Читать книгу Kringe in 'n bos - Dalene Matthee - Страница 7
3
ОглавлениеDaar is nie ’n enkele vars teken van ’n olifant by Kwê-se-Draai nie, en die son begin middag toe trek. Watter kant toe sal hy nou soek?
Oos. In die rigting van die Knysnarivier.
As die dinge wat hy in hom loop en losdink, net tot ruste wil kom! Maar dis soos ou, diepgewortelde dorings wat skielik begin sweer in sy vlees. Is dit loutering? Nee! Hy het nie loutering kom soek nie. Hy wil Oupoot die vernedering van Freek Terblans se skoot spaar en op die Pictor gaan klim en die stof van alles van hom af was!
Wat van Kate?
As al die ander dinge dorings is wat in sy vlees sweer, is Kate ysterkettings om sy enkels wat die hele tyd met hom saamsleep deur die Bos. En voordat hy kan vry wees, moet hy hulle van hom loskry! Die uitsleep van daardie waenhout dorp toe, dis waar die res begin het.
’n Uur anderkant Kwê-se-Draai kom hy by die bosstroom waar ’n groot trop vroeër die dag gesuip en gerol het. Tussen twaalf en vyftien koeie met vier kalfies by hulle. Hulle was nie haastig nie; al die toppe van die boomvarings is afgevreet en dié wat nie vir die toppe sin had nie, het omgestoot en die wortels afgevreet.
Oupoot se spoor is nie tussen hulle nie. Nie sover hy kan uitmaak nie.
Hy sal weer êrens moet kos kry.
Die waenhout.
Die volgende dag was Sondag. Toe hulle wakker word, het oom Anneries langs die halfdooie vuur gelê, sy kop natgedou, en hy het gesnork soos een wat kraansaag trek.
Sy pa het dikwels gesê die grootvoete gaan die ou nog trap omdat hy so sonder respek in die donker deur die Bos van die dorp af kom.
Wanneer daar weg van die huis af gewerk is, het hulle Sondae maar heeldag om die skerm rondgelê en gerus. Teen kwartdag het sy pa gewoonlik vir hulle Psalm 23 opgesê en waar hy vashaak, het oom Anneries oorgevat en die psalm enduit opgesê. Nog soos dit in die Bybel staan:
“Hy richt de tafel toe voor mijn aengesichte tegen over mijn tegenpartijders; Hy maeckt mijn hooft vet met olie mijn beker is overvloeijende. Immers sullen my het goede ende de weldadigheyt volgend alle de dagen mijns levens; ende ick sal in het buys des Heeren blijden in lenghte van dagen.”
En sal daar dan nie daardie Sondag nog ’n dink in hom staan loskom nie. Sommer so vanself, soos ’n mens partykeer van een ding na ’n ander dink. Die Bos is so ontsaglik groot en ruig, dink hy so by homself, hoe was dit dan moontlik dat Adam en Eva so vrot weggekruip het dat God hulle sommer gekry het om hulle hier uit te jaag? Hy sal in hierdie bos wegkruip dat niemand hom kry nie … God kon tog nie bo uit die lug uit tot hier onder gesien het nie. Selfs die son sukkel om tot onder te kom. Net flenters son kom deur die blaredak … Miskien, as jy hoog in die lug kon vlieg oor Groot Eiland of Klein Eiland of oor Peuter-se-Brand, of oor ’n stuk kruppelbos waar die hout klaar uitgewerk is … Maar daar kon mos nie houtkappers in Adam en Eva se tyd gewees het nie?
“Pa, het Adam en Eva in hierdie bos gewoon?”
Oom Anneries en Jozef het uitgebars van die lag en hy het simpel gevoel.
“Hulle het in die Hof van Eden gewoon, Saul,” het sy pa gesê en ook gelag.
“Dis ’n tuin, nie ’n bos nie!” het oom Anneries gesê. Oom Anneries ken die Bybel.
Hy wou nie hê hulle moes agterkom dat hy deurmekaar was nie; hy kon sweer sy ma het gesê dit was ’n bos. Watse tuin?
“Watse tuin?”
“ ’n Tuin,” sê sy pa. “Met allerhande bome en vrugtebome en so aan.”
“Dan wás dit mos ’n bos!”
Maar sy pa wou nie kopgee nie. “Dit was ’n tuin, man! En in die middel van die tuin het die boom van goed en kwaad gestaan.”
“Maer van den boom der kennisse des goets ende de quaets,” het oom Anneries oorgeneem en met erns en vermaning aangehaal, “daer vanen sult gy niet eten: want ten dage als gy daer van eet sult gy den doot sterven.”
Só het sy ma ook gesê. Saul het selfs geweet watter boom die boom van goed en van kwaad is: die geelhoutboom. Tot die olifante weet dit. Dis die enigste boom in die hele Bos waarvan hulle nie ’n blaartjie sal vreet nie, nie ’n stukkie bas van sal afskeur nie. Nie van ’n upright nie, nie van ’n kalander nie.
Nou sê hulle dis nie Adam en Eva se bos nie? Sy kop was skielik baie deurmekaar. Die bloubokkie se gal sit nie in sy kop nie, die geelhoutboom is nie die boom van goed en van kwaad nie …
Hy het opgestaan om die water te begin aandra vuur toe; Sondag was die dag waarop hulle hulle gewas het.
Die Maandagoggend het hulle die skerm sleeppad toe verskuif. Drie keer op ’n dag skerm toe stap van daar bo af om te kom eet en rook, was nou te ver en ’n mors van tyd. Die hout moes klaar en op die dorp kom. Die kos was nou so min dat Saul die dae vooruit moes bereken en daarvolgens deel. Sy pa en oom Anneries was op halfpyp stop.
Hulle had die skerm net mooi klaar toe die skote Gouna se kant toe klap. So naby dat hulle die takke kon hoor breek.
“Hol! Hulle breek hierdie kant toe!” het sy pa geskree. En hy en Jozef kies dieselfde witpeer, maar Jozef sukkel om op te kom en Saul moes verbyhardloop. Toe die volgende skoot klap, het dit vir hom gevoel dis agter sy hakskene vas, en toe die olifant blaas dat die wêreld dreun, was hy bo in ’n boom. Die olifante het suid van hulle verbygebreek, Vlierdraai se kant toe; sy pa het geskree hulle moet sit waar hulle sit, daar kan een gekwes wees en skuil.
Dit was halfdag verby toe hulle weer op die grond kom. En oom Anneries sê hy het op die dorp gehoor dis ’n Marais wat skiet. Hy gaan glo honderd skiet.
“Honderd? Hoekom honderd?” Saul kon dit nie begryp nie.
“Seker vir die tande. Dis mos makliker as houtkap.”
“Hoeveel grootvoete is hier dan in die Bos?”
“Ek weet nie, seker ’n klomp honderde. Miskien duisend. Jy hoor dan jou pa sê die Goewerment wil hulle laat tel. Gmf! Hulle dink seker dis hoenders wat jy kan staan kiep-kiep. Wat weet ’n Goewerment van grootvoete af?”
Hy moes oom Anneries die dag by die vellingmote help: elke witpeermoot moes kantig en presies sewe-en-twintig duim lank kom. Oom Anneries het met die regsbyl kantig gemaak en Saul het gemeet en gesaag.
“Honderd grootvoete is baie, oom.” Saul het honderd dooie olifante in sy verbeelding probeer hoopsleep.
“Ja. En sover dit my aangaan, kan hulle die laaste boggher skiet, hulle moet net nie my staan saamskiet nie!” het oom Anneries ergerlik gesê en die bloklyn gevra. “Plant ek mos een jaar mielies lat die wêreld sal kan saameet. Daardie jare had ek huisgemaak anderkant Ysternek en ek en oorle Petrus Barkhuyzen maak vir ons ’n lekker groot stuk aarde skoon … Jy moet die bloklyn ordentlik deur die as trek voorlat jy hom vir my aangee! Ek wil nie soek waar ek my merke maak nie … En oorle Petrus plant patats en ek plant mielies. Daardie jare kap ek in jou oupa Barnard se span. En toe die mielies opskiet, sit ek nog ewe sewe flenterpoppe vir die bosbokke op en ek sê vir jou oupa die bosbokke dink dis sewe Barnards, want hulle kom tot op die rand van die Bos, gee die poppe net een kyk en spring terug … Laat werk daardie saag se tande, Saul! Jy’t nie jou hande nodig vir jou ore nie … En die reën val daardie jaar of hy georder is en ek bring die mielies halflyfhoogte en skuif die poppe uit solat die bokke hulle beter kan sien.” Kap, kap, kap.
“En toe, oom?”
“Toe kom die grootvoete. Dit was ’n Sondagnag. En wat hulle nie opgevreet het nie, het hulle vertrap en verniel tot in die aarde in solat daar ligdag nie ’n stoel gestaan het wat kon stronk nie.” Kap, kap, kap. “Ek hoop die hele lot van hulle is onder die honderd wat Marais gaan skiet!”
Halfdag die Saterdag was die hout klaar. Die wete dat die dorp toe gaan naby was, het beurte op Saul se maag gemaak tussen bang en bly. Hy sou op veertien vir die eerste keer die dorp sien.
Sy pa is nog dieselfde middag weg om vir Magdalena en Izak te gaan kuier, en die Maandagoggend sou hy op pad terug sommer by die wa, wat duskant Diepwalle gestaan net, langs kom en die wa ghries. Hy en Jozef sou voordag die osse by Loeriebos-se-Eiland gaan aanhaal. Oom Anneries had nog ’n paar speke om klaar te maak.
Dinsdagmiddag had hulle die hout met die osse uitgesleep tot by die wa, opgelaai en ingespan, en skemer het hulle by Witfontein uitgespan vir die nag.
Saul het die laaste koffie en patats gedeel sodat daar vir voordag iets oor was; sy pa en oom Anneries het die laaste twakkrummels gedeel.
“Is die see ver van die dorp af?” vra hy vir Jozef in die hoop dat dié hom die vorige keer misgis het.
“Ver,” sê Jozef.
“Hoe ver?”
“Halfuur se draf tot agter.”
“Sal jy saam met my gaan?”
“Nee. Pa sal nie wag nie.”
“Ons kan die wa maklik weer inhol,” was hy bereid om selfs te soebat.
“Ek bly by die wa.” Klaar.
Jozef het nooit gehou van dorp toe gaan nie. Niemand hou skynbaar van die dorp nie. Net oom Anneries. Of van die see nie. Die helfte van die vooruitsig om te sien hoe lyk die dorp, is om te sien hoe lyk die see.
“Bloue water so ver as wat jou oë kan sien,” het sy ma probeer verduidelik toe hy klein was. Hy wou altyd weet van die see. “Plat soos jou hand as jy ver van hom af is en as jy by hom kom, sien jy hy het branders met witskuim-toppe.”
“Hóé wit?”
“Soos ’n vlier as hy blom.”
Hy het eenkeer die see by Diepwalle gehoor. Hulle het by sy ma se mense gekuier en die snaakse gesuis was teen die aand in die lug. Aanhoudend, nes die skreetor in die somer, net sagter en die hele lug vol. Hy het bang geword toe dit donker word en die gesuis in die lug bly hang.
“Dis die see, Saul,” het sy oupa gelag. “As hy só by Noetzie stamp lat jy hom tot hier kan hoor, kan jy jou klaarmaak vir reën.
Die volgende dag is hulle in die reën terug huis toe.
Hy het geweet hoe die see ruik. Altyd, wanneer die suidoos die mis van die see se kant af die Bos injaag, het die souterige reuk saam met die bosreuk om alles kom lê. Dan het die mis die hele wêreld omgetoor. Alles stiller gemaak. Nader. Kleiner. Banger. Die bome het donker spoke in ’n dik, wit muur geword en saam met die onderbos vlak voor jou verdwyn. As jy probeer vinnig loop, lyk dit of die bome uit die mis uit na jóú toe aankom, en die bang op jou maag was ’n lekker bang. As jy nie geweet het waar jy is nie, sou jy nie geweet het wáár jy is nie! Toe hulle klein was, was sy ma altyd bang hulle verdwaal as die mis deur die Bos kom. Soos die Terblans-kind wat hulle nooit weer gekry het nie …
Hulle het voordag ingespan; sy pa wou vroeg op die dorp wees. En Saul kon nie besluit of hy voor by Jozef, wat moes lei, wou loop, of agter by oom Anneries by die briek nie.
“Hoeveel grootvoete dink oom het Marais al geskiet?” het hy agter by oom Anneries gevra.
“Sal nie kan raai nie.”
“Hoeveel osse gaan in honderd grootvoete in?” gaan vra hy voor vir Jozef.
“Wat?”
“As daar tien osse in een groot grootvoet is, hoeveel osse is daar in honderd grootvoete?”
“Seker baie.”
“Hoeveel baie?”
“Dis nie ’n wonder oom Anneries sê jou kop sit bo in die takke nie.”
“Hoekom sê hy so?”
“Jy wil altyd annerster goed weet as ander mense.”
Hy is terug na oom Anneries toe. “Hoekom sê oom my kop sit in die takke?”
“Wat?”
“Jozef sê oom sê so.”
“Maar jou kop sit mos in die takke! En as jy vandag heel op die dorp wil aankom, beter jy padgee daar van die wiel af!”
“Hoe ver is dit nog?”
“So drie uur.”
Hy is maar weer voor na Jozef toe. “Laat my ’n entjie lei?”
“Jy laat nie die osse opdam nie,” het Jozef gewaarsku en die rieme aangegee.
Maar hy het nie lank gelei nie; die voorosse se horings was te na aan sy blaaie en hy het onthou van die keer toe sy pa-hulle van die dorp af gekom het met ’n alte kruppel Jozef: die voorosse het sy hakskeenvleis tot op die been afgetrap.
“Ek het uitgereken hoeveel osse daar in honderd grootvoete is,” sê hy toe Jozef weer die rieme kom vat. “Duisend. As Marais honderd grootvoete skiet, is dit net so goed hy skiet duisend osse. Dis baie, nè?”
“Jy praat dom, Saul. ’n Man wat duisend osse skiet, is mal in sy kop.”
“Duisend skote. Duisend koeëls.”
“Maar die man skiet mos nie duisend osse nie!” Jozef was skielik kwaad. “Hy skiet maar net honderd grootvoete! Pa sê hy hoop die man skiet al die bogghers hier uit.”
Hy is maar weer agtertoe. Jozef was altyd gramstorig as daar dorp toe gegaan word …
En niemand het hom gesê dat die dorp nie in die Bos is nie. Niemand nie. Hulle het skynbaar aangeneem hy weet die dorp is nie in die Bos nie. Hoe moes hy dit geweet het? Hy het gedink die Bos loop tot teenaan die see en êrens, ’n halfuur se draf van die see af, is die dorp.
Hulle het oos van die dorp uit die Bos gekom. Die een oomblik was die Bos nog om hulle, bokant hulle, en die volgende oomblik het dit al hoe ligter begin word, was daar al meer son, en toe lê die wêreld skielik oop. Kaal. Soos een sonder hoed. Sonder dak. Hy wou omspring en teruggaan na die skemerskuilte van die Bos, en sy lyf het vanself langs die kant van die pad in die muishondbos bly staan terwyl die wa verbykom en die son sy oë seermaak.
“Kom, Saul!” skree oom Anneries toe hy saam met die briek verbykom. Maar hy het in die muishondbos bly staan. Hy wou agterna skree dat hy daar sal wag totdat hulle terugkom; hy het die woorde in sy kop geskree terwyl sy voete die wa begin inhaal het die groot oopte in en sy hart het in sy ore geklop.
Toe hulle wes draai en die wye water suid van hulle lê, het hy die wa ingehol. “Is dit die see, oom?”
“Nee. Dis die Knysna voorlat hy daar agter in die koppe deur ’n gat see toe loop.”
Die Knysnarivier? Dis onmoontlik.
“Die Knysna van onse bos?”
“Ja. Dis sy water wat jy daar sien lê. Jy sal netnou sien hoe lyk die gat waar hy deurloop see toe en waar die skippe inkom. Party foeter sommer net daar in die bek van die gat om en sink tot onder op die boom.”
Die groot oopte het sy kop duiselig gemaak; daar was te baie son en te baie lig en dit was godsonmoontlik dat die bruin bosstroom hier uitgestrek en blink kon lê … hoe’t hy so gekom?
“Vat wyer die draai!” het sy pa vir Jozef geskree. En hoe verder hulle wes beweeg, hoe oper skuif ’n gat in die koppe waar oom Anneries gesê het die Knysna see toe loop. Dit lyk of iemand ’n stomp byl gevat en sleg ingekeep het tussen die koppe …
Hy het agter by die wa gebly toe hulle die eerste huise kry. Eers ver uitmekaar. Toe al meer. Vierkantig en wit en die dakke is van riet gepak en op party is nog ’n bohuis ook met vensters kompleet. En die tuine is geil en loop tot teenaan die straat met blomme wat hy nog nooit van geweet het nie. Die bang in hom was ’n ander soort bang as vir die grootvoete. Dit was déúr hom.
Twee spierwit perde het voor ’n klein klipgeboutjie gewei en daar was die mooiste vensters in die mure. Hy het nie geweet dis ’n kerk nie. Oom Anneries het hom gesê.
En die mense! Hul klere. ’n Man het op ’n perd verbygekom; sy klere was so netjies en platgestryk en sy skoene het tot amper by sy knieë gekom. Hoe sou hy hulle aangekry het?
“Kom, Saul!”
“Het oom daardie man gesien?”
“Mister Thomas Rex,” het oom Anneries met respek gesnuif. “Hy’s ’n ryk man. Ek het eenkeer stinkhout vir sy stalle gewerk. Baie perde.”
Hy het dit slootkant verbygewaag tot voor by Jozef. Jozef het nie rondgekyk soos hy nie, net voor sy voete in die stofpad.
“Het jy die man op die perd gesien?”
“Nee.”
Twee vroue het uit ’n huis gekom. Hul rokke was van baie lap gemaak en tot op die grond. Wyd. Soos die prentjie op sy ouma Steyn se porseleinkommetjie. En hul hare was blink in die son en wonderbaarlik op hul koppe gebondel sonder dat dit afval … Hier en daar was daar mense soos hulle, maar ook nie heeltemal nie. En toe hy weer agter by die wa kom, skree sy pa vir Jozef om wyd te hou met die osse.
Jozef het die osse in ’n dwarsstraat af gelei in die rigting van die groot, uitgestrekte water. Toe Saul saam met die wa omkom, lê die twee skepe sonder seile op die blinke water. Nes bome sonder blare. Vreemde goed uit ’n vreemde wêreld …
Toe hy klein was, het sy pa eendag van die dorp af gekom en gesê daar lê ’n skip sonder een van sy maste by die dorp. Die skip was in ’n storm en sy mas het afgebreek. Sy pa moes haastig kom mas kap. Ysterhout. Sestig voet lank en Maska moes kom help. Ysterhout is nie ’n grap om te werk nie en hulle het hom met die osse uitgesleep tot op die dorp. Daarna was hulle lank ryk. Sy pa het tweehonderd riksdaalders vir die mas gekry: tagtig vir homself, sewentig vir oom Anneries en vyftig vir Maska. Hulle het huisgoed en klere gekoop, kos en ’n ysterpot, en die orige geld het sy pa weggesteek vir hongertye en liksensgeld vir die volgende jaar se kap.
Jozef is met die voorosse by ’n groot werf in. Oral het hout gelê: opgestapel en uitgestal. Hout net waar jy kyk! Langs die groot houtskuur het ander waens weer van die hout opgelaai; in die onderste hoek het twee waens afgelaai. Veltmaspaaiers.
Dit het vir Saul gevoel sy kop is te swaar vir sy lyf. Sommer die honger, het hy besluit, voordag se kos was maar effentjies.
En dit was warm.
Hy en Jozef het opgeklim en die woelstokke begin losdraai; twee man bo en twee man onder. Soos hulle aflaai, het hulle sommer die twee lotte waenhout uitmekaar gepak. Netjies.
Toe dit klaar was, het sy pa en oom Anneries in die koelte van die wa gaan sit en aan hul leë pype gesuig.
“En nou?” wou Saul weet.
“Nou wag ons vir mister Page om te kom.”
Ná ’n ruk het ’n man met rooierige hare en ’n wit gesig van die skuur se kant af oor die oopte gekom. Hy had twee boeke in sy hand en sy klere was soos dié van die man op die perd. Net sy skoene was nie so hoog op nie. Toe die man nader kom, het sy pa opgestaan en sy pyp in sy sak gesteek.
“Name?” vra die man botaf.
“Joram Barnard.” Hulle het nie gegroet nie. “Waar is mister Page dan?” vra sy pa versigtig.
“Ek is MacDonald,” sê die man en blaai deur die grootste boek. “Mister Page is terug Engeland toe, die plek behoort nou aan my. Wat het julle gebring?”
“Waenhout.”
“Waenhout?” Dit het geklink of die man hom vererg. “Noem jy dit waenhout? Dis derdeklas hout!”
Saul het dieper agter die wa ingekruip sodat hy net met sy een oog langs die wa af kon loer … As sy pa die man foeter omdat hy so staan en lieg, wil hy nie naby wees nie. Joram Barnard raak nie maklik kwaad nie, maar as daar ’n ding is wat hom briesend maak, is dit ’n liegtery en ’n vloekery. Jy kan vir ’n boswagter lieg, want jy lieg vir jou maag en die bas aan jou lyf, sê sy pa altyd. Jy lieg nie vir ander dinge nie. En die man het vir sy pa gestaan en lieg, gesê dis derdeklas hout terwyl hy goed weet die hout is eersteklas.
“Julle bring waenhout terwyl die skepe lê en wag vir dwarslêers!” skel die man. “Wat moet ek met waenhout maak?”
“Mister Page het gesê ons moet waenhout maak,” het sy pa gesê, en sy pa was bang. Hy kon dit nie verstaan nie. Joram Barnard is nie ’n bang man nie …
“Ek het niks met mister Page te doen nie! Die Goewerment wil dwarslêers hê! Die spoorlyn Kimberley toe moet klaarkom en julle kom hier aan met waenhout! Het julle bosmense dan nie verstand nie?”
“Dan verstaan ek dit nou glad nie,” het sy pa verslae gesê. “En ek sien hier staan nog skuld op die boek vir ’n doodskis ook?”
“Die sterfte het onverwags oor my huis gekom, mister MacDonald, daar was twee op die boek, een is afgebetaal.”
Die man het sy kop geskud en iets in die groot boek geskryf, toe iets in die kleiner een, die blad uitgeskeur en vir sy pa gegee.
“Saul!” roep sy pa toe die man wegstap. “Kom lees hier.” Maar hy had moeite met die lees. “Ek verstaan nie wat hier staan nie, Pa. Iets van tree pennies.”
“Dis Engels,” het oom Anneries oor sy skouer kom help. “Lees soos dit staan, ek sal weet wat jy lees.”
“Tree pennies s … u … g … a … r. Tree pennies c … o … f … f … e … e. Five shillings off on c … o … f … f … i … n.”
“Kôffen,” sê oom Anneries. “Dis die kis.”
Tiekie se suiker, tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? Al die kap, al die saag, die kalanderblok se uitsleep, al die regkap, al die oplaai, al die werk, dag na dag, week na week; alles vir ’n tiekie se suiker en ’n tiekie se koffie en vyf sjielings af op die kis? En sy pa stáán net daar?
En die man kom halfpad teruggestap en skree oor die oopte: “Kry julle wa uit die pad! Ek verwag waens met dwarslêers!”
“Meneer!” het sy pa skielik tot lewe gekom en met sy hoed voor sy bors tot by die man gestap. “Meneer, ons weet nou nie hoe nie. Ons moet meel hê en die suiker en die koffie sal nie uitkom nie. Dis twee waens se hout daardie, meneer, ons kry gewoonlik een pond vyf vir een.”
“Laai op julle vrot hout!” snou die man skielik woedend en die bloed vlam rooi in sy nek. “Vat dit weg van my werf af en loop verkoop dit op ’n ander plek! Maar voor jy oplaai, betaal jy eers jou winkelskuld, want die winkel behoort nou ook aan my!”
Saul het geweet hulle is vas. Die man het dit ook geweet.
“Ons sal gaan dwarslêers werk, meneer,” het sy pa mooigepraat. “As mister MacDonald dan net vooruit kan help met ’n groter goodfor vir meel en suiker en koffie en …’n bietjie twak tog, asseblief. Ek belowe meneer ons sal gaan dwarslêers werk.”
