Читать книгу Kringe in 'n bos - Dalene Matthee - Страница 8
4
ОглавлениеDie Donderdagmôre, kort ná sonop, kry hy Oupoot se spoor. Ongeveer ’n myl noord in die Knysna op van waar hy die vorige nag geslaap het, en die olifant is van wes na oos deur die rivier. Teen die voordag, want die spoor is nog klam waar hy aan die Oorkant uit is … Hoe ver is Oupoot voor? ’n Uur? ’n Oomblik wil angs en twyfel hom beetvat, maar hy druk dit van hom weg. Hy het twee dae lank deur die Bos geloop om hierdie spoor te kry en sentiment gaan nie Freek Terblans se hand stuit nie! Klaar.
Dis die ander ding wat in hom torring wat hy nie gekeer kry nie: hy is minder as ’n halfuur van Groot Eiland af en as hy nie sy voete keer nie, gaan hulle met hom noord draai en met hom daarheen loop. Om wat te gaan maak? vra hy hom af, en volg Oupoot se spoor deur die klam onderbos. Al wat op Groot Eiland oor is, is grafte: sy ma, Sara, sy pa. Maar hy moet kos in die hande kry, miskien het ander daar gaan huismaak, stry die ander ding. Noudat hy weet waar Oupoot se spoor is, kan hy maklik Groot Eiland toe gaan, terugkom, die spoor weer kry en volg en lank voor donker klaarmaak wat hy gekom het om te doen.
’n Halfuur later draai hy noord.
Toe hy die geweer gaan haal het, het Maska gesê ou Anneries het duskant Kaffirskop huisgemaak; diep in die tagtig en kap nie meer nie, maar maak darem nog gereeld sy speke en neem hulle dorp toe.
Had húlle reg en hy verkeerd? wonder hy skielik. Is slaaf wees, hond wees, niks wees, blind wees nie tog maar die maklikste nie? Wat maak dit nou eintlik saak waar die bloubokkie se gal sit? Of waar jy glo dit sit?
Nee – om ’n lieg te glo, is om jouself te verloën. Om ’n waarheid verby te loop omdat lieg se pad gerieflik oopgetrap is, is eweso. Laat hy dan voor alles skuldig staan, maar nie daarvoor nie!
Hy kom van die suidekant af Groot Eiland se oopte in. En hy skrik half. ’n Oomblik voel dit of tyd nie werklikheid is nie: voorjare, gister en nou is skielik saamgebondel in die knip van ’n oog, een groot tydlose moment.
Die huis staan nog. Vaal, uitgedorde plankmure soos dooihout in die Bos, en die dak het eenkant gesak; voor die voorste venster hang nog ’n stuk flentergordyn.
Oorkant die diepsloot is lewe: ’n yl sliert rook trek uit ’n skoorsteen en ’n vark staan eenkant op lyn en vreet. Waar tant Martjie-hulle vroeër huisgemaak het, het die fynruigte die aarde teruggevat en net ’n stuk van die buitekaggel staan nog en steek soos ’n grafsteen uit die ruigte … Jy had min tyd vir kind wees in die Bos. Jy moes jou speel by die diepsloot gou speel, want as jou hande eers die kleinbyl kon vashou om vuurhout te kap of water te haal, moes jy Bos toe om hande vir die kap te spaar.
Hy weet skielik dat daar iemand in hulle ou huis is. Dit voel onmoontlik, maar hy kan sweer daar was ’n roersel by die toiinggordyn, en hy loop nader. Hy klop en wag. Miskien was dit sy verbeelding of die wind. Hy klop weer … Daar is iemand in die huis, hierdie keer het hy iets gehoor. Net toe hy wil omdraai om agter te gaan kyk, kraak die deur op ’n skrefie oop.
“Goeiemôre,” groet hy en kan nie uitmaak wie agter die skrefie skuil nie.
“Môre.” Dis soos ’n knor. Maar hy het die stem tevore gehoor. Is dit moontlik? Sy maak die deur ’n bietjie wyer oop; dit ís sy. Ou Sanna. “Meneer is seker geverdwaal,” sê sy en dis nie meer ’n knor nie maar ’n waakhond se blaf.
“Ek soek eintlik kos, ek is vir ’n paar dae terug in die Bos.” Hy sien haar oë nouer trek om beter te kan sien. Toe herkenning in hulle opvlam, ruk sy die deur heeltemal oop.
“Jirre? Is dit dan nie … Siet my oë nou goete?”
“Dag, Sanna.”
“Is dit jý, Saul?”
“Ja.”
“My Jirretjie! Kom in, Saul!” Toe hy oor die drumpel tree, kom die bygeloof van jare se boslewe darem in haar op en vra sy skrikkerig: “Is jy in die vlees of in die gees?”
“In die vlees, Sanna.”
Die huis ruik sleg. Die houtkatel se een poot is af en die katel staan skeef gestut op ’n houtstomp. In die middel van die vertrek staan dieselfde tafel nog. Verwaarloos. Twee van die stoele is nog oor. Dit was oorspronklik ’n stinkhouttafel en vier stoele wat sy oupa Steyn vir sy ma as trouskat gemaak het. Nie een van die twee stoele wat oor is, het ’n heel sitplek nie; die rieme staan soos hare op ’n siek hond se rug.
“Lat dit nou regtig jý is, Saul?”
“Ja, Sanna, dit is ek.”
“Jy’t geverander,” sê sy verwonder en kruip onseker nader aan die kaggel waar ou as vaal lê. “Jozef het gesê ek kan hier bly!” Daar is skielik weer agterdog in haar.
“Dis reg so, Sanna. Dis goed dat jy hier bly.”
“Oupoot het Jozef se Joram geskep. Morsdood!” rammel sy die nuus verskrik af.
“Maska het my dit gesê.”
