Читать книгу Danda op Oudeur - Chris Barnard - Страница 5

2

Оглавление

Vetvoet kom met twee, drie lang treë nader, gryp Danda aan die bo-arms en tel hom in die lug op. Kalkoen Viljoen wil nog tussenbeide kom, maar Sarel draai net sy rug op hom, lag ’n slag diep uit sy maag en sit Danda weer netjies op sy voete neer. Hy sê niks, hou net aan lag, en ’n oomblik lank wil Danda hom verbeel die ou grote se oë blink darem vreeslik eienaardig.

“Ek het drie Dinsdae verniet vir jou op die strand gewag,” sê Danda. “Waar was jy?”

Vetvoet kyk na Kalkoen en Kalkoen draai om na Luis. “Toe, Visagie,” sê hy, “wat staan jy hier? Loop pas die werf op!” Die baardman knik eerbiedig en verdwyn oor die drumpel.

“Kan ek maar praat, kameraad,” vra Sarel na Kalkoen se kant toe. Kalkoen trek sy skouers op, half traak-my-nie, en gaan sit.

“Ek het vir hulle gesê,” sê Sarel. “Ek het gesê laat kom vir Danda. En hulle het almal gesê jy sal g’n kom nie, jy gaan kop uittrek, jy gaan nie die moed hê om alleen hier in hierdie hool te kom inkruip nie. Toe sê ek vir hulle: julle ken nog nie vir Danda nie. Ek en Danda het saam honderde kilometers deur oerwoude en storms en droogtes gesukkel, saam-saam tussen die adders en die ongediertes deur; Danda is g’n papbroek nie. Hè, Kalkoen? En julle’t vir my gelag, Kalkoen. En kyk hier. Hier staan hy!”

“Sê wat jy wil sê,” antwoord Kalkoen en kyk anderpad.

“Nee, kameraad,” hou Vetvoet vol, “erken nou maar jy was verkeerd. Vra nou maar ekskuus. Kyk, hier staan hy!”

Kalkoen knik net, haal ’n langsteelpyp uit sy sak en soek sy vuurhoutjies.

Vetvoet stoot ’n stoel nader onder Danda in en hy self gaan sit op een van die kratte. “Jy’t gedink ek bly sommer net weg, nè, Noag? Jy’t seker begin reken ek het voet in die wind ge­slaan toe ek nie opdaag nie. O-ho nee. Nie Sarel Vetvoet nie. Nie só maklik nie. Ek meen, ons het mos darem al ’n tak of twee saam gebreek, ek en jy. Ons het ’n hele rivier saam mak gemaak. Kalkoen, kameraad, ek moet jou vertel van die keer toe ek en hierdie kêreltjie ’n krokodil laat versuip het. Jy skrik jou koud as jy dáárdie storie hoor!”

Danda besef weer: vir Vetvoet is dit lastig om aldag aan die waarheid getrou te bly. Hy is nie gelukkig as hy nie ’n bietjie bylas nie.

“Hy praat darem baie groot,” sê Kalkoen, “vir ’n man wat in die knyp sit.”

Danda kyk na Vetvoet. “Hoekom sê hy so?”

“Ons sal wel hier uitkom,” sê Vetvoet. “Gee net kans. As ek en klein Noag eers ’n slag koppe bymekaargesit het, dan moet jy weet: hier kom nou ’n ding.”

Kalkoen grinnik, suig aan sy pyp. “Praat maar, Sarel,” sê hy. “Ek stel nie in praat belang nie.”

Omdat die venster en albei die deure toe is, begin dit be­dompig raak in die vertrek en Danda kan voel hoe sweet sy hande. Maar dit pla hom nie so veel nie. Hy wil weet wat met Vetvoet aan die gang is. En waar staan Kalkoen Viljoen in die saak? Is hy Sarel se vriend of is hy juis die oorsaak van alles wat nou aan die gebeur is?

