Читать книгу Krokodil aan my skouer - Christiaan Bakkes - Страница 5
2
ОглавлениеIn my standerd 9-jaar gebeur ’n paar dinge. My lyf begin ontwikkel. Dit was vir my ’n verleentheid dat my tydgenote voor my ontwikkel het. Ek was die laaste ou in die waterpolospan sonder balhare. Nou begin ek bo almal uitrank. My stem breek. Liggaamshare stoot uit. Ek vind dat boelies wat my voorheen rondgestamp het my nou vermy. Sommige raak selfs vriendelik. Dit blyk ook dat Sandy Viljoen nie meer die enigste meisie is wat my raaksien nie.
My ouers bly bekommerd oor my gebrek aan akademiese prestasie. Hulle gryp na strooihalms. Kuns is die enigste vak waarin ek belofte toon. Miskien is kuns my toekoms. Hulle skryf my in by Pro Arte, Pretoria se kuns-, musiek- en balletskool. Weer gaan ’n nuwe wêreld vir my oop.
Die kunsskool is ’n ontspanne plek. Daar word nie alewig in rye gestaan en haarinspeksies gehou nie. Daar word nie slae uitgedeel nie. Seuns en meisies meng vrylik. Beter nog – daar is vyf meisies vir elke seun.
Die kunsskool is ’n oopkopplek. Ek word blootgestel aan nuwe invloede. Ek leer van andersdenkendes, van ouens soos Paul Gauguin en Vincent van Gogh. Ouens wat alles prysgegee het vir hulle kuns. Mense soos Modigliani, Edvard Munch, Franz Marc en Salvador Dalí raak vir my bekend. Hulle was verbeeldingryk en dapper. Hulle het die grense oorskry en die onbekende verken. Hulle het die reëls herskryf.
Die kunsskool bevorder debat. Dis die vroeë 1980’s en daar is onrus in Suid-Afrika. In my vorige skool is daar gepraat van die Totale Aanslag en die Rooi Gevaar. Ons is grootgemaak om vrye denke te onderdruk. Hier word openlik gepraat oor wat verkeerd is in die land.
Dis ’n tyd van onluste in die swart woongebiede. Daar is oorlog in Angola en nasionale diensplig vir wit mans. Soldate sterf op die grens. Ons inligting daaroor is beperk tot SAUK-TV. Dis ’n eensydige beeld. Ons lewe veilig in ons wit voorstedelike kokon. Op kunsskool tel ek die eerste druising van bevraagtekening op.
Ek geniet die ontspanne atmosfeer. Oor naweke word daar gereeld partytjies gehou. Daar is baie eksentrieke meisies, veral onder die dansers. Almal trek uitspattig aan; ek verkyk my. Drank is volop en daar word skelm dagga gerook.
Op hierdie stadium van my lewe het ek nog nie eintlik aan die toekoms gedink nie. Behalwe ’n vae idee van ’n avontuurlike lewe in die buitelug het ek nie rêrig geweet wat ek wil doen nie. Daar was nie veel vooruitsigte nie. Enige beroep wat met syfers, getalle of state te doen het, was buite die kwessie. ’n Wetenskaplike rigting ook. Al wat ek gehad het, was ’n bogemiddelde kunstalent, ’n liefde vir die veld en ’n ontwakende avontuurlus.
Die groot rede hoekom ek nog nie aan ’n toekoms gedink het nie, was omdat dit nog nie nodig was nie. Soos elke ander wit man in Suid-Afrika moes ek verpligte militêre diens doen. ’n Mens kon besluit om eers te gaan studeer of jy kon direk ná skool gaan. Net die ouens wat presies geweet het wat hulle met hulle lewe wou doen, het eers gaan studeer. Die res is ná matriek weermag toe vir twee jaar. As kanonvoer is hulle in infanterie-eenhede opgeneem. Dit was my plan ook. Gaan weermag toe. Kry dit verby. Besluit daarna wat jy wil doen.
