Читать книгу 'n Man van min belang - Chris Karsten - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

1

Luther se afspraak met die spook is by Musanda (“hoofman se kraal” in Venda), ’n plaas aan die buitewyke van Pretoria, maar nie een waarop geboer word nie. Teen ’n steenmuur by die ingang is die embleem in metaalfiligraan: ’n oog en die leuse Ito la lushaka (“oog van die nasie”) – die alsiende oog van die hoofkwartier van die Nasionale Intelligensie-agentskap.

By sekuriteit word hy uitgevra of hy ’n afspraak het, en oor die aard van sy besoek. Hy moet wag terwyl gebel word om sy geloofsbriewe by Mosman se kantoor te bevestig, en word dan beduie na ’n parkeerplek naby ’n anneks van die hoofgebou. Hy betrag die netjiese tuine onder die kameeldorings: die blomstruike, die gemanikuurde grasperke, die fleurige beddings. Hiér wys die NIA sy beste aansig, sy verbruikersvriendelike gesig, probeer hy hard om weg te kom van die beeld van die sinistere skaduryk wat sy ongure voorgangers verteenwoordig het.

Maar dis ongewoon om ’n joernalis hier te ontvang. Spoke staan nie onderhoude toe nie. Die nuwe deursigtigheid is net bluf; die gene is dieselfde, Big Brother het bloot ’n nuwe jas aangetrek.

Mosman se mure is kaal, behalwe vir twee groot kleurfoto’s van sy minister en president in goudkleurige rame, amptelik geposeer, agter sy stoel. Op die hoek van sy lessenaar, langs sy rekenaar, hang ’n landsvlaggie slap aan sy stok. Teen ’n muur is ’n boekrak met glasdeure. Die boeke lyk vernaam, soos dié in advokate en prokureurs se kantore, maar Luther kan nie die titels uitmaak nie. Wat ook sy oog vang, is die bonsaiboom bo-op die boekrak; ’n dwergkremetart wat byna prehistories lyk.

Geen kiekie van vrou of kind of kraai nie, onpersoonlik, asof Mosman en die groeigestremde boom met die vet stammetjie die vertrek net tydelik beset.

“Sit,” sê Mosman en beduie na een van twee staatsdiensstoele voor sy lessenaar.

Dis ’n bevel wat Luther se indruk versterk dat Mosman, dasloos in swart hemp en broek, nie tyd of woorde verspil nie. ’n Man wat ontuis sal wees om kletstafels vol vingerhappies.

“Ek weet nie wie jou my naam gegee het nie,” gaan hy dadelik voort, “ek steur my gewoonlik nie aan koerante nie, praat nie met joernaliste nie. Maar dis goed dat jy gebel het, dié slag kan ons mekaar dalk help.”

Luther knik. “Die polisie sê hulle kan my nie help nie en verwys my na die taakmag vir vermiste persone. Húlle sê dis nie hulle beleid om met die pers te praat nie en verwys my na die polisie. Die polisie sê moenie ons weer bel nie, die saak is uit ons hande uit. As die MPTT nie kan help nie, probeer die NIA. Ek sê wat het die spioene uit te waai met ’n opgrawing in die Langkloof? Julle weet mos die NIA praat nie met die pers nie. Hulle sê bel direkteur Mosman by Musanda, ons het hom daar by die herwinning van die beendere opgemerk.”

Hy hou Mosman se gesig dop: g’n trek van emosie nie, die man dra ’n fokken masker. Sy hande gevou op ’n blou lêer voor hom op sy lessenaar, geen ringe nie, vingernaels geknip en gepoets. Die lig uit die venster agter Luther fletsend op Mosman se brillense, sy oë diskreet verskuil.

“Voor ons verder praat, net eers ’n paar huisreëls,” sê Mosman. “Niks is sonder reëls nie, sonder reëls is daar chaos, en ons het genoeg chaos in hierdie land gehad. Die beendere in die Langkloof is ’n residu van daardie chaos.”

“Watse reëls?”

“Reël nommer een: my naam, of dié van die NIA, word in geen berig genoem nie. Reël nommer twee: enigiets wat ek sê, kan jy skryf, solank jy hou by reël nommer een. Oukei?”

“Oukei.” Nie juis ’n keuse nie, en Luther besluit om te kyk hoe die gesprek verloop.

“Die uitkenning van die Langkloof-beendere is wel in die hande van die MPTT, ’n agentskap van die PCLU, op sy beurt ’n eenheid van die NPA, onder jurisdiksie van justisie … Wat van tee, rooibos?” Mosman tel die binnefoon op voor Luther kan antwoord, bestel die tee en vervolg: “Die EAAF is reeds gekontak om weer te kom help.”

Luther lig sy hand. “Hokaai. Praat ons in kodewoorde hier, direkteur Mosman? Is dit reël nommer drie?”

“Los die direkteur, net die hoofdirekteur noem my direkteur. Die MPTT is die taakmag vir vermiste persone, onder beheer van die litigasie-eenheid vir prioriteitsmisdaad, dis die PCLU, wat op sy beurt ’n eenheid is van die nasionale vervolgingsgesag, dis die NPA. Die EAAF, dié sal jy moet neerskryf, is die Equipo Argentino de Antropologia Forense. Het jy dit, alles nou helder soos kristal?”

“Is die Argentyne in die Langkloof betrokke? Wat de hel gaan daar aan, meneer Mosman?”

“Los die meneer ook maar, net my PA noem my meneer. Die Argentynse Equipo is die mees ervare forensiese ondersoekers in die wêreld vir die herwinning en identifikasie van menslike oorblyfsels. Gestig vir die helse werk in hulle eie land: die soektog na die oorskot van meer as tien duisend landgenote wat verdwyn het tydens Videla se vuil oorlog, die Guerra Sucia van ’76 tot ’83.”

“Ek sien,” sê Luther. “Maar waar pas jy in? Jy werk vir die intelligensiediens, jy is nie polisie of justisie nie.”

“Hier’s reël drie: moenie my in die rede val nie.”

Mosman staan agter sy lessenaar op. Met ’n swik in die heup stap hy na die venster agter Luther. Luther moet in sy stoel omdraai, sy oë op die rug van die man in swart, afgeskadu teen die helder lig van buite, sy hande agter sy rug gevou.

“Die WVK … dié afkorting ken jy hopelik? Die WVK het die Equipo al in ’96 gevra om te kom help, toe die eerste grafte herwin is van vermistes in apartheid se vuil oorlog. Deur die jare het die Equipo gereeld ondersoekers gestuur, selfs ná die WVK sy werk afgehandel het. Die laaste keer was in 2007, selfs ná die stigting van ons eie MPTT.”