Kiki sit weer ’n keel op buite en Kalkoen lig sy kop effens en luister. “Daardie kraai gaan moleste maak,” sê hy. “As hulle hom hier rond gewaar, gaan hulle weet die knaap is hier. En dan sit ons.”

“Wat sal hulle hier kom soek?” vra Vetvoet.

“Hulle is die ene ore en oë; jy weet self. Ek reken julle moet praat en klaarkry.”

Vetvoet lag weer. “Jy sê niks, Noag?”

Sedert die tyd toe Danda en sy diere met die tuisgemaakte vlot die lang riviertog afgelê het, het hy by baie van sy vriende die bynaam Noag gekry. Maar dit was Sarel Vetvoet wat hom eerste so genoem het.

“Wat kan ek sê?” Danda sluk. “Ek weet nie waarvan julle praat nie …”

Kalkoen lag sy rare laggie en sukkel orent. “Hierdie man hierso,” sê hy, “is in die moeilikheid. En sommer diep in die moeilikheid.” Hy steek sy pyp in sy mond, kou dit ’n slag, en praat dan langs die pypsteel verby. “Ek gee jou drie raaie hoekom.”

Danda skud sy kop.

“Is dit waar dat jy verlede jaar op ’n vlot met ’n spul diere rivier af gekom het hawe toe?”

“Ja,” sê Danda.

“Is dit waar dat Vetvoet met jou saamgekom het?”

“Ja.”

“Is dit waar dat julle op ’n slag langs die rivier ’n ou raakgeloop het met die naam Hans Hoed?”

Danda sluk en kyk na Vetvoet, want hy kan nie so iets ont­hou nie. Maar Vetvoet vou sy arms en trommel met sy dik vingers op sy elmboë.

“Toe,” sê Kalkoen. “Is dit waar? Hans Hoed wou jou met ’n mes bykom, toe foeter Vetvoet hom pimpel en pers. Is dit waar?”

Danda loer weer na Vetvoet, maar die ou grote kyk anderpad. En dit help nie juis nie. Is Kalkoen Viljoen hierdie Hans Hoed se vriend, kan Danda by die waarheid bly en pront-uit sê nee. Maar is Kalkoen en Hans Hoed vyande, kan dit dalk vir Vetvoet help as Danda die storie bevestig.

“Hoekom sê jy niks?” vra Kalkoen.

Vetvoet snork skielik. “Los nou dié ou storie, kameraad. Ek sê jou mos ek het Hans Hoed opgedons!”

“Bly stil!” snou die man met die lel en kyk weer na Danda. “Hierdie man,” sê hy en wys met sy duim half oor sy skouer na Sarel, “is in die gemors oor hy weer kluitjies verkoop het.”

Vetvoet vlieg op. “Ek sê jou dis nie kluitjies nie. Dis die waarheid!”

Kalkoen sug en suig weer aan sy pyp.

“En ek sê jou nog ’n ding,” sê Vetvoet. “Ek gaan nie meer wegkruip nie. As daardie spul my soek, kan hulle my kry. Ek sien kans vir die hele lot – Pontak en Dons en Trens Koster en almal!”

Kalkoen swaai om, gluur na Sarel. “Jy sit jou voet uit hier­die plek uit en jy’s óf môre agter die tralies óf Pontak-hulle kom jou in ’n agterstraatjie by.”

Danda kan nie kop of stert van die argument uitmaak nie. Al wat hy weet, is dat dié Pontak en Dons de Waal en Trens Koster waarvan hulle praat, die drie gevaarlikste en mees ge­vreesde skobbejakke in die hawe is. Praat jy van een van dié drie, dan praat jy van moeilikheid. Praat jy van al drie, is dit so goed jy laat die duiwel los. Waar hulle kom, is daar altyd moleste, en die meeste matrose en dokwerkers en vissermanne bly maar liewer uit hulle pad uit. As dit húlle is met wie Vetvoet deurmekaar is, is dit geen wonder dat hy nou al weke lank wegkruip nie.

Gaandeweg, terwyl Kalkoen en Sarel argumenteer, begin die storie vir Danda vorm aanneem.

