Читать книгу Vegter en balling - Chris Schoeman - Страница 6
Оглавление2
Aan die oorlogsfront
Oktober 1899 tot Junie 1900
Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, was Charles von Maltitz 30 jaar oud. Die vreedsame, landelike bestaan van die Oos-Vrystaatse boere was eensklaps iets van die verlede.
Charles se tuisdorp, Ficksburg, is aan die voet van die Imperani-berg geleë en lê op die walle van die Caledonrivier, wat ook die grens met Basoetoland (vandag se Lesotho) was. Die maande voor die oorlog is vir die Vrystaatse burgers langs die grens met Basoetoland deur onrustige afwagting gekenmerk. Hulle was bekommerd dat die Basoeto’s, wat Britse onderdane was, hulle aan Brittanje se kant sou skaar en die Vrystaat moontlik kon binneval. Dit het egter nooit gebeur nie en talle Vrystaters het in werklikheid in Basoetoland gaan skuiling soek en feitlik vir die duur van die oorlog ’n heenkome daar gevind.
Adriaan von Maltitz en vyf van sy seuns – Charles, Jan, Pieter, Adriaan (Attie) en Friedrich – het aan die begin van die oorlog by die Boerekommando’s aangesluit. Ingevolge wetgewing van die Republiek van die Oranje-Vrystaat moes alle burgers tussen die ouderdomme van 16 en 60 militêre diens verrig, tensy hulle ’n geldige rede gehad het om nie opgekommandeer te word nie. Vroeg in Oktober 1899 het pres. M.T. Steyn34 van die Oranje-Vrystaat sy kommandante en veldkornette opdrag gegee om alle geskikte burgers vir die verwagte oorlog op te kommandeer.
So ’n oproep tot diens kon enige tyd van die dag of nag gebeur. ’n Boervrou van die distrik Senekal, Charlotte du Preez, het onthou hoe sy en haar man so ’n nagtelike besoek deur Jan von Maltitz ontvang het. “Dit was laat die aand van die 1ste Oktober 1899 en ek en my man was al in die bed toe daar aan die voordeur geklop word,” skryf sy. “Ons kyk na mekaar, dit is seker die Kommandeerman – en so was dit ook. Dit was die dapper jong Jan von Maltitz.”35
Jan was ’n gewilde en gerespekteerde man in sy gemeenskap. Hy word deur Du Preez as “altyd grapperig en vinnig met ’n antwoord” beskryf, maar ook as “dapper en verstandig”. Toe haar man op Nuwejaarsdag 1900 saam met Jan na die Colesberg-front vertrek, het sy vir Jan gevra om mooi na hom om te sien aangesien hy al in sy vyftigs was. Daarop het Jan blitsig geantwoord: “Ja, oom Philip moet my net gehoorsaam wees!”36
Die Boeremagte is georganiseer op grond van die tradisionele kommandostelsel. Die twee republieke is in distrikte opgedeel wat weer in wyke verdeel is. In elke wyk is ’n veldkornet en ’n assistent-veldkornet deur die burgers in hul wyk verkies. Hulle het dan na die hoofdorp in hul distrik gegaan om by die ander veldkornetskappe aan te sluit en ’n kommando te vorm. Daarna het die burgers ’n kommandant verkies om hul kommando te lei.
Charles en Pieter von Maltitz is aanvanklik tot assistent-veldkornette van die Ficksburg-kommando verkies en Jan tot veldkornet vir die Senekal-kommando.37 Charles is later tot veldkornet bevorder en Pieter het sy regterhand geword. Die Ficksburg-kommando het onder die gekombineerde Winburg-kommando geval wat Marthinus Prinsloo tot kommandant verkies het. (Prinsloo is later as veggeneraal aangewys.)
