Читать книгу Danda op Oudeur - Chris Barnard - Страница 4
1
ОглавлениеDanda klim stadig teen die lendelam houttrap uit. Hy is moeg. Die hele middag het hy en die diere op die strand rondgeloop en vir Vetvoet gewag, en Vetvoet het weer nie gekom nie.
Dis nou die derde Dinsdag.
Die eerste middag was hy teleurgesteld toe die ou grootprater nie opdaag nie; die tweede Dinsdag was hy kwaad; maar vanmiddag weet Danda daar is iewers ’n groot skroef los. Vetvoet sal nie weke lank sommer verniet wegbly nie.
Bo by die deur gaan Danda eers ’n slag staan. Hy leun teen die reling en kyk oor die dokke. Die son is net-net onder en die hyskrane werk nie meer nie. Sy pa is seker al op pad terug.
Hy kyk af op die klein agterwerfie, maar die sinkheining se skaduwee is al te donker en hy kan nie meer die diere se hok uitmaak nie. Hy haal die sleutel onder die vensterbank uit en sluit die deur oop. Dis bedompig binne. Hy maak die venster oop, skuif die gordyne opsy, steek die olielamp op en begin vuur maak in die stoof.
Hierdie tyd van die dag is altyd vir hom die lekkerste. Dis die enigste kans wat hy en sy pa kry om ’n bietjie te gesels. Hulle maak soms kos, eet, was saam die skottelgoed. Dan gaan sit hy en leer, en sy pa – wat soggens vieruur weer moet opstaan – gaan slaap.
Daar is ’n gefladder op die stoep. Dis Kiki wat op die dakbalke kom sitplek soek. Deesdae pla hy nie meer om in die huis in te kom nie, maar daardie eerste maand of twee was dit ’n gesukkel. Hulle moes die deur en al die vensters toemaak om hom buite te hou, en dan het die drie vertrekke te bedompig geword. Maar nou ken die kraai al die storie. Hy sal dit soms tot op die vensterbank waag, maar nie nader nie; en saans slaap hy onder die stoepdak op een van die balke.
Met Vlooi was dit maklik, want Vlooi is ’n gehoorsame hond, maar vir Ratel en Sindo moes hy en sy pa ten einde raad ’n hok bou, en nou slaap die ratel en die nagaap saans agter ogiesdraad.
Daardie opsigter. Tant Let. Sy is kastig so heilig op hierdie ou kasarm van ’n plek. En waarvoor? Die dak lek en die mure is plek-plek al deurgeroes en die vloer is vol splinters. Hy het vir sy pa gesê hulle moet ’n ander blyplek gaan soek, maar sy pa sê al die beter blyplekke is duur, en buitendien sal hulle die diere daar nie eens op die wérf toelaat nie!
Danda sit die groot paraffienblik op die stoof en dra dit vol water. Oor ’n uur of so, net voor ete, sal die water warm genoeg wees vir sy pa om te bad.
Vetvoet. Wat sou van Sarel Vetvoet geword het? Is hy dalk siek? Of is hy weer iewers in die moeilikheid? Wie weet, dalk moes hy vlug! Danda het hom al lankal gewaarsku hy moet die spul matrose in die hawe uitlos; hulle soek tog net heeltyd skoor. Veral daardie ellendige Pontak en sy trawante.
Danda was sy hande en voete sommer in die skottel by die kraan op die stoep, en heeltyd terwyl hy besig is, gesels die kraai met hom bo van die dakbalk af. Danda gesels kastig saam, maar sy gedagtes is op ander plekke. Hy kry die ongerustheid oor Vetvoet maar net nie afgeskud nie.
Sê nou net …
Die werfhekkie piep oop, en dis sy pa. Hy kom oor die halfdonker agterplaas gestap en klim teen die trap uit.
“Naand, Pa.”
Sy pa vat hom aan die hare en trek sy kop nader, klap hom speels op die maag. “Naand, Daniël. Het jy die diere toegemaak?”