Mosman bly praat venster toe en Luther moet sy kop skeef draai, sy goeie oor na die swartgeklede rug hou.

“Ons het al meer as dertig grafte herwin en families met vermistes herenig … al is dit net met hulle beendere. Van nog byna vyf honderd kan nie rekenskap gegee word nie. Nou het ons die graf in die Langkloof gekry. Dis die taak van die MPTT en Equipo om uit te vind wie die vier is en hulle oorskot aan die families te oorhandig. Dis nie hulle taak om die moordenaars van die vier op te spoor nie, die polisie moet dit doen. Maar die polisie en die vervolgingsgesag het nie die mannekrag, geld en tyd vir sake van tien, twintig, dertig jaar gelede nie, jy weet self hoe die misdaadsituasie in die land lyk.”

Of dalk die wil nie, dink Luther. Daar is ’n ligte klop aan die deur, die PA wat die skinkbord inbring en dan weer die deur sag agter haar toetrek.

“As die polisie en justisie dit nie kan doen nie, wie kán?” vra hy.

Mosman kom van die venster terug en neem sy plek in, maneuvreer sy regterbeen onder die lessenaar in, verskuif sy sitvlak op die dik, sagte kussing. Hy laat Luther dink aan ’n hond met ’n jeuk aan sy gat, skurend oor die gras.

Mosman leun oor om die tee te skink onder die goedkeurende blikke van sy minister en president op sy kaalgeskeerde agterkop. Luther bekyk die glimlaggende president, aka pous Gedleyihlekisa, wie se broad church-ensikliek steeds onheilspellend in gelowige ore weerklink: “Stem jy vir die ANC, is jy geseënd en uitverkore vir die hemel. Stem jy nie vir die ANC nie, kies jy die man wat die vurk dra … wat mense kook.”

Mosman beduie na die skinkbord. “Help jouself met melk en suiker, kry ’n koekie.” En skink sy eie tee, slurp ’n kort teug en sê: “Taakspan vir vermiste persone. Dis eintlik ’n naamfout, want die span bestaan uit net ’n taakhoof en enkele administratiewe assistente vir al die papierwerk. Sy … die taakhoof … maak staat op vrywilligers vir opgrawings, want sy kry ’n skandalige klein toelae van die staat vir uitgawes. Die duurste is die laboratoriumtoetse en -analises, die CT-skanderings, X-strale, patologie, odontologie, osteologie, die molekulêre bioloë vir genetiese identifikasie, forensiese kenners van plofstof en ballistiek.” Hy knibbel delikaat aan sy koekie, sluk dit met tee af en sê: “Maar die taakspan kom reg, want die prioriteit is om afsluiting te bied aan die naasbestaandes.”

“Nie die opsporing van oortreders nie?” Luther wonder oor die gemmerkoekies. Is dit toevallig, of is dit Mosman se smaak?

“Dis mý rol. Ek is ook aan die hoof van ’n klein NIA-departement bekend as COD – Covert Observation and Detection. COD jag die oortreders wat nie amnestie gevra het vir hulle misdade tydens apartheid nie, dié wat dink hulle kom met moord weg.”

“Soos die moordenaars van die vier in die Langkloof?”

“Ek het nie die bevoegdheid van arres nie, dis die polisie se taak. Die MPTT identifiseer die oorblyfsels, ek identifiseer die oortreders.”

“En doen dit kovert,” sê Luther.

“Ja, soos die werkinge van alle intelligensiedienste die wêreld oor. My hoofdirekteur wil weet wat my dryf, hy sê die verlede is afgehandel, die boek toegemaak. Daar is al reguit vir my gesê: Wat is die nut, wat wil jy bereik deur te bly krap aan ou wonde? My antwoord is kort: Die waarheid, dis wat ek soek, dis die nut. Ek was al teenwoordig, oor die hele land, by die herwinning van agt en twintig geraamtes. Die meeste is tussen ’96 en ’98 opgegrawe. Dit was die besigste tyd, met die amnestieverhore en belydenisse toe in volle gang. Ná die WVK se afsluiting het die uitwysings opgedroog, al is daar nog byna vyf honderd vermistes op die lys in die kommissie se finale verslag.”

“Kan jy voorbeelde gee van wat jy gedoen het, so kovert, jy en COD?”

Nou die eerste teken van emosie op Mosman se maskergesig, die trek om sy lippe ’n grimas.

“Jy wil my toets, nè? Terug op kantoor in die argiewe gaan kyk na ou berigte, of ek die waarheid praat.”

“En ek skat ek sal in geen argief die name Mosman of COD kry nie.”

Mosman beduie na die blou lêer, skink nog tee en sê: “Liggaam E24-97. Sy is aan haar bekkenbeen uitgeken as ’n vrou, met ’n koeëlgat op die kroon van haar skedel. Mitochondriese DNS van haar beendere is ontleed en elf jaar nadat sy verdwyn het, is sy geïdentifiseer en aan haar familie teruggegee. Dis my grootste bevrediging: wanneer ’n vermiste gekry, uitgeken en met gewydheid en respek herbegrawe is, met ’n naam op die grafsteen. Maar dis vir my ewe belangrik dat haar familie uiteindelik ook moet weet hóé sy gesterf het en veral wié vir haar dood verantwoordelik was. Yola Portia Popela het verdwyn nadat sy in ’88 in Swaziland ontvoer is. Haar oorskot is in Maart ’97 op Elandskop uitgewys, ’n afgeleë plaas in KwaZulu-Natal.”

Ja, daardie naam lui ’n klokkie, dink Luther. Die naam Elandskop, nie Yola Portia Popela nie. “Was dit nie ’n polisieplaas nie?”

“Ja, die ou SAP het sulke plase die land vol gehad. ’n Lappie grond hier, ’n plot daar, ’n Bosveldplaas … soms bewoon, soms onbewoon. Glo vir opleiding en heroriëntering en spanbou, en natuurlik gerieflik buite sig vir die ondervraging van politieke aangehoudenes. Soos Vlakplaas, die heel berugste.”

“Ja, ons pastorale verknogtheid, nè? Nou het julle ook Musanda,” sê Luther. “Het jy Portia se moordenaars gekry?”

“Lessing. Jy onthou hom?”

Natuurlik onthou hy hom, álmal onthou hom.