Adriaan von Maltitz sr. was al in sy laat vyftigerjare toe die oorlog uitgebreek het, maar hy was nietemin een van die eerste Vrystaters wat Natal binnegeval het. Hy was betrokke by die Slag van Colenso op 15 Desember 1899, maar hy het daarna siek geword en moes na Wittekrantz terugkeer nadat hy die wapen neergelê het. Jan het in Desember en Januarie aan die Natalse front vir sy pa ingestaan.38
Die Von Maltitze se jonger broer Attie was op Wellington op skool toe die oorlog uitgebreek het, maar het in November 1900 by die kommando’s van genl. Christiaan de Wet aangesluit toe hulle op pad was om die Kaapkolonie binne te val. Hul jongste broer Friedrich was 16 jaar oud toe hy by die Senekal-kommando aangesluit het. Sy pa moes op daardie stadium weens siekte van die Natalse front terugkeer huis toe en het voorgestel dat Friedrich in sy plek aan die Vrystaatse front kon gaan veg. Friedrich se vuurdoop was die Slag van Sannaspos en hy het daarna aan verskeie veldslagte deelgeneem tot en met die oorgawe in die Brandwaterkom.
Die Anglo-Boereoorlog kan in drie hooffases opgedeel word. In die eerste fase het die Boere aanvalle in die Britse gebiede van Natal en die Kaapkolonie geloods en was daar belegte van die Britse garnisoene in Ladysmith, Mafeking en Kimberley. Boerekommando’s het ook die Oranjerivier oorgesteek om distrikte in die Karoo in te val, waaronder Colesberg op 14 November 1899 waar Charles von Maltitz ook geveg het. Die Boere het daarna ’n reeks taktiese oorwinnings behaal by Colenso, Magersfontein en Stormberg in ’n mislukte Britse offensief om die beleg van Ladysmith en Kimberley te beëindig. Daar word hierna verwys as die Britse magte se sogenaamde Black Week.
Die tweede fase is gekenmerk deur die instroming van groot getalle Britse troepe onder bevel van veldmaarskalk lord Roberts en hierdie keer is ’n suksesvolle offensief geloods om die beleg te beëindig. Hierop het Roberts die Oranje-Vrystaat binnegeval en Bloemfontein op 13 Maart 1900 beset, gevolg deur die Transvaal, waar Pretoria op 5 Junie 1900 ingeneem is.
In die finale fase van die oorlog het die Boere van die einde van Maart 1900 ’n uitgerekte guerrillastryd teen die Britte geloods wat ’n verdere twee jaar geduur het. ’n Deel van hul taktiek was om Britse troepekolonnes te plunder en spoorweë en voorraaddepots te vernietig. Charles en sy broers Pieter en Friedrich was in die eerste van hierdie aanvalle betrokke – die aanval by Sannaspos onder leiding van genl. Christiaan de Wet. In ’n poging om die Boere se toegang tot voorrade af te sny, het lord Kitchener met die verskroeideaardebeleid begin. As deel van dié beleid is opstalle afgebrand, vee doodgemaak en burgerlikes – hoofsaaklik vroue en kinders – na konsentrasiekampe weggevoer.
Met die uitbreek van die oorlog is die meeste Vrystaatse kommando’s na die Natalse grens gestuur waar hulle in Van Reenenspas stelling ingeneem het voordat Natal binnegeval is. Sommige burgers uit die distrikte wat aan Basoetoland gegrens het, is egter aangesê om die gebiede langs die Caledonrivier te patrolleer. Charles von Maltitz se Ficksburg-kommando het byvoorbeeld die Basoetolandse grens vir ’n maand gepatrolleer voordat hy – ná ’n bevordering tot veldkornet – na die Colesberg-front gestuur is.39
Aan die Colesberg-front was daar in Januarie en Februarie 1900 heelwat skermutselinge met die Britse troepe.40 Jan von Maltitz en die Senekal-kommando het ook aan die Colesberg-front diens gedoen, maar Jan het daar maagkoors opgedoen en moes tydelik terugkeer huis toe.
Daarvandaan is Charles na die wesfront waar sy kommando ’n Britse mag naby De Aar aangeval het as deel van ’n poging om genl. Piet Cronjé te hulp te snel.41 Cronjé is by Modderriver deur groot getalle Britse troepe omsingel. Kimberley is op 15 Februarie ontset en Cronjé het op 27 Februarie met sowat 4 000 man by Paardeberg oorgegee, waarna die gety teen die Boere begin draai het. Lord Roberts se magte was daarna onstuitbaar, ten spyte van De Wet se weerstand by Poplar Grove en Abrahamskraal.
