Читать книгу Skynglans van geluk - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk een

Оглавление

Die see is vandag ’n kalm grys meer. Daar is bykans geen golwe nie en die meisie wat alleen saam met haar hond op die watersoom stap, swenk kort-kort uit en loop met haar rok opgelig deur die klein golfies. Die hond word nat en blaf om haar enkels, maar dit is duidelik dat hy die wandeling net so geniet. Na ’n ruk begin sy hardloop en die hond word baldadiger sodat hulle albei omtrent papnat is teen die tyd dat sy uitasem teen ’n effense bultjie gaan sit.

“Wag nou, Noag,” sê sy laggend. “Wag nou, my honne! Ons moet eers ’n bietjie rus. Ounooi sit heeloggend voor die tikmasjien en is nie fiks nie. Kom ons sit ’n ruk.”

Die hond gaan lê gedwee nadat hy ’n slag in die sand gerol het. Die meisie slaan haar arms om haar knieë en staar oor die see. Haar opgewekte gesig kry ’n nostalgiese uitdrukking en sy streel afgetrokke met een hand oor die hond se sanderige hare. Sy het heeloggend aan ’n draaiboek gesit en werk, en dis asof die konsentrasie wat haar gevange gehou het, nou skielik verbreek word en allerhande deurmekaar gedagtes haar kop vul . . .

Sy sien haarself en haar ouer sussie, Nanette, soos hulle as klein dogtertjies op die sand gespeel het: twee blonde krulkopkinders in eenderse rooi swempakkies.

“Ek gaan ’n groot kasteel bou,” sê Nanette vasberade. “’n Yslike groot kasteel! Bou jy ook een, dan kyk ons wie s’n die grootste is.”

Hulle val weg. Nanette bou verbete. Haar grafie is nooit stil nie. Sy maak eers ’n groot hoop sand bymekaar voordat sy begin platslaan en gelyk maak. Sy het haar rug op haar sussie gekeer en sy kyk nooit om nie. Hulle moet éérs klaar bou, dán vergelyk.

Uiteindelik draai sy om. Haar gesig val. “Watse snaakse kasteel het jy gebou, Elize? Dis nie ’n regte sandkasteel nie!”

Elize sit terug op haar hurke en kyk na haar kasteel. Dit lyk nie soos Nanette s’n nie, dis waar. Nanette se kasteel is groot en vierkantig, met ’n toring op elke hoek. Hare is vol krulle en draaie, ’n fyn bouwerkie met seegras en skulpe as versiering.

“Dis nie ’n regte kasteel nie,” sê Nanette weer.

“Ek weet. Maar dis vir my mooi.”

Nanette draai haar koppie skuins en kyk goed. “Ja-a,” gee sy langsaam toe, “dit is nogal mooi. Maar dis nie ’n regte een nie.”

“Dis ’n droomkasteel.”

“Wat is ’n droomkasteel?” vra Nanette.

“’n Kasteel wat soos hierdie een lyk. Kyk, hier is ’n torinkie waarin ’n mens kan wegkruip en daar is ’n uitkykplek en hier in die middel is die tuin.”

“Kastele het nie tuine nie!”

“Hulle het. My kasteel het ’n tuin vol skulpies en blomme.”

“Die soldate sal die blomme plat trap.”

“Watse soldate?” vra Elize en haar groot grys oë is nuuskierig en onskuldig.

“Kastele het altyd soldate. Hulle moet die koning beskerm.”

“Daar woon nie ’n koning in my kasteel nie.”

Nanette lag ongelowig. “Wie bly dan daar?”

“Ek.”

Nanette kraai van die lag. “Dis te groot vir jou! Jy kan nie alleen in ’n hele groot kasteel bly nie!”

“Ek kan,” sê die klein Elize beslis. “En die prins sal by my bly.”

“Watter prins?”

“Ek gaan met ’n prins trou. Net soos Sneeuwitjie.”

Dis vir Nanette baie snaaks.

“En as julle nie soldate het om julle op te pas nie, wie dink jy gaan na julle kyk?”

“Rondom die kasteel is hoë berge. Die mense kan nie oor die berge kom nie.”

“’n Bergklimmer kan,” sê Nanette met die erns van ’n agtjarige.

“Nee, hy kan nie, want daar is sneeu op die berge.”