“Freek Treblans kom hom skiet.” Grys toutjies hare hang onder ’n swart kopdoek uit. “Sommer sy harspan inmekaar skiet, sê ek! Nogal Jozef se oudste.”
“Hoe gaan dit met Jozef, Sanna?”
“Sien hom selde. Maandag by die begrafnis darem gesien. Hy’t mos by Diepwalle huisgemaak en ek loop nie meer so ver nie … Jy’t ’n mooie man geword, Saul. Nooit sê jy’s van onse mense nie. Kyk jou klere, nè?”
“Het jy kos in die huis, Sanna?”
“Askoek en suurmelk.”
“Ek sal jou betaal vir iets om te eet.”
Dis of die woord “betaal” koorsagtige haas in haar hande laat kom. Sy gryp ’n afoorkoppie van die tafel af en spoel dit in die drinkwaterblik uit; die blikbord wat sy van die rak afhaal, is vol stof en sy blaas dit af. Haar voete is kaal en swart en gebars. Hoe oud sou sy wees? wonder hy.
“Ek verstaan dit nie,” praat sy half met haarself. “Hulle het gesê jy sal genooit weer jou voete in die Bos sit nie en hier sit jy dan nou?”
“Ek is net vir ’n paar dae terug,” sê hy en vra: “Hoe oud is jy, Sanna?”
“My pa het gesê ek is die nag toe die eerste skip by die dorp deur die gat gekom het, gebore. Oorle Pa kap toe vir die grootman van Melkhoutkraal en hulle moes almal gaan help, want toe slaat die skip mos ’n rots in die bek van die gat en loop val sommer in die vlak water om. Al wat hande was, moes loop help red en optel. Jou oupa Steyn was ook by, hy’t nog vir jou ouma ’n mooie porseleinkommetjie weggesteek.”
Sy moet dus in die sewentig wees, reken hy uit. “Het jy ’n skryfding, Sanna? ’n Potlood of iets.”
“Hoe dan nou?”
“Ek wil iewers vir jou neerskryf hoe oud jy is, wanneer jy gebore is.”
“En hoe sal jý dan weet?” bestry sy verontwaardig die moontlikheid.
“As jy gebore is toe die eerste skip deur die gat probeer inkom het, is jy in 1817 gebore. Februarie.”
“Hoe sal jý dit weet?”
“Dis toe die eerste skip deur die gat gekom het. ’n Mens moet weet wanneer jy gebore is, Sanna.”
“Ek het nie ’n potlood nie. Kom al die jare reg sonder weet, wat sal dit nou saak maak?”
“Had jy broers en susters?”
“My ma het mos gesterwe nog voorlat ek kon loop. Ander het my gevat.”
Toe sy omdraai om die askoek te haal, vee hy die bord met sy baadjiepunt uit. “Waarvan leef jy hier, Sanna?”
“Van kos! Waarvan dan anders? Ek plant mos vir Johannes Kapp-hulle. Sy huismense maak te vrot tuin en die vrou loop pal met ’n kleintjie. Hy’t daar anderkant die diepsloot kom huismaak. Ek plant vir my ook daar en hy gee my darem so af en toe ’n bietjie melk en ’n skottel meel.”
“Kom die grootvoete nog hier?”
“Nee,” lag sy. “Vanlat Freek hulle die slag hier ingewag het, is hulle bietjie skrikkerig vir Groot Eiland. Hulle onthou mos nes mense. Freek het daardie dag ses geskiet. Ook die laaste grootvoetlewer wat oor my lippe was. Mens! ons het van die geelvet so tussenin gesit en toe oor die vuur gebraai. Martjie het sulke plat skywe van die boude uitgesny en twee dae lank gekook – so sag soos murg, sê ek jou. Die derde dag moes hulle begin begrawe, die weer was te warm.”
“En die tande?” vra hy en steek sy walging weg.
“Freek Treblans het hulle uit die kaste laat kap en toe het hy hulle laat wegsleep. Ek sal jou nie kan sê waarnatoe nie.”
Die melk steek op sy tong en hy dwing hom om verby die vullis te kyk; daar lê ’n strawwe dag voor, om ’n olifant in te haal moet jy krag in jou lyf hê. Die askoek is egter onverbeterlik; Sanna had altyd ’n hand daarvoor.
“Is jy gelukkig, Sanna?” vra hy op ’n ingewing om meer te wil weet van wat onder haar swart kopdoek aangaan.
“Hoe dan anders?”
“Hoe kry jy jou dae om? Jy is tog seker nie heeldag by die tuin nie?”
“Ek sit!” sê sy weer verontwaardig.
“Waaraan dink jy die hele dag?”
“Sommer. Voorjare en alles.”
“Was jy ooit op die dorp?”
“Mos die slag toe ons moes vlug.”
Hy weet waarna sy verwys, maar hy hou hom dom. “Wanneer was dit?”
“Met die groot vuur.”
“Hoe goed kan jý die vuur onthou, Sanna?” por hy haar aan.
“Hoe sal ek dit nie onthou nie? Ek was dan al ’n groot vrou sonder tande! Ek had by Platbos huisgemaak saam met ander mense. ’n Niggie van Anneries. Onthou jy vir Stoffel Blik wat die slag getrap is? Nou dit was van hom ook ’n niggie. Lekker gebly by hulle, maar toe sit hulle my uit.”
“Vertel my van die vuur, Sanna,” por hy. Hy moet loop, maar ’n vreemde nuuskierigheid torring aan hom.
