Читать книгу Wanneer woorde ontbreek - Braam Klopper - Страница 7

Wat behoort ek van die proses van rou te weet?

Оглавление

Rou is ’n proses

Daar bestaan geen kitsoplossings vir rou nie.

Om te rou, kan nie soos ’n tegniek aangeleer en bemeester word nie. Dit kan ook nie vrygespring word nie. Dit moet eenvoudig deurleef word. Dit is ’n proses. Dit neem tyd en dit verloop deur verskeie stadiums. Daar kan nie ’n vasgestelde tydsverloop aan rou gekoppel word nie. In sommige gevalle van traumatiese verlies, soos die dood van ’n kind, mag dit gebeur dat die proses van rou nooit werklik finaal afgehandel word nie.

Hierdie proses is ook nie ’n gelyk pad nie. Dit is ’n opdraande en afdraande pad. Baie mense maak die fout om te dink wanneer jy rou, behoort jy elke dag of elke week geleidelik ’n bietjie beter te voel. Ongelukkig is die teendeel waar. Bedroefdes beleef dat net sodra hulle dink dit gaan ’n bietjie beter, kom daar skielik weer ’n dag wat hulle heeltemal “af” voel. Dan voel hulle asof hulle nog glad nie gevorder het in die verwerking van die dood nie. Hierdie wisselwerking tussen beter dae en slegter dae is heeltemal normaal. Dit beteken ook glad nie dat daar nie vordering is nie. Daar is geleidelik vordering – al is dit moeilik om waar te neem, want die proses van rou is ’n stadige proses. Die verskil tussen die verwagting dat dit geleidelik beter behoort te gaan en die werklikheid van beter en slegter dae kan grafies soos volg voorgestel word:


Rou is ’n normale proses

Rou is nie ’n siekte nie en ook nie ’n “sielkundige toestand” in die negatiewe sin van die woord nie. Dit is ’n normale proses in die sin dat ’n mens dit in die normale verloop van die lewe kan verwag. Rou is ’n natuurlike reaksie wanneer ’n geliefde sterf. Die meeste mense deurleef hierdie proses self. Dit is eintlik net in uitsonderlike gevalle dat die proses skeefloop en tot ’n gekompliseerde roureaksie lei. Die persoon wat in die proses van rou verkeer, moet eerder beskou word as iemand wat ’n wond opgedoen het, nie as iemand wat siek is nie. Soos wat ’n wond geleidelik en van binne genees, so is dit ook met rou die geval.

Rou is ’n groeiproses

Terwyl mense die een routaak na die ander hanteer, sal hulle innerlik sterker word en groei. Hulle sal meer van hulleself en van ander mense ontdek en die lewe in ’n nuwe lig sien. Wanneer ’n skaap geslag en die vel nie bewerk word nie, sal dit uitdroog en kliphard en onbruikbaar word. As dieselfde vel egter gesout en deeglik gebrei word, sal dit sag, sterk en bruikbaar wees. Die proses van rou kan ’n mens “brei” sodat jy ook emosioneel sterker, wyser en meer bruikbaar anderkant uitkom. Dit is ’n belangrike groeigeleentheid in ’n mens se lewe – nie net vir die treurendes nie, maar beslis ook vir diegene wat die treurendes bystaan.

Mense rou verskillend

Daar sal deurgaans in hierdie gids na die proses van rou verwys word, eerder as na die rouproses. Die rede daarvoor is dat wanneer daar van die rouproses gepraat word, dit die indruk kan wek dat dit ’n vasgestelde proses is wat oral en altyd dieselfde verloop. Deur die begrip proses van rou te gebruik, sal nie net die prosesmatigheid van rou beklemtoon word nie, maar ook dat dit ’n “oop” proses is, ’n proses wat uiteenlopend by verskillende mense kan verloop. Dis ’n proses waarin daar ’n geweldige verskeidenheid van uiteenlopende roureaksies kan voorkom wat álles normaal is.

Die volgende is drie van die belangrikste redes waarom mense se roureaksies verskillend kan wees:

Indiwiduele verskille

Sommige mense is meer emosioneel, groter ekstroverte, of meer spontaan as ander. Sommige mense kom uit huisgesinne of kulture waar hulle geleer het om openlik uiting aan hulle emosies te gee. Ander kom uit ’n agtergrond waar die onderdrukking of beheer van emosies as die ideale gedrag voorgehou is.

Daar moet voortdurend rekening gehou word met die feit dat mense as gevolg van hierdie en ander redes nie eenders tydens hulle rou sal reageer nie. Vermy uitsprake en selfs gedagtes soos: “Jy móét huil!” of: “Jy moet jouself regruk en sterk wees!”

Alhoewel daar ongesonde roureaksies kan wees, moet ’n mens voortdurend toelaat vir indiwiduele reaksies by elke bedroefde persoon. Veral wanneer jy hulp wil verleen, is dit noodsaaklik om geen vooropgestelde idees te hê van hoe mense behoort te rou nie.

Wie is dit wat dood is?

