Читать книгу Die Wonder van die goddelike liefde - Chris Norden van der Merwe - Страница 5
1
ОглавлениеGELOOF
DIE BELANGRIKHEID VAN GELOOF
Dis verbasend watter ophef die Nuwe Testament van die waarde van geloof maak. Jesus vra die blinde mans byvoorbeeld uit oor hul geloof voordat Hy hulle genees, en ná die genesing verklaar Hy: “Wat julle glo, sal gebeur” (Matt 9:29). Jesus impliseer dat hulle genees is omdat hulle geglo het. So ook sê Hy aan die vrou wat aan bloedvloeiing gely het: “[…] jou geloof het jou gered” (Luk 8:48). In teenstelling hiermee kon Jesus nie baie wonderwerke onder die mense van Nasaret doen nie “vanweë hulle ongeloof” (Matt 13:58). Ook in die briewe van Paulus word die belangrikheid van geloof beklemtoon. Hy herinner sy lesers daaraan dat Abraham, die vader van Israel en ook van alle gelowiges, God nie behaag het deur sy dade nie, maar omdat hy in God geglo het (vgl. Rom 4:3). Hy is vir ons ’n voorbeeld omdat hy “nie in ongeloof begin twyfel [het] aan die belofte van God nie” (Rom 4:20). So ook, sê Paulus, moet ons geloof hê as ons van ons sondes vrygespreek wil word (vgl. Rom 1:17).
Vandag lyk dit vir ons vreemd dat soveel waarde aan geloof geheg word. Om te glo of nie te glo nie, het niks met deug of goedheid te make nie, dink ons. Ons kan tog feite nagaan om te besluit of iemand die waarheid praat of nie. Byvoorbeeld, wanneer iemand sê dit reën, kan ons buitentoe kyk om te sien of dit waar is – dit het niks met deug of moraliteit te make nie. Ons kan ook, op grond van die gesag van deskundiges, aan Einstein se relatiwiteitsteorie glo, al kan ons die teorie nie begryp nie – dit is Einstein se verdienste, nie ons s’n nie, dat ons op ander se gesag glo wat ons nie kan verstaan nie. Aan die ander kant, as iemand glo die aarde is plat, sal ons dink hy is onnosel of mallerig, maar ons sal nie dink dat hy die hel verdien nie. Vir ons is dit belangrik, uit ’n etiese oogpunt, of iemand onselfsugtig en goedhartig is, nie wat hy glo nie. Of behels die geloof waarvan die Bybel praat, meer as die rasionele geloof in empiries vasgestelde feite?
Karen Armstrong is op die regte spoor wanneer sy in The Case for God ons herinner dat “the word translated with ‘faith’ in the New Testament is the Greek pistis (verbal form pisteuo) which means ‘trust; loyalty; engagement; commitment’ ” (Armstrong, 90). Die Bybelse geloof is meer as ’n rasionele opvatting. In die volgende paragrawe gaan ons in op die Bybelse betekenis van geloof.
GELOOFSHELDE
In Hebreërs 11:1 vind ons ’n definisie van geloof, maar dit beantwoord nie alle vrae nie: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Om deur die geloof seker te wees van die dinge waarop jy hoop, lyk na ’n sirkelredenasie – jy moet glo wat jy hoop, en hoop wat jy glo. Maar op grond waarvan kan jy hoop en glo? In die alledaagse lewe is dit waarvan ons seker is in ’n groot mate gegrond op wat ons deur ons sintuie kan waarneem – ons glo wat ons sien. Maar hierdie teks keer ons aannames om: Dit moedig ons aan om te glo in wat ons nie gesien het nie. Ons sê graag: “Sien is glo”, maar die teks suggereer dat ons eers moet glo, dan sal ons sien. “Glo is sien.”
Die res van die Hebreërs-hoofstuk gee voorbeelde uit die geskiedenis van mense wat beloon is vir hul optrede wat op geloof berus het. Twee van die interessantste voorbeelde is Noag en Abraham. Noag het ’n skip op droë grond gebou in afwagting van die vloed wat God voorspel het; Abraham het Isak se vader geword toe Sara reeds verby die ouderdom was waarop sy ’n ma kon word. Toe God dit van hom verlang het, was Abraham selfs bereid om die seun te offer wat hy op so ’n wonderbaarlike manier uit God se hand ontvang het. In albei gevalle is geloof tasbaar beloon: Noag het die vloed beleef en is gered deur die ark wat hy op God se bevel gebou het. Abraham het die seun ontvang wat aan hom beloof is en het hom van God terugontvang toe hy gewillig was om Isak aan God te offer.
Die mense van hul tyd moes gedink het hierdie twee geloofshelde is heeltemal gek. Om ’n ark op droë grond te bou, is tog dwaas en om te verwag jou vrou gaan swanger raak wanneer sy nie meer menstrueer nie en wanneer die tyd om genot te hê, verby is (vgl. Gen 18:12), is malligheid. Só het die mense gedink. Maar die geloofshelde was mense wat teen die stroom van gesonde verstand kon ingaan, en hulle is daarvoor beloon.
Noag en Abraham kon later die beloning van hul geloofshandelinge ervaar, maar die geloof bring nie altyd tasbare belonings nie – in elk geval nie in jou leeftyd nie. Sommige van God se beloftes aan Abraham is voor sy dood vervul, ander nie. Hy het as ’n vreemdeling in Kanaän gesterf – God se belofte dat sy nageslag die land sal beërf, het nog in die verre toekoms gelê. Moses, wat op die weg van die geloof volhard het “soos iemand wat die onsienlike God sien” (Heb 11:27), is nie toegelaat om sy eindbestemming te bereik nie – hy het gesterf met net ’n verre blik op die beloofde land. ’n Hele aantal gelowiges, gemartel weens hul geloof, het “nie verkry wat beloof is nie” (Heb 11: 39). Hul lewe het geëindig met die verwagting van wat sou kom. Ook by die dood van die profeet Jeremia, het ’n teoloog opgemerk, was baie van sy profesieë nog nie vervul nie. Dit is nie altyd maklik om te glo as jy nie sien nie.
