Читать книгу Danda - Chris Barnard - Страница 7

2

Оглавление

Die son is nog nie op nie, maar oorkant die rivier lê die lig grys agter die lae doringbome. Daar hang ’n bankie mis op die water en die stroom laat die riete saggies roer. Danda sleep die vlot tot in ’n oop kol vlak water tussen die biesies en palmiet en begin sy pakgoed op die vlot laai: die twee olieseile, sy jagmes in die mooi pofaddervelsakkie, die blik­kieskos, die rugsak met sy vishoeke, sy skoolrapporte, die vuur­houtjies en koffie en brood, die bottel met geld en die sakkie beskuit. Toe trek hy Ou-Faans se waterstewels aan en tel Ratel, die nagaap en die brak op die vlot. Hy maak die spaan los en begin die vlot aanstoot deur die vlak water – en toe hy opkyk voetpad toe, vir oulaas, toe staan Ou-Faans op die sandbank voor hom.

Danda kom orent, glimlag vir Ou-Faans. En Ou-Faans doen niks, sê niks, staan net donker na hom en kyk.

“Ek is op pad,” sê Danda.

Ou-Faans knik.

“Ek was bang Ou-Faans slaap nog.”

Ou-Faans sê niks.

Danda weet nie wat om te doen of te sê nie.

Toe kom Ou-Faans sommer met skoene en al die water in. Maar hy trap asof hy nie die water voel nie, en kom tot by Danda, en sit sy hand op Danda se kop. “Ek foeter vir jou as jy iets oorkom,” sê hy. “Waar’s jou hoed?”

“In my rugsak.”

“Nou weg is jy, waarvoor wag jy!”

En toe, sonder om te groet, buk Danda onder Ou-Faans se hand uit en stoot die vlot stroom in. “Sê groete vir jou pa,” sê Ou-Faans agterna. “En ek weet glad g’n waar jy is nie, verstaan!”

Danda klouter op die vlot, voel hoe die stroom hom vat. Iewers hoor hy Kiki lawaai en hy weet die kraai is nog nie op die vlot nie. Sindo bespring hom en klou bang aan sy hemp vas, en Ratel en Vlooi piep en tjank en val kort-kort amper in die water van pure verbouereerdheid, maar Danda is so besig om die vlot van die riete af weg te hou dat hy min tyd het om hom aan die diere te steur. Die stroom neem hom vinnig in en hy stuur verder middel toe, na die hart van die stroom toe, totdat die rivier hom heeltemal vat, en saamneem, oos, onder die opkomende son in.

Toe hy uiteindelik omkyk, oewer toe, staan Ou-Faans klein tussen die palmiet. En Danda waai vir hom, waai – maar Ou-Faans waai nie terug nie, staan net en kyk, hande langs sy sye. Toe kom Kiki skellend oor die water aan, die ene verwilderde vlerke, en land met ’n skreeu op Danda se skouer, en klou asof sy lewe daarvan afhang.

Daar lê ’n paar eilandjies voor en Danda moet dadelik sy aandag daarby bepaal. Hy besluit om regs om die middelste eiland te vaar. Maar dis harder werk as wat hy gedink het. Voorheen het hy net in die stiller water geoefen, maar hier in die hoofstroom reageer die vlot baie traag op sy smal spaantjie. Net toe hy begin dink hy gaan tussen die eiland se riete beland, sleep die stroom hom vanself na regs. ’n Bondel veereiers skrik uit hulle voordagslaap op van Kiki se lawaai en spaander oor Danda se kop die lug in. Dit laat Sindo ’n keel opsit. Vlooi hou nie van die opgewondenheid nie en hy probeer teen Danda se bene regop staan. Danda probeer hom wegklap, maar struikel en val – en die volgende oomblik is Vlooi in die water.

“Vlooi!” skree Danda hulpeloos. “Vlooi!”

Die hond probeer swem. Maar nie agter die vlot aan nie. Kop regop en voorpootjies flink aan die werskaf, begin hy sy pad oopwerk eiland toe. Die stroom bring hom stadig saam, maar hy bly al verder agter.