Nanette verloor belangstelling in die speletjie en buitendien steek die son nou op hulle kaal ruggies. “Kom ons gaan swem.”

Elize sit gewillig haar grafie neer en volg haar sussie na die vlak brandertjies . . .

Die meisie knip haar oë en kyk om haar rond, kompleet asof sy gedink het die twee rooi swempakkies is nog sigbaar. Sy glimlag by die herinnering daaraan en vryf oor die slapende hond se rug.

Die swempakkies het verander. Die twee dogtertjies het groter geword en hulle begin kwel oor hulle hare en hulle bene en hulle figure. Maar hulle het nog elke Kersfees by die see vakansie gehou.

Kastele het hulle egter nie meer gebou nie, want hulle was klaar met die dinge van ’n kind.

Hulle het op die strand gelê saam met vriendinne of sommer in ’n groot deurmekaar groep. Vir Nanette was dit belangrik om deur almal aanvaar te word, maar Elize het gewoonlik droomverlore eenkant gelê en na die see gesit en staar. Wanneer die ander jongmense in die water baljaar het, het sy dikwels weggeloop en ver ente langs die water gaan stap.

“Hoekom is jy altyd alleen?” het Nanette vies gevra. “Ben en Fransie wou ons twee vanaand na die vleisbraai geneem het, maar toe is jy nêrens te sien nie. Nou sal ek na ete vir hulle moet gaan sê of ons kan kom of nie.”

“Ek wil nie regtig gaan nie.”

Hulle ma het opgekyk en gesê: “Jy moet gaan, Elize.”

“Hoekom, Mammie?”

“Dis mos lekker om so saam met die jongklomp uit te gaan.”

Maar Elize was bot. “Ek dink nie so nie.”

“Gaan sy ooit ’n kêrel kry, Mammie?” het Nanette klaend gevra.

Elize was kwaad. “Ek wil nie ’n kêrel hê nie, dankie!”

Haar ma het haar skouers opgehaal en gelag. “Jy is darem nie soos die ander meisies nie, kind.”

Gelukkig het haar pa tot haar redding gekom. “Laat staan die kind tog nou! Sy is maar sestien jaar oud. Wat wil sy nou al met seuns lol?”

“Ja, Pa,” het Nanette geneul, “maar die ding is dat die seuns ons altyd saam vra en as sy nie wil gaan nie, lyk dit so opdringerig as ek alleen gaan. Dit voel dan vir my ek behoort ook tuis te bly.”

“Bog,” sê haar ma. “Jy gaan as jy lus is en los vir Elize by die huis.” En aan haar man sê sy: “Dis darem eienaardig dat die twee dogters so verskil. Soos dag en nag.”

Sy het dit gehoor en weggeloop. Dit het haar moedeloos laat voel en daardie aand toe Nanette na die vleisbraai is, het sy ver langs die maanverligte see gaan loop. Sy was lief vir die see en sy was lief vir haar suster ook. Sy het gewens sy kon alles doen wat haar suster van haar verwag het. Maar om op ’n lawaaierige vleisbraai te sit en luister na moderne musiek, was net nie op te weeg teen ’n aand alleen langs die strand met al haar drome nie.

“Waaraan dink jy wanneer jy so alleen loop?” wou Nanette eenkeer weet.

“O, aan baie dinge.”

“Soos wat?”

Elize het net gelag en die onderwerp verander. Hoe kon sy haar suster vertel van die stories wat in haar kop ronddraai? Lang en ingewikkelde stories van helde en heldinne wat deur baie probleme moet worstel voordat hulle mekaar uiteindelik vind. Nanette sal vir haar lag. Nanette is ’n mens van die werklikheid. Sy verdroom nie haar lewe nie. Sy weet wat sy wil hê en wat sy eendag wil doen.

“Met watse soort man wil jy eendag trou?” het sy op ’n dag vir haar suster gevra toe hulle gebukkend tussen die rotse loop en soek het na seeanemone en stervisse of sommer net mooi skulpe.

“Ek dink nie ek sal trou nie,” het Elize afgetrokke gesê.

“Natuurlik sal jy! Jy is mos mooi.”

“Ek dink nie so nie, maar dankie vir die kompliment. Dit het bowendien niks met trou te doen nie. Baie mooi meisies trou nie.”

“Is nie,” was Nanette se koppige antwoord. “Jy wil tog nie ’n oujongnooi word nie, wil jy?”

