Читать книгу Krokodil aan my skouer - Christiaan Bakkes - Страница 6

3

Оглавление

Die studente aan die technikon se filmskool is ’n gemeng­de spul. Daar is hippies, punks, kunstenaars, politieke aktiviste, moffies en lesbiërs. Hulle is onbevrees en uitge­sproke.

Vir die eerste keer hoor ek dat wit mense die ver­banne ANC openlik ondersteun. Ek is geleer hulle is ’n kommunistiese terroriste-organisasie wat interne stabiliteit ondermyn. Dat onluste in die swart woongebiede hulle skuld is. Nou hoor ek die ander kant van die saak: dat die ANC vryheidsvegters is wat hulle verset teen ’n onder­drukkende regering. Die ergste is dat dit wit mense is wat dit vir my sê.

Baie van die studente is lid van die United Democratic Front, ’n frontorganisasie vir die ANC. Daar is ook mense wat openlik teen militêre diensplig gekant is en behoort aan die End Conscription Campaign. Daar is ouens wat ouens se hande vashou en meisies wat mekaar oopmond soen. Dis alles vir my nuut, die ander punt van die skaal. In my konserwatiewe grootwordwêreld was ek die buite­stander. In hierdie nuwe omgewing voel ek steeds soos ’n buitestander. Dis asof ek nêrens inpas nie.

Tog vind ek die studentelewe interessant en opwindend. Dit stel my bloot aan ander denkrigtings en uitkyke; dis verfrissend. Filmskool word ’n jol. Die partytjies is wild. Daar word vrylik dagga gerook. Ek hoor nuwe musiek, aggressief en opruiend. Nina Hagen, Siouxie Sioux and the Banshees, Devo en The B52s. Daar is ’n onrustigheid onder die studente. Ek luister na oproerige politieke de­batte. Die Nasionale Party moet omver gegooi word. Nelson Mandela moet dadelik bevry word.

“How can they ban the ANC? The government is a bunch of thugs,” sê Guy Spiller.

“Die AWB is ’n neo-Nazi-organisasie,” sê Jan Lampen.

“I lost mine through horse-riding,” sê Sheldon die moffie.

Elke student is daar vir ’n ander rede. Hulle kyk my aan asof ek mal is. Natuurfilms? Die idee is absurd.

Ons kyk baie flieks. Ek geniet dit. Ek leer baie. Ek ont­dek Stanley Kubrick en kyk na Dr. Strangelove en A Clockwork Orange. Laasgenoemde was toe nog verban en die lektor sluit die lesingsaal.

Ons word geleer om films te analiseer. Elke regisseur het sy eie styl. Daar was die pioniers wat rewolusionêr was – hulle het vroeg reeds film as ’n magtige medium gesien. Mense soos Sergei Eisenstein en D.W. Griffith. Ons kyk selfs Leni Riefenstahl se Nazi-flieks. Ons leer van Milos Forman, Martin Scorsese, David Lean en Sam Peckinpah. Ons kyk flieks soos Apocalypse Now, One Flew over the Cuckoo’s Nest, The Graduate en The Long Riders. Ek leer om anders na films te kyk.

Die studente het baie te sê. Hulle het duidelik meer insig as ek. Ek wou maar net kom leer om natuurflieks te maak sodat ek in die bos kan wees. Tog leer ek. Ek voel dat my verwysingsraamwerk verbreed.

Ek vind redigering ’n interessante vak. Ons word geleer om film te sny en te plak – dis hoe daar van een toneel na die volgende geskuif word. Dis egter nie al nie. Party redigeerders gebruik dit om die dramatiese effek van die film te verhoog, soos in die gevegstonele van Scorsese se Raging Bull. Ek begin verstaan.

Die probleem lê egter by die meer tegniese vakke. Film­wetenskap dek alles oor lense, beligting en die ontwikkeling van film. Hier trap ek klei. Dis net te wetenskaplik vir my. Ek weet van die begin af ek gaan dit nie onder die knie kry nie.

Oorkant die technikongebou in Du Toitstraat is die Wagon Wheel Inn, ’n rowwe middestadkroeg. Dit word tradisie by die filmstudente om tydens die etensuur oor te glip vir ’n paar biere.