VERSKEIE SOORTE GELOOF
Ons moet tussen drie soorte geloof onderskei: (a) geloof in die sekulêre sin; (b) geloof om genees te word; en (c) reddende geloof. By ál drie is geloof in ’n mindere of meerdere mate meer as die rasionele aanvaarding van ’n feit; dit behels ’n element van vertroue op dit waaraan jy glo.
(a) Geen mens kan sonder die een of ander vorm van geloof lewe nie – geloof is nie eksentriek en irrasioneel soos sommige mense dink nie. In werklikheid het ons nie ’n keuse tussen geloof en ongeloof nie; ons het net ’n keuse oor wát ons wil glo en waarop ons wil vertrou. Ons vertrou ons sintuie en loop nie oor die straat wanneer ’n motor naderkom nie. Ons klim op die vliegtuig in die geloof dat dit op pad is na die bestemming wat die lugdiens beloof het. Ons glo kaarte en nuusberigte; dit is onmoontlik om alle inligting wat ons probleemloos aanvaar, self na te gaan voordat ons dit glo.
Wanneer natuurwetenskaplikes eksperimente doen, moet hulle op hul sintuie vertrou vir hul waarnemings en op logika vir die formulering van hul teorieë. Hulle moet ook vertroue hê in die objekte wat ondersoek word, dat dié in die toekoms nie skielik totaal ander kenmerke sal vertoon nie. Hulle het ’n implisiete geloof in die ordelikheid van die heelal. In ’n chaotiese nagmerrie-wêreld kan geen wetenskaplike ondersoek plaasvind nie. Baie natuurwetenskaplikes het al openlik verklaar dat geloof in die skoonheid en ordelikheid van die heelal hul werk ten grondslag lê en dat hierdie intuïtiewe geloof telkens deur die resultate van hul eksperimente bevestig word. Hulle word deur ’n onsigbare grondbeginsel gelei.
In die sakewêreld kan geen nuwe onderneming begin word sonder ’n mate van geloof in die toekoms nie. Die geloof mag later ongegrond blyk te wees, maar dit gaan juis daaroor dat niks sal gebeur sonder die geloof dat die onderneming ’n kans het om te slaag nie. Met geloof het jy ’n kans op sukses; sonder geloof het jy geen kans nie. Geen huwelik kan gelukkig wees sonder geloof in die huweliksmaat nie. Die geloof kan teleurgestel word en die huwelik kan misluk, maar sonder geloof is die huwelik ongetwyfeld gedoem. Enige onderneming wat die moeite werd is, berus op geloof. Mense glo dat ’n idee kan werk, en handel op grond van hierdie geloof – hulle loop die risiko wat so nou met geloof verbonde is. ’n Wêreld sonder geloof sou ’n wêreld wees waarin niks gebeur nie.
(b) Soos vroeër genoem, het Jesus van mense wat na Hom gekom het vir genesing, verwag dat hulle in Hom glo voordat Hy hulle gesond maak. Dit verbaas ’n mens: Waarom maak Hy hulle nie eers gesond, sodat hulle rede het om daarna in sy mag te glo nie? Die soort geloof wat Jesus verwag het, was meer as geloof wat op waarneming berus het; dit was geloofsvertroue. Hy wou hê dat hulle iets moes weet wat belangriker is as om gesond te word: Hulle moes weet wie Hy is, dat Hy die Seun van God is, die beliggaming van God se deernis en mag. Hy wou hê dat hulle in ’n persoonlike verhouding met Hom tree, nie op grond van wat Hy vir hulle kon doen nie, maar op grond van wie Hy is – die Messias deur God gestuur. Die genesing van die liggaam moes saamgaan met die genesing van die siel. Wat meer is, Hy wou hulle leer dat geloof nie bloot op feite berus nie, maar dat feite deur geloof verander kan word. Deur hul geloof het mense ’n aandeel gekry in die wonder wat verrig is; hulle het Jesus se vennote in die genesingsproses geword.
(c) Die geloof waarom Paulus se geskrifte draai, is dié wat nodig is om van ons skuld geregverdig en van die mag van die sonde verlos te word. Dit is geloof wat die ontoereikendheid van ons eie geregtigheid erken; ons onvermoë om ons lewe in ooreenstemming met God se standaarde te bring. Jesus, wat die moed gehad het om die valse leiers van die volk aan die kaak te stel, wat omgegee het vir die armes, die siekes en die verworpenes, wat Homself gegee het tot in die dood – die dood aan die kruis – het ’n etiese standaard gestel wat niemand kan ewenaar nie. Indien Jesus slegs deur God gestuur is om as voorbeeld te dien, om ons te leer hoe om te lewe, dan was sy koms na die aarde voorwaar slegte nuus. Die standaarde is verhoog; die ideaal het onbereikbaar geword.
Maar die Evangelies bring vir ons ’n goeie tyding. Toe Jesus die nagmaal ingestel het, het Hy aangedui dat iets van sy heerlikheid op ’n misterieryke wyse aan ons oorgedra word wanneer ons hierdie sakrament in geloof gebruik. Soos wat ons ons liggaam aan die lewe hou deur te eet en te drink, kan ons geestelik lewend word, vry van die bande van sonde en skuld, deur die brood en wyn in te neem, simbole van die liggaam en bloed van Christus. Die Evangelies bring vir ons die goeie nuus saam met die slegte nuus – die slegte nuus is dat ons ons nie self kan red nie; die goeie nuus is dat daar ’n weg tot saligheid is.
