Читать книгу 'n Kwessie van tegniek - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

Dit was vier jaar gelede.

Daardie dag het Alicia so siedend kwaad teruggery kantoor toe dat sy nou nog wonder hoe sy daar gekom het sonder om ’n ongeluk te maak.

Die ander meisies het om haar gekoek toe sy by haar kantoor instorm.

“Oe, hoe was dit?”

“Gelukkige vrou, was jy regtig alleen saam met hom in ’n kamer?”

“Is hy in die vlees so lieflik soos op die skerm?”

Sy het nie geantwoord nie, maar agter haar rekenaar gaan sit en tik dat die blou vlamme tussen die sleutels uitslaan.

“Alicia. Vriendin,” het Marianne gesê ná sy haar ingeroep het. “Jy dink nie regtig ek kan hierdie stuk publiseer nie?”

“Hoekom nie? Dis die waarheid.”

Marianne het gesug. “Dis ’n vrouetydskrif dié. Vroue dink André Rosner is reguit uit die hemel uit.”

“Hy is nie. Glo my vry, hy is nie.”

Marianne het haar hand in die lug gehou. “Wag nou, wag nou. Dis duidelik julle twee het nie gekliek nie, maar dit . . .”

“Nie gekliek nie?” Alicia het histeries gelag. “Daar is niks om te kliek nie. As ons lesers maar weet waarmee hulle te doen het! Soveel hoogmoed, soveel arrogansie, soveel . . .”

Marianne het afgekyk na die papier voor haar. “Goed, goed, maar jy het nie een enkele feit omtrent hom gegee nie. Niks nuuts, niks wat hom aan ons lesers bekend kan stel nie.”

“Hy het geen feite gegee nie! Elke vraag wat ek gevra het, is teruggegooi met ’n wedervraag of sarkastiese opmerking.”

“Miskien het jy hom net op ’n slegte dag getref.”

Alicia se lag het harder geword. “Marianne, hy hét nie goeie dae nie. Hy beantwoord nie vrae nie, hy gee nie inligting omtrent homself nie. Ek dink die kanse is veel beter dat hy ’n artikel oor my kan skryf as andersom. Ek het meer vrae beantwoord as hy.”

Marianne het gesug. Op die ou end het die artikel verskyn met baie foto’s en die yl gegewens. Die gewone biografiese feite wat algemeen bekend was. En Alicia se naam was nie by die artikel nie.

Die film waarin André Rosner gespeel het, is met die gewone kritiese lof ontvang, almal het van voor af gejubel oor sy talent en Alicia het dit suutjies een middag op haar eie gaan sien. Daarna was sy nog kwater. Sy wou hom kritiseer. Sy wou uitloop en vir almal sê: “Sien? Ek het julle gesê hy is meer bek as binnegoed. Ek het geweet een of ander tyd gaan hy tot ’n val kom.”

Maar sy kon nie. Hy was meesterlik. Hy het weer eens die karakter geword, kon met sy wroegende donker oë die fynste nuanse uitbeeld, het sonder enige teatrale of goedkoop truuks die gehoor gevange geneem en geboei tot die einde.

Sy het besluit sy sal nie weer na een van sy films gaan kyk nie, en asof hy dit geweet het en haar nog ’n keer vir oulaas wou kwaad maak, het hy sy rug op films gedraai en net in teaterstukke opgetree; dikwels obskure klein dramas wat voor klein gehore gespeel het.

Dit was ook nie asof sy heeltyd aan hom gedink het nie, daarvoor was haar lewe vol genoeg. Sy het besluit om te kyk of sy as vryskut ’n bestaan kan maak en dit reggekry. Die hoofrede hiervoor was omdat sy ’n storie in haar kop gekry het. In die motor of saans voor sy aan die slaap geraak het, het sy die storie uitgedink.

Dit sou heel waarskynlik nooit verder gekom het as sy nie een aand na Marianne genooi was vir ’n braaivleis nie. Die ander gaste was hoofsaaklik joernaliste of mense betrokke by die uitgewersbedryf, maar Zach de Groen, die bekende regisseur, was ook daar en toevallig het Alicia langs hom gaan sit toe hulle begin eet het.

Zach was ’n groot man in alle opsigte. Lank en breed gebou, ’n maag wat oor sy broek hang, ’n dik bos hare en ’n grys baard. Alicia was aanvanklik bietjie geïntimideer deur hom, maar kort voor lank het hulle gesels asof hulle ou vriende was. Hy was ’n gemaklike man sonder fiemies, nie hooghartig of op enige manier beïndruk met sy posisie of reputasie nie. Teen die tyd dat hulle poeding geëet het, het Alicia hom vertel van die storie in haar kop.