Danda ruik sy pa se sweet en daardie groot hande wat altyd souterig is soos ’n skulp wat pas uit die water gekom het. “Ja, Pa,” sê hy. “En die water is al op die stoof.”
Hulle gaan saam die kombuis binne en sy pa haal sy pet af en hang dit oor die deur se hoek, trek ’n stoel uit, gaan sit by die tafel.
“Is Pa moeg?”
“Bietjie,” sê sy pa. “Hoe lyk jou huiswerk?”
“Ek moet nog begin, Pa.” Hy kan sommer sien – sommer aan sy pa se skouers kan Danda sien hy ís moeg vanaand. Die gespook – veertien uur per dag in die dokke – dis nie speletjies nie. En as sy pa saans terugkom, en sy skouers lyk so half lam, en hy maak nie grappies nie, dan was dit ’n harder dag as gewoonlik.
“Pa onthou mos nog vir Sarel Vetvoet?” vra Danda later toe die kos al op die stoof is en die blik badwater begin sing.
“Daardie ou skelm?”
Danda kyk vinnig op. “Hy’s nie ’n skelm nie, Pa.”
“Wel, al sy vriende is. ’n Spul drinkers en smokkelaars, dis wat hulle is.”
“Sy vriende, ja.” Danda knik. “Maar nie hy nie. Hy raas altyd met hulle. Rêrig.”
Sy pa glimlag net.
Danda roer die bredie ’n bietjie en die geur van die vleis laat hom ineens honger voel. Hy besef nou eers hy het vanmôre laas geëet. Vanmiddag ná skool was daar nie tyd nie; hy was te haastig om op die strand te kom, gretig om te sien of Vetvoet daar is.
“Wanneer laas het Pa hom gesien?”
“Sarel Vetvoet? Lank laas. Weke laas. Hoekom?”
“Nee, ek vra sommer.”
Dis ’n koel aand. En dis stil. Al wat ’n mens kan hoor, is die sagte singgeluid van die water op die stoof, en af en toe ’n sleepboot se toeter of sy pa se stewels wat op die plankvloer skuif. Die stilte begin lekker voel as hulle saans aan weerskante van die tafel sit en sy pa gesels met hom. Dit laat hom belangrik voel. Maar die afgelope tyd gebeur dit al hoe minder. Soms is sy pa moeg, en soms lyk hy sommer net ingedagte.
Hulle eet en was die skottelgoed sonder dat daar juis gesels word. Daarna bad sy pa en Danda loop skep die bietjie oorskietkos in Vlooi se bak. Hy gaan sit by die hond, sy rug gestut teen die sinkplaatheining wat nog effens lou is van die dag se son. Vlooi is bly oor die kos en ruik kort-kort aan hom en swaai sy stert en eet dan verder.
Doer eenkant in die donker hoek waar die ogiesdraadhok moet wees, hoor hy Ratel-hulle roer. Hy weet hy moet nog eers vir hulle gaan nag sê voordat hy teruggaan boontoe, maar hy stel dit uit. Dis elke aand vir hom ’n hartseer-ding om te sien hoe die klein nagapie aan die draad vashou en met sy groot oë kyk en kyk omdat hy hierdie toesluitery nie kan verstaan nie. Elke aand voel hy asof hy hulle in die steek laat as hy omdraai en teruggaan huis toe.
Maar dit gaan nog verander, eendag. Al hierdie dinge. Dit gaan nog verander, dit weet hy.
Vlooi het klaar geëet en wil by Danda kom lê, soos hy altyd saans maak sodra sy bak leeg is. Maar die hond steek skielik vas en spits sy ore. Danda luister saam en hoor ná ’n rukkie die voetstappe nader kom, en saam met die voetstappe ’n sagte geneurie. Maar daar skort iets met die voetstappe; hoe nader hulle kom, hoe sekerder word Danda: dit moet ’n kreupel man wees.
Vlooi knor, maar Danda maak hom stil en klim versigtig op die steenkooldrom. Hy loer oor die heining en kyk straat af. Eers is daar net ’n swart vlek wat sukkel-sukkel op die sypaadjie aangeskuifel kom; dan kan Danda twee bene, ’n kop, arms onderskei. Die man rus elke paar treë, dan sukkel hy weer nader, en heeltyd neurie hy aan ’n wysielose deuntjie.