“Soos oordeelsdag,” slaan sy haar hande saam. “Toe ons die oggend wakker word, toe’s daar ’n warmte in die Bos wat ons nie ken nie, en toe ons uitkyk, is dit blou van die rook. Nie lank nie, toe kom die mans uit die Bos en hulle sê die wêreld brand en dit brand en dit brand na ons kant toe. Ons had nie veel huisgoed nie, maar ons vat als. Ons bind bondels aanmekaar en ons begin aanloop. By Keur-se-Rug voel dit die vuur is om ons bene. Jy sien nie vlamme nie, jy hoor hulle net en die lug is so warm lat dit voel jou longe skroei! Toe kom die wind. Booswarm, sê ek jou. Booswarm. En die Bos was droog daardie jaar. Later moet ons die huisgoed stuk vir stuk laat lê om vinniger voor te bly. Ek dog ek gaat af. En als wat leef, vlug. Bosbokke en grysbokke en galkoppies en bosvarke, soos mal goed by ons verby. Toe ons by die Homtini kom, had die vuur Witelskloof deurgekom en ons voorgespring. Lat ek daardie dag ’n kalander sien val lat die water om hom kook. Ons moes hoër op om boontoe te kon deur en die kinders skree. Jy kan nie almal dra nie, party moet jy maar aan die arms saamsleep. Kan nie anders nie, jy sien wat kom van bly lê – bráái. Uitgegroeide manne het daardie dag saam met die vroumense gehuil. En by die boonste Eiland kry ons mense wat van Kaagiesbos se kant af vlug. Hulle sê ons toe lat die vuur bergkant verbytrek en met ’n ander strook seekant toe. Ons hou toe Grootbos se kant toe. Kom ons by water, gooi ons die kinders en onsselwers nat en dan vlug ons maar weer. By Portland had die vuur in een van die Knysna se klowe opgehardloop en als wat ou mister Barrington had, afgebrand. Van sy perde en varke en hoenders is by ons verby. En toe dit donker word, word dit nie donker nie, dit word rooi. Die vlamme klap soos voorslagte in die klowe en die kinders kan nie meer nie en ons kan nie meer nie en arme Berta Krisjan se oorle skoonmoeder sak anderkant die diepkloof inmekaar en net daar het die engels haar kom vat.” Sanna bly skielik stil en staar voor haar vas soos een wat baie dinge sien.
“En toe, Sanna?”
“Die volgende dag het ons mense gekry wat van Maraisbos af vlug en hulle sê ons toe dit brand nie op die dorp nie, lat ons by Gouna sal kan deurkom tot onder. So kom ons toe die aand op die dorp en almal is uit hulle huise uit en op die straat om te kyk hoelat die wêreld verbrand. Toe gee hulle vir ons plek in die tronk en oral waar baie mense kan in. Nou net nie in hulle huise nie. En die mense is goed vir ons, hulle het kos en komberse vir ons gebring en ons het twee dae so gesit, toe vat ek my komberse en van die ander goed en toe loop ek saam met jou ouma Diepwalle toe, want die ander had toe klaar gesê ek moet uitskuif.”
Dit voel vir Saul of hy skielik swaar sluk aan die kos en hy stuur in ’n ander rigting. Opsetlik. Hy wil háár uitleg hoor.
“Sanna, ek verstaan hier het baie diere in die Bos verbrand met daardie vuur.”
“Gaar en verkool.”
“En die grootvoete?” vra hy wat hy eintlik wou vra.
“Hulle brand mos nie. Van alles het verbrand, maar nie van hulle nie. Hulle weet mos dinge.”
“Hoe bedoel jy?”
“Hulle het geweet waar dit sal brand en nie sal brand nie. In watter klowe jy kon skuil en uit watter jy moet uitbly. Hulle weet mos dinge. Oorle Wiljam se hele span het agter die grootvoete aan gevlug en hulle sê toe hulle nog dink hulle is vas, toe’s hulle oop … Maar jy moet mos weet van die vuur, Saul? Het julle dan nie by Gouna geskuil nie?”
“Ja. Ek was nege. Pa het ons met rieme aanmekaar vasgebind en in die water laat lê.”
Sy breek nog ’n askoek voor hom op die tafel oop en waai die vlieë weg. “Ja, dit was ’n groot vuur.”
“Gee jy om as ek hierdie askoek saamneem vir later?”
“Ek gee jou nog een.”
“As ek geweet het jy woon nog hier en dat ek hierlangs sou kom, het ek vir jou iets gebring, Sanna.”
“Bring vir my ’n stukkie bontgoed vir ’n rok en ’n trekseltjie koffie as jy dalk weer kom.”
Hy staan op en haal twee goue muntstukke uit sy sak en sit dit op die tafel neer. “Ek glo nie ek sal weer hierlangs kom nie, Sanna. Vra iemand om dit vir jou op die dorp te gaan koop.”
Sy is soos ’n dier toe sy die geld van die tafel af gryp en tot by haar oë bring om te probeer uitmaak wat dit is. “Hoeveel is dit?” vra sy en kyk verskrik op.
“Genoeg vir bontgoed en koffie en skoene en ’n paar ander goed wat jy nodig mag hê.”
“God sal jou seën, Saul Barnard!” En die ongeloof staan soos angs in haar oë.
Op die onderpunt van Groot Eiland, waar sy ma en Sara en sy pa begrawe lê, gaan staan hy ’n oomblik stil. Oor sy pa bult die aarde nog effens en hy kan die plek uitken; oor sy ma en Sara het die onderbos oorgeneem. Waar hulle naasteby moet lê, is die onderbos uitgekap en daar lê die vars graf van Jozef se kind. ’n Handvol varklelies hang verlep in ’n verroeste blik.
Kort voor halfdag is hy terug op Oupoot se spoor en sukkel hy met ’n skuldgevoel wat al dieper in hom invreet. ’n Skuldgevoel teenoor al die Sannas van die Bos, al die Jozefs, die Anneriese en die Maskas. Skuldgevoel waaroor?! skree dit hom later tot besinning. Hulle het hom as verraaier in hierdie bos besweer, soos hulle Oupoot as moordenaar besweer het! Saul Barnard skuld niemand nie en niemand skuld hom nie!
