Читать книгу Ctrl Z my lewe - Cheréne Pienaar - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

André van der Veen is ’n metroman, kan Lucky sien. Daar is ’n hardheid aan sy gesig met die stoppelbaard, maar die sagte krullebol en grys aan sy slape balanseer dit uit. Sy haarband lyk eksoties en anderwêrelds. Sy toeknoophemp het swart en wit strepies, en hy het nie ’n boep soos die ooms by die Boeremark wat altyd geselsies met haar ma maak nie.

Sy sien niks van haarself in hom nie. Barcelona sit aan hom soos wat Red Door aan haar ma sit.

“Lucky … Ek hoop nie jy wag al lank nie?” Hy lyk nogal bekommerd.

“Dis oukei, ek gee nie om nie,” jok sy vinnig.

Sy bly versteen agter haar wieletjiestas staan. Hier staan hy voor haar. In lewende lywe.

“Hallo, Pa …”

Met die groet hou sy haar bors terug in die drukkie wat hy haar gee. Hy vat huiwerig aan haar elmboog, verduidelik iets oor ’n bus wat laat was.

Hy gee haar weer ’n drukkie. “Jis … Jy is hier!”

Hy neem haar tas, maar sy oë bly vasgenael op haar. Sy glimlag skaam en kyk af na haar skoenpunte. Steek selfbewus ’n sliert hare agter haar oor in. Hy lyk vir haar komieklik met haar metallic pers tas in sy hand.

“Dankie dat Pa my kom haal het.”

Die glimlag om haar mond laat haar stupid voel, maar die ekstase dat hy uiteindelik opgedaag het en die stad wat wag om ontdek te word, wil haar laat giggel soos ’n verliefde graadnegetjie.

“Is dit ál wat jy gebring het?”

Hy lag en skud sy kop toe hy die verbasing op haar gesig sien.

“A light traveller. Wonderlik.”

Sy oë bly op haar, asof hy nie kan ophou kyk nie.

“Nou maar kom ons gaan.” Hy beduie na die sambreel in sy hand. “Dit reën so ’n bietjie buite, maar ek het darem dié gebring. Vreemd dat ons in Maart reën kry.”

Buite sif die druppels liggies neer. Lucky asem diep in. Die reuk van nat teer en die klammigheid wat op haar arms kom lê, voel onwerklik. Vandag is die weirdste en wonderlikste dag van haar lewe.

“Dit het gevoel asof die vlug van Johannesburg af vir altyd aanhou,” hoor sy haarself sê.

“ ’n Mens se eerste vlug is altyd so. Mag jy eers teruggaan as ek ’n ou man met ’n kierie is!”

Sy glimlag gelukkig.

Hulle gaan staan onder ’n afdak. Die groot groen bord voor hulle sê Aerobus (A1) to Terminal (T1).

“Die bus kom elke vyf minute,” sê hy. “Ons behoort nie lank te wag nie.”

Sy moet plek maak vir drie ander toeriste.

“Die uitbreiding waar ek bly, is l’Eixample. Dis een van die mooiste areas in die stad. ’n Mens spreek dit uit Leish-shample … of dan The Eixample in Engels. Jy gaan ongelukkig op die bank moet slaap tot ek ’n ekstra bed kry, maar dis heel gemaklik, jy sal sien.”

Sy knik net en kyk weg, die mistigheid in. Alles is nou fine, dink sy en asem die vars, vogtige lug in. Alles is nou fine.

Sy selfoon gee ’n sein en hy reik na sy jeans se regtersak en haal dit uit. Die jongste iPhone, sien sy.

Sy wil vra vir die selfoon wat hy haar belowe het sodat sy almal kan laat weet sy is veilig, maar bly dan eerder stil. Sy hou hom onderlangs dop terwyl hy voorttik op sy foon.

Die moderne blou bus stop byna geruisloos voor hulle. Hy prop sy foon terug in sy broeksak. ’n Dubbeldeur skuif oop en hy wys vir haar sy kan maar inklim. Bewerig gee sy een tree, dan ’n tweede met die steil trappe op. Sy groet die blas busdrywer.

“Dues entrades, si us plau,” sê haar pa en druk ’n blou noot in sy hand.

Hulle wag saam vir die kleingeld en gaan sit in die middel van die bus. Sy skuif tot teen die venster met haar rugsak op haar skoot.

“Gee daai vir my,” sê haar pa vinnig.

Sy kyk hom vraend aan.

“Toe, toe, gee dit hier. So mooi soos wat hierdie stad is, so geniepsig is die pickpockets. Ek wil hê jy moet jou sak voor jou dra as ek nie by is nie, nie oor jou skouer nie. Dit gaan dalk nie so cool lyk nie, maar dit gaan nie lekker wees as hulle jou sak gryp nie.”

Sy oorhandig die sak en hy sit dit tussen sy voete neer.