Danda staan vasgenael en kyk na die vreemde figuur, staan en kyk hoe hy al nader kom, steunend, singend, en skielik vlak by die werfhekkie tot stilstand kom. Vlooi begin blaf en Danda is nie meer seker of hy die hond moet stilmaak nie. Die man vroetel in sy sakke rond en haal vuurhoutjies uit. “Toe maar, hondjie,” sê hy, nog steeds sangerig, “toe maar, my brak. Toe maar.” Hy sukkel om ’n vuurhoutjie aan die brand te kry; die goed breek of is almal al klaar gebruik, want hy gooi die een ná die ander weg. Vlooi word al kwater en spring teen die hek op, maar deins terug toe die soveelste vuurhoutjie skielik vlam vat. Die man hou die vuurhoutjie by die nommer op die hekkie en bring sy gesig nader – en Danda voel hoe sy vel skielik yskoud word. Die hand wat die vuurhoutjie bewerig vashou, is gebreklik; dit lyk soos ’n valk se poot. En die gesig wat langs die vlammetjie verskyn, is vol stoppelbaard en moesies, en die neus is benerig en baie krom en vol donker aartjies.
“Wat wil jy hê?” vra Danda.
Die man laat val die vuurhoutjie. “Ha!” sê hy. “Hier is mense!” Dit klink byna asof hy deur daardie krom snawelneus van hom praat.
Danda klim van die drom af en beweeg nader na die hekkie toe, maar Vlooi sorg dat hy tussen hulle bly. “Wat soek jy?”
Die man leun vooroor en trek sy klein ogies nog kleiner. In die bietjie lig wat van die agterdeur af oor die werf lê, kan Danda sien daar sit ’n breë litteken oor die man se ken.
“Ek soek vir jou,” sê die man. “Sê jou hond hy moet stilbly. Netnou is die hele wêreld wakker.”
“Af, Vlooi!” sê Danda saggies. “Wag nou! Af!”
Die hond bedaar, maar hy bly agterdogtig en knorrig en ál tussenin. Die man kom dit agter, want hy maak nie die hekkie oop nie en sy klein ogies boer maar heeltyd op Vlooi.
“Het jy al ooit gehoor van iemand met die naam Kalkoen?”
Danda knik, want hy hét die naam al gehoor, maar hy kan nie onthou waar nie. Was dit in die hawe? By die skool? By sy pa? Hy weet nie meer nie.
Die man lag ’n snaakse laggie en voer skielik ’n blitsige danspassie uit. “Dis ek,” sê hy byna triomfantelik. “Kalkoen Viljoen!” Hy loer om hom rond, kyk straat af, straat op. “Slaap jou pa al?”
“Nee,” sê Danda teen sy beterwete, want sy pa is teen dié tyd seker al lankal in droomland.
“Hy mag nie weet ek was hier nie, gehoor? Niemand mag weet nie. En as iemand jou vra of jy al ooit vir Kalkoen Viljoen gesien het, dan sê jy jy’t nog nooit eers sy naam gehoor nie, gehoor?”
“Ja,” sê Danda.
Kalkoen Viljoen loer weer straat toe. “Weet jy waar’s die Rooi Haan?”
“Jy meen die kantien? Onder by die dokke?”
“Einste.”
“Ek was nog nie daar nie,” sê Danda, “maar ek weet so min of meer waar dit is.”
“Eersteklas.” Kalkoen leun oor die hekkie, amper asof hy in Danda se oor wil fluister. “Môremiddag. Vieruur. By die Rooi Haan. Maar jy kom nie voor in nie. Kom met die agterste straat. Houtstraat. Daar is ’n groot skuur agter die kantien. Wag vir my agter in die skuur se jaart. Vieruur op die kop.”
Vlooi hou nie van die skielike gefluister nie en hy knor weer en sy rughare staan penorent.
“Wat moet ek daar gaan maak?” vra Danda.
