Читать книгу Danda - Chris Barnard - Страница 5

1

Оглавление

Dié Dinsdagmiddag besluit hy finaal om maar pad te gee. Só gesê klink dit maklik. Maar as die nood nie so hoog was nie, sou hy enigiets in die wêreld gedoen het om nie dié onmoontlike tog aan te pak nie.

Die vlot is gereed, maar daar is nog baie ander dinge wat glad nie na sy sin is nie. Kos is maar een probleem. Sy oorspron­klike plan was om met verloop van tyd goed soos beskuit en blikkiesvleis bymekaar te maak en dit tussen die riete by die rivier weg te steek. En hy wou sakke bymekaar maak om daarmee vir hom ’n lekker groot kombers aanmekaar te werk. Hy wou oefen om met die vlot op die rivier reg te kom en terselfdertyd sommer vir Sindo aan die water gewoond te maak. Die arme Sindo is so bang vir die rivier dat hy elke keer aan die skree gaan as Danda met hom op die vlot klim.

En dan, as alles gereed was, wou hy wag vir ’n dag wanneer daar niemand by die huis is nie en dan die bottel met geld neem en laat spat.

Maar sy pa se brief het alles skielik verander.

Daar is net agt dae tyd oor om by die hawe te kom. Hoe lank neem dit jou met ’n vlot? As jy van dagbreek tot sononder vaar en jy sit nie in die riete vas nie, jy beland nie in die dryfhout of in ’n systroom nie – hoeveel kilometer vorder jy?

As daar maar iemand was wat hom kon help as hy moeg word. Die drie diere en die kraai sal eerder ’n oorlas wees as iets anders. Veral as Sindo heeltyd so bang is …

Danda druk sy pa se brief weer terug in die koevert. By die deur luister hy of die huis stil is, glip in die kort gang af en by tant Maria se kamer in. Hy bêre die brief onder haar kopkussing waar hy dit gekry het, luister weer, en klim deur die venster uit werf toe.

Vlooi blaf in die agterplaas. Toe hy na die hond roep, kom Kiki soos gewoonlik aangevlieg. Die kraai kom sit op sy skouer en skop ’n lawaai op. “Waar is Ratel en Sindo?” vra Danda vir die kraai. Maar toe kom die nagapie en die mank rateltjie om die hoek aan, en dadelik is daar ’n stryery tussen Sindo en die kraai oor wie op Danda se skouer gaan sit. Daar is plek vir albei, maar omdat die twee jaloers is op mekaar, gee dit altyd ’n argument af. Dié keer wen Kiki vir ’n wonder die geskil en die nagaap moet tevrede wees om aan Danda se lyfband te hang.

Tant Maria wil hom nie toelaat om sy diere die huis in te neem nie, en hulle weet dit alte goed. Maar sodra hy op die werf uitkom, is hulle by.

By die tuinhekkie staan Danda ’n lang ruk en dink. Hy sien Ou-Faans met die stofpad afgestryk kom van die dorp af. “Is jou tante by die huis?” vra Ou-Faans van ver af.

“Sy werk in die winkel vanmiddag, oom Ou-Faans,” sê Danda.

Die oubaas gaan nie staan nie, skud net sy kop met die ver­bystap. “Ek verstaan hulle ook nie,” sê hy. “Hoe ouer hulle word, hoe harder werk hulle.”

Terwyl Danda in die warm pad afstap rivier toe, dink hy oor wat Ou-Faans gesê het. Dis waar dat die oom en tante hard werk vir hulle jare. Maar hy weet hoekom dit so is.

Hy hoor hulle soms in die eetkamer praat wanneer hulle dink hy slaap. Oom Peet sit altyd en kla dat hulle nie eendag ’n pensioen sal hê nie. Daarom moet hulle geld spaar solank hulle nog kan werk.

Dis Desember en die son brand soos ’n vuur in die lug. Vlooi loop in Danda se skaduwee, maar só naby hom dat hy die hond kort-kort amper raak trap. Net Ratel draf hinkepink vooruit, maar kyk elke keer om of sy baas nog kom. Hulle ken al die pad, want Danda is elke middag by die rivier om aan die vlot te werk. Toe hulle by Ou-Faans se huisie verbygaan, vlieg Kiki vooruit in die bome in en Sindo neem tevrede die kraai se plek op Danda se skouer in.