Sy neem een van die handvatsels wat van ’n tou aan ’n gespe bo haar hang. Sy hou net mooi niks van dié nuus nie. Dit laat haar weerloos voel.

Soos ’n ruimtetuig beweeg die bus geruisloos vorentoe. Die lughawe lê gou agter hulle.

Uitgewaste tonele in alle kleure en vorms flits verby. Groteske gesigte geverf teen mure spog elk met ’n ander emosie. Die onbekende woorde laat haar kop draai. Wasgoed peul oor balkonrelings en verf tjip van mure af. Rommel lê teen draadheinings vasgewaai. Van die geboue se mure lyk asof dit enige oomblik kan inval. Teleurgesteld kyk sy eerder na die blou lug wat deur donker wolke omraam word.

“Graffiti is ’n belangrike kuns hier, sommige is rêrig besonders.” Haar pa beduie na een van die geboue. “Ek sal jou nog op die graffiti-toer neem. Jou ma sê jy’s lief vir kuns.”

“Ek is nogal, ja. Hanke, my vriendin, is ’n baie talentvolle kunstenaar.”

Dan onthou sy van die Aussie-meisie op die vliegtuig. “Oe, ken Pa vir Daalie, ek is mal oor hom!” boots sy Clarissa se dramatiese stem na.

“Wie?”

“Daalie, man. Die man wat die hart gemaak het en die horlosies laat smelt.”

“Ooo, jy meen Daliéé.”

“Maar dis mos wat ek gesê het?”

Hy glimlag tergend vir haar.

“Wanneer kan ons na die museum gaan?”

“Net wanneer jy wil, sê net die woord.”

In stilte kyk hulle albei weer na buite. Sy sien die tekeninge met nuwe oë en merk dat dit tog indrukwekkend is. Baie mooier as die vloekwoorde teen die mure in Bloemfontein se middestad.

Die reën het opgeklaar en hulle het die vervalle pondok-woonstelle agtergelaat. Reusagtige geboue toring die lug in, tot amper by die saamgepakte wolke wat stadig wegdryf en plek maak vir die lenteson.

Voor haar verskyn ’n kerk wat lyk of dit uit die musiekvideo van Evanescence kom. So dís nou die Sagrada Familia, dink Lucky. Nooit sou sy kon dink dat sy so naby dié gebou sou kom nie. Dit voel onwerklik. Die skoonheid daarvan tref haar in die maag. Ingewikkelde versierings krul om die beelde en lei jou oog na die hart van die gebou, waar steierwerk soos ’n maer mens se geraamte plek-plek uitsteek. Hanke sal hiervan hou!

’n Paar minute later kom die bus tot stilstand. Die bekende La Rambla strek voor hulle uit en verdwyn in ’n lang laning akkerbome. Lucky kan nie vinnig genoeg rondkyk nie, daar is te veel om in te neem.

“Pa kan maar die tas vir my gee,” sê sy toe hulle buite op die sypaadjie staan. “Dit het darem wieletjies aan.”

“Moenie nou worry oor diewe nie. Hulle sal nie kanse vat as ek naby is nie, glo my.”

“Klink of Pa al moes deurloop?”

“Ek vertel jou ’n ander dag … Kom ons gaan bêre gou eers jou goed in my woonstel.”

Hulle stap oor ’n plein. Duiwe maak ’n Mexican wave soos hulle skrik vir die geklater van die tas se wieletjies oor die klipplaveisel.

Vreemde woorde gly oor ’n digitale bord teen ’n gebou links van hulle. Dit flikker en nog vreemder sinne verskyn. ’n Stalletjie aan haar regterkant verkoop vegetariese disse en ’n volgende verkoop voëls in klein hokkies. Sy het hulle netnou al hoor kwetter.

Hulle draai links in ’n systraatjie. ’n Dun strook blou lug skyn tussen die geboue deur. Aan elke vierde gebou is daar steierwerk. ’n Groep mense drom saam om ’n sittende man wat ’n onbekende instrument speel.

Sy onthou skielik van die kamera in haar rugsak en buk om die sak neer te sit. Haar ma het die duur SX50 nog vinnig by die lughawe in haar hand gestop en gesê: “Maak nuwe herinneringe, Lucky.”

Sy haal die kamera uit, rits die sak toe en kyk op. Haar pa is weg. Sy staan stil en soek hom tussen die mense wat voor haar stap. Sug verlig toe sy sy krullebos raaksien.

Hy kyk in haar rigting en wag dat sy weer by hom aansluit. “Hierdie is die mooie l’Eixample … my buurt. Een van Barcelona se bekendste strate is net ’n klipgooi hiervandaan.”