“Jy sal sien.” Kalkoen lag weer sy eienaardige laggie. “Jy sal bly wees jy’t gekom. Vieruur op die kop, onthou!”
“Ja, maar …”
Iewers in die straat is daar weer voetstappe en Danda kan sien hoe verstrak Kalkoen. Albei luister, Vlooi ook. En die volgende oomblik is Kalkoen skoonveld. Danda hoor net sy skuifelpassie iewers agter die sinkheining – slof-slof, slof-slof, en die yl stem wat neurie, al verder en verder, totdat die deuntjie wegraak in die donker.
Die ander voetstappe het intussen stil geword. Danda wag en luister, en Vlooi luister saam met hom. Maar die straat is doodstil. Hy hoor net die sleepboot wat toet, en ’n kriek iewers.
Danda staan nog ’n hele ruk doodstil voordat hy omdraai en terugstap tot by die ogiesdraadhok. Ratel en die nagapie wag vir hom. Hy gaan sit langs hulle en druk sy vinger ingedagte deur die draad, krap Sindo se rug, kielie vir Ratel in die oor.
Kalkoen Viljoen?
Wie is hy?
En hoekom wil hy hom môre vieruur by die Rooi Haan hê?
Môre is Woensdag, en miskien is Rosina môremiddag op die strand. Hy sou baie liewer saam met Rosina en die diere langs die water wou gaan stap – sy mag immers net een maal ’n week in die middag van die koshuis af weg.
En die Rooi Haan is ’n berugte plek. Dis waar al die matrose en die loslopers – Dons de Waal en Pontak se mense – saans uithang. Miskien moet hy maar eers die saak met sy pa bespreek. Maar aan die ander kant: hy weet wat sy pa sal sê – hy sal hom verbied om te gaan. En buitendien het Kalkoen hom laat belowe hy sal vir niemand vertel nie.
Hoekom nie? Hoekom is dit vir Kalkoen so belangrik dat niemand weet nie? Sê nou die vent is ’n opperste skurk? Hy en sy trawante kan hom vang en hom iewers toesluit en niemand sal weet waar om na hom te gaan soek nie.
Danda glimlag. Nou oordryf hy darem seker. Hoekom sal hulle hom wil kwaad aandoen? Hy het húlle nog nooit te na gekom nie. Behalwe natuurlik – en hy kom orent en kyk onseker huis se kant toe – behalwe as hulle iets teen sy pa het en hom op dié manier in ’n hoek wil jaag.
Danda neem afskeid van die diere en klim teen die trap op huis toe. Sy pa slaap al. Hy maak die kamerdeur toe, draai die lamp op die kombuistafel effens hoër en haal sy skoolboeke uit. Maar dis moeilik om te konsentreer. Kort-kort betrap hy sy gedagtes by Vetvoet, by Rosina, by Kalkoen Viljoen en die Rooi Haan …
Hy worstel deur sy Wiskunde, probeer sy Engelse spelling in sy kop kry, blaai lusteloos deur sy Geskiedenisboek. Miskien moet hy maar liewer môreoggend vroeg opstaan en die res van sy tuiswerk doen, want vanaand mors hy net tyd.
Hy bad, sluit die agterdeur, draai die lamp dood en gaan kruip onder die komberse in. Sy pa haal rustig asem; hy slaap soos ’n klip, sy groot hande twee donker hompe op sy bors.
Vlooi is nog steeds onrustig in die agterwerf. Hy blaf kort-kort. Môre kla tant Let weer.
Ken sy pa vir Kalkoen? Tog seker. Die Rooi Haan is bý die dokke. En daar ken almal vir almal.
’n Ander gedagte duik skielik op: dié ding dat sy pa deesdae stiller is as gewoonlik – is dit regtig net omdat hy moeg is saans? Of bekommer hy hom dalk oor iets?