“Ek gee nie om nie – liewer dit as om sommer met enige man te trou.”

“Maar as jy nou die regte man kry, hoe sal hy wees?”

Elize het oor ’n diep poel gebuk sodat haar hare oor haar gesig geval het. “Ek weet nie. Ek weet net hy sal baie anders wees.”

“Hoe anders?”

“Hy sal vir my meer omgee as vir enigiets anders in die lewe.”

“Natuurlik,” het Nanette geantwoord. “’n Mens trou mos nie met iemand as hy nie lief is vir jou nie.”

Elize het ’n brose skulp uit die water gelig. “Kyk net, is dit nie pragtig nie?”

“Ja. Ek sal jou sê hoe die man gaan wees met wie ék wil trou.”

Elize was meer as gewillig om te luister.

“Vertel.”

Nanette het op ’n rots gaan sit.

“In die eerste plek sal hy aantreklik wees.”

“Dink jy dit is so belangrik?”

“Natuurlik. Hoe anders raak ek verlief op hom? In die tweede plek moet hy goed vir my kan sorg. Ek wil nie arm wees nie.”

“En veronderstel jy raak dolverlief op ’n man wat arm is?”

Nanette het haar skouers opgehaal. “Ek weet nie. Ek dink die beste ding is om eers uit te vind hoe sake staan voordat jy verlief raak.”

Elize het in ’n poeletjie gaan sit en haar lang, mooi gevormde bene voor haar uitgestrek.

“Sussie, wil jy my sê jy gaan eers uitvind wat die man se bankbalans is voordat jy met hom uitgaan?”

Nanette het wys geknik. “O, daar is maniere om uit te vind. In die derde plek moet hy goed met my vriende klaarkom. Kyk net na Ansie. Sy sê Piet hou glad nie van haar vriendinne nie en sy moet gedurende die dag by hulle gaan kuier wanneer hy by die werk is. Dit sal nie deug nie.”

Elize het haar kop geskud en hulpeloos gelag.

“Nee, jong, ek en jy dink glad nie dieselfde oor dinge nie. As ek vir ’n man lief word, sal ek nie omgee of hy ryk of arm, mooi of lelik is nie. En wat my vriendinne van hom dink, sal my weinig skeel solank ék maar dink hy is wonderlik!”

“Nou hoe dan?” wou Nanette gesteurd weet.

“Wat vir my belangrik is, is dat hy te alle tye sal weet hoe ek voel, dat hy daar sal wees wanneer ek treurig is, dat hy saam met my sal lag. Dan maak dit mos nie saak of hy ryk of arm of mooi of lelik is nie?”

“Jong, jy dink nog altyd jy gaan ’n prins kry wat jou in sy kasteel sal toesluit!”

En daarmee was die gesprek ook op ’n einde . . .

Die hond begin roer en staan op om die sand van hom af te skud.

“Sal ons verder stap, my honne?” vra die meisie.

Die hond gee ’n blaffie en sy staan op, skud die sand van die nat soom van haar rok af en begin ingedagte aanstap terwyl sy in die verte bly tuur.

’n Paar jaar later was hulle albei op universiteit en daardie Kersvakansie het Nanette haar kêrel, Gerrit, en ’n vriend saamgebring.

“Dis darem baie lekker,” het hulle ma gesê. “Julle jongmense hoef nou glad nie na maats te soek nie, want julle het elkeen een.”

Elize het van Gerrit gehou. Hy was ’n landboustudent in sy finale jaar en hy sou die volgende jaar op sy ouers se plaas gaan boer. Sy moes geamuseerd toegee dat hy aan al Nanette se vereistes voldoen het. Hy was aantreklik en hy was nie arm nie, en dit het voorgekom asof hy van al Nanette se vriendinne hou.

Maar sy vriend was ’n ander saak. Hy was ook aantreklik, ja, en sover sy kon aflei, het hy uit ’n goeie huis gekom. Maar hy was nie haar soort mens nie en ongelukkig is hulle voortdurend in mekaar se geselskap gelaat. Nanette en Gerrit wou vanselfsprekend dikwels alleen wees, en dan was Elize uitgelewer aan François. Hy was ’n mens wat kon praat oor omtrent alles onder die son, en sy was daarvan bewus dat die ander meisies hom in die oog gehou het. Maar dit was nie genoeg vir haar nie.