Ons kry ons eerste projek: ons moet elkeen ’n produk kies en ’n advertensie maak. Ons moet ’n filmspan kies uit ons medestudente. Ek kies vir Guy Spiller en Edwin Knopf. Edwin is ’n Oostenryker wat net na Van Halen luister en iets van filmkameras af weet. Hulle stem in om my spanmaats te word en ek belowe om hulle met hulle advertensies te help.

Die filmskool stel die toerusting beskikbaar. Ons moet self die 16 mm-film koop – dis duur.

Ek het klaar ’n idee vir ’n advertensie: ek gaan ’n Camel-ad maak. In daardie dae was sigaretadvertensies ver­bode op TV, maar in die SterKinekor-teaters was daar tabakadvertensies op die grootskerm. Die Camel-advertensies was baie gewild. Elkeen het ’n avontuur in die wildernis gewys. ’n Groot blonde man verken die woude van Suid-Amerika. Hy beland elke keer in ’n uitdagende situasie, hetsy in ’n kano op ’n bruisende rivier of op ’n vervalle hangbrug oor ’n gapende kloof. Elke keer bied hy die uitdaging die hoof. Aan die einde van die advertensie steek hy behaaglik ’n sigaret op, soms sommer met die vlam van sy stormlantern. Die Camel Man is almal se held. Die temamusiek kom uit Sergio Leone se The Good the Bad and the Ugly.

Ek gaan ’n Camel-advertensie maak met ’n Afrikatema.

Toe ek in matriek in die hospitaal was ná die motor­fietsongeluk, het my ma vir my ’n boek gegee om te lees. Dit was haar pa se gunstelingboek, maar dit was on­verkrygbaar omdat die regering dit onder sensuur geplaas het. Haar pa se uitgawe was ’n eerste druk van Indaba, My Children deur Vusamazulu Credo Mutwa.

Die skrywer is ’n Zoeloe-geestelike en dié boek word my bybel. Dit beskryf die Afrika-weergawe van die Bantoe se migrasies na die suide. Dis ’n boek vol legendes, avontuur en mistiek. Dit vertel van leiers en helde wat deur die ge­skiedenis vergeet is. Dit vertel van oorloë en veldslae tussen magtige stamme. Die oorsteek van berge en riviere en die verken van wildernisse. Avonture met wilde diere. Mitiese gode en figure en die aanbidding daar­van. Hy beskryf die eerste ystersmede van Afrika en die Boesmans.

Dis die boek wat Wilbur Smith moes geïnspireer het om The Sunbird te skryf. Later in my lewe sou ek parallelle daarin vind met die werk van Milton, Tolstoi en Conrad. Dis die boek wat vir my die romantiek van die ou Afrika saamgevat het.

’n Besonder interessante vertelling in die boek handel oor die vreemdelinge – Mutwa verwys na hulle as die Maiti. Hy beskryf ’n vreemde groep mense met ligte velle wat met reusekano’s, waarskynlik galeiskepe, met die Zambezi-rivier opgevaar het. Hulle het gevorderde wapentuig gehad en het die plaaslike stamme onderwerp en slawe gemaak. Hulle het ’n stad gebou op die oewers van ’n groot binnelandse see en het vir generasies oor die gebied regeer. Eindelik is hulle tot ’n val gebring deur ’n slaweopstand. Die leier van die slaweleër was bekend as Lumukanda – ’n Afrika-Spartacus.

Volgens Mutwa was die Maiti ’n groep Fenisiërs. Hulle het met galeie om die suidpunt van Afrika gevaar vanuit die Middellandse See, op soek na ’n nuwe tuiste ná die val van Kartago. Hy reken die Witvrou van die Brandberg was eintlik ’n avontuurlike Maiti-prins wat ver na die weste toe verken het. Die plaaslike inwoners het hom gesien en sy beeld op rots vasgelê.

Hierdie verhale het my geboei. Dit het by my ’n belang­stelling gekweek in primitiewe volke en argeologie. Bo­wenal het dit my avontuurlus aangewakker, my drang om Afrika te verken. My besoek aan die Limpopo, die kort ekskursie in Zimbabwe en hierdie boek was die inspirasie vir my advertensie.

