Читать книгу Bewys van liefde - Christine le Roux - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Die telefoon lui hard en aanhoudend. Die skril geluid versteur die stilte in die huis en verdoof die effense piepgeluid van rubberwiele. Siegfried suig sy asem in toe hy teen ’n tafeltjie bots en bereik die instrument toe hy sy soveelste moedelose skree gee.

“Ja?” sê hy uitasem en kortaf.

“Hallooo,” koer sy ma. “Is dit jy, Siegfried?”

“Mamma,” sê hy bot. “Ja, natuurlik is dit ek. Wie anders kan dit wees?”

Sy lag, onverstoord deur sy bruuskheid. “Ag, ek maak net seker. Hoe gaan dit vandag?”

“Nes altyd, dankie.”

Haar stem is effens minder jubelend toe sy weer praat. “’n Slegte dag?”

“Nie slegter as gewoonlik nie. En daar?”

“Geen klagtes nie, dankie, my kind.”

Siegfried glimlag wrang. Hy en sy broer, Karel, probeer al dekades lank om hulle ma sover te kry om hulle as volwassenes te aanvaar. Karel is dertig jaar oud en hy vier en dertig, maar hulle ma spreek hulle nog steeds aan as “my kind”, “liefie”, of “hartjie”.

“Luister,” sê sy ma. “Jy weet van Sondag, nè? Jy het nie vergeet nie?”

Siegfried soek in sy geheue rond. Sondag? Wat gebeur Sondag? Hy kyk na die kalender wat langs die telefoon staan en sien daar’s ’n rooi kring getrek om die datum. “E . . . ja,” sê hy dus, maar op sy hoede. “Ek het dit gemerk.”

Sy ma lag. “Net sowel ek het gevra. Ek kan sommer hoor jy het vergeet. Dis Pa se verjaarsdag.”

“Natuurlik. Ek sou nie vergeet het nie.”

“Ek weet,” speel mevrou Knobel saam. “Maar het jy onthou dat ons almal hier saamkom?”

Hy is nog meer op sy hoede. “Ons almal? Wie is ons almal?”

“Wel, dis ek en Pa en natuurlik Karel. Hy bring ’n vriendin saam en dan is daar oom Anton-hulle en klein Anton met sy vroutjie en . . .”

“Die hele familie,” merk hy toonloos op. “Ek dink nie ek sal kan kom nie, Mamma. Dit is buitendien moeilik en . . .”

“Nee, nee,” sê sy. “Ek weet wat jy gaan sê. Klein Anton het mos ’n kombi – jy weet met dié dat hulle nou al die vierde een op pad het – en hy’t gesê dis vir hom geen moeite nie, hy ry by jou langs en . . .”

Siegfried se mond word styf. “Dankie, Mamma, maar dis regtig te veel moeite en ek voel nog nie gereed om . . .”

“Siegfried,” sê sy en haar stem klink presies soos dit geklink het toe hy tien jaar oud was en sy uitgevind het hy het die modderbesmeerde hond onder sy laken laat slaap. “Ek aanvaar dit nie langer as verskoning nie. Dis tyd dat jy uitkom. Dis ongesond om jou so af te sonder. Dit moet end kry.”

“Ek is seker dis soos Mamma voel, maar ek sien eenvoudig nog nie kans vir so ’n groot sosiale gedoente nie.”

Sy speel haar laaste troefkaart; haar stem word diep en seer.

“Dis jou pa se vyf en sewentigste verjaardag, my kind. Dink jy nie jy kan vir sy onthalwe ’n bietjie moeite doen nie?”

“Nou speel Ma op my skuldgevoel.”

Haar stem word weer normaal, sy is nie die soort vrou wat die rol van gekrenkte moeder lank kan speel nie. “Ek weet,” erken sy eerlik. “Maar as dit is wat nodig is, doen ek dit.”

Hy sug. “Dit gaan ’n lang en vermoeiende dag wees.”

“Nee, dit hoef nie. Klein Anton sal jou so twaalfuur kom oplaai. Kyk, Sanet is self op haar laaste en sal nie te lank wil bly nie. Ons het beplan om te braai, jy weet hoe lief is jou pa vir braai en een van die dae is dit winter. My aarde, jy moet sien hoe val die blare al af, as ek nie elke oggend die stoep vee nie, warrel alles by die stoepdeur in en . . .”

“Ja,” sny hy die woordevloed kort. “Dit word herfs.”

“Dié dat ek sê dis seker die laaste keer dat ons buite sal kan braai.” Haar stem word sagter. “En ons wil jou graag weer sien, boet. Met dié dat Pa self nie meer so maklik rondry nie, mis hy jou.”

“Goed,” sê hy, moeg van die redenasies. “Goed, ek sal kom.”