Een aand is haar suster en Gerrit alleen bioskoop toe en omdat sy nie lus was om in ’n benoude saal te sit nie, het sy gesê sy sal tuis bly. François het dadelik aangebied om haar geselskap te hou. Hulle het ’n ruk in die woonkamer gesit en gesels, maar sy wou uit strand toe, en toe hy na ’n ruk voorstel dat hulle gaan stap, het sy entoesiasties ingestem.

“Wat gaan jy doen wanneer jy klaar gestudeer het?” wou hy weet.

“Ek weet nie.”

Sy het na die donker branders gekyk. Sy sou nooit vir iemand sê dat sy graag ’n skryfster wil word nie. Dit was haar diepste geheim en van die paar stories wat sy reeds geskryf het, het niemand geweet nie.

“Maar jy moes tog al daaroor gedink het. Jy maak mos volgende jaar klaar?”

“Ja. Maar ek het nie. Ek sal seker een of ander werk doen.”

Wat sy in gedagte gehad het, was ’n loopbaan wat haar baie vrye tyd vir skryf en reis sou toelaat, want dit was haar ander droom: om die hele wêreld plat te reis.

“Jy is ’n eienaardige meisie,” het hy geamuseerd gesê. “Kom ons sit ’n bietjie op daardie duin.”

Sy wou liewer stap, maar sy het gedwee gaan sit en dit was nie lank voordat hy sy arm om haar skouers geslaan het nie. Sy het haar lyf beweeg en uit sy greep losgekom.

“Wat is dit nou?” wou hy weet.

“Ek wil nie vasgehou word nie.”

“Waarom nie?”

“Ek hou nie daarvan nie.”

“Kry jy nie koud nie?”

“Nee,” het sy beslis gesê.

“Jy is darem baie anders as jou suster,” het hy gemymer.

“Ek het dit al vantevore gehoor, ja.”

Hy het haar skielik vasgegryp en voordat sy hom kon keer, het hy haar begin soen: aaklige, pap soene wat haar laat naar voel het. Sy het geveg om los te kom en toe hy haar uiteindelik laat gaan het, was sy blind van woede.

“Hoe durf jy!” Sy het gestik in haar woorde. “Wie gee jou die reg om my sommer te gryp?”

“Toe nou, toe nou,” het hy kalm gesê. “Moet nou nie histeries raak nie! Wat dink jy moet ek doen? Hier sit ek langs die see saam met ’n pragtige en baie begeerlike meisie en –”

“Bly stil!” het sy hom toegesnou en vinnig terug huis toe begin loop.

Hy het haar ingehaal en fluitend en hande in die sakke langs haar gestap asof niks gebeur het nie, terwyl sy besoedeld gevoel het.

“Is jy nog nooit gesoen nie?” wou hy bedaard van haar weet.

Sy het hom nie eers geantwoord nie.

“Het jy dan ’n vaste kêrel?” was sy volgende vraag. “Nanette en Gerrit het my laat verstaan dat dit nie die geval is nie.”

“Nanette en Gerrit het niks met my lewe uit te waai nie,” het sy bitter gesê, op daardie oomblik sommer vir hulle ook kwaad.

Toe sy by die huis inloop en haar ouers bedaard opkyk en vra of hulle lekker gestap het, het sy gemaak asof niks gebeur het nie. Maar daarna het sy gesorg dat sy nie weer alleen saam met hom is nie, en dat hulle by Nanette en Gerrit bly.

“Hou jy nie van François nie?” het Nanette een aand gevra toe hulle gereed maak om te gaan slaap.

“Waarom vra jy?”

“Dis net ’n gevoel wat ek het. En hy het nou die dag opgemerk dat jy hom nie eintlik aanneemlik vind nie.”

Sy het nie geantwoord nie en die gesprek verander.

“Jy kan darem vriendeliker probeer wees,” het Nanette gepleit.

“Hy het my probeer soen,” was Elize se kortaf antwoord.

“Nou wat is verkeerd daarmee?”

“Ek hou nie daarvan nie.”

“Van soen? Waarom nie?”

“Ek hou nie daarvan om sommer deur enigeen gesoen te word nie.”

“Ai, sus, ek verstaan jou ook nie,” was Nanette se laaste woorde.