Vetvoet en Hans Hoed het skynbaar een middag in die kantien stry gekry oor een van Vetvoet se vriende. Hulle het mekaar met die vuis bygedam en Hans het die slegste daarvan afgekom. In die proses is ’n stoel en ’n tafel en ’n klomp glase gebreek en Eriksson, die kroegman, was só kwaad dat hy vir konstabel Tiens laat kom het. Later die middag is Vetvoet daar weg dokke toe en volgens hom het Hans hom agternagesit en met ’n mes gedreig. Die volgende môre het hulle Hans Hoed by die dokke gekry. Hy was dood.

“Toe gaan hierdie swaap heen,” sê Kalkoen en wys na Vetvoet, “en hy vertel vir almal hy’t Hans Hoed geslaan tot hy bly lê en hom toe daar gelos. En ek weet hy lieg.”

“Hoe weet Oom dit?” vra Danda.

“Die middag met die bakleiery in die kantien was ék die een wat hulle uitmekaar gemaak het. En hierdie vent is saam met my daar weg, en hy was heelaand by my gewees.”

Vetvoet skud net sy kop.

Kalkoen sukkel deur toe en maak dit oop. “Luis!” roep hy buitekant toe. “Kom hier.”

Luis praat iewers van ver af.

“Nou hoekom kom sê jy nie?” vra Kalkoen.

Luis sê weer iets, en Danda kan sien hoe rek Vetvoet se nek om te probeer hoor. Kalkoen kyk oor sy skouer terug na hulle toe, gaan uit en trek die deur agter hom toe. En soos blits is Vetvoet by Danda.

“Ek bly nie ’n dag langer hier nie,” hyg hy. “Hierdie Kalkoen krap al my planne deurmekaar!”

“Maar wie is hy?” vra Danda. “Ek dag hy’s jou vriend.”

“Soort van,” sê Vetvoet. “Hoewel, mens kan nie juis sê hy’s dié of dáárdie een se vriend nie. Hy’s aan almal se kant, en hy’s aan niemand se kant nie. Almal is bang vir die ou vreksel.”

“Jy ook?”

“Wat wo!” sê Vetvoet, maar hy sê dit op ’n manier wat Danda glad nie oortuig nie.

“Hét jy daardie ander ou doodgemaak?”

Vetvoet knik. Maar hy kyk nie vir Danda nie, hy kyk anderpad. En Danda weet skielik Sarel jok al weer.

“Jy glo my nie?”

“Nee,” sê Danda. “Jy sal nie ’n mier doodmaak nie. En jy weet dit. En ék weet dit.”

“Jy ken my nog nie. As ’n ou met my sukkel soos Hans Hoed met my gesukkel het, dan gee ek hom wat hy soek.”

“Jy’t oor my gejok. Hans Hoed het my g’n met ’n mes –”

“Los dit vir my,” sê Vetvoet. “Ek weet wat ek doen.” Hy loer deur toe, luister ’n oomblik. Iewers in die agtergrond hoor hulle Kalkoen en Luis praat. “Jy ken die grot hier anderkant Puntjie – jy weet, die een onderkant die rooikransbos.”

“Ek was al daar.” Danda knik.

“Ek kry jou môremiddag daar.”

“Hoe laat?”

Maar daar is skielik voetstappe en Vetvoet swaai om en gaan staan voor die venster. Die deur gaan oop en Kalkoen en Luis verskyn.

“Het jy en jou jong vriend nou klaar gekuier?” vra Kalkoen vir Sarel. “Ek dink Tiens het snuf in die neus. Hy was netnou in die kantien.”

“Ons het nog nie eers begín kuier nie,” sê Vetvoet.

“Jy’t gesê jy wil hom net vyf minute sien sodat jy hom kan sê jy’s veilig. Jou vyf minute is al hoeka verby al.”

“Kom,” sê Luis vir Danda. “Jou kraai het omtrent al die papelellekoors hier buitekant.”