Aan die begin van my matriekjaar gebeur ’n ding wat my planne deurmekaarkrap. Op ’n middag sien ek ’n meisie van die kunsskool aan die oorkant van ’n besige straat. Ek het haar nie goed geken nie – sy was een van die eksentrieke meisies, en boonop Engels – maar sy het my aandag getrek.
Sonder om links of regs te kyk loop ek oor die straat agter haar aan. Ek word raakgery deur ’n afleweringsmotorfiets en my been breek in ’n oop fraktuur. Ek lê in die straat met my voet teen ’n 90 grade-hoek en ’n tibia en fibula wat deur my vel steek. Sheryll, die meisie, verdwyn straataf, onbewus van haar gevalle bewonderaar.
Ek moet vir twee weke in die hospitaal bly. My been is erg vergruis; dit gaan lank neem om te heg. Baie meisies uit die kunsskool kom besoek my. Ek geniet die aandag. Sheryll kom te hore dat ek as gevolg van haar omgery is. Sy voel gevlei. ’n Vlugtige romanse ontwikkel tussen ons. Met besoektye vroetel sy aan my onder die lakens.
Ek moet vir ses weke gips dra; ek loop op krukke. Vir almal wat nie weet nie, vertel ek dat ek in ’n motorfietsongeluk was. Dit klink meer indrukwekkend, en dit verhoog my aansien.
My besering veroorsaak egter probleme. Dit beteken dat ek vir ’n seisoen nie sal kan waterpolo speel nie. As jy vir ’n seisoen uitsit en onfiks raak, is dit bykans onmoontlik om jou spanmaats weer in te haal. Die groter probleem is egter dat my been nie sterk genoeg sal wees om die volgende jaar weermag toe te gaan nie.
Ek het nooit enige militêre aspirasies gehad nie. My pa was ’n soldaat, en ek wou nie in sy voetspore volg nie. Maar ek het tog so bietjie uitgesien na die avontuur van die weermag. Ek wou ten minste in ’n aktiewe eenheid dien, iets wat my in die veld sou bring en iets sou leer. As ek met ’n swak been weermag toe sou gaan, sou ek ’n klerk of ’n stoorman word. Ek wou nie vir twee jaar in ’n kantoor op Voortrekkerhoogte sit nie.
Terwyl ek nog gehoop het dat my been betyds sou herstel, het almal anders geweet dit sou nie die geval wees nie. My ouers het gesê ek moet solank aan iets dink om die volgende jaar te gaan studeer.
Die ses weke op krukke – ek was selfs veld toe met my krukke – doen my bolyf goed. My skouer- en rugspiere begin ontwikkel. Ek kom agter dat daar meer as een meisie is wat onderlangs na my loer.
Toe die dokter die gips verwyder, waarsku hy my om dit kalm te vat. My been moet kans kry om stewig te heg en ek moet steeds op krukke loop. Ek ignoreer hom. Die eerste aand sonder gips kap ek dit uit op die dansvloer by ’n partytjie. Daarna loop ek oral rond sonder krukke. My been bly seer. Ek ignoreer dit.
In dié tyd ontwikkel een van my waterpolospanmaats ’n probleem met my. Ek weet tot vandag toe nie hoekom nie. Miskien het ek maar net ’n kom-moer-my-gesig.
Hierdie ou was fris gebou en een van die beste waterpolospelers. Hy was aantreklik, met deurdringende blou oë, en die meisies was mal oor hom. Daar was net een ding wat teen hom getel het: hy was baie kort.
Meer en meer het hy aangedring dat hy met my wil baklei. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek het geen probleem met hom gehad nie. Tydens waterpolo het ek hom as ’n vriend en spanmaat beskou.
“Ons kan dit doen,” het ek gesê. “Gee net kans dat my been regkom.”
“Jou been is reg. Die gips is mos af. Dis jý wat nie reg is nie. Jy’s bang vir my.” Op skool was ek glad nie ’n bakleier nie. Ek was seker in net vier of vyf vuisgevegte betrokke. Daar was een of twee oorwinnings, die res was loesings of gelykop.
