Читать книгу Amper Einstein - Christien Neser - Страница 4

1

Оглавление

Leonard gooi die foon neer en storm voordeur toe. Hy val oor Ruby en stamp teen sy pa se rolstoel.

“Sorrie, Pa. Dis Micha!”

“Gaan help jou ma, Len,” sê sy pa net rustig, al swaai sy rol­stoel wild agteruit. Ruby tjank verwytend.

Leonard weet nie of hy wil vloek of huil nie. Sy flippen boetie het al weer aangejaag. Die buurvrou het pas gebel: Micha sit op die garage se dak. Kaalgat.

“Ma! Maaaaaa!” gil Leonard by die hek uit. Sy ma is êrens in die kompleks op soek na Micha. Dié het ’n paar minute gelede net spoorloos verdwyn – iets wat hy baie gereeld doen.

Gewoonlik dros Micha garage toe en gaan speel in een van die motors. Hy het ’n obsessie met karre. Maar vanoggend, die een oggend wat hulle vroeg moet ry omdat die klein snotkop na sy nuwe skool toe moet gaan, is Micha net skoonveld. Sy hopie nuwe skoolklere lê buite op die gras. Hy’s nie in die garage of op enige van sy gewone wegkruipplekke nie. En nou moes die suur Mrs Harley van langsaan bel om te sê Micha sit sonder ’n draad klere aan op die dak.

Leonard kan in sy gedagtes sien hoe sy ma in haar hoë­hakskoene iewers in die kompleks rondhardloop. Haar hare was nog papnat en haar hemp se knope skeef vasgemaak toe sy netnou by die deur uit is. Hy hoor haar angstige geroep na Micha toe hy bo-op die tuinmuur klim.

“Ma!” bulder hy so hard as wat hy kan. “Micha is by die huis!”

Nou weet almal in die kompleks natuurlik dat die klein idioot al weer uitgehaak het. Maak nie saak nie, die mense dink tog klaar hulle is die Addams family.

Leonard loop met die tuinmuur langs tot waar dit teen die motorhuis doodloop. Hy hys hom met die geut op tot bo-op die plat dak. En ja, daar sit meneer: poedelkaal, toe oë, met ’n iPod in sy ore.

“Micha! Dis myne! Sit dit neer! NOU!”

Toe hy sy boetie bestorm en die oorfone afpluk, weet hy goed Mrs Harley hou hulle deur haar kombuisvenster dop. Hy voel ’n veer: laat sy kyk en leer. Laat sy sien presies hoe bisar die Steinmans van langsaan is. En hy voel nog minder vir sy boetie wat onbegrypend na hom staar, hande oor sy ore geskulp.

Leonard prop die iPod in sy broeksak en tel Micha met die ander hand op. Hy gooi hom oor sy heup en loop na die dak se rand. Die klein donner het swaar geword, dink hy verbaas. Een van die dae gaan hy twee hande nodig hê om hom op te tel. As sy ma nie op hierdie presiese oomblik deur die voorhek gebars het nie, het hy sy boetie onderstebo oor die rand laat hang en hom goed rondgeskud. Maar hy weet teen dié tyd Micha ken nie vrees soos ander laaities van sy ouderdom nie. Hoogtes, spoed, vuur … hoe hoër, hoe vinniger, hoe gevaarliker, hoe lekkerder kry Micha.

“Michatjie!” snik sy ma onder in die tuin. “Ag, dankie, Lennie. Dank die hemel jy’t hom gekry!”

Leonard kyk af op sy ma. Sy lyk regtig sleg. En sy is besig om grys te word! Van hier af kan hy die wit aan haar haarwortels duidelik sien. Sy beter haar gaan regmaak voor ons ry, dink hy. Sy lyk oud en verwaarloos. Sy sal vandag geld maak as sy iewers op ’n straathoek gaan staan met ’n bord om haar nek.

“Ek gaan vir Micha laat sak, Ma,” sê hy. “Vat hom aan.”

Leonard gaan lê op sy maag, tel sy boetie aan sy arms oor die rand van die dak en laat hom afsak na sy ma se wagtende hande. Sy staan halfpad boontoe op die wankelrige ou step-leertjie. Micha wriemel en kerm op een toon.

“Hou stil, Micha! Ek gooi jou sommer vir die Harleys se hond. Hoor hoe blaf hy!”

Leonard weet dis sy boetie se een groot vrees: honde. Die bure het ’n pikswart Rottweiler.

“Leonard!” sê sy ma geskok. “Hoe kán jy hom so bangpraat?”

Sy gee hom ’n verwytende kyk en loop voordeur toe met Micha. Dié beur met reguit arms en ’n gekromde rug weg van haar terwyl hy kop agteroor skreeu.

Leonard bly lê op die dak met sy kop op sy arms. Sal dit nie makliker wees om net kop eerste hier af te duik nie? Sphlat! Alles oor en verby.

“Met my geluk breek ek net my nek,” sug hy hardop. “Dan sit ek en Pa saam-saam in rolstoele. Moerse idee.”

Amper Einstein

Подняться наверх