Читать книгу Die skuilplek - Corrie ten Boom - Страница 4

1

Оглавление

Die 100ste verjaarsdagpartytjie

Ek wip vinnig uit die bed met net een vraag in my gedagtes: Son, of mis? Januarie in Holland is gewoonlik koud en nat en vaal. Maar so af en toe – op seldsame, asemrowende dae – breek daar ’n flou wintersonnetjie deur.

Ek leun so ver ek kan by my slaapkamervenster uit. Dis altyd moeilik om die lug vanuit die Beje te sien. Vensterlose mure staar my aan, saam met die agterkant van ander stokou geboue in dié digbevolkte kern van Haarlem. Ek strek my nek nog verder uit om te kan sien, en sowaar! Daar bokant die koddige dakke en krom skoorstene steek ’n vierkantjie bleekblou lug uit. Ons gaan ’n sonskyndag vir die partytjie hê!

Ek gee ’n paar danspassies terwyl ek my nuwe rok uit die lendelam kas teen die muur haal. Pappa se slaapkamer is reg onder myne, maar op 77 slaap hy baie vas. My dansery sal hom glad nie pla nie. Dis die een voordeel van oudword, dink ek terwyl ek my arms by die moue inwerk en die resultaat in die spieël teen die hangkas se deur bekyk. Al dra sommige Hollandse vroue hier in 1937 hulle rokke tot net op die knie, hang myne steeds ’n versigtige sewe sentimeter bokant my skoene.

Jy word nie jonger nie, herinner ek my spieëlbeeld. Miskien is dit die nuwe rok wat maak dat ek meer krities as gewoonlik na myself kyk: 45, ongetroud, middellyf allesbehalwe slank.

My suster Betsie, sewe jaar ouer as ek, het steeds die slankheid en grasie wat mense op straat laat omdraai om haar agterna te staar. Die hemel weet, dit is nie haar klere nie. Ons horlosiewinkel het nog nooit veel geld ingebring nie. Maar wanneer Betsie ’n rok aantrek, gebeur daar ’n wonder.

My rokke… wel, die some trek los; my kouse leer; my krae dop om – totdat Betsie hulle onder hande neem. Maar vandag, dink ek terwyl ek so ver moontlik in my kamertjie van die spieël af gaan staan, lyk ek baie deftig in die maroen rok.

Ver onder my in die straat lui die deurklokkie. Besoekers? En dit nog voor sewe-uur in die oggend? Ek maak my slaapkamerdeur oop en huppel met die steil wenteltrap af. Dié trap is bloot as ’n nagedagte by dié sonderlinge ou huis gevoeg. Eintlik woon ons in twee huise. Die voorste een is ’n tipiese oud-Haarlemse huisie, drie verdiepings hoog, twee kamers diep en slegs een kamerbreedte wyd. Op die een of ander onbekende tydstip in die huis se lang geskiedenis het iemand ’n gat deur die agterste muur gebreek en die huis met die nog smaller en nog hoër huisie agter hom verbind. Dié huis het slegs drie kamers wat bo-op mekaar geleë is. Tussen die twee huise is die nou kurktrekkertrap toe ingedruk.

Al is ek hoe vinnig is Betsie voor my by die deur. ’n Massa blomme vul die hele deuropening. Eers toe Betsie die blomme neem, verskyn die seuntjie wat hulle kom aflewer het. “Lekker dag vir die partytjie, nè, Juffrou?” sê-vra hy en probeer by die blomme verby loer, so asof hy verwag om reeds koek en koffie op die tafel te sien. Later vandag sal hy wel partytjie toe kom, soos feitlik die hele Haarlem.

Ek en Betsie soek na ’n kaartjie in die ruiker. “Pickwick!” roep ons tegelyk hard uit.

Pickwick is ’n skatryk klant wat nie net die duurste horlosies by Pappa koop nie, maar dikwels ook opstap na die woongedeelte van ons huis. Sy regte naam is Herman Sluring. Pickwick is die naam wat ek en Betsie vir hom gee wanneer ons oor hom praat omdat hy op ’n druppel water lyk soos die illustrasie in ons weergawe van Dickens se boek oor dié karakter.

Herman Sluring is sonder enige twyfel die lelikste man in Haarlem. Kort, geweldig oorgewig en met ’n kop so glad soos ’n Hollandse kaas. Boonop het hy twee oë wat so skeel na buite kyk dat ’n mens nooit weet of hy vir jou of vir iemand anders kyk nie. Maar net so lelik soos hy is, so goedhartig en vrygewig is hy.

Die seuntjie het die blomme na die huis se sydeur gebring, die deur wat ons as gesin gebruik en wat op ’n stegie uitloop. Vanuit die portaaltjie dra ek en Betsie die blomme winkel toe. Eers deur die werkkamer waar die horlosies en klokke herstel word. Daar staan die hoë werkbank waaroor Pappa al soveel jare lank gebukkend staan, besig met sy delikate en noukeurige handewerk wat as die heel beste in Holland bestempel word. In die middel van die kamer staan my werkbank, en langs myne dié van Hans, die leerling-horlosiemaker. Teen die muur staan ou Christoffels se werkbank.