Elize het haar studie voltooi en werk gekry by ’n klein tydskrif waar sy haar eie baas was en waar sy veilig gevoel het in ’n klein en deurmekaar kantoortjie. Sy het ’n enkelwoonstel betrek en was vir die eerste keer in haar lewe volkome tevrede. Daar was niemand om met haar te lol nie, niemand wat vra waarom sy nooit uitgaan nie, niemand om aan haar te vat of te torring nie. En elke aand het sy gesit en skryf. Dit was heerlik!

“Dis onnatuurlik,” het Nanette gesê toe sy Johannesburg toe gekom het om haar bruidsuitset te koop. “Jy is so mooi en jy is jonk, en hier sit jy weggesteek in jou ou woonstelletjie.”

“Ek hou daarvan, sus. Kan jy dit dan nie begryp nie?”

“Wil jy dan nie trou nie?”

“Nie noodwendig nie, nee. Miskien ontmoet ek eendag die regte man.”

Nanette het verbaas uitgeroep: “Jy het nie ’n kans om die regte man te ontmoet nie! Jy gaan dan nooit uit nie!”

“Dis nie waar nie.”

Dit was ook nie. Sy het dikwels uitgegaan saam met Neels wat saam met haar gewerk het. Dit was ’n vriendskap wat haar gepas het. Neels het skynbaar geen behoefte gehad om ’n ernstige verhouding aan te knoop nie. Hulle het saam gaan eet, soms gaan fliek, soms vir vriende gaan kuier en altyd was hy dieselfde: vriendelik, gesellig en openhartig. Hy het nooit aan haar geraak nie en hy was skynbaar net so tevrede met die stand van sake as sy.

“Jy dink nog ’n prins gaan op ’n wit perd aangery kom en jou wegneem na sy kasteel,” het Nanette gewaarsku. “Sulke dinge gebeur nie. Die wêreld is vol doodgewone, goeie mans en jy sal met een van hulle moet trou. Prinse bestaan nie.”

“Moenie jou oor my bekommer nie, sus,” het Elize gelag. “Ek is tevrede met my lewe. Doodtevrede.”

Toe Nanette en Gerrit getroud is, het sy ’n laaste poging aangewend om Elize en die strooijonker, Johan, in mekaar te laat belang stel. Johan was ’n baie aantreklike man en Elize moet erken dat hy haar hart vinniger laat klop het.

Een aand het hy by haar woonstel aangekom en haar gevra om saam met hom te gaan eet. Sy het ingewillig en hulle is weg. Hulle kon lekker gesels en sy het die aand verbasend baie geniet totdat hy haar teruggebring het. Toe het hy haar vasgegryp en begin soen. Sy soene was nie onaangenaam nie en ’n ruk lank het sy haar oorgegee aan sy liefkosing, maar toe dit dringender begin word het, het sy hom weggestoot.

“Wat is dit nou?” wou hy weet. “Jy is mos nie ’n kind nie!”

“Ek dink ons moet nou liewer ophou,” het sy gesê en haar hare van haar gesig weggestoot.

“Waarom? Ek is lief vir jou. Jy weet dit tog seker.”

“Ek is jammer, Johan. Ek voel nie dieselfde nie.”

“Maar jy is ’n uiters begeerlike vroumens, Elize.”

Sy het net gebloos en haar kop geskud. “Ek het sekere beginsels waarby ek hou, Johan, en –”

“Beginsels!” het hy minagtend gesnork. “Ons leef in die twintigste eeu, my meisie!”

“Ek wil nie verder daaroor praat nie.”

En dit was die laaste sien van Johan. Sy was in haar hart nogal teleurgesteld. Sy het gehoop hy sou genoeg omgee om weer te kom kuier, maar hy het net verdwyn en sy moes tot die slotsom kom dat hy nie regtig lief was vir haar nie.

Toe is haar eerste boek gepubliseer. Dit het haar lewe radikaal verander. Skielik het mense haar met agting bejeën. Sy was nie net ’n mooi meisie met vreemde idees nie; sy was ’n skryfster. En sy self het gevoel asof sy tuis gekom het na ’n lang reis. Uiteindelik het sy gedoen wat sy wou en mense moes maar daarmee vir lief neem. Sy het al hoe minder begin uitgaan en al hoe meer geskryf. Die lewe was rustig en voorspelbaar. Selfs Neels het selde kom inloer . . .