“Hiernatoe, Vlooi! Hiernatoe!” Maar die hond swem eiland toe.

Toe weet Danda hy sal vinnig moet plan maak. Sommer baie vinnig. Hy probeer self eiland se kant toe stuur, maar die stroom is sterk en die eiland is al amper verby. Toe sien hy daar is nog eilande voor. En naby hom, amper reg in sy pad, hang ’n halfdooie boom skuins in die water. Hy mik na die boom. En toe die naaste tak half bokant hom is, gryp hy daarna. Dis omtrent net so hoog soos sy uitgestrekte hande en hy kry dit beet en hóú – terwyl hy die vlot met sy voete probeer vashou. Die stroom rem egter, en dis nie lank nie of die vlot glip los en begin dryf. Danda los die tak, maar val die vlot mis en beland pens-en-pootjies in die water. Hy probeer na die vlot gryp – gryp, gryp, elke keer mis. Toe begin hy swem, maar verloor sy een waterstewel. Hy probeer onder die water daarna gryp, en teen die tyd dat hy dít het, is die skreeuende Sindo-hulle reeds tien, vyftien tree verder.

Die voorste eiland sal keer, dink Danda benoud, die eilande sal keer. Hulle móét net keer. Met die waterstewel in die een hand kry hy nie geswem nie. Hy probeer dit onder die water aantrek, maar dis onmoontlik. Toe voel hy grond onder sy voete en hy trap, trap rond, soek vashouplek, spartel, verloor weer sy balans, kry uiteindelik ’n pol watergras beet en sleep homself op ’n sandbank uit.

Iewers hoor hy nog vir Sindo lawaai, maar toe raak dié ook stil. Danda gaan sit.

Sy arms is besmeer met slymgras, maar hy steur hom nie daaraan nie. Hy sukkel weer orent, skop die ander waterstewel uit en probeer kyk waarheen die vlot op pad is, maar die riete en ander rankgoed is in die pad. Toe kyk hy terug, soek vir Vlooi. Maar ook die hond is nêrens te sien nie.

Blikskater.

Dis ’n goeie begin!

Was Ou-Faans by, het hy hom seker bevange gelag. Maar vir Danda is dit glad nie ’n grap nie. Hy is nat van kop tot tone, die vlot is stroom af, en Vlooi is skoonveld.

Die arme Sindo. Hy kry seker die stuipe waar hy is. Ratel is self ook maar nie ’n goeie matroos nie.

Danda kyk om hom rond. Hy kry ’n lang biesie beet, wors­tel dit van die pol af en begin die twee waterstewels daarmee aanmekaarwoel. Hy is nog daarmee besig toe Kiki skielik uit die niet uit langs hom neerswiep.

“Ja, toe!” sê Danda. “Waar val jy uit?”

Die kraai beaam luidkeels en fladder tot op sy skouer.

Toe die twee stewels aan hulle kuitlissies aanmekaar gebind is, knoop Danda die ander punt van die biesie aan sy lyfband se gespe vas en sukkel die water in. “Vlooi!” roep hy so hard hy kan.

Niks.

Hy trap vorentoe, bring sy bak hande na sy mond toe. “Vlooi!” wil hy weer roep, maar net die helfte van die naam kom uit – die res sluk hy in toe hy die bodem mistrap en voor­oor in die water val. Kiki sit ’n keel op en fladder benoud oor sy kop rond.

Danda begin swem.

Hy korrel na die oorkantste eiland toe waarheen hy die hond sien swem het. Kiki sien waarheen hy mik en vlieg vooruit. Hy raak tussen die bome weg. Toe Danda moeg teen die oorkantste sandbank uitklim, hoor hy die hond iewers blaf.

“Vlooi!” roep hy weer.

Hy wag nie lank nie. Eers kom die kraai aangevlieg en ’n rukkie later verskyn Vlooi druipstert en skuldig uit die struikgewas. Danda mors nie tyd met met berisping of ’n uitvraery nie. Hy gryp die hond in sy arms en begin ’n pad soek oor die sand, tussen die bosse langs, stroom af. Hoe verder hy te voet kan vorder, hoe minder swemwerk bly daar oor. Vlooi wil nie in sy arms bly nie en spring af, maar bly naby Danda se voete.