Met ’n boek oor rotskuns, akrielverf en kwaste ry ek een naweek uit plaas toe. In ’n beboste klofie kry ek ’n sandsteenwand vir die rotskuns. Ek kies ’n dramatiese uitbeelding van ’n leeujag en kopieer dit. Ek skilder ’n paar elande by. Die rooibruin, ligbruin, oker, siënna en wit verf wat ek gebruik, smelt saam met die kleure van die rots. Dit lyk eg.

Op die oewer van die rivier het ek vroeër potskerwe ontdek en ’n kleipot uitgegrawe wat amper volledig was. By my pa het ek ’n paar Boesmanpylpunte gekry. As jong man het hy dit op ’n jagtog by die Boesmans van die Okavango gekry. Die potskerwe en pylpunte strooi ek aan die voet van die rotswand onder my kunswerk voor ek terugry Pretoria toe.

Die volgende twee weke doen ek voorbereiding. Ek teken ’n storiebord om die volgorde en komposisie van die tonele en skote aan te dui. Ek en Edwin Knopf kies ’n Arriflex 16 mm-kamera uit die stoor. Die lektor wys vir ons hoe dit werk. Edwin snap vinnig. Ons vat ’n driepoot en ’n batterypak en oefen in die binnehof. Die batterypak dra mens in ’n lyfband om jou middel. Dit lyk cool.

Ons besluit teen klankapparaat. Die klank sal ons later in die ateljee byvoeg. “Umkosi Bomvu” van Juluka sal die temalied van die advertensie wees.

Nou moet ek besluit op ’n akteur. ’n Camel Man. André Knoesen is een van die ouer studente; hy was eers weermag toe. Hy is ’n robuuste ou met ’n rooi baard en ruwe gelaatstrekke. Hy stem in om die Camel Man te wees.

Ek gee vir hom ’n stel kakieklere. Ons gaan koop tra­disionele Zoeloekrale in Marabastad vir hom om te dra. Ek vat ’n ou seilrugsak en plaas daarin ’n kaart, kompas en ’n ou geologiese hamer wat ek tussen my pa se gereedskap gekry het. Daarmee saam kom ’n knopkierie, panga en ’n dik rol tou. Ek leen my oupa se verkyker. Die Camel Man moet dit alles saamdra.

Toe alles gereed is, ry ons plaas toe om die advertensie te gaan maak. Vir proviand neem ons baie bier, vleis en ’n banksak vol dagga.

Die eerste nag op die plaas reën dit hard. Ons braai vleis op ’n rokerige vuurtjie. Terwyl ons bier drink, berei Guy Spiller vir ons dagga voor in ’n bottelnekpyp.

Die volgende oggend is oortrokke. Dit motreën liggies. André sit op ’n klipbank met kaart en kompas. Ek verfilm hom terwyl hy die wêreld om hom bespied. Met die ver­kyker beskou hy die sandsteenkoppe oorkant die rivier. My kamera volg sy blik; dit vee oor ’n ruwe landskap wat verken moet word.

Met die film wat so duur is, kon ek nie baie daarvan bekostig nie. Ek moet versigtig skiet. Die openingskoot moet ons ’n paar keer oordoen. Elke keer net voor dit klaar is, sny die kamera uit. Edwin ondersoek die toerusting en vind ’n los draadjie op die batterypak. Hy heg dit met kougom.

Nou moet Camel Man André die rivier oorsteek. Ons ander drie klim teen die krans uit en stel die kamera op teen ’n rotslys. Ek wys vir André ’n plek onder die stroomversnelling waar hy moet deurwaad. ’n Dramatiese toneel word verfilm. Die Camel Man klouter oor klippe en deur bosse. Elke nou en dan moet hy sy pad oopkap met die panga. Afrika is nie vir sissies nie. Hy beweeg hoër in die klofie op. Sy oë soek teen die rotswande om hom. Skielik steek hy vas.

’n Ligte glimlag verskyn om sy mondhoeke. Hy nader die rotswand. Hy sak op sy knieë neer. Verwonderd be­studeer hy die rotstekeninge. Hy krap op die grond tus­sen die blare rond. Sy hand vind ’n potskerf, dan ’n Boes­manpyl. Selfvoldaan sit hy terug met sy rug teen die rotswand. Die rotskuns is sigbaar langs sy skouer. Hy haal ’n pakkie Camel Plain uit sy bosak. Hy skud een uit en steek dit aan, trek diep en blaas die rookwalms uit. Die kamera zoem in op die sigaretpakkie in sy hand.