Die meisie roep na haar hond wat ver vooruit langs die strand gehardloop het.

“Noag! Dit word laat, my honne. Ons sal moet begin terugloop.”

Die hond kom stertswaaiend teruggehardloop en hulle draai om en begin terugstap na die ry huise ver onder in die baai.

Die brief van haar uitgewer was ’n verrassing. Hulle het navraag gedoen na haar werk en gesê daar is ’n moontlikheid dat haar boeke vertaal kon word. Sy was opgewonde en het besluit om self die vertaling te doen. Die boek was buitengewoon gewild in Engels en die volgende verrassing was die brief uit Amerika wat voorgestel het dat sy soontoe kom sodat hulle die rolprentregte kon bespreek.

Sy het nie regtig gedink die boek is rolprentmateriaal nie, maar sy het haar woonstel aan ’n vriendin verhuur, haar tasse gepak en vir Nanette gaan groet.

Haar suster was nou ’n besige moeder van twee klein kindertjies en Elize kon sien dat haar suster alles bereik het wat sy wou.

“Amerika toe?” wou Nanette skepties weet. “Hoe lank gaan jy?”

“Ek weet nie. As hulle regtig ’n rolprent van die boek wil maak, sal ek seker ’n hele ruk daar bly.”

Nanette het gekreun en haar oë hemelwaarts opgeslaan.

“En watse onnatuurlike soort mans gaan jy nie daar ontmoet nie! Daardie rolprentmense is mos een maller as die ander!”

“Haai, sus, hoe kan jy so sê? Buitendien gaan ek nie soontoe om ’n man te soek nie.”

“Jy is vyf-en-twintig; jou beste jare gaan verby. Jy sal moet opskud.”

Gerrit het vir haar in die bres getree.

“Haar beste jare gaan nie verby nie, hartjie. Elize is nou mooier as wat sy nog ooit was.”

“Ek weet nie wat Mammie-hulle van alles sou gesê het nie,” het Nanette gesug en dit het almal hartseer gestem.

Dit was in werklikheid een van die redes waarom sy wou wegkom. Die skielike dood van haar ouers het haar diep getref en sy het veral haar vader vreeslik gemis. Maar sy het tog die vreemde gevoel gekry dat hy haar sou ondersteun as hy van haar planne geweet het. Hy het haar altyd ondersteun.

Amerika was vreemd en opwindend. Gedurende die eerste paar weke het dit gevoel asof sy permanent tiekiedraai. Haar kop het gemaal van die nuwe ondervindings en die interessante mense wat sy ontmoet het: regisseurs, draaiboekskrywers, akteurs . . . Maar die mens van wie sy dadelik gehou het, was Henri Dryson. Sy het van hom gehoor en lank voordat sy Amerika toe is, geweet dat hy bekend was as een van die beste regisseurs, ’n man met integriteit, ’n man wat nie net rolprente maak nie, maar kunswerke. Hy en sy vrou het in ’n gerieflike huis gewoon sonder die skitterende aanhangsels wat so deel van die Hollywood-bestaan was. In hulle huis was alles altyd effens chaoties en tussen die ouers, kinders en honde het Elize gou tuis gevoel.

Dit was ook Henri wat haar aangeraai het om die verfilming van haar boek te laat staan. Daar was te veel komplikasies. Toe sy instem en planne begin maak om terug te gaan huis toe, het hy haar weer eens oorreed om net gou te help met ’n draaiboek.

“Maar ek weet daar niks van af nie!” het sy teëgestribbel.

“Jy sal gou leer,” was sy onverstoorde antwoord.

Sy het ook. En toe daardie draaiboek klaar was, was daar nog een en nog een, en voordat sy regtig geweet het wat gebeur het, was sy ingeburger en tuis en deel van ’n heel nuwe lewenswyse.

En daar was Charles.

“Charles,” sê die meisie hardop en die hond spits sy ore. “Nee,” sê sy hartseer. “Moenie dom wees nie, Noag. Jy weet mos hy is nie meer hier nie.”