Die verlossing van Christus bied nie aan ons goedkoop vergifnis van sonde wat ons toelaat om te doen net wat ons wil wanneer ons sondes eenmaal vergewe is nie. Die nagmaalsritueel, wanneer dit as ’n daad van geloof verrig word, beteken dat ons ons met die gekruisigde en opgestane Christus vereenselwig; dit kan nie ons lewe onaangeraak laat nie. Dit moet tot ’n daaglikse “sterwe” en “opstanding” lei. “Sterwe” beteken die “dood” van ons natuurlike hoogmoed en selfgesentreerdheid, van ons koppige vashou aan die beheer oor ons eie lewe. En “opstanding” beteken ’n nuwe soort lewe, in harmonie met God, met onsself en met ander – vrygemaak van ons innerlike verskeurdheid. Bietjie vir bietjie, van dag tot dag, word ons na Jesus se beeld verander om sy liefdevolle sorgsaamheid en onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God te weerspieël.
Dit blyk dus die Bybel bring die goeie nuus saam met die “slegte nuus”. Saam met die aanbod van verlossing kom ’n streng gebod om liefdevol teenoor alle mense te wees, soos Jesus was, en om in gehoorsaamheid teenoor God te leef soos wat Hy gedoen het. Die Bybelse verlossing is gratis en tog geweldig duur; dit word sonder verdienste verleen, deur die geloof, maar dit kos alles: ’n totale onderwerping van ons lewe aan God se wil.
RASIONELE GRONDE VIR DIE SPRONG VAN DIE GELOOF
In ons tyd wil elkeen graag in beheer van sy eie lewe wees; dikwels wil ons ook ander se lewe beheer. In so ’n tyd is mense skrikkerig om die Bybelse geloofsprong te waag wat die beheer aan ’n Ander oorgee. Om die waarheid te sê, die meeste van ons is eers in ’n krisistyd gewillig om die sprong te waag. Die krisis kan verskeie vorme aanneem: Ons kan wanhopig wees omdat ons lewe uitmekaarval of omdat ons deur skuldgevoelens neergedruk word; ons kan depressief wees oor die leegheid van ons lewe; gekwel deur siekte; beangs oor die dood. Radeloos aanvaar ons die raad om die sprong te waag wat ons lewe kan verander. Ons sondes kan vergewe word; ons lewe met betekenis gevul word; die dood kan sy bedreiging verloor.
Die sprong van die geloof is nie volkome rasioneel nie, soos ons gesien het. Dit behels ’n risiko. Maar dit is ook nie irrasioneel nie. Net soos ons elke dag die gesag van “mense wat weet” aanvaar vir die inligting waarop ons vertrou, so kan ons ook die gesag van die getuies oor die lewe van Jesus vertrou. Aan die begin van die eerste brief van Johannes beklemtoon die skrywer dat hy weet waarvan hy praat: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak […] Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle” (1 Joh 1:1, 3). Ons vertrou elke dag op ons sintuie; die skrywer spoor sy lesers aan om ook die sintuie van die apostels te vertrou wat die lewe, sterwe en opstanding van Jesus van naby waargeneem het.
Die betroubaarheid van die apostels as getuies berus nie alleen op hul persoonlike waarnemings nie; ook hul latere optrede bevestig hul betroubaarheid. Die apostels het die integriteit van hul geloof bewys deur hul gewilligheid om vir die waarheid te sterf waarin hulle geglo het. Hulle is geslaan, in die tronk gegooi, verban, gemartel en doodgemaak, maar hulle het onverbiddelik vasgehou aan hul geloof in Jesus as Verlosser, as die oorwinnaar oor sonde en dood. Baie mense vind dit moeilik om te glo dat Jesus “regtig” uit die dood opgestaan het. Dit is te begrype, want dit is moeilik vir die moderne mens om in wonders te glo, maar dit is ewe moeilik om te ontken dat Jesus se dissipels van sy opstanding oortuig was, dat hulle dit as bewys daarvan gesien het dat God Hom as Messias gesalf het tot redding van sonde en die dood. Hierdie martelare is getuies op wie ’n mens dit kan waag om te vertrou.
Daar is nog ’n rede vir Johannes se geloof – hy noem dit in dieselfde hoofstuk: “En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus” (1 Joh 1:3). Johannes se geloof berus nie net op die verlede nie, maar ook op die hede – op die voortdurende teenwoordigheid van die Vader en die Seun met hom en in hom. Sy geloof in God word daagliks deur geloofsbelewenis gevoed – hy weet daar is nie so iets soos geloof op ’n afstand nie. Dit is goed om te onthou dat mense se geloof meestal kwyn, nie as gevolg van nuwe getuienis wat uit ateïstiese oord aan hulle gebied word nie, maar deurdat hulle agtelosig is en van God vergeet, sodat God geleidelik in hul bewussyn vervaag. Dis soos om van vriende afskeid te neem en op ’n ander plek te gaan woon. Aanvanklik skryf of bel jy of stuur jy SMS’e, maar die kontak verflou stadigaan en hou later heeltemal op. Uiteindelik weet jy nie meer of hulle lewe of dood is nie. Dit is hoe God in baie mense se lewe “sterf”.