Anderkant die werkkamer is die klante se deel van die winkel met die glaskas vol horlosies. Al die muurhorlosies slaan sewe-uur toe ek en Betsie die blomme daar indra en rondkyk op soek na die beste plek om hulle neer te sit.

Vanaf my kinderdae is ek versot daarop om by dié vertrek in te stap, want dit is waar honderde tik-tok-stemme my verwelkom. Dit is nog donker in die winkel, want die vensterluike aan die straatkant is nog toe. Ek sluit die straatdeur oop en stap in Barteljorisstraat uit. Ook die ander winkels se luike is nog toe: die brilmaker, die damesklerewinkel, die bakkery en Weil se pelswinkel oorkant die straat. Alles is nog doodstil.

Ek stoot ons luike oop en gaan bewonder dan ’n rukkie die vensteruitstalling waarop Betsie en ek uiteindelik ooreengekom het. Ons het nog altyd oor dié venster gestry. Ek wil soveel moontlik van ons voorraad in die venster uitstal, maar Betsie hou vol dat twee of drie pragtige horlosies op sy of satyn baie eleganter en aanlokliker sal lyk. Die uitstalling wat nou in die venster is, stel ons albei egter tevrede: Daar is ’n hele versameling horlosies, klokke en sakhorlosies, almal minstens honderd jaar oud. Ons het al die horlosies spesiaal vir dié geleentheid by vriende en versamelaars van antieke ware oral in die stad geleen. Vandag is immers die winkel se honderdste verjaarsdag. Op dié dag in Januarie 1837 het Pappa se pa sy naambordjie in die venster neergesit: Ten Boom Horlosies.

Die afgelope tien minute al, en met ’n algehele verontagsaming van die akkuraatheid van die tyd wat verbytik, lui die kerkklokke van Haarlem om aan te kondig dit is nou sewe-uur. ’n Halwe blok weg, op die dorpsplein, slaan die klok van Sint Bavo plegtig sewe keer. Ten spyte van die koue Januarie-dagbreek talm ek in die straat om die slae te tel. Almal in Haarlem besit natuurlik nou radio’s, maar ek kan nog goed onthou die tyd toe die ganse lewe van die stad volgens Sint Bavo se tyd verloop het. Net die mans op die treine en ander wat die presiese tyd moes hê, het na ons toe gekom om die tyd op die “astronomie-horlosie” te lees. Elke week het Pappa die trein na Amsterdam gehaal om die tyd van die Vloot se observatorium af terug te bring. Die feit dat die astronomie-horlosie nooit meer as twee sekondes per week van sy tyd verskil het nie, het hom met trots gevul. Dié horlosie staan nou nog daar. Ek sal dit sien wanneer ek terugstap tot in die winkel. Hoog en glansend op sy betonvoetstuk, maar sy roemrykheid effens verdof.

Die deurklokkie weerklink weer in die laan. Nog blomme. Só hou dit ’n uur lank aan… groot ruikers, klein ruikers, noukeurig gerangskikte blomme, en blomme in kleipotjies uit mense se tuine. Want al is die partytjie vir die winkel bedoel, is die blomme ’n teken van ’n hele stad se toegeneentheid tot Pappa. “Haarlem se waardige heer” noem hulle hom, en hulle is vasbeslote om vandag hulle respek aan hom te bewys. Toe die winkel en die werkkamer oorlopens vol ruikers is, dra ek en Bessie van die blomme na die twee kamers bokant die winkel. Al is dit reeds twintig jaar ná haar dood, is hierdie kamers nog altyd vir ons “tannie Jans se kamers”. Tannie Jans was Mamma se oudste suster, en haar teenwoordigheid sluimer steeds in die donker, massiewe meubels wat sy agtergelaat het. Betsie sit ’n pot vol tulpe neer, staan effens weg en gee dan ’n vreugdevolle uitroep.

“Corrie, kyk net hoe helder dit die vertrek op!”

Arme Betsie. Die Beje is so dig omring deur ander huise dat die plante wat sy elke lente op die vensterbanke probeer kweek nooit ooit blom nie.

Om kwart voor agt daag Hans, die leerling-horlosiemaker, op en om agtuur klop Toos, ons verkoopsdame-boekhoudster, aan die deur. Toos is ’n suurgesig, ’n onvergenoegde skepsel. Haar vlambare humeur het dit nog altyd vir haar onmoontlik gemaak om ’n werk te behou, totdat sy tien jaar gelede vir Pappa kom werk het. Sy minsaamheid en hoflikheid het haar ontwapen en sag gemaak. Al sou sy eerder dood neerval as om dit te erken, het sy hom net so innig lief as wat sy ’n hekel aan die res van die wêreld het.

Ek en Betsie vra vir Hans en Toos om die deur oop te maak elke keer as die klokkie lui, en gaan dan boontoe om ontbyt te maak.