Mosman wag nie vir sy antwoord nie. “Maar Lessing was nie alleen betrokke nie. Portia se beendere, ’n patetiese bondeltjie, is in ’n betonbunker aan die rand van ’n populierbos gekry, in die fetale posisie, om haar bekken nog die reste van ’n plastieksak waarmee sy haar skaamte probeer bedek het voor sy geskiet is. Geen teken van klere nie. Sy is nakend hier aangehou en ondervra voor sy tereggestel is, het Lessing voor ’n amnestiekomitee getuig. Sy het gesit of gekniel toe sy van bo in die kop geskiet is. Lessing sê hy was teenwoordig, maar ontken dat hy die skietwerk gedoen het, of haar ondervra het. Wie was die ondervraer? Lessing ly aan selektiewe geheueverlies. Ek sal later terugkom na die geheimsinnige ondervraer. Sedert ’98, toe die kommissie sy werk begin afsluit het, is net enkele ander grafte uitgewys. Nou moet ons staatmaak op wenke, sporadies en anoniem, of toevallige opsporings. Sedert ’98 tot nou, in byna vyftien jaar, het ons net sewe herwinnings gedoen.”

“Net sewe? Verskoon my as my opmerking ongevoelig voorkom, dis nie my bedoeling nie, maar ek wonder net: regverdig dit COD se bestaan?”

“Daar word steeds probeer om die beendere van gesneuwelde soldate in die Tweede Wêreldoorlog te herwin, te identifiseer en aan hulle nasate terug te gee – mense wat al sewentig jaar lank wag en hoop. Het jy die stories onlangs gelees oor Victoria Montenegro? Sy het ses en dertig jaar gewag om te hoor wat met haar vermiste pa in Argentinië gebeur het. Die refrein is dieselfde: Victoria sê die uitkenning van haar pa, al was dit hoe pynlik, laat skyn ’n bietjie meer lig op die waarheid van ’n donker verlede. Maar die belangrikste: ‘Ons gee aan mense soos my pa hulle waardigheid terug.’”

“Ja,” sê Luther, “ek het van haar gelees.”

Hy dink aan die verskriklike – en ironiese – ontdekking dat die pleegouers wat haar as baba aangeneem het, betrokke was by die dood van haar biologiese ouers in 1976. Haar pa was een van die baie Argentynse politieke gevangenes wat in sogenaamde doodsvlugte lewend uit militêre vliegtuie oor die Atlantiese Oseaan en die Plata-rivier tussen Argentinië en Uruguay gegooi is. Van dié lyke het later uitgespoel en is as onbekendes in Uruguay begrawe. In 2002 is begin om die beendere in hierdie grafte in Colonia in Uruguay te herwin. Met Victoria se DNS-monsters kon Equipo die oorskot van haar pa, Roque Orlando Montenegro, identifiseer. Hy het as twintigjarige verdwyn, toe sy ’n baba van ’n paar dae oud was. Nou probeer sy nog uitvind wat van haar ma geword het.

Mosman verskuif op sy stoel, vryf aan sy knie. “Wat betref daardie sewe herwinnings … Ja, dit was die moeite werd. Dit het my hart goed gedoen, al het dit tien jaar gevat. Maar ek is ook mismoedig en desperaat oor die oortreders. In my ondersoeke hoor ek name van verdagtes en ek kan niks aan hulle doen nie. Daar is genoeg omstandigheidsgetuienis, maar g’n bewyse nie. Niemand is bereid om in ’n hof te gaan getuig ná soveel jare nie. Die polisie en die vervolgingsgesag lag as ek sulke hoorsê by hulle aandra. Los dit, sê hulle, moenie ou bitterhede laat opvlam nie. Maar só eenvoudig is dit nie.”

Luther skat Mosman dieselfde ouderdom as hy, maar hierdie man is nog nie gereed vir ’n stoep met ’n see-uitsig nie. Sy lewenstaak is nog nie afgehandel nie; byna vyf honderd vermistes moet nog gesoek en uitgeken word.

“Nou pas het ons wéér ’n vermiste gekry,” sê Mosman. “Geraamte B1-12 is ses maande gelede naby Barberton gevind, deur ’n voetganger in ’n donga langs die R40 op pad na Bulembu. Daardie ou skelet, of dele daarvan, is ná vier maande uitgeken as dié van Bafana Mxenge. Hy het in Februarie 1990 verdwyn. Die MPTT het Bafana se suster in Emjindini opgespoor, en uiteindelik ook sy vrou en twee kinders in Kamagugu. Sy ouers, eens van Carolina, is reeds oorlede en kon nie hulle vermiste seun se oorskot help begrawe nie.”

Luther dink: Teen sewe opgrawings per dekade het Mosman werk vir nog 700 jaar.

“Bafana is met waardigheid begrawe en sy familie het afsluiting,” sê Mosman. “Wel, soort van, want nou kom ék in die prentjie: Wie is aanspreeklik vir die koeëlgat agter in Bafana se verweerde skedel? Die forensiese antropoloog se bevinding oor die ouderdom van die beendere klop met Bafana Mxenge se verdwyning in 1990, maar ek kry geen rekord dat enigiemand oor sy dood gebieg en daarvoor amnestie gevra het nie. Jy sien my dilemma, Lieter? Kan ek jou Lieter noem?” Hy glimlag onverwags. “Off the record?”

“Ja, maar die uitspraak is Loether. Wat is jóú voornaam, terwyl ons nou familiêr begin raak?”

“Net my vrou het my voornaam gebruik, toe ons nog getroud was. Noem my Mosman, soos sy dit nou ook doen.”

Hy staan weer op en hink terug venster toe. Soos iemand in eensame aanhouding wat na ’n blik op die buitewêreld smag, dink Luther. Of soos iemand met vlooie in sy gat.

Oor sy skouer sê Mosman: “In ’n polisieargief in Pretoria, in ’n vergete ou voorvalleboek, het ek Bafana Mxenge se naam gekry, en die datum van sy arrestasie in Kaapmuiden vir die besit van ’n AK47 en twee magasyne in sy bagasie. Die voorvalleboek wys ’n latere notulering dat Bafana en sy dossier van Kaapmuiden na die polisie in Barberton oorgeplaas is. Hier loop die spoor dood: geen polisiedossier nie, net ’n aantekening in ’n voorvalleboek dat Bafana Mxenge wel in Barberton opgeneem is. Ook geen hofdossier in die justisie-argiewe nie – Bafana het vermoedelik verdwyn voor die ondersoekbeampte die saak aan die aanklaers kon oorhandig. Toe begin ek soek, maande lank, na die twee speurders van Barberton wat Bafana destyds op Kaapmuiden gaan haal het. Die een is dood, die ander is ’n uitsmyter by ’n nagklub in Sandton. Die uitsmyter was kortaf, met ’n houding en ’n kort geheue. Ek spoor toe ’n eertydse konstabel van Barberton op, nou ’n veiligheidswag, en met ’n beter geheue. Hy onthou hoe hy een aand in daardie tyd om middernag opdrag gekry het om toebroodjies en koffie by ’n wegneemkafee te gaan koop. Hy onthou dit goed, ná al die tyd, want hy was moerig omdat hy, ’n polisieman, vir ’n aangehoudene moes gaan kos koop, ’n fokken terroris nogal, was sy presiese woorde. Wat kon hy doen? Die opdrag was van ’n fokken kolonel uit fokken Pretoria … weer eens verbatim, ek is nie geneig tot sterk taal nie. Die kolonel se naam ontgaan hom, ’n Tom-iets, dis al wat hy onthou. Sê sy oorlede broer was Tommy, dis hoekom hy die Tom onthou.”