En dan weet Danda ineens hy moet sy afspraak nakom. Hy sal dit nie vooraf met sy pa bespreek nie. Niemand mag weet nie. Hy sal klokslag vieruur by die Rooi Haan wees. Maar voor die tyd sal hy vir sy pa ’n briefie skryf, hom vertel van Kalkoen en van sy afspraak by die kantien, en hy sal die briefie onder sy kopkussing bêre. As hy dan iets oorkom en hulle soek na hom, sal iemand wel die briefie kry. Kom hy niks oor nie – goed.
Wie weet, dalk kom hy op dié manier agter wat aangaan.
Die volgende dag sleep die ure te stadig na sy sin verby. En boonop kry hy streepsuiker omdat hy nie sy Geskiedenisles ken nie. Pouse probeer hy vir Rosina in die hande kry om te hoor of sy strand toe gaan, maar sy is nêrens te sien nie. Later is hy maar bly hy het haar nie raakgeloop nie, want sy kan dalk begin dink hy drentel agter haar aan.
Vir sy maats het hy voorlopig nie veel te sê nie. Dolfie Louw en Sewes wil nog weet of hulle hom die middag in die dorp kan ontmoet, maar hy hou hom ongeërg. Hy voel wel onseker oor vanmiddag se ding, ja, maar tog ook op ’n manier belangrik. Iemand wat by die Rooi Haan ’n afspraak moet nakom, hou hom nie met kinderspeletjies op nie.
Dié middag, van die skool af op pad huis toe, gewaar hy vir konstabel Tiens. Gewoonlik gesels hulle eers ’n bietjie, maar vanmiddag loop Danda ’n wye draai om hom. Dis asof hy bang is Tiens lees sy gedagtes. Die konstabel is wel vet en sy uniform se knope blink nie elke dag ewe mooi nie, maar hy het ’n manier om onraad te ruik waar niemand anders eens sou droom om snuf in die neus te kry nie.
By die huis aangekom, groet Danda die diere, eet twee dik snye brood met botter en konfyt, drink ’n beker melk, trek sy werfklere aan en gaan sit by die kombuistafel om die brief te skryf. Maar die skrywery is moeiliker as wat hy gedink het, want hy weet nie presies waar om te begin nie.
Beste Pa, is al wat die eerste vyf minute oplewer. Maar uiteindelik kry hy tog ’n paar sinne agtermekaar. Kalkoen Viljoen het gisteraand kom sê ek moet vanmiddag vieruur by die Rooi Haan wees. Ek weet nie hoekom nie. As ek nie terugkom nie, moet Pa weet hulle het my gevang. As julle dalk lank na my soek, kyk tog asseblief dat die diere kos kry. En moenie vergeet om elke môre die waterbak vol te maak nie. Groete. Daniël Daneel.
Hy lees die brief vir oulaas oor en vou dit toe. Buite-op skryf hy in groot letters: ’n Boodskap vir Pa – baie dringend! Hy bêre die brief onder sy kopkussing en gaan kyk op die wekker in die kombuis hoe laat dit is.
Kwart oor twee. Daar is nog hope tyd.
Hy gaan uit agterwerf toe en laat Sindo en Ratel uit die hok. Kiki en Vlooi is ook dadelik by, vas daarvan oortuig hulle is weer soos gister op pad strand toe. Vlooi blaf en draf kort-kort hek se kant toe.
“Nee,” sê Danda, “vanmiddag bly julle by die huis. Ek kan julle nie elke dag so bederf nie.” Sindo wip tot op sy skouer en probeer sy hempsak bykom om te sien of daar nie dalk iets te peusel is nie; Kiki probeer dieselfde doen en dis nie lank nie of die nagaap en die kraai is aanmekaar. Dit kos Danda twee snye brood gaan haal om die vrede te bewaar.
Maar sy aandag is nie by die diere nie. Hy speel wel met hulle, gesels met hulle, maar sy gedagtes loop die tyd vooruit, kantien toe. Die diere voel dit aan. Hulle word self onrustig en geïrriteerd – en teen drie-uur besluit Danda om maar te stap. Hy sluit Sindo en Ratel toe, beduie vir Kiki dat hy nie mag saam nie, klop Vlooi nog vir oulaas op die kop en maak die hekkie agter hom toe.