“Uitstekend,” sê sy bly. “Wonderlik. En jy weet, kindjie, dit sal net familie wees. Oom Anton is Pa se enigste broer wat nog leef en klein Anton die enigste neef wat na genoeg aan ons bly om te kom kuier en . . .”

“Mamma,” sê hy. “Dis goed, ek het gesê ek sal kom. Wat wil Pa vir sy verjaardag hê?”

“H’m,” sê sy. “Wel . . .” Hy kan letterlik hoor hoe versigtig sy nou haar woorde kies. “Kom jy nog by . . . e . . . die winkels?”

Hy trek sy skouers agteroor, sy hand klem die gehoorstuk harder vas. “Ek kan my sekretaresse stuur.”

“O. Nouja . . .” Sy begin verduidelik in watter winkel sy presies die oopknooptrui gesien het wat sy pa wil hê en hy maak ’n aantekening in sy kop om dit te onthou. “Dankie, boet. Dit gaan lekker wees om jou te sien.”

“Mooi bly, Mamma,” sê hy. “En groete aan Pa.”

“Sal so maak.” Sy groet en lui af.

Toe hy die volgende oggend vir Marcia, sy sekretaresse, vertel van die trui, lyk sy buitengewoon opgewonde.

“Gaan meneer uit?” vra sy.

“Nee, dis juis hoekom ek vir jou vra. Jy moet asseblief etenstyd winkels toe gaan. Sommer eers vir my geld trek ook.”

“Ja, maar ek bedoel, gaan meneer na die partytjie?”

Hy leun terug in sy stoel en kyk haar stroef aan. Marcia is nie mooi nie, maar sy is die beste sekretaresse wat hy nog ooit gehad het. Soms miskien ’n bietjie naïef en by tye ook irriterend, maar so flink en veral so onopvallend dat hy nie durf kritiseer nie. Sy vorige sekretaresse was ook goed, maar toe omstandighede verander en hy haar inlig dat hy nou van die huis af gaan werk en of sy bereid is om soontoe te kom, het sy vasgesteek.

“Haai nee, meneer,” het sy gesê en haar witblonde kapsel geskud. “Haai nee, ek weet darem nie daarvan nie, meneer.”

“Die werk bly presies dieselfde. Niks verander nie. Ek rig die slaapkamer langs my studeerkamer vir jou in as kantoor en . . .”

“Ja, maar meneer verstaan nie.” Sy het om haar gekyk, en in die rigting van die gang gewys. “Hier is al my vriendinne en al die ander mense en . . .” Sy het skielik skuldig gelyk asof sy hom nie behoort te blameer nie, asof sy weet sy behoort onder die omstandighede meer tegemoetkomend wees. “Ek weet dis seker vir meneer swaar en . . . alles, maar ek meen, kyk, etenstye is ons mos almal saam en ons gaan na die winkels of sit in ’n kafee en . . .”

“Dis heeltemal in orde,” het hy haar in die rede geval. “Ek verstaan. Vanselfsprekend sal dit vir jou eensaam wees.”

“Dis die ding, meneer.”

Hy het geadverteer vir ’n sekretaresse en die omstandighede duidelik uitgespel. Hy was nie lus om ’n lang lys kandidate te woord te staan net om uit te vind hulle soek ook meer na sosiale omgang nie. En soos dit gebeur het, was dit juis Esta, die blondekop, wat Marcia by hom aangebring het. Hy was skepties toe hy die bedeesde meisietjie voor hom sien staan, maar hy het doelgerig begin vrae vra met dieselfde presisie waarmee hy elke kleurlose, doellose, hopelose dag aangepak het. Wat is haar naam, vorige ondervinding, ingesteldheid, kwalifikasies. Hy kon nie foutvind nie, sy het voldoen aan al die vereistes.

“Dit gaan dalk vir jou eensaam wees,” het hy gesê. “Dis net ek, en my huishulp op die dae dat sy kom. My huis is in die voorstede.”

“Ek gee nie om nie, meneer Knobel.”

Hy het haar vir ’n maand proeftydperk aangestel en twee maande is nou al verby. Sy praat nooit oor persoonlike sake nie en hy is tevrede, daarom neem hy aan sy is ook. Op geen manier het sy nog laat blyk dat sy nie van die afsondering hou nie.

“Ek dink darem meneer behoort ’n hond te kry,” het sy een oggend gesê.

“’n Hond? Om wat mee te doen? Wie sal met hom gaan stap?”

“’n Hond is geselskap,” het sy vasberade gesê, half verskrik deur haar waagmoed. “Of dan ’n kat.”

“’n Kat?”

Sy het begin retireer. “Wel, ek het net gedink . . .”

“Ek het niks nodig nie, dankie, Marcia.”

