Читать книгу 'n Man van min belang - Chris Karsten - Страница 5
Hoofstuk 1
Оглавление1
Aan die ontbyttafel vertel hy vir Snowy van vier geraamtes wat opgegrawe is.
Sy onderbreek hom nie, kyk ook nie op nie, asof die kos op haar bord al haar aandag verg. Eers toe Luca stilbly en aan sy koffie sluk, lig sy van oorkant die tafel haar gesig na hom op, en hy sien die blik en hy dink: Sy sukkel om te verstaan wat ek sê.
Sy laat sak weer haar oë en pik-pik met haar vurk aan die roereier. Sit dan die vurk neer, stoot die bord weg en kyk op, haar oë die glans van karamel.
“En jy dink jou pa het daarmee iets te doen gehad?”
“Ja.” Hy druk met die papierservet aan sy bolip, dan aan sy voorkop. So vroeg al warm, in dié helse plek. Hy moes nie die koffie gedrink het nie.
Met ’n sagte sug skuif sy haar stoel agteruit en staan op. Sy gaan staan voor die glasdeur en vat aan die sisgordyne asof sy nou die verbleikte patroon van blou fuchsiakelkies bestudeer. Maar dan trek sy die gordyn oop en kruis haar arms voor haar en staar buitentoe.
Sy staan lank so, net die getjir van die plafonwaaier in die bedompige stilte van die huis. Vee met ’n geïrriteerde gebaar die haarslierte van haar wang weg en sê beslis: “Hy is nie só nie. Hy het met daardie geraamtes niks te doen nie.”
Luca kyk na haar lang hare, die kleur van as, roerend in die bries van die waaier, haar lyf vol in die los katoenrok. Hy gaan staan langs haar en volg haar blik deur die venster na die dorre landskap buite. Wolkloos en bakkend al so vroeg in die oggend herinner dit hom aan die Karoo, net meer klip, minder bossies, platter, ’n troostelose vergetelheid.
“Het hy met jou daaroor gepraat, Snowy? Wat het hy vertel? Wat is sý storie?”
“Hy het geweet jy gaan kom.” Byna net ’n fluistering. “En jy hét. Jy is hier.”
“Hy het geweet? Hoe kon hy weet, hoe kan ’n dooie man so iets weet?”
Sy draai haar gesig na hom, om haar lippe ’n sweem van ’n treurige glimlag. “Hy het net geweet. ’n Ouer kan sulke goed aanvoel. Dis soos dit is.”
Hy staar na haar, dan weer buitentoe – die wanhopige uitsig hier aan die agterkant van haar huisie in die laaste straat van die dorp. Voor hom die versengende werf en verder aan twee stofdwarrels, voor die haaivlakte verswelg word deur die blink spieël van die opgeefsel oor die soom van die Simpsonwoestyn. En steeds verder, tot doer gunter waar die oerberge, blou en voetloos, op die einder glimmer.
Sy reik na sy hand. “Kom.”
Die tyd het aangebreek, dink hy. Hy het hom kom soek, nou het hy hom gekry, maar hy aarsel, sy blik terug op die werf, op die stowwerige hond met die rooi tong hygend in die skadu van ’n doringboom. Hy vee met die agterkant van sy hand oor sy voorkop, kom agter hy het steeds die servet, druk dit weer oor sy neus en wange.
“Ek was net ’n kind toe ek hom laas gesien het. Sal ek hom herken?”
“Dis oukei,” sê sy. “Kom.”
Hy vat haar hand en sy lei hom in die gang af, verby ’n oop deur met die sagte aroma van lyfpoeier en laventel, nog ’n oop deur, dié van ’n badkamer. Die derde deur is op ’n skreef toegetrek. Sy stoot dit oop en tree binne.
Luca steek op die drumpel vas, begroet deur die reuke van siekte en medisyne en ou nagsweet.
“Jy kan maar naderkom,” nooi Snowy.
Hy bly staan, starend na die man op die bed.
“Is … is dit hy? Is dit my pa?” fluister hy.
Die figuur op die bed is skaars ’n man, eerder net die gedaante van ’n man, die wange ingevalle en ongeskeer, die hare yl en grys. Sy onderlyf is bedek deur ’n ou deken, ’n kwilt, dink Luca, sy ouma het so een gehad, met ’n geskulpte soom.
“Nee, dis nie hy nie.” Hy wil omdraai.
Die sagte hand teen sy kruis keer hom, por hom nader bed toe.
“Jy herken hom nie?” Snowy leun oor na die gesig op die kussing, soen die bleek voorkop, kom orent en beduie na ’n regop stoel. “Sit. Hy sal netnou wakker word. Dan kan julle gesels. Julle het baie om oor te gesels.”
Hy gaan traag sit, hande op sy skoot, vingers verstrengel, sy oë op die crêpevel van die hande en maer arms, die knopperige bors wat onder die gevlekte frokkie dein.
“Jy vat hom nie van my af weg nie. Dis sy plek hierdie,” sê sy. “Dis al plek wat hy het.”
So, dink Luca, dís hoe ’n ou lafaard lyk. Weggekwyn en weggesmyt.
Hardop sê hy: “Hy kan hier bly. Jy kan hom hou, al is dit my pa.”
Sy kom sit op die ander stoel, die een teenaan die bed, die geriefliker een met die gesonke kussing van baie sit.
“Dis ’n lang tyd vir ’n kind,” sê sy. “Hoe lank was dit?”
Hy aarsel. Hy weet presies, maar dis asof sy brein sukkel om woorde te vind vir daardie groot gaping van tyd waarin soveel ander dinge gebeur het.
“Hy is in ’95 weg. Dis die laaste keer dat ek hom gesien het. In ’95.”
Hy vee oor sy oë, nou bewus van ’n dowwe pyn, miskien van die ondraaglike hitte, en vou weer sy hande. Hoe kan mens lééf in hierdie plek?
Die laaste keer dat hy sy pa gesien het, was deur kinderoë. Sy pa was toe groot en sterk, sy voorarms gespierd en bruingebrand, ’n pa op wie jy kon vertrou, by wie jy áltyd veilig kon voel.
“Jy kan maar huil,” sê Snowy. “Trane is oukei.”
“Ek huil nie. Ek hét hom al ’n slag begrawe, ek is uitgehuil oor my pa.”
Sy vat die roerlose hand op die laken tussen albei haar palms, hou dit vas. “Hy’s ’n goeie man, jou pa.”
Luca kyk na haar, na die teer blik in die klam oë, en terug na die man wat hy nie ken nie, net sy nagedagtenis.
“’n Goeie man? Herder, Snowy …”
Sy pa se naels was altyd skoon en geknip, sy wange altyd glad geskeer, sy skoene blink, sy hemde sonder kreukel. Hy ken nie ’n pa in ’n ou frokkie met die reuke van sweet en suur nagasem en medisyne nie.
“Vat aan hom. Wanneer het jy laas aan jou pa gevat?”
Hy haal sy skouers op. In ’95 in die Wimpy. Dis wanneer hy laas aan sy pa gevat het. En sy pa aan hom. Sy pa het vir hulle hamburgers bestel en oor die tafel na sy hand gereik en dit vasgehou en vir miskien tien sekondes het sy hand knus en warm soos ’n klein diertjie in die groot hand van sy pa gelê. Hy was verras deur dié onverwags intieme vertoon van geneentheid, want sy ma het altyd gesê: “Jou pa is nie van die demonstratiewe soort nie. Hy’s nie vatterig nie.” Maar daardie aand in die Wimpy het sy pa sy hand vasgehou. Die laaste keer. Die volgende dag het hulle die tyding van sy dood gekry.
Luca sê, sy oë op die slapende man: “Dis nie hy nie, ek wil nie aan hom vat nie.”
Dis ’n gesig wat hy nie ken nie. Dis ’n vreemde man met vreemde geheime. Maar sy pa het ook geheime gehad, dit het hy later agtergekom; so baie dinge wat hy nie weet van die pa wat hy destyds as kind geken het nie.
Hy staan op, gaan staan by die venster, staar deur die kantgordyn na dieselfde troostelose uitsig as uit die woonkamer. Hy draai terug, kyk in die kamer rond asof hy uitkomplek soek. Die muurpapier is verweer en plek-plek bruin gevlek.
“Jy moet dit glo,” sê sy.
“Wat? Wat moet ek glo?”
Dan sien hy die portret teen die muur langs die ou hangkas, oorkant die voetenent van die katel van gietyster, asof die plek vir die portret met sorg uitgekies is sodat dit die eerste ding is wat die slapende man sien wanneer hy sy oë oopmaak. Die foto is in ’n ovaalraam van hout met skilferende vernis soos iets wat vervel.
En die skok is soos ’n hou op sy krop. Snowy, ’n veel jonger Snowy, laggend met die wit van haar tande skerp afgesteek teen die bruin vel, haar oë op plesierige skrefies. En hy herken die pa van sy kindertyd, net ’n effense glimlag, want daardie pa het selde sy emosies gewys. Maar wanneer hy geglimlag het, was dit asof God sélf gelag het. Net soos God het sy pa hom ook nie met ligsinnighede opgehou nie.
“Luca?”
“Ja?” Hy gaan sit weer.
“Jy hoor my nie. Ek vra: Het jy jou pa ánders geken as ’n goeie pa?”
Hy skud sy kop. “Nee, dis hoe ek hom geken het: ’n goeie pa. Maar ek het hom skaars geken. Ek was net dertien toe hy weg is.”
“Moenie hom te hard oordeel nie.”
“Nie te hard nie? My pa is in ’n karongeluk dood, Snowy, ek het by sy kis gestaan en huil, ek het by sy graf gehuil, ek het nagte omgehuil oor hom. Nou sê jy dis hý hierdie, dis my pa, hierdie man op jou bed, en ek moet hom nie te hard oordeel nie?”
“Gee hom kans. Jy sal verstaan.”
“Wat het hy jóú alles vertel, al die treurmares wat jou hart so week gemaak het?” Hy bekyk die grys stoppels, die mond wat effe oophang. “Nee, los dit, ek wil dit nie hoor nie,” sê hy dan.
“Ek het iets in sy oë gesien. Iets wanhopigs, soos iemand wat verdwaal het, of verlore is, of weggegooi, en nie sy pad terug kan vind nie. Dis wat my week gemaak het, die uitdrukking in daardie oë.”
“Hy’t nie verdwaal nie, Snowy, en hy’s nie weggegooi nie. Hy’t sélf weggeloop. Dis wat ’n lafaard doen, hy vlug as sy sondes hom inhaal.”
“Ek het vir hom gesê: ‘Jake, jy kan nie die dinge van die verlede ongedaan maak nie. Dit het gebeur, en wat dit ook al was, dis nou deel van jou. Jy moet daarmee saamleef.’”
“Jake? My pa is Eddie. Hy’s g’n Jake nie. Het hy daaroor gepraat? Oor vier geraamtes?”
Sy kyk nie na hom en dit lyk nie of sy hom hoor nie. “Dit het lank gevat, maar hy het weer ’n plek gekry,” sê sy.
Hy kyk na die medisynes op die bedkassie, lees die etikette. Agter sy oë klop die pyn. Langs die waterglas en pilbottels en snesieboks merk hy die boek onder die bril, die hoeke gekrul van baie lees. Hy herken die titel van jare gelede, een van sy pa se gunstelinge. Hoeveel kere sou hy dit al gelees het? Hy moet die storie al uit die vuis ken, soos hy die fabels en sprokies van destyds vertel het, met sy eie kinkels en draaie.
“Ek het ’n fout gemaak, Snowy, ek moes nie gekom het nie. Ek sal julle nou alleen los, ek sal nie langer pla nie.”
Sy strek haar hand uit en vat sag aan sy voorarm. “Nee, moenie loop nie. Nie nou nie. Hy’t so lank vir jou gewag. Nou kan jy ook rus kry. Julle kan mekaar help.” Haar palm warm, koesterend op sy vel.
Die gesig op die kussing lok hom terug. Die geslote ooglede, dun, byna deurskynend soos sneespapier, beweeg asof hy hulle hoor praat en wakker wil word en deel wil wees van hulle gesprek.
Sy leun oor, haar mond naby sy oor. “Jake, hy’s hier. Luca. Jy het gesê hy sal kom, en nou’s hy hier.”
Die gefladder van die ooglede, die kop draai skuins, die oë halfoop, en asem, ’n sug eintlik, ontsnap oor sy lippe. Sy trek ’n snesie uit vir die waterigheid in die hoeke van sy oë en mond, dep dit.
Dan ontmoet hulle oë, soos dié van vreemdelinge. Maar nie een kyk weg soos vreemde oë doen ná die eerste vlugtige aanblik nie.
Snowy staan op en sê: “Hy’s wakker. Help my, lig sy bolyf op dat ek die kussings agter sy rug kan inkry.” En toe hy hoër teen die kussings rus, lig sy die glas na sy mond en hy sluk sonder dat sy oë, waterig en bleek en diep in hulle kasse, van Luca s’n wyk.
Snowy laat sak die glas en dep die klam lippe. “Ek los julle nou,” sê sy. “Julle kan nou gesels.”
2
Hulle staan op die strand, hulle kort middagskaduwees oor die ploegslakkies wat in die wit Weskussand dowwel.
“Gaan jy dit skryf?” vra Luca.
“Nee,” sê Luther, “ek het afgetree.”
“Jy gaan nie jou laaste storie afsluit nie?”
“Nee, ek skryf nie meer nie. Ek lees nou net wat ander skryf.”
“Dan is dit goed, dan sal ek jou van Snowy vertel.”
“Ja, vertel my, ek wil van jou pa hoor, waaroor julle alles gesels het. Hoe oorbrug ’n pa en seun ’n gaping van byna twee dekades? Dís waaroor ek nuuskierig is.”
Luther bekyk by sy tone die ploegslakkies se kriskras-sleepsels soos ’n ou Brahmaskrif, antiek nes sy maer ou kuite uit die wye pype van sy lang kortbroek, die blou are onder die bleek vel, haarloos geskuur deur sestig jaar se sokkies. Hy begin gewoond raak aan die leefstyl van ’n pensioentrekker. Dis nie te moeilik nie, veral nie hier nie. Hy voel klaar tuis in hierdie wit kussoom van eertydse vissershuisies met hulle gesteelde uitsig van bokant die rotse en plat duine oor die see. Ondervelders wat dit kom inpalm en opknap het, en toegerus het met satellietskottels en wynkelders en diefalarms, sodat hulle ongesteurd hulle TV-sepies kan geniet en sorgvry en effe lighoofdig kan adem aan die osoon van seelug soos die reuk van vars gewaste lakens.
Die jong man met die fris bruin kuite en kaal voete langs hom sê: “Snowy is van die Pitjantjatjara, oorspronklik van Alice Springs. Maar sy’s nie daar gebore nie, sy sê haar voorsate was swerwers, hulle is op enige plek gebore. Alice is net makliker, én korter as Mamungkukumpurangkuntjunya: plek waar die duiwel pis.”
Luther kyk na hom op. “En julle gesels en verstaan mekaar?”
Die jong man grinnik, en die grinnik en sy oë verskuil agter die sonbril, verklap niks van sy gemoed nie. Maar Luther kan hom die onstuimigheid voorstel onder daardie blakende voorkoms, hy het eerstehandse kennis van daardie woelinge.
“Ja, ons het lekker gesels,” sê Luca. “Sy in haar Doer Onder-dialek, al lê die Pitjantjatjara nog swaar op haar tong, en ek in my Boere-Engels. Ek het vir haar gesê ek is ook lid van ’n stam, ’n wit stam, die Afrikanerstam, oorspronklik van Pretoria: plek waar oom Paul pis.”
Hy mik na waar ’n jellievis met ’n sliert seewier uitgespoel het, reeds toegepak deur ploegslakkies, en Luther kyk hoe die jong man hurk, die hare lank in sy nek en gebleik deur baie son. Aan daardie jellievis, dink Luther, sal die régte reuk van osoon kleef: die gedempte swael van feromone van see-alge, met ondertone van aspersie en kopkool. Maar dit pla hom nie, hy hou van aspersies en kool en is al dikwels ontnugter.
“Toe wil sy weet van oom Paul. Dis ’n lang storie, het ek gesê, en nie belangrik nie. En van my naam ook, wat so Italiaans klink. Goeie skeut Italiaans in my bloed, sê ek vir haar, want my stam is nie suiwer nie, al wil ons so dink. Ons ondertrou en verbaster al vir driehonderd en sestig jaar, ons is ’n tjou-tjou-bredie van geure en kleure wat so min of meer wit uitkook. Soos my Italiaanse oupa wat ná die oorlog by die Boere ingetrou en mý uitgebaster het.”
Wat van jou pá? dink Luther. Vertel van jou pa. Wat het jou pa te sê gehad?
“Toe vat sy my kamer toe, om my pa te gaan sien.” Hy begin weer in die laagwater aanstap, buk om ’n hand vol spoelklippers op te tel. “Sy ken hom as Jake.”
By die groot rotse waar die visserskuite op die strand uitgetrek lê soos kleurryke walrusse bakkend in die son, hulle rompe in blou en rooi en groen, vertel Luca van sy herontmoeting met sy doodgewaande pa. Luther luister en onderbreek hom nie, want hy weet gedagtes het ’n eie loop, is nie ordelik soos kraletjies aan ’n snoer ingeryg nie.
“En dis al,” sê Luca toe hulle omdraai en begin terugstap.
“Wat van jou vriend Ringo? Hoe voel hý noudat alles in die oopte is?”
Hy gaan sit langs Luca op die rand van ’n blou romp en ruik die vis in die skuit en kyk hoe silwer skilfers van skubbe in die son dans en skitter.
“Ja, Sint Ringo …” sê Luca ná ’n ruk, en niks meer nie, asof dit genoeg is om Ringo se gevoelens te verklaar.
Luther beduie in die rigting van sy wit kothuis agter ’n duin begroei met seeplakkies en soutbossies en vlesige suurvypolle, met ’n afdak van houtlatte en die twee hangmandjies geil van rooi malvas. Effe opsy van die gewoel van toeriste en vakansiegangers op restaurantverandas.
“Kom ons gaan sit weer op die stoep. Dis waar ek nou my dae met boeke slyt. Dis wat afgetredenes doen, jy weet: sit op die stoep en lees. Ken jy die Joodse skrywer Richler? Ek dink juis aan jou en Ringo toe ek lees hoe Richler sy gevoel beskryf op sy eerste besoek aan Duitsland, drie dekades ná die Holocaust. Hy sê: ‘The best that can be hoped for, I think, is possibly, just possibly, my children will forgive theirs.’ Is dit hoe julle ook voel, jy en Ringo?”
“Ek is eintlik op pad Laaiplek toe, my seepokke wag.” Luca staan op en leun skuins en probeer ’n spoelklip oor die laagwater afkets, dan nog een. “Ek dink ek en Ringo het mekaar lankal vergewe vir die sondes van ons vaders. Het jy weer van Mosman gehoor? Het hy sý weergawe al vir jou vertel?”
“Kom,” sê Luther en stryk met die sandpaadjie aan teen die duin op. “Jy kan môre Laaiplek toe ry, jou seepokke gaan nêrens heen nie. Kom ons gaan sit en jy vertel my wat jou na die Australiese Outback gelei het. Vertel my as vriend, nie as joernalis nie. Eksjoernalis, dis wat ek nou is. Ek sit en lees en luister na musiek, en saans drink ek wyn, kyk uit oor Paternoster se see en wonder oor die apostoliese onversoenbaarheid van ons eie Torquemadas.”
“Ons wát?”
“Oor hoekom die wreedste fanatici altyd die skoonste gewetens het.”
“Soos my pa? Jy’s seker jy gaan niks skryf nie?”
“Mos so gesê. Ek is kláár. ’n Stoeppoeper, dis wat ek nou is, nie meer ’n skribbelaar nie.”
Die begin van sy einde as skribbelaar was die amptelike koevert op sy lessenaar, daardie oggend ’n paar maande terug toe hy hom, soos elke oggend vir byna veertig jaar, niksvermoedend aangemeld het vir werk, sy groen tupperwarebak onder die arm. Snaaks hoe op ’n dag van onverwagte trauma nietige, onverwante detail in jou kop bly vassteek. In die bak was twee kaastoebroodjies en ’n sny oorskietpizza met salami, olywe en sampioene. Hy onthou dit goed, maar kan nie onthou of hy dit ooit daardie dag geëet het nie. Hy sou die stukkie pizza in die kantoorkombuis se mikrogolfoond moes gaan opwarm het, hy sou die aroma gekry het. Hy onthou nie die aroma nie. Hy twyfel of hy dit geëet het. ’n Mens is gewoonlik nie baie honger wanneer jy uit die bloute ’n skop onder die gat kry nie.
Hy onthou die inhoud van sy tupperwarebak en die inhoud van die koevert, en hy onthou hoe al die oë hom later die oggend om die nuustafel ontwyk het, en as hy ’n skelm blik van onder af op hom betrap het, was dit ’n glimp van medelye soos met dood in die familie. Maar hy het nie familie nie, en hy was die enigste een wat dood was … wel, wat die ontydige tyding van sy eie dood gekry het. En almal het geweet, dit was g’n geheim nie, behalwe vir hom. Dís hoe korporatiewe teregstellings voltrek word: in geslepe stilte, die slagoffer die laaste een om te hoor.
Hy het ’n vermoede gehad. Daar is altyd vermoedens as gerugte van autos-da-fé dik loop. Die gange was verlate en die conversos klein en biddend agter rekenaarskerms verskuil teen die paapse bul wat uitgevaardig is oor herstrukturering en besnoeiing, oor digitale grepe en die laaste drup van drukkersink. Maar die bul en die brief in die koevert op sy lessenaar swyg oor vet katte en wynlandgoedere en bosveldplase en vroue – gediens of ingeruil – met ’n smaak vir somervillas in Provence en Toskane. Die brief vermeld wel artikel 189 van die wet op basiese diensvoorwaardes, en werknemer M.L. Roets kry opdrag om met menslike hulpbronne te skakel vir die bedrag van sy vrywillige skeidingspakket, en in die fynskrif van dié epistolêre wraak teen ouderdom is die aanbod van die nuwe rooi hoede ononderhandelbaar: vat dit of los dit. En have a nice day.
Maar die inhoud van die amptelike koevert het nie net sy lewe op ’n ander koers gesit nie, dit het ook, in sy stuiptrekkings as skribbelaar, sy pad laat kruis met dié van twee vreemdelinge: Luca Thom en die spook Mosman.
Om die nuustafel het hy gesê: “Ek sal dit vat, hierdie storie.”
“Dis ver, dis in die Langkloof,” het die nuusredakteur gesê, skaars ’n gameet toe Luther al sy eerste koerantstorie geskryf het. Soos die inhoud van jou kosbak op ’n sekere traumatiese dag, vergeet ’n joernalis ook nooit sy eerste storie nie: ’n jong onderwyser val uit ’n venster van die tiende verdieping van ’n polisiegebou in Johannesburg. Ahmed Timol se dood was toe die sewentiende sterfte in aanhouding. Almal selfmoorde, troos premier John Vorster, slaap gerus, die volk is veilig, g’n nodigheid vir ’n geregtelike kommissie van ondersoek nie.
Luther het hom vir die nuusredakteur opgeruk. “Ek wéét waar die fokken Langkloof is.”
Hoe verder van Johannesburg des te beter, vir sy laaste storie.
Sy hou van grappies, die nuusredakteur, hou veral daarvan as vir haar grappies gelag word, as die gatkant van haar broek gepruim word, en sy noem hom ’n ou nuushond op hitte wanneer hy die reuk van ’n moord kry.
Ou nuushond.
Op hitte.
Sy toets graag die grense van fatsoenlikheid, die nuusredakteur, sy dink dit presenteer haar as iemand met ballas.
Nuushond, jissus. Wie praat van ’n nuushond? Nie eens in die ou skool het hulle van nuushonde gepraat nie. Lunsrieme, ja, en teertoue, vuilspuite, sensasiesoekers. Só is hulle uitgekryt; nooit nuushond nie.
En wie het van moord gepraat? Die wenk was oor ou bene wat in ’n braakland op ’n bergplaas oopgeploeg is. Kon die beendere van diere wees – donkie, bok, skaap, bobbejaan.
Hy het uit die nuuskonferensie gestap en die boer gaan bel.
Die boer het gesê: “Kom, dis g’n dierebene nie, dis ménsbene.”
Luther het gesê: “Wie se diagnose?”
Die boer uit die Langkloof het hom opgeruk. “Die antropoloog se diagnose, wie anders? Hulle was ’n week hier, het my hele land opgegrou. Kom vat ’n kiekie. Hou jy van proteas, meneer Roets? Jy kan proteas terugvat vir jou vrou. Wat is haar gunstelingkleur?”
Hy het gesê hy het nie ’n vrou nie, loop alleen, prys die Heer.
Die boer het ’n oomblik geswyg, dalk om te peins oor moontlikhede dat die joernalis geskei kan wees, dalk ’n wewenaar, en toe gevra: “Wat van ’n dogter? Niks soos die Trots-van-Franschhoek vir jou dogter se bruidstafel nie. Dís wat ek daar wou aanplant, daar waar die bene gekry is, bruidsblomme.”
“Ek het ook nie ’n dogter nie.”
“Maak nie saak nie, kom kuier, kom slaap oor, ek sal jou als van die opgrawing vertel. Hulle is met ’n vrag bene hier weg. Groot geheimsinnigheid. Maar ek ken die luitenant van Uniondale, sy vrou hou van rooi skaamblomme, Protea nana …”
Luther se aandag het vasgesteek by “mensbene” en “geheimsinnigheid”, dis soos suurstof vir ’n ou lunsriem.
Die boer het gesê: “Lyk na die bene van viér liggame wat uitgegrou is, meneer Roets. Kan ek jou Lieter noem? En ou bene, nie vars nie. Koeëlgat in een van die skedels, het dit met my eie oë gesien. Die moordspeurders van die Kaap het die saak aan die MPTT oorgegee.”
“Die MPTT? En dis Loether, nie Lieter nie.”
“Presies wat ek ook wou weet, Lieter: wie’s die MPTT? Glo Missing Persons Task Team.”
“Oukei, ek’s op pad,” het Luther gesê. “En miskien ’n koningsprotea of twee, as jy het, vir ’n vriendin op Paternoster.”
3
Die blommeboer kyk vroegdag op na die berg, hoog uit die eskarp die stroom stil en blink in die oggendson, ’n silwer straal van kwik teen die hang af. Dis vir daardie kosbare water wat hy die stuk berggrond bygekoop het, byna twintig jaar gelede al, en dit lê steeds onbewerk teen die helling. Onder is die dam wat hy geskrop het, damwal van grond met ’n uitloop wanneer die reën in die Langkloof val. En wanneer die reën wegbly, het hy genoeg besproeiingswater vir sy blomlanderye en slaap hy gerus. Selfs tydens groot droogtes sny hy sy proteas sodat sy agent by die blommemark in City Deep teen daglig al die koeltrok vol vars blomme met hulle diep aromas van soet nektar kan inwag. Wanneer die son soggens oor die rûens van sy berge opkom, is sy proteas, ligpienk en rosig, donsig wit en blou, mauve en donkerrooi, en nog nat van die dou, reeds op pad na die rakke van bloemiste. Of hulle word gelaai in die vragruime van vliegtuie vir die blomsmouse in Londen en Parys en Amsterdam en Berlyn.
Die boer ry met die skeurploeg agter aan sy trekker, verby sy proteas, verby die dam, op teen die helling, na die klein plato waar hy noukeurig die driesgrond met die teodoliet uitgemeet en die penne ingeslaan het. Hy kon skaars twee akker uitmeet. Die res is te steil, te klipperig, ongeskik vir ’n blomland. Maar twee akker is genoeg vir sy eksperiment met die Serruria florida uit die Franschhoekberge en die Orothamnus zeyheri wat floreer in die dun, hoë lug.
Hy klim van die trekker af en gaan sit sy skofboks met koffie en beskuit in die skaduwee van die klipmuur van die bouvallige lapa. Dis opgerig deur die vorige eienaar, met net enkele verweerde stutpale nog staande, en van die dak se dekriet geen teken meer nie. Oor die man se behoefte aan ’n lapa hier teen die berghang kan hy net wonder. Hy het wel soms besoekers hier opgemerk voor hy die lap berggrond gekoop het, die lapa toe reeds aan’t verval. Seker die plek waarheen vriende gebring is om ’n vleisie te kom braai, hier in die groot stilte van die berge, om te ontsnap van ’n gejaagde lewe, om ’n bietjie vars berglug te kom adem, die fynbos te ruik en hulle kleure te waardeer: die wit raasheide, die blou disas, die skarlaken van die suurkanolle, die geelbosse en pienk klipkoesters.
Dêm! Dis sy wêreld hierdie. Waar jy nog, te midde van die gekwetter van jangroentjies en suikerbekkies en geelgatte, dieper geluide kan hoor, miskien God se gebrom oor die gemors wat elders van sy skepping gemaak word.
Die boer bestyg weer die trekker, kry sy merk in die gras, druk die hefboom van die hidrouliese koppeling. Hy kyk hoe die ploeg se tandskare in die gras van die harde bogrond insak en laat skiet die koppelaar. Hy sit skuins gedraai, sy een hand op die stuurwiel, die ander op die groot modderskerm, sy blik op die ploeg. Hy wil nie ’n skaar teen ’n stuk tafelbergkwartsiet breek nie, dis hoekom hy vanoggend sélf die ploegwerk doen.
Toe die son soos ’n goue skyf oor die pieke in die ooste hang en die laaste oggendskaduwees uit die hange en plooie van die berg verdryf, het die boer al byna een akker gebraak. Met die omdraaislag, besluit hy, gaan hy by die wenakker stilhou om sy rug te strek en in die koelte van die klipmuur swart koffie, soet en sterk, uit sy termos te skink.
Maar instinktief, net ná die omdraai, skop sy voet die koppelaar in en ruk die trekker tot stilstand. Hy druk die rand van sy vuilgevatte hoed teen sy bleek voorkop op, leun verder agtertoe, sy oë op die skare. In die ploegspoor lê nie grys kwartsiet met glimmers in die oggendson nie, eerder iets dofwit, soos die ou gebeente van ’n dier.
Hy spring agter van die trekstang af, hurk by die ploeg, druk sy vingers tussen die sagte kluite in, die reuk van vars grond in sy neus. Hy krap die grond, klam en koel in sy hande, van die been weg en ontbloot ook kleiner bene wat agtertoe uitgedolwe in die ploegvoor lê.
“Wat de moer?” sê hy hardop en sit terug op sy hurke.
Hy is ’n deeglike boer, neem nie impulsiewe besluite nie, het lank getob en oorweeg en nagelees of die twee akker se berggrond geskik sal wees vir die wit bruidsblomme en die seldsame vleirosies, albei klein Proteaceae-spesies. Nooit in sy oorwoë beplanning was daar die moontlikheid van beendere nie. Nie súlke bene nie. En hy ken beendere, dié van diere, duikertjies en grysbokkies, kleiner prooi van rooikatte en muskeljaatkatte, ook dié van blouape en bobbejane wat uit die berge kom om die kloof se groentetuine en vrugteboorde te plunder.
Steeds gehurk lig hy die hoed van sy kop en vee die sweet met die hoed van sy voorkop weg en steun orent. Langs die klipmuur by sy eetgoed is sy selfoon, maar hy het nie die nommer van Uniondale se polisie nie. Ook nie ’n vrou onder in die plaashuis wat hy kan bel nie – sy lê al tien jaar in Uniondale se begraafplaas; longembolie. En die kinders is toeka al uit die huis uit; boerdery staan hulle nie aan nie.
Hy haak die ploeg af en ry met die trekker terug, af teen die helling, verby die dam na sy huis om die luitenant op Uniondale te bel oor die vonds in sy braakland.
Die luitenant en sy konstabel vat twee ure voor hulle opdaag en sy werk moet staan en wag. Hy ry met sy bakkie voor die vangwa uit, terug na die plato en gaan hurk saam met hulle by die beendere. Die polisiemanne stem saam: dis nie die bene van ’n dier nie. En dit lê reeds lank begrawe in dié stuk veld wat so oorgroei is deur wilde gras en onkruid en bergheide.
“Dis g’n tradisionele graf nie,” sê die luitenant en haal sy selfoon uit. Hy waggel dik van buik en heup na die klipmuur om sy streekkommissaris te bel. Hy loop eers ’n paar treë diékant toe, dan daai kant toe, die selfoon uitgestrek voor hom om ’n sein te kry.
“Wat sê jou kommissaris?” vra die boer toe hy terugkom.
“Staak die grouery, sper die gebied af, beveilig en bewaak dit. En wag.”
Die boer kyk hoe die konstabel ’n geel banier afrol en ’n groot vierkant begin afspan, die skeurploeg in die middel daarvan. Toe hy klaar is, kom staan die konstabel by hulle in die koelte van die muur en hulle gesels oor die weer en oor politiek en oor misdaad, tot die gelui van die luitenant se selfoon hulle onderbreek.
“Hulle is op pad,” sê die luitenant toe hy die selfoon terugsit in sy sak.
Laatmiddag neem die boer ook die nuwe aankomelinge met die tweespoorpad slingerend teen die berg op. Eerste uit die Baai is die voertuig van die polisie se tegniese eenheid met die kragopwekkers en mobiele booglampe, agter hom die K9-hanteerder met sy kadawerhond. Twee ure later uit die Kaap kom die moordspeurders, gevolg deur ’n forensiese span met mobiele laboratorium, en laastens die forensiese patoloog en sy assistent.
Die boer staan nuuskierig eenkant sy pyp en stop en gebruik twee, drie vuurhoutjies, suig sy wange hol en betrag die gewerskaf deur die rookwalms om sy kop. Oor die lapa se verweerde sementblad met gras en perdeblom en kakiebos in die barste, word ’n seilafdak op aluminiumpale opgeslaan. Die blad self word bedek met ’n groen swaardiensseil, langsaan nog ’n seil oor die klipperige veld, met ’n staansif daarop.
Binne die afgesperde vierkant word toue in ’n ruiterooster gespan en die werk begin, die grouers in wit oorpakke en met rubberhandskoene en waterstewels aan. In elke ruit word die grond tydsaam en noukeurig met troffels en tuingrafies uitgeskep, elke beenvonds met ’n verfkwas afgestof voor ’n staalpen met geel vlaggie geplant word.
Ná donker hang die vlaggies in die dieper wordende kuil slap in die stil berglug soos ’n ataktiese bedding geel affodille onder die skerpwit halogeenligte. Op die agtergrond die dreuning van ’n kragopwekker.
Die grond word in emmers geskep, uitgedra en deur die sif gegooi, en elke item wat nie deur die fyn maas val nie, word met pinsette opgepik en eenkant geplaas vir ontleding.
Kort voor middernag besluit die boer om huis toe te ry. Hy steek vas toe hy die luider toon in die ou patoloog se stem hoor: “Ek soek ’n forensiese antropoloog, môre al! Die beenkorteks van die skelette is al erg verkalk. Ek kan ’n kadawer ondersoek en die oorsaak van dood bepaal, maar ek het nie kennis van osteologie nie.”
“En die oorsaak van dood hier? Is dit moontlik om te raai?” vra ’n Kaapse moordspeurder.
“Alle dood,” sê die patoloog, “kan toegeskryf word aan suurstof, spesifiek en sonder uitsondering die gebrék aan suurstof. Of dit weens ’n messteek, bylhou, koeël, verwurging of wat ook al is, kan ek bepaal as ’n kadawer op my outopsietafel lê. Maar vir ou bene het ek ’n antropoloog nodig. Beantwoord dit jou vraag?”
Die maer antropoloog arriveer teen ligdag. Die boer is al op en vat hom na die uitgrawing in die braakland. Kort daarna kom die lorrie met die hyskraan. Die bestuurder wag hangend met getatoeëerde arms teen die oop deur, sigaret in die mond, vir die opdrag om sy voertuig nader te bring om die ploeg met die swaaiarm van die hyskraan uit die landery te lig.
Die boer betrag die omgeploegde kluite, blink soos glas in die skerp oggendson. In dele van die kuil is die uitgrawing al ’n meter diep, en meer beendere lê ontbloot, selfs ’n volledige skelet. Geel en gekoek van die kleigrond, en nog klouend aan groter skeletbene, is toiings en flardes lap van verrotte klere.
Die sagte uitroep van ’n forensiese ondersoeker laat die boer naderstap tot teen die geel banier. Hy suig gorrelend aan sy dooie pyp en kyk hoe die ondersoeker die klam grond met delikate kwashale van ’n tweede skedel afstof. Die antropoloog neem foto’s van die posisie van die skedel voor dit uit die grond gelig word. Hy bestudeer dit ’n oomblik aandagtig en bring dit dan na die groen seil. Daar bespreek hy dit met die ou patoloog, knorrig in sy wit jas en hoed en vooroor geleun op ’n driepoot-opvoustoel. Die patoloog merk die skedel met ’n swart viltpen en blaf diktate aan sy assistent met die kniplêer om die vonds op ’n diagram te notuleer.
Nog ’n stuk van die halfvoltooide skeletale legkaart is gevind, en ’n bespreking volg oor waar die nuwe skedel, nog sonder mandibel, op die seil uitgelê moet word. Daar is reeds ’n werwelkolom, ’n volledige ribbekas, twee ilia, ’n sakrum, femurs, ulnas, tibias, fibulas, skapulas en humerusse. Die kleiner bene lê eenkant, want die metakarpels en bene van die metatarsus kan nog nie by die geraamtes met die klereflardes gepas word nie.
Terwyl die boer toekyk hoe die antropoloog die nuwe skedel op die seil neerlê, merk hy die mos aan die been, die oog- en neusholtes verstop met grond. Hy sien die ronde koeëlgat hoog aan die voorkop.
4
“Dit was ’n helse jaar, daardie ’95,” sê Luca op Luther se stoep.
Luther knik. “Annus horribilis. Of jy kan anders daarna kyk, eerder as jou annus mirabilis, want is dit nie ook die jaar wat jy vir Ringo ontmoet het nie? Of onthou jy daardie jaar net oor jou pa se ongeluk, die dag nadat hy in die Wimpy jou hand vasgehou het?”
“Hy’t dit nie net vasgehou nie, hy’t dit vasgedruk. Dit was sy afskeid, maar ek het dit nie geweet nie. Dis hoekom dit aaklig was.”
“En jy was hoe oud?”
“Dertien, my eerste jaar op hoërskool. Sy ongeluk was aan die begin van die jaar, voor die skool begin het. En skielik was ek boonop in ’n koshuis, sonder ’n pa. Ek het nie maklik gemeng nie. Ek het nie eintlik vriende gehad nie. Wel, ek het vir Loftus gehad. Hy was my vriend, my énigste vriend.”
“En toe Ringo.”
“Ons het as vreemdelinge by dieselfde skool aangekom. Ons is saam in ’n koshuiskamer ingedeel, maar ons golflengtes het verskil.”
“Julle het mekaar tog gevind.”
“Ja, hy het ook nie ’n pa gehad nie. Ons was kamermaats sonder pa’s. Ons het mekaar gevind nadat ek hom byna met ’n krieketbal doodgegooi het.”
“En onskeibaar geword, jy en Ringo en Loftus? Wat van Miss Potts? Jy het haar ook in ’95 ontmoet.”
“Ek en Miss Potts het ook eers ’n stamperige pad geloop, sy het nie baie hoop vir my gehad nie. Maar ek dink nie ek sou dit gemaak het sonder haar nie.” Hy grinnik. “Ek hou haar ook aanspreeklik vir my eerste wet dream.”
“Wat darem seker nie horribaal was nie?”
“Nee, net ’n verleentheid. Ek het nie geweet wát gebeur het nie. Maar dit kan natuurlik ook Booger se skuld wees.”
“Ja, los nou maar eers vir Booger. Vertel my van Miss Potts. Jy bedoel tog seker nie dat sy jou uitgelok het nie?”
“O nee! Inteendeel. Miss Potts was so sedig en korrek dat sy laventel kon poep. Ek twyfel of sy die vaagste benul gehad het van die uitwerking van haar mollige rondings op die verbeelding van tienerseuns wat kwalik hulle testosteroon in toom kan hou.”
“So, as skoolsielkundige het sy eintlik ’n dubbele funksie vervul? Sy het nie net na jou geestelike welsyn omgesien nie, ook na jou seksuele ontwaking.”
“Die seksuele ontwaking van ’n hele geslag seuns voor én na my. Miss Potts was aanspreeklik vir onbeteuelde massamasturbasie. Ek dink die gestorte saad in daardie koshuis kon ’n land soos Liechtenstein bevolk.”
Dit lyk of Luther eers die vrugbaarheid van koshuisseuns bepeins voor hy sê: “Geen jaar in ’n mens se lewe bestaan nét uit horribale gebeure nie. Ek was ’n laatbloeier uit ’n vorige geslag en het my verbeel Larkin het ’n gedig net vir my geskryf, iets soos: Sexual intercourse began / In nineteen sixty-three / (which was rather late for me) – / Between the end of the “Chatterley” ban / And the Beatles’ first LP. Dit eindig met: So life was never better than / In nineteen sixty-three … Die titel? Annus Mirabilis.”
“Wel, jou ’63 klink aansienlik beter as my ’95.”
“Ek ken net fragmente van jou storie, maar ek wil graag die hele verhaal hoor.”
Luca wonder na watter fragmente Luther verwys. “Miskien moet ek begin met die sessie by Miss Potts nadat ek Ringo se neus met die bal gebreek het. Daai sessie was die kulminasie van verskeie ongelukkige koshuisvoorvalle. Alles gebeur mos in drieë: eers die voorruit van die koshuisvader se bakkie, toe Billy Buys se arm, toe Ringo se neus.”
“Oukei,” sê Luther, “maar moenie afdwaal nie, ek wil van jou en jou pa en Ringo weet.”
Luca lig sy skouers. “Geen pad is reguit sonder afdwalings nie. Die lyn tussen punt A en punt B is net trigonometries reguit, of agterna gesien, met die voordeel van al die feite en volledige terugskouing. Maar wanneer jy van punt A op jou emosionele reis vertrek, is daar g’n reguit lyn nie, net ’n knaende inwerking van allerlei kragte, soms bewustelik, soms onbewustelik, en dikwels heeltemal onverwant, of so lyk dit vir jou.”
Hy onthou daardie sessies smiddae in Miss Potts se kantoor. Hy onthou selfs die uitdrukking op haar gesig. Dit het dieselfde gesê as wat almal gedink het: dat hy sy skoolwerk afskeep en sonder hoegenaamd enige akademiese belangstelling of ambisie koersloos ronddobber. Daardie afkeurende uitdrukking asof die kat jou ingedra het.
Elke week op ’n Maandagmiddag ’n sessie van ’n uur. Dit was ’n pyn in die gat. Praat van Torquemada! Sy was meedoënloos.
Maar haar kantoor was gesellig ingerig. Sy moet die dekor met groot sorg uitgesoek het om die troebel jong siele te sus. Hy het destyds gereken ’n privaat skool het seker genoeg geld vir ’n heeltydse opvoedkundige sielkundige met ’n mooi kantoor. Vir haar sessies sit jy in ’n diep en sagte leunstoel, nie formeel by ’n lessenaar nie; haar skryftafel was eenkant.
En altyd ’n blom in haar huislike kantoor. Rose. ’n Rooi langsteelroos in ’n dun glasvaas op die lae koffietafel tussen hulle. Sy ma het ook altyd blomme in die huis gehad. Miss Potts se koffietafel was van chroom met ’n blad van glas.
Blink en phony, het hy gedink. Soos sy.
Hy kan steeds die sagte geur van die roos onthou, of was dit haar parfuum? Dalk haar parfuum, want hy kan onthou dat dit hom aan sy ma laat dink het. Sy ma het ook altyd lekker geruik.
Miss Potts se eerste woorde daardie middag was: “Jy moet jouself begin regruk, Luca.”
Hy het nie opgekyk nie. Deur die tafelblad van glas het hy na haar knieë gestaar. En hy het gegaap. Wanneer hy verveeld is, wil hy gaap.
“Luister jy?” het sy gesê. “Dit lyk nie of jy luister nie. Dink jy ek hou daarvan om met myself te praat?”
“Ek luister.”
“Kyk na my. Verveel ek jou? Verveel hierdie sessie jou?”
Sien, sê hy vir Luther, dis wat ek met stamperig bedoel.
Sy het ’n groot ring aan ’n vinger gehad, aan haar regterhand op haar skoot. Miss Potts was nie getroud nie en moes dosyne kostuumringe besit het, elkeen met ’n ander kleur steen om haar klere te komplementeer. En haar naels was altyd perfek gemanikuur, in ’n skakering van rooi, natuurlik. Hy onthou die ringe, want sy ma was ook lief vir juwele: groot ronde oorbelle, armbande en ringe, Katolieke kruise en pendante met ikone. Maar in ’95 het sy ma lankal nie meer ’n trouring aan haar ringvinger gedra nie.
’n Juweelstuk van haar wat hy spesifiek goed onthou, het in ’n skulp op die buffet gelê. Die skulp, oënskynlik vergete, het vreemd genoeg ’n nogal prominente plek beklee, langs haar kosbare uitstalling van geraamde foto’s. Die foto’s was, soos alle mense se fotoalbums, ’n soort visuele dokumentering van haar lewe, en sy ma het ’n vol lewe gehad.
In die skulp was ’n neksnoer wat sy nooit gedra het nie, ’n melkerige steen aan ’n silwerketting.
Luca weet hoekom sy dit nie gedra het nie: dit was ’n geskenk van sy pa, en sy ma het sy pa ná die egskeiding en sy gewaande dood bly straf daaroor. Hy dink deel van die straf was om dit nooit iewers in ’n laai weg te pak nie; dit moes net daar lê, oop en bloot.
Sy pa het die skulp tydens ’n seldsame gesinsvakansie by die Nougab se monding naby Victoriabaai opgetel en saamgebring huis toe. Toe hulle huwelik begin verbrokkel, het sy ma die skulp as asbak gebruik. Sy pa het nie gerook, gedrink, gevloek of ’n loeroog na ander vroue gehad nie – sover hy weet, in elk geval. Sy pa het ’n nuwe glasasbak vir sy ma gekoop, die skulp uitgewas en dit op die buffet gesit. Dis ’n ornament, het sy pa gesê, nie ’n asbak nie.
Maar ek dwaal af, sê Luca vir Luther. Ek was by daai eerste sessie met Miss Potts.
Sy het uit haar stoel opgestaan en hy het haar met sy oë gevolg tot by haar skryftafel, spesifiek haar boude, beurend teen die materiaal van haar rok. By die tafel het hy die boude gelos en haar hande op die blad gevolg. Alles so netjies gerangskik, alles haaks en in gelid: rooi telefoon, twee dik boeke opmekaar gestapel, twee potlode styf teenmekaar, ’n paar lêers langs mekaar uitgestal.
Hy het hoër opgekyk, na die muur agter haar, na die uitstalling van haar geleerdheid, die sertifikate (met Latynse bewoording en goue seëls en flambojante handtekeninge) in eenderse rame, presies uitmekaar gespasieer. Teen die muur was ook ’n soort faux cartouche met ’n inskripsie: sint John Bosco se voorskrifte oor hoe na kinders omgesien moet word, spesifiek na seuns.
Let us regard those boys over whom we have some authority as our own sons. / Let us place ourselves in their service. / Let us be ashamed to assume an attitude of superiority. / Let us not rule over them except for the purpose of serving them better.
Hy sou dit later uit die vuis kon opsê.
Maar in daardie stadium het hy meer belanggestel in die lêer wat sy van haar skryftafel opgetel het. Sy het weer kom sit, haar bene gekruis, die soom van haar rok reggetrek, en met die lêer op haar skoot na hom opgekyk. Hy het geweet dis sý lêer, en dat die inhoud neerdrukkende leesstof uitmaak.
Daarom het hy liewer weer na haar bene afgekyk, na haar knieë, wit in die sykouse toegespan. Hy kan nie onthou dat hy sy ma ooit in sykouse gesien het nie. Booger het gesê sy ma probeer nog ’n hippie wees, al was sy net sewe jaar oud in die Somer van Liefde.
Hy het vir Booger gevra: “Watse flippen Somer van Liefde? Waar was ék?”
“’n Bobbejaan, nog lank nie mens nie. Nie eens ’n skynsel in enigiemand se oog nie.”
Toe hy vir sy ma vra of sy ’n hippie is, het sy gelag. “Herder, Luca, waar kom jy aan hippies? Weer Booger? Miskien is ek ’n retro-hippie. Ek hou van boheemse klere, dit weerspieël ’n romantiese gees, ’n vrye gees.”
Jammer vir die afdwaling, sê hy vir Luther. Waar was ons? O, toe Miss Potts met die lêer kom sit.
“Hier is jou vraestelle,” het sy gesê en met ’n rooi nael op die omslag van die lêer getik, “van die vakke wat jy gedruip het.”
Sommerso, sonder prelude of ouverture.
Wat hom met ’n keuse gelaat het.
Hy kon uitvaar teen die onregverdigheid van die skoolstelsel met sy onbekwame en ongevoelige onderwysers wat arme leerders in eksamens probeer vasvra pleks van hulle kennis te toets.
Of hy kon die situasie probeer ontlont.
“Miss Potts?”
“Ja, Luca?”
Belangstelling in haar oë.
“Het jy ’n pa?”
Hy onthou haar peinsende blik op hom. Toe het sy afgekyk na die lêer op haar skoot, asof sy eers diep moes gaan delf vir ’n antwoord.
“Ja, ek hét ’n pa,” het sy gesê, maar haar stem was onseker, asof sy getwyfel het of dit die geskikte antwoord was.
Hy het ’n rukkie stilgebly en toe gesê: “Sorry oor Ringo se neus.”
Maar dit was ’n koorddans, want toe sê sy: “Wás dit ’n ongeluk?”
Almal het mos gedink hy was balsturig en astrant en vir niks goeds bestem nie.
“Hy moes die flippen bal gevang het.”
“Hoekom het jy so hárd gegooi, reguit vir sy gesig?”
“Ek het g’n vir sy gesig gegooi nie, ek het vir die paaltjies gegooi.”
“En Billy Buys?”
“Is dit mý skuld dat sy flippen arm in my kolf se pad gekom het?”
“En wat van meneer Stottelaar se kar? Ook net ’n ongeluk?”
Natuurlik was dit ’n ongeluk. Wie sou dit waag om die ou fossiel se voorruit met opset flenters te gooi? Nie hy wat Luca is nie. Hy en die koshuisvader was nie juis dik gabbas nie.
Hy het haar nie geantwoord nie, net gekyk hoe sy aantekeninge in sy lêer maak, haar rooi lippe geplooi terwyl sy skryf.
“Ek kan jou nie help as jy weier om saam te werk nie. Ek moet ’n verslag vir die prinsipaal opstel, hy wil dit met jou pa bespreek … uhm … ek is jammer, ek bedoel met jou ma.”
Prinsi-fokken-paal, het hy gedink, en gesê: “My ma het nie tyd vir skoolverslae en crap nie, my ma is ’n aktrise.”
Sy het gesê: “Moet asseblief nie so vloek nie.”
Hy het gesê: “Crap is nie vloek nie.”
En opgestaan en uitgeloop. Daardie sessie verby, wat hom betref.
5
Booger, skrootkoning van Pretoria-Wes, maak daarop aanspraak dat niemand hom van yster kan leer nie. Enige soort, enige vorm van yster, staal, allooi, sedert die Ystertyd as’t ware. En Saterdagoggende, wanneer Luca toegelaat word om vir ’n naweek uit die koshuis huis toe te gaan, kom haal Booger hom in sy ’65-Plymouth Barracuda Fastback, nie ’n stoffie op die blou verfwerk nie. Sy tweedeur-monster, spog Booger, agt silinders, 235 perde, Ford Mustang se moer.
Hy bring Luca na sy skrootwerf in Proklamasieheuwel vir ’n man-tot-man-gesprek, bewus daarvan dat Carlita haar ontvanklike spruit met teensin aan hom en sy ysters uitlewer. Maar hy weet dat sy diep in haar verstaan van Luca se behoefte om by hom te wees, by ’n pa-figuur. Al vermoed Booger dat sy oor hom gedagtes koester soos “boers”, en “bietjie agter die klip” oor sy beheptheid met ou karre, ou filmsterre, ou boksers en ou ysters. Kwalik ’n renaissanceman.
Hy ry in ’n stofwolk by die groot skrootwerf in, parkeer in die skadu langs sy kantoor en klim uit en roep: “Elias! Waar’s Elias?”
Die swart rottweiler al om hulle bene op pad deur toe.
Sy kantoor is ’n verweerde Jurgenswoonwa wat hy van die kompakteerder gered het, nou sonder wiele op sementblokke staangemaak. Hy gaan sit agter sy lessenaar, eintlik ’n ou kombuistafel met formicablad begrawe onder state en joernale en faktuurboeke en koerante. Agter hom op ’n rak is nog tydskrifte en dokumente gestapel, en onder die rak is ’n kluis en ’n klein kroegyskas.
Hy leun agteroor, haal twee bottels Coke uit en hou een vir Luca. Steek ’n dun sigaar aan met ’n Zippo wat duikklopwerk benodig, blaas die rook by sy neus uit, vryf oor sy stoppels, loer deur die venster na Elias wat die Barracuda poets en sê: “Hoe gaan dit daar in die koshuis, Loekman? Sien jou min.”
“Ek’s ’n besige dude, Booger, ek probeer koers kry.”
“Koers?” Booger tik die sigaaras in ’n leë Castrolblik op die tafel af. “Watse koers? Is dit weer daai Miss Potts?”
“Miss Potts is oukei.”
“Uh-huh,” sê Booger. “Speel jy krieket? Jy moet sport speel, kan nie net met jou neus in die boeke sit nie.”
“Ek het Ringo se neus met die bal gebreek.”
“Dis goed.” Booger blaas rook uit en sê: “Ek bedoel dis goed dat jy sport speel, nie dat jy Ringo se neus gebreek het nie. Kom hy reg daar?”
“Hy’s my beste vriend, hy en Loffie.”
“Is dit ál sport by daardie skool, net krieket?”
“En rugby. Maar ek speel nie rugby nie.”
“Wat van boks? Jy moet leer boks, man, dis die beste sport.”
“Ek wil nie boks nie, ek’s te maer vir boks.”
“Hoeveel weeg jy?” Booger meet Luca met sy oë. “Vyf en veertig? Jy kan vlieggewig boks. Jy sal gou gewig optel. Jy moet kom dat ek jou ’n paar dinge leer.”
Booger loer na die uitstalling van ou kalenderfoto’s teen sy kantoormure, pin-ups van klassieke modelle: ou V8’s met perde, ou boksers met spiere, ou sterre met kurwes. Daar’s ’n Rambler Rebel van 1957, ’n Dodge Polaro van 1960, ’n ’64-Pontiac GTO en natuurlik ’n ’65-Plymouth Barracuda. En beroemde swaargewigte, ysters, nie die sissies van vandag nie. Nee, manne in die klas van Rocky en Joe Louis die Brown Bomber, Ezzard Charles en Jersey Joe Walcott.
“My ma wil nie eintlik dat ek vir jou kom kuier nie,” sê Luca.
“Uh-huh,” sê Booger, suigend aan sy sigaar.
“Sy sê dis jy en my pa wat oom Floyd se vingers laat breek het.”
Booger leun terug in sy stoel. “Oom Floyd?”
“Jy weet, die akteur wat saam met haar op TV was, in En onder draai die duiwel rond?”
“Ja, ek weet. Ek mis ou Floyd met sy blink kuif.” Booger druk die sigaar in die olieblik dood en sluk aan sy Coke. “Biltong?”
“Kan ek vir Loffie ook vat?”
Booger sit die bruin kardoes met biltong van sy persoonlike slagter langs die Castrolblik neer, vat sy knipmes en begin kerf. Die rottweiler, op sy lêplek buite langs die trap, lig sy kop, kwylslierte uit sy bek, starend na die lem wat deur die dik geel vet sny. Booger hou ’n stewige plak na Luca uit, skiet ’n dikker stuk vir die hond by die deur uit en sê: “Jou ma hou nie van my nie. Dis al. Sy weet jy’s soos my eie kind, was dit altyd, selfs voor jou pa se … se ongeluk. Sy’s net bang jy leer slegte gewoontes by my aan.”
“Soos wat?”
“Wel … soos om nie te wil leer in die skool nie. Ek was nooit een vir boeke nie, dit weet jy. Jou pa was die een wat gaan leer het.”
“Ek leer by jóú, Booger. By wie moet ek leer, by die crappy skool?”
“Jy sê die skool leer jou om koers te kry.”
“Dis wat Miss Potts sê.”
“En sy’s reg, Loekman. Maar jou ma kyk neer op my ysters. Sy vergeet dat jy hier ook leer. Kyk daar in die werkwinkel, kyk hoe werk hulle met hulle hande. Sien jy? Dis eerlike, harde werk. Kyk hoe lyk my hande. Dis hande wat nie omgee om vuil te word nie. En dis niks om oor skaam te wees nie. Dis hier, op hierdie scrapyard, waar ek en jou pa as kinders al geleer het wat werk is.”
“Ma sê jy’s die swartskaap.”
“Ja, ek weet. Maar dis ék en die ysters wat jou pa deur universiteit gesit het. Wat gaan daar by die skool aan, Loekman? Steek jy iets vir my weg?”
“Dis nie ’n goeie jaar nie, Booger.”
Natuurlik is dit nie ’n goeie jaar nie, dis ’n kak jaar, dink Booger. Sleg begin, en vir Luca raak dit nie beter nie. Dis Eddie wat die slegte jaar begin het, Eddie met sy dêm ongeluk. Klein begrafnis, net ’n handvol kollegas, eerder daar uit pligsbesef as vriendskap en medelye, vermoed Booger. Van Eddie se familie was dit net hy, die swartskaapbroer, die res van die familie het uitgesterf. Hy het darem vir die geleentheid geskeer, sy hare gekam en sy vingernaels probeer skoonskraap. Heeltyd ontuis gevoel met die das om die pap kraag van sy ou flenniehemp.
Carlita-die-aktrise het op die begrafnis ’n nuwe rol vertolk, dié van vrolike weduwee, want sy en Eddie is lankal geskei.
Booger vermoed die enigste opregte trane was syne en Luca s’n.
Van Carlita se kant ’n groter opkoms: sy en haar pa, ou Mattia in sy rolstoel, en haar suster Roberta, die oujongnooi. Die derde suster, die vrou van die bakker, het nie opgedaag nie. Te duur om uit Italië te vlieg vir die begrafnis van haar eks-swaer.
Mattia Rosati, al in die negentig, is self ’n paar maande later ingespit. Booger het van die ou man gehou, is selfs in sy testament genoem: “En aan Booger Thom laat ek my Bastari agter, die enigste een wat dit kan waardeer. Godere della fisarmonica!”
