Читать книгу Bewys van liefde - Christine le Roux - Страница 4
Hoofstuk 2
ОглавлениеKarel stap galant om die motor om die deur vir Corinne oop te maak. Sy glimlag vir hom en hy rus sy hand vir ’n oomblik teen haar arm voor hy die motor toesluit en hulle begin aanstap na die voordeur van sy ouerhuis.
“Senuagtig?” vra hy speels.
Sy gee ’n laggie. “Nee, hoor. Dis nie die eerste keer dat ek ’n vriend se ouers ontmoet nie.”
Hy voel afgehaal. Corinne is altyd net effens te eerlik en uitgesproke na sy sin, maar dan moet hy erken, haar koel afsydigheid is juis wat hom van die begin af aangetrek het. Sy het ’n manier om ’n man te laat voel sy het hom regtig nie nodig nie en dit maak op die plek die sterkste gevoelens wakker. Toe Karel haar die tweede keer gesien het, het hy reeds besluit niks in die lewe is belangriker as om Corinne te verower nie. Hy erken vryelik dat dit sy voorvaderlike bloed is wat nou so bruis; as hy nog in ’n grot gewoon het, het hy haar oor die kop geslaan met ’n knuppel en haar saamgesleep. Ongelukkig is sy nie die soort wat haar oor die kop sal laat slaan nie; hy weet hy sal versigtig moet trap. Daarom wys hy nie nou hoe hy voel nie, vat haar net besitlik aan die arm en stap om die huis na waar hy stemme op die stoep hoor.
Dis ’n lekker sonskyndag alhoewel effens koel. ’n Los windjie speel met die blare en veroorsaak dat almal tog truie dra.
“Karel!” sê sy ma en kom vorentoe om hom te soen.
“Corinne, dis my ma,” stel hy voor.
“Welkom hier by ons,” sê mevrou Knobel gul.
Corinne glimlag vir die gryskopvrou wat haar so hartlik groet en staan nader om die hand te skud van die meer bejaarde meneer Knobel.
“Verskoon tog dat ek so bly sit,” sê hy vir haar. “Tussen die rumatiek en my swak oë is ek nie meer wat ek was nie.”
Sy wens hom geluk met sy verjaardag en sit ’n pakkie op sy skoot neer. “Ek weet nie wat u lees nie en Karel was ook nie eintlik behulpsaam nie, maar ek dink tog u sal die boek geniet.” Die oomblik toe die woorde gesê is, kan sy haarself skop. Die man het nou net gesê hy sien nie meer goed nie en hier gee sy vir hom ’n boek. Sy neem haar voor om Karel aan te spreek dat hy haar nie gewaarsku het nie.
“Baie dankie,” sê meneer Knobel galant. “Al kom ek reg met my sterkste bril, het ek en my vrou ’n nuwe plesier ontdek: sy lees vir my hardop voor.”
“Ek is bly,” sê sy. “Want ek het nie besef . . .”
“Kom, hartjie,” sê mevrou Knobel. “Laat ek jou voorstel aan die ander mense.”
Sy kyk op. ’n Jongerige man met ’n kleuter op sy heup staan by die braaivleisplek waarheen Karel hom ook gewend het. In ’n tuinstoel sit ’n hoogs swanger jong vrou langs ’n ouerige egpaar, maar haar oë word gevange gehou deur ’n man in ’n rolstoel. Waar al die ander mense reeds vriendelik in haar rigting glimlag en wag om voorgestel te word, sit hy strak voor hom en uitstaar, sy oë verberg agter ’n donkerbril, sy hande bewegingloos op sy skoot.
“Dis oom Anton,” sê mevrou Knobel langs haar en sy beweeg met die stoele langs, glimlag en skud hand met almal tot hulle voor die rolstoel staan. “En dis ons oudste seun, Siegfried,” sê mevrou Knobel en Corinne verbeel haar die vrou se stem het verander, behoedsaam geword.
“Aangename kennis,” sê Corinne hoflik en is bly om te sien die man steek darem sy hand uit en het ’n verbasend sterk greep. “Maar ek dink ons het al ontmoet.”
Hy lig sy kop, maar agter die donkerbril kan sy niks sien nie. “Het ons?” vra hy gelykmatig.
Voor sy verder kan praat, vat mevrou Knobel haar haastig aan die arm en lei haar na die tafel waar koeldrank en wyn gereed staan. “Wil jy iets drink?”