Dis ’n kwartier se stap tot in Houtstraat. Danda loop af tot naby die kaai en kom met Dokstraat terug, voor die kantien verby. Alles lyk doodgewoon, soos dit maar op ’n Woensdagmiddag op Oudeur lyk. Eriksson die kroegman staan in die Rooi Haan se deur met iemand en gesels, ’n paar matrose drentel straat af, oom Tops sit op sy pandjieswinkel se stoep ’n koperkan en blink vryf, ’n bedelaar staan op die hoek van Dok- en Waterkantstraat windskeef tussen sy krukke ’n hoed en rondhou. Danda loop naby hom verby en kyk om, vas in die man se oë. Maar toe hy sien Danda kyk, draai hy weg.
Halfvier, terug aan die bopunt van Houtstraat, gaan sit Danda op die randsteen en wag. En dis toe dat hy skielik die gelag agter hom hoor. Nog voor hy omkyk, weet hy al dis Kiki. En ja, daar sit die kraai op ’n brandweerkraan en vere stryk, houtgerus en doodtevrede noudat hy sy baas opgespoor het.
Maar Danda is dadelik omgekrap: “Kiki, blikskater, wat maak jy hier? Ek het jou gesê jy bly by die huis!” Die kraai kyk anderpad, ongesteurd. “Sie jy, man; terug huis toe is jy!” Danda probeer hom met swaaiende arms verdryf. Maar Kiki sit hom net só en kyk, en lag dan sy skril kraailaggie.
Tyd om die dekselse voël nou terug te neem huis toe is daar nie. Danda gaan stadig nader, gryp die kraai vas, tik hom met die vinger op die kop en steek vir hom ’n preek af. Maar Kiki laat hom nie sommer intimideer nie. Hy pik en krap met sy pote. Danda gooi hom in die lug op en sjoe hom weg, maar dit help nie. Kiki se vlerke skiet oop en hy sweef af dokke se kant toe.
Die klein swernoot! dink Danda moedeloos. Hoekom hy nou juis vanmiddag uitkies om streke uit te haal! Die afgelope maande was hy baie gehoorsaam – hy het nie eens meer gelol om te wil saamgaan skool toe nie. Kan dit wees dat die kraai onraad vermoed?
Danda begin stadig met Houtstraat afstap. Af en toe gaan hy staan. Kiki is nêrens te sien nie. Maar toe hy eenkeer weer omkyk, sien hy die bedelaar van netnou aan die bopunt van die straat staan.
Daar is ’n heining langs die sypaadjie, en anderkant die heining is ’n terras met ’n trap wat na die geboue onderkant die straat lei. Van die sypaadjie af kyk ’n mens op die dakke van die Rooi Haan en die pandjieswinkel en die vismeule se skure. Dis ’n hele konglomerasie van dakke en skewe mure en trappe en balustrades. Die geboue is vas aan mekaar en lyk soos een lang kasarm.
’n Raps voor vier staan Danda by die hek na die werf waarvan Kalkoen gepraat het. Hy kyk links en regs. Die bedelaar staan nog steeds op dieselfde plek, maar hy kyk anderpad.
En dan sien Danda nóg iemand. Konstabel Tiens. Dié kom ewe ongeërg, doodrustig, op die oorkantste sypaadjie aangedrentel, hande agter die rug. ’n Oomblik lank oorweeg Danda dit om vinnig teen die steil kliptrap af te klim tot waar die konstabel hom nie kan sien nie, maar iets laat hom dink Tiens het hom klaar gewaar. Danda stap by die hek verby en gaan ’n paar treë verder weer staan. Hy maak of hy na Kiki soek.
Konstabel Tiens steek die straat oor en stap reguit op hom af. “En waar drentel jy rond?” vra hy.
“Ek soek my kraai,” sê Danda.
“As hy hier rond weggeraak het, dan kan jy maar weet die hawe se spul maer katte het hom al lankal opgevreet.”
“Nie Kiki nie,” sê Danda. “Hy’s te slim vir ’n kat.”