Weerskante van Carrer de Provença is lanings akkerbome. Hier en daar stap voetgangers verby. Geboue met piepklein balkonne en lang, dun vensters strek na die hemel bo hulle. Dis prentjiemooi en elkeen lyk soos ’n troukoek, die broekielace-rame elkeen uniek met eindelose detail en afrondings. Dis soos rye en rye troukoeke in ’n vertoonvenster, dink Lucky. En Casa Milà wat haar pa nou vir haar wys, is ’n pavlova wat sy nie kan wag om te proe nie.

Vanaf ’n balkon regs bo hulle hou ’n vrou hulle dop. Met haar voorarms wat op die reling voor haar rus, trek sy langsaam aan ’n sigaret. Lucky verkyk haar aan die vrou se skoonheid, so anders as waaraan sy gewoond is. Donker oë by ’n soel vel. Met haar bos swart hare lyk die vrou soos ’n vry gees, iets wat Lucky nog nooit kon wees nie.

Sy lig haar kamera vir ’n foto. Die vrou se melankoliese gesigsuitdrukking verander nie. As sy bewus is van die kamera se geflits hier onder, traak dit haar nie.

“Dis so … anders hier,” sê Lucky en beduie om haar.

“Hoe bedoel jy?” Haar pa volg haar blik na die vreemdeling op die balkon.

“Ek meen, dis alles so mooi, maar so ru,” probeer sy verduidelik.

“Dit ís jou eerste keer oorsee, nè?”

Sy wip haar vir die vraag. Duh. Natuurlik is dit! Weet jy niks van my af nie?

Maar sy vra dit eerder nie, knik net en lig die kamera vir haar volgende foto: ’n Hoë sandkleurige gebou met ’n skelpienk handdoek oor die balkon.

“Jy het ’n goeie oog,” sê hy. “Kan ek probeer?”

Hy verstel iets aan die bokant van die kamera. Fokus, druk die knoppie en gee die kamera terug vir haar. Die prentjie op die skerm lyk soos ’n poskaart: die pienk handdoek is nou in die regterkantste hoek en nie reg in die middel soos op haar foto nie, terwyl die res van die foto uit die vaal gebou en die blou lug bestaan.

Hulle stap verby deli’s en koffiewinkels. Paartjies wat hande vashou, ’n vrou met ’n pug aan ’n leiband, mans in swart pakke om ’n ronde tafel met klein wit koppies voor hulle. Die taal wat hulle praat, klink vir Lucky vreemd en kras, die stemme luidrugtig.

“Verstaan Pa waaroor hulle praat?”

Hy knik. “Twee tale word hier gepraat, Spaans en Katalaans. Ek praat albei vlot, maar ek het ook maar my stadige dae.”

Die geur van varsgebakte croissants laat haar maag grom. Dan vang gedroogde wors agter die volgende ruit haar oog. Sy gril.

“Daai is jamón. Spaanse biltong. Dis vark en dis heerlik. Ons sal môre uitvind of jy daarvan hou,” terg haar pa.

“Ek twyfel,” sê sy sonder om vir hom te kyk.

“Ek dink jy sal verbaas wees. Die Spanjaarde is mal daaroor en dit het my stapelvoedsel geword, hoewel ek ou Van Zyl se biltong mis.”

Hulle stap ’n systraat binne.

“Uiteindelik hier,” sê hy. ’n Bos sleutels klingel in sy hand.

Sy probeer die aantal vlakke uitmaak, maar hou op tel by die tiende vloer. Sy trek haar oë op skrefies teen die helder lig.

“Ons moet vir jou ’n sonbril kry. Sal jou ook ouer laat lyk, minder van ’n teiken.”

Sy kyk af en voel die warm gloed op haar wange. ’n Teiken waarvoor? wonder sy, maar vra liewer nie. Hy hoef nie te weet dat sy nogal bang is nie.

“Bly Pa hiér?”

Hy lag. “Ja. Ek weet nie of jou verbasing ’n goeie of ’n slegte ding is nie.”

“Jissie … dis ontsaglik mooi,” is al wat sy uitkry.

Agter die loodglasdeur met sy dik houtraam en fyn detail kan sy net-net uitmaak wat binne aangaan. Die toneel binnekant is in skrille kontras met die majestueuse en flambojante mentgroen buitekant. Daar is nie veel van ’n ingangsportaal nie, net donkerte en ’n stel verwaarloosde trappe.

“Ek weet dis scary hier by die trappe, maar jy sal nou sien hoekom ek dié plek gekies het.” Hy sing speels: “Follow me and everything will be alright!” Sy stem weergalm in die leë ruimte.

Sy kan die liggroen teëltjies onder haar voete net-net uitmaak. Onder die trappe is ’n donker hoekie, maar sy kan nie sien wat daar aangaan of presies hoe groot dit is nie.

“Dit lyk soos die stel van ’n rillerfliek hier binne,” sê sy. En wil dadelik haar tong afbyt toe die woorde uit is.