“Ek sou dit al neergeskryf het,” het sy erken. “As ek net geweet het in watter vorm. Soms dink ek ek moet ’n roman probeer skryf, maar ek dink nie ek het die geduld of talent nie. Ek sien net mense en wat hulle sê, ek kan my nie moeg maak met lang beskrywings nie. Miskien ’n toneelstuk.”

“Wat van ’n draaiboek?”

Sy moes lag. “Ek sal nie weet waar om te begin nie! Ek is net ’n joernalis.”

“Jy kan leer,” het hy gesê en aan die kromsteelpyp wat byna nooit uit sy mond is nie, gesuig. “Dis net ’n tegniek. Vertel my jou storie.”

Die meeste mense was al huis toe en dit het buite op die stoep begin koud word toe hulle nog praat. Alicia het verwag hy sou lag vir haar storie of net bloot beleef daarna luister. Iemand in sy soort werk hoor seker gedurig van mense wat dink hulle het net die storie vir hom. Maar hy het haar die indruk gegee dat hy regtig belangstel, dat hy regtig dink haar storie het moontlikhede.

“Skryf dit vir my neer,” het hy gesê toe hulle uiteindelik groet. “En van daar af kan ons begin werk.”

Dit het haar ’n paar jaar gevat. Om mee te begin, kon sy nie dag na dag sit en skryf nie, sy moes haar brood verdien en agter ander stories aanry om verslag te doen. Maar die rowwe buitelyne wat sy skamerig vir Zach gegee het, het stadig verander in ’n nog rowwer draaiboek wat oor en oor geskryf en herskryf en weer geskryf is. Sy was later soos ’n kind in die De Groen-huishouding. Die honde, groot en wollerig soos hulle baas, het nie meer vir haar geblaf nie; Jenna, Zach se goedige vrou, was soos ’n tweede ma. Sy het koppies tee aangedra as Alicia en Zach sit en stry oor ’n karakter of gebeure in die storie, sy het elke weergawe gelees en haar eie opinie gegee al wou hulle dit nie altyd hoor nie.

Maar die draaiboek het vorm begin aanneem en uiteindelik almal se goedkeuring weggedra. Die produksiemaatskappy was opgewonde oor die projek en die wiele het begin rol vir die verfilming daarvan. Uit die aard van die saak het Alicia minder tyd vir suiwer joernalistieke werk gehad en sonder dat hulle dit agtergekom het, het sy al hoe meer werk gedoen vir Zach en die produksiemaatskappy. Toe hulle haar ’n pos aangebied het as assistent vir Zach was dit byna ’n logiese opvolging van wat sy buitendien gedoen het.

“Dis ’n goeie idee,” het Zach gesê. “Met die skrywer op die stel kan ons tyd spaar, want mens verander tog gedurig aan die teks.”

“En skrywers word altyd so kwaad vir hom,” het Jenna ingegooi. “Hulle is soos ma’s met babas, wil nie dat mense met hulle skeppings lol nie. Dis hulle s’n en soos hulle dit gemaak het, moet dit bly. Jy en Zach baklei nou al so lank oor elke woord dat ek reken julle moet mekaar verstaan.”

Dit was waar. Alicia het gevoel sy en Zach verstaan mekaar. Baklei is nie die regte woord nie, hulle redeneer bloot tot hulle saamstem. Daarby moes sy erken dat sy die hele projek baie opwindend vind. Dat haar storie iets geword het, is klaar rede tot blydskap; dat dit nou in Zach se bekwame hande gestalte gaan kry, is meer as waarop sy ooit gehoop het.

“Jy gaan nie beterweterig oor my skouer staan en loer nie,” het Zach vir haar gesê. “Ek is die regisseur en hoe ek jou storie in my kop sien, is nie noodwendig hoe jy dit sien nie.”

Sy was tevrede. Sy het Zach heeltemal vertrou. Hulle het lank genoeg aan die draaiboek saamgewerk dat sy geweet het hulle siening is byna dieselfde. Sy het dus haar mond gehou toe hy begin met die oudisies en keuse van akteurs. As sy gedink het Arnold Malan is miskien bietjie jonk vir die rol van die hoofkarakter, het sy maar stilgebly. Hy was ’n goeie akteur wat homself al in baie rolle bewys het. Om te kibbel oor die feit dat hy vlaswit hare het en sy eintlik ’n donker man in gedagte gehad het, was kleinlik.