GELOOF EN WIL
Daar is ’n noue verband tussen wil en glo. Die Evangelie van Markus vertel die verhaal van die verlamde man wie se vriende hom na Jesus gebring het om genees te word. Toe hulle Jesus nie kon bereik nie omdat ’n skare mense om hom versamel was, het hulle ’n opening in die dak gemaak en hom daardeur laat afsak tot voor Jesus. Hulle vermetelheid het waarskynlik die huiseienaar ontstel, maar Jesus het hulle gedrag goedgekeur: “Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, jou sondes word vergewe!’ ” (Markus 2:5). Behalwe dat ons in hierdie verhaal sien wat vroeër reeds genoem is, dat Jesus die genesing van die liggaam met die genesing van die siel verbind, is daar ook ’n ander belangrike les hieruit te leer: Jesus waardeer die moeite wat die verlamde man se vriende ter wille van hom gedoen het. Hy is beïndruk dat hulle soveel vir hul vriend omgee en so vasberade is om hom gesond te kry. Geloof, met ’n sterk wil, doelgerigtheid en die weiering om deur struikelblokke gekeer te word, is die soort geloof wat Jesus waardeer.
Dikwels regverdig ons ons ongeloof met allerhande verskonings, maar ons verberg die ware rede daarvoor – ons wil nie ’n geloofslewe lei nie. A.N. Wilson, outeur van ’n biografie oor C.S. Lewis asook ’n biografie van Jesus wat sterk van die Evangelies afwyk, het hieroor in die Daily Mail in ’n artikel met die opskrif “Religion of hatred” (beskikbaar op die internet) geskryf. In die artikel verduidelik hy hoekom hy hom tot die ateïsme gewend en later tot die Christendom teruggekeer het. Hy ontleed sy onderliggende motiewe baie eerlik:
Why did I, along with so many others, become so dismissive of Christianity?
Like most educated people in Britain and Northern Europe (I was born in 1950), I have grown up in a culture that is overwhelmingly secular and anti-religious. The universities, broadcasters and media generally are not merely non-religious, they are positively anti.
To my shame, I believe it was this that made me lose faith and heart in my youth. It felt so uncool to be religious. With the mentality of a child in the playground, I felt at some visceral level that being religious was unsexy, like having spots or wearing specs (Wilson, 2009).
Toegang tot die geloofslewe is geleë in die wil – in die gewilligheid om voor die wil van God te buig, om ons onvermoë te erken om onsself te red en om God se verlossing te aanvaar. Daarom is geloof nou verbonde aan nederigheid; ons moet in nederigheid erken dat ons God nodig het. Hoogmoedige mense kan nie hul gebrokenheid erken of die knie voor die Almagtige buig nie. Hulle beroem hulle op hul grootheid, terwyl die nederiges hul oor God se grootheid verwonder. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar dank die Fariseër God dat hy beter as ander is, terwyl die tollenaar bid om God se genade vir hom, ’n sondaar. Jesus eindig die gelykenis deur te sê die tollenaar, eerder as die Fariseër, is deur God geregverdig, want: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word” (Luk 18:14).
TWYFELAARS WAT GLO
God se genade is die kern van die Christelike leer: die leerstelling dat ons nie deur goeie werke gered word nie, maar deur die geloof in Christus. Die feit dat ons deur die geloof gered word, kan mense maklik verlei tot die dwaling dat hulle hulself kan red deur hul geloof, en dan word Christus op die agtergrond geskuif. Hulle lê klem op die krag van hul geloof; nie op die genade van God in Christus nie. Vir hulle is geloof ’n goeie werk, ’n prestasie, ’n uitlaatklep vir hul onderdrukte hoogmoed. Die ware boodskap van die Evangelies is anders.
In Markus 9 word die verhaal vertel van die seun wat stom was en stuiptrekkings gekry het; wie se pa hom na Jesus toe gebring het om hom gesond te maak. Jesus se reaksie is tipies van Hom: “Vir die een wat glo, kan alles” (Markus 9:23). Sy opmerking toets die pa en dié besef dadelik dat hy nie die toets kan slaag nie, want sy geloof is nie sterk genoeg nie. Maar net soos die vriende van die verlamde man, laat hy hom nie keer nie, selfs nie deur sy ontoereikendheid nie. Hy het ’n brandende behoefte aan Jesus se hulp, en diep gekweld roep hy uit: “Ek glo,” met die erkenning daarby: “Help my in my ongeloof” (Markus 9:24). Die vader moes van Jesus se genesingskrag geweet het; hy het rede gehad om in Jesus te glo en tog twyfel hy. Hy is duidelik ontsteld oor sy onvolkome geloof – die ou Afrikaanse vertaling noem dat hy hierdie woorde “met trane” (1953-hersiening) uitgeroep het. Die vader wil glo, maar kan nie heeltemal nie en dan tree Jesus se genade in werking. Uit die verhaal blyk dit dat die genade van Jesus voldoende vir ons halfhartige geloof is; selfs vir ons halfhartige wil. Hoewel Hy nooit sy wil op ons sal afdwing nie, is Hy gewillig om ons swak wil en ons twyfelende hart by te staan solank ons begeer om te wil en te glo. Ons swakheid stel juis sy genade in werking.
Geloof behaag God, maar daar is ook ’n soort twyfel, ’n eerlike twyfel, wat God behaag. Dit word duidelik uit die boek Job. ’n Reeks rampe tref Job en sy familie, en dit is begryplik dat hy, ’n regverdige man, vrae begin stel oor die regverdigheid van God wat soveel rampspoed oor hom laat kom. Waarom is dit dat ’n goeie mens ly en dat slegte mense so dikwels voorspoedig is? Sy vriende wat gekom het om hom te troos, kies God se kant in die dispuut; hulle verseker Job dat die fout by hom lê. Hy moes êrens iets verkeerd gedoen het, want God se handelinge kan tog nie onregverdig wees nie. Nóg Job, nóg sy vriende word ingelaat in die misterie van God se redes vir sy handelinge, maar Job word aan die einde van die boek wonderlik bemoedig. Vir Elifas, een van die Jobstroosters, sê God egter: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie” (Job 42:7). God verkies iemand met opregte vrae en eerlike twyfel bo dié met konvensionele “vroom” woorde sonder insig.
GELOOF EN GOEIE WERKE
Christene redeneer dikwels onder mekaar oor die verhouding tussen geloof en goeie werke. Maar om geloof teenoor goeie werke te stel, is foutief, want hulle is twee kante van dieselfde muntstuk. Paulus beklemtoon dat ons deur geloof, slegs deur geloof, gered word; Jakobus, daarenteen, wys op die belangrikheid van goeie werke. Hy skryf: “ ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jak 2:26). Paulus gebruik Abraham as voorbeeld om te verduidelik hoe regverdiging deur die geloof tot stand kom; Jakobus, aan die ander kant, wys daarop dat Abraham se geloof tot handeling oorgegaan het, sodat Abraham deur sy dade geregverdig is (Jak 2:21, 22). Ragab, die prostituut, een van die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word, het die Israelitiese verkenners in Jerigo verwelkom en hulle in haar huis weggesteek. Jakobus gebruik haar om die belangrikheid van dade te illustreer. En, inderdaad, as ’n mens die lewe van die gehoofshelde van Hebreërs 11 nagaan, word dit duidelik dat geloof by hulle almal met goeie werke gepaardgegaan het. Jakobus is reg wanneer hy sê geloof en werke hoort bymekaar; die een is dood sonder die ander.
Christene verrig nie goeie dade om God se guns te wen of die mense te beïndruk nie. Hulle doen dit uit dankbaarheid teenoor God en omdat hulle vir hul medemens omgee. Die volgorde van geloof en werke is dus anders as wat ’n mens sou verwag: Eers word ons sonder goeie werke gered, maar wanneer ons uit genade gered is, word ons tot goeie werke geroep. Ons moet ook onthou dat goeie werke nie eers ná bekering begin nie, en geloof hou nie by bekering op nie. Is daar nie iets goeds in die daad van bekering wanneer mense besluit om God te vertrou en hulle aan Hom oor te gee nie? Aan die ander kant, word ons goeie dade nie in geloof, in nederige afhanklikheid van God se leiding en genade gedoen nie?
Inderdaad, nou verweef met mekaar van die begin tot die einde van ’n Christen se lewe, is die totale afhanklikheid van God en vertroue op God aan die een kant, en aan die ander kant ’n aktiewe reaksie op God se genade en ’n gewillige betrokkenheid by die goeie dade waartoe God ons roep. Om ’n beeld van C.S. Lewis te gebruik: dis soos die twee lemme van ’n skêr; dis onmoontlik om te sê watter een die snywerk doen. Of soos iemand wat ’n marathon hardloop: Dis ’n kombinasie van eie inspanning en hulp van buite. Die een wat die wedloop suksesvol voltooi, kan sê: “Magtie, maar ek het goed gehardloop! Ek het nie tou opgegooi toe ek gedaan gevoel het nie; ek het volhard tot die einde. Ek het diep en ritmies asemgehaal, en my arms en bene het die werk gedoen wat van hulle verwag is.” Maar so iemand sou ook kon sê: “Alles is darem nie net aan myself te danke nie. Die kos wat ek vooraf geëet het, die vloeistof wat ek ingeneem het, ook gedurende die wedloop, het my die krag gegee wat nodig was. Sonder die hulp wat ek van helpers langs die pad gekry het, ja, ook sonder die vars lug wat daar was om in te asem, was ek verlore. Selfs die liggaam wat gehardloop het, is nie myne nie; die lewe is iets wat ek ontvang het; in geen opsig is ek ’n selfgemaakte mens nie.” En albei reaksies sou korrek wees. Al die inspanning sou tevergeefs gewees het sonder die genade van voedsel, drank en suurstof, van die lewe self; maar die genade sou waardeloos gewees het sonder eie inspanning.
GELOOF EN VERTROUE IN DIE MEDEMENS
Tot dusver het ons veral gekyk na geloof as ’n saak tussen ons en God. Die tema het egter ook ’n ander kant: geloof in die medemens. Dit is ’n geloof wat ons in staat stel om nie net op ander se tekortkominge te fokus nie, maar ook hul goeie punte en potensiaal raak te sien. Geloof in God en geloof in die medemens gaan saam, want ons kan veral in ons medemens glo omdat ons in God glo, die Skepper na wie se beeld alle mense geskep is, en in die Gees van God wat in almal werksaam is.
Jesus het die waarde van geloof in die medemens goed geïllustreer in sy verhouding met Petrus. Die keuse van Petrus, nie net as dissipel nie, maar meer nog, as leier van die dissipels, lyk na ’n vreemde keuse. So dikwels het Petrus die Heiland se boodskap verkeerd verstaan. Wanneer Jesus byvoorbeeld oor die dood praat wat vir Hom voorlê, dink Petrus dit is sy plig om Jesus te berispe, sodat Jesus hom streng moet vermaan: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê” (Matt 16:23).
Jesus se geloof in Petrus is dus nie ’n geloof wat blind is vir sy foute nie, maar Jesus weet dat Petrus meer is as sy swakhede. Petrus het dan ook sy helder oomblik wanneer hy diepe insig openbaar in die aard van Jesus en in Jesus se roeping op aarde: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16). Jesus prys hom oor hierdie woorde en openbaar watter spesiale plek Petrus in sy koninkryk sal beklee: “En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou […] Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly” (Matt 16:18-19).
Jesus verander die dissipel se naam: Simon Barjona word Petrus, die rots (Matt 16:17, 18). Die nuwe naam beteken ’n verandering van identiteit en ’n verandering van lewensrigting. Simon sal nog sy nuwe naam waardig word, omdat God in hom aan die werk is: “[…] dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is” (Matt 16:17). Jesus weet dat Petrus geseënd is, omdat God hom geseën het. Anders as Jesus, onderskat ons dikwels mense, omdat ons die werking van God in hul harte en hoofde onderskat.
