoe maklik of moeilik vind jy dit om bedroefdes by te staan? Ken aan jouself ’n punt uit 10 toe (10 punte = Geen probleme nie; 1 = Ek sien nie daarvoor kans nie).

2.As dit vir jou moeilik is, merk met ’n regmerk dít wat op jou van toepassing is:

–Ek voel onseker oor wat om te sê.

–Ek is ongemaklik met moeilike vrae (byvoorbeeld: Hoe kan die God van liefde so iets toelaat?).

–Dis vir my moeilik as ander mense baie emosioneel is.

–Ek is bang dat ek self te emosioneel sal wees.

–Ek is bang dat ek iets sal sê wat hulle ontstel eerder as om hulle te troos.

–Sulke situasies herinner my te veel aan my eie geliefdes se dood.

3. Kan jy aan nog ander faktore dink wat dit vir jou moeilik maak?

Wanneer woorde ontbreek

Подняться наверх