“Cut!” roep Stoffel Ford Coppola Peckinpah hoog in sy skik. Was dit nou só moeilik?

Ek en my filmspan kom deurnat en moeg in Pretoria aan. Ons is vrolik en vol grappies. Ek voel die produksie was suksesvol.

In André se vervalle woonstel moet daar nou eers dagga gerook word. Die plek is ’n hawe vir kunstenaars en swerwers, oudsoldate wat deur die grensoorlog getrau­matiseer is en ander uitvaagsels. Daar is altyd dagga beskikbaar. Almal sit in ’n kring op die plankvloer terwyl ’n zol omgestuur word. Elkeen rook hom in sy eie wêreld in. Ek voel hoe die dagga my vat. Ek luister hoe die stadsgeraas met Bob Marley se musiek vermeng. Dan sweef ek na die sandsteenrante van die Elandsrivier. Die Elandsrivier word die breë sandloop van die Limpopo. Ek staan in ’n koorsboomwoud in Zimbabwe.

Ek maak my oë oop. Om my is elkeen in homself gekeer. Langs my sit ’n oudsoldaat. Hy skryf iets op ’n stuk papier. Ek leun oor om te sien. Hy skryf dieselfde sin oor en oor. Daar is geen God nie. Daar is geen God nie. Daar is geen God nie.

Terug op kampus stuur ek die film in vir ontwikkeling. ’n Paar weke later is dit reg. Die hele klas kyk daarna. Dit het goed uitgekom; die oortrokke weer dra by tot die atmosfeer. Selfs die lektor lyk in sy skik. Ek begin myself as filmmaker te sien.

Helaas. Die advertensie sou nooit klaarkom nie. Ek sou dit nooit in die redigeerateljee sny en las nie. “Umkosi Bomvu” sou nooit in die klankateljee bygevoeg word nie. Die hoogtepunt van my filmloopbaan blyk ’n onvoltooide Camel-advertensie te wees.

Aan die einde van die eerste semester pluk ek al my vakke. Party was net te tegnies vir my om deur te kom. Al die partytjies was net te lekker. Die Wagon Wheel Inn was net te aanloklik. Die daggarooksessies op André Knoesen se vloer was te onvermydelik. Ek word van die kursus af­geskop.

My ouers sit hande in die hare. Al hulle vermoedens en vrese is bevestig. Hulle jongste seun is ’n volslae zombie. ’n Teleurstelling en ’n mislukking.

My been is nog nie sterk genoeg vir die weermag se Julie-opname nie. Ek moet werk kry. My ouers weier om my verder te onderhou.

’n Vriendin van my ma vertel haar dat haar seun vir ses maande in die Krugerwildtuin werk gekry het voor hy weermag toe is. ’n Paar telefoonoproepe word gemaak. Binne ’n oggend kry ek werk in die wildtuin. Ek kan my geluk nie glo nie.

Ek ry met my oudste broer se ou Toyota Corona-bakkie af Laeveld toe. My karige besittings is in ’n rugsak en ’n kartondoos agterop.

Soos ek verby Witbank en Middelburg ry, dagdroom ek oor die wildtuin. Ek sien hoe ek help met voorbrande maak en vuurslaan. Ek het ondervinding daarvan, ek het dit baie op die plaas gedoen. Dan sal ek hulle ’n bietjie help wild vang. Dit het nog altyd opwindend op TV gelyk. Daarna sal ek hulle bystaan met teenstroperoperasies op die Mosambiekse grens. Ja-nee, ek sal hulle goed kan help.

Ek ry verby Oom Paul se standbeeld by Sabiebrug. Ek sien die eerste rooibokke en vlakvarke. Ek sien nie die spietkop wat voor my intree nie. Ek stop net betyds. Ek het dertig kilometer oor die spoedgrens gery. Toe hy hoor ek kom hier werk, laat hy my gaan met ’n waarskuwing.