Net drie plekke aan tafel, dink ek terwyl ek die borde neersit. Die eetkamer is in die agterste huis, vyf trappies hoër as die winkel, maar laer as tannie Jans se kamers. Vir my is hierdie vertrek met sy enkele venster wat op die stegie afkyk die hart van ons huis. Toe ek klein was en ’n kombers oor die tafel gegooi het, het dit my tent of ’n seerowergrot geword. As skoolkind het ek my huiswerk daar gedoen. In hierdie vertrek het Mamma op wintersaande Dickens hardop vir my voorgelees, terwyl die steenkool in die steenvuurherd sis en ’n rooi gloed gooi oor die teël wat verkondig: “Jesus is Oorwinnaar.”

Ons gebruik nou net een hoek van die tafel, ek, Pappa en Betsie, maar vir my is die res van die gesin altyd daar by ons. Mamma se stoel staan nog daar, en die drie tannies se plekke oorkant hare. (Nie net tannie Jans s’n nie, maar ook Mamma se ander twee susters het by ons gebly.) Langs my sit my ander suster, Nollie, en Willem, die enigste seun in die gesin, langs Pappa.

Nollie en Willem woon nou al jare lank in hulle eie huise en Mamma en die tannies is oorlede, maar ek sien hulle steeds daar aan tafel. Natuurlik het hulle stoele nie lank leeg gebly nie. Pappa kon nooit ’n huis sonder kinders verdra nie. Elke keer wanneer hy gehoor het van ’n behoeftige kind sonder ’n huis, het ’n nuwe gesig aan ons tafel verskyn. Op ’n manier het Pappa uit die opbrengs van sy horlosiewinkel, wat nooit baie geld gemaak het nie, vir nog elf kinders kos en klere gegee en hulle versorg nadat sy eie vier kinders groot was. Maar nou is daardie elf ook reeds volwassenes. Sommige het getrou of agter ’n werk aan getrek. Daarom dek ek net drie plekke.

Betsie bring die koffie vanuit die kombuisie wat nouliks meer as ’n kas langs die eetkamer is. Dan gaan haal sy die brood uit die buffet se laai. Sy is nog besig om dit op die tafel uit te pak toe ons Pappa se voetstappe op die trap hoor. Hy loop nou al heelwat stadiger op die draaitrap, maar steeds is hy stiptelik, net soos een van sy horlosies. Om op die kop agtuur kom hy by die eetkamer in, soos elke oggend sover ek kan onthou.

“Pappa!” roep ek en soen hom. Die geur van sigare wat altyd aan sy baard kleef, kielie in my neus. “’n Sonskyndag vir die partytjie!”

Pappa se baard en hare is nou al net so wit soos ons heel beste tafeldoek wat Betsie vir dié spesiale dag oor die tafel gegooi het. Sy blou oë agter die ronde bril met die dik glase is egter nog net so liefdevol en vrolik soos altyd. Vanoggend kyk hy na ons met suiwer tevredenheid.

“Corrie, my skat! My liefste Betsie! Hoe vrolik en pragtig lyk julle al twee vandag!”

Hy laat sak sy kop toe hy gaan sit en vra die seën oor die brood. “Julle ma,” gaan hy dan dadelik voort, “sou tog so baie van al dié nuwe modes gehou het. Dit sou vir haar soveel vreugde gegee het om julle twee so pragtig aangetrek te sien.”

Ek en Betsie kyk stip af na ons koffie om nie te lag nie. Ons “nuwe modes” maak ons niggies radeloos. Hulle probeer ons altyd sover kry om helderder kleure, korter rompe en laer halslyne te dra. Hoe konserwatief ons ook al is, Mamma self het nooit iets so helder soos my maroen rok en Betsie se donkerblou rok besit nie. In haar tyd het getroude vroue – en ongetroude vroue “van ’n sekere ouderdom” – swart gedra, van die ken af tot op die grond. Ek het haar en haar susters nooit in enige ander kleur as swart gesien nie.

“Hoe baie sou Mamma tog nie van alles vandag gehou het nie!” sê Betsie. “Onthou julle hoe lief sy vir spesiale geleenthede was?”

Mamma kon koffie op die stoof en ’n koek in die oond hê vinniger as wat dit die meeste mense kos om “Veels geluk” te sê. Omdat sy byna almal in Haarlem geken het, veral die armes, die siekes en die verwaarloosdes, was daar byna nie een dag in die jaar wat nie vir iemand spesiaal bedoel was nie. Soos sy altyd met blink oë gesê het: “Dis ’n baie spesiale geleentheid.”