Op die oostelike punt van die eiland steek Danda vas. Die eilandjies wat hy vroeër stroom af gesien het, lê nou nie te ver van hom af nie. Maar die vlot sien hy nêrens.

“Kom, Vlooi,” sê hy en plas die water in. Kiki raas iewers bokant hom in die lug, maar Danda val vooroor en begin swem, die hond langs hom. Die waterstewels rem aan hom, maar die stroom vergoed daarvoor, neem hom as’t ware op sleeptou.

Hulle gaan by die eerste eilandjie verby, spartel verder, dryf moeg by die tweede eiland verby. Toe is daar ’n bruin klipplaat voor hulle. Maar Danda merk niks voordat Kiki uitbundig op die klipplaat neerstryk en Sindo die ene oë en stert op hom afstorm nie. Eers toe sien Danda die vlot in die waai van die klipboog, netjies vasgemeer. En op die vlot, hoog en droog, ’n bietjie verveeld, doodkalm, sit Ratel die drama en betrag.

Danda swem so al wat hy kan. Tussen die hale deur sien hy hoe Sindo afkom tot by die rand van die stroom, grootogig, en heen en weer spring, stert hoog in die lug, en sy baas met klein piepgeluidjies aanmoedig om nader te kom. Ook Ratel merk hom en gaan sit op die rand van die vlot, wieg met sy kop op en af, angstig dat Danda en Vlooi die klipplaat moet bereik.

Vlooi bly agter en Danda swem stadiger, bang dat die hond weer ’n ander koers sal inslaan. Toe Danda vyf tree van die wal af is, kan Sindo dit nie meer hou nie en hy raap homself op en land bý Danda in die water. Danda gryp hom toe hy begin sink en hou hom bokant die water terwyl die stroom hulle meesleur tot teenaan die klip. Kiki en Ratel is ook dadelik by en Danda sukkel om homself teen die gladde, steil klip uit te trek. Sindo is vies vir sy nat lyf en probeer so hard om die water tussen sy hare uit te skud dat hy sy ewewig verloor en byna weer in die rivier beland. Toe kom Vlooi uiteindelik by die wal aan en Danda sleep hom uit.

“Deksels!” hyg Danda, “ek dag jy haal dit nie.”

Die vlot is onbeskadig en wonder bo wonder het niks afgeval nie. Sindo kom uitgelate aangebokspring en pyl reguit op die rugsak af, begin daarmee vroetel.

“Nee, los daar,” sê Danda. “Dis nog glad te vroeg vir eet.” Danda wil die rugsak toemaak, maar sien dan dat die plastieksakkie waarin die beskuit gebêre is, aan die bokant half oopgetorring is. Sindo het natuurlik van die onbewaakte kwartier gebruik gemaak om kwaad te doen. Danda maak die sak se gespe toe – tot die nagaap se groot ontsteltenis. “Ons eet nie voordat ons ’n bietjie gewerk het nie,” verduidelik Danda. “Aarde, die son is nog skaars op!”

Danda is moeg. Maar tyd vir rus is daar nie. Met dié hele drama het hy genoeg tyd verlore laat gaan en wie weet hoeveel sulke vertragings en teenslae lê daar dalk nog voor.

Eers toe al die diere weer saam met Danda op die vlot is, kom hy dit agter: die spaan is weg!

Vervlaks!

Omdat die eilandjie die ene klip is, groei daar niks. Daar sal hy nie ’n spaan kry nie. Hy sal dus daarsonder moet verder. En ’n vlot sonder ’n spaan is net so goed soos ’n motor sonder ’n stuurwiel.

Ná ’n groot gesukkel kry hy die vlot óm die klipeilandjie en terug in die stroom. En dis nie lank nie of hulle vaar weer.

“Dis wat ek vergeet het!” sê Danda na ’n ruk hardop en Vlooi waai sy stert. “’n Byl.” Hy het nooit gedink hy gaan ’n byl nodig kry nie. Vuurmaakhout breek jy mos sommer met die hand of, as dit te dik is, in die mik van ’n boom. En wie het nou kon dink hy gaan sy spaan verloor?