Vir die res van die kuier, dwarsdeur die ete en die koffie daarna, bly sy bewus van die man se stilte. Hy antwoord as iemand hom direk iets vra, maar hy neem nooit deel aan die gesprek nie en dis asof almal moeite doen om dit te verberg. Gelukkig is daar tussen die drie kinders en die grootmense meer as genoeg geselskap. Mense beweeg heen en weer tussen die vuur en die tafel, die kinders raak bietjie rumoerig tot hulle kos in hulle mae het, die twee honde kom bedel vir oorskietbene en stamp ’n wynglas om, wat gelukkig nie breek nie, en Karel is besonder besitlik asof hy vir sy versamelde familie wil wys aan wie sy behoort. As sy by die vuur staan, sit hy sy arm om haar skouer en hy gaan uit sy pad om te kyk dat sy kos het en iets om te drink.
“Ek hoop ons sien jou nog baie,” groet mevrou Knobel haar toe sy en Karel so teen vieruur vertrek.
“Baie dankie,” sê Corinne. “Dit was ’n heerlike ete.”
Agter haar hoor sy hoe die jong egpaar kinders begin bymekaarmaak.
“Moet ons weer die oom in sy waentjie inlaai?” vra die oudste.
Almal praat gelyk om die ontaktvolle opmerking te probeer verberg en klein Anton klap sommer na die kind, wat moeg en onoortuigend begin huil. Corinne kyk terug na Siegfried. Hy sit steeds bewegingloos in sy rolstoel, maar langs sy mond keep diep lyne en sy lippe is styf opmekaar gepers.
“Kom,” sê Karel vir haar en sy stap saam met hom na die motor.
“Vertel my van jou broer,” sê sy beslis toe hulle wegtrek. “Ek weet nou waar ek hom gesien het. In die hospitaal, maar hy was nie een van my pasiënte nie. Wat het gebeur?”
Hy sug en verander die ratte so hewig dat die motor protesteer. “Hel, dit was ’n gemors.” Hy lig sy hand en vee oor sy mond asof hy iets wil uitvee. “As jy Sieg voor die tyd geken het . . .”
“Vertel vir my, Karel.” Sy skud haar kop effens. “Hy is ’n baie ongelukkige man.”
“Dit kan jy weer sê.” Hy frons diep. “Nie dat ek hom kwalik neem nie. As dit met my moes gebeur het . . .” Hy uiter ’n effense steungeluid. “Ek het rugby gespeel en hy krieket. Eerste span. Topswemmer in ons skool. Ek was so trots op my broer. Ouboet.” Hy skud sy kop. “Hy was alles wat ek ook wou wees. Slim én goed met sport.” Hy kyk vlugtig af na sy fris lyf wat wil dik word. “En hy trek na my pa se kant, die langes, ek is meer soos oom Anton, kort en geneig om gewig aan te sit. Hy, Siegfried, was my ideaal. Op skool was die ander ouens jaloers op my omdat hy my broer was. Almal se held.”
“En toe?” vra sy toe hy nie verder praat nie.
“Snaaks vir so ’n ou,” sê hy nadenkend. “Al die meisies was mal oor hom, maar hy was baie versigtig. Ons het hom geterg. Hy kon enigeen kry wat hy wou hê, jy weet tog hoe dit is.”
“Nee,” sê sy nugter. “Ek was nog nooit die soort meisie wat vir die skoolheld val nie. Hoofsaaklik omdat hulle altyd sulke enorme ego’s gehad het.”
“Nie hy nie,” sê hy dadelik. “Skaam eintlik, al kon ons dit nie verstaan nie. Vir ons het dit gelyk na die hemel om al die meisies aan jou voete te hê.”
“En wat het toe gebeur?”
“Hy’t ’n meisie ontmoet.” Hy knibbel aan sy onderlip. “Seker so drie jaar gelede sou ek sê. Petro.”
“Mooi?”
“Ja. ’n Donkerkop soos hy,” sê hy stadig.
“Wat het toe gebeur?” por sy.
“Wel, op sy gewone manier was hy baie versigtig. Ek het hom gespot, gesê as hy nou besluit het sy is die meisie vir hom, moet hy nie dom wees nie. Haar nie deur sy vingers laat gly nie. Maar hulle het lank uitgegaan voor hulle verlede jaar verloof geraak het. Outyds, het ek vir hom gesê. Niemand wag meer so lank nie.”
“Dit is waarom daar soveel egskeidings is.”
Hy knyp haar liggies aan die wang. “Jy is heeltemal te nugter,” sê hy speels. “Is jy nie romanties nie?”
“Nee,” erken sy. “Glad nie. Dis jammer, maar ek was nog altyd so. Maar vertel verder. Wat het van Petro geword?”
Sy gesig verstrak. “Sy’s doodgeskiet.”
Sy snak na asem. “Doodgeskiet? Wat het gebeur?”