Lank sit ons so met ons koffie en kyk terug op die verlede, soos ’n mens veronderstel is om op spesiale dae te doen. Ons kyk terug op die tyd toe Mamma nog geleef het, en dan nog verder terug. Na die tyd toe Pappa ’n knapie was wat in dieselfde huis grootgeword het. “Ek is in hierdie einste kamer gebore,” sê hy asof hy dit nie al honderd keer vir ons vertel het nie. “Natuurlik was dit nie tóé die eetkamer nie, maar ’n slaapkamer. Die bed was in ’n kas in die muur ingebou, en daar was geen vensters en ligte of lug in die kamer nie. Ek was die eerste baba wat bly leef het. Ek weet nie hoeveel babas voor my hier gebore is nie, maar hulle almal het gesterf. Julle sien, my ma het tering gehad, en die mense het destyds nog nie geweet van besmette lug of dat babas van siek mense weggehou moet word nie.”

Vandag is ’n dag vir herinnerings. ’n Dag om die verlede op te roep. Hoe sou ons ooit kon raai terwyl ons so bymekaar sit – twee ongetroude, middeljarige vroue en ’n bejaarde man – dat ons in die plek van hierdie herinnerings nuwe avonture sou beleef waarvan ons nooit eens sou kon droom nie? Avontuur en smart, hemel en hel, het net om die hoek op ons gewag. En ons het dit nie geweet nie.

O Pappa! Betsie! As ek maar geweet het, sou ek voortgegaan het? Sou ek die dinge gedoen het wat ek gedoen het?

Maar hoe kon ek weet? Hoe kon ek weet, hoe kon ek my voorstel, dat dié man met sy gryskop vir wie al die kinders in Haarlem “Oupa” sê deur vreemdelinge in ’n naamlose graf gesmyt sou word?

En Betsie met haar hoë kantkragie en haar gawe om skoonheid rondom haar te skep… Hoe kon ek my voorstel dat sy, vir my die dierbaarste mens op aarde, kaal voor ’n kamer vol mans sou moes staan? Op hierdie dag in ons eetkamer is sulke gedagtes nie eens in die minste denkbaar nie.

Pappa staan op en gaan haal die Bybel met sy koperskarniertjies van die rak af. Net toe klop Toos en Hans aan die deur en stap in. Huisgodsdiens elke oggend om halfnege vir almal in die huis is nog ’n spil waarom die lewe in die Beje draai. Pappa maak die groot Boek oop, en ek en Betsie hou asem op. Vandag van alle dae, wanneer daar so baie is om te doen, sal hy tog sekerlik nie ’n hele hoofstuk lees nie, of hoe? Maar Pappa blaai na die Evangelie van Lukas, na die presiese plek waar ons gister opgehou lees het. Ai, en Lukas hét sulke lang hoofstukke. Met sy vinger op die plek kyk Pappa op.

“Waar is Christoffels?” vra hy.

Christoffels is die derde en enigste ander werker in die winkel, ’n krom, verskrompelde mannetjie wat ouer as Pappa lyk al is hy eintlik tien jaar jonger. Ek onthou die dag ongeveer ses of sewe jaar gelede toe hy die eerste keer by die winkel ingeloop het. Hy was so verflenter en het so armsalig gelyk dat ek gedink het hy is een van die bedelaars wat vir hom ’n bord kos by die Beje wou kom haal. Ek was op die punt om hom kombuis toe te stuur waar Betsie ’n pot sop op die stoof aan die gang gehad het, toe hy met groot waardigheid aankondig dat hy ’n vaste werk oorweeg en sy dienste vir ons kom aanbied.

Ons ontdek toe dat Christoffels ’n byna uitgestorwe beroep beoefen. Hy is ’n rondreisende horlosiekenner wat die land te voet deurkruis en die hoë slingerhorlosies – die trots van elke Hollandse plaashuis – herstel en reg instel. As ek verstom was oor die vername houding van dié toiingrige mannetjie, was ek nog meer verbaas toe Pappa hom dadelik aanstel.

“Hulle is die beste horlosiemanne wat ’n mens kry,” het hy later vir my gesê. “Daar is nie ’n enkele soort herstelwerk wat nie deur dié swerwende regmakers se hande gaan nie, en dit boonop met die paar stukkies gereedskap wat hulle saam met hulle dra.”

Die waarheid hiervan is dan ook deur die jare heen bevestig. Mense van oral in Haarlem het hulle horlosies na Christoffels toe gebring. Wat hy met sy salaris gedoen het, kon ons nog nooit vasstel nie, want hy lyk nog altyd net so verslete. Pappa het aanvanklik kort-kort geskimp dat hy netjieser sal aantrek, altans, in soverre hy dit kon waag, want naas Christoffels se toiingrigheid was sy ander uitstaande eienskap sy trots. Later het Pappa maar sy pogings laat vaar.

Nou, vir die heel eerste keer, is Christoffels laat.

Pappa vryf sy brilglase met sy servet skoon en begin lees. Dit voel of sy diep stem vol liefde oor die woorde bly hang. Hy is reeds onderaan die bladsy toe ons Christoffels se skuifeltreë op die trap hoor. Die deur gaan oop… en ons almal snak na asem. Daar staan Christoffels, netjies uitgevat in ’n splinternuwe swart pak, ’n nuwe geruite onderbaadjie, ’n sneeuwit hemp, ’n geblomde das en ’n gestyselde boordjie. Ek skeur my oë so gou moontlik van dié gesig weg, want die uitdrukking op Christoffels se gesig verbied ons om enigiets ongewoon raak te sien óf enigiets kwyt te raak.

