Читать книгу Oorblyfsel / Voice Over - Breyten Breytenbach - Страница 3
Nota
ОглавлениеMagmoed Darwiesj (Mahmoud Darwish, 1941-9 Augustus 2008) die Palestynse digter, was ’n vriend van my. Die tyding van sy dood tydens ’n opehart-operasie in ’n hospitaal in Houston, Amerika, het my op Gorée-eiland bereik. Enkele weke tevore was ons nog saam in Arles in die suide van Frankryk. Selfs helder oordag was die hotel se portaal skemerig. Met ’n glimlag om sy lippe het hy bespiegel oor sy kanse op oorlewing. Daardie aand, in ’n ou Romeinse opelugteater terwyl die son in ’n geel gloed ondergaan en allerlei voëls die opgekropte soetheid van ’n somerdag begin sing, het hy vir ’n laaste keer uit sy werke voorgelees. Die gedigte was deurtrek van ’n gesprek met die dood. Onmiddellik ná sy sterfte het ek hierdie reeks begin skryf as fragmente van ’n voortgesette gesprek met hom. In Wes-Afrika was dit die begin van die jaarlikse reënseisoen, die ‘petit hivernage’, wanneer die lug vol potblou wolke is. Dit was ook die aanvang van die nuwe maan se bloei tot volheid.
In die daaropvolgende weke sou ek noordwaarts reis – eers na Katalonië en daarna verder tot in Friesland waar ek uitgenooi was na ’n skrywersfees deur Tsjêbbe Hettinga, die blinde woordtowernaar. Die gedigte gee dit weer. Op pad was dit ’n verkwikking om in Magmoed se verse te kon beweeg. Vertaling, om oor te gaan van die een taal in ’n ander, is ook ’n reis. Die landskap verander, winde met die reuke van onbekende groei waai soos nuus oor die hoogland na laerliggende valleie, jou skaduwee verskiet, die lied bly ’n wisseltong tussen bekend en onbekend. George Steiner het oor vertaling gesê dat dit ’n intense, diepe en uitdagende aktiwiteit is, partykeer intiem en ontstellend, want die uiterste gevaar bly dat jy met jou hand die essensiële wese van die Ander mag aanraak. Ek beskou hierdie fragmente as lofbetuiging. Miskien ook ’n poging om die sluier te kan wegtrek van die bekende gelaat wat nou stil geword het.
MD was sy hele lewe lank baie produktief. Mens sou byna vir ewig met hom kon praat. Hierdie ‘collage’ raak aan getransformeerde ‘variasies’ van sy werk, soms geput uit afsonderlike verse en soms as benadering van ’n spesifieke gedig, met my eie stem dan daarin vervleg. Die beelde, in ’n mate selfs die ritme en die vormgewing, is syne. Ek ken nie Arabies nie en is toegewys op verwerkings in Engels en Frans. Ek het hom wel by verskeie geleenthede hoor voorlees in sy taal en was altyd getref deur die klanke en die bewegings. Die Engelse weergawes hier het terugwerkend gespruit uit my Afrikaanse pogings, met die bedoeling om ’n gesprek tussen die twee tale te bemiddel. Hulle is dus nie woordelikse ‘vertalings’ nie. Soms het ’n eggo of ’n assosiasie in die Engelse segging weer ’n ander moontlikheid in Afrikaans oopgemaak.
Die reis gaan verder en die gesprek duur voort om tussen die woorde na hom te soek.
Breyten Breytenbach
New York, Desember 2008