“Ja, ek weet, meneer,” het sy toe gesê.

Hy staar so lank na haar dat sy begin rooi word, want dis nie haar gewoonte om kommentaar te lewer op wat hy doen of nie doen nie.

“Dis nie ’n partytjie nie, Marcia,” sê hy nou. “Bloot ’n familiesamekoms. My pa verjaar.”

“Ja, maar dis goed dat meneer bietjie uitkom.”

“Dankie,” sê hy en wys na die papiere in haar hand. “Sal jy daardie fakse vir my stuur? Die mense wag.”

“Ja, meneer, sekerlik.” Sy skarrel by die deur uit.

Hy wou die huis verkoop. Dit was sy eerste gevoel. Hy kon onder geen omstandighede daar aanbly nie. Hy het dit net gekoop omdat hy gedink het hy en Petro sou . . . Hy skud sy kop en druk die gedagte dadelik dood. Kyk liewer by die venster uit en sien dat dit inderdaad herfs word. Die boom voor sy venster is byna kaal. Hy skud weliswaar sy blare vroeg af, maar tog.

“Die huis is prakties,” het sy ma vir hom gesê. “Moenie oorhaastig besluit nie.”

“Ek wil dit nie weer sien nie. Ek wil nooit weer in die rylaan opry en . . .”

Sy ma het sy hand gedruk. “Ek weet, ek weet, maar jy moet erken dis onder die omstandighede baie prakties. Baie geskik.”

“Hoekom?” het hy gevra, koppig en nog omring van die genadige waas van onwerklikheid.

“Dis ’n plat huis, seun,” het sy pa gesê. “Dis plat.”

Hy wou dit nie hoor nie, hy het sy oë toegemaak en hulle gedwing om weg te gaan met hulle harde, praktiese woorde.

Maar hulle was reg. Die huis was plat. Van die voorste tuinhek tot by die voordeur was alles op een vlak. Geen trappie nie. En as ’n mens by die gang uit is na die stoep en die agtertuin, was alles steeds op een vlak.

Hy maak sy oë ’n oomblik toe, soos hy so dikwels doen, en wens met dieselfde passie dat hy dit kan oopmaak en dat alles skielik sal wees soos dit eens op ’n tyd was.

“Hier’s die antwoord, meneer,” breek Marcia deur sy pynlike gedagtes. Sy sit ’n papier voor hom neer.

“Dankie.” Hy begin lees, maar konsentreer eers toe hy dit vir die tweede keer deurlees.

“Is daar iets anders wat ek ook moet kry?” vra Marcia. Hy staar na haar asof hy nie weet waarvan sy praat nie. “Wat bedoel jy?”

“Melk of . . . so iets? Kos?” Marcia wys na haar horlosie. “Dis etenstyd, meneer. Ek ry nou.”

“Dankie,” sê hy. “Nee dankie, ek het niks nodig nie.”

“Net die trui.”

“Ja.”

Ná sy weg is, sit hy en kyk na die hoendertoebroodjie wat sy langs hom neergesit het en hy gril. Ses maande gelede sou hy nou in een of ander gesellige restaurant gesit het, ’n glas wyn langs hom, ’n lekker bord kos voor hom, omring van kollegas of sakekennisse. Nou sit hy hier met ’n hoendertoebroodjie. Alleen.

Hy druk hom weg van die lessenaar en maak die boonste laai oop om die botteltjie pille uit te haal. Hy skud twee uit in sy handpalm, trek die glas water nader en sluk hulle. Soos hy elke dag doen, skud hy die botteltjie en luister na die gerusstellende klank van die pille wat teen die glas bots. ’n Hele paar dosyn oor. En, soos elke dag, wonder hy of hy nie die totale inhoud van die bottel in sy hand moet gooi en afsluk nie. Hy verbeel hom hoe dit sal wees; ’n lomerigheid wat oor hom kom, dan die soort vaak waarteen nie geveg kan word nie en uiteindelik ’n diep slaap. Rustig, pynloos, ’n donkerte wat alles sal uitvee.

Daar is ’n skielike lawaai in die kamer, ’n gefladder van paniekerige vlerke en hy kyk op, sien die duif wat deur die oop venster ingevlieg het en nou angsbevange probeer uitkom. Los grys veertjies dwarrel af vloer toe, die duif vlieg teen die gordyne vas, swiep op na die plafon en bots met klappende vlerke daarteen voor hy weer afswenk en soek na ’n opening in die verligte vierkant van die venster.

Moeisaam beweeg Siegfried na die venster en hou sy hande uit. “Kom,” beduie hy vir die voël. “Diékant toe, hier is die venster.”