“Christoffels, my dierbare kollega,” sê Pappa op sy formele en outydse manier, “wat ’n vreugde om jou op hierdie – h’m – heuglike dag te sien.”

Toe lees hy haastig verder uit die Bybel.

Voordat hy die einde van die hoofstuk kan bereik, lui al twee die deurklokkies gelyk, die winkelklokkie aan die straatkant én die gesinsklokkie in die stegie. Betsie draf weg om nog koffie te gaan maak en tertjies in die oond te sit, terwyl ek en Toos vinnig na die onderskeie deure toe stap. Dit lyk asof elkeen in Haarlem die eerste een wil wees wat Pappa se hand skud. Sommer gou is daar ’n onafgebroke stroom gaste wat met die nou trap op na tannie Jans se kamers drentel, waar Pappa feitlik deur al die blomme verdwerg word. Ek is besig om ’n bejaarde gas met die steil trap op te help toe Betsie my aan die arm gryp.

“Corrie! Ons gaan Nollie se koppies nodig hê, sommer nou dadelik! Hoe kan ons…?”

“Ek sal dit gou gaan haal,” bied ek aan.

Ons suster, Nollie, en haar man sal vanmiddag kom, sodra hulle ses kinders uit die skool kom. Ek vlieg met die trap af, gryp my jas en drafstap na my fiets wat agter die deur staan. Net toe ek die fiets oor die drumpel stoot, hoor ek Betsie sag maar ferm sê: “Corrie, jou nuwe rok!”

Ek swaai om en vlieg met die trap op na my kamer toe, trek my oudste romp aan en val dan in die pad oor die stamperige klipstrate heen. Ek hou daarvan om met my fiets na Nollie se huis toe te ry. Sy en haar man bly ongeveer twee kilometer van die Beje af, buite die saamgedrukte ou middelste deel van die stad. By hulle is die strate wyer en meer reguit; selfs die lug lyk groter. Ek trap my fiets oor die dorpsplein, oor die Grote Houtbrug oor die kanaal en al met die Wagenweg langs. Die hele tyd verlustig ek my in die flouerige wintersonnetjie.

Nollie bly by Bos- en Hovenstraat, ’n blok identiese skakelhuise met wit gordyne en potplante in die vensters. Hoe kon ek weet, terwyl ek om die hoek swenk, dat ek op ’n somersdag terwyl die hiasinte in die beddings daar naby ryp en bruin is, hier met my fiets sou rem, dat my hart wild in my keel sou klop, dat ek dit nie durf waag het om nader aan die huis te gaan nie, omdat ek te bang sou wees vir wat agter Nollie se gestyfde gordyne gebeur?

Ek woerts tot op die sypaadjie en storm by die deur in sonder om te klop. “Nollie, die Beje is al propvol mense! Jy moet dit sien! Ons het jou koppies nóú nodig!”

Nollie kom uit die kombuis, haar mooi, ronde gesig rooi van die koekbakkery. “Hulle staan al klaar daar by die deur. O, ek wens ek kon nou al saam met jou teruggaan, maar ek het nog ’n hele klomp koekies om te bak. En ek het vir Flip en die kinders belowe om vir hulle te wag.”

“Julle almal kom, nè?”

“Ja, Corrie, Peter sal daar wees,” sê Nollie terwyl sy die koppies in die fietssakke pak. Soos ’n pligsgetroue tannie probeer ek altyd ewe lief wees vir al my broers- en susterskinders. Maar Peter… wel, Peter is Peter. Op dertien is hy ’n musikale wonder, ’n karnallie en die trots in my lewe.

“Hy’t selfs ’n spesiale liedjie geskryf om hierdie dag te gedenk,” vertel Nollie. “Nou ja, dié sak vol koppies sal jy in jou hand moet vashou. Ry dus maar versigtig.”

Die Beje is nog voller toe ek terug is by die huis. Die stegie is so vol fietse dat ek myne maar op die hoek moet laat staan. Die burgemeester van Haarlem is daar in sy manelpak met sy goue kettinghorlosie, asook die posbode, die trembestuurder en tientalle konstabels van Haarlem se polisiestasie net om die hoek.