Ek het darem een oomblik van glorie beleef; dit was in standerd 4. ’n Standerd 5-outjie het my uitgedaag vir ’n geveg. Dit sou die Vrydag ná skool in die Springbokparkie plaasvind. Hy was groter en frisser as ek en ek was bang. Hy wou ’n vuisgeveg gehad het, maar ek het gesê ons moet eerder stoei.
Met die stoeigeveg het hy my heeltyd ondergesit. Hy het my verneder, my kop in ’n blombedding gedruk en my gesig in die grond gevee. Toe ons klaar gestoei het, sê hy ons moet boks.
Ons neem stelling in teenoor mekaar. Sy houding is selfversekerd en minagtend. Daar is ’n smalende glimlag om sy mond. Ek lig my vuiste in ’n verdedigende posisie soos my oudste broer my geleer het. Die seun sirkel dreigend om my. Sy maats staan in ’n kring en por hom aan. Hy plant ’n vuishou skrams teen my wang.
Toe gebeur iets. Dis soos ’n damwal wat breek. Ek storm vorentoe met swaaiende arms. My vuiste land hamerend op sy gesig. Ek sien sy verstarde oë. Nou moker ek hom aanmekaar. Hy lig sy arms verdedigend, maar my vuiste tref die teiken. Iets in my sê nou moet jy nie ophou nie. Slaan hom dood. Ek dryf hom deur die blombedding en anderkant uit. Alles gebeur vanself; ek beleef elke oomblik glashelder. Ek sien hoe sy neus oopbars soos ’n ryp pruim. Daar is bloed en snot oor sy wange. Ek weet hy mag nie weer die oorhand kry nie. Ek dink nie aan ophou nie. Ritmies timmer ek hom in sy gesig.
Die volgende oomblik is hy op sy rug. Ek land bo-op sy bors. My bene pen sy arms vas. Soos die suiers van ’n stoomenjin hou ek aan om hom te foeter. Hy begin blêr soos ’n lam. Nou moet ek hom doodmaak, besluit ek.
Toe is sy maats by. Hulle trek my van hom af. Dinge het nou te ver gegaan. Daar is skok en ontsag in hulle houding. Paaiend probeer hulle my kalmeer.
“Asseblief, Stoffel,” sê een uitasem, “hy het genoeg gehad.”
Dit laat my ophou. In hulle greep bars ek in trane uit.
Nou is dit weer sulke tyd: uit die bloute wil ’n ou met my baklei.
Ek probeer uitwerk wat sy probleem met my is. Elke keer as ek vir hom sê dat my been nog nie gesond is nie, noem hy my ’n lafaard en sê vir almal ek is bang vir hom. Dis nie goed vir my sewentienjarige ego nie. Ek weet hy probeer ’n geveg afdwing.
Al wat ek kan dink, is dat hy my as ’n bedreiging begin sien het. Ek – ’n bedreiging? Dis mos belaglik. Ek is ’n groot slapgat. Dalk is dit omdat ek begin uitskiet. In minder as twee maande het ek bo hom uitgerank en my skouers het breër geraak. Hy was al vroeg ontwikkel. Sy stem het in standerd 6 al gebreek. Sy spiere was goed gedefinieer en bonkig. Daar was al ’n woud balhare om sy knaters. Dit was egter teen standerd 9 duidelik dat hy na almal om hom sal moet opkyk, selfs na die meisies. Ek dink dit het hom gepla. Hy wou sy frustrasie wreek en het my as teiken gekies.
Hy teister my eindeloos. My been word nie beter nie. Ek raak moeg vir sy dreigemente en beskuldigings. Kom ons kry dit oor en verby.
“Goed,” sê ek, “vanmiddag langs die treinspoor.”
Heelwat ouens van ons waterpolospan is daar. Ek weet die ouens wat nie daar is nie, is aan my kant, maar niemand sal die sterspeler teëgaan nie. Dit vererger my gevoel van isolasie. Die waterpoloklub is die enigste plek waar ek voel ek hoort en hier word ek deur my spanmaats verraai. Ek besef ek sal vir ewig ’n buitestander bly.