Mosman skep asem. “Het jy nog tyd, Luther?”

“Ja, as daar nog tee is. En koekies.”

Hy het baie tyd, hy wil hoor waarheen hierdie storie lei. Want dis nog twee maande voor hy op die aftreestoep gaan sit, en hy moet sy laaste opdrag afhandel.

2

Mosman los sy kar by O.R. Tambo vir die vlug George toe, en ry met die huurkar deur die Outeniquapas na die Langkloof. Naby Haarlem kry hy ’n vulstasie om pad te vra, kom agter almal ken die blommeplaas.

Hy vra ook die sleutel vir die vulstasie se toilet. Dis ’n dêm verleentheid vir ’n direkteur van die NIA – selfs vir ’n obskure een – om in ’n vuil toilet sy broek af te trek en wydsbeen salf aan sy ners te smeer, vir verligting van die jeuk wat hom rasend maak. Die gevolg, sê die dokter, van slegte eetgewoontes van sy jare in die bos.

Toe hy die plaas bereik, vat die boer hom in sy bakkie na die plato waar die polisievoertuie teen die grensdraad geparkeer staan. Mosman hink na die skutmuur van die ou lapa en stel homself voor aan die luitenant van Uniondale in wie se jurisdiksie die opgrawing plaasvind, nominaal nog in beheer.

Ná die kort formaliteit tree Mosman weg, asof hy afstand wil plaas tussen hom en die res. Niemand praat met hom nie, niemand steur hulle aan hom nie, en hy praat met niemand nie. Hande agter sy rug gevou, hou hy die opgrawing dop, sy oë agter die sonbril veral stip op die skare van die ploeg in die rooi kluite waar met die opgrawing begin is. Dan draai hy na die seilafdak, skuif die sonbril op sy kaal kop en betrag die beendere wat reeds op die groen seil in die koelte van die afdak uitgepak en genommer lê.

Aan hom is al gevra of hy nie afgestomp raak nie. Op sulke vrae antwoord hy nie. Hy is van nature in homself gekeer; hy gaan kuier by niemand nie en nooi niemand na sy huis toe nie. Mense wat daarop aanspraak maak dat hulle hom ken, en die adres van sy woonplek, kan op die vingers van een hand getel word, en daar sal twee vingers oorbly. Enkeles weet van ’n gewese vrou iewers oorsee, en van ’n volwasse dogter, ook oorsee. Hy dink dikwels aan sy dogter, selde aan sy eks.

Hy weet dat daar openlik geskinder word dat hy by elke opgrawing en herwinning teenwoordig is in die afwagting en hoop dat van sy eie geliefdes gevind sal word. Hy reageer nie daarop nie, beken of ontken dit nie.

Teen die middaguur kyk hy hoe die ondersoekers hulle werk in die afgesperde kuil onderbreek om te gaan strek en iets te eet, en ook dit doen hulle byna gewyd. Enige opgrawing geskied met groot gewydheid, en een so groot soos hierdie duur dag en nag.

Teen laatmiddag sien hy hoe die man met die hyskraan nadergewink word om die ploeg te verwyder, sodat die ondersoekers ook op daardie plek kan grawe. Toe die kragopwekker op hierdie tweede aand begin dreun, hoor hy die uitroep uit ’n hoek van die kuil, die uitgrawing daar ook al dieper as ’n meter.

Op die rand van die kuil staan en kyk hy hoe die grond met kwaste van ’n ribbekas afgestof word. Dan van ’n tweede ribbekas, half onder die eerste een waar klein skeppies klam grond met die troffels en tuingrafies verwyder word.

Oor die uitgrawing en sy nuwe vonds daal ’n stilte neer. Mosman dink as hy nou sy hand uitsteek, sal hy die stilte kan aanraak.

Dit duur nog ’n uur van peuterig-presiese uitgrawe, skeppie vir skeppie, en afstof, voor die toneel van hierdie nuwe vonds duideliker vorm aanneem. In die groot stilte begin in Mosman se gedagtes gruwelike beelde definisie kry van die kleiner drama binne die groter een wat hom lank gelede hier afgespeel het. Die bolyf van die groter geraamte lê oor die ribbekas van die kleiner een, bene van een arm oor die kleiner skedel, asof in ’n omhelsing, dalk vir vertroosting, miskien vir beskerming in die laaste oomblikke van twee mense se lewe.

Mosman en die maer forensiese antropoloog is lank nie meer vreemdelinge vir mekaar nie, maar hulle groet mekaar ook nie op die voornaam nie. Hulle weersiens is sporadies, en áltyd om ou grafte en ou beendere, situasies wat nie joviale sosiale omgang aanmoedig nie.

In sy nekropolis van bene is die forensiese antropoloog, as’t ware ’n connoisseur van die dood, lankal gewoond aan die reuke van ontbinding en gasse, want selfs ou beendere gee gasse af. Nie Mosman nie, aan dié reuke kan hy nóóit gewoond raak nie.

Toe hy sy sakdoek uithaal en oor sy mond en neus druk, kyk die antropoloog op van sy werk. “Jy sukkel nog met die reuke, nè? Ek dog teen dié tyd is jy al gewoond daaraan, al die mengsels van metanol en ammoniak, koolstofdioksied, swaelwaterstof, organiese sure. Dis alles net chemiese reuke, behalwe daardie ander een. Ja, dis wat jy ruik, daardie dieper aroma, die onaangename een. Dis te wyte aan die aftakeling van die mineraal apatiet in menslike beendere.”

Toe Mosman nie antwoord nie, gaan die antropoloog voort: “My belangrikste missie, soos jy weet, is om te help om aan ’n onbekende dooie sy identiteit terug te gee. En die antwoorde op die vier groot kwessies van enige identiteit is ouderdom, geslag, afkoms en ras.”

“Jy klink beswaard, doktor. Ek dog teen hierdie tyd is dit al roetine.”

“Dit ís roetine, meneer Mosman. Of dis veronderstel om te wees. Ek bedoel, die beendere praat mos met ’n mens, niks bly lank geheim nie. Hulle sê vir my hoe oud hulle is, of hulle manlik of vroulik is, wie hulle familie is, en ja, selfs van watter ras.”