Dié middag lyk die rivier vir hom anders. Hy was nog altyd lief vir die wye strook water; dit was nog altyd vir hom die pad na sy pa toe, die pad see toe. Maar dié middag is die rivier eerder ’n toets wat hy moet deurstaan. En hy weet; al die pro­bleme waarmee hy al in sy lewe te make gehad het, was niks teen hierdie een nie.

Maar daar is geen ander keuse nie.

Die bamboes waarvan hy die vlot gemaak het, groei langs die rivier. Hy het dit maande tevore met Ou-Faans se stomp treksaag gaan afknaag en in die regte lengtes gesaag – iewers in Julie al. En toe die pale droog was, het hy by Ou-Faans ’n rol tou gebedel en dit met pik gesmeer en die pale aanmekaar gebind. Toe het hy ’n groot bakhoutboom gaan soek, ’n dik tak afgesaag en met ’n panga en ’n jagmes vir hom ’n soort spaan gekap.

Die hout was lig en sy spaan het nie sleg gedeug nie. Hy het wel aan die begin ’n bietjie gesukkel om die vlot gestuur te kry, maar dit was nie die spaan of die vlot se skuld nie.

“Onthou net, Danda,” het Ou-Faans gesê die eerste dag toe hy na die roeiery kom kyk het, “ ’n vlot is soos ’n donkie – al wanner hy kort draai is wanneer hy in die rondte draai en dis ook nie draai nie. As jy vir ’n ding wil padgee, moet jy al lank voor die tyd begin rem.” En dit was ’n goeie les. Daarna het hy beter gevaar.

Danda loop deur die vlak water tussen die riete in en sleep die vlot oewer toe. Die spaan is met ’n stuk tou aan die vlot vasgemaak. Hy knoop dit los, sit dit eenkant in die son neer, en begin die vlot omkeer sodat hy die nat kant bo kan kry. Maar dis nie maklik nie. Die ding is groot – seker maklik twee meter by twee. Maar die skuinste van die wal help hom. En toe die gevaarte uiteindelik onderstebo lê, sleep hy dit tot waar dit vol in die son is. Hy begin die bamboese met fyn sand droogvryf. Voordat die son onder is, moet die vlot droog wees sodat hy dit vir oulaas weer met olie kan smeer.

Ratel en Kiki is iewers tussen die riete aan die werskaf, terwyl Vlooi in die vlak water staan en hap na skarrelende paddavissies. Maar die nagaap is soos gewoonlik al oor en om Danda, kastig aan die help maar meer in die pad as iets anders.

“Sie jy nou eenkant toe, man. Jy pla my!”

Maar Sindo raas net so hard terug. Stilbly is hoeka nie een van sy karaktertrekke nie. Dis ook waar hy sy naam vandaan gekry het. Aan die begin het almal hom Msindo genoem, wat “geraas” beteken, maar met verloop van tyd het Msindo sommer net Sindo geword.

Toe die vlot skoongevryf is, gaan haal Danda twee seilsakke tussen die palmiet uit en sprei dit ook in die son oop. In die twee sakke het hy altyd sy padkos gepak as hy en die diere soms Saterdae die veld ingaan. En tot ’n rukkie tevore was daar altyd een of twee blikkies maalvleis in die sakke, net vir geval van nood, soos hy op ’n keer vir Vlooi verduidelik het. Maar die laaste blikkie is op ’n gewone Maandagmiddag tussen die biesies verorber toe Danda en Vlooi en die kraai se eetlus groter was as hulle verantwoordelikheidsin.

“Ons sal iets aan die saak moet doen,” sê Danda vir niemand in besonder nie. Sindo kom sit voor hom in die gras en kyk hom met groot bekommerde oë reguit in die gesig, asof hy die erns van die saak besef, maar Danda terselfdertyd aan iets wil herinner; hy het nie saamgeëet aan daardie laaste blikkie maalvleis nie.

“Ons gaan bars,” sê Danda vir die nagaap. “Sonder kos, son­der komberse.” Hy kyk weer oor die rivier uit. “ Al waarvan ons genoeg gaan hê, is water.”