Wanneer die vlot te veel na dié of daardie kant toe dryf, probeer hy maar met sy hande roei om weer op koers te kom. Maar dit werk nie altyd nie en dis nie lank nie of hulle is teen die oostelike oewer. Hieroor is die diere baie in hulle skik, en voordat hy kan keer, is al vier op die wal. Die geluk is boonop aan Sindo se kant en met die grondvat-slag kry hy ’n tamaai sprinkaan beet wat op die plek verorber word.

Danda wil hulle nog terugroep, maar Kiki en Vlooi is reeds iewers tussen die bome in, albei ewe luidrugtig.

“Dan kan ek maar net sowel hier ’n spaan probeer prakseer, sê Danda vir homself. Of eintlik nie net vir homself nie. Hy het al geleer om hardop te gesels, al is daar nie ’n mens naby hom nie. As ’n mens die grootste gedeelte van jou lewe alleen was, leer jy later om sommer met die wind te gesels. Maar buitendien hou die diere ook daarvan om sy stem te hoor en partykeer lyk dit kompleet asof hulle verstaan wat hy sê. Veral Vlooi en Sindo. Ratel is maar dommerig en Kiki bly self nooit lank genoeg stil om te hoor wat iemand anders op die hart het nie.

Danda haal sy jagmes uit sy pofaddervelsakkie en begin rondsoek na ’n bakhoutboom. Bakhout is lig, sag genoeg om te kerf en redelik waterdig. Maar nadat hy minute lank sonder sukses gesoek het, kies hy maar ’n tak van ’n jongerige pyp­steelboom.

Om met ’n jagmes so ’n tak af te knaag, vra nogal heelwat geduld en deursettingsvermoë. Later sit daar ’n yslike blaas in die waai van Danda se wysvinger. Maar aanhouer wen en uiteindelik tuimel die tak af grond toe – amper bo-op die arme Ratel. “Jy moet oppas daar onder,” sê Danda. “Netnou is jou ander been ook mank.” En soos gewoonlik beaam Sindo gewigtig.

Die tak word afgesleep rivier toe en op ’n breë sandbank, naby die aangemeerde vlot, sit Danda in die oggendson die jong takke en wegsny. Vlooi maak van die verposing gebruik om rotte uit te jaag, Sindo soek sprinkane, Kiki vlieg tussen die bome rond en Ratel lê lui in die son en steun van lekkerkry.

Danda sny die nuwe spaan aan die dun punt op ’n geskikte lengte af en roep die diere. Daar is nie nog tyd om dit netjies af te werk nie. Waar hy vanaand oorstaan, sal hy die tyd gebruik om die vatkant dunner weg te sny en die roeikant af te plat.

“Op is julle,” roep Danda. “Toe, maak gou. Op!”

Dié keer is Vlooi eerste op die vlot – gedagtig, waarskynlik, aan die feit dat hy netnou byna die hele vaart verpas het. Toe kom Sindo senuweeagtig by en daarna volg Ratel sukkel-sukkel. Oor Kiki bekommer Danda hom nie – hy sal wel agternagevlieg kom.

Die son sit al ’n hele ent bokant die horison en hy het nog skaars ’n kilometer afgelê. Teen dié pas gaan hulle nie vandag ver vorder nie. En hulle sal in elk geval ’n moordende pas moet volhou as hulle oor ’n week in die hawe wil wees.

Aanstoot, dus. Sonder genade.

En die rivier vat hulle.

Die lug is broeierig. So amper asof die dag reën beloof. Maar die wolke lyk nie juis daarna nie. Aan die ander kant is dit nog te vroeg in die dag om die wolke te glo. As dit moet reën en die reën is kwaai, kan dit natuurlik probleme skep. Wanneer die rivier die slag goed afkom, vat hy plek-plek sommer bome saam.