Saul was nooit weer kind ná daardie dag nie. Iets breek in jou as jou pa, groot sterk Joram Barnard, wat ’n byl kon swaai soos geen ander man in die Bos nie, wat ’n treksaag lynreg deur die dikste kalanderblok kon laat skree, wat met die krag van ’n os kon hout uitsleep, as jy hóm soos ’n hond sien vra om kos en twak.
Teen skemer is hy bo in die Knysnarivier se klowe en hy is moeg. Die hele dag geloop en nie ’n teken van Oupoot nie. Deur ’n oopte in die blaredak kleur die son ’n streep windwolke rooi.
Agter ’n ou stinkhoutstomp, uitgehol aan die agterkant en skurf van die mos, roep hy sy dag ten einde. Hy is honger. Daar is ’n geniepsigheid in die luggie en hy trek sy baadjie om hom styf. Die vorige nag was dit bedompig. Daar is spinnedrade oor sy gesig en toe hy hulle wegvee, voel hy die tweedagstoppels onder sy hand.
En die slaap wil nie kom nie. Die spoke van gister wil nie tot ruste kom nie. Hy wou die waenhout net tot by MacDonald uitgesleep het, nie die res nie!
Nie Kate nie.
Hoe gaan hy haar leer haat?
Hulle is weer met die wa terug tot in die eerste straat. Terwyl sy pa en oom Anneries met die goodfor by die sink-winkeltjie in is, het hy op die wa bly sit en Jozef het voor by die osse gestaan.
Dit het gevoel of die hele wêreld hom bejok het, of sy lyf in ’n deurmekaarbos beland het en nie weer kon loskom nie. Sy kop wou nie dink nie. Agter hulle het die Veltmaspaaiers se lendelam wa met hulle goodfor stilgehou …
’n Entjie laer af in die straat, in ’n groot, groen oopte, het ’n klein geboutjie met ’n spits dakkie gestaan. Die twee woorde bokant die deur was met ’n boog geskryf. Nie Hollands nie. P … U … B … L … I … C … S … C … H … O … O … L. School? Hy was nog aan die sukkel om dit uit te maak, toe die deur oopgaan en die kinders begin uitbondel. Dorpnaar-kinders. Ander soort kinders. Met ander soort klere en skoene en pakkies boeke in lang leerbande vasgegespe. Party van die kinders het in die straat af geloop en ’n paar het na die wa se kant toe oor die straat gekom en na die osse en Jozef gaan staan en kyk. Jozef het nie opgekyk nie. Saul het vinnig begin bid dat hulle tog net asseblief hóm moes miskyk! Maar vier van hulle het aan die onderkant langs die wa af gekom en net toe hy wou platval, sien hy hulle sien hom en hy weet hy gaan aan die straatkant afspring en hol! Maar die voet waarmee hy wou spring, bly oor die kant van die wa hang, want ’n meisiekind staan waar hy wil land en sy staar hom aan asof hy wonderbaarlik is.
“Do you come from the bush?” vra sy en agter hom lag die ander.
“They speak kitchen Dutch,” sê een, en Saul het geweet hy sou nie omgee om net daar dood te raak nie.
“Is daar regtig olifante in die bos?” vra die meisiekind half dringend en sy staan waar sy staan. Sy lyk soos ’n engel moet lyk, haar hare soos heuning as die son daarop skyn en haar oë net so donker soos ’n ou kershout se bas. Haar rok is van die fynste lap wat hy nog ooit gesien het en dit lyk of daar nog nooit stof aan haar was nie. En hy sien sy eie vuil tone deur sy skoen se punt steek en ruk sy been terug op die wa.
“Come on, Kate!” Die ander het begin haastig word. “They’re wild, these woodcutters’ children.”
“Het jy al ’n olifant gesien?” bodder sy weer oor die olifante en bly hom aanstaar. Toe vra sy met die grootste ongeduld: “Kan jy praat?”
Hy het sy kop laat sak en nie weer opgekyk nie. Toe sy saam met die ander wegstap, het hy hulle hoor lag en geweet hulle lag vir hom.
Donker was hulle terug in die Bos. Dit was soos die toevou van ’n dik kombers om sy lyf.
“Pa,” het hy gevra toe die vuur brand, “is ons witmense, Pa?”