Vlooi dink Danda praat met hom en kom verleë die water uit. As Sindo skoorvoetend na die hond toe aankom, skud Vlooi sy nat lyf dat die water spat. Sindo gee protesterend pad, swaai teen Danda se lyf op, slaan sy arms om Danda se nek en gluur af na waar die hond in die gras rol.

“Ou-Faans sal moet help,” sê Danda. “Anders weet ek nie.”

Sindo beaam besorg, maar die hond soek vlooie op sy nat lies­te.

Oom Ou-Faans was nog maar altyd Danda se vertroueling. Duik daar ’n probleem op, kan hy maar weet Ou-Faans sal die hele storie sit en uitluister, dan gaan koffie maak, en na ’n paar minute uit die kombuis terugkom met twee bekers, vier stukke beskuit – en ’n oplossing. Ou-Faans was nooit getroud nie, het nooit kinders van sy eie gehad nie, en vir Danda is hy amper ’n soort pa.

Baie nagte as tante Maria-hulle gedink het Danda is in die bed, was hy en Ou-Faans in die dorp besig met die een of ander kattekwaad. En omdat Ou-Faans so anders was as alle ander grootmense, het Danda hom nie net as ’n goeie maat nie maar ook as sy beste vertroueling aanvaar.

Toe Danda die voetpad vat terug dorp toe, neem dit die bedrywige Kiki en Ratel ’n hele tydjie voordat hulle besef hy is nie meer met hulle nie. Die kraai is die eerste wat tussen die riete uitfladder. Hy het al vir Sindo van Danda se skouer afge­werskaf, toe kom Ratel eers skeef-skeef en uitasem by hulle aan.

Oom Ou-Faans is besig om sy slaaivoortjies nat te lei toe Danda en sy diere by die hek inkom.

“Sleep daardie sandsak bietjie een voor laer,” sê hy.

Danda maak so.

“Hoe lyk jy weer of jy raas gekry het?”

“Nee, Oom,” sê Danda.

“Maar jy’t moeilikheid. Stry.”

Danda tel ’n kluit op en gooi dit in die huilboerboom in. ’n Paar spreeus protesteer heftig en fladder uit die takke weg, oor die leivoor, oor die huis se dak.

“Wag,” sê Ou-Faans. “Ek maak net die slaai klaar.”

Die grond is droog en sanderig en die water vorder teen ’n slakkepas.

“Ons kan maar sommer praat, Oom,” sê Danda na ’n rukkie. “Ons hoef nie te wag nie.”

“Dit lyk my die mannetjie is haastig.”

“Ek wil môre maar na my pa toe,” blaker Danda dit uit.

Ou-Faans antwoord nie dadelik nie. Hy weet van die vlot. En hy weet van Danda se plan om eendag se eendag die rivier te vat see toe. Goed het hy dit nog nooit gepraat nie, maar teengegaan het hy dit ook nie – net geglimlag en sy kop geskud as Danda dit noem.

“Jy hou maar aan met die storie,” sê Ou-Faans oplaas.

“My pa is in die gemors, Oom.”

“Hoe in die gemors?”

“Ek het vanmôre ’n brief gesien wat hy vir tante Maria-hulle geskryf het. Hulle wil sy skip by hom wegvat, want hy kry die ding nie klaar betaal nie.”

Ou-Faans trek ’n jong knapsekêrel tussen die los sandkluite uit, skud die wortels skoon en slinger die onkruid eenkant toe weg. “Hoeveel skuld hy nog?”

“Twee duisend rand, Oom.”

“Hm.” Ou-Faans help die watertjie met sy graaf. “En wat gaan dit hom nou help as jy daar opdaag?”

“Ek gaan daardie bottel se geld vir hom vat.”

Ou-Faans weet van die geld wat tante Maria in die bottel bêre. Hy weet ook dis streng gesproke Danda se geld. Daar is niks wat Ou-Faans nie weet nie.

“Hoeveel is daar deesdae in die bottel?”

“Ek het weer getel vanmôre, oom. Daar’s twaalf honderd en tagtig rand.”

“Twaalf honderd en tagtig is nog nie twee duisend nie,” sê Ou-Faans, haal sy pyp uit, soek na sy twaksak, voel na sy vuur­houtjies. “Dit sal darem help, Oom. Hy sal die res dalk kan leen.”

“Hm.”