’n Uur of twee gaan dit goed. Die eilande word minder en die rivier loop gelyk en rustig. Maar soos die dag vorder, word die son warmer, en later sit Vlooi en Sindo op ’n hopie in Danda se klein skaduwee. Net Kiki en Ratel steur hulle nie veel aan die son nie. Teen twaalfuur maak Danda vir Sindo ’n lêplek onder die een olieseil en dit neem die nagapie nie lank om te snap wat van hom verwag word nie: hy kruip in die donker holte in en raak byna dadelik aan die slaap. Hy soek wel altyd avontuur, ja, maar as jy ’n halwe dag op ’n vlot drywe en jy is so bang vir water soos Sindo, raak dit te erg.

Hy weet nog nie wat daar alles vir hom voorlê nie, dink Danda. Dit is nog maar net die begin.

Af en toe wanneer Kiki verveeld raak, vlieg hy van Danda se skouer af, maak ’n groot draai oor die rivier, raak partykeer weg tussen die bome op die oewer, en kom dan weer terug. En almal beny hom dit. As Danda kon vlieg, sou hy ook kort-kort wanneer sy bene begin stram word of die son te warm bak, ’n draai wou vlieg tot in die groen skaduwees van die digte bosse langs die rivier.

Met die son sal hy beslis ’n plan moet maak. Dis eienaardig dat Ou-Faans nie daaraan gedink het dat die hitte hom in die middel van die dag gaan vang nie. Maar aan die ander kant: Ou-Faans is die son so gewoond, sy vel is al bruin en taai soos leer. Danda is self bruin gebrand, donkerbruin soos grond, maar dié soort stilsit in die son – dit vang hom.

Miskien moet hy vanaand ’n plan probeer prakseer. Vier dun pale, een op elke hoek; vier dwarslatte bo, van hoek tot hoek en met biesies aanmekaargebind; die een olieseil bo-oor: Dit sal baie help.

Twee-uur se stryk word Danda honger. Hy haal beskuit uit. En dadelik is Sindo wakker en op sy skoot. Vir die nag­aap en die kraai en Ratel breek hy elkeen ’n beskuit in klein stukkies op. Vlooi en Danda kry hulle s’n heel. Ratel is nie dol oor beskuit nie, maar by gebrek aan beter eet hy maar ook saam.

Sindo, die klein vraat, vra nog. Maar Danda wil niks weet nie. “Ons gaan ’n week op hierdie vlot wees,” sê hy vir die apie, “en ons het skaars genoeg kos vir vier dae. Jy sal maar moet uithou, jong.”

Die kraai probeer ook ’n ekstra porsie bedeel, maar Danda hou voet by stuk. Hy is self so honger soos ’n bees, maar as hulle nou al begin toegee aan die hongerpyne, is hulle binne ’n dag of drie heeltemal sonder kos.

Die verste oewer lê en bewe in die hitte; party van die groot waterbessiebome lyk asof hulle dans. Links, op die naaste oe­wer, sien Danda af en toe ’n paar groot krokodille op die sandbanke lê en dut. Dan moet hy die hele tyd Vlooi se aandag in ’n ander rigting stuur, want as daar nou een ding is wat Vlooi nie kan verdra nie, is dit ’n krokodil. Eenkeer toe Danda en Ou-Faans langs die rivier na ou vinkneste gaan soek het, het Vlooi onverwags tussen die riete op ’n jong krokodil afgekom en homself buite weste geskrik toe die dier hom met die stert bykom. Van toe af is al wat krokodil is, wat Vlooi betref, sy lewe nie meer seker nie – hy loop hulle gereeld storm en be­sluit telkens eers op die laaste nippertjie om maar genadig te wees en die aftog te blaas. Meer as een keer het hy byna met sy lewe geboet.

As hy dié soort stuitigheid op die vlot probeer uithaal, kan dit maklik op ’n tragedie uitloop. En Danda het genoeg pro­bleme gehad vir een dag.

Die middag verloop sonder voorval.

Die nuwe spaan werk verbasend goed en die rivier lewer nie veel probleme op nie. Ook die diere gedra hulle redelik, hoewel Vlooi teen laatmiddag ’n tweede keer die dag van die vlot aftuimel toe hy te opgewonde raak oor ’n bleshoender wat met die vlot se verbykom nie ver genoeg na sy sin padgee nie. Maar dié keer val hy gelukkig vorentoe af en Danda help hom op, waaroor hy uitermate dankbaar is – en hy betoon sy dankbaarheid deur al sy mede-passasiers sopnat te spat.