Op Skukuza word ek gepos na die lakenstoor. Ek moet sorg dat Skukuza-ruskamp skoon linne op die beddens het. Ek kry ’n klein lessenaar tussen berge vuil wasgoed en ’n dik ou tannie wat oor my toesig hou. Ek kan my ongeluk nie glo nie.

Op die rand van die ruskamp deel ek ’n rondawel met Deon Roodt. Hy is net so afgepis – hulle het hom na die restaurant gepos. Hy wou kom navorsing doen oor olifante.

Ons stap af restaurant toe om ’n bier te gaan drink. Ons bekla ons lot teenoor mekaar. Deon is in dieselfde penarie as ek. Sy gebrek aan studielus en sy liefde vir fuif het ook van hom ’n banneling gemaak. Ons word dadelik vriende.

Dit gaan swaar met my in die lakenstoor. Die ou tannie wys my hoe om vuil linne in te teken en skoon linne uit te teken. Dis vervelige, sieldodende werk. My pa bars uit van die lag toe ek hom bel en vertel waar ek beland het. Dit sal jou leer, jou swernoot. Hy geniet my dilemma terdeë. Dit help nie om my bui te verbeter nie.

Die ironie is net te veel vir my. Hier sit ek in die groot­ste wildtuin in Suid-Afrika. Ek word omring deur linne, waspoeier, skoonmaakmiddels en geboue. Ek kan nie eers ’n doringboom van hier af sien nie. Skukuza is die hoofkamp van die wildtuin en die administratiewe sentrum. Die hele wildtuin word van hier af bedien. Ek kon net sowel in ’n dorp gebly het.

Ek word uitgereik met ’n kakieuniform en groen epou­lette. Ek dra ’n veldwagter se klere, maar hier waar ek is, is nie ’n enkele veldwagter te sien nie. Die volgende ses maande lê soos ’n berg voor my.

Om dinge te vererger moet ek en Deon saans natuur­flieks vir die toeriste wys. Ons bly in die bos, maar die enigste wild wat ons sien, is op ’n skerm in ’n amfiteater. Daar is mooi flieks. My gunsteling is Alan Root se The Year of the Wildebeest. Dit gaan oor die migrasie in die Serengeti. Dit voer my mee, maar dit spot ook met my. Ek weet: as ek vasgebyt het op filmskool, sou ek ook sulke flieks kon maak. Ek en Deon gaan verwoed aan die suip.

Verligting kom vanuit ’n onverwagte oord. Toe ek een Vrydagmiddag toesluit en rondawel toe stap, is Deon al daar. Saam met hom is twee ouens wat hy by die restaurant ontmoet het. Con Blignaut en Danie Tromp is in die kos­huis op Nelspruit. Hulle ouers werk in die wildtuin. Hulle is in matriek en het gehoor daar is twee nuwelinge. Hulle gaan môre visvang. Wil ons dalk saamkom?

Die visvanggate is op die Sabierivier, buite sig van die toeristeroetes. Vroegoggend kom laai Con en Danie ons op in ’n ou Volla. Ons steek die rivier oor by die laagwaterbrug en draai af op ’n skelm paadjie met ’n Geen ingang-bord. ’n Bosbokram glip oor die pad en versmelt met die ruigtes.

Gou maak die rivieroewerbos toe oor ons. Die Sabie is mooi. Water kabbel oor granietbanke. Reusagtige trosvye en worsbome verleen ’n skaduryke lowerdak. In die riet­kuile hou die kurpers. Ek en Deon kyk na mekaar en glimlag. Ons weet ons gaan gereeld hier kom. Danie maak ’n lyn nat terwyl Con ’n vuurtjie aan die gang kry. Kort voor lank is daar ’n rooster met boerewors aan die braai. Die eerste biere word geknak. ’n Visarendpaar sirkel bo ons in die blou lug. Luid weerklink hulle roep in die vars oggendlug.

Toe ek teen middag by die lakenstoor inklok, staan ek ’n klomp biere sterk. Ek het nuwe krag. Die lakenstoor sal draaglik wees as ek weet ek kan nou en dan wegglip visvanggate toe.