Maar wanneer Petrus Jesus verloën, nadat hy heftig ontken het dat hy dit ooit sou doen, lyk dit of hy nie Jesus se vertroue in hom waardig was nie. Jesus het egter geweet van Petrus se bittere berou en trane ná sy verloëning, en ná die opstanding vergeet Jesus nie van hom nie – inteendeel. Die engel van God gee die volgende opdrag aan die vroue by die graf: “Gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe” (Markus 16:7). Slegs Petrus word by die naam genoem, sodat daar by hom geen twyfel sou wees of hy nog by die dissipels ingesluit is nie. Wanneer Petrus vir Jesus by die See van Galilea ontmoet (vgl. Joh 21), vra Jesus hom drie keer uit oor sy liefde vir sy Meester en drie keer bevestig Petrus sy liefde – al het hy teen dié tyd geweet dat sy liefde ver van volmaak is. Drie keer vertrou Jesus ’n spesiale opdrag aan Petrus toe. Die getal drie bevestig dat die drie verloënings van Petrus uitgewis is; hy is volkome vergewe en is weer in die dissipelkring opgeneem – inderwaarheid as leier van die groep. Jesus se vertroue in Petrus is later geregverdig. Ons lees van sy dapperheid en trou in Handelinge, en van sy dood as martelaar in Johannes 21:19. Die tyd van verloëning was vir hom finaal agter die rug.
Jesus is egter ook dikwels teleurgestel. Hy het nie ’n naïewe geloof gehad wat blind was vir mense se foute nie. Hy het gehuil oor Jerusalem, die stad wat Hy liefgehad het (vgl. Luk 19:41); Hy was hartseer omdat hulle nie sy boodskap wou aanvaar nie: “Jerusalem, Jerusalem! […] hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!” (Matt 23:37). Hy het deur die Fariseërs en die skrifgeleerdes se skynheiligheid gesien, en nie doekies omgedraai toe Hy hulle verwyt het nie: “Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan” (Matt 23:13). Dié woorde behoort die geestelike leiers van die volk tot erkenning van hul skuld te geskok het, maar met hul wettiese voorskrifte het hulle hul so afgeskerm dat Jesus se woorde nie kon binnedring nie. Uiteindelik, aangevuur deur die hoëpriesters en die oudstes van Israel, het die mense van Jerusalem ’n berugte misdadiger bo Jesus gekies om vrygelaat te word en by die goewerneur aangedring om Jesus na die kruis te stuur (vgl. Matt 27:17-23). En tog het Hy gewillig gesterf vir dié wat Hom verwerp het en gebid vir diegene wat Hom gekruisig het (vgl. Luk 23:34). Hy het geglo daar is nog hoop vir hulle.
Een van Jesus se pynlikste ervarings moes die verraad van een uit sy binnekring, Judas Iskariot, gewees het. ’n Mens kan nie help om getref te word deur die ooreenkoms én die teenstelling tussen die lotgevalle van Petrus en Judas nie. Albei het Jesus in die steek gelaat, albei het berou getoon ná die oortreding. Petrus is weer as dissipel aanvaar, maar Judas se lewe het in selfmoord geëindig. Jesus het Petrus volkome vergewe, maar was meedoënloos in sy veroordeling van Judas: “Wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie” (Markus 14:21). Petrus se berou was verbind met die aanvaarding van die genade van vergifnis; Judas het alleen selfverwyt en wanhoop gevoel, en homself tot die dood veroordeel.
Die Evangelies openbaar nie duidelik wat Judas gemotiveer het om Jesus te verraai nie. Heel moontlik het hy sy eie idees gehad oor Jesus se roeping. Miskien was hy ’n aanhanger van die algemene siening van sy tyd dat die Messias die Romeine uit die land moet verdryf en Israel sy politieke vryheid teruggee. Miskien wou hy Jesus tot aksie skok, het hy gehoop dat Jesus se gevangeneming Hom sou aanspoor om Homself te verdedig en ’n gewapende opstand teen die verdrukkers van Israel te lei. As dit die geval was, dan moes hy gevoel het dinge het gruwelik verkeerd geloop, want Jesus het Homself nie verdedig nie en Judas het iemand verraai wat hy nie kon help om te respekteer nie. Dit sou kon verklaar waarom Judas nie weer in die dissipelkring opgeneem is nie – nie omdat sy sonde te groot was nie, maar omdat hy vasgehou het aan die eise wat hý aan die Messias gestel het. Hy wou politieke vryheid vir Israel hê en nie ewige bevryding vir alle mense nie; hy was onherroeplik verlore vir Jesus se koninkryk.
DIE RISIKO VAN DIE GELOOF
Dit blyk dus dat Jesus se geloof in mense soms beloon is en soms nie. Van die grootste belang is dat, as Hy geen geloof in die mensdom gehad het nie, Hy Hom nie aan die kruis sou laat spyker het nie. Hy sou die mense aan hul sonde en ellende oorgelaat het. Die offer van Jesus of, anders gestel, die offergawe van God in Christus Jesus, toon dat God die mensdom hoog genoeg geag het om die risiko te loop om ondraaglike pyn te verduur wat geminag kan word, om ’n geskenk ten duurste voor te berei wat geweier kan word. God was gewillig om ter wille van mense gebreek te word; Hy het as losprys aan die kruis gesterf om vir mense ’n ewige lewe te berei – wat hulle kan aanneem of weier.