Danda staan op, maar Kalkoen lig sy gebreklike hand. “Ont­hou nou net,” sê hy. “Jy sê vir niemand jy was hier nie. Nie eens vir jou pa nie. En van Sarel Vetvoet weet jy net mooi niks nie, gehoor? Niks!”

Danda knik.

“My diep vriend,” sê Vetvoet, “dit was goed om jou weer te sien!” Hy glimlag en vryf ’n slag oor die groot vratte op sy neus – maar dis net sodat Kalkoen nie moet sien hy knipoog vir Danda nie. “Bly jy maar uit hierdie ding uit – ek sal wel vir myself sorg.” Hy klap Danda op die skouer en Danda knik en beweeg deur toe, waar Luis al op hom staan en wag.

“Onthou!” roep Kalkoen Viljoen agterna. “Nie ’n woord nie of ek trek jou basvelle vir jou af. En jy bly hier weg tot ek jou sê jy kan weer kom.”

“Goed,” sê Danda.

Die deur gaan agter hulle toe en die volgende oomblik kom Kiki met swiepende vlerke op hulle af. Hy pik ’n slag na Luis, kom sit op Danda se skouer en skop ’n lawaai op, kompleet asof hy sy baas berispe.

Luis beduie met sy arms. “Maak stil daardie ding – netnou hoor die diender ons!”

Hulle loop koes-koes oor die binneplaas en Luis stoot die hoë heining se sinkdeur oop. Danda loop deur en begin die trap boontoe klim sonder om te groet. Eers toe hy bo in die straat is, gaan hy weer staan. Hy kyk links en regs.

En aan die bopunt van die straat staan die bedelaar nog steeds windskeef tussen sy krukke.

Die res van Danda se middag is omgekrap. Hoe meer hy pro­beer uitpluis aan die dinge wat hy gesien en gehoor het, hoe minder verstaan hy daarvan. Is dit moontlik dat Sarel Vetvoet iemand kan doodgemaak het? Soos hý Sarel ken, is dit heeltemal buite die kwessie. Vetvoet praat wel groot, ja; hy vertel met smaak die afgryslikste stories, maar toe hy en Danda een middag in die vygieduine langs die riviermond op ’n halfdooie hasie in ’n strik afkom, kon einste Sarel dit nie oor sy hart kry om die diertjie van kant te maak nie. Danda moes dit self doen.

’n Méns doodmaak? Nie Vetvoet nie.

En dié Hans Hoed. Wie is hy? Een van Pontak-hulle se vriende, seker – maar wat was Vetvoet se verbintenis met hom?

Dan is daar nóg iets wat Danda nie kan begryp nie. Sy pa vertel hom nooit van alles wat in die dokke gebeur nie, maar as daar darem iemand vermoor word, bly ’n mens nie so stil daaroor nie.

Dié aand praat Danda nie met sy pa oor die saak nie. Of hy dit sou regkry sonder om onnodige hase op te jaag, is maar een probleem. Want kans om te probeer, kom daar nie. Hulle het pas klaar geëet, toe word daar aan die deur geklop. Danda gaan maak oop. Dis tant Sara, ’n vriendin van sy pa wat langsaan woon. En Danda weet al – as Sara kom, dan gesels sy en sy pa altyd op die stoepie of onder in die werf, of hulle gaan stap in die dorp. En as jy die hele middag alleen was, is dit nie lekker om nog saans ook sonder geselskap te sit nie.

Buitendien hou Danda nie baie van Sara nie. Sy is altyd kortaf met hom en sy diere, en sy maak altyd haar lippe te rooi. Sy pa koop vir haar sjokolade en borsspelde en sulke goed, en Danda het nog nie één keer gehoor dat sy dankie sê nie. As hý by sy pa iets kry, sê hy altyd oor en oor dankie, want hy weet alles kos geld en geld is skaars en sy pa werk hard vir die bietjie wat hulle het.