Sy het hom op ’n tipiese Hollywood-partytjie ontmoet. Daar was honderde mense, baie bekende gesigte en ’n gedreun van stemme en musiek wat haar kop laat draai het. Sy het rondgeloop met ’n drankie in haar hand en hier en daar gesels met iemand wat sy geken het. Eintlik het sy net gewag vir ’n geskikte oomblik om aan haar gasvrou te sê dat sy moet gaan. Sy was nie lief vir dié tipe partytjie nie, en sy het net gegaan omdat Henri vir haar gesê het dat dit die aangewese ding is om by te woon.

Eenkeer het sy opgekyk en ’n man na haar gesien staar. Hy het bekend gelyk en dit was eers later dat sy besef het dat hy ’n rolprentster is. Hy was lank en skraal met langerige, blink hare en ’n geslote, onverbiddelike gesig. Hy het net deurdringend na haar gekyk en toe weer tussen die mense verdwyn.

Sy het na ’n leë tafeltjie gesoek waar sy haar glas kon neersit, toe sy ’n stem langs haar hoor.

“Gee dit maar vir my.”

Sy het omgekyk en vir die man geglimlag wat met haar gepraat het. Hy het deurmekaar, vaalblonde hare gehad en sy das was reeds halfpad los.

“Ek is Charles Neilson,” het hy vriendelik gesê en sy hand na haar uitgehou. “En my ore sing al van al die lawaai. Is jy nie honger nie?”

“Ja,” het sy laggend gesê. “Maar ons kry seker netnou kos.”

Hy het sy oë opgeslaan. “Nooit! Hier kry jy nie voor middernag iets te ete nie, tensy jy die goetertjies wat hulle rondhou, as kos beskou.”

“O.”

“Sal ons ontsnap?” wou hy guitig weet.

“Ja, ons kan.”

Hy het haar aan die elmboog gevat en haar doelgerig deur die mense gelei totdat hulle die gasvrou gevind het. Hy het vinnig en oortuigend vertel dat hy en Elize ongelukkig ’n afspraak het, en dat hulle nou moet gaan. Net voordat hulle by die deur uit is, het sy weer die man met die deurdringende oë gesien.

“Wie is dit daardie?” het sy terloops vir Charles gevra.

Hy het omgekyk. “Robert Ryan, die rolprentster. Jy het tog seker al van hom gehoor?”

“Ja, ek het.”

“’n Moeilike man. Ek wonder wat doen hy hier? Hy woon gewoonlik geen partytjies by nie.”

“Ek ook nie,” het sy hom laggend verseker en hulle is uit na hulle motors.

“Wil jy my sê jy het alleen in jou eie motor gekom?” wou Charles ongelowig weet.

“Natuurlik. Hoe dan anders?”

Hy het sy kop geskud. “So ’n mooi meisie . . .”

Hy het agter haar aangery tot by haar huis, waar sy haar motor gelaat en by hom ingeklim het.

In die restaurant was die musiek gedemp en die stilte wonderlik na die lawaai van die partytjie. Sy het hom vertel wat sy doen en waarom sy by die partytjie was.

“En jy?” het sy gevra. “Wat is jy? Rolprentster, regisseur of sommer net aanhanger?”

“Prokureur,” het hy gesê. “Ek sorteer die sterre se geldsake vir hulle uit. Dis gewoonlik maar ’n gemors.”

So het hulle verhouding begin. Charles was soos ’n broer en sy het baie lief vir hom geword. Hy was altyd daar as sy geselskap wou hê. Hy het geen eise gestel nie, niks van haar verwag wat sy nie bereid was om te gee nie.

“Wou jy nog nooit in ’n rolprent speel nie?” het hy haar eendag gevra.

Sy het begin lag en kon nie ophou nie. “Nee! Lyk ek dalk vir jou soos ’n rolprentster?”

“Jy is mooi genoeg,” het hy haar verseker.

Sy het ’n gesig getrek. Hulle het op die strand gesit en sy het haar hare in ’n handdoek toegedraai gehad. Haar neus was wit van die sonroom en haar donkerbril vol sand.

“Ek dink regtig nie iemand sal so ’n spektakel in ’n rolprent wil gebruik nie!” het sy giggelend gesê.

“Eendag gaan iemand jou ontdek,” het hy gewaarsku. “Wag en kyk! Jy is slank en pragtig gebou, jy het ’n mooi gesig, mooi grys oë, pragtige hare – wat meer wil hulle hê?”

“Nee dankie, Charles. Ek het genoeg gesien om te weet dat dit nie my soort lewe is nie . . .”