Sy het bygesit tydens die eerste repetisies en moes erken dat Arnold die maklikste mens is om mee saam te werk. Oor koppies koffie in die rusperiodes het hy haar gesit en vertel van sy vrou, Elna, en hulle eersteling wat op pad was. Hy was ’n konserwatiewe soort mens, sonder draadwerk of nukke of enige vorm van temperament. Ciska Verwey, wat die vroulike hoofrol speel, was veel meer vol draadwerk. ’n Aktrise wat haar werk haar lewe gemaak het en altyd besig was om een of ander rol te speel.

“Bietjie van ’n drama queen, weet jy?” sê sy vir Marianne toe haar vriendin inwip om te kom groet. Alicia is besig om in te pak, die minimum soos altyd: ’n klomp jeans, hemde en dik truie, want die volgende dag vertrek die hele filmspan na Stofpan, die klein dorpie in die Karoo waar haar storie afspeel. Wel, nie regtig op Stofpan nie; sy het bloot ’n denkbeeldige dorpie geskep, ’n samestelling van al die dorpies wat sy ken of waardeur sy al gery het.

“Maar dis tog hoe jy haar geskryf het?” vra Marianne, soos altyd redelik.

“Ek weet,” gee Alicia toe. “Dis seker maar oor Arnold so ongelooflik normaal is dat Ciska afsteek. Jy weet, altyd behang van tjalies, snaakse juwele en daardie wilde bos rooi hare . . .”

“Sy is eksoties, ja,” stem Marianne saam. “Maar luister, ek wil jou ’n guns vra. Ek weet jy gaan saam as assistent of wat hulle jou ook al noem, en boonop is jy die skryfster van die stuk, maar wil jy nie vir my ’n artikel skryf oor die maak van die film nie? Jy neem tog jou kamera saam – neem vir ons ’n paar foto’s. Jy weet lesers hou van daardie soort artikel. Ons kan dit terughou tot die film vrygestel word, dan is dit sommer reklame ook.”

“Sekerlik,” sê Alicia en kyk deur nougetrekte oë na die oop, volgepakte tas. “Dink jy ek het alles wat ek nodig het? Jy weet, ek kan vir maande weg wees.”

“Ag,” sê Marianne. “Jy weet wat ek altyd sê, wat jy by die huis vergeet, koop jy sommer daar.”

Alicia kyk haar streng aan en vee oor haar voorkop waar ’n string donker hare uit die poniestert losgeraak het. “Ons praat nie nou van Parys of Rome nie, Marianne. Dis Stofpan. Ek was nog nie self daar nie, maar die ouens wat die terrein loop uitsoek het, sê vir my daar is ’n algemene handelaar wat hoofsaaklik blikkieskos, politoer, garing en sigarette verkoop. Dan is daar die kafee, wat min of meer dieselfde aanhou behalwe miskien meer lekkers en koeldrank. Miskien is daar ’n koöperasie, maar ek is nie seker nie. Ek gaan nie klere of grimering daar kan koop nie. Vergeet dit.”

“Waar gaan julle bly?”

“Hulle’t glo die ou Grand Hotel vir ons gehuur. Jy kan dink. Die bestuurder was glo nie baie gretig nie. Die kamers staan al jare lank leeg, en hy verkies om hom besig te hou met die kroeg. Maar geld praat harder as gemak.” Sy lag effens. “Hy – sy naam is oom Bennie, as jy belangstel – het nou personeel gehuur en die kombuis laat optert en die plek is glo reg vir ons. Daar is ook ’n losieshuis waar party mense sal bly.”

“H’m,” sê Marianne en haar oë glim. “Baie atmosferies. Jy sal vir my ’n lekker ding kan skryf.”

“Ek sal probeer.” Alicia gaan sit op die rand van die bed. “Dis nou tussen koffie aandra en so. Assistent klink baie deftiger as wat dit is. My hooftaak is om te sorg dat Zach genoeg tabak het en om te soek vir sy bril. Hoekom hy nie ’n ding kan kry wat permanent op sy neus sit nie, sal ek ook nie weet nie. Die ou halfbrilletjie word altyd êrens neergesit en daarsonder is hy so blind soos ’n mol. Kan nie die bord voor hom sien nie, laat staan die draaiboek of sy eie aantekeninge.”

“Wel,” sê Marianne. “Geniet dit en hou my op hoogte. Ek hoop alles verloop goed.”

Alicia hoop ook so toe sy die volgende dag in die pad val. Meer as net die hoop dat die verfilming goed sal gaan, wens sy haar storie gaan werk. Arnold speel die rol van ’n man wat noodgedwonge moet teruggaan na sy geboortedorpie omdat sy ma dood is. As enigste kind is dit sy taak om haar huis te gaan uitsorteer en oppak. Hy was in dekades nie op die dorp nie, het sy ma altyd na hom laat kom omdat sy herinneringe aan die ou dorpie om diverse redes nie van die plesierigste was nie. Nou het hy geen keuse nie; die huis moet opgeruim en verkoop word.