Ou-Faans sê nie gou weer iets nie. Hy stop sy pyp, steek dit op, en onder die blou rokie wat daarna pal oor sy kop drywe, lei hy die laaste slaairytjies nat. Toe stryk hy op grootvoor toe, maak die leivoor toe en steek sy graaf in die grond vas. Danda weet: hulle gaan in die rietlapa sit en praat. Dis waar hulle altyd hulle praatwerk doen. Omdat Ou-Faans alleen bly, is hy selde in die huis. Selfs sy kos maak hy meestal oor die oop vuur in die lapa. Ou gewoontes sterf nie maklik af nie, en in die dae toe hy nog voltyds jagter was, was die veld sy tuiste, die sterre sy enigste dak, en die hardekoolvuur sy haard.

Die huilboer gooi sy skaduwee oor driekwart van die lapa, en in die koelte kry Ou-Faans en Danda oplaas hulle sit.

“Jy weet nie wat jy wil loop aanvang nie, ” sê Ou-Faans.

“Dis tog my pa. Hoe kan ek hier rondsit as ek weet hy’s in die moeilikheid?”

Sindo kom by die rietskerm ingebars, skreeuend, met ratel kort op sy hakke. Dis weer ’n bakleiery van die eerste water. Sindo wil by Danda wegkruip, maar hy gooi hom van sy skouer af, en die nagaap raap homself teen die rietmuur op en verdwyn in die huilboer se digte takke. Ratel betrag die situasie ’n oom­blik en verdwyn dan suutjies om die hoek. Waar Vlooi en Kiki is weet nugter. Op Ou-Faans se werf is hulle net so tuis soos op hulle eie.

“Rivier langs is dit tweehonderd kilometer see toe. Omtrent tien dae met ’n vlot soos joune.”

“En te voet?”

“Korter. Vyf dae. Dit wil sê as jy kortpad kies. En dis te gevaarlik. Dis slangtyd. En dis ruig. Pad langs … sewe dae, sou ek sê.”

Ratel is ook in die boom. Danda kan hom en die nagaap tussen die takke hoor lawaai. Sindo klink nie baie gelukkig nie.

“Daar’s nog ’n ander plan ook,” sê Ou-Faans. “Jy kan die bus vat Rooikoppies toe en die trein haal.”

“Dit gaan geld kos, Oom. En my pa het elke sent nodig. Buiten­dien: as ek die bus haal, gaan Tante-hulle dit hoor.”

“Hulle gaan jou voorkeer voor jy op Rooikoppies is.” Ou-Faans knik. “Maar ek sê jou; die rivier is ’n blikskater. Dit kan reën. Jy weet hoe kom hy af as dit reën.”

Danda bly stil. Hy weet van al die dinge. Hy het al dikwels snags daaraan lê en dink. Die rivier het nog krokodille ook. En seekoeie.

En dié tyd van die jaar wemel die riete van rinkhalse.

Maar as hulle jou pa se skip by hom wil wegvat, en jou pa is ’n visser op see … Buitendien, toe sy pa vyftien jaar oud was soos hy, het hy meer gevare getrotseer en veel groter uitda­gings aanvaar.

“En wat van jou skool?” vra Ou-Faans uit die bloute.

“Ons het nog drie weke vakansie oor.”

“Hoe kom jy terug?”

“Ek kom nie terug nie, Oom.”

Dié keer sê Ou-Faans nie soos altyd sommer net kortaf “Hm” nie; hy bly stil.

“Tante-hulle sal my nie terugvat nie. Nie as hulle sien die bottel se geld is weg nie.”

“Dis mos jou geld.”

Ou-Faans sit hout op die vuur, maak die ketel vol water en sit dit oor die kole. Sommer met die kaal hand vat hy ’n kooltjie en druk dit op sy pyp se koue bol – suig tot sy wange hol is en die rook om sy grys kop krul. “Ek weet darem nie,” sê hy.