Konstabel Tiens lag amegtig en sy snaakse boepmagie skud. “Jy ken nog nie die hawekatte nie. Hulle is erger as hiënas.”
Skielik word Danda koud. Want bo teen die bult begin die toringhorlosie vieruur slaan. En Tiens gaan leun teen die hekkie en vou sy arms soos hy altyd maak as hy lekker wil gesels.
“Ek moet loop,” sê Danda. “Ek het nog baie werk.”
“O,” sê Tiens. “En wat van jou kraai?”
“Hy sal seker maar vanself weer huis toe kom.”
“Hm,” sê konstabel Tiens en blaas onder sy swart hangsnor deur. “Ek wou eintlik nog met jou gepraat het ’n slag. Jy moet een middag daar by die stasie ’n draai kom maak. Ek het so ’n gevoel jy kan my dalk help met ’n ding.”
Danda sê niks. Hy wag om te sien of Tiens gaan loop. Maar die konstabel bly staan asof hy nog die hele middag tyd het. Danda huiwer nog ’n rukkie, tel ’n klippie op, gooi dit in die lug en vang dit weer, gooi dit, vang dit, gooi dit, vang mis.
“Tot siens, Oom,” sê hy skielik en draai om en begin haastig straat op stryk. ’n Honderd tree verder kyk hy om en sien die konstabel in die teenoorgestelde rigting aanstap. Toe vlieg Danda om en nael terug vir al wat hy werd is. Hy haal die hek sonder om aandag te trek, glip deur, hardloop val-val teen die trap af en kom voor ’n sinkdeur tot stilstand. Moet hy hier in? Hy stoot die deur oop en stap deur. En die volgende oomblik kry ’n groot hand hom aan die pols beet.
Dis ’n vreemdeling wat langs hom staan, ’n groot man met ’n matroospet op die kop, ’n welige bos baard en net ’n gaatjie in die kop waar sy regteroor moet wees.
“Hoekom is jy laat?” vra die man.
“Ek het … Ek wou …” stamel Danda en sluk. Eensklaps kan hy vóél hoe klop sy hart hier bo in sy keel.
“Kalkoen het vir jou gesê jy bring niemand saam nie, of hoe?”
Danda knik.
“Nou wat maak Tiens dan hier bo in die straat? Toe, moenie staan en stry nie – ek het gesien hoe praat julle daar bo!”
“Maar ek het hom … Hy’t my –”
Die man los sy pols en stoot hom vooruit. “Kom,” sê hy. “Jy kan jou storie vir Kalkoen vertel. En om jou onthalwe hoop ek jy’t ’n ordentlike storie, my maatjie. Anders weet ek nie.”
Danda weet nie watter kant toe nie, want voor hom is vier of vyf verskillende deure. Die man stamp hom nog ’n slag vorentoe en stuur hom met die hand na die regterkantste deur. Die deur gaan oop en Kalkoen Viljoen staan voor hulle.
Danda steek in sy spore vas. Want nou, in die daglig, sien hy vir die eerste keer hoe lyk Kalkoen Viljoen régtig. Hy het nie net ’n gebreklike voet en ’n krom hand en ’n haakneus en klein ogies nie – hy het ook ’n eienaardige rooi lel onder sy ken, kompleet nes ’n kalkoen s’n. Vandaar seker sy bynaam.
Kalkoen sê niks, staan net eenkant toe sodat Danda kan binnekom, en die ander man stoot hom oor die drumpel die skemer vertrek binne. “Tiens is weg,” sê die baardman, “maar ek vertrou nie die vrede nie.”
“Wat se stories het jy aan die konstabel staan en verkoop?” vra Kalkoen.
“Hy’t maar net verbygeloop en toe begin hy met my gesels,” sê Danda. “Hy praat altyd met my as hy my in die straat kry.”
“Waaroor het julle gepraat?” wil die baardman weet.
“Stil, Luis, ek sal die vrae vra!”
“Hy’t gevra wat soek ek, toe sê ek ek soek my kraai.”
“Wat se kraai?”