Waarom het hy dan teruggekom Bos toe? Veronderstel die skip was aan anker lig toe Maska kom sê het van Jozef se kind en dat Freek vir Oupoot kom skiet, sou hy dan nog steeds omgedraai het? Dis ’n onredelike vraag, skerm hy vir homself en ruk terselfdertyd sy baadjie uit ’n doringbos los. Op plekke is die onderbos oopgekneus waar Oupoot deur is; halfgevrete takke en blare hang in die ruigtes en verraai die pad waar hy vooruit is. Dis duidelik dat hy tydsaam geloop en vreet het …
’n Uur later loop die spoor in ’n sleeppad in en ’n entjie verder kry hy die bol mis: gesond en nog nie heeltemal koud nie. Oupoot is dus nog lank nie op die laaste tand in sy bek nie, vir hom het die stadige hongerdood van die ouderdom nog nie begin nie … En hy kan nie te ver voor wees nie …
Veronderstel die Pictor was aan anker lig? kom koggel die vraag weer by hom. Sou hy sy rug op Maska gedraai het? Op Oupoot?
Toe hy ’n man geword het en seunstyd se drome vervaag het, het ’n soort respek, ’n intense bewustheid van die ou patriarg van die Bos die plek van drome ingeneem. Nee – dit was meer: daar was iets tussen hom en Oupoot wat die grootste nugterheid van denke nie kon ontken nie. Geen houtkapper of sy kind of enige bewoner van die Bos onderskat ooit die gevaar wat in ’n grootvoet skuil nie. Eeue se haat vir die mens skuil in elkeen van hulle; vir die mens wat die geweer dra wat die warm lood in die skurwe lyf laat inkwes om daar te sweer totdat hy besete van die pyn na die diepste klowe vlug en daar in vernedering gaan sterf. Soms heel die wonde. Soms is die lood genadig en tref dit waar die dood gouer kom.
Ten spyte van alles wou die gevoel van vreesloosheid teenoor Oupoot nooit van hom wyk nie. Respek, bewondering, maar nie vrees nie.
En voordat hierdie dag verby is, moet sy hand die sneller trek om Oupoot te skiet. Hy het nie ’n keuse nie. Voor Freek Terblans sal Oupoot nie neerkniel nie. Ja, erken hy aan homself, as die skip aan anker lig was, sou hy omgedraai het om dit te kom doen.
Hy volg die spoor ’n uur lank in ’n oostelike rigting in die sleeppad langs tot waar die olifant weer die ruigtes ingeswaai het om onder by ’n bosstroom sy dors te les. Die glyspore aan die oorkant is nat en vars … Sou Oupoot weet dat iemand besig is om hom te agtervolg? Seker nie. Hy was nie haastig by die water nie. ’n Mens kan natuurlik nooit seker wees van wat hulle weet en nie weet nie, maar die wind waai van die middag af taamlik sterk uit Oupoot se rigting, dus is dit onwaarskynlik dat hy sou agtergekom het hy word agtervolg.
’n Ander ding word egter al hoe duideliker: Oupoot is op pad Grootbos toe. Gouna se kant toe. Verby Gouna lê Kom-se-Bos, dan Jim Reid-se-Draai en Diepwalle waar Jozef bly en Freek Terblans seker sal begin soek …
Die gedagte laat Saul onmiddellik die ruigtes voor hom met groter haas wegdruk. Hoe ver is Oupoot voor? Dit kan nie te ver wees nie. Die kwartponder hang swaar om sy skouer en hy moet die gewig kort-kort verskuif. Suid van hom roep ’n bosloerie in die ruigtes en die versoeking is groot om hom soos kindertyd nader te koggel … ’n Oomblik speel daar selfs ’n glimlag om sy mond voordat ’n hardheid weer in sy oë kom lê.
Ná daardie eerste keer dat hy saam dorp toe was, het hulle ’n paar dae by die huis gaan rus om reg te maak vir die volgende kap. Die beste en swaarste slypgoed het altyd by die huis gebly; sy pa en oom Anneries het die sae en die byle geslyp tot daar nie ’n stoets kolletjie op ’n blad of tussen twee tande oorgebly het nie. Hy en Jozef het self die naald gevat en gelap waar dit nodig was. Ou Sanna het elke keer wanneer hulle ’n winkelhaak in ’n broek of ’n hemp kom wys, weggeskram en met drif in die tuin gaan spit.
Die Sondagaand het sy pa die aankondiging gedoen:
“As hy nog staan, staan hy duskant Hottentotskloof met sy voete as ’t ware in die water van die Homtini. Die mooiste kalander wat my twee oë gesien het. As MacDonald en die Goewerment dwarslêers wil hê, sal hulle dwarslêers kry. Ons sal môre donkervoordag opstaan en regmaak vir die gaan.”
Dit was ’n volle dag se harde stap. Kloof af en kloof uit. Kloof af. Kloof uit. Soms ure napad deur die digste bos met alles wat moes saam tussen die vier rûe gedeel.
“Hoe gaan ons die hout hier uitkry, Pa?” het Saul halfpad benoud gevra.
“Wys my ’n hout wat Joram Barnard nie uit hierdie bos kan kry nie en ek wys jou ’n hout wat nie bestaan nie.”
In sy hart het Saul gehoop die kalander staan nie meer nie.
Kort ná kwartdag het die skote Kwê-se-Draai se kant toe geklap.
“Mis!” lag oom Anneries. “Die telling bly op dertig.”
Volgens gerugte het Marais toe al dertig geskiet.
Teen latenstyd was hulle hoog bo langs die Homtini en het hulle gelykte gesoek om af te pak. Die loeries was al in die bome om te kom slaap; die stilte tussen die dag- en naggeluide het oor die Bos gelê en nie ’n tak het in die ruigtes geroer nie. Waar die bruin water van die Homtini oor honderde jare heen ’n elmboogdraai deur Eilandbos gekalwer het, het hulle gelykte vir die skerm gekry. Maar daar was nie krag in hulle oor om skerm te maak nie, net vir vuurhout kap en koffie maak en omrol om onder die donker blaredak die genade van slaap te soek.
Voordag het hulle die kalander skaars honderd tree noord van hulle af gekry. Soos ’n koning het hy tussen die wit-els en die bergsaffraan, stinkhout, assegaai en hardepeer om hom verrys. So asof God hom baie, baie lank voor die ander daar moes geplant het. Sy wortels het hom soos reuse-arms in die grond geanker en bo, waar sy lyf meer son gekry het, het die vaal bas in droë repe van hom afgehang. Deur die yslike dwarstakke, hoër as hoog, het ’n laaste ster teen die voordagblou van die hemel geblink.
“Maak toe jou mond, Saul!” het iemand gesê. Die oumansbaard in sy takke het soos yl groen hare spookagtig in die wind gewaai. Dit was ’n ontsaglike groot boom; waar hy uit die bosvloer opgestyg het, was sy lyf so dik soos vyf osse s’n saamgebondel.
“Waar gaan hy val, Pa?”
“Ons sal nou sien.” Sy pa het deur die dounat onderbos om die kalander geloop.
Val hy suid, kan hy boggelrug in ’n ou stinkhout val, het Saul sy eie berekeninge gemaak. Laat val hulle hom oos, val hy ’n pad deur goeie hout, en noord lê ewe sleg.
“Ons sal hom effens suidoos neerlê!” besluit sy pa nadat hy ’n tweede keer omgeloop het. “Wat dink jy, Anneries?”
“Ek sien hom ook so lê, Joram.”
Die skerm moes eers klaarkom. Sy pa en oom Anneries het ’n goeie skerm tussen ’n ysterhout en ’n witpeer gemaak; hy en Jozef moes rondom skoonkap tot op die grond.
Halfdag was die eerste patats in die as en die katotjies het eenkant oor die kleinvuur gesing. Die skerm was klaar.
“Nou ja, Joram,” het oom Anneries gesê en sy pyp uitgekap, “lat ons dan maar gaan inblits.”
Daar was ’n vreemde gevoel van verskriktheid in Saul toe hulle met die regsbyle nader stap. Hy en Jozef is agterna. Sy pa het met houtkapperskennis ’n laaste keer gemeet waar hy die reus wou laat val, die laagste punt teen die vaalgroen, mosbedekte stam uitgesoek en vastrapplek vir sy voete tussen die wortels gekry. Toe hy oorhaal en die eerste hou van die valkeep inbyl, het dit dwarsdeur Saul geruk.
“Ek dink hy voel dit,” het hy hardop gesê.
“Wat?” vra Jozef langs hom.
“Ek dink die boom voel dit.”
“Is jy nou simpel geword?”
Agter die kalander, lynreg met die valkeep en ’n entjie hoër op teen die stam, het oom Anneries se byl ingeval: stadig en ritmies saam met die voorste een.
Hulle het sewe dae gekap voordat hy geval het.
Die eerste dag het Saul en Jozef met die grawe van die putkuil begin; die mote sou te swaar wees om met min hande op ’n staankuil te kry vir die opsaag. En die kuil moes ’n raps oor die ses voet diep gegraaf word sodat Joram Barnard regop sou kon staan wanneer die kraansaag getrek word.
Swerms loeries het bokant hulle in die bome vergader en by tye het selfs die kap van die byle onder die aanhoudende kok-kok-kok weggeraak.
“Wat gaan met die loeries aan?” wou Saul van Jozef weet.
“Seker grootvoete naby. Ek sê jou nou al, daardie wit-els daar anderkant is myne as daar geklim moet word.”
Die volgende môre, toe dit lig was, het die spore om die skerm gelê.
“Joram!” het oom Anneries benoud geroep. “Kom kyk bietjie hier buite! Dit lyk my ek siet vanmôre goete.”
Hy en Jozef is saam met sy pa by die skerm uit. En Joram Barnard het die spore net een kyk gegee, orent geskrik en om hulle in die skemer bos ingespied. “Dis Oupoot.”
“Ek wou mos sê.” Oom Anneries het ’n yslike stomp op die vuur gegooi. “En kyk net hoe suutjies het die derduiwel geloop, nie ’n blik of ’n katotjie omgeskop nie.”
“Die mis is nog lou!” het ’n bevreesde Jozef agter die skerm uit geskree.
“So ’n boggher, natuurlik staan kyk hoelat ons slaap en sy mind staan en opmaak of hy ons sal trap of nie.” Sy pa se stem was vol onrus. “En wat staan jy soos ’n klip, Saul?”
“Hy’t die patatskille opgevreet, Pa.”
“Ou laai van hulle. Maar ek hou nie van dié ding nie. As ’n grootvoet eers alleen beginne loop en suutjies daarby, moet jy lig loop vir hom. As ons dalk in sy looppad skerm gemaak het, sal ons moet skuif. Of hy gaat ons trap.”
Die rillings het die een na die ander deur Saul se lyf getrek. Om te dink dat Oupoot spoegver van hulle af was en hulle het dit nie geweet nie! Miskien het hy sy skurwe slurp by die skerm ingesteek en aan hul lywe geruik …
’n Halfuur later het die skoot agter by Brandrug geklap.
“Mog dit vandag Oupoot wees,” het oom Anneries gehoop.
En die loeries het weer kom kok-kok-kok en gorrel en sis, en rooivlerk van tak tot tak deur die spatsels son gesweef. Asof daar onrus onder hulle was.
Dit was amper halfdag toe die hond skielik vlak by hulle in die Bos blaf en die byle en die grawe in hul hande stuit. Selfs die loeries het hulle ’n oomblik stil geskrik.
Toe die vreemdeling suid van hulle uit die ruigtes kom met die hond kort op sy hakke, het Saul sy pa se oë vooruit sien kwaad word.
“Mostert,” sê die man en stap na sy pa toe.
“Joram Barnard.”
“Hoeveel man in jou span?” vra die man kortaf.
“Vier.”
“Osse?”
“Twaalf.”
“Liksens?”
“In die skerm in die trommel.”
Die man het sy potlood se punt nat gelek en dit alles baie stadig in ’n boek met omgekrulde blaaie geskryf.
Kok-kok-kok, het die loeries weer begin lawaai en die kleinvoëls ook. Die hond het in die onderbos gesnuffel.
“Ek neem aan meneer is nuut hier in die Bos?” het Joram Barnard gevra en vooroor op sy byl se steel geleun.
“Ja. Ek is van die houtdepot op George af oorgeplaas hierheen.”
“Dis dié lat meneer hier met ’n hond kom staan infoeter. Die grootvoete was vannag hier gewees, meneer kan daar anderkant om die skerm gaan kyk as meneer wil sien hoe lyk ’n behoorlike grootvoet se spoor. Hy sal ’n man net een trap gee.”
Maar die man wou hom nie sommer in ’n ompad laat inpraat nie. “Ons is besig met ’n opname,” sê hy dreigend belangrik. “Hierdie bos gaan in seksies opgedeel word, die kapbome sal gemerk word en julle dae van kap soos julle wil, is verby. Die Goewerment het ’n ekspert hier aangestel, mister Harison, en eerskomende Saterdag sal hy hierdie omgewing se kappers by Groot Eiland toespreek om julle in te lig oor die dinge.”
“Meneer sal nog so loop met daardie hond, dan sal meneer ook maar nie by die vergadering uitkom nie,” sê sy pa ewe ongeërg.
“Hoe sê oom?”
“ ’n Man wat met ’n hond deur hierdie bos loop, soek moeilikheid. Grootvoete hou nie van honde nie. Die hond sien kans om vir die grootvoet te kef, grootvoet jaag die hond, hond gooi platoor baas toe, grootvoet trap baas en hond hol weg. As meneer nou insig het.”
Die man het ’n oomblik op sy voete rondgeskuif. “Mister Harison verwag dat elkeen van julle daar sal wees. By Groot Eiland. Weet julle waar dit is?”
“Ons kap Saterdag,” lig sy pa hom weer eens ongeërg in.
“As my speke klaarkom, gaat ek dorp toe,” laat oom Anneries van agter die kalander hoor.
“Ek waarsku julle! Mister Harison is nie ’n man wat met hom gaan laat speel nie.” Die man het skielik begin gewig kry in sy stem. “Hierdie bos gaan geseksie en genommer word en mister Harison sal in die vervolg sy oë op julle byle hou!”
Joram Barnard het sy hoed op sy agterkop gestoot. “Ou vriend,” sê hy, “lat ons mekaar nou nie vandag verkeerd staan aankap nie. In die eerste plek sal mister Harison meer oë moet hê as waarvoor daar plek is op sy lyf, en in die tweede plek, ek het liksens vir kap in hierdie bos. ’n Betaalde liksens. Die Bos belang aan ons en ons kap waar die houte staan om gekap te word. Loop sê dit vir jou mister Harison en vat jou hond hier weg.”
“Die Bos behoort aan die Goewerment, oom!”
“Van wanneer af?”
“Maar die Bos behoort nog al die jare aan die Goewerment!”
“Dan moet die Goewerment sy bos kom vat.”
Toe vat Mostert vlam. “Oom speel nou met vuur! Die Bos behoort nie net aan die Goewerment nie, die Bos behoort aan Queen Victoria! En almal is bekommerd oor die Bos, want julle is besig om hom jaarin en jaaruit al meer dood te kap.”
“Dood? Lyk hy miskien vir jou afgesterwe?”
“Dit sal nie vandag vir oom help om verkeerd te wees nie, die Goewerment gaan teen julle optree!”
Sy pa het die byl tydsaam neergelê. “Ou vriend, ek het nog nooit aan ’n ding met honderd base geglo nie. Loop sê jy vir die Goewerment en vir Queen Victoria en vir mister Harison, Joram Barnard sê, hulle klink vir my soos ’n wind wat uit twee rigtings gelyk wil waai. Op die dorp hoor ons die Goewerment is ontevrede omlat ons nie genoeg houte werk vir die Goewerment se treinpaaie nie en hier kom staan meneer en sê die Goewerment sê ons kap die Bos af? ’n Wind wat in al die rigtings gelyk wil waai, waai net stof op, ou vriend. En as dit my hond is, dra ek hom verder om enige verdere moeilikheid te voorkom.”
Ná nog ’n paar dreigemente is die man met die hond oor sy skouer vort. Later het hulle gehoor dat daar niemand by die vergadering was nie. Net ou Sanna. En sy kon nie sê wat die man gepraat het nie, want hy het Engels gepraat.
Die derde dag het Saul die patats te lank in die as vergeet en al die olie laat uitbak.
“Wat het jy nou weer staan aanvang?” vra sy pa, sommer kwaad. “Hoe moet ’n moeë man nou in hierdie goed sit en wurg?”
“Pa het gesê ek moet gaan heuning soek.”
“Toe kom jy nie weer uit nie!”
“Ek sal ander bak, Pa.”
Sy pa was in ’n verkeerde bui. “Die kos moet uitkom tot ons klaar is, ons kan nie een patat mors nie! Jy sien self die kalander is taaier as wat ons gedink het, en die byle bly stoets.”
“Miskien wil die kalander maar net nie doodraak nie, Pa.” Agterna kon hy self nie dink wat hom bevlieg het om dit te sê nie.
“Hoe sê jy daar?”
“Oom Anneries sê hy is by die duisend jaar oud. Miskien wil hy maar net nie doodraak nie.”
“Van wanneer af leef hy?”
“Hy’t dan gegroei.” Hy het voor sy siel geweet hy tempteer sy pa, maar hy kon homself nie keer nie. Vandat hulle aan daardie kalander begin kap het, het ’n ergernis in hom kom lê wat nie langer wou binne bly nie. “Hy moes tog geleef het om so groot te kom.”
“Wat gaat met jou kop aan?”
“Niks, Pa. Dis net dat iets vir my sê daardie kalander leef. As hy dood was, kon hy nie gegroei het nie en as jy leef, kan jy voel en as jy kan voel, is jy bang vir doodraak!”
Sy pa het na oom Anneries toe gedraai. “Wat praat die kind, Anneries? Het jy dit gehoor?”
“Ek hoor hom, Joram. Dit lyk my jou Saul begin bas kry.”
Dit was halfdag. Die loeries was stil en die hele dag het daar nog nie ’n skoot in die Bos geklap nie. In Saul was daar ook ’n ander onrus: Hét Marais die vorige dag vir Oupoot geskiet? Hy was vroeg die môre op om te kyk of daar weer spore om die skerm lê, of die hopie patatskille wat hy eenkant op ’n klip bymekaar gesit het, weg is. Dit was. Maar die bosvarke se spore en mis het om die klip gelê.
“Nou maar goed.” Sy pa het skielik opgestaan. “As Saul dan begin bas kry, is hy seker hard genoeg om ’n man se byl te swaai?”
Saul het hom lam geskrik; hy het ineens geweet waarheen sy pa mik en ’n onbeheerbare koppigheid het in hom opgestoot. “Ek gaan nie aan daardie boom kap nie, Pa.”
Sy pa se oë was botstil in syne. “Gee vir hom ’n byl, Anneries!”
“Pa …”
“My byl, Anneries!”
Oom Anneries het die byle ’n laaste trek met die platvyl gegee en nader gekom. Jozef was by hom.
“Ek sal kap, Pa,” het Jozef aangebied. “Oom Anneries het gister self gesê ek kap goed.”
Sy pa se oë was nog altyd botstil in syne.
“Saul sal kap! Hy sal valkant kap en oom Anneries agter.”
“Pa het gesê ek en Jozef moet vanmiddag aan die oprolhoute begin kap,” het Saul probeer wegskram. Hy het ’n lelike ding begin …
“Julle kan gaat oprolhoute kap nadat jy gevoel het hoe ’n man se byl deur die lug swaai! Kom!” Sy pa was witkwaad.
“Ek kap nie aan daardie boom nie, Pa.” Wat in hom ingevaar het, kon hy nie verstaan nie; hy het net een ding geweet: hy sou sy hand nie lig om aan daardie kalander te kap nie.
Sy pa het in sy spore omgetol en die stuk assegaai langs die vuur gegryp. “Praat my vandag nog een keer teë!”
“Pa …”
“Solank jy in my span staan, sal jy kap waar ék sê jy moet kap!”
“Ek kap nie aan die kalander nie, Pa.”
Toe die stuk assegaai hom skuins oor die blaaie tref, keer hy met sy hande en gooi sy lyf eenkant toe, maar die tweede hou brand oor sy rug en die volgende een tussen sy blaaie.
“As ek sê jy vat byl, dan vat jy byl!” skree sy pa. En die assegaaistomp vang hom oor die heup. “Staan op! Gaat jy die byl vat of nie?!”
“Ja, Pa.”
Hy het nie opgekyk toe hy na die boom toe aanstap nie, hy het sy oë op die platgetrapte fynbos gehou en die byl in sy hand opgelig sodat die blad nie op die grond sleep nie.
“Kry jou vastrap!” gebied sy pa soos ’n man wat ’n weerbarstige os tem. Agter die kalander het oom Anneries sy plek ingeneem.
Saul het oor die spaanders om die wortels getrap en sy staan langs die diep valkeep gekry. Nes vleis sonder bloed het die vaalwit binnehout gelyk.
“Laat Jozef kap, Pa,” bepleit hy ’n laaste uitkomkans.
“Kap! Lig daardie byl!”
Aan die agterkant het oom Anneries se eerste kaphou geval en gewag vir die voorste een sodat die kap-pas kon begin.
“Pa …”
“Lig die byl! Swaai hom en moenie met hom kielie nie! Bring hom!”
Magteloosheid het deur sy taai, seningrige lyf geskrei; sy hande het om die bylsteel vasgekramp en wit geword soos die bloed deur sy are pers. Aan die einde van die eerste opswaai het hy ’n oomblik gehuiwer en toe die vlymskerp blad agter in die valkeep ingedonder. Oom Anneries se tweede hou het amper onmiddellik gevolg. Toe weer Saul. Oom Anneries. Saul. Anneries.
“Hierjy!” hoor hy sy pa skree. “Nou kan die mannetjie skielik kap! Ditsit! Wys hom! Voel dit nou miskien vir jou of hy kan voel?”
Die reuk van groen, gekneusde kalander het in die lug gehang, die spaanders het soos bleek vonke om die byle weggespat en ’n enkele loerie se noodkreet het oor die Bos weergalm. In Saul het die drif met elke kap al vaster geknoop.
Die oggend van die vierde dag het hulle die spore en tekens gekry van ’n groot trop wat die vorige nag tussen die skerm en die kalander deur is. Oupoot se spoor was nie onder hulle nie.
“Jy is stil,” het Jozef later die dag opgemerk en half spottend bygevoeg: “Of is jou arms seer van gister se kap?”
“Nee.”
“Loop jy saam? Ek gaan kyk of daar al ’n bloubokkie hang.”
“Nee.”
“Oom Anneries sê jy is nou in jou jongbultyd, maar dit klink eerder of jy in jou beneuktyd is! Wat gaan met jou aan? Dis goed dat Pa jou gister bietjie bygekom het.”
“Los my uit.”
“Pa het gesê jy moet loop heuning soek.”
Die skote het weer Brandrug se kant toe geklap.
Hy het die bladsak gevat en die heuning loop soek. Laatmiddag het hy ’n nes bo in ’n upright sien sit waar ’n bobbejaan sou sukkel om dit by te kom … Die ding tussen hom en sy pa het egter nog dik tussen hulle gehang en moes ligter kom, hy moes die heuning hê.
Sy lyf was seer waar die stuk assegaai hom gekneus het en sy arms van die kap; om die upright te probeer klim, sou wees om sy doodval te soek. Hy het die bladsak om sy nek gehaak, die stinkhoutboom langs die upright uitgeklim en oor ’n dwarstak geseil tot regoor die nes.
Hy was al aan die terugseil toe ’n tak iewers onder hom in die Bos klap. Soos die knal van ’n geweer, en hy het onmiddellik geweet dis ’n grootvoet se breek. Hy was al taai-taai tot in die eerste dik mik van die stinkhout toe die tweede tak klap. Naby. Bokant sy kop het ’n loerie begin gorrel en sis en toe hy afkyk, sien hy die beweging in die onderbos en Oupoot wat stadig deur die ruigte gestap kom. Soos ’n groot, grys rots wat stadig beweeg en met twee massiewe tande wat met ’n sierlike boog na binne krul. So dik soos ’n man se lyf waar hulle uit die kasse kom. En verligting trek deur Saul: Marais het nie vir Oupoot gekry nie! En dié keer is hy klaar in ’n boom en hoef hy nie te hol en te klim nie! Hy sien die olifant by die stinkhoutboom vassteek en hoe sy slurp opkom en in die lug soek voordat hy weer in die onderbos verdwyn.
Saul het nie by die skerm loop sê dat Oupoot weer in die omgewing is nie …
“Lyk my onse Saul het ook geluk gehad,” het sy pa gesê toe hy die bladsak oopmaak. “Sommer ’n lekker klompie geluk. En Jozef het vir ons ’n vleiskossie gekry.”
Toe was die ding tussen hom en sy pa ligter.
Die son het middaghoogte gesit die volgende dag toe die kalander begin kraak. Nie onder waar die twee groot kepe ingekap was nie, maar asof sy hele lyf binne-in kraak.
“Dit is die taaiste wat onder my byl deur is,” het oom Anneries gesê toe hy donker langs die vuur neerstruikel. Dit was Saterdagaand en ’n lang, droë Sondag sonder ’n brandewyntjie het voorgelê; die kalander het gemaak dat daar nie genoeg speke klaar was nie. Van skemer soggens tot skemer saans het hulle gekap en daar was net nie krag of lig oor vir speke uitkap nie.
En jy kon die kalander tot by die skerm hoor kraak. Teen middernag het dit vir Saul gevoel hy versmoor; oom Anneries en Jozef het min of meer gelyk gesnork, dan kraak die kalander en dan snork sy pa. Hy wou buitetoe vlug en sy ore toedruk, maar hy was bang die grootvoete kom weer en trap hom.
Sondag, die hele dag, het die kalander gekraak soos een wat pyn het; hoe harder Saul sy verbeelding anderpad probeer hou het, hoe meer het dit gevoel die kalander kraak tot in sy eie lyf.
“Dink Pa hy sal môre val?”
“Vroeg.”
Maar die sesde dag het ook verbygegaan. Die kalander het bly klou aan dít wat oor was tussen hom en die aarde.
“Hy wil ons in die kooi kry!” het oom Anneries gesug toe hulle skemeraand die byle moes neerlê.
“Miskien was Saul se kop reg,” het sy pa met ’n moeë lag gespot. “Miskien wil die ou nie sy vattigheid aan die lewe los nie.”
“Wag maar,” het oom Anneries by die waterblik beloof. “Voor kwartdag môre lê ons hom neer.”
Die kraak van daardie kalander was iets boaards.
Here, het Saul die nag onder die skerm gebid, laat die kalander môre val. Asseblief. As dit sonde is om vir ’n boom te bid, vergewe my. Amen. Asseblief, Here, laat hom val.
Daar was vroegdag ’n benoudigheid in die lug.
“Grootweer,” het oom Anneries voorspel toe hy onder die skerm uitkruip.
“Ek was voordag uit. Dit het seekant toe geblits,” het Jozef gesê.
Kort voor kwartdag, soos oom Anneries voorspel het, het die kalander begin oorkom. Sy pa het eerste byl neergegooi en gehardloop.
“Daar gaat hy!” het hy geskree en oom Anneries het noord gevlug. “Daar gaat hy!”
Eers stadig, toe vinniger terwyl die laaste binnehout tussen die twee kapkepe losskeur en die bosreus alles in sy pad saam met hom bosvloer toe vat. Swerms voëls het verward uit die ruigtes opgevlieg; ’n bosbok is tussen Saul en Jozef deur en ’n trop bosvarke tussen sy pa en die stomp.
Toe was dit stil.
Dankie, Here, het Saul in sy binneste gesê en naar gevoel.
Die kalander was dood. ’n Mens kon dit sien.
Oom Anneries het uit die onderbos gekom, sy hemp dwarsdeur natgesweet. “Wragtig, Joram, beter sal ’n man hom nie neergelê het nie!”
“Ja,” het sy pa trots gesê, “hy lê goed. Die Goewerment sal sy dwarslêers kry, ten minste dertig uit ’n moot!”
Bokant hul koppe, waar die kalander oomblikke gelede nog sy takke hoog teen die lug uitgestrek het, was daar ’n blou gat in die blaredak.
Wes van hulle het die eerste skoot van die dag geknal en kort daarna het dit begin reën.