Dis egter nie so eenvoudig soos hy hom dit voorgestel het nie. Op die dorp ontmoet hy verskillende karakters waarvan die belangrikste drie vroue is. Ciska en twee ouer vroue, die een hoogs bejaard en blind. Hulle praat met hom, vertel hom stories uit sy verlede waarvan hy niks geweet het nie en betrek hom stadig maar seker by ’n lewe en werklikheid wat ligjare verwyder is van sy gesofistikeerde lewe in die stad. Dis eers as hy eendag in die kerkhof staan om blomme op sy ma se graf te sit dat hy die grafstene sien met die name van die vroue by wie hy so nou betrokke geraak het. En dis dan dat sy lewe regtig begin verander . . .

Alicia wonder vir die hoeveelste keer of Arnold die regte keuse is. Sy is seker sy het ook al die twyfel op Zach se gesig gesien. Op ’n manier is hy baie reg vir die rol omdat hy juis hierdie oop, ongekompliseerde soort gesig het. Hy lyk soos iemand wat nog nooit nodig gehad het om enigiets te bevraagteken nie, iemand wat met ’n oop, onkritiese houding op die dorpie aankom, doodseker dat die taak wat op hom wag ewe maklik en probleemloos gaan wees. Maar aan die ander kant . . . Sy kou aan haar lip, haar oë op die teerpad wat nimmereindigend voor haar oor die rante strek. Aan die ander kant het sy ’n heeltemal anderste prentjie van die man in haar kop. Hy is juis nié ongekompliseerd nie. Hy moet meer van ’n geheimsinnige figuur wees, in homself gekeer. Hy moet jou laat wonder waarom hy nooit wou terugkom na sy geboortedorp nie. Wat steek hy weg? Wat het daar gebeur om hom weg te dryf ?

En tog moet sy erken dat Arnold tydens die repetisies en in die ateljeeskote baie oortuigend was.

“Jy’s ’n snaakse man,” het sy eerlik eendag vir hom gesê. “Moenie my kwalik neem as ek sê jy lyk vir my meer na ’n rekenmeester of . . . of . . . wel, so iets nie. Jy lyk asof jy elke dag met ’n pak en das moet werk toe gaan. Jy lyk glad nie vir my na iemand wat ’n akteur is nie.”

Hy het net gelag en kort voor lank weer iets oor Elna vertel. Alicia het vir Elna gesien, die absoluut teenoorgestelde van iemand soos Ciska. Elna was ’n huisvrou en stralend aan die wag vir haar mees bevredigende rol: moederskap.

“Hy’s stabiel,” het Zach gesê. “Ek is mal oor stabiele akteurs. Hulle maak jóú nie mal nie.”

Maar Ciska het nie goed klaargekom met Arnold nie. Alicia kan sien dít, meer as enigiets anders, hinder Zach.

“Mens kan dít nooit waarborg of voorsien nie,” het hy gesê. “Maar dit is ’n feit. As daar vonke is tussen jou twee hoofkarakters, is jy op die regte spoor. Dit word oorgedra op die skerm, jou kykers gaan dit raaksien.”

Ciska vind Arnold onmeetlik vervelig. Dis vir almal dui-delik. Die ouderdomsverskil is hinderlik. Arnold is agt en twintig en Ciska twee en dertig. Met ander akteurs sou dit miskien nie gewys het nie, maar tussen hierdie twee is dit duidelik. Arnold het iets seunsagtigs omtrent hom, terwyl Ciska wêreldwys en gesofistikeerd is; veel ouer as haar jare.

Maar nouja, dink Alicia, dis nog te vroeg om te oordeel. In die regte omgewing en soos hulle gemakliker word in hulle onderskeie rolle, kan hierdie hinderlike gaping miskien minder word en hopelik verdwyn. Maar ’n vonk is daar nie, dis vir seker. Ciska lyk soos iemand wat tyd met ’n skoolseun moet deurbring.

Dis nie regverdig nie, dink Alicia soos haar motor die kilometers verorber. Arnold het haar verras. Hy kon langs haar sit en haar vertel van die babakamer en watse kleur hulle dit geverf het, watse gordyne hulle gekies het, watse speelgoed al op die bedkassie reggesit is, maar as Zach hom roep, skud hy alles af en word in ’n oogwink Sebastian wat staan met die telegram in sy hand. Die telegram wat hom in kennis stel van sy moeder se dood. Hy ís ’n professionele akteur, hy weet wat hy doen.

Die res is geluk, sê Zach altyd. Mens moet net hoop op die beste.

'n Kwessie van tegniek

Подняться наверх