Die volgende naweek stel Con en Danie ons voor aan nog koshuiskinders. Daar is ’n klomp meisies: die Rousseau-susters, Deone Oelofse en Mandy Benade. Hulle is die dogters van die wildtuin se werktuigkundiges en tegnici. Hulle is mooi en oulik en stout – geen pretensies soos by die Waterkloofmeisies nie. Hulle dink ek en Deon is moerse. Ons kom van die stad af. Ek en Deon baai in die bewondering.

Ons rondawel op die rand van die ruskamp word die uithangplek vir die hoërskoolkinders oor naweke. Daar word gebraai, bier gedrink en musiek geluister. Die liedjies van Cindy Lauper is ’n gunsteling onder die meisies. Girls just wanna have fun. Ek en Deon begin Skukuza se potensiaal raaksien.

In die lakenstoor werk ek lang ure. As die tannie weg is, heers daar ’n ontspanne atmosfeer. Ek bevriend die drie jong Sjangaanmans wat daar werk. Elson Maluleke, Jose Thembe en Ronald Mabunda moet die lakens, slope en handdoeke in bale pak. Hulle is opgewekte ouens. Ons skerts en gesels terwyl ons werk. Ek bring my kassetspeler werk toe. Ons luister na my Juluka-kassette terwyl ons linnebale pak. Gou dans die manne ritmies op die musiek. Ander Sjangaans hoor die musiek en kom luister. Ek ont­moet tuiniers, huishoudsters en ander arbeiders.

Ek was nog altyd ’n aanhanger van Juluka se musiek met hulle kombinasie van tradisionele Afrika-instrumente en rockmusiek. Die lirieke in Engels sowel as Zoeloe, met kwela- en umbaquanga-ritmes. Johnny Clegg en Sipho Mchunu se tradisionele danse op die verhoog was indrukwekkend; in Pretoria het ek gereeld na hulle uitvoerings gaan kyk. Dit was vir my reg om ’n veelrassige groep so te sien optree – die drommer en baskitaarspelers Afrikaans, Johnny Engels en Sipho, Scorpion Madonda en Zola Mtiya Zoeloe. Ten spyte van die oorlog in Angola en die binnelandse onrus wat besig was om te vererger, het Juluka ’n mens hoop gegee.

In die lakenstoor begin Elson, Jose en Ronald my Sjan­gaan leer. Fanakalo word ook gepraat. Ek snap dit vinnig. Ek vra uit oor die Sjangaan-tradisie en -kultuur. Ek het gelees van Manukosi en Zwangendaba, die indoenas van koning Zwide van die Endwandwe. Nadat koning Shaka van die Zoeloes Zwide verslaan het, het Manukosi oos gevlug na hedendaagse Mosambiek. Daar het hy sy naam verander na Sosjangaan en die Tsonga-stamme onderwerp. Hy was dus die stamvader van die Sjangaan-ryk. Zwangendaba het noord gevlug en die Angoni-ryk gestig.

Nou leer ek direk van swart mense, waar ek voorheen slegs te doen gehad het met huishulpe, tuiniers en plaas­arbeiders. Ek het toe nie genoeg belanggestel om meer van hulle te weet nie.

Ek en Deon is elke tweede naweek af. Ons stap lang ente langs die Sabierivier. Ons sien seekoeie en krokodille. Die visvanggate word ons ontsnappingsoord. Ons lê in die son op die klipbanke en swem in die gevaarlike waters. Ons ry rond in my broer se ou bakkie en kyk na die voëls en diere. Met my eerste salaris koop ek vir my ’n boek oor die soogdiere van die wildtuin. Later koop ek vir my boeke oor voëls en bome. Ek laat my oupa se verkyker uit Pretoria kom.

Ek vier my negentiende verjaardag saam met my nuwe vriende op die Sabierivier. Elke dagliguur buite die laken­stoor is ek langs die rivier in die son of in die bakkie op soek na wild. Ek leer myself om voëls en bome te identifiseer. Ek bestudeer wildspore. Stadig gaan ’n hele wêreld vir my oop. Ek gaan kuier nie een keer in Pretoria nie.

Een Saterdagoggend ry ek op die grondpad uit na Orpen. Ek kry ’n groot leeumannetjie wat waak oor ’n buffelkarkas. Ek bly omtrent ’n uur daar en kyk hoe hy jakkalse en hiënas verjaag. Dan ry ek aan.