Die geveg is eensydig. My beseerde been pen my magteloos vas. Ek plant twee vuishoue op sy wang. Daarna foeter hy my ’n paar keer voordat hy my gesonde been onder my uitskop en op my bors gaan sit. Toe bliksem hy sewe kleure kak uit my uit.
’n Dokter werk my oogbank en lip toe. Ek weier om my ouers die waarheid te vertel en mompel iets van ’n waaierband wat van ’n Lister-pomp afgespring het. Ek weet hulle glo my nie. Die pyn in my been word ondraaglik. ’n Week later vat my ma my terug dokter toe.
“Mevrou, sy been het nooit geheg nie. Hy loop al vir langer as twee maande op ’n gebreekte been rond.”
Dadelik word ek gehospitaliseer. Onder narkose word my been met skroewe geheg.
Dit verseël my lot: weermag die volgende jaar is buite die kwessie. Ek moet noodgedwonge iets gaan studeer. My ma is moedeloos en in trane, oortuig daarvan dat haar jongste seun meer as net verstandelik gestrem is.
Die insident maak ’n blywende indruk op my. Ek ontwikkel ’n agterdog teen kort mannetjies. Ek beskou hulle as verraderlik en minderwaardig. Vir die res van my lewe sal ek hulle hou waar ek hulle kan sien.
My matriekjaar draal verby. Op kunsskool maak ek vriende met Jaco van der Westhuizen en ons vind dat ons ’n liefde vir die veld deel. Hy vertel my van sy oom se plaas aan die Limpoporivier.
Kort voor die eindeksamen sê hy: “Ek gaan vir die Desembervakansie plaas toe. Wil jy saam?”
Ek het nie planne vir Desember nie. Die meeste van ons klasmaats gaan afry Margate toe vir groot partytjies op die strand. Ek het nie geld of ’n geleentheid nie. ’n Plaasvakansie klink na net die ding en ek laat my nie twee keer nooi nie.
Ek slaag matriek glorieloos. My punte lees soos die naam van ’n death metal-rockgroep – vol D’s, E’s en F’s. Ten minste kry ek toelating om die volgende jaar aan die Pretoria Technikon te gaan studeer.
Met kampgoed en ’n jaggeweer vertrek ek en Jaco in die voordag uit Pretoria. Ons ry in sy ou Datsun 1400-bakkie. Hoe verder noord ons gaan, hoe tuiser voel ek. Al die sorge verdwyn agter my saam met die stad. Die bosveld maak oop voor ons. Ons ry verby Vivo, Dendron en Alldays. Die veld raak al wilder en ruier.
Voor Pontdrif draai ons af. Dis donker toe ons by die plaashek indraai. Ons bereik die verlate opstal en steek kerse op. Elkeen vind ’n katel waarop ons slaapsakke uitrol. Gou slaap ons.
Die volgende dag breek. Van vroeg af is dit warm. Ons drink koffie en eet beskuit. Die plaashuis is omring deur lae rante en mopanieveld. Jaco raak haastig.
“Ek het nie plaas toe gekom om in die huis te bly nie. My oom het gesê ons mag ’n rooibok skiet.”
Sy opgewondenheid is aansteeklik. Ons laai kampgoed, geweer, blikkieskos en koffie oor uit sy bakkie op ’n ou Land Rover. “Dis ’n rowwe pad rivier toe,” sê hy.
Ons spring in en ry. Die riviervallei val weg voor ons. ’n Tweespoorpad kronkel afdraand deur gebroke sandsteenrante. Oral om ons is verweerde rotsformasies, holkranse en grotte. Mopanie en sesamebos groei welig.
Drie klipspringertjies wip oor die rante. In ’n leegte staan ’n troppie rooibokke. Ons los hulle; ons sal later skiet. Dan sien ons die elande. Jaco stop. In die ryk oggendlig bewonder ons hulle eers.