Maar Danda weet al: Ou-Faans het kop gegee, hoewel hy dit nie gou sal erken nie. Enige ander grootmens sou hom afgeraai het. Erger nog: sou die storie by Tante gaan uitlap het. Maar nie Ou-Faans nie. Hy is anders. Ou-Faans weet: hy wat Danda is, is nie ’n papbroek nie, hy ken ontberings, en hy ken die veld. Het Ou-Faans hom dan nie self al die dinge geleer nie? Hoe jy jou teen slangbyt dokter, hoe jy ’n seekoei se kop lees, waar die krokodille hou, watter blaar jy trek teen sonbrand, watter soort veldvrugte jy mag eet, hoe jy die weer voorspel, hoe jy ’n vlot beheer …

En die kroon op alles: Ou-Faans is self nie te danig met Tante en oom Peet nie. Hy’t al dikwels met hulle vasgesit oor Danda. Meer as een keer, as hulle dink Danda slaap, het hy na die stryery lê en luister. Die laaste keer dat hulle gestry het, het hy gedink Ou-Faans gaan vir oom Peet bydam. Ou-Faans het gesê tante gee niks vir Danda om nie; toe raak oom Peet bitsig. Maar in die rietskerm is daar nooit ’n woord oor dié nagtelike argumente gerep nie. Eenkeer toe Danda versigtig daaroor wou begin praat, het Ou-Faans begin koffie maak en oor sy groentetuin gesels.

“As jy nou gaan,” sê ou-Faans, “dan gaan die diere seker saam.”

“Ja, Oom.”

“En wat eet julle?”

Danda takseer vir Ou-Faans ’n oomblik lank met sy oë. “Ek het gedink … miskien kan Oom ons dalk uithelp met ’n paar blikkies vleis of so.”

“En wat nog?”

“Nee, dis seker al. Miskien ’n streepsak of twee vir die nagte.”

Die ketel begin sing.

“En as jy nou weg is, met wie gesels ’n man dan smiddae en so?”

Danda huiwer ’n hele ruk. Dan waag hy dit. “Hoekom kom oom Ou-Faans nie maar saam nie?”

“En wat dink jy word van my slaai en goed?”

“’n Mens kan lekker groentetuin maak by die see.”

“En my rumatiek?”

“Ons trek blare.”

Ou-Faans skud sy kop en begin weer met sy verslete pyp werskaf. “Maak vir ons ’n koffietjie,” sê hy. “Dan werk ons die ding uit.”

Hulle sit ’n uur lank en beplan, en die uur vlieg. Om na Ou-Faans te luister terwyl sy kop werk, is ’n interessante storie. Gewoonlik is hy ietwat aan die stil kant, maar as hy kattekwaad uitdink, praat hy aanmekaar. En dié ding van Danda is vir hom amper nes kattekwaad. Dis net ’n bietjie gevaarliker en ’n bie­t­jie belangriker as wat kattekwaad kan wees. En kry Danda dié ding reg, sal hy nie sommer maklik weer hoef terug te staan vir ’n probleem nie.

“Ek het hier twee olieseile,” sê Ou-Faans. “Jy kan hulle kry. Die goed is beter as sakke. Hulle is waterdig. En blikkieskos het ek heelwat. Vleis. Groente. Bietjie ingelegde perskes en pere ook – vir Sindo en so.”

“Dit sal gaaf wees, Oom.”

“Maar met die geld sal jy moet versigtig wees. Jy kan dit nie sommer so in jou sak hou nie. Netnou foeter jy van die vlot af en dan is die note daarmee heen.”

“Dan hou ons dit maar in die bottel.”

“Ja. Maar ons sal moet sorg dat die bottel nie lek nie. Mis­kien ’n bietjie pik om die deksel smeer. Dit sal help.”

“Maar waar bêre ons die bottel, oom Ou-Faans?”

“Dis wat ek nou sit en wonder.”

“Miskien onderaan die vlot.”

Ou-Faans skud sy kop. “Dit kan lol. Netnou skuur jy oor ’n klip, dan is die bottel aan skerwe. Nee, jy sal dit in een van die seile moet toedraai. Dan bind jy die seil bo-op die vlot vas. Of so iets.”

Die middag toe die son water trek, dra Danda sy eerste vrag rivier toe. Ou-Faans is nêrens te sien nie.

“Ek weet niks van die ding af nie,” het hy vooraf gesê. “As hulle my saam met jou by die rivier sien, sit hulle netnou twee en twee bymekaar.”

Danda dra alleen. Die diere is ’n oorlas, want Sindo probeer heeltyd saam met die vrag op Danda se skouer ry, en as hý die aftog blaas, is Kiki weer by. Hulle besef waarskynlik daar is iets vreemds aan die gang, want hulle skop so ’n lawaai op dat Danda vrees die hele dorp is netnou by.