Sara se lippe is weer rooi en sy en sy pa gesels ’n rukkie op die agterstoep en gaan later saam teen die trap af. Danda is al in die bed en byna aan die slaap voordat hy weer die agterdeur hoor oopgaan. Hy lê en luister hoe sy pa water in die bad indra, maar hy kan nie wakker bly nie. En die volgende oggend toe hy wakker word, is sy pa al klaar weg werk toe.

Op pad skool toe moet hy voor die polisiestasie verby en soos gewoonlik dié tyd van die oggend staan konstabel Tiens in die deur en koffie drink. Danda hou hom skraal en wil koes-koes verbystap, maar die konstabel het valkoë.

“Jy daar, Daneel,” roep hy. “Kom staan bietjie nader.”

“Ek is laat,” sê Danda.

“Laat se voet. Dis nou eers twintig voor!”

Danda steek die straat oor en gaan staan in die hekkie, boek­sak oor die skouer.

“Bietjie koffie?” vra Tiens.

“Nee dankie, Oom.”

Die konstabel het ’n pikswart hangsnor en sy tande is ge­vlek van baie pyprook.

“Jy’t gedag ek sien jou nie gistermiddag nie, nè?”

“Waar, Oom?”

“Jy weet goed waar. Wat soek jy daar by die kantien?”

“My kraai, Oom.”

“Dis ’n gevaarlike plek daardie vir ’n bog soos jy. Toe jou kraai gekry?”

“Ja, Oom.”

Tiens glimlag, kom nader gestap. Hy sit sy koffiekoppie op die hekpaal neer, klap vir Danda op die skouer en vou sy hande oor sy groot maag. “Jy en daardie Vetvoet-vent is mos sulke groot maats.”

Hier kom moeilikheid, dink Danda.

“Wanneer het jy hom laas gesien?”

“Ek sien hom nie meer so baie nie,” sê Danda. “Hy’s deesdae maar skaars.”

“Hm.” Tiens knik. “Hy’s skoonveld as jy my vra. Hoe ’n soort ou is hy?”

Danda kyk die konstabel vas in die oë. “Sag soos ’n lammetjie,” sê hy.

“O, nè?”

“Hy praat baie groot en so, maar hy’s ’n gawe ou.”

“Hm,” sê Tiens en wieg op sy tone.

“Regtig,” sê Danda.

“Hy’s ’n leuenaar en ’n droster en ’n kansvatter, dis wat hy is.” Tiens buk vertroulik vooroor, loer oor sy skouer en wink Danda nóg nader. “Hoor hier, Daneeltjie,” sê hy, “as jy vir my kan vasstel waar die vent is, gee ek jou die grootste pasella wat jy nog ooit in jou lewe gekry het!”

Dit sál ’n groot pasella moet wees, dink Danda, as dit ’n groter pasella wil wees as Rosina. “Ek sal kyk, Oom.”

Tiens glimlag weer en knipoog vertroulik.

“Hoekom soek Oom hom?”

“Dis polisiesake.”

“O,” sê Danda. “Nou maar goed, Oom. Tot siens, Oom.” En hy draai om en stryk straat af sonder om om te kyk. As dit dan sulke danige polisiesake is, dink hy, hoekom soek Tiens hom nie self nie?

In die klas wens hy die periodes om. Kort pouse kry hy weer nie vir Rosina te sien nie, maar lang pouse loop hy haar op die stoep raak. Sy kyk anderpad toe sy hom sien, maar hy weet ook al – op die skoolwerf is sy altyd skaam en afsydig, soos sy aan die begin was. Maar Woensdae-middae langs die see word sy haarself – nog skaam, ja, maar ten minste nie afsydig nie.

“Rosina,” sê hy, “kan jy vanmiddag kom?”

Sy skud haar kop.

“Probeer kom, man; ek het ’n klomp goed om jou te vertel,” sê Danda.

“Ek kan nie,” sê sy net.

“Probéér!”

Daar is skielik voetstappe agter hulle en Rosina stap haas­tig verder, haar kop effens skuins soos altyd wanneer sy verleë voel.