Ná middagete begin die kinders aankom en, soos die kinders maar altyd maak, gaan hulle pylreguit na Pappa toe. Die ouer kinders sit op die vloer rondom hom, en die kleintjies klim sommer op sy skoot. Buiten sy vonkelende oë en lang baard wat altyd na sigare ruik, tik Pappa ook mos nog. Horlosies wat op ’n rak lê, loop anders as horlosies wat jy met jou saamdra, en Pappa dra dié wat hy moet regstel altyd met hom saam. Al sy baadjies het vier groot binnesakke, elk met hakies vir tientalle horlosies. Só kan hy, waar hy ook al gaan, die vrolike gewoer van honderde draaiende ratjies geniet. Ek kyk hoe hy, met ’n kind op elke knie en nog tien rondom sy voete saamgepak, sy swaar opwensleutel in die vorm van ’n kruis uit ’n ander sak haal. Elk van die vier punte van die kruisvormige sleutel is vir ’n spesifieke horlosie gefatsoeneer. Met ’n vinnige beweging van sy vingers laat hy die sleutel blitssnel tol, skitterend en blink…

Betsie gaan staan in die deur met ’n skinkbord vol koek. “Hy weet nie eens daar is ook ander mense in die vertrek nie,” sê sy.

Terwyl ek ’n klomp vuil borde met die trap af dra, verklap ’n gilletjie aan my dat Pickwick opgedaag het. Ons wat so lief is vir hom, vergeet gewoonlik wat ’n groot skok dit vir vreemdelinge is om hom die eerste keer te sien. Ek stap vinnig deur toe, stel hom vinnig aan die vrou van ’n Amsterdamse groothandelaar voor, en neem hom dan boontoe. Hy laat sy reusagtige liggaam in ’n stoel langs Pappa neersak, kyk met die een oog op na die plafon en met die ander een na my. “Vyf klontjies, asseblief,” sê hy.

Arme Pickwick! Hy is net so lief vir kinders soos Pappa, maar terwyl kinders sommer dadelik van Pappa hou, moet Pickwick hulle altyd oorreed om na hom toe te kom. Hy ken egter een toertjie wat nooit misluk nie. Ek bring vir hom sy koppie koffie waarin die suiker dik lê en hou hom dop terwyl hy met ’n ondeunde gesig om hom rondkyk. “Maar my liewe Cornelia!” roep hy uit. “Hier is dan nie ’n tafel nie! Waarop moet ek my koffie neersit?” Hy loer met een wydgerekte oog om seker te maak die kinders kyk vir hom. “Wel, dis nou gelukkig dat ek my eie tafel saamgebring het.” En met dié woorde sit hy die koppie en piering op sy ronde maag neer. Ek moet nog die kind ontmoet wat hierdie toertjie kan weerstaan. En inderdaad, sommer gou is daar ’n kring grootoogkinders rondom hom.

’n Rapsie later daag Nollie en haar gesin op. “Tannie Corrie!” groet Peter my onskuldig. “Jy lyk dan nie 100 jaar oud nie.” Voordat ek hom ’n speelse hou kan gee, gaan sit hy voor tannie Jans se regop klavier en vul die ou huis met melodieë. Mense roep van alle kante versoeke uit – gewilde liedjies, ’n keur uit Bach se korale, gesange – en gou sing hulle die refreine saam.

Hoe baie van ons is nie op dié vrolike middag saam sonder om te besef dat ons later in totaal ander omstandighede weer sou ontmoet nie.

Peter, die konstabels, dierbare lelike Pickwick – ons almal is saam hier. Net my broer Willem en sy gesin kort. Ek wonder hoekom hulle so laat is. Willem en sy vrou en kinders bly in die dorpie Hilversum, 48 kilometer van ons af. Tog moes hulle al hier gewees het.

Skielik raak die musiek stil en Peter se stem klink sissend van die klavierstoeltjie af op. “Oupa! Hier kom die mededingers!”

Ek kyk deur die venster. Mnr en mev Kan, eienaars van die enigste ander horlosiewinkel in die straat, het so pas by die stegie ingedraai. Volgens Haarlem se standaarde is hulle nuwelinge, want hulle het maar eers in 1910 in Barteljorisstraat kom woon. Hulle is dus nog maar net 27 jaar daar. Maar omdat hulle heelwat meer horlosies as ons verkoop, beskou ek Peter se opmerking as heeltemal gepas.

Pappa is egter ontsteld. “Nie mededingers nie, Peter,” berispe hy hom. “Kollegas.” Hy tel die kinders vinnig van sy skoot af en stap haastig na die bokant van die trap om die Kans te groet.

Pappa hanteer mnr Kan se herhaaldelike besoeke aan die winkel as vriendskaplike kuiertjies van ’n gewaardeerde vriend. “Kan Pappa dan nie sien wat hy doen nie?” vaar ek altyd uit wanneer mnr Kan weer vertrek het. “Hy kom net uitvind hoeveel ons vir ons horlosies vra sodat hy syne goedkoper kan verkoop!” In sy vertoonvenster adverteer mnr Kan sy horlosies altyd vir vyf gulde minder as ons s’n.

Maar elke keer verhelder Pappa se gesig net met ’n soort aangename verbasing, soos altyd wanneer hy aan die sakekant van ’n horlosiewinkel dink. “Maar, Corrie, dan sal die mense geld spaar as hulle by hom koop.” Tog voeg hy altyd nadenkend by: “Ek wonder hoe hy dit regkry.”