Danda kan nie besluit hoe laat hy ’n halt moet roep nie. Doen hy dit te vroeg, verloor hulle te veel vaartyd; wag hy te lank, moet hulle dalk op ’n ongeleë plek kamp maak en boonop in die donker vuurmaakhout soek.

Maar toe die son halflyf weg is agter die westelike oewer se bome, besluit hy die tyd het aangebreek. Die sononder-kant is dig bebos en by besluit om aan die oostelike kant slaapplek te soek. Dié kant is heelwat oper, maar het nogtans genoeg bome – en lekker sandbanke om teen aan te meer. Toe die rivier op ’n plek na regs wegswaai, mik Danda links, reguit op ’n mingerhoutbos af. Die draai van die rivier stoot hom byna vanself op die sand uit en toe die vlot teen die sand aanskuur, is al vier die diere gelyk op vaste grond. Of byna gelyk: Ratel is soos gewoonlik ’n kortkop agter.

Danda sleep die vlot heeltemal uit die water uit en besluit om eers die omgewing te verken voordat hy afpak. Die minger­houtbos is te dig na sy sin, maar ’n entjie verder kry hy ’n paar platkroondorings wat half op ’n bondel staan. Die sandbanke lê vol droë dryfhout en hy besluit; ’n beter plek as dié een gaan ons nie maklik kry nie.

Die diere is die hele tyd voor hom uit. Maar toe hy terug draai om die goed van die vlot te gaan afpak, is geeneen van hulle baie begerig om terug te gaan nie.

“Toe maar,” skree Danda, “ek gaan net ons goed haal.”

Ná heeldag se stilte klink sy eie stem vir hom vreemd. En die stilte daarna is skielik stiller as voorheen.

Danda gaan staan. Hy kyk ’n ruk lank om hom rond. En skielik is hy nie meer seker of dit ’n goeie plek is dié nie. Dis so oop en verlate. Hy bekyk weer die mingerhoutbos. Nee, dis weer te donker onder daardie bome. Netnou val daar allerhande snaakse goeters uit daardie bome op sy kop.

Dit moes hy nie gedink het nie! Want skielik moet hy dit ruiterlik erken; hy is bangerig.

Hoe ver is hy van Ou-Faans en Tante-hulle af? Seker maklik veertien kilometer. Niemand sal eers hoor as hy skreeu nie.

Waar hy ’n oomblik tevore nog bereid was om alleen te­rug te stap vlot toe, dring hy nou daarop aan om die diere saam te neem. Kiki en Vlooi maak of hulle doof is en Sindo luister maar traag. Net ou Ratel kom gedweë saam, mank en morbied.

Teen die tyd dat hy al die goed by die kampplek het en genoeg hout op ’n hoop gedra het vir die nag se vuur, is dit al sterk skemer. Voordat hy die vuur aansteek, kyk hy gou eers weer of die geldbottel nog veilig in die rugsak is. Toe steek hy die vuur aan en toe dit goed brand, haal hy sy jagmes af en begin rondkyk vir vier reguit takke vir die dak wat hy op die vlot wil bou.

Vir die diere is die vuur ’n laaste gerusstelling. Hulle weet nou daar gaan nie vandag verder gevaar word nie.

In ’n plaat raasblaar kry Danda net waarna hy soek: ’n paar jong grondlote, almal min of meer so dik soos sy enkel, lekker reguit en met stewige mikke bo-aan. Maar die hout is hard en later is dit so donker dat hy nie meer kan sien wat hy doen nie. Buitendien pla die waterblaas wat die oggend se spaankerwery hom besorg het, meer as genoeg.

Dis al heeltemal donker toe hy met sy pale by die vuur aankom – vier dikkes en vier dunnes. Die dunnes is aan die krom kant, maar dit kan hom nie meer skeel nie. Hy moet nog water kook en die diere lyk honger.