Skielik storm ’n trop olifante oor die pad. In ’n oogwink is hulle weg. ’n Entjie verder storm nog ’n trop voor my verby. Ek hou stil. Meer olifante is in aantog. Hulle is duidelik ontsteld. Ek wag dat hulle voor my oor die pad gaan. Toe hoor ek ’n bekende klop-klop-geluid. Ek klim uit en gaan staan agterop die bakkie.

Bo die boomtoppe sien ek ’n blou-en-wit helikopter. Ek besef hulle is besig met olifantuitdunning. Min het ek geweet dat ek jare later self daarby betrokke sou wees. Baie water sou egter eers in die see moet loop.

Oor naweke in die rondawel raak dinge plesierig. Ek en Deon knoop ’n reeks verhoudings met die hoërskoolmeisies aan. Soms raas ons tot laat. Elke nou en dan moet die kampbestuurder ons kom stilmaak. Die toeriste kla. Ek en Deon ontwikkel ’n reputasie.

Eendag loop ek twee technikonstudente in die kafeteria raak. Hulle dra veldwagteruniforms. Ons begin gesels. Wayne Vos en Ross English is besig met hulle praktiese jaar. Hulle doen ’n diplomakursus in natuurbewaring by die Tech. In die derde jaar werk jy as studentveldwagter in een of ander wildtuin. Die beste studente gaan ge­woon­lik Krugerwildtuin toe. Hulle is tans besig met wei­dingevaluasies en hulle nooi my saam veld toe.

Toe ek teen laatmiddag saam met hulle terugkom, is my besluit geneem. Ek moet natuurbewaring gaan studeer. Ek moet veldwagter word.

Ek vertel dit vir Deon. Hy gaan volgende jaar weermag toe. Ek het dit ook oorweeg, want my been het mooi aan­gesterk. Maar nou weet ek. Ek kan nie meer wag nie. Ek moet ’n lewe in die veld hê. Natuurbewaring is die enigste rigting vir my.

Ons is weer saam met Danie en Con by die visvanggate. Ons drink te veel bier en whisky. Dinge raak buite beheer. Teen laatmiddag jaag ons terug in Danie se Volla. Ons gooi donuts op die grondpad. Toe gooi ons donuts op die teerpad. Ons besluit om ’n paar esse te gaan kap in Skukuza se kampterrein. Juigend en jillend jaag ons die ruskamp binne. In ’n stofwolk gooi Danie ’n drie-sestig in die karavaanpark. Oorblufte kampeerders kyk op van hulle braaivleisvure. Met die wegjaag vang Danie ’n draai te fyn. Die Volla se agterbuffer haak ’n tenttou. ’n Karavaan se sytent word uit sy voerings geruk en saamgesleep. Kampstoele, tafels, koelbokse en kosbakke spat in alle rigtings. Die toeriste skel en skree.

Daardie aand klok Deon dronk by die restaurant in. Hy struikel oor ’n stoel en skouer ’n kelner uit die pad. Die kelner dra ’n vol tafel se hoofgereg en stort borde vol warm kos oor die mense. Twee dae later is Deon Roodt uit die wildtuin. Die laaste wat ek van hom hoor, is toe hy my bel voor hy inklaar by die Infanterieskool op Oudtshoorn.

Toe roep Skukuza se veldwagter my in. Hy wil weet van die dagga wat daar in die rondawel gerook word; ’n skoolmeisie het dit gerapporteer. Ek ontken enige kennis daarvan. Hy lyk onoortuig. Hierdie veldwagter was ’n streng man. Almal was bang vir hom. Hy kyk my stip aan.

“Jy en Roodt het net kom moeilikheid maak hier. Julle is ’n slegte invloed op die wildtuin se kinders. Hier glo ons nog aan waardes en beginsels. Julle het julle stadsmaniere wildtuin toe gebring.”

Voor ek loop, vra ek: “Ek gaan volgende jaar natuur­bewaring studeer. Ek wil ’n veldwagter in die wildtuin word. Staan ek ’n kans?”

“Solank ek veldwagter in die Krugerwildtuin is, sal jy nooit hier werk nie,” kom sy antwoord kort en saaklik.

Ek sou ’n paar jaar later weer van hierdie veldwagter hoor.

Krokodil aan my skouer

Подняться наверх