Kort daarna is hy dood.

Die meisie klap haar vingers vir die hond en hulle hardloop die laaste ent tot waar haar motor geparkeer staan. Sy leun met een hand teen die motordeur en vee die sand van haar voete af voordat sy buk om haar sandale aan te trek.

“En jy moet die sand van jou afskud, Noag,” sê sy vir die hond. “Ek is nie lus om die helfte van die strand huis toe te karwei nie!”

Die hond skud hom gehoorsaam af en hulle klim in en ry weg. Die son het gesak en die strand lyk nou grys en verlate.

Sy draai die motor weg van die strand en begin tussen luukse huise deurry totdat sy teen ’n heuwel by ’n groot tuin indraai. Rankplante bedek die versteekte huise en oral is die geur van blomme.

“Kom, Noag, ons is by die huis.”

Sy sluit die motorhuisdeur en stap sommer agterom na die agterdeur.

Soos altyd is dit vir haar lekker om by die huis te kom. Sy maak die yskas oop en begin kos uithaal. Die hond lê op die vloer terwyl sy aandete maak.

“Een van die dae gaan ons huis toe,” vertel sy vir Noag. “Dink jy jy sal wil saamgaan?”

Die hond slaan met sy stert op die vloer en sy lag en dra haar kos deur na die sitkamer waar sy die televisie aanskakel en opgekrul op die rusbank gaan sit. Sy het net klaar geëet toe die telefoon lui.

“Hallo!” groet sy en kou die laaste mond vol klaar.

“Elize, dis Henri hier. Kom jy môre na ons toe?”

Sy vee oor haar mond. “Ja dankie, ek sal kom. Is dit ’n spesiale geleentheid?”

“Nee, nee. Lucy het net gewonder waarom ons jou so lanklaas gesien het. Ons sal sommer vleisbraai.”

“Dit klink lekker. En ek bring my swempak saam.”

“Waar was jy vanmiddag?” vra hy. “Ek het al ’n hele paar keer gebel.”

“Langs die see gaan stap.”

“Alleen?”

“Nee, saam met Noag.”

Hy lag. “Dis nie wat ek bedoel het nie. Hoe vorder jou werk?”

“Ek is amper klaar. En ek dink dis tyd dat ek nou weer huis toe gaan.”

“Wag eers,” sê hy.

Sy kan hoor hy klink moeg. “Waarom klink jy so moeg?” vra sy simpatiek.

“Jong, ek sit nou al dae met ’n draaiboek en die gogga het my gebyt. Ek móét die rolprent maak; dis my soort ding.”

“Dit klink interessant. Waaroor gaan dit of is dit ’n geheim?”

“Nee, dis nie ’n geheim nie. Dis maar ’n eenvoudige verhaal van die verhouding tussen twee mense – twee vereensaamde en soms verbitterde mense. ’n Mens kan iets wonderliks daarvan maak met die regte akteurs.”

“Hmm,” sê sy. “Ek kan hoor jy is weer op ’n ander planeet. Is dit waarom Lucy wil hê ek moet kom? Raak jou voete al weer nie aan die aarde nie?”

Hy lag skuldig. “Jy ken my ook glad te goed. Ja, Lucy het gesê ek moet bietjie wegbreek.”

“Nou ja, ek sal kom en ons kan reisies swem tot jy skoon vergeet het van die nuwe rolprent en al die planne in jou kop. Het jy al akteurs?”

“Nee en ja. Ek weet wie ek vir die manlike hoofrol wil hê en ek het al met hom daaroor gepraat, maar ek weet nie of hy sal inwillig nie. En met die vroulike hoofrol sit ek vas. Nie een van die aktrises wat ek getoets het, is reg nie.”

Sy kan die moedeloosheid in sy stem hoor en sy val hom vinnig in rede. “Nou kyk, luister na jou vrou en vergeet eers daarvan. Ek weet hoe jy verander as ’n nuwe idee aan die ryp word is. Sien julle môre.”

Sy sit die gehoorstuk neer en gaan sit weer op die bank. “Ons gaan môre na die Drysons, Noag,” sê sy vir die hond. “Jy kan die hele dag deurbring deur hulle honde te verwilder, soos jy altyd doen. En Henri sal dit nie eers agterkom nie, want daar broei groot dinge in sy kop.”

Skynglans van geluk

Подняться наверх