“Nou wat is dan die probleem?”

“Ras, dis die probleem. Daar is kollegiale kritiek, van sekere kulturele antropoloë, wat sê ras is ’n kulturele en maatskaplike verskynsel, dit kan nie as biologies onderskeidend beskou word nie. Maar ek is ’n fisiese antropoloog en moet juis na biologiese verskille soek. Sien jy my dilemma?”

“Jou dilemma is dat politieke korrektheid by jou werk inmeng.”

“Presies. Die skeletale struktuurverskille tussen Negroïed, Kaukasoïed en Asioïed is so oud as die beenkunde self. Dis nie verskille deur mý toedoen nie, meneer Mosman. Maar dank die Skepper vir sulke verskille, want was dit nie onderskeidend nie, sou dit soveel moeiliker gewees het om ’n identiteit te bepaal, selfs onmoontlik. Want wat is identiteit? Die Here weet – en ek sê dit met piëteit – net die beendere het die antwoorde, want dis al wat oorbly van ’n mens wat eens kon dink, wat onderskeidende kenmerke aan sy liggaam en voorkoms gehad het: die kleur van sy vel en oë, sy unieke vingerafdrukke.”

In die kelder van die antropologiese osteologie-laboratorium, onder die skerp teaterligte en met die effluvium van ontbindende beendere in sy neus, kyk Mosman na die vier vlekvryestaaltafels waarop elkeen ’n geraamte uitgelê is. Die genommerde beendere is ingepas soos in ’n legkaart, elke skedel, elke beenfragment wat behoue gebly het, nou skoongespoel van die grond van hulle jare lange graf in die veld.

In ’n hoek op ’n groen seil op die vloer is die oorblyfsels van hulle klere uitgelê, elke stukkie met ’n etiket gemerk en sorgvuldig gegroepeer volgens vae kleur en tekstuur van tekstiel en skoeisel. Ook hierdie kleretoiings lê in vier groeperings: flenters van hooftooisels, flardes van hemde, broeke, sokkies, skoene. Een groepering bestaan uit die skaars herkenbare oorblyfsels van ’n bloes en romp. Broos en verbleik en vuil van die moddergrond lê die lyflose klere op die seil.

“Ek het die beendere gegroepeer volgens die chronologie van ons in situ-foto’s,” beduie die antropoloog, “en volgens die nommers en diagramme op die kniplêers. Wanneer ek onseker was oor by watter geraamte die kleiner bene van ’n hand of voet moet inpas, het ek met die swart lig van die UV-lamp die fluoressensie van beenkleure onderskei en gepaar. Ek het kaliberpassers en osteometriese instrumente gebruik vir lengtes en diktes en deursneë, die dimensies van klavikels, tibias, ulnas, patellas, skapulas, ilia, werwels, ribbes.”

Hy staan by een skedel en wys na die kaak sonder om na Mosman te kyk. “Verstandtande sny normaalweg eers op agttien. Hier is nog niks. En in die palatum kan jy duidelik sien die maksillêre nate het ook nog nie saamgesmelt nie.”

Sy palm beweeg strelend, teer en byna liefderik, oor die skedel.

“En kyk hoe klein en glad van tekstuur is die skedel, nog sonder prominente oogbankrif. Hier is die borande van die oogholtes skerp, en hier, hier agter die ore, is die mastoïedbene klein, die oksipitale been aan die basis van die agterkop sonder bult. Enige vrae sover?”

Mosman ontmoet die antropoloog se oë waar dié na hom opkyk vanuit sy gebukkende posisie oorkant die tafel. Hy skud sy kop en die antropoloog kyk tevrede af, die punte van sy maer vingers glad soos palings oor die skedelnate.

“By geboorte bestaan die skedeldak uit hierdie sewe verskillende beenplate. Op ouderdom vyf jaar is die plate al saamgehaak in sigsagnate. Teen ouderdom twintig is die eerste skedelnaat, die basilor, hier tussen die oksipitale en sfenoïdale been, volledig gesluit. Hierdie een, kan jy self sien, is nog oop.”

Die antropoloog se hande beweeg af na die armbene.

“Kom ons kyk wat sê die arms vir ons. Rondom ouderdom twaalf versmelt die distale gewrigsoppervlak van die humerusse met die skag van die boarmbeen by die elmboog. Hierdie proses, soos jy sien, het reeds plaasgevind.”

“Maar wat beteken dit alles?” vra Mosman.

Die antropoloog kyk op, lyk enigsins verbaas.

“Dit beteken hierdie skelet is van iemand ouer as twaalf, maar jonger as agtien.”

“Dis die een wat onder die groter skelet gekry is?”

“Hierdie een het op die rug gelê, ja, en die groter een het met die rug na bo gelê. ”

Die antropoloog se hande beweeg laer, oor die ribbekas en af na die heupbene van die kleiner skelet.

“Die kerwe hier in die laer heupe, sien jy, is vir die posisie van die heupsenuwees wat uit die ruggraat na die bene lei, en dit verbreed gedurende puberteit. Die nate aan die heupbeen en die konkawiteit in die subpubiese area van die pelvis bevestig my vermoedens.”

“En wat is jou vermoedens?”

“Dat hierdie skeletale struktuur reeds voorsiening begin maak het vir potensiële inkubasie. Dis die skelet van ’n jong meisie, miskien sestien of sewentien jaar oud toe sy dood is.”

“En die ander drie is manlik, ook nog jonk, maar ouer as sy?”

Die antropoloog knik en sê: “Dis nie my taak om die oorsaak van dood te bepaal nie, dis die terrein van die forensiese patoloog. Maar sien jy hierdie gat, ’n deursnee van net vier millimeter, hier aan die linkerkant van die skedel, tussen die skwameuse en koronale nate? Wie sou ’n jong meisie met ’n vuurwapen doodgeskiet het?”

3

Die Kaapse moordspeurder is terug in die Langkloof, in sy dossier reeds die blommeboer se verklaring aan die luitenant van Uniondale oor hoe hy die beendere oopgeploeg het. Op sy lessenaar in Kaapstad lê ’n stapel ander moorddossiere – vars moorde, nie van twintig jaar terug nie.

Maar hy was hier vir die opgrawing, en nou is hy terug om weer met die blommeboer te gesels, te kyk of hy die los drade op ’n manier kan saambind. Al is dit dan net om sy deel van die ondersoek netjies verpak aan die ander agentskappe te oorhandig. Want by hierdie soort ondersoeke is daar áltyd ander agentskappe betrokke.

Die speurder wys die uitnodiging vir middagete van die hand, maar aanvaar wel koffie. Hy sluk dit staande voor ’n montage van kleurfoto’s teen die boer se kantoormuur. Hy ken sulke foto’s, want ’n moordspeurder kom dikwels op plase, al is sy aandag dan gewoonlik nie op foto’s nie, maar op tonele wat hom laat sidder, tonele waarvoor niemand, hoe gesout ook al, ooit afgestomp raak nie. Al die bloed, oral, ook soms spatsels teen die geraamde glansfoto’s, trots uitgestal op kaggelrakke en teen mure, van kampioendiere met skourosette om die nek: stoetramme en stoetbulle, saalperde, selfs varke en hoenders.

Hiér is die mure vol kleurfoto’s van proteas in blom, gegroepeer, die genus boaan elke foto gesuperponeer, Grieks vir die moordspeurder se tong: Aulax, Leucadendron, Paranomus, Serruria, Faurea, Sorocephalus, Spatalla, Protea, Diastella, Mimetes, Orothamnus, Leucospermum, Brabejum, Vexatorella.

“Hoe lank boer jy al hier?”

“Dertig jaar,” sê die boer langs hom.

“En dis hoe lank jy al die grond het?”

“Dis ons familieplaas. Die braakland het ek agterna gekoop, vir die waterstroom uit die berg.”

“Wanneer?”

“O, so twintig jaar terug al.”

“En die verkoper, het jy nog sy naam, op jou transaksiedokument?”

“Op my lessenaar. Uitgehaal toe jy gebel het.”

Hulle gaan sit en die boer skuif die dokument oor die blad na die speurder toe. Die speurder lees: Rosyburn-gedeelte 2, Lot J. Distrik van Uniondale. Grootte: 61,22 hektaar. Akte van Transport T86368/1994. Rosyburn-Boerderye BK.

En ’n handtekening, naam en adres van die oordragprokureurs: Sullivan & Killiol Ingelyf.

“Ek sien jy het dit van Rosyburn-Boerderye gekoop. Maar wie was die agent? Is sy naam iewers in jou lêer?”

“Die oordragprokureurs het die plaas self met volmag van die eienaar verkoop, g’n agent nie. Hulle was gretig om te verkoop, enigste winskoop in my lewe, sal dit nie vergeet nie.”

“Hoe weet jy hulle was gretig om te verkoop?”

“’n Prokureur het my gebel, iemand van Sullivan en Killiol. Hy’t gesê hulle het op die landmeterdiagramme gesien die grond grens aan myne, gevra of ek belangstel om te koop. Ek wou nie oorgretig klink nie, het gesê: ‘Daardie steil stuk klipgrond teen die berg? Om wat mee te doen? Hoeveel soek julle?’ Hulle het gesê dertig duisend. Ek het gesê: ‘Wat! Ek gee julle vyftien.’ Hulle het gesê twintig en dis joune, toe koop ek.”

Die boer dink ’n oomblik na. “Is die bene oud? Is dit daar begrawe voor ek die grond gekoop het?”

“Dit kan ons nog nie sê nie.”

Die speurder ry terug Kaap toe, bel ’n kollega in Brooklyn in Pretoria. Die kollega ry na die adres van Sullivan & Killiol Ingelyf soos op die oordragdokumente van byna twintig jaar gelede, in ’n arkade tussen Schoeman- en Pretoriusstraat. By nommer 102 is Easy Cash Loans pleks van Sullivan & Killiol. Hy doen navraag by buurkantore. Niemand kan so ’n prokureursfirma onthou nie.

By die prokureursorde kry die polisiekollega ’n spoor van Sullivan & Killiol, maar dit blyk die twee vennote het net vier jaar gepraktiseer. Die firma se deure is in April 1994 gesluit nadat hulle aansoek gedoen het vir deregistrasie.

In die data-argief van die registrateur van maatskappye kry die kollega die registrasiedokument van die beslote korporasie Rosyburn-Boerderye, in die naam van John Lawrence Sullivan en John Joseph Killiol. Die BK was net vier jaar aktief voor deregistrasie in April 1994, dieselfde tyd as die prokureursfirma s’n.

By binnelandse sake soek hy inligting oor John Lawrence Sullivan en John Joseph Killiol: aansoeke vir ID-dokumente, paspoorte, huweliksertifikate, geboortesertifikate, doodsertifikate.

“Zilch,” rapporteer hy terug aan die Kaapse moordspeurder.

“Was jy by hulle woonadresse?”

Die Pretoriase kollega is dié slag gelukkiger: hy spoor die adresse in die destydse dokumentasie op. Meneer Killiol se adres is Kerkstraat 60, een kilometer wes van Kerkplein in Pretoria. Meneer Sullivan se adres is Jan Smutslaan, Irene, suidoos van Pretoria.

Hy bel weer sy kollega in Kaapstad. “Ek het die adresse gekry.”

“En die bewoners?”

“Meneer Killiol se domisilie is president Paul Kruger se ou huis, nou ’n museum. Meneer Sullivan s’n is generaal Jan Smuts se ou plaashuis, nou ’n museum. Geen spoor van enigeen nie, ek bedoel van Sullivan en Killiol … ons weet wat van Kruger en Smuts geword het.”

Die Kaapse speurder, op pad na die forensiese patoloog vir ’n outopsie, sien nie die humor raak in Sullivan en Killiol se domicilia citandi et executandi nie. Hy het ’n vrag dossiere op sy lessenaar, en die bros beendere van vier geraamtes wat ná twee dekades in die Langkloof oopgeploeg is, is ’n hopelose geval sonder bewysstukke of leidrade. Met ’n gebrek aan mannekrag en geld vir oortyd is ou beendere vir hom nie ’n prioriteit nie.

Hy is dankbaar dat hy die dossier kan oorgee. Die ondersoek na die uitkenning van die geraamtes is reeds in die hande van die taakmag vir vermiste persone, met die hulp van twee Argentynse forensiese ondersoekers en die forensiese DNS-laboratorium van die departement biotegnologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

“Stel Pretoria belang?” vra die forensiese patoloog. “Wil húlle die moordenaars probeer opspoor?”

“Hulle soek die hele kaboedel,” sê die speurder. “Drie manlike slagoffers en een vrou, gewelddadig aan hulle einde gekom. Ek stuur alles Pretoria toe. As hulle die ondersoek self verder wil voer … wel, alles van die fokken beste. Ek soek nou nog net die regsgeneeskundige verslae.”

Die forensiese patoloog sê: “As dit hulle sal help, elkeen het een skoot in die kop gekry. Hulle is tereggestel, toe begrawe. Nie die werk van net één oortreder nie. Dit staan so in my verslae, hier is dit. Ek sien jou dan môre, kaptein, vir daardie outopsie op die koplose kadawer wat julle uit die hawe gevis het.”