’n Elandkoei breek weg van die trop. Sy kom reguit na die Land Rover gestap. Sy steek haar kop by die venster in en soengroet vir Jaco met ’n nat, breë snoet. Hy streel oor haar neus.
“Môre, Saartjie,” groet hy terug.
Hy vroetel agter die sitplek en haal ’n Ouma-beskuit uit. Saartjie vat dit uit sy hand en kou dat die krummels spat. Ek sit vasgenael.
“Klim uit en maak kennis,” sê Jaco.
Ek klim uit en loop om die bakkie. Die eland kom na my toe. Ek kry ook ’n soengroet. Sy is die mooiste dier wat ek nog gesien het. Ek streel oor haar goue flanke en voel haar fluweelsagte keelvel. Ek kyk in haar sagte bruin oë. Iets roer in my; ek voel ’n verband tussen ons. Jaco neem ’n foto van my en Saartjie met die mik-en-druk. Ek het vandag nog daardie foto.
“My oom het haar hans grootgemaak,” vertel hy. “Nou loop sy wild saam met die trop.”
In die volgende dae sou Saartjie ons gereeld in die veld tegemoetloop.
Ons ry aan. Dit raak nou steiler. Ek voel hoe die onaangenaamhede van die afgelope jaar wegval. Ek weet ek is tuis.
Ons kom om ’n rantjie en die breë sandloop van die Limpopo verskyn voor ons. Die oewers is dig begroei met wildevy, koorsboom en lalapalm. Oorkant die rivier lê Zimbabwe. Ek neem die toneel in. Vir die eerste keer sién ek regtig Afrika.
Jaco stop met die Land Rover onder ’n reuse-wildevy teen ’n holkrans. Hier sal ons uitspan. Voor ons lê die wit sand van die Limpopo uitgestrek.
Die eerste nag is ons maar skrikkerig. Hierdie is nie die Elandsrivier naby Pretoria nie. Hier voel mens die wildernis aan. Die vye hang ryp aan die boom. Elke keer as een val, soek ons vervaard met ons flitse. Ver oor die rivier speel Afrikatromme diep in die nag. Dit klink geheimsinnig en mistiek. Ek voel hoe die primitiewe ritmes deur my siel vibreer; ek voel hoe dit my roep.
Ons word teen dagbreek wakker met die geskarrel en geblaf van bobbejane teen die sandsteenkrans bo ons. Hulle is ontsteld. Hulle wil vye eet vir ontbyt, maar twee mense het hulle boom geannekseer.
Ons stap uit oor die breë sandloop om te gaan was. Die groot reën het nog nie geval nie; die rivier vloei vlak en stadig. Die dag is effe oortrokke en bedompig. Ek kyk om my rond. Die Limpopo strek wyd en ver. Die rivieroewerbos groei welig. Sandsteenrante toring oral uit. Palmbome hou enkel of in groepies wag.
Ek draai my blik noord, na oorkant die rivier. Agter die koorsbome strek ’n vlakte. Dit nooi my uit om te verken.
Dit word dae van rondloop en ontdek. Ons dwaal ver met die Limpopo se loop af. Ons klouter deur die sandsteenkoppe en ek voel hoe my been sterker word. Jaco wys my ’n holkrans met rotstekeninge en potskerwe. ’n Troppie elande staan lewensgetrou afgeëts teen die rotswand deur ’n ou, ou hand.
Op ’n draai in die rivier stuit die water teen hoë sandsteenwande en maak ’n diep kuil. Ons bekruip krokodille waar hulle op ’n sandbank lê. Hulle gewaar ons en glip die water in. Oral is daar wild. Ons sien bosbokke in die oewerbos. Daar is baie koedoes, rooibokke en vlakvarke. Ons skiet ’n rooibok en braai elke aand.
In die hitte van die dag lê ons in die skadu van die wildevy en gesels. Jaco lees graag en dink na oor goed. Op skool was hy die een wat baie dinge bevraagteken het. Hy gaan volgende jaar weermag toe. Hy is opgeroep na die seinerskorps in Heidelberg.
