Читать книгу Wals met Matilda - Dan Sleigh - Страница 4

1 Kaapstad, 2009

Оглавление

Waar die vaalgroen deining donker word, kniel die Niksnut op haar plank. Haar gesig is teen die suidewind gelig, sy kyk vér oor die flikkerende vroemôresee en roei sterk met albei arms dieper in teen die stoot van wind en gety. Dit is waarop hy gewag het.

Hy is altyd bly as hy op sy balkon uitkom en haar sien. Sy is die eerste lig na donker, sy laat hom ópkyk en nie, soos hy geneig is, na die blou buitelyn van die man wat hom op die plaveisel doodgeval het nie. Die blou man trek gedurig sy gedagtes ondertoe. Snags om drie-uur, halfvier skrik hy wakker, oortuig dat hy lewend begrawe is, en dit is ’n werklike skrik, ’n doodsvrees, soms word hy wakker met ’n skreeu of uitroep waarvan hy die naklanke hoor. Tot sy hart en asemhaling bedaar, lê hy met sy oë toe teen die donker en onthou sy ervarings, die skokke, een na die ander. Hy is daarvan oortuig dat hy nie siek is nie, hy is nie depressief nie, dit is noodsaaklik dat hy aanhou om dit te glo. Hy ontken nie sy omstandighede nie. Hulle is weg sonder hom; hy is per ongeluk agtergelaat en moet alleen verder tot die einde. Hy lê soms ure lank in die donker en verlang na die vrou wat sy hele lyf in hierdie bed met haar soene gesalf het. Sy sou die siektes en sondes uit hom streel, sy kon dit doen, sy het krag in haar vingers gehad wat plante in dor sand laat blom. Dit is wat sy lewe was. Veelvoudig wreed is die natuur; dit neem jou vrou en laat ’n leë huis, herinnerings, verlange en behoefte, tot die te lang uitgestelde einde.

Ander kere, soos verlede nag, staan hy in die donker op en dwaal soos sy eie spook van kamer tot kamer. Hy loop langs sy groot tafel verby, die feestafel gedek met kristal en silwer, met sjampanje en geskenke belaai, vyf gelukkige siele daarom, hy hoor hulle lag. Hy hou aan die tafelblad vas en streel oor die oppervