Читать книгу Brand Pretorius - aan die stuur - Brand Pretorius - Страница 8
Оглавление1
My grootwordjare: Van Bultfontein
na die sakewêreld
“Daar is altyd een oomblik in ’n mens se kinderjare wanneer
die deur oopgaan en die toekoms binnegelaat word.”
Graham Greene, skrywer van The power and the glory
Een van my ma se henne het opgehou om eiers te lê – onverklaarbaar. Die hen het by die dag vetter en swaarder geword. Die mense het gesê dat daar iewers ’n verstopping moet wees!
Ons was vreeslik opgewonde toe my ma uiteindelik teësinnig die hennetjie aan ons drie Pretorius-boeties gegee het, sodat ons dit vir sakgeld kon verkoop. Maar ons opgewondenheid was van korte duur. My twee broers, Hennie en Koos, toe elf en nege jaar oud, was te skaam om die buitengewoon swaar hen te gaan verkoop. Op vyfjarige ouderdom, en op daardie stadium die jongste van ons kinders, was ek seker nog te klein om skaam te wees. Sonder om te huiwer het ek die hen in ’n mandjie gesit en die twee blokke gestap na die slaghuis. Onverskrokke het ek die slagter oortuig om die hen vir twee sjielings by my te koop. Baie selfvoldaan het ek teruggestap huis toe met die geklingel van die muntstukke in my broeksak.
Die gevoel van genoegdoening wat ek daardie dag beleef het, het dalk die saadjie geplant vir my toekomstige belangstelling in besigheid doen. Miskien was dit daar in die stofstrate van Bultfontein waar die bemarkingsgogga my die eerste keer gebyt het – maar ek sou dit eers baie later in my lewe besef. Was dit dalk onwetend die ontluiking van ’n inherente ambisie om te lei?
1953
Bultfontein, Vrystaat
Alhoewel ek op die Oos-Vrystaatse dorpie Steynsrus gebore is, is my eerste herinneringe aan my kinderdae die duidelike beeld van ons kliphuis langs die Hoërskool Bultfontein. My pa, na wie ek vernoem is, is in 1952 daar as skoolhoof aangestel. Bultfontein was destyds ’n tipiese dorpie op die Vrystaatse platteland, sowat 100 km noordwes van Bloemfontein en omring deur soortgelyke dorpies soos Hoopstad, Hertzogville, Dealesville en Brandfort. Die plaaslike gemeenskap was slegs ’n paar honderd sterk en die mielieboere in die omliggende gebiede het ’n prominente rol gespeel. Die paar ondernemings op die dorp is hoofsaaklik deur “Boere-Jode” soos die Gritzman- en Berelowitz-familie besit. As my geheue my nie in die steek laat nie, was daar net een teerpad, en dit was die hoofstraat. Dit was ook waar Central Garage, die General Motors-handelaar was. Ek het dikwels voor die vertoonvenster gestaan en my aan die splinternuwe, blink Chevrolets vergaap, en gedroom dat ek eendag een van my eie sou besit.
Motors was my passie as kind. Ek is grootliks hierin deur my oudste broer, Hennie, beïnvloed. Van jongs af was hy die geesdriftige (alhoewel nie noodwendig die gemagtigde) bestuurder van my pa se De Soto, en later ook van sy tweekleurige grys-en-blou 1956-Chevrolet. Ek kan nou nog die opgewondenheid onthou waarmee ons, ná maande van afwagting, op die nuwe motor se koms gewag het. Ek het op die stoeptrappie gesit en wag, my asem opgehou, en nie een keer my oë van die pad geneem nie. Uiteindelik, ná wat soos ure gevoel het, het ’n motor in die verte verskyn, en stadig al hoe nader gekom. Ek het opgespring en na die hek gehardloop. Die motor waaroor ek so lank gedroom het, was uiteindelik hier! Ek was agt jaar oud.
My toekomsplanne was reeds duidelik – ek wou eendag motors ontwerp. Hoewel ek nie juis enige kunstalent gehad het nie, het dit my nie gekeer om ure aaneen my droommotors te teken nie. Teen die tyd dat ek elf was, het ek reeds ’n plakboek van my gunstelingmotors saamgestel. Ek kon skaars wag vir Saterdagmiddae, wanneer ek Hennie kon help om my pa se Chev te was, maar die hoogtepunt was die dag toe ons die enjin se verskillende komponente elk ’n ander kleur geverf het. In ag genome hoe streng my pa was, was dit ’n wonderwerk dat hy ons maar laat begaan het!
Toe ek elf was, het ons Bultfontein se stofstrate agtergelaat en na Bloemfontein verhuis, waar my pa as hoof van Laerskool Wilgehof aangestel is. Enorme opwinding het die oorhand gekry toe my ma haar eerste motor, ’n 1959-Renault Dauphine, gekry het. Vir my was dit die begin van ’n nuwe era as fanatiese Renault-entoesias. Hierdie eiesoortige Franse motors het my van die begin gefassineer met hulle unieke voorkoms en sportiewe werkverrigting. Baie middae ná skool sou ek met my fiets heelpad na die Renault-handelaar, Drakenstein Motors, toe ry. Die eienaar, oom Jan van Niekerk, het my passie vir motors verstaan en my toegelaat om in die nuutste modelle te klim, waar ek sou sit en dagdroom. Die reuk van nuwe leer het vir my ’n spesiale aantrekkingskrag gehad. Min het ek toe geweet in watter mate my verbintenis met Renault my loopbaan in die motorbedryf sou bepaal.
In dieselfde tyd dat my liefde vir Renault begin het, het my belangstelling in motorsport begin vlam vat. Ek en my vriend Albert Weideman het renbane in ons agterplaas gebou, en dan ons Dinky Toyspeelgoedkarretjies teen mekaar laat jaag in ’n groot gees van mededinging. Snags het ek van die groot renjaerlegendes van daardie tyd gedroom – van Juan Manuel Fangio, Stirling Moss en Graham Hill.
Toe ek vyftien was, is my pa bevorder tot skoolinspekteur en ons het na Bethlehem verhuis, waar twee opwindende dinge gebeur het. My nuwe vriende Theo Harris en James Keulder was amper net so gek oor motors soos ek. Saam het ons ure lank gedroom oor hoe ons eendag bekende renjaers gaan word. Toe gaan daar vir ons ’n lig op: ’n Knortjor sou die ideale manier wees om ons renloopbane te begin. Geen moeite is ontsien om ons eie droom-knortjor te ontwerp nie. Ons het al ons sakgeld spandeer aan ’n tweedehandse grassnyer-enjin, en begin toe om die raam in Theo se pa se garage aanmekaar te sweis. Ons het weke lank probeer om die ratkas en die aandrywingstelsel uit te werk, maar op die ou end het ons tegniese vaardighede ons in die steek gelaat. Uiteindelik het ’n gebrek aan fondse gekeer dat ons hierdie ambisieuse projek voltooi.
Die tweede opwindende gebeurtenis was dat ek my broer Koos se ou grys Ovilam 50 cc-motorfiets geërf het. Niemand sou dit juis ’n topklas-masjien kon noem nie, maar dit was nietemin die begin van my lewenslange liefde vir motorfietse. Die ratkas het in daardie stadium slegs een rat – derde rat – gehad wat werk. Om die motorfiets se enjin aan die gang te kry moes ek dit teen ’n steil afdraande laat afhardloop. Om dan in Eurekastraat af te jaag met die wind in my hare het die adrenalien laat pomp. Vir sy sestiende verjaardag het Theo ’n splinternuwe donkerblou Honda 50 Sport, met sy uitlaatpyp teen ’n 45°-hoek, gekry. Dit het ’n vierslag-enjin gehad wat vrylik tot 8 000 r.p.m. kon toer – dit was ongelooflik! Toe ek die blou motorfiets vir die eerste keer sien, kon ek myself in my geestesoog op ’n rooie sien.
Ek het my laaste twee skooljare op Kroonstad spandeer, toe my pa soontoe verplaas is. Dit was twee wonderlike jare by die Hoërskool Kroonstad, of die Blou Skool, soos wat dit destyds bekend gestaan het. Hennie was nou ’n onderwyser in Welkom, en danksy sy vrygewigheid was ek die eienaar van ’n tweedehandse 50 cc-Kreidler Florette, met al drie ratte in ’n werkende toestand. Die rit skool toe het gereeld in ’n resies ontaard tussen my en my vriende Pierre Joubert, op sy Garelli, en Johannes Pretorius, op sy Puch. Ek onthou nou nog elke kinkel in die pad al langs die Valsrivier, met die massiewe wilgerbome en ’n paar gevaarlike verkeersirkels. Natuurlik het ons nou en dan hard met die pad kennis gemaak, maar gelukkig was die skade meestal beperk tot gekneusde ego’s. Ten spyte van my beste pogings was Pierre gewoonlik die wenner.
Hennie het die Kyalami-renbaan ook aan my bekendgestel. Hoe kan ek ooit die opwinding vergeet van die eerste nege-uur-uithouwedren wat ek bygewoon het – die hoë, oorverdowende klank van die enjins, die onmiskenbare reuk van die hoë-oktaan-brandstof, die juigende skare – die hele avontuur. Die renjaers wat hul motors vreesloos om die draaie laat gly, het onmiddellik my helde geword, en die intense wedywering tussen die Renaults, Alfa Romeo’s en Fords het my verbeelding aangegryp. Die adrenalien het gepomp! Ek sal ook nie vergeet nie dat ons die Sondagoggend ná die wedren tientalle koeldrankbottels moes optel wat ons by kafees op pad terug Kroonstad toe ingeruil het vir petrolgeld. Hennie se wit 1961-Renault Dauphine wat hy by my ma geërf het, het pragtig gelyk met sy breë wiele en sportuitlaatstelsel. Ons het soos konings van die pad gevoel. Die feit dat die Renault maar net ’n klein 850 cc-enjintjie gehad het, kon ons min skeel.
Tydens my matriekjaar in 1965 het ek my toekomstige loopbaan ernstig begin oorweeg. As gevolg van my passie vir motors, was ek vasbeslote om ’n loopbaan in die motorbedryf te volg. My onderwysers, my ouers en my eie verwysingsraamwerk was ewe beperk. Die enigste rigting waaraan ons kon dink, was meganiese ingenieurswese. Die studiegeld was onbetaalbaar duur, en dus het ek vir ’n beurs by Yskor aansoek gedoen. Op grond van ’n goeie akademiese rekord is dit toegeken, en aangesien ek nie vir militêre diens opgeroep is nie, kon ek in 1966 my studie aan die Universiteit van Pretoria begin. Een van die beursvoorwaardes was dat ek daar moes studeer, en ook dat ek ná die voltooiing van my studie ten minste drie jaar by Yskor moes werk – ’n klein opoffering om my uiteindelike doel te bereik.
Dit is met dankbaarheid in my hart dat ek aan my kinderjare terugdink. Ek het in ’n huis grootgeword waar my pa die gesagsfiguur en die beginsels streng Calvinisties was. Christelike norme en waardes is by ons ingeprent. Daar was geen verwarring tussen reg en verkeerd nie. My pa het dissipline konsekwent toegepas, en as kinders het ons altyd geweet waar ons met hom staan. Hy was ’n belese, intelligente man, wat groot hoogtes in sy veld as gevolg van sy integriteit, bevoegdheid en toewyding bereik het. Onderwys was sy passie. Sy roeping was sy erns, sy pligsbesef ’n bron van inspirasie. Maar hy het ook ’n sagter kant gehad. Soms, veral tydens ons talle karavaanvakansies, het hy ons almal laat skater van die lag met sy subtiele sin vir humor. Dit was tydens hierdie spontane oomblikke dat ons die kwaliteit van sy menswees kon aanvoel en waardeer.
Die beginsels wat my pa by my ingeprent het, het ’n onbetwiste en beduidende impak op my gehad, soos die aanvaarding van verantwoordelikheid, sowel as die deurvoer daarvan tot die bitter einde. Hy het toegesien dat ons van kleinsaf toegewese verantwoordelikhede gehad het, soos om die tuin nat te lei, of die hoenderhok skoon te maak. Toe ons nog op Bultfontein gewoon het, het ons ’n koei gehad wat bedags in die munisipale kamp net buite die dorp gewei het. Laatmiddag moes ons die koei gaan haal, sodat sy die nag in die stal kon slaap, en sodat sy ook gemelk kon word.
En so, toe ek ongeveer tien jaar oud was, was dit een wintersmiddag my verantwoordelikheid om die koei te gaan haal. Ongelukkig het al die koeie wat daardie dag in die kamp gewei het, vir my almal dieselfde gelyk. Tot my ontsteltenis moes ek met leë hande huiswaarts keer, sonder Blommetjie aan my sy. Ten spyte daarvan dat dit koud en winderig was en alreeds skemer, het my pa my teruggestuur – verantwoordelikheid moet ernstig opgeneem en suksesvol afgehandel word. Verantwoordelikheid, volharding en deursettingsvermoë gaan hand aan hand. Hierdie les het deel van my wese geword, en my goed toegerus vir die res van my lewe.
Die tweede les wat my pa my geleer het, was die realiteit van oorsaak en gevolg. Alles wat jy doen, het gevolge. Goeie gedrag is beloon en slegte gedrag is gestraf. Met betrekking tot laasgenoemde, het my pa nie in uitsonderings of onderhandelings geglo nie. Sou ons buite die raamwerk van ons gesin se waardes en beginsels opgetree het, was die gevolge onvermydelik – ons is gestraf.
Ons is eenkeer op heterdaad betrap toe ons heerlike rooiwang-perskes uit die koshuisvader se tuin gegaps het. Dit het niks gehelp om vir versagtende omstandighede te pleit nie, en my pa se rottang het die praatwerk op ons sitvlakke gedoen. Ek het geleer om aan die moontlike gevolge van my dade te dink, en dat kansvattery nie die moeite werd is nie, omdat die waarheid altyd op die end uitkom.
My pa was ’n Afrikaner-nasionalis in murg en been en, of so vermoed ek, ook ’n lid van die Broederbond. Sy Afrikanerskap was vir hom ’n baie ernstige saak, en iets wat hy met ontsettende trots uitgeleef het. Sy pa het in die Anglo-Boereoorlog geveg, en later ook gevangenisstraf op Ceylon uitgedien. Sy ma, ouma Nellie, en haar twaalf broers en susters is in ’n Britse konsentrasiekamp gevange gehou. Van al twaalf was sy was die enigste een wat oorleef het. Ek kan nou nog die hartseer en pyn in haar oë onthou wanneer hierdie herinneringe by haar kom spook het.
’n Vraag wat ek my soms afvra, is of my Afrikaner herkoms, ingeskerp deur my pa se lesse en voorbeeld, ’n belangrike rol in my loopbaan gespeel het. Ek reken dit het – en wel op ’n positiewe manier. Gedurende die eerste paar jaar van my betrokkenheid by die motorbedryf en die bemarkingswêreld wou ek wys dat ’n Afrikaner sukses kon behaal in ’n omgewing wat destyds meestal deur Engelssprekendes oorheers is. Later in my loopbaan wou ek deur middel van my voorbeeld wys dat ek ’n positiewe verskil in die lewe van alle Suid-Afrikaners kon maak. Ook dat ek medeverantwoordelikheid aanvaar vir foute van die verlede. Maar belangriker, dat ek medeverantwoordelikheid aanvaar om ’n beter toekoms te skep.
Soos my pa, sal ek altyd my Afrikanerskap erken, maar in my geval staan dit tweede naas om ’n trotse Suid-Afrikaner te wees.
My ma het egter die grootste invloed op my lewe gehad. Sy het haar Christelike waardes elke dag met oortuiging uitgeleef deur haar betrokkenheid by liefdadigheid en haar deernis teenoor alle mense. Sy was bereid om alles vir haar gesin en haar medemens op te offer. Die herinnering aan haar lewensvreugde en dankbaarheid teenoor haar Skepper sal my altyd bybly. Maar bo alles sal ek haar onvoorwaardelike liefde vir die res van my lewe in my hart koester. Die inspirasie van haar voorbeeld bly die rykste seën in my lewe.
Alhoewel ek dit nie toe kon besef nie, was my ma my eerste werklike voorbeeld van dienende leierskap, die filosofie wat ek later sou voorstaan. Sy was ’n uitsonderlike voorbeeld van diensbaarheid in haar gemeenskap en gesin. My pa was tien jaar ouer as sy – hy het trouens vir haar skoolgehou. Aan die einde van haar matriekjaar is hulle getroud, en ’n jaar later is my broer Hennie gebore. Sy het dus nooit ’n loopbaan gehad nie, maar sy het haar lewe daaraan gewy om ander te dien. Ek het nooit gesien hoe sy haar posisie misbruik het nie, selfs nie eens wanneer dit by die opvoeding van haar vier seuns gekom het nie.
Selfs al was my pa die onbetwiste gesagsfiguur in ons huis, het my ma meer invloed gehad – hy kon die hoof van die huis gewees het, maar sy was die hart. Sonder twyfel het sy ons respek, vertroue, liefde en bewondering verdien. Ek was absoluut vasbeslote om haar liefde te bly verdien, en om my lewe op so ’n wyse te leef dat dit haar sou trots maak. Sy het my haar sonskynkind genoem, en ek wou dit vir haar bly, maak nie saak wat nie.
My grootwordjare is ook beïnvloed en verryk deur my drie broers, Hennie, Koos en Attie. Tussendeur die normale bakleiery van tyd tot tyd was ons groot maats wat van vroeg tot laat besig was. My pa het geglo dat ledigheid die duiwel se oorkussing is, en ons is besig gehou. As die skoolhoof se kinders kon ons die druk voel om te alle tye die beste voorbeeld te stel. Ons moes ook aan soveel aktiwiteite moontlik deelneem – selfs klavierlesse was verpligtend. Om te alle tye ons bes te doen en daardeur ons Godgegewe potensiaal te verwesenlik was die mantra wat ons ouers lewenslank by ons aangemoedig het. Al drie my broers het in eie reg uitmuntend presteer, en was nog altyd vir my ’n groot bron van aansporing. Afgesien van alles wat ek by hulle geleer het, bly my broers se liefde en ondersteuning tot vandag toe ongelooflik kosbaar. Hulle is my beste vriende.
Januarie 1966
Universiteit toe
Dit was met ’n groot knop in my keel dat ek my familie op die Kroonstad-stasie gegroet het. Die treinrit Pretoria toe was ’n mengsel van hartseer en opwinding – opwinding omdat daar ’n nuwe hoofstuk in Pretoria op my gewag het, hartseer omdat ek skielik alleen en baie kwesbaar gevoel het. Dit was die eerste keer dat ek so ver van my familie en vriende sou woon. Ek was nie bewus van enigiemand wat ek ken wat ook by Tuks sou studeer nie.
My eerste jaar van meganiese ingenieurswese was nie vir my ’n aangename ervaring nie. Ek het die aanpassing wat dit sou verg hopeloos onderskat. Koshuislewe was nie heeltemal wat ek verwag het nie – vir die eerste keer in my lewe moes ek daaraan gewoond raak om geen privaatheid te hê nie, sowel as aan ’n omgewing waar laat nagte en konstante lawaai die norm was. Om sake te vererger, het ek my studies nog minder geniet. Toegepaste wiskunde en fisika was eenvoudig net nie my sterkpunt nie. Met ’n gespook en ’n gespartel en twee hereksamens later het ek uiteindelik my eerste jaar geslaag. Maar in my hart het ek geweet dat my droom om die motorbedryf te betree nie deur middel van ’n graad in meganiese ingenieurswese verwesenlik sou word nie. ’n Paar weke voordat dit tyd was om na Pretoria terug te keer vir my tweede jaar het ek my ma in my vertroue geneem. Met haar gebruiklike diplomasie het sy my pa op die slegte nuus voorberei. Ondanks die ernstige finansiële implikasies van die terugbetaling van my Yskor-beurs, het hy ingestem dat ek van kursus kon verander. Daarvoor sal ek hom ewig dankbaar wees.
Watter ander studierigtings kon ek volg? Ek het letterlik die Universiteit van die Oranje-Vrystaat se jaarboek deurgeblaai en op die ingewing van die oomblik op ’n BCom-graad, met vervoerekonomie as hoofvak, besluit. Aangesien my ouers intussen Bloemfontein toe getrek het, kon ek nou vanaf die huis studeer.
Ek het my studies aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat vanuit die staanspoor geniet. Die meeste van my vakke het my belangstelling geprikkel en dit was ’n groot troos om weer terug by die huis te wees. Omdat ek baie skuldig gevoel het dat my pa die ingenieurswesebeurs moes terugbetaal, wou ek hom nie vir sakgeld vra nie, en het ek deeltydse werk gesoek. Een van my minder suksesvolle pogings was om Simba-skyfies by die plaaslike stampmotorrenne te verkoop. My karige wins van minder as R1 vir ’n hele aand se harde werk onder die skare het my van daardie mandjie-om-die-nek-werk gered.
Kort daarna was ek gelukkig om werk te kry as toonbankassistent by Stellenvale, ’n drankwinkel in Bloemfontein. Die lesse wat ek by tannie Hester Pretorius, die bestuurder, geleer het, was veelvuldig en waardevol. Sy was ’n uitstaande sakevrou, streng en puntenerig. Al die banknote in die kasregister moes in netjiese hopies gesorteer word, met Jan van Riebeeck se kop na bo. Elke Saterdagmiddag moes ons voorraadopname doen, en indien die boeke nie tot op die laaste bottel geklop het nie, moes ons maar weer van vooraf begin. Haar verbintenis tot sake-etiek en goeie bestuur was die King-kode ver vooruit!
Ek het die voorreg gehad om drie jaar lank gedurende naweke en universiteitsvakansies daar te werk. Afgesien van haar bestuurstalent het tannie Hester ook ’n wonderlike humorsin gehad. Hoewel sommige van ons erg beskonke klante ’n groot bron van vermaak was, is waardevolle lesse ook geleer – sy het daarop aangedring dat hulle altyd met respek behandel moes word. Dit was my eerste kennismaking met die praktiese realiteite van besigheid, wat baie waardevol vir my studie en toekomstige loopbaan was.
My tweede jaar as BCom-student staan uit in my geheue om twee redes. Vroeg in Februarie van daardie jaar, 1968, het ek Tillie, my aanstaande vrou ontmoet. Dit het gebeur tydens die gebruiklike verwelkomingsfunksie vir eerstejaarstudente in die H.F. van der Merwe Scholtzsaal. Al die nuwelinge moes koponderstebo teen die muur staan, gereed vir “inspeksie” en ondervraging deur die senior studente. Een persoon in besonder het dadelik my aandag getrek. Toe ek by haar kom, haar kop oplig, en in haar oë kyk, het ek geweet. Sy was beeldskoon en ek kon haar karakter en intelligensie aanvoel. Toe ek daardie aand by die huis kom, het ek opgewonde vir my ma vertel dat ek die vrou ontmoet het met wie ek gaan trou. Min het ek geweet dat dit bloed, sweet en trane sou kos om haar op die ou end wel te oortuig!
Die tweede belangrike herinnering aan my tweede jaar as BCom-student het te doen met my blootstelling aan ’n uitstaande dosent, prof. Johann Nortje. Te danke aan hom het my passie vir bemarking deeglik wortelgeskiet. Sy lesings was boeiend, met entoesiasme aangebied en sy gevallestudies het my verbeelding aangegryp. Saans voordat ek gaan slaap, het ek my handboek The fundamentals of marketing (1964), deur prof. William J. Stanton van die Universiteit van Colorado, verslind. Nog ’n boek, The principles of marketing, deur Tousley, Clark en Clark, is gou by my gunstelingleeslys gevoeg. Elke dag in prof. Nortje se klas het ek meer en meer vasbeslote geword om ’n loopbaan in die opwindende wêreld van besigheid en bemarking te volg.
Ek het ook in hierdie tyd my eerste motor gekry – die legendariese 1961-Renault Dauphine, wat oorspronklik my ma s’n was. Daarna het my twee ouer broers die motor gebruik, toe hulle studente was. My entoesiasme vir hierdie klein wit 850 cc-motortjie het geen perke geken nie. Dit het egter ’n aantal gevolge gehad. Dit het my kennis van en belangstelling in motors verder versterk. Dit het ook ’n fanatiese Renault-ondersteuner van my gemaak – wat uiteindelik daartoe gelei het dat ek my in 1973 by Toyota sou aansluit.
In daardie dae was dinge baie anders. Ten spyte van die feit dat my brandstofrekening minder as ’n ongelooflike R1 per week beloop het, het die Dauphine steeds ’n groot deel van my sakgeld geabsorbeer. Ek was alewig besig om die enjin aan te pas vir beter werkverrigting en bykomstighede vir die motor se voorkoms by te voeg. Hierdie deurlopende aanslag op my solvensie het my aangemoedig om harder te studeer en my deeltydse werk by Stellenvale na die beste van my vermoë te doen. Ook het die Renault ’n belangrike rol in my verhouding met Tillie gespeel. In my oë het my Dauphine ons met styl van punt A na punt B geneem, of dit nou Sondagaande kerk toe was of na die inryfliek, wanneer ons dit kon bekostig. Ongelukkig, omdat die motor alreeds ietwat lank in die tand was, maar ook as gevolg van my nimmereindigende gepeuter met die enjin, het my klein wit motortjie nogal temperamenteel geraak – en somtyds, veral op koue winteraande, sou die battery te swak wees om die enjin aan te skakel. Tillie het in daardie stadium nog nie ’n bestuurderslisensie gehad nie, en sy was die aangewese een, alhoewel verontwaardig, wie die motor aan die brand moes stoot. Dit het meer as een romantiese aandjie in die wiele gery!
Na ek my BCom-graad met bedryfsekonomie en vervoerekonomie as hoofvakke verwerf het, het ek voortgegaan met my honneurs op ’n deeltydse basis. Om dit te finansier het ek in Desember 1969 by Kloppers begin werk as ’n leerlingbestuurder. Kloppers was die voorste afslagwinkel in Bloemfontein, soortgelyk aan Game en Dion wat die produkreeks en aanslag betref. Willem Klopper was die eienaar en Richard Fouché die bestuurder, albei bekwame en aggressiewe kleinhandelaars. Hierdie familiebesigheid bly tot vandag toe een van die prominentste kleinhandelaars in die Vrystaat.
Daardie Desember by Kloppers was vir my ’n vuurdoop. Dit was hul besigste tyd van die jaar, en ek moes instaan as verkoopsman, kassier en selfs skakelbordoperateur. Elke oggend om 06:30 het ons voorraad begin uitpak en was die meeste aande ná sewe nog besig met aflewerings. Ondanks die lang ure en harde werk het ek regtig die verskillende take geniet, veral verkope. “Oom Willem” en Richard was moeilik om voor te werk, maar altyd regverdig. Ek het gou besef dat dit in die besigheidswêreld alles oor die lewering van resultate gaan. Kom wat wil, verkoopsdoelwitte moes bereik word, en die boeke moes elke dag klop. Om agter ’n toonbank te staan as ’n anonieme persoon met maar min status in die oë van die publiek, was ’n waardevolle ondervinding. Klante se optrede, goed of sleg, was in baie opsigte ’n openbaring. Ek moes leer hoe om aggressiewe, selfs beledigende gedrag te hanteer, en gou besef dat sommige klante nie altyd heeltemal eerlik en eties is nie. Tog, soos ek by tannie Hester geleer het, het ek almal met respek behandel. Gelukkig was die oorgrote meerderheid vriendelik en opreg, en het my vriende geword.
’n Paar maande later is ek gevra om ’n Kloppers-minitak in die Bloemfontein-middestad te open. Dit was ’n klein winkel, naby al die groot banke geleë, en ek was die enigste personeellid. Ek moes ’n hele reeks handelsware, van damesbroekiekouse tot yskaste van die hand sit. Oom Willem het elke middag klokslag om vyfuur gebel om te hoor wat die daaglikse omset was – wat beslis ’n groot bron van motivering was. My diens aan klante was ten volle geïntegreer. Die stowe, yskaste en wasmasjiene wat ek gedurende die dag verkoop het, het ek ná ure afgelewer met die hulp van Kloppers se afleweringspersoneel en hul oranje Datsun-bakkies. Om na spesifieke doelwitte te werk sowel as om hulle te bereik, het ek baie vervullend gevind.
Gedurende hierdie tyd het ek ook die Bloemfonteinse Renault Klub gestig. Dit was die goue era van Renault se motorsportsukses met hul Alconi-, Gordini- en Alpine-modelle en entoesiasme vir die handelsmerk het hoog geloop. Klublede het op naweekuitstappies gegaan, en ons het ons eie gymkanas, saamtrekke en kwartmylwedrenne georganiseer. My Dauphine moes plek maak vir ’n wit 1964-Renault Caravelletweedeur-sportmodel. Alhoewel die Caravelle reeds 160 000 km op die afstandmeter gehad het toe ek dit gekoop het, was dit in ’n perfekte toestand en my absolute trots en vreugde. Soseer dat ek dit minstens drie keer per week gewas en poleer het.
Die uitdaging om ’n uiteenlopende groep Renault-eienaars almal in ’n klub saam te snoer, was ’n leierskaps- en bestuursuitdaging. Ook het ek dit ontsettend geniet om aan motorsport deel te neem. Ek en Tillie het ’n paar tydrenne saam gedoen, met haar as die navigator. My manewales agter die stuur was wel die oorsaak van ’n karsiek verloofde en ’n paar onbeplande noodstoppe, tog was ons ’n formidabele span – en ons verhouding het dit oorleef. Die toppunt van my kort en onbeduidende motorsportloopbaan was die drieuur-uithouwedren waaraan ek saam met ’n ander Renault-fanatikus, Sam Scholtz, deelgeneem het. Die motor was ’n warmgemaakte Dauphine wat ons opgebou het met onderdele wat ons grootliks by skrootwerwe bekom het. Ondanks ons skrapse begroting en beperkte ervaring as renjaers, en ’n oranje karretjie wat bly oorverhit het, het ons die wedren voltooi. Terwyl ons mekaar in die kuipe van die Bloemfonteinse Brandkop-renbaan omhels het, het die trane van trots geloop.
Die Renault Klub het floreer en gou met byna 100 aktiewe lede gespog. Nie verrassend nie, het Renault se markaandeel in Bloemfontein voordeel geput uit die hoë profiel wat ons in die gemeenskap geniet het. Die plaaslike handelaar het ons goed ondersteun. Terwyl ek voorsitter van die klub was, het ek verder ’n goeie verhouding met Vincent Wright, Renault Afrika se skakelhoof, opgebou. Min het ek geweet dat hy drie jaar later, in 1973, die deur by Toyota SA vir my sou oopmaak.
Nadat ek my honneursgraad in bedryfsekonomie verwerf het, is ek die pos van junior dosent en navorser by die Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing (ISEN) aan die Universiteit van die Vrystaat aangebied. Ek het die pos aanvaar, aangesien ek my meestersgraad wou doen, en Kloppers se stof van my voete af geskud. By ISEN het ek by interessante projekte betrokke geraak, wat daarop gemik was om verdere ekonomiese agteruitgang van die Vrystaatse platteland te voorkom. Ek het ook hard aan my verhandeling gewerk. Ek wou altyd graag my passie vir motors in my loopbaan uitleef, en daarom het ek besluit om die lewensvatbaarheid van die kleinhandelmotorsektor in Bloemfontein as my tesisonderwerp te gebruik. Die kwantitatiewe navorsing wat ek moes doen, het my genoodsaak om die meeste van die groot motorhandelaars persoonlik te ontmoet, en eerstehands by hulle te leer. Hul terugvoer sou my in my toekomstige loopbaan in die motorbedryf goed te staan kom.
In daardie jare het ek ook by die motortydskrif CAR aangesluit as deeltydse motorsportkorrespondent vir die Vrystaat. Gewapen met my notaboek en kamera het ek naweke die verskillende baan- en tydrenne bygewoon en daarna geswoeg om kort artikels in my beste Engels te skryf. My woordeskat was maar redelik beperk, aangesien dat ek op die Afrikaanse platteland grootgeword het. Daardie jare het ek het maar vier Engelse woorde geken: “yes”, “no” en natuurlik “Ford’ en ‘Chev”!
Ek sal altyd dankbaar bly teenoor CAR, en Alan Ramsay in besonder, vir hierdie geleentheid. My vriendskap met Alan het oor die jare versterk, en is steeds een van my heel kosbaarste. Dit was veral ’n baie groot eer toe Alan my baie jare later, in 2007, gevra het om ’n toespraak – in Engels, nogal – by die viering van CAR se 50ste bestaansjaar te maak.
My trotsste dag ooit was 4 September 1971, my en Tillie se troudag. My profetiese woorde aan my ma drie jaar tevore nadat ek vir Tillie ontmoet het, het nou waar geword. Die emosie wat ek ervaar het toe Tillie aan haar pa se sy by die paadjie afgestap het, was amper oorweldigend. Tillie was en sal altyd my droomvrou bly – beginselvas, intelligent, bekwaam en beeldskoon. Oor die jare het my respek vir haar net gegroei. Sy is my ideale lewensmaat, wie se raad, hulp en ondersteuning my lewe vanuit elke oogpunt verryk het. Haar perfekte voorbeeld bly daagliks ’n bron van inspirasie, en die sleutelrol wat sy in ons gesin speel ’n bron van eindelose waardering. Net so was haar bydrae in my besigheidsloopbaan van onskatbare waarde. Sy was grootliks verantwoordelik vir die grootmaak van ons drie seuns, ’n taak waarvoor sy haar eie loopbaan opgeoffer het, en met uitnemendheid gehanteer het. In my hart is daar ’n groot monument wat ek tot haar eer opgerig het.