“Ek wil eers die weermag verbykry,” sê hy. “Dan wil ek met my lewe aangaan.”
“Wat wil jy gaan doen?”
“Joernalistiek en fotografie.”
“Ek het nie ’n idee wat ek wil doen nie,” sug ek. “Ek sal graag in die veld wil werk, maar my wetenskap en biologie is hopeloos.”
“Op ’n tyd het ek gedink ek wil films maak. Natuurfilms. Daar is ’n filmproduksiekursus by die Tech.”
“Dit klink na ’n moontlikheid.”
Een oggend stap ek langs die rivier terwyl Jaco in die kamp doenig is. Op die ingewing van die oomblik loop ek deur die water. Kort voor lank staan ek aan die noordoewer. Ek is in Zimbabwe – tot ’n paar jaar gelede nog Rhodesië. Daar het ’n bittere oorlog gewoed. Ons het dit op die TV-nuus gesien en daarvan in Huisgenoot gelees. Ek stap teen die oewer uit, oor die vlakte. Dit voel opwindend. Hier loop ek onwettig rond in ’n onbekende Afrikaland.
Ek stap deur die koorsbome. Die dag is warm en die sonbesies sing. Dis ’n oop mopanievlakte en ek stap verder noord. ’n Trop rooibokke bars uit die bosse vlak langs my. Hulle maak boogspronge voor my verby. Ek steek vas. Hulle verdwyn in die ruigtes. Vir lank staan ek so. In die hitte en die stilte van die wildernis. Dit voel goed. Die hitte en die stilte, die opwinding en die vryheid. Ver van die stad. Ver van mense. Ver van die frustrasies en onsekerhede van grootword, die onpeilbaarheid van menslike gedrag.
Skielik weet ek.
Ek draai om en stap terug rivier toe.
Dis ons laaste nag aan die Limpoporivier. Ek wil nie teruggaan stad toe nie. Ons sit om ’n knetterende kampvuur en praat oor die wonderlike dae van vryheid wat agter ons lê. Dae van sonskyn en bos. Jaco is neutbruin gebrand en ek ’n koperbrons. Ons praat oor die onsekere toekoms wat voor ons lê.
Skielik hoor ons geluide. Onbekende geluide. ’n Geritsel en gesuis. Ons kyk na mekaar. Wat kan dit wees? Dis ’n helder maanligaand.
Sonder ons vrees van die eerste nag hardloop ons uit die skuiling van die sandsteenkrans tot in die rivierbedding. Alles lê in silwer maanlig gebaai. Jaco sien hulle eerste. Ons steek vas.
In die maanlig, op die witsand, staan ’n trop olifante. Ses of sewe koeie en kalwers. Ek staan vasgenael. Ek beleef elke oomblik glashelder. Dis asof die laaste twyfel wegval. Hier in hierdie nag, aan hierdie rivier, op die grens van twee lande, word ons deur ’n trop olifante besoek. Vir my jong gemoed is dit van ontsaglike betekenis.
Hierdie is meer as ’n uitnodiging – dis ’n bevel. ’n Op roepinstruksie. Die wildernis het my geroep. Ek behoort van nou af aan wilde lande waar olifante vry rondloop. Dis hoe my lewe moet wees. Dis hoe dit sal wees. Van nou af sal ek my lewe só beplan dat ek in die nabye toekoms kan terugkeer na die wildernis. Terugkeer om te bly. Vir altyd.
Die matriarg vermoed onraad. Sy steek haar slurp in die lug. Vir ’n wyle staan sy so. Ek en Jaco staan stokstil – vyftig meter weg. Dan draai sy om. Sy kry haar troppie bymekaar en beweeg rivieraf. Ons kyk hulle agterna, elkeen besig met sy eie gedagtes. Ons praat nie.
Terug in Pretoria skryf ek in vir die filmkursus by die technikon.