As dit jou kind is wat dood is, sal jou rou totaal anders wees as wanneer dit, argumentshalwe, jou kleinniggie se man is. ’n Kind, huweliksmaat, ouer, broer of suster se dood bring ander roureaksies na vore as die dood van mense met wie daar nie so ’n hegte verhouding bestaan het nie. Dit is belangrik om te besef dat dit nie net oor die aard van die verwantskap gaan nie, maar oor die aard van die verhouding. Rou oor ’n huweliksmaat, waar daar ’n gelukkige huweliksverhouding was, sal anders beleef word as waar dit ’n gespanne of ongelukkige of andersins problematiese verhouding was. Net so is sommige ouer-kind-verhoudings baie heg en ander weer verhoudings waarin daar groot afstand ontstaan het.

Hoe is die persoon dood?

In die geval waar iemand ná ’n lang lyding aan kanker sterf, sal dit ander roureaksies tot gevolg hê as wanneer iemand skielik sterf aan ’n hartaanval of as gevolg van ’n motorongeluk of moord. In die geval van selfdood kan daar weer heeltemal ander reaksies by die treurendes na vore kom. Dit het nie alleen te maak met die kwessie dat óf die dood te wagte was óf skielik ingetree het nie. Dit het veral te doen met die aard van die dood en die gepaardgaande oorsaak van die dood.

Tipiese simptome van rou

Daar kan ’n geweldige wye verskeidenheid van simptome by bedroefdes voorkom. Vir hulleself is hierdie simptome gewoonlik baie ontstellend, omdat hulle onseker is of dit werklik met die rou verband hou. Hulle voel bang dat daar iets met hulle verkeerd is. As ’n mens bedroefdes kan verseker dat hierdie simptome normaal is en beslis verband hou met die belewenis van hulle verlies, sal dit vir hulle ’n groot gerusstelling wees. Bedroefdes moet net nooit verwag dat hulle ál hierdie simptome sal ervaar nie. Dit is ’n omvattende lys simptome wat by ’n groot verskeidenheid van mense kan voorkom.

AfgestomptheidVerlies aan belangstelling

VerwardheidSukkel om te konsentreer

VergeetagtigheidSukkel om aan die slaap te raak

HuilerigheidOnrustig slaap

Liggaamlike swakheidBaie vroeg wakker skrik

BewerigheidVerlies aan eetlus

HartkloppingsDiep sugte

DuiseligheidGewigsverlies/gewigstoename

Woede’n Gevoel van angstigheid

RusteloosheidBenoude gevoel

Moegheid’n Hol gevoel op die maag

SkuldgevoelensDikwels oor onbenullige klein dingetjies wat ’n persoon nie vir die oorledene gedoen het nie

Depressie en rou

Dit is uiters belangrik dat bedroefdes en diegene wat hulle bystaan, moet besef dat die simptome van rou en die simptome van depressie in groot mate oorvleuel.

Eintlik verskil die simptome meestal slegs op enkele punte. Dit beteken dat slegs ’n dokter, psigiater of sielkundige werklik die korrekte diagnose behoort te maak. Mense word dikwels verkeerdelik as depressief beskou, terwyl hulle eintlik net heel normaal besig is om te rou.

As anti-depressante binne die eerste drie maande ná ’n verlies geneem sou word, kan dit gebeur dat die medikasie die normale proses van rou kan onderdruk. Indien ’n bedroefde egter reeds anti-depressante gebruik het in die stadium dat hy of sy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, moet die gebruik van die medikasie in geen omstandighede gestaak word nie.

Vyf belangrike routake wat bedroefdes moet deurwerk

Daar sal deurgaans in hierdie boek verwys word na routake in plaas van die gebruiklike term roufase. Wanneer daar van fase gepraat word, kan dit die indruk wek dat die bedroefde eintlik passief en half outomaties deur die verskillende fases beweeg. Wanneer die term take gebruik word, word die aktiewe betrokkenheid en deurwerk van sekere aktiwiteite beklemtoon. Die volgende vyf routake word onderskei:

Taak l:Die realiteit van die verlies moet verwerk en aanvaar word

Taak 2:Die emosionele pyn van die verlies moet beleef word

Taak 3:Die nagedagtenis van die oorledene moet gevier word

Taak 4:Teenstrydige gevoelens moet erken en verwerk word

Taak 5:Neem afskeid en leef toekomsgerig

Hierdie take kan wel van mekaar onderskei word, maar nie waterdig van mekaar geskei word nie. Daar sal voortdurend oorvleueling tussen die take plaasvind. Die eerste vier take sal ook nie noodwendig in chronologiese volgorde verloop nie.

Dis noodsaaklik dat die routake deurgewerk word

Die proses van rou kan nie vrygespring of omseil word nie. Dit kan hoogstens uitgestel word, maar dan nie sonder dat dit nog moeiliker word as wat dit reeds is nie. ’n Mens kan sover gaan as om te beweer dat indien die normale proses van rou nie deurgewerk word nie, die proses van gekompliseerde rou vanself sal begin. Mense sal rou ná die dood van ’n geliefde – op normale of abnormale manier. Waar die rou uitgestel of onderdruk word, kan dit ernstige fisieke, sielkundige, geestelike en selfs verhoudingsprobleme op kort maar veral op lang termyn vir die bedroefdes tot gevolg hê. Die betrokkenheid van toegeruste hulpverleners kan ’n wesenlike verskil maak. Deur hulle betrokkenheid en aanmoediging kan bedroefdes gehelp word om die routake aan te pak en sodoende te vorder in die proses van rou, eerder as om daarin vas te val.

Wanneer woorde ontbreek

Подняться наверх