Pappa het net so ’n skrapse kennis van sakevernuf as wat sy pa voor hom gehad het. Dae lank swoeg hy om ’n horlosie te herstel, en vergeet dan geheel en al om die rekening te stuur. Hoe skaarser en duurder die horlosie is, hoe minder kan hy in terme van geld daaraan dink. “’n Mens behoort eintlik te betaal vir die voorreg om aan so ’n horlosie te kan werk,” sê hy net.

Sy verkooptegnieke is eintlik nog erger. Vir die eerste tagtig jaar van die winkel se bestaan het Oupa en Pappa die luike aan die straatkant stiptelik om sesuur toegetrek. Eers toe ek twintig jaar gelede by die onderneming betrokke geraak het, het ek opgemerk dat ’n menigte wandelaars saans met die nou sypaadjies langs drentel. Ek het opgelet dat die ander winkels hulle vensters oop en helder verlig hou. Toe ek dit onder Pappa se aandag bring, was hy skoon oorstelp van blydskap. Hy het my omhels asof ek ’n fantastiese ontdekking gemaak het. “En as die mense die horlosies sien, kan hulle dit dalk net die volgende dag kom koop. Corrie, my hartjie, hoe slim is jy tog!”

Ek sien mnr Kan is besig om sy pad na my toe oop te baan met ’n bord vol koek en ’n mond vol komplimente. Vol skuldgevoelens oor my afgunstige gedagtes, benut ek die samedromming van so baie mense en ontsnap met die trap af. Daar is nog meer mense in die werkkamer en winkel as in die boonste vertrekke. Hans neem koek in die agterste kamer rond, en Toos bedien die mense in die voorste vertrek. Om haar mond is ’n glimlag, altans so na aan ’n glimlag wat as haar mond, wat altyd na onder buig, dit toelaat. En Christoffels… wel, hy het sowaar “gegroei”. Dit is feitlik onmoontlik om die krom en verslete mannetjie te herken in die glansryke figuur wat die nuwe aankomelinge formeel by die deur groet, en dit dan onverbiddelik opvolg met ’n toer deur die winkel. Dit is baie duidelik die heel grootste dag van sy lewe.

Die hele kortstondige wintermiddag kom die mense op ’n streep na ons toe, almal wat vriende van Pappa is. Oud en jonk, ryk en arm, geleerde mans en ongeletterde diensmeisies – vir Pappa is hulle egter almal eenders. Dit is sy geheim – nie dat hy die verskille tussen mense nie raaksien nie, maar dat hy nie eens besef dit bestaan nie.

Steeds sien ek vir Willem nêrens nie. Ek neem afskeid van ’n paar gaste by die deur en kyk op en af in Barteljorisstraat. Al is dit nog maar vieruur begin die winkelligte in die Januarie-skemer brand. Ek het nog heelwat kleinsus-aanbidding vir my ouboet, wat vyf jaar ouer is as ek. Hy is ’n geordende predikant en die enigste Ten Boom wat ooit op universiteit was. Willem sien baie dinge raak, glo ek. Hy weet wat in die wêreld aangaan.

Eintlik wens ek dikwels Willem kan dinge nie altyd so helder sien nie, want baie van wat hy sien, maak my bang. ’n Volle tien jare gelede, reeds in 1927, het Willem in sy doktorale proefskrif, wat hy in Duitsland geskryf het, beweer dat ’n afgryslike euwel besig is om in daardie land wortel te skiet. Daar by die universiteit self word die saad gesaai vir ’n minagting van menselewens soos die wêreld nog nooit gesien het nie. Die enkeles wat sy proefskrif gelees het, het net gelag.

Maar nou lag niemand meer vir Duitsland nie. Die meeste goeie horlosies kom van daar. ’n Hele paar firmas met wie ons al jare lank sake doen, het feitlik oornag en baie geheimsinnig verdwyn. Willem meen dit is deel van ’n doelbewuste, grootskaalse optrede teen die Jode. Elke firma wat verdwyn het, het immers aan Jode behoort. As die hoof van die Nederduitsch Hervormde Kerk se program om die Jode te bereik, bly Willem op hoogte van al hierdie dinge.

Liewe Willem, dink ek toe ek by die huis instap en die deur toestoot. Hy is net so ’n goeie “verkoopsman” van die kerk as wat Pappa van sy horlosies is. As hy een enkele Jood in twintig jaar tot bekering gebring het, het ek beslis nie daarvan gehoor nie. Willem probeer nie mense verander nie; hy bedien hulle net. Hy het genoeg geld gespaar om ’n tehuis vir bejaarde Jode in Hilversum te bou – eintlik vir bejaardes van alle gelowe, want Willem is teen enige skeidsmure tussen mense.

Die afgelope paar maande is die tehuis egter oorstroom deur jonger inwoners – almal Jode, en almal uit Duitsland. Willem en sy gesin het al selfs hulle eie woonruimte prysgegee en slaap in ’n gang om almal te kan huisves. Steeds droog die stroom verskrikte, daklose vreemdelinge nie op nie… en saam met hulle kom stories van ’n groeiende waansin.