“Ha! Daai is ’n nuwe een. My vriend Carlo sê dit hou die stalkers weg.”

Verlig asem sy uit. Tyd vir ’n meer intelligente vraag.

“Hoe oud is hierdie plek?”

“Hulle sê dit moes in die vroeë 1900’s gebou gewees het. Maar soos driekwart van hierdie mal stad is die gebou nog nie klaar nie.”

Sy druk haar handpalm teen die koue muur terwyl haar oë aan die donkerte gewoond raak. Hy trek ’n deur oop en ’n flou lig skyn binne ’n hysbak. Haar maag draai net soos toe die Boeing in Johannesburg opgestyg het, maar dié keer is dit meer van vrees en uitputting.

Sy glip onderdeur sy arm en wag terwyl die traliehek konsertina soos wat hy dit toetrek.

“Op watter vloer bly Pa?”

“Yo vivo en el viente piso.”

Sy kyk geïrriteerd na hom. Hy show nou net blerriewil af, dink sy.

“Op die twintigste.” Hy druk 2-0 op die nommerplaat langs die hysbak se deur. Die boksie waarin hulle staan, roggel en skud soos wat dit stadig die lug in styg.

Sy val teen die kant en gryp na die bronsreling wat lyk of dit eeue oud is.

“Nee, vrek, is dit veilig? Doen jy dit elke dag?”

“Ek woon al vir veertien jaar hier. Ek belowe jou dis veilig. Maar hierdie gebou het ’n interessante storie.”

Sy tande is ’n bietjie te wit onder die flikkerende base-lig. Sy oë skuil in die skadu’s van sy wenkbroue. ’n Ongemaklike stilte hang tussen hulle. Sy vee haar klam handpalms teen haar jas af. Wat praat pa’s en dogters tog met mekaar? Hare? Nuwe modes? Motors?

Hanke praat soos in nooit oor haar pa nie, so sy kon niks by haar vriendin hoor om haar voor te berei nie. Gideon se pa is nice, maar sy’t nog nooit meer as twee sinne op ’n slag met die oom gepraat nie.

“Jy kan jou sterre dank dat ek op die twintigste vloer bly en nie die veertigste nie. Hierdie gebou is aanvanklik ontwerp vir twintig vloere, toe raak die ontwikkelaars ooropgewonde en skiet dit die hoogte in. Nou het dit 47 vlakke. Maar raai wat? Niemand het daaraan gedink om die hysbakstelsel aan te pas nie. Dit gaan net tot by my woonstel, daarna moet jy die trappe vat.”

“No way!” sê sy geskok.

“No jokes.”

Die hysbak kom skielik tot stilstand. Sy vingers beweeg oor ’n paneel, maar sy kan nie uitmaak wat die kode is wat hy intik nie.

Die deur gaan oop en ’n veiligheidshek ook. Agter die staalrelings wag ’n prentjie wat haar asem wegslaan.

Spierwit moderne meubels staan kunstig gerangskik in ’n oopplanwoonstel. Daar is ’n enorme platskermTV teen die een muur en ’n oorgroot, bloedrooi kunswerk teen die oorkantste muur.

Sy haal stadig haar rugsak af en kyk om haar. Die kombuisgedeelte is aan die linkerkant en ’n gang lei na nog vertrekke. Die kombuistoonbank het marmerblaaie en langs die yskas is ’n rak vol resepteboeke. Alle toebehore is spierwit en pas by die ligte sementvloer. Dit lyk kompleet soos ’n Top Billing-huis.

“En? Wat dink jy? Dis my gat waarvan niemand weet nie.”

Hy draai na die groot venster wat van die vloer tot by die plafon strek en trek die silwer blinding oop. In een beweging onthul hy die hele stad.

Sy loop stadig nader. Voor haar lê ’n menigte geboue uitgestrek. Piepklein mense skarrel doer onder rond. Die stad se gedreun klink ver, maar kort-kort hoor sy ’n uitroep in die straat.

“Die Spanjaarde is maar ’n luidrugtige spul,” sê hy. “En jy sal nog sien, hulle gaan slaap nooit rêrig nie.”

Slaap, dis wat sy nodig het. Asof hy haar gedagtes kan lees, vra hy of sy nie ’n siësta wil vat nie.

“Nee … Ag, ek’s orraait, dankie.”

Sy twyfel of sy nou sal kan slaap, al bied iemand haar ’n koningsbed aan. Sy wil niks mis nie.

Sy gaan na die badkamer, en toe sy terugkom, wag hy vir haar by die voordeur met ’n dik trui om sy skouers. Hy lyk soos ’n miljoenêr op een van daai realiteitsprogramme, dink sy.

“Is jy gereed om die stad van alle stede te ontdek?”

Ja, sy is gereed. Meer as gereed.

Ctrl Z my lewe

Подняться наверх