Op 13 Maart is Bloemfontein deur die Britse troepe ingeneem. Ná die val van die Vrystaatse hoofstad is Charles tot hoof-veldkornet en assistent-kommandant van die Ficksburg-kommando bevorder. Hy het pres. M.T. Steyn en ’n groep Vrystaatse generaals na Kroonstad vergesel waar hulle op 17 Maart ’n gekombineerde krygsraad van die Vrystaat en Transvaal bygewoon het.42 Pres. Kruger en Steyn, kmdt.genl. Piet Joubert, genls. De Wet en Koos de la Rey, asook verskeie kommandante, waaronder J.B.M. Hertzog (die latere premier van Suid-Afrika) was by dié krygsraad teenwoordig.
Die raad se vernaamste besluit was dat die Boeremagte met konvensionele oorlogvoering sou voortgaan, maar terselfdertyd ’n guerillastryd sou voer, wat verrassingsaanvalle op Britse voorraadlyne sou insluit.43 ’n Faktor wat ’n positiewe uitwerking op die guerillastryd sou hê, was dat daar weggedoen sou word met die waens (waarvan heelwat vroue en kinders vervoer het) en groot troppe vee wat die Boerekommando’s tot op daardie stadium vergesel het. Hierdie groot laers het die Boere se mobiliteit uiteraard negatief beïnvloed.
Volgens C.J. Asselbergs, ’n Nederlandse militêre attaché wat oor die besprekings verslag gedoen het, het De la Rey vas geglo die laers is ’n groot las en hy is daarin gesteun deur De Wet.44 Nie net moes die waens beskerm word nie, het De Wet gesê, maar hy het ook by Poplar Grove opgelet hoe die vegtende burgers op die vlug begin slaan sodra die laers terugtrek. Asselbergs skryf voorts De la Rey het voorgestel dat die kommando’s hoogstens 500 man sterk moes wees sodat hulle doeltreffend georganiseer kon word.
Ná die krygsraad het Charles von Maltitz tussen 4 April en einde Julie 1900 aan veldslae by onder meer Mostertshoek, Wepener, Jammerbergsdrif, Boesmankop, Hammonia, Leeukop en Slaapkrans in die Brandwaterkom deelgeneem. Hy het baie van die verkenningswerk self gedoen om hom van situasies te vergewis en het voorkeur gegee aan vrywilligers om moeilike take te verrig, eerder as om kommandolede te dwing om iets te doen.45 Friedrich von Maltitz het van sy broer Charles gesê hy was altyd “. . . baie besorg oor sy manskappe. Hul veiligheid en benodigdhede het gewoonlik sy persoonlike aandag geniet, selfs toe ons krygsgevangenes was en die meeste van die kommando-offisiere min in hul burgers belanggestel het. Charles het hom glad nie laat afskrik deur enige van die Britse offisiere nie [na hul latere gevangenisneming] en hy het gereeld gebruik gemaak van die woorde: ‘We expect British Justice’.”46
Ná die val van Bloemfontein het genl. De Wet sy burgers verlof gegee om huis toe te gaan, maar met die opdrag om op 25 Maart weer by die Sandrivier te hergroepeer. Ná die kort verposing het die eerste belangrike aanval deur die Boeremagte onder De Wet op 31 Maart plaasgevind. Die Britse garnisoen by Sannaspos se waterwerke is geteiken. Die Britte, onder genl. Robert Broadwood, het groot verliese in die aanval gely. Charles, Pieter en Friedrich von Maltitz was al drie betrokke by hierdie groot oorwinning.
Die aanval was die 16-jarige Friedrich se vuurdoop. Hy het dit as volg in sy memoires beskryf:
Vroeg in die môre het ons grofgeskut, nadat ons die hele nag getrek het, die vyand by die waterwerke aan Modderrivier onder stofwolke gehad. Die perderuiters moes storm en dit oor die kaal bulte. Die vyand was gou op volle vlug na Bloemfontein, maar genl. De Wet wag hulle in by Koornspruit. Dié wat nie krygsgevange geneem is nie, spring terug en ons stormjaers ontmoet hulle op ’n kaal bult tussen Modderrivier en Koornspruit.
Dit was ’n warboel: hulle te voet en ons op perde wat toe al sowat 20 uur onder saal was. Die vyand swaai regs in aflosformasie. Oral sak perde neer weens swakheid of koeëls – myne inkluis met ’n skoot deur die kop.
My kommandant, Gerrie van der Merwe, kry ’n skoot deur sy longe en sak net voor my inmekaar. Ek was te swak om hom staande te hou, maar kon sy hoof ophou tot ander hulp opgedaag het.
Ek was toe ook al uitgeput van honger, dors, vrees en wat meer en stap toe maar terug na waar ek my perd gelaat het.47
Hiervandaan het die jong Friedrich die ses myl (10 km) na sy laer teruggesukkel met sy gewonde perd en nog ’n lig gewonde Engelse perd wat hy langs die pad gevind het. Sy makkers het geskrik toe hulle hom sien, want hy was nog bevlek met sy kommandant se bloed en sprakeloos van uitputting.48
Op 4 April het De Wet ’n Britse kolonne by Mostertshoek verslaan.49 Vyf dae later het sy beleg van Brabant’s Horse50 by Jammerbergsdrif naby Wepener begin. De Wet moes ná 16 dae se gure weer egter die aftog blaas. Teen daardie tyd het die Britte begin om op die Oos-Vrystaat toe te sak.51
Lord Roberts het op 3 Mei met ’n mag van sowat 25 000 man noordwaarts vanaf Kareestasie (net noord van Bloemfontein) vertrek. Terselfdertyd het ’n ander mag na die ooste onder genl. Ian Hamilton en maj.genl. sir Henry Edward Colville parallel met Roberts se mag noordwaarts vertrek. Die volgende dag het lord Roberts vir genl. sir Leslie Rundle, wat die 8th Infantry Division by Thaba Nchu aangevoer het, opdrag gegee om die Boere te verhoed om die suidoostelike Vrystaat te herbeset.
Gedurende hierdie Britse operasies is die Boere se plase op groot skaal verwoes en geplunder. Die briewe van die predikantsvrou Margaret Marquard van Winburg gee ’n goeie idee van hoe die plaaslike bevolking getraumatiseer is deur die vernietiging wat met hierdie aksies gepaardgegaan het. Op 15 Mei 1900 skryf sy: “Today and yesterday we have had visits from women from the country . . . some – especially a poorer one today – had horrible tales of the destruction and wholesale robbery on their homesteads: for wickedness they [the British] are hard to equal . . . The details seem too trying to go over – carts, horses, ‘trekgoed’, wagons, forage, ‘alles wat op een zolder is’, nothing spared.”52
Dit was ook in hierdie tyd dat Adriaan von Maltitz, Charles se pa, deur die Britte gedwing is om die eed van neutraliteit af te lê. Op daardie tydstip was daar ’n Ierse regiment op Wittekrantz gestasioneer. Op 22 Mei 1900 is twee burgers by Wonderkop in die Senekal-distrik aangekeer en na die Britse kamp op Wittekrantz geneem. Die twee burgers kon in die huis slaap, maar is regdeur die nag bewaak. Die volgende oggend het Alida von Maltitz hulle iets te ete gegee voordat Adriaan saam met die twee burgers na Clocolan geneem is waar hulle voor ’n paar offisiere verskyn het en die eed van neutraliteit moes aflê. Hierop het elkeen ’n pas ontvang wat hulle op “beskerming” deur Britse troepe geregtig gemaak het, maar later geblyk het waardeloos te wees.53