Ek stap op kombuis toe waar Nollie so pas ’n vars pot koffie gemaak het. Ek neem dit en dra dit na tannie Jans se kamers toe.

“Wat wil hy hê?” vra ek vir ’n groep mans wat om die koektafel kom saamdrom toe ek die pot koffie neersit. “Hierdie man van Duitsland, wil hy oorlog maak?” Ek weet dis nie eintlik partytjiepraatjies nie, maar op die een of ander manier dwing my gedagtes aan Willem my altyd om oor “moeilike onderwerpe” te praat.

’n Ysige stilte sak om die tafel neer en versprei vinnig deur die vertrek.

“Wat maak dit saak?” verbreek ’n stem skielik die stilte. “Laat die groot lande dit uitbaklei. Dit sal ons nie raak nie.”

“Dis waar,” sê ’n horlosieverkoopsman. “Die Duitsers het ons in die Groot Oorlog met rus gelaat. Dis tot hulle voordeel dat ons neutraal bly.”

“Jy kan maklik praat,” roep ’n man van wie ons altyd horlosie-onderdele koop. “Jou voorraad kom uit Switserland. Wat van ons? Wat maak ek as Duitsland oorlog verklaar? ’n Oorlog kan my hele onderneming kelder.”

Net toe stap Willem by die vertrek in, gevolg deur Tine, sy vrou, en hulle vier kinders. Alle oë is egter vasgenael op die figuur wie se arm Willem stewig vashou.

Die man is ’n Jood in sy vroeë dertigerjare. Hy dra die tipiese swart breërandhoed en lang swart jas. Wat egter almal se oë gevange hou, is die man se gesig.

Hy het gruwelik verbrand. Voor sy regteroor hang ’n kroeserige grys krulletjie, soos die hare van ’n stokou man. Die res van sy baard is heeltemal weg; net ’n groot rou seer het oorgebly.

“Herr Gutlieber,” kondig Willem in Duits aan. “Hy het net vanoggend in Hilversum aangekom. Herr Gutlieber, ontmoet my pa.”

“Hy is in Duitsland op ’n melkwa uit,” vertel Willem in Nederlands. “Hulle het hom op ’n straathoek voorgekeer – tienerseuns van München – en sy baard aan die brand gesteek.”

Pappa staan uit sy stoel op en skud die vreemdeling se hand verwelkomend. Ek bring vir hom ’n koppie koffie en ’n bord met Nollie se koekies. Hoe dankbaar is ek nou dat Pappa aangedring het dat sy kinders Duits en Engels byna net so gou en net so goed soos Nederlands moes leer praat.

Herr Gutlieber gaan sit met stokkerige bewegings op die rand van sy stoel en hou sy oë op die koppie op sy skoot gerig. Ek trek ’n stoel tot langs hom en praat ’n bietjie onnodige onsin oor die ongewone weer wat ons in Januarie beleef. Rondom ons begin die mense weer gesels en die gegons van stemme styg en daal.

“Bullebakke!” hoor ek die horlosieverkoopsman sê. “Gespuis! Dit gaan in elke land so. Die polisie sal hulle nog kry. Julle sal sien. Duitsland is ’n beskaafde land.”

Só val die skaduwee oor ons op daardie wintermiddag van 1937, maar dit rus liggies op ons. Niemand vermoed eens dat hierdie wolkie so groot sou groei dat dit die hele lug sou verdonker nie, dat ons elkeen opgeroep sou word om in daardie duisternis ’n rol te speel nie: ek, Pappa en Betsie; mnr Kan en Willem; selfs die koddige ou Beje met sy vloere op ongelyke vlakke en sy horingoue hoeke.

Toe die laaste gaste vertrek het, klim ek met die trap op na my kamer toe. My gedagtes bly dwaal na die verlede. Op my bed lê die maroen rok. Ek het skoon vergeet om dit weer aan te trek. Ek het nog nooit juis omgegee vir mooi aantrek nie, dink ek. Selfs toe ek jonk was…

Tonele uit my kinderdae verrys voor my, eienaardig naby en dringend. Vandag weet ek sulke herinnerings is die sleutel tot die toekoms, nie tot die verlede nie. Ek weet die ervarings van ons lewe, as ons God toelaat om dit te gebruik, word die geheimsinnige en perfekte voorbereiding vir die taak wat Hy vir ons gee om uit te voer.

Daardie aand het ek dit egter nie geweet nie, ook nie dat daar ’n nuwe toekoms was waarvoor ek voorberei moes word in ’n lewe so alledaags en voorspelbaar soos myne nie. Toe ek in my bed lê, daar bo in die huis, het ek net geweet dat sekere oomblikke van lank gelede vir my helder uitgestaan het teen die dowwe herinnerings aan vergange jare. Eienaardig skerp en naby was hierdie oomblikke, asof hulle nog nie voltooi was nie, asof hulle nog iets gehad het om te sê…

Die skuilplek

Подняться наверх