Dit help nie en daar is ook nie veel wat hy kan doen nie. Magteloos volg hy die duif se angstige bewegings en dis eers toe hy ná omtrent vyf minute totaal uitgeput teen die gordyn vasvlieg en afval dat die voël na genoeg aan Siegfried kom dat hy hom tussen sy hande vasvat. Die ronde kraalogies skuif heen en weer, onder sy vingers voel hy die duif se hart klop.

“Kyk,” sê hy en lig die duif op. “Hier is die oop venster.” Hy skiet die voël by die venster uit, sien hoe hy vir ’n oomblik half hulpeloos fladder voor hy besef hy is vry en met hernude krag opstyg en uit sig verdwyn.

Dis wat sal gebeur as hy die hele bottel vol pille opdrink, dink hy dof. Hy sal vry wees. Is dit nie enige lewende wese se voorreg nie? Het hy nie die reg om self die keuse te maak nie? Is daar enigiemand wat regtig sal omgee?

Hy sit so lank voor die oop venster dat hy skrik toe hy Marcia se stem agter hom hoor.

“Hier is die trui,” sê sy.

Hy draai om, beweeg stadig terug tot by sy lessenaar. “Dankie.”

Sy kyk na die toebroodjie wat verdroog op die bord lê. “Het meneer nog nie geëet nie?”

“Ek’s nie honger nie.”

Sy skud haar kop. “Maar meneer moet eet.”

“Hoekom?”

Sy is besig met haar handsak, haal die geld uit, sit sy bankstrokie daarby, soek na die kontantstrokie van die trui. “Wou jy al ooit dood wees, Marcia?” vra hy uit die bloute.

Sy kyk op. “Nee.”

“Nooit nie?”

“Nee, meneer.” Sy knip haar handsak toe en sit dit op ’n sytafeltjie neer. “Niks is ooit so sleg nie, weet meneer?”

“Nee,” sê hy tam. “Ek weet nie.”

“Dis so,” sê sy ernstig. “My ma het altyd so gesê. Wag net tot môre, het sy gesê. Jy weet nooit wat die volgende dag sal inhou nie.”

“Maar ek weet, Marcia, ek wéét.”

Sy lyk of sy iets wil sê, druk haar lippe opmekaar, maak hulle weer oop en skud dan haar kop. “Meneer kan nie so sê nie. Ek meen, gestel meneer was ’n brandweerman?”

“’n Brandweerman?” herhaal hy.

“Ja.” Haar stem is sterker. “Ek meen, waar was meneer dan? Al daardie lere wat geklim moet word en pype wat aangesleep en gekonnekteer moet word en . . .”

Hy begin hulpeloos lag. Sy lyk so ernstig en hy weet nie wat sy bedoel nie. “Wat probeer jy sê? Ek wou nog nooit ’n brandweerman wees nie!”

“Ek sê maar net. Meneer het baie om voor dankbaar te wees. Ek meen, wat is die verskil? Hier sit meneer voor ’n lessenaar en daar is alles. Rekenaar, faks, telefoon, alles wat meneer nodig het. Niks het verander nie, het dit?”

“Natuurlik het dit. Alles het verander. Alles.”

Sy druk haar lippe opmekaar en skud haar kop wys. “Nee, nie as meneer regtig daaroor dink nie. Meneer kan nog werk, of hoe?”

“En as ek ’n brandweerman was, kon ek nie.” Hy lag weer.

“Nee, natuurlik nie.”

“As ek ’n rugbyspeler was, ook nie.”

Sy glimlag skaam, bly dat hy so geamuseerd lyk. “Ook nie as meneer ’n tuinier was of ’n werktuigkundige of ’n krieketspeler of ’n kelner in ’n koffiekroeg of . . .”

Hy hou sy hand in die lug. “Dankie, Marcia. Dis voldoende. Ek moet my seëninge tel.”

Haar gesiggie is weer ernstig. “Presies, meneer.”

“Maar dis moeilik,” sug hy.

“Ek weet, maar nou het meneer iets om na uit te sien.”

Hy lig sy wenkbroue. “En dit is?”

“Sondag.”

Sy lippe word weer dun. “Ek sien. Ek moet daarna uitsien om heen en weer geskommel te word en dan vir die res van die dag bejammerend aangekyk te word.”

Sy sug, duidelik nou leeg van verdere optimistiese en opbeurende gedagtes. “Dis darem meneer se familie.”

“Ja, dit is.”

Sy kyk na die verlepte toebroodjie en sien skielik weer lig. “As ek nou vir meneer lekker warm tee gaan maak, sal meneer dan ietsie eet?”

Hy lig sy hande en laat hulle weer sak. “Ja, Marcia, maak vir ons tee. As jy dink dit sal help, sal ek eet.”

“Dit help altyd, meneer,” sê sy ernstig.

Bewys van liefde

Подняться наверх