Ook vir die volgeling van Jesus is daar risiko’s verbonde aan die geloof. Maar om nie te glo nie, is ook ’n risiko, ’n groter risiko: om God se gawes te ontbeer. Die risiko van die geloof is drievoudig: geloof in God, geloof in die medemens, geloof in jouself. Hierdie drie kante van die geloof is nou verbonde aan mekaar. Die mees fundamentele risiko is die waagstuk om God te vertrou en jou lewe aan God oor te gee. Hieruit vloei die ander risiko’s van die geloof voort. Diegene wat glo in ’n God wat omgee, wat genadig en getrou is, wat in hulle werksaam is, het ’n grond vir selfvertroue en ’n rede om die risiko van vertroue in die medemens te loop – selfs al kan die vertroue teleurgestel word.
Is dit die moeite werd om vir ’n beter samelewing te werk? Dit lyk of boosheid eenvoudig nie uitgeroei kan word nie; of kringlope van boosheid nimmereindigend is. Aan die einde van ’n tyd van verdrukking sê ons: “Nooit weer nie!” En dan gebeur dit weer! Ons mag egter nooit ons geloof in transformasie prysgee nie. As ons sinies en défaitisties sou raak, sal ons siniese uitsprake selfvervullende profesieë wees en sal niks verbeter nie, terwyl geloof wat tot dade oorgaan, lig in ’n donker wêreld bring. Dit kan naïef wees om in die moontlikheid van ’n volmaakte wêreld te glo, maar dit is realisties om in die moontlikheid van ’n beter wêreld te glo. Dit kan onmoontlik wees om hemel op aarde te vestig, maar dit is sekerlik moontlik om hel op aarde te verhoed.
GELOOF EN GEBED
Wat is die verband tussen geloof en gebed? Die Bybel sê as ons wysheid kortkom, moet ons tot God bid “want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt”. Maar ons moet in die geloof bid “en nie twyfel nie” (Jak 1:5-6). Dit lyk asof God se ingryping in ons lewe geskied in reaksie op gebed in die geloof, maar hoekom wil God hê dat ons bid? Hoekom voorsien God nie sonder dat ons vra nie? God weet tog wat ons nodig het!
God weet inderdaad wat ons nodig het, beter as wat ons dit self weet, en God gee dan ook baie aan ons waarvoor ons nie gevra het nie. Ons vra byvoorbeeld nie onophoudelik dat God, die onderhouer van alle lewe, vir ons lug voorsien om in te asem nie, maar dit word nogtans aan ons geskenk. Baie ander gawes skenk God in antwoord op gebed, omdat God ons graag by die hemelse raadsplan wil betrek, sodat ons deur die gebed instrumente van die goddelike voorsienigheid kan wees. Gebed herinner ons ook wie die Gewer van alle goeie gawes is; dit verseker volgehoue kontak tussen ons en God.
Die Bybel moedig ons aan om ál ons begeertes aan God bekend te maak: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Fil 4:6). Hoewel ons keer op keer in die Bybel lees dat God ons gebede hoor, beteken dit nie dat gebed ontvlugting uit alle swaarkry bied nie. Terwyl Paulus hierdie woorde aan die Filippense geskryf het, was hy in die tronk omdat hy die Evangelie verkondig het. Paulus het geweet dat lyding ter wille van die geloof deel van sy roeping was (vgl. Fil 2:17).
Jesus het sy dissipels verseker dat God ál hul gebede sal verhoor, maar die belofte is aan ’n voorwaarde verbind: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh 15:7). Die voorwaarde is dat die dissipels in Hom bly, dat hulle sy wil soek en dat hul begeertes ooreenstem met wat Hy hulle geleer het. Die kern van ware gebed is dat ons oorgehaal word tot God se wil eerder as dat ons God oorhaal om ons wil te doen; in die gelowige gebed word God meer as onsself vertrou om te weet wat die beste is. Die ideale gebed is ’n dialoog waarin God deur ons begeertes beweeg word en ons begeertes beweeg word deur God se wil, sodat daar volkome harmonie heers tussen die bidder en die Een wat aanbid word.
Jesus het in Getsemane ’n voorbeeld van so ’n gebed gegee. In die nag voordat Hy gevange geneem is, het Hy gebid: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil” (Markus 14:36). God het nie die beker van Hom weggeneem soos Hy verlang het nie en Hy het sy wil aan die wil van sy hemelse Vader oorgegee. Jesus se lyding en angs in Getsemane was verskriklik, sodat sy sweet soos druppels bloed op die grond geval het (vgl. Luk 22:44), maar toe Hy eenmaal sy wil aan God onderwerp het, het Hy Hom vrywillig oorgegee aan diegene wat gekom het om Hom gevange te neem. Hy het aanvaar: “[…] nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans” (Luk 22:53). Die hele skepping is deur die onbeantwoorde gebed van Jesus geseën; sy pyn was die bron van ons verlossing. Sy onuitspreeklike lyding is deur ’n ewige heerlikheid gevolg, omdat Hy gewillig was om vir ’n verlore mensdom te ly en te sterf.
GELOOF IN MOEILIKE TYE
Niemand van ons kan Jesus se geloof, liefde en gehoorsaamheid ewenaar nie. Ons geloof word maklik deur beproewings vernietig; mense is stomgeslaan deur die verwoesting van byvoorbeeld aardbewings en tsoenami’s, waar die goeies, die slegtes en die onskuldiges (kinders) saam getref word. Kan ’n God wat goed is, so iets toelaat? Waarom laat God slegte dinge met goeie mense gebeur?
Hoewel geen mens hierdie vrae volledig kan beantwoord nie, is dit goed om te onthou dat geloof wat ook in moeilike tye standhou, groot waarde het; die sterkste geloof is die geloof wat God ook in tye van teenspoed kan loof. Dit is dié soort geloof wat Paulus en Silas geopenbaar het toe hulle in die tronk in Filippi was: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister” (Hand 16:25). Letterlik en figuurlik in duisternis gehul, het hulle nogtans gebid en God geprys – hul geloof is nie deur die negatiewe omstandighede vernietig nie. En toe, terwyl hulle God met hul onverwoesbare geloof verheerlik, gaan die deure van die gevangenis oop en die volgende môre is hulle vrygelaat. Ons is geneig om te dink: “Laat God my uit my moeilikheid help, dán sal ek God prys.” Paulus en Silas het God eers geprys en toe het hul omstandighede verander. In reaksie op hul geloof het God op ’n kragtige wyse ingegryp.