Luis, die baardman, gee ’n snorklaggie. “Hy’s mos die knaap wat die dieretuin aanhou.”
Kalkoen knik.
“Sit daar,” sê hy. “En, Luis, loop hou jy die agterwerf dop.”
Luis gaan uit en Danda kyk in die vertrek rond. Teen een muur is daar kratte opgestapel; die mure is baie lank laas geverf; die vensterruite is so souterig en vol stof dat ’n mens nie buitekant toe kan sien nie; aan ’n spyker teen die binnedeur hang ’n klomp ou klere en ’n karwats, en naby die een hoek hang ’n afdruk van Hans-die-Skipper wat plek-plek deur vismotte bygekom is. Origens is daar net ’n tafeltjie en drie stoele.
Danda gaan sit.
“Ek is bly jy’t gekom,” sê Kalkoen. Sy groot rooi lel bewe effens as hy praat. “Is jy nou seker jy’t vir niemand hiervan gesê nie?”
Danda knik.
“Want as jy het, gaan jy spyt wees, gehoor!”
“Ek het vir niemand gesê nie. Maar as ek nie vanaand by die huis is nie, gaan my pa my begin soek.”
Kalkoen lag sy eienaardige laggie. En asof iemand hom koggel, hom probeer na-aap, kom ’n ander gelag skielik van vlak anderkant die buitedeur. Kalkoen skrik en draai om deur toe, kyk na Danda, kyk weer na die deur.
“Toe maar,” sê Danda, “dis maar net my kraai.”
Netnou nog was hy vies toe die kraai so ongevraag by hom opdaag, maar nou is hy ineens bly om te weet Kiki is naby. Dis ’n soort troos.
Kalkoen loer by die buitedeur uit, maak die deur weer toe en kom nader geskuifel. Hy kom sit op ’n stoel langs Danda.
“Jou pa het by Pontak-hulle ’n boot gekoop voorlaaste jaar, en hy’t ’n jaar gekry om die boot klaar te betaal. Is dit reg?”
Danda knik.
“En toe die jaar verby is, toe’s die boot nog nie klaar betaal nie.” Danda kan sy oë nie wegkry van die bewende rooi lel onder Kalkoen se ken nie. “Toe gee hulle hom nog drie maande om te betaal. Reg?”
Danda knik.
“En toe die drie maande verby is, toe skuld jou pa nóg. En toe vat hulle die boot by hom weg. Reg?”
“Nee,” sê Danda. “Hulle het gesê hulle sal die boot ses maande by hom huur vir die geld wat hy nog skuld. Dan kan hy weer die boot kry.”
Kalkoen lag, en buitekant aap Kiki hom weer na. “Wie sê vir jou so?”
“My pa sê so. Dis hoekom hy nou in die dokke werk. Tot die ses maande verby is. Dan gaan hy weer terug see toe.”
“Met sy boot?”
Danda knik.
Kalkoen sit hom ’n hele rukkie doodstil en bekyk. “Het jou pa ’n kontrak laat opstel vir hierdie huurstorie?” vra hy.
“Hy’t my nie gesê nie.”
Kalkoen sukkel orent en skuifel buitedeur toe. Hy maak die deur oop en loer om die kosyn. “Luis!” roep hy. “Alles nog reg?”
Danda hoor iemand antwoord.
“Gaan haal daardie vent en bring hom hiernatoe,” beveel Kalkoen en maak weer die deur toe. Hy kom terug na sy stoel en neurie skielik weer die vals deuntjie van die vorige aand.
Danda sê maar niks, want dit lyk asof KalkoenViljoen voorlopig van hom vergeet het.
Toe is daar voetstappe buite, en ná ’n rukkie gaan die deur oop. Luis loer in en staan opsy, en agter hom verskyn ’n tamaai maag. Danda kan sy oë byna nie glo nie. Hy kom vinnig orent, maar Kalkoen druk hom weer plat op sy stoel.
“My diep vriend Danda,” sê Sarel Vetvoet en glimlag van oor tot oor. “Ek dág mos ek hoor jou kraai hier buite!”