Adriaan het goed bevriend geraak met twee offisiere van die Ierse regiment, sir John Keene en maj. George Grey. Hulle het saans gereeld saam gekuier, en die offisiere het ook vir hom interessante literatuur gebring. Hul vriendskap het hom egter nie van latere gevangenskap gevrywaar nie. Meer as ’n jaar later, in November 1901, is Adriaan eers na die tronk op Winburg geneem waarna hy na die deurgangskamp Tin Town in Natal geneem is voordat hy as ’n krygsgevangene na St. Helena gestuur is. Hy sou eers in September 1902 na Ficksburg terugkeer. Soos die geval was met honderde ander plase het daar van syne niks oorgebly nie en hy moes van voor af begin.54
Op 29 Mei 1900 het die Slag van Biddulphsberg naby Senekal plaasgevind, waartydens die Britte gevoelige verliese toegedien is en genl. Leslie Rundle na Senekal moes terugval. Die deelnemende kommando’s was dié van Ladybrand onder bevel van kmdt. Jan Crowther (die grootste groep), die Senekal-kommando onder genl. Andries de Villiers, die Ficksburg-kommando (met Charles von Maltitz in sy geledere) onder kmdt. Paul de Villiers, die Wepener-kommando onder kmdt. Paul Roux, die Smithfield-kommando onder kmdt. J. Potgieter en die Thaba Nchu-kommando onder kmdt. Robert Crowther. In dié slag is genl. Andries de Villiers van die Senekal-kommando ernstig gewond en hy het later aan sy wonde beswyk. Kmdt. Paul Roux, ’n predikant van Senekal, is in sy plek as veggeneraal aangewys.55 Roux sou ’n belangrike rolspeler word in die gebeure wat hulle twee maande later in die Brandwaterkom in die omgewing van Fouriesburg afgespeel het.
Twee dae later was Charles weer op die slagveld toe die kommando’s onder genls. De Wet en Prinsloo die Britse magte by Lindley (Yeomanry Hill) oorval het. De Wet het op 7 Junie ook groot sukses by Roodewal behaal toe hy Britse goedere van £100 000 buitgemaak het. Hierop het Roberts ’n groot dryfjag op die Boere in die Oos-Vrystaat begin en feitlik die ganse Vrystaatse mag moes uiteindelik na die Brandwaterkom terugtrek (meer hieroor in die volgende hoofstuk).
Die Von Maltitz-broers het in daardie stadium vir agt maande reeds aan verskeie veldslae deelgeneem, tientalle kartetse sien ontplof en baie koeëls hoor fluit, maar ongedeerd daarvan afgekom. Op 10 Junie 1900 word hulle egter deur die noodlot getref toe die derde oudste seun, Jan, in ’n aanval op Engelse skanse by die spoorbrug by Virginia Siding doodgeskiet word. Jan moes in opdrag van genl. Paul Roux met ’n uitgesoekte groep van 200 Senekallers en Ladybranders van hul kamp naby Senekal uitgaan om die brug oor die Sandrivier te gaan opblaas. 56
Friedrich wou ook saamgaan, maar omdat sy perd te gedaan was ná ’n verkenningsveldtog in die voorafgaande dae, het Jan hom aangeraai om liewer te bly.
Dit was nog donker en bitter koud toe Jan en sy manne die Engelse skanse onder die doringbome aangeval het en die Kakies was op hul hoede. Hulle was ’n garnisoen van die Royal Engineers en het ook koloniale troepe ingesluit.57 Jan het sy manne beveel om te skuil maar nie te retireer nie, maar nie voordat twee van hulle noodlottig gewond is nie. Jan en ’n paar van die burgers aan die voorpunt het in die rivier se syslote geskuil, maar hy is tussen die oë geskiet net toe hy hom effens gelig het om oor die sloot se walletjie aan te lê. Van die tien Boere in die voorste posisie is vier doodgeskiet en twee gewond.58
Dié vier, waaronder Jan, is deur die Britse soldate begrawe in die sloot waar hulle gesneuwel het. Die Von Maltitz-familie het in 1904 ’n grafsteen vir Jan laat maak, maar hulle kon nie sy beendere vind nie.59 Dit het vermoedelik in die rivier afgespoel. Sy grafsteen is daarna in die Virginia-kerkhof opgerig.