Die eerste vrag is die twee olieseile en oom Ou-Faans se enigste paar waterstewels. Hy steek die goed tussen die biesies weg. Met die tweede vrag bring hy agt blikkies maalvleis, agt blikkies perskes en pere en ’n sakkie beskuit. Die laaste vrag bestaan uit ’n blikkie kondensmelk, ’n blikkie koffie, ’n ketel, ’n beker, ’n bietjie sout en suiker, ’n pak vuurhoutjies toegebind in ’n plastieksak, en ’n brood.

Ou-Faans wou hom eers meer kos saamgee, maar hy het teengestribbel. “Die vlot is mos maar klein, Oom, en met die diere en alles gaan daar nie baie plek oor wees nie. Buitendien: ek het net sewe dae tyd; as ek laat kom, is alles verniet. Nou dink ek só: hoe minder kos ek saamvat, hoe haastiger sal ek wees om daar te kom.”

“Ja, maar ’n honger maag bring jou ook nêrens nie. Jy moet onthou – julle is vyf monde. En Ratel vreet of hy betaal word.”

“Hy moet maar vis vreet. En veldvrugte en so.”

Daarby het dit gebly. Ou-Faans het nie te veel geredekawel nie; miskien ook omdat hy hoeka nooit aan pieperigheid geglo het nie. Hy het self dikwels gesê: “Jy moet onthou, Danda, ’n jagter moet honger wees voordat hy raak skiet. ’n Oorvol maag maak jou skeel.”

Dis al sterk skemer toe Danda die bottel olie uit die wolwe­doring se hol stam gaan haal en die vlot en spaan vir oulaas insmeer. Sindo wil soos gewoonlik weer help, maar hy is vies vir die gladde gemors wat uit die bierbottel kom en betrag sy handjies met wydgerekte oë voordat hy dit aan Vlooi gaan afsmeer.

Danda maak eers goed seker sy proviand en ander gereedskap is ordentlik weggesteek, toe bind hy weer die spaan aan die vlot vas en sleep die vlot tussen die riete in tot waar niemand dit kan sien nie.

Op pad terug huis toe deur die donker is die diere meer bedaard. Hulle lyk teleurgestel, asof hulle ’n avontuur belowe is en dit nie gekry het nie. Net die nagaap is gelukkig, want hy het nog nooit van die water gehou nie en raak altyd erg omgekrap as Danda met die vlot begin peuter.

Die vroeë sekelmaan hang al tussen die haak-en-steek toe Danda by die agterdeur ingaan. Tante Maria en oom Peet sit aan tafel; oom Peet soos altyd in die somer net in sy blinkgestrykte broek en ’n frokkie. Sy kruisbande hang weerskante van sy stoel af.

“Jy kom nie met daardie aap hier in nie,” sê Tante, en Danda draai om, gaan weer uit. Hy het vergeet Sindo sit op sy skouer. Hy bêre die nagaap in sy kartondoos, streel vir oulaas oor Vlooi se rug waar dié teen die stoepmuurtjie aangeleun lê, en gaan weer in.

“Was jou hande,” sê oom Peet.

Danda gooi waswater in die skottel en was sy hande en gesig. Toe gaan sit hy. Sy bord boontjiesop staan reeds ingeskep, en langs sy bord lê twee snye brood, elkeen met ’n stukkie botter op wat van die hitte al begin smelt het. Hy eet sonder om iets te sê. En niemand vra hom uit nie. Wanneer hy in sy spoor trap, pla Tante-hulle hom nooit.

Solank hy soggens sy eie bed opmaak, sy vuil klere getrou in die wasgoedmandjie gooi, nie sy diere in die huis toelaat nie, die werf gereeld vee, saans die asblik leegmaak, nooit vergeet om die hoenders kos te gee nie, en Saterdae die vloere vryf, is hulle tevrede. Net oor kos is hulle partykeer moeilik. Hy kry sy porsie en daarby bly dit. Tante het hom twee keer in die spens betrap en daarna nooit weer nie. Want sy het hom albei kere die aand sonder kos bed toe gestuur, en dit was groter straf as pak. Die ergste van alles was dat hy nie eens vir homself die kos wou gaan vaslê het nie. Dit was vir Vlooi, die tyd toe hy hondesiekte gehad het. Toe kry Vlooi net sy gewone handjie maalvleis, en Danda niks.