Die middag wag hy vir haar by die ou vissershawe, maar soos hy verwag het, daag sy nie op nie. Die diere is saam met hom en ’n rukkie speel hy met Vlooi in die vlak brandertjies. Toe begin hy koers kry Puntjie toe. Vetvoet het nie gesê hoe laat hy by die grot moet wees nie, maar enige tyd is seker goed genoeg.

Dis herfs en die middag is winderig en die see lê grys onder die bleek lug. Maar die diere is baldadig en Vlooi en Ratel hardloop ente vooruit – Vlooi vooraan en Ratel mankerig agterna. Kiki vlieg wye draaie en probeer die seemeeue jaag, maar hulle is gans te slim vir hom. En Sindo, bangbroek wat hy is, kruip in Danda se hempskraag weg; hy kan maar net nie die lawaai van die branders verdra nie.

Naby die wrak van die Constantine, ’n ou treiler wat halfpad Puntjie toe op die sand lê, gaan Danda staan. Verbeel hy hom of het hy iemand hoor roep? Hy kyk rond en sien hoe Vlooi met gespitste ore staan en kyk – terug, na waar hulle vandaan kom. Hy kyk om en sien ’n man haastig aangestap kom. Toe die man sien Danda gewaar hom, beduie hy iets met sy arms. Ratel merk ook onraad en kom staan hier by Danda se voete. Hy probeer sy bes om gevaarlik te lyk en kyk kort-kort op om te sien of sy baas dit raaksien.

Eers toe die man naby is, herken Danda hom. Dis Luis.

“Waar loop jy so alleen rond?” wil Luis al van ver af weet.

Deesdae wil almal skielik weet waar hy so alleen rondloop, dink Danda. Wat makeer hulle? Hy loop al sy lewe lank alleen rond en niemand was nog ooit daaroor bekommerd nie. Dis in elk geval beter om alleen te wees. Waar daar mense is, is daar tog net altyd moeilikheid.

“Ek sê,” sê Luis, “wat dwaal jy so?”

“Sommer,” sê Danda.

Vlooi kom nader en knor – en Luis steek vas. “Byt hierdie brak van jou?” vra hy.

“Hy’s g’n ’n brak nie,” sê Danda, “en hy byt dat dit bars.”

Luis betrag vir Vlooi en kan skynbaar nie besluit of hy Danda moet glo of nie. Hy snuit sy neus op die sand en kyk oor die see. “Het jy gehoor van Sarel?” vra hy.

“Wat van hom?”

“Dis juis wat ons nie weet nie. Hy’s weg. Vanmôre toe ek hom in sy kamer gaan soek, toe’s die deur afgebreek en sy bed is deurmekaar en vol bloed en als. En hy’s skoonveld.”

“Bloed?” Die wind laat Danda skielik koud kry.

“Al van hom wat agtergebly het, is sy skoene en sy hemp. En die hemp flenters. Kompleet in twee stukke.”

Danda kan nie glo wat hy hoor nie. Hy hou Luis baie fyn dop – soek iets in sy gesig, in sy oë, iets wat hom sal laat weet dis ’n set hierdie. Maar Luis lyk doodernstig.

“Dis nie waar nie, Luis.”

“Hoekom sal ek oor só iets lieg?” Luis krap op die plek waar sy regteroor moes gewees het. “Die arme blikskater is dalk dood!”

Vetvoet? Dood? Danda sluk. Dit kan nie wees nie …

En voor hy hom kan keer, swaai hy om en begin hardloop. Nie strand langs nie, sommer tussen die rooikransbosse in, ’n duin uit, deur die melkhout. Hy hoor hoe Luis iets agterna­roep, maar hy wil nie hoor nie. Hy hardloop net. Anderkant die duin af. Hy rus nie voordat hy agter om Puntjie se rots verby is nie. Arme Ratel is teen dié tyd so moeg van probeer bybly dat hy skaars kan loop. En dis mos nou van Ratel: hoe moeër hy is, hoe manker is hy.