4

Mosman kry die oproep dat ’n polisiekoerier die Langkloofdossier by Brooklyn se polisie afgelaai het. Hy ry persoonlik daarheen om die dossier te gaan haal, en terug in sy kantoor in Musanda dink hy aan rook en spieëls, en aan vermistes in vlak grafte. Hy dink aan die paniekbevange doodvee van spore tydens apartheid se laaste stuiptrekkings in die vroeë 1990’s. Dit was pandemonium namate bevryding oor die land heen momentum gekry het, van die Limpopo in die noorde tot die Kaapse Vlakte in die suide.

Saans wanneer hy van die werk tuiskom en probeer slaap, bedags wanneer hy hom teen mure vasloop en sy oë vir ’n wyle sluit, skarrel die rotte in sy kop. Die vangnet is destyds wyd uitgegooi. Die hondsdolles, soos Lessing, sit al ’n dekade en ’n half hulle gruwels in C-Max en bepeins. Maar ander het die net ontglip. Hulle is nie in die tronk nie, is nie dood nie, het nie gebieg en amnestie gekry nie. Mosman slaap nie, hy soek, hy soek na hulle, die onboetvaardiges met bloed aan hulle hande.

Hy bestudeer die dossier met die foto’s van die vier geraamtes gemerk in die volgorde waarin die antropoloog hulle skelette so volledig as moontlik uitgelê het. Nie al die beendere is opgespoor nie, nie eens met die sif op die seil nie.

Hy lees die rekonstruksies wat aan die hand van forensiese inligting opgestel is.

Slagoffer L01-12: Sy is die jongste. Die meisie het op haar rug in die graf gelê.

Slagoffer L02-12: Die geraamte van ’n jong man. Hy is met sy bolyf beskermend oor L01-12 uitgegrawe.

Slagoffers L03-12 en L04-12: Ook twee jong mans, maar effe ouer. Hulle het afsonderlik eenkant gelê.

Die beendere van vier jong mense, tussen sestien en vyf en twintig jaar.

Soortgelyke koeëlmerke het hy ook al by ander opgrawings opgemerk. Yola Portia Popela het so ’n skedelwond gehad toe sy op Elandskop gekry is, en Bafana Mxenge by Barberton.

Nou moet Mosman wag vir hulle identiteit. Die Langkloof-Vier, is hulle gedoop totdat hulle hul name terugkry. Nou moet hy ook hulle teregstellers soek sodat geregtigheid kan geskied.

Die joernalis Luther Roets het woord gehou: hy het ’n feitelike storie geskryf, sonder verwysing na Mosman of COD of die NIA. Hy het ook die telefoonnommer geplaas waarheen naasbestaandes van mense wat verdwyn het tydens apartheid en wat voldoen aan die ouderdomme van die Langkloof-Vier kan bel.

5

Jy kan nie glo hoe ’n sessie met Miss Potts jou kon uitput nie, sê Luca vir Luther toe hulle oggendkoffie drink op die stoep, die see ’n blou dam voor hulle. En dis nie dat hy opsetlik astrant of halsstarrig was nie, net dat ’95 nie ’n goeie jaar vir hom was nie. En die laaste ding wat hy nodig gehad het, was dat almal knaend aan sy gat moes staan en krap. Dat hy sommerso opgevlieg en uitgeloop het toe Miss Potts hom van vloekery beskuldig het, het hom verder depressief gemaak.

Hy het teruggeslenter koshuis toe en op sy bed gaan lê. Hy het eers net na die plafon gestaar, toe sy gesig na Ringo se leë bed gedraai. Hy het gedink dis soos om ’n voet te vermis, dis hoe daardie leë bed hom laat voel het. Hy het dit gemis om saans met Ringo te chill. Ringo het gesê alles wat jy in die donkerte vertel, bly vir altyd in die donkerte.

Nog lank voor die ding met die krieketbal het Ringo begin om vir hom allerhande goed in die nag te vertel. En daai stories blý in die donkerte, het Luca besluit, want nagstories is spesiale goed. Dis nie dinge vir die dag nie, nie bedoel vir ander ore nie.

“Hoe het jý hier beland?” het Ringo eenkeer gevra.

Luca hou nie eintlik daarvan om sy persoonlike crap te bespreek nie. Buitendien, wie gee om wat die redes is? In Jan Sass se koshuis het elke ou ’n flippen rede of ’n geheim of iets. En in Jan Sass se koshuis is daar dudes wat grappe maak van jou geheime as jy dit uitlap. Geheime is vir die donkerte.

“Mense hou nie van my nie,” het hy gesê. “Mense verstaan my nie.”

“Mense verstaan my ook nie,” het Ringo gesê.

Ja, het Luca gedink, as mense jou nie wil verstaan nie, dan wil hulle jou nie verstaan nie, dis maar al.

Ringo se bed het gekraak toe hy omdraai. Sy bed kraak nie so baie soos Loftus s’n in die kamer langsaan nie. Die mure is so dun jy kan Loftus hoor poep, onder sy komberse en als. Loftus eet skaars, maar hy is altyd vol poep, en sy bed kraak van al sy draadtrekkery, gewoonlik die aand ná sy sessie by Miss Potts, of wanneer hy Luca se pin-up van C.J. Parker kom leen.

’n Ander nag het Ringo uit die bloute gesê: “Ons was vier kinders.”

Luca het hom op sy sy na Ringo se donker bed gedraai, wagtend. Maar Ringo het niks verder gesê nie.

Toe sê Luca maar: “Ons het net één kind. Ek.”

Van Ringo se bed af het daar ’n sagte gesnuif gekom. Luca het weer op sy rug gedraai.

’n Rukkie later was daar nog ’n geluid.

“Ringo?” het hy gesê. “Is jy oukei?”

Weer ’n gesnuif. Iets is nie reg nie, het Luca gedink. Ringo het met die komberse oor sy kop aan die slaap geraak, hy is besig om te versmoor. Dis ’n snaakse gewoonte van Ringo: om sy kop toe te trek as hy in die bed klim.

“Ringo?”

Hy het na sy penflits op die tafel tussen die twee beddens getas. Geen lig mag dié tyd meer in ’n kamer brand nie. Ou Stottelaar en die prefekte sluip saans in die gange rond op soek na oortreders.

Die ligstraal vang die wit van Ringo se oë, sy vuiste om die rand van die kombers geklem, opgetrek tot oor sy mond. Hy lê daar bevrees soos iemand wat ’n spook gesien het.

Toe merk Luca sy blink wange op.

“Huil jy?”

“Sit af! Ek huil g’n.”

“Jy huil, ek kan sien.”