Oom Peet gaan skep vir hom ’n tweede bord sop in. Gelukkig is Danda nie dol oor boontjiesop nie – gevolglik is hy heeltemal tevrede met sy porsie.

Hy hou hulle onderlangs dop. Tante met haar grys bolla en haar dik arms. Sy lyk altyd so tevrede met haarself. Oom Peet lyk weer altyd verveeld en moeg. Na elke tweede, derde lepel sop skep hy sy een kruisband met ’n krom duim van onder af terug oor sy skouer, maar dit gly weer af.

Môre vroeg as hulle opstaan, dink Danda, sal hy en Kiki en Vlooi en Sindo en Ratel en die bottel geld al lankal om die rivier se tweede draai wees. Hulle sal hom nie mis voor môre aand as Tante sien hy daag nie vir ete op nie. En teen daardie tyd is hy baie ver hiervandaan.

“Het Tante-hulle nog nie weer van my pa iets gehoor nie?” vra Danda toe almal klaar geëet het. Hy vra maar altyd vir Tante, want oom Peet hou nooit daarvan om vrae te beantwoord nie.

“Daar was gister ’n brief,” sê tante Maria. Maar sy borduur nie verder nie.

“Gaan dit darem nog goed met hom?” vra Danda na ’n rukkie.

Oom Peet snuif en laat sy duime om mekaar draai, en Tante staan op om die skottelgoed te gaan inpak. ”Hy sê nie veel nie. Hy sê net hy sukkel elke maand om jou losies betaal te kry.”

Dis nie heeltemal waar nie, dink Danda. In die brief sê hy net hy sukkel om sy drie werkers elke week betaal te kry en dit pla hom dat hy nie vir Danda meer sakgeld kan bekos­tig nie.

“En wat sê hy van die skip?”

Tante gooi warm water op die vuil borde en oom Peet snuif weer ’n slag.

Toe sê Tante: “Dis laat. En jy moet nog jou diere kos gee.”

Danda staan op en gaan uit buitetoe, en uit die donker, van nêrens af, swiep Kiki op sy skouer neer, fladder ’n slag en kry sy sit. Danda haal drie kosbakkies uit die houtkas uit, gaan was hulle in die voor en gee vir elkeen sy porsie.

Hy staan ’n rukkie en kyk hoe die diere eet. Toe begin hy Kiki uit sy hand uit voer. Die kraai hou nie daarvan om uit ’n bak te eet nie en weier om sy bek aan die kos te sit as Danda hom nie met die vingers voer nie.

Kiki is gulsig en sy handvol maalvleis hou nie lank nie.

Danda wou eintlik nog voor sononder vir die kraai sprinkane gevang het, maar met al die ander bedrywighede het dit vergete gebly.

Hy dwaal op die werf uit. Die maanlig lê blou oor die kweek en die bome, en onder naby die rivier roep ’n gevlekte oor-uil – koekoek-koekoerrr … koekoek-koekoerrr …

Die werfkweek is lou van die dag se hitte. Danda gaan sit, leun agteroor op sy rug. Kiki fladder van sy skouer af en gaan sit op sy bors, pik-pik in sy kuif. Na ’n rukkie kom Vlooi by en dis nie lank nie of Sindo kom sit ook op die kweek en vroetel. Danda kyk om huis se kant toe. Die kombuis is donker en in Tante-hulle se kamer sien hy ’n flou lig brand. Hulle is op pad bed toe.

Die dorp is stil.

Hy lê na die dowwe sterre en kyk, luister na die stilte van die bos, na Sindo wat saggies kreun. Hy wonder of Ou-Faans al slaap. Hy voel skielik asof hy die enigste mens in die wye wêreld is. Toe rol hy op sy sy en Vlooi en Ratel en Sindo en die kraai is naby hom, en hy voel die warm kweek onder sy lyf en dis asof die grond hom saggies vashou en hom troos.

Toe hy oplaas weer orent sit en opstaan, hang die maan al hoog en klein. En hy sê vir elkeen van sy vier maats nag en gaan saggies die donker huis in om sy laaste voorbereidings te tref.

Danda

Подняться наверх