Danda gaan haal water in die ketel en sit dit op die vuur. Hy haal ’n blikkie maalvleis en die oopmaker uit en begin die blik oopsny. Kiki, Vlooi en Ratel is dadelik by. Maar Sindo is nêrens.

Hy kyk om hom rond.

“Sindo!” roep hy.

Hy kyk na die ander diere. “Waar’s daardie klein blikemmer?” vra hy. Vlooi swaai sy stert, spits sy ore. “Vlooi? Waar’s Sindo?”

Die hond swaai sy stert en kyk in die rigting van die rugsak. Danda volg sy blik, net betyds om te sien hoe Sindo stert eer­ste by die rugsak uitkruip en met groot oë oor sy rug rondkyk, sy snoet die ene krummels.

“Jou klein swerkater!” raas Danda en mik ’n klap in die skelm se rigting, maar die volgende oomblik sit Sindo op sy skouer en begin paaiend aan sy oor knibbel.

Danda voer die diere, maak daarna vir hom koffie en gun homself twee dik snye brood. Toe gooi hy nog hout op die vuur en begin sy dakpale se mikke regsny.

Die diere wil nie tot rus kom nie. Net Kiki stel in slaap belang – en soek vir hom ’n tak in die naaste boom. Ratel en Sindo bly rusteloos, klouter in die bome rond, verken die stukkie veld rondom die flikkerende vuur. Vlooi sit met sy ribbes teen Danda se been die donker en instaar. ’n Paar keer staan die hond op, ore gespits, en loop ’n paar tree weg, staar nuus­kierig die nag in en kom sit dan weer by sy baas.

Toe die vlot se pale reggesny is, bêre Danda hulle naby die vuur, gooi ’n olieseil naby die dansende vlamme oop en kyk nog ’n keer of die rugsak met die geldbottel veilig is.

Daar is nog heelwat water in die ketel en hy sit dit op die warm as naby die vuur neer – naby genoeg om die water warm te hou en te ver om dit te laat droogkook. Toe sit hy nog twee dikkerige stompe op die vuur, rol homself in die seil toe en sleep die rugsak onder sy kop in.

Hy is moeg. Maar die slaap kom nie gou nie. Die nag is te stil na sy sin. Al wat hy kan hoor, is die rivier se water, iewers ’n paar krieke, en Sindo en Ratel wat steeds bo in die boom peuter.

Met tye sluimer hy in, maar word dan weer bewus van Vlooi wat sug, ’n uil wat iewers roep.

Hy wonder of Tante-hulle al agtergekom het hy is weg. Teen dié tyd seker wel. Miskien het hulle by Ou-Faans gaan hoor of hy iets weet. En Ou-Faans sê: “Ek weet niks van hom af nie.”

Danda mis vir Ou-Faans. Ou-Faans was altyd naby. As hy ’n probleem gehad het, kon hy maar net afstap na die klein pandakhuisie naby die rivier en Ou-Faans sou daar wees om mee te praat en by raad te vra.

Selfs oom Peet sou vanaand welkom gewees het langs die vuur; al het hy nie ’n enkele woord gepraat nie. Net om nog iemand by hom te hê, dit sou al help.

Danda probeer om nie te dink nie. Hy luister na die egalige gesuis van die rivier, en dit sus hom tot hy later van sy seer lyf en die harde bottel onder sy kop vergeet.

Hy slaap.

Toe, iewers in die middel van die nag, skrik Danda wakker van Vlooi se geblaf.

Hy kyk verbaas om hom rond, sien die vuur, sien vir Vlooi, en snap skielik waar hy is.

Vlooi blaf ’n tweede keer.

“Wat is dit?” vra Danda, nog deur die slaap.

Toe hoor hy iets soos ’n voetstap uit die rigting waarheen Vlooi en Sindo kyk. Hy gryp sommer ’n handvol gras en gooi dit op die kole en die vlam lek in die gras op. Die lig groei rond­om Danda, tas al verder in die donker in. En skielik, toe die hond weer begin blaf, sien hy wat die diere sien.

’n Entjie van die vuur af, op die rand van die dansende lig, staan daar ’n man na hulle en kyk.

Danda

Подняться наверх