Danda sit ’n hele ruk in die skaduwee van ’n deurmekaarbos. Hy wag om te sien of Luis dalk probeer agternakom. Maar ná omtrent ’n kwartier is daar nog geen teken van hom nie.

Luis het nie gejok nie. ’n Mens kan in iemand se oë sien as hy jok, en Luis se oë was swart en sonder die geringste sweempie van onsekerheid.

Kon Pontak-hulle vir Vetvoet kom haal het? Hulle het dalk geweet waar Kalkoen hom wegsteek. Dalk het hulle hóm gesien toe hy daar was en het dít hulle op Vetvoet se spoor gebring. Kiki het juis so lawaai.

Die wind skeer oor die bossies en die duine en in die weste stoot daar lae wolke voor die son in – groot, grys, slierterige wolke wat van die berge af see toe waai. Danda staan op, fluit vir die diere en begin stadig al tussen die duine langs aanstryk, terug Puntjie toe. Maar hoe verder hy stap, hoe haastiger word hy. Hoekom gee iemand pad sonder sy skoene en sy hemp as hy nie met geweld …

Maar Vetvoet is so sterk soos ’n bees. Dit sou ’n hele paar man moes gekos het om hóm saam te neem. En so ’n gestoei en gespartel sou mos aandag getrek het.

Danda begin weer draf.

Hy swaai regs en steek dwars oor die duinrûe. Maar Ratel sukkel om by te bly en kort-kort moet hy eers wag dat die ou manke kan rus. Sindo en Vlooi snap blykbaar dat daar onraad is, want albei is onrustig. Vlooi hardloop nie meer so ver vooruit nie; hy bly heeltyd naby en op sy hoede en Sindo probeer aanmekaar om onder Danda se hemp in te kom. Net Kiki het vrede met die wêreld, vlieg wye draaie, koggel vir Ratel en probeer sy bes om soos ’n hond te blaf.

Die see is skielik weer sigbaar voor hulle, vaal en vol donserige skuimkappies. Danda hou teen die laaste duin langs tot tussen Puntjie se eerste rotse. Toe begin hy moeg tussen die bome deur opsukkel in die rigting van die grot.

Hierdie keer is dit Kiki wat eerste kom waarsku. Danda is nog besig om homself uit ’n spul rankdorings los te woel toe die kraai skielik alarm maak en halsoorkop teruggefladder kom. Vir die eerste keer dié middag kom sit hy op Danda se skouer.

Vlooi weet ook al: dít doen Kiki nie om dowe neute nie. As hy sy streke so skielik laat vaar en kom geselskap soek, is iets nie pluis nie.

Danda gaan staan en bekyk die omgewing. Dis stil; net die wind waai. Die hond lig sy kop en besnuif die lug.

“Wat is dit, Vlooi?”

Ratel kom hygend by en snuffel aan Danda se voet.

“Vlooi?”

Die hond draf ’n entjie hoër teen die steilte uit, neus teen die grond, kry blykbaar ’n spoor, swaai regs, draf nog ’n entjie en gaan staan. Hy kyk na sy baas.

“Sien jy iets?”

Danda wag nog ’n rukkie. Toe begin hy so geluidloos moontlik verder klim. Die grot moet nou naby wees. Hy was nog net een keer vantevore daar, en soos hy onthou, was die ingang effens weggesteek tussen ’n paar groot rotse. En daar was ’n klos digte bome naby. Dit moet die plaat rooikransbome hier bokant hom wees.

Danda hou vir Vlooi dop en sien hoe die hond weer ’n spoor kry en soek-soek verder draf, al nader na die bome toe. Hy laat die hond maar begaan, onseker wat hy moet verwag en wat hom presies te doen staan. Net een ding weet hy sonder twyfel, en dit is dat daar iemand naby is.

Toe rol daar skielik iewers ’n klip los, en dit begin teen die steilte af bokspring. Vlooi blaf. En bo tussen die groot rotse, twintig treë van Danda af, staan Pontak.

Danda op Oudeur

Подняться наверх