“Sit af!”

“Sjuut, jy sal die hele koshuis wakker maak.”

Ou Stottelaar en sy prefekte staan oor teen die deur en luister as hulle ’n geselsery hoor of ’n lig sien skyn, en as hulle jou betrap, kom jou naam in die boek. As jou naam drie keer in die boek is, buk jy vir die koshuisvader se lat, of jy kry detensie en mag nie vir die naweek huis toe gaan nie.

Luca sit die flits af. “Jy kan maar vir my sê. Dit bly in die donkerte.”

Ringo klink nou soos ’n kermende klein katjie terwyl hy sy snikke onder die kombers probeer smoor.

“Ek … ek wens hulle was nie weg nie.”

“Wie?”

“Ek wens ek was nie hier nie. My ma het my nodig.”

Luca wonder of sy ma hom ook nodig het. Hy twyfel. Aktrises het niemand nodig nie.

“My broer en suster is net weg.”

“Hoe kan kinders net verdwyn? Het hulle weggeloop?”

“My pa was nooit by die huis nie,” sê Ringo, asof dit alles verklaar.

Luca dink: Sý pa was ook dikwels weg. Op sy missies, het hy dit genoem.

“Waar’s jou pa?”

“Hy was ’n soldaat,” fluister Ringo.

“’n Soldaat? Waar’t hy geveg?”

“Oral.”

“Het hy mense geskiet?”

“Dis wat soldate doen: hulle skiet die vyand.”

“Wie’s die vyand?”

Ringo bly lank stil voor hy sê: “Die wittes. Wat ons land gevat het.”

Luca dink: Ek is ook wit.

“O, jy bedoel die struggle. Is ék die vyand, oor ek wit is?”

“Nee, man. Hulle wat die land gevat het, húlle was die vyand. Het jy miskien die land gevat?”

“Nee, ek het g’n flippen land gevat nie. Wanneer het die wit vyand die land gevat?”

Hy sit weer die penflits aan en skyn die lig op Ringo.

“Sit af,” sê dié. En dan: “Dis verby, die struggle is verby, niemand is meer die vyand nie.”

“Ja,” sê Luca, “die land is nou almal s’n, almal is gelukkig, ons is broers. Ek is jou wit bro.”

Ringo snuit sy neus en sê: “En ek is jou bruin bro. Het jy nog biltong?”

Luca staan op, soek met die penflits in sy kas, kry die pakkie biltong onder sy sokkies. Hy hou dit na Ringo uit.

“Wanneer het die wit vyand die land gevat?”

“Hou op karring,” sê Ringo kouende. “Dis die Hollanders wat die land kom vat het.”

“Jy bedoel Verwoerd? Booger sê hy was ’n Hollander.”

“Ek bedoel Van Riebeeck.”

“Dêm, Ringo, dis al ’n flippen eeu terug!”

“1652, dis al drié eeue terug, dis hoe lank die struggle gevat het.”

“Moer, Ringo, julle bruin bro’s kan lank onthou.”

“Wat maak jy in die geskiedenisklas, slaap jy?”

“My gedagtes dwaal, dis wat Miss Potts sê.”

“My ma sê my pa wou ’n skuit koop, ná die struggle, vir diepseevis. As hy die skuit gekoop het, sou alles vandag reg gewees het, sou hy by ons gewees het. Ook Boebie en Gracie.”

“Wie’s Boebie en Gracie?”

“My broer en suster wat weg is.”

Luca wil die gesprek van dié onderwerp wegstuur. Netnou huil Ringo weer.

“Hou jy van vis?”

“Ek háát vis,” sê Ringo opeens driftig. “Ek kan vis nie vát nie.”

Hy besluit om Ringo ook nie verder oor vis uit te vra nie. Hy sê net: “Ja, vis suck.”

Eers twee aande later sê hy in die nag se drukkende lug: “My pa is ook dood.”

“Wanneer?”

“Begin van die jaar.”

“Hiérdie jaar? Was hy ook ’n soldaat?”

“’n Poliesman.”

“Hoe’s hy dood?”

“Flippen karongeluk.”

In die troebel duister het hulle net daar gelê, elkeen op sy rug op sy bed. Toe, in die stille donkerte wat hom toevou, kry Luca opeens die geur van sy ma, en hy raak aan die slaap en droom van ’n ou veerbootman in die middel van die nag in sy hut langs ’n groot rivier, bruisend en vol van baie reën. Hy word deur harde stemme gewek van twee reisigers, swewend en helder soos dwaalligte, wat oor die rivier wil gaan.

En toe hulle die oorkantste oewer bereik, gaan die twee reisende ligte aan’t skud en ’n hoop goue geldstukke kletter in die boot neer en hulle roep: “Betaling vir jou werk, meneer die veerman!”

Maar die ou man is ontevrede. “Ek soek nie julle geld nie, hierdie rivier verdra nie goud nie. Beland net één goue muntstuk in die water, gaan verskriklike golwe my en my boot insluk. Vat julle goud terug. Julle weet ek word net betaal met die vrug van die grond. My fooi is drie koolkoppe, drie artisjokke en drie groot uie.”

Die twee beloof om die groente te bring en die ou veerman laat hulle gaan. Hy maak die munte in sy boot bymekaar en gaan gooi dit teen die berghang in ’n diep skeur af.

Luca skrik wakker en onthou sy droom. Hy besef dit gaan oor een van sy pa se sprokies, die laaste een wat sy pa vir hom op band opgeneem het, kort voor sy dood. Hy staan saggies op en gaan vroetel in sy kas, kry die bandspeler. Terug in die bed trek hy die kombers oor sy kop, skakel dit aan en luister na sy dooie pa se stem. Sy pa vertel verder van die groen slang en die slapende lelie.

“Die groen slang slaap in haar ondergrondse huis wat sy koepapietie noem. Sy word skielik gewek deur die klinkende geluid van vallende munte. Sy hap en slurp gulsig elke geldstuk op en voel hoe die metaal in haar ingewande begin smelt. Dit versprei deur haar liggaam totdat haar hele slanglyf, tot haar groot vreugde, deurskynend in die donker begin gloei.”

Nou vertel sy pa van die ontmoeting tussen die glimmende groen slang en die twee swewende dwaalligte wat sê hulle sal vir die slang nog goue geldstukke gee as sy bereid is om hulle na die paleis van die skone lelie te neem.

En sy pa vertel van die reus sonder krag, maar met ’n magtige skaduwee, en hoe die slang met haar nuwe, gloeiende lyf vir die eerste keer die donker kelder kan verken waarin sy nog altyd woon, en van al die vreemde ontdekkings wat sy hier doen.

'n Man van min belang

Подняться наверх