Читать книгу Amper Einstein - Christien Neser - Страница 8
5
Оглавление“Wil jy een hê?” Hannelore hou ’n kosblik met versierde kolwyntjies na Leonard uit. Die een lyk lekkerder as die ander.
“Dis my ma, jong,” sug sy. “Sy dink ek is te maer. Nou kry ek elke dag genoeg kos om ’n kindertuin te voed.”
Leonard haal die koekie uit sy papierdoppie en prop dit heel in sy mond. Wens sy ma het so oor hóm gevoel. Sy vergeet meeste oggende om sy broodjies te maak. Nou staan hy maar vroeër op en plak self die ses snye opmekaar met wat ook al in die yskas is.
“Jy’s nou nie anoreksies nie,” sê Greeff, “maar jy’s beslis ook nie dik nie.” Hy vat die kosblik by Hannelore en sak op die gras neer. “Maar net om veilig te speel, sal ek liewer die res van hierdie koekies opeet.”
“Wat mis ek?” vra Jarred. Hy was eers by ou Paap om ’n beursvorm te gaan haal. “Hei, Greeff, gee vir my ook! Jou boude is klaar die size van twee sokkerballe!”
Hy stoei die kosblik uit Greeff se hande en haal die laaste koekie uit. “Sies, Hanna! Is dit al wat ek kry?”
“Sorrie, Jarra. Dis die koekiemonster – jy ken hom mos. Maar toemaar, daar’s nog baie by die huis. My ma kan nie wag vir Vrydag se brugbou nie, sy wil julle almal vet voer.”
Leonard kug verleë. “Ek sal dit nie kan maak nie, Han. Julle drie sal maar moet bou.”
Hy voel hoe sy hart ’n slag mis toe hy die teleurstelling op haar gesig sien. Sy wou hóm daar hê! Is dit moontlik?
“Agge nee, Lennie!” kla sy. “Wat’s fout? As jy nie vervoer het nie, kan my ma jou mos terugvat?”
“Of myne,” bied Greeff ook aan.
Leonard skud sy kop. “Nee, ek moet dokter toe gaan.”
“Is jy siek?” vra Hannelore ontsteld.
“Nee, dis Micha. My ma moet hom Pretoria toe vat om ’n spesialis te gaan sien. Ek kan haar nie alleen laat ry nie.”
Jarred frons. “Wat’s fout met die laaitie? Oukei, ek weet hy’s half annerster, maar …”
“Dis wat ons moet probeer uitvind. Die skool gaan hom nie terugvat voordat hy by ’n neuroloog was nie.”
Leonard is verlig dat hy dit nou gesê het. Dis vir hom belangrik dat sy pelle moet weet wat aangaan.
Toe die klok lui en hulle terugstap klas toe, voel hy Hannelore se mou teen syne skuur. Sy loop baie naby aan hom. Sê nou hy kan sy arm so half per ongeluk op haar skouer laat rus … Maar hy gryp sy linkerhand vinnig met sy regterhand vas, voordat iets kan gebeur wat alles vir almal kan bederf.
Hannelore kyk vraend op na hom. “Wat’s fout?”
“Kramp in my hand,” lieg hy vlot en vryf sy linkerduim.
Pyn in die gat eerder, Leonard Steinman. Jy is ’n slapgat, ’n liegbek en ’n dief.
Die pyp in sy baadjiesak voel asof dit ’n halfton weeg.