“Dit was so drie maande gelede. Hulle was uit gewees en het laat die aand teruggekom by sy huis. Die huis wat hy vir hulle gekoop het. Rowers het hulle ingewag, ’n pistool deur die motorruit gedruk en hulle gedwing om uit te klim. Siegfried het kalm gebly, gesê hulle moet die motor vat, maar blykbaar het Petro histeries geword, geskree en probeer weghardloop.” Hy is ’n lang ruk stil, sy gesig vertrokke en somber. “Ek weet nie, hy het nog nooit veel daaroor gesê nie. Die rowers het haar geskiet en Sieg het homself in haar rigting gegooi – seker in die waan dat hy haar tog kan beskerm – en hy is in die rug getref.” Hy skud sy kop stadig heen en weer asof dit steeds vir hom onaanvaarbaar bly.
“Liewe Vader,” sê sy geskok. “Dis verskriklik. Hoe oud is hy?”
“Vier en dertig. In sy fleur.”
“Een van die ander fisio’s het met hom gewerk,” merk sy op. “Maar ek onthou hom. Nie baie bereid om saam te werk nie.”
“Hy wou doodgaan,” sê hy.
“Dis verstaanbaar,” erken sy. “Aan die begin, maar in my ondervinding vat dit nie lank nie voor hulle tog leer aanvaar en begin saamwerk om darem te red wat te redde is.”
“Jy sal meer daarvan weet as ek,” gee hy toe. “Maar ons voel ook so. My ma reken dis sy kop wat moet regkom.” Hy haal sy skouers op. “Wie is ons om te oordeel? Ek dink as dit ek was, het ek myself doodgeskiet.”
“Nee,” sê sy kwaai. “Nie ter wille van jou bene nie! As jy die pasiënte sien wat ons vir rehabilitasie kry – jong seuns wat in ongelukke was, mense wat net hulle kop kan beweeg. As hulle eers leer aanvaar het en besef het hulle leef nog en dit is die belangrikste – dan kan jy baie vir hulle doen. Kry jou broer nog fisioterapie?”
“O ja,” antwoord Karel. “Elke dag sover ek weet, maar ek is nie seker nie. Die meisietjie kom na sy huis. Hy werk ook nou van die huis af. Sy firma het regtig moeite gedoen om vir hom te wys hy het nog ’n belangrike rol om te speel en waar sy kantoor is, is nie belangrik nie.”
“Dis goed,” sê sy. “Dis baie belangrik dat hy nie nutteloos moet voel nie. Weet jy wat die fisio se naam is?”
Hy skud sy kop, ’n effense frons tussen sy wenkbroue. “Ek weet dis ’n bekende vennootskap, maar wie die spesifieke meisie is, weet ek nie.”
Sy noem die name van vennootskappe waarvan sy weet en hy knik skielik.
“Ja, dis hulle. Nel en Van Schalkwyk.”
“H’m,” sê sy. “Ek het al van hulle pasiënte behandel.”
Dis stil tot hulle voor haar woonstelgebou stilhou en hy haar na bo begelei. “Wil jy iets drink?” vra sy.
“Weet jy, tee sal lekker wees.” Hy sak in ’n leunstoel neer en sy gaan maak vir hulle tee. “Wat doen ons vanaand?”
“Niks nie,” sê sy toe sy inkom met die skinkbord. “As jy nie omgee nie, ek het papierwerk om af te handel en jy weet tog, ek hou nie daarvan om Sondagaande laat in die bed te kom nie.”
Terwyl hulle tee drink, is dit duidelik dat sy gedagtes nog by die dag se gebeure is. “Ek dink my ma het hom gedwing om vandag te kom,” sê hy skielik. “Hy roer nie meer uit sy huis uit nie. Ek dink dis die swaarste: die feit dat hy nou van ander mense afhanklik is. In die huis kom hy nogal reg. Ons het stange in die badkamer laat insit en hy kan op krukke regkom as dit moet, maar . . . Ek het gesê ek sal sy motor vat dat ons dit laat omskakel, maar hy wil niks hoor nie. Dis wat ek bedoel as ek sê hy het sy toestand nog nie aanvaar nie.”
“Wat is die prognose?”
“Die wát?”
“Wat sê die dokters? Is daar ’n kans op herstel?”
Hy skud sy kop. “Daar het jy my. Jy sal beter as ek weet wat alles beteken wat hulle sê, en met Siegfried wat glad nie oor sy toestand praat nie, is ons eintlik almal in die duister. Daardie eerste dag het ek die plate gesien wat hulle geneem het, maar vir my beteken dit niks nie. Mediese taal en terme. Grieks vir ons gewone ouens.”
“En daardie kind se ontaktvolle opmerking het nie gehelp nie,” sê sy peinsend.
“Ek kon die klein japsnoet gerus klap,” stem hy saam. “En tog het die kind dit nie so erg bedoel nie. Hy weet nie hoe sensitief ons almal – en veral Siegfried self – oor die saak is nie.”
“Hy lyk na ’n trotse man, dan kwets dit dieper.”