Dit is belangrik om te let op die dramatiese uitwerking wat Paulus en Silas se geloof op die mense om hulle gehad het. Die ander gevangenes is duidelik geraak deur hul gebede en sang – ons lees dat hulle daarna geluister het. Dié dramatiese gebeure lei ook tot die bekering van die sipier en sy familie; dit het begin met Paulus en Silas se gebede en lofsange. In ’n hele aantal briewe vra Paulus die gelowiges om vir hom en sy werk te bid; hy weet dat die gebede van medegelowiges God se seën bewerk. Deur gebed neem ons deel aan God se goeie werke; as ons sou ophou om vir ander te bid, versper ons die kanale van God se goedheid. God eer ons met die verantwoordelikheid van gebed, maar gee aan ons die vryheid om ons plig te verwaarloos.
DEUR GOD GELEI
Egte geloof maak ’n groot verskil. Dit gee nuwe rigting aan ons lewe, want ons word deur die Gees van God gelei. Maar hoe word ons deur God gelei? Die patriarg Abraham kry allerlei opdragte van God (soos om sy seun te offer!). As moderne mense vind ons dit moeilik om in direkte, ondubbelsinnige kommunikasie met die Almagtige te glo, soos in Abraham se verhaal. Om die waarheid te sê, ons vind dikwels dat die mense wat met die grootste sekerheid verklaar dat hulle deur God gelei is om iets te doen, op ’n dwaalspoor is. Aan die begin van sy politieke loopbaan het ’n taamlik kontroversiële politikus aan een van sy gewese professore gesê God het hom gelei om hom in die politiek te begewe. Die professor het stilweg geluister en toe kalm gevra: “Broer, is jy seker dis nie maar ’n ander geraas wat jy gehoor het nie?”
Hoe kan ons weet wat God se wil is wanneer ons belangrike besluite moet neem? Ook in dié geval begin geloof met die wil. Gebed is belangrik – nie om in ’n oogwink aan ons die regte besluit bekend te maak nie, maar om deur God se Gees oorreed te word om God se wil te soek. As ons ons wil oorgegee het, kan ons beter dink, want geloof vertroebel nie die denke nie, maar verhelder dit. Geloofsgehoorsaamheid maak ons vry van ons angste en selfgesentreerde begeertes; dit help ons om rasioneel te dink, om die voor- en nadele van verskillende moontlikhede rustig te oorweeg, en om ’n gesonde morele besluit te neem. Vriende kan ons ook help of veranderde omstandighede kan die deur toemaak waardeur ons wou gaan. En uiteindelik, deur die Godgegewe vrede in ons hart, kry ons bevestiging dat ons keuse reg was.
GELOOF IN ’N GOD VAN LIEFDE
Die Christelike deugde is aan mekaar verbonde en hulle is almal verbind met die sentrale Christelike deug van die liefde. Dit geld ook vir die deug van die geloof. Uit ’n Christelike oogpunt kan ’n mens nooit van geloof praat as jy dit nie verbind met die vraag wat daarby hoort nie: Geloof in wie? Want dit is nie ons geloof wat van belang is nie, maar die Persoon in wie ons glo. Geloof gaan nie bloot om onsself nie. Dit bring ons in ’n verhouding met God, en daardeur in ’n nuwe verhouding met ons medemens en met onsself. Die Christelike geloof is ’n geloof in ’n God van liefde; dit is ’n geloof wat ons verander na die gelykenis van die Seun van God wat uit liefde sy lewe vir ons afgelê het; dit is ’n geloof wat ons leer om Jesus op sy liefdesweg te volg. Geloof is in die geskiedenis dikwels as voorwendsel vir allerlei twyfelagtige doeleindes gebruik: om eiebelang in die politiek te dien en om wreedhede te pleeg – te martel, dood te maak en te vernietig. Op dié manier is valse geloof gebruik om geloofwaardigheid aan verwronge idees te gee, maar dít is nie die geloof wat die Nuwe Testament verkondig nie. Die Nuwe Testament handel oor geloof wat tot liefde lei en liefde wat tot geloof lei – dít is die geloof wat Jesus verkondig en uitgeleef het.
IS DIT MOEILIK OM TE GLO?
’n Gelowige se lewe is maklik en ook moeilik. Maklik, omdat jy nie God se guns hoef te verdien nie. Maklik, omdat jy jou bekommernisse op Iemand kan werp wat vir jou sorg en daarom veilig kan voel. Maklik, omdat God jou van onheil bewaar en jou bystaan in beproewings. Dit is egter ook moeilik, omdat dit strydig is met die menslike natuur – van nature wil ons in beheer van ons lewe bly. Ons natuurlike neiging tot selfgesentreerdheid en ongeloof moet plek maak vir geloof en gehoorsaamheid – en dit is moeilik.
’n Gelowige se lewe is soos iemand wat leer swem – dit is moeilik én maklik. Aan die begin wil jy jou doodskrik as die water onder jou padgee sodat jy begin sink – jy spartel om so gou moontlik by die kant van die water terug te kom. Maar stadigaan leer jy om die water te “vertrou”; jy leer dat dit meegee, maar jou tog dra. Die water, wat eers vir jou ’n bedreiging was, word die sleutel tot ’n heerlike ervaring, anders as enigiets wat jy vantevore beleef het.