Читать книгу Die Wonder van die goddelike liefde - Chris Norden van der Merwe - Страница 4

Оглавление

VOORWOORD

Of ons dit nou wil weet of nie, ons lewe word deur waardes bepaal. Elke dag is daar besluite om te neem en dié besluite word geneem op grond van wat ons as waardevol beskou. In die materialistiese wêreld van vandag word materiële welvaart dikwels as die hoogste waarde beskou, as die belangrikste doel om na te strewe. En tog het materiële welvaart sy beperkings; in die dieptes van ons siel is ’n leegheid wat geld nie kan vul nie.

Die Bybel handel oor morele waardes om ons te lei in die lewe met sy vele besluite, geleenthede en versoekings. Die Bybelse waardes kan betekenis aan ons lewe gee; hulle kan standhou in die wisselvallighede van ons aardse bestaan, en selfs óór die grense van ons aardse bestaan. Die waardes wat in die verskillende hoofstukke van hierdie boek bespreek word, is: geloof, hoop, geregtigheid, waarheid, blydskap, nederigheid en liefde. Dit klink na ou nuus, na dinge wat in ons moderne lewe nie meer ’n plek het nie – dis bedoel vir meer primitiewe tye, toe mense nie van beter geweet het nie, so dink ons. En tog lê die probleem nie by hierdie morele waardes nie, maar by óns. Dit is óns wat hulle dikwels verkeerd verstaan. Dit het nodig geword om weer oor hierdie waardes na te dink, om die betekenis daarvan te herontdek vir ons eie wêreld, ten diepste gekwel deur morele verwarring en betekenisloosheid. Dit is veral in die lewe en woorde van Jesus dat ons ontdek hoe ryk hierdie konsepte is, hoe relevant vir ons tyd. Dit is begrippe wat in die lig van Jesus óórgedink moet word, skoongemaak moet word van die slyk wat deur die eeue op hulle aangepak het.

Die sewe begrippe waaroor hierdie boek handel, moet nie verwar word met die tradisionele sewe hoofdeugde, in teenstelling met die tradisionele sewe doodsondes nie. Die keuse van konsepte is in ’n mate subjektief. Dit is konsepte wat my interesseer veral omdat hulle op so ’n boeiende wyse met mekaar verstrengel is: elkeen is op unieke wyse met die sentrale Christelike deug van die liefde verbind. Die God van die Christendom is ’n God van liefde, en die kern van God se gebooie is die gebod van die liefde. Die sewe konsepte wat bespreek word, skakel dus almal aan mekaar. Hulle gee ons ’n glimp van die heerlike Wese van God, soos geopenbaar in Jesus, die vleesgeworde Woord van God, en wys ons hoe ons ons lewe in navolging van Jesus behoort te lei. Die besinning oor die betekenis van die liefde en die toepaslikheid daarvan vir ons daaglikse lewe is inderwaarheid ’n strewe om meer van God te wete te kom, en om as dissipel van Jesus iets van God se heerlikheid in ons daaglikse lewe te weerspieël. Dít is die manier om ons leë lewe met betekenis te vul.

Die hoofstukke wat volg, gaan nie in op teologiese diskussies soos dié oor teenstrydige weergawes van gebeure in die verskillende Evangelies nie, of op die vraag of Paulus die skrywer van ál die Pauliniese briewe is nie. Ek is as letterkundige opgelei, nie as teoloog nie. Ek sal volgens my opleiding en vermoë Bybeltekste en -verhale ontleed wat deur geslagte van Christene aan ons oorgelewer is, en die rykdom en toepaslikheid daarvan bespreek, in die strewe om nader te kom aan die God van liefde in wie ek geleer het om te glo.

Die Wonder van die goddelike liefde

Подняться наверх