“Nee,” sê hy dadelik lojaal. “Sieg is nie trots nie. Hy was maar altyd stillerig, maar ten spyte van alles wat hy kon doen en wat hy was, was hy glad nie grootkop daaroor nie. Dis maar sedert die ongeluk dat hy so sensitief geword het. Verstaanbaar.”
“Absoluut, ja. Wil nie blootgestel word aan ander mense se nuuskierige oë nie. Dis iets waarmee ek dikwels gekonfronteer word. Die pasiënt leer sy toestand aanvaar, maar hy bly ongelooflik sensitief oor wat ánder mense van hom gaan dink.” Sy draai haar hand in die lug voor haar. “En mense is glad nie so onsimpatiek nie. Hulle het baie deernis met ’n gestremde.”
Sy bly ’n oomblik stil en voeg nadenkend by: “Jou ma het die regte ding gedoen deur hom te dwing om te kom.”
“Miskien. En dit wás Pa se verjaardag.”
“En tussen familie, nie vreemdelinge nie.”
“Juis.” Hy staan op en rek hom uit. “Nou toe, as jy my gaan dwing om te loop . . .” Hy glimlag en trek haar uit haar stoel uit op. “Gaan jy darem nog Woensdagaand saam met my fliek?” Hy los nie haar hande nie.
“Ja dankie.”
Hy staan nader en soen haar, maar haar lippe bly ontegemoetkomend onder syne. “En nou?” vra hy en lig sy kop.
“Jy’s te haastig, Karel,” vermaan sy en staan weg. “Ek het aan die begin vir jou gesê ek hou van jou vriendskap.”
“Maar ons is al maande lank vriende,” pruil hy.
“Dan kan ons nóg maande lank so bly. Ek is nie nou lus vir iets meer nie.”
Hy sug en laat gly sy oë oor haar. Sy staan regop soos sy altyd doen, haar skouers waterpas, haar hande nou in die sakke van haar romp gedruk. Mooi, dink hy, die mooiste meisiekind. Sy is lank, byna so lank soos hy, en lenig gebou, maar nie plat nie. Pragtig, dink hy. Sagte rondings en reguit lyne, ’n gesig wat ’n model kon wees, netjiese reguit neus, ferm ken en kakebeen. Dis net daardie groot, grys oë wat soms te eerlik na ’n man kyk.
“Nou toe,” sê hy weer. “Lekker werk en sien jou Woensdagaand.”
Sy druk die deur agter hom toe en staan ingedagte voor haar en staar. Sy het nooit vir Karel verbind met die man wat sy daar in die oefenlokaal gesien het nie en tog is dit waar sy Karel ontmoet het. Sy het in die hospitaal se parkeerterrein haar sleutels laat val en hy, wat ook op pad uit was, het galant gebuk en dit vir haar opgetel.
Maar sy onthou vir Siegfried. Wie was dit wat in die hospitaal met hom gewerk het? Nellie? Ja, dit was Nellie, en Siegfried het haar lewe moeilik gemaak. Wou nie saamwerk nie.
“Ek wens jy wil hom vat,” het Nellie een middag in die kafeteria vir haar gesê. “Jy is beter daarmee om mense te boelie.”
“My program is te vol,” het sy gelag. “En ek het klaar ’n hand vol moeilikes. Jy moet oom Barry hoor as ons begin speel met die knope! ‘Ek het ’n beroerte gehad, kinta,’ grom hy vir my. ‘Ek’s nie nou in die kleuterskool nie!’”
“Hy praat ten minste,” het Nellie gemor. “Meneer Knobel sê nooit ’n dooie woord nie. Kyk net na my asof hy wens ek wil verdwyn. Dink ek is op die aarde gesit om hom pyn aan te doen.”
“Ek het ook al van hulle gehad.”
“Wel, laat my weet as jy plek het, dan kan jy hom kry. Ek het skoon die bewerasie voor ons oefensessie elke dag.”
“Ag, kom nou,” het Corinne haar geterg. “Ons lewe is vol meneer Knobels en jy weet wat jy doen.”
Sy maak die koppies bymekaar en dra die skinkbord kombuis toe. Daar gekom, sit sy dit neer en tik haar voorvinger teen die toonbank terwyl sy steeds onsiende voor haar staar. Hierdie meneer Knobel moet uit sy donker put gelig word, dink sy. Hy moet geskud word. Hy moet wakker word en besef dat daar baie ander mense in ’n veel slegter toestand is en dat hy baie het om voor dankbaar te wees.
“H’m,” sê sy hardop. Sy is nie die soort mens wat ooit tob oor ’n saak nie. As iets gedoen moet word, as sy sien iets is verkeerd en sy kan help, sal sy dit doen. Sy sal môre vir Aletta Nel bel en uitvind hoe sake staan.