Ná die voltooiing van my MCom in Oktober 1972 het ek begin om in alle erns op moontlike loopbaangeleenthede in die motorbedryf te fokus. As gevolg van my betrokkenheid by CAR en die Renault Klub het ek noue kontak gehad met Vincent Wright, voorheen van Renault Afrika, wat in die tussentyd by Toyota SA as skakelhoof aangesluit het. Ek het ’n gepaste brief aan Vincent geskryf, waarin ek navraag gedoen het oor moontlike werksgeleenthede, met ’n kort uittreksel van my tesis ingesluit. Soortgelyke briewe is ook na beide die Volkswagen en Ford-hoofkantoor gestuur.
My eerste keuse was ongetwyfeld ’n loopbaan by Toyota Suid-Afrika (TSA). As ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner het ek sterk met die stigter van TSA, dr. Albert Wessels, geïdentifiseer. My pa het hom geken en met hoë agting van hom gepraat. Dr. Wessels was ’n keer of wat in die verlede by ons aan huis toe hy nog die eienaar van die klerevervaardiger Veka was. Hulle het destyds kleurbaadjies bemark toe my pa nog die hoof by die Hoërskool Bultfontein was.
Danksy Vincent wat vir my ’n weg by Colin Adcock, die besturende direkteur van Toyota Suid Afrika se bemarkingsmaatskappy, gebaan het, was daar positiewe reaksie. Vroeg in Januarie 1973 het ek ’n oproep ontvang van Ray Schulz, een van die senior bestuurders. Die uitkoms was ’n vergadering met Ray in Bloemfontein en ’n formele werksaanbod ’n week of twee later. My dankbaarheid en opgewondenheid het geen perke geken nie – ek was uiteindelik besig om my droom te verwesenlik.
Skielik is ons rustige lewe in Bloemfontein ontwrig. Die huis wat ons skaars ’n jaar gelede gekoop het, moes verkoop word, en ons moes ’n nuwe heenkome in Pretoria vind. Ons het vroeg een Vrydagoggend Pretoria toe gery, en teen vyfuur daardie selfde middag nog het ons ’n nuwe huis gekoop – in ’n straat met die onheilspellende naam Vampirestraat nogal! Ons het daardie aand na die Vrystaat teruggekeer as trotse nuwe huiseienaars, ongeag van die naam van die straat waarin ons ons begewe het. Gelukkig het ons wonderlike bure, Hennie en Kittie Swanepoel, gou enige negatiewe gevoelens wat ons oor hierdie vreemde straatnaam kon hê uit die weg geruim. Nadat ons ingetrek het, het ons tot ons verligting agtergekom dat al die strate in die buurt na militêre vliegtuie noem is – vandaar die “Vampire”.
Terug in Bloemfontein het die besef tot my deurgedring dat die skuif ons lewens onderstebo sou draai. Ek sou totsiens moes sê aan die veilige hawe van die akademiese lewe aan die universiteit. Tillie het in 1970 haar BSc-graad voltooi met wiskunde en sielkunde as hoofvakke, en het haar loopbaan by ’n siviele ingenieursfirma as ’n rekenaarprogrammeerder begin. Nou moes sy ’n werk waarvoor sy baie lief was, prysgee. Ons moes ook albei ons families in Bloemfontein agterlaat. Drie weke later was dit tyd om te trek, en ek was gereed vir my nuwe loopbaan. Ek en Tillie was albei opgewonde en vol afwagting oor die nuwe avontuur wat op ons gewag het.
Dit was daar in Vampirestraat waar ons twee oudste seuns, Brand en Jan-Louis, in 1974 en 1976 gebore is. Jaco, die jongste, is in 1979 gebore nadat ons Johannesburg toe getrek het, twee jaar vantevore. Die emosies wat ek met elk van my seuns se geboorte ervaar het, is onbeskryflik. Om my eie seun in my arms vas te hou het ’n ongelooflike gevoel van trots en verantwoordelikheid by my wakker gemaak. Skielik het my doel in die lewe drasties verander..
Die vreugde en voorreg om ’n pa vir my drie seuns te wees, elkeen op sy eie manier besonder spesiaal, sal ’n hele boek op sy eie kan vul; dit is nie waaroor hierdie boek gaan nie. Maar wat ek wel kan sê, is dat ouerskap en die liefde wat ek van my kinders, en nou ook van my kleinkinders, ontvang het, oneindig meer vir my beteken as enige belonings wat my loopbaan ooit kon bied.
Omdat my beroep as sakeman grootliks in die openbare oog was, het Tillie en ek ’n doelbewuste besluit geneem om ons gesinslewe privaat te hou. Ons wou ons kinders in ’n normale en onpretensieuse omgewing laat grootword, waar hulle gebalanseerde lewens kon lei. Ons het hulle aangemoedig om elk hul eie platform te vind om hulle drome na te volg, hetsy dit in sport, akademie of in hul loopbane was. Al drie het dit met oorgawe gedoen, en ek is ongelooflik trots op hulle.
Die res van hierdie boek sal dus in ooreenstemming met ons verbintenis tot die privaatheid van ons gesin wees, en uitsluitlik op my besigheidsloopbaan eerder as my persoonlike lewe fokus.