Booger, ’n man vir ysters en nie letters nie, het lank gewerk aan sy lofrede vir die roudiens van sy broer. Drie minute, het hy hom voorgeneem, dis so lank sy asem as prater sou hou. En hy het vir drie dae bloed gesweet aan daardie drie minute se woorde. Toe staan hy daar voor al die stywe lippe en geknypte poepholle en vergeet skoon sy woorde, praat sommer uit die hart uit.
“My broer was ’n goeie man, goeie man vir Carlita, goeie pa vir Loekman. Eddie het altyd gesê hy gaan eendag iets word, en hy hét. Wou gaan leer en ek het gesê dis ôraait, Eddie, gaan leer, ek sal betaal, die ysters sal betaal. En ná sy eerste graad is hy polisie toe, kaptein, nogal. Maar hy was nie klaar nie. Nee, het baie planne gehad, wou verder gaan leer en iets word, ’n kolonel. Eddie was nooit skaam oor waar hy vandaan kom nie. Smuts se Rooilisse het ons pa in Koffiefontein se kamp gesmyt, en ons ma’s in ’48 al dood, Eddie net een jaar oud. Pa’t later op die plaas by Standerton in die vierjaardroogte uitgeboer, en stad toe gekom en die scrapyard begin … skrootwerf. Het alleen vir ons gesorg, vir my en Eddie, en ons goed grootgemaak. Eddie was vyftien toe Pa dood is, ek in matriek, moes uit die skool uit om die skrootwerf oor te vat. Smiddae het Eddie kom help, en smiddae ná skool en naweke. Hy was nie skaam vir werk nie, dit sê baie van Eddie. En daar sit Loekman, Eddie se seun, vir wie ek lief is soos my eie, en ek wil vir Loekman sê, hier voor almal as getuies: Loekman, ek weet jou hart is vandag seer, en ek kan jou nie met woorde troos nie. Maar ek wil hê jy moet wéét dat jou pa ’n goeie man was, sodat jy nie skaam is wanneer sy naam genoem word nie. Soos ander mense wat vandag hier sit en hom nie wil geken het nie. Ja, hulle is hier, die fariseërs is oral, en die filistyne, dit sal jy nog agterkom, Loekman. Ek sit nie elke Sondag in die voorste gestoeltes soos party mense hier nie, maar ek ken die Goeie Boek, en daar staan geskrywe: Moenie kwaadpraat van die dooies nie, want eendag sal julle weer bymekaar wees.”
Booger vee oor sy oë en lig die Cokebottel op, vat ’n groot sluk. Hy beduie met sy wysvinger na die plakkaat langs die Pontiac.
“Sien jy daar, Loekman? The Rock from Brockton, beste swaargewig wat die wêreld nóg gesien het, is my persoonlike opinie. Kyk jy vir Rocky, of waarna kyk jy? Nee, jy beloer vir Betty.”
Luca probeer protesteer: “Ek kyk vir Rocky!”
“Jy kyk vir Rocky? Dis nie waar jou oë is nie. Maar ek neem jou nie kwalik nie, hoor, die ’40’s het die mooiste pin-ups gehad.” Hy vat die laaste sluk en smyt die bottel in die gellingkan in die hoek. “Dis eintlik húlle wat die oorlog teen Hitler en Mussolini en Hirohito gewen het. Dis daai pin-ups wat die lood in die GI’s se lope gesit het, spesiaal vir die troepe afgeneem.”
“My oupa het vir Mussolini geveg.”
“Ja, ek weet, ons twee het baie daaroor gesels. Ai, en kyk net daar vir Jane Russell. The Boobs, is sy genoem. Jy praat nie met jou ma hieroor nie, gehoor? Die een langs haar, dis Veronica Lake. Ek sal ook die vyand se loopgrawe bestorm om Peekaboo Veronica se eer te beskerm, sal jy nie, hè?”
“Ek sal ’n loopgraaf bestorm vir C.J. Parker. Ek sal drié loopgrawe bestorm om haar eer én haar boobs te beskerm.”
“Wie de moer is C.J. Parker?”
“Kyk jy nie TV nie, Booger? Weet jy ooit van Baywatch, die beste TV-reeks ooit? Ek het ’n pin-up van Pamela in die koshuis.”
“Pamela Anderson? Sy’s ’n bimbo, Loekman. Ek praat hier van gróót aktrises, nie van flossies nie. Anne Gwynne die Scream Queen, Ava Gardner die kaalvoet-contessa. Maar Betty Grable is die beste, daar langs Rocky en die Pontiac. Die mooiste en duurste bene destyds in Hollywood gehad, bobeen agtien en ’n half duim, kuit twaalf duim, enkel sewe en ’n half. Was vir ’n miljoen dollar verseker, daardie twee bene, by Lloyds of London nogal. Ek het haar die eerste keer as Vicky Lane gesien, Springtime in the Rockies.”
“Kan ons weer Star Wars kyk? En Mad Max?”
“Jissus, Loekman, al die geweld. Kyk ’n slag na ordentlike goed. ‘Frankly, my dear, I don’t give a damn.’ Dis mos nou kultuur.”
“Weet jy wat ek wonder, Booger?”
“Wat?”
“Hoekom het jy nie kinders nie?”
“Kinders? Te besig vir kinders.”
“Maar jy was nie te besig vir trou nie.”
“Ek was nie te besig vir drié troues nie. Maar elke keer, voor ek kan begin praat van kinders, vat hulle die pad. Het jou pa met jou oor sulke goed gepraat, Loekman? Praat jou ma met jou daaroor? Miss Potts? ’n Seun moet sulke goed weet, anders kom hy in die moeilikheid.”
“Oor trou?”
“Nee, man, oor kafoefel, kattemaai.”
“Kafoefel?”
“Jy’s twaalf …”
“Dertien. O, jy bedoel oor seks.”
“Seks, ja, dis waarvan ons praat. Kafoefel. Nookie. Whoopee. Knippie.”
“Ek’s nog te jonk vir ’n flippen knippie, Booger.”
“Te jonk! Maar jy kyk na Betty en jy’t ’n pin-up van ’n bimbo en jy dink jy sal graag aan hulle wil vat. Dis wat jy dink, nè? En een van die dae kom daar ’n regte flossie en sy sê: ‘Wil jy vat, Loekman?’ En dan, wat doen jy dan?”
Luca vat nog biltong. “Ek weet nie. Wat doen ek dan? Soen haar?”
“Hel, Loekman, sóén? Ja, soen haar, whatever. Al wat ek sê: moenie vat nie. Begin jy vat, is dit verby. Vra vir my. Onder hulle klere is goed, hulle nether regions, wat met ’n man se kop smokkel. Verstaan jy my bedoeling, Loekman?”
“Nie eintlik nie.”
“Ek praat van siektes, vigs, ander aaklige goed, jy wil nie so ’n siekte hê nie. Van kafoefel, en dis die heilige waarheid, dis nie ’n storie nie: jou pister kan afval.”
“Flippen hel …”
Nou sit hulle in stilte, en Booger kan sien Luca is diep ingedagte.
Hy rek hom uit en sê: “Oukei, dit was die les van die dag. Waaroor wil jy nog gesels?”
“Ek wil oor my toekoms praat.”
“Jy bedoel oor die koers van jou lewe, as jy klaar is met skool.”
“Ek wil hier by jou kom werk, met die ysters.”
“Uh-huh.” Booger kerf nog biltong, steek nog ’n sigaar aan. “Jy kan hier kom werk, maar jy gaan eers leer soos jou pa. Ek sal betaal, jou ma het nie geld nie.”
Luca sug. “Ek’s nie gemaak vir skool en ’n koshuis en al daai crap nie, ek wil hier kom werk. Sal jy my betaal?”
“Jy kan g’n op dertien begin werk nie, dis teen die fokken wet, verskoon my taal. Buitendien, ek het jou pa beloof ek sal sorg dat jy gaan leer.”
“Jy’t my pa beloof? Wanneer het jy hom beloof?”
“Ons het baie gesels toe hy daar by my kom intrek het, ná die egskeiding. Hy’t my een aand gevra of ek vir jou sal sorg as hy dalk iets oorkom, of ek jou voog sal wees.”
“My ma sorg vir my.”
“Ek weet. Maar as sy nie kan nie, as sy dalk nie meer werk kry as aktrise nie.”
“Dis hoekom ek by jou wil kom werk, jy’s my voog.”
“Ek’s net jou voog as jou ma nie vir jou kan sorg nie. Gaan terug skool toe, dis die beste ding. In ’n koshuis leer jy gou om groot te word, vra vir my.”
“Was jy in ’n koshuis?”
“Nee, ek moes gaan werk, g’n tyd vir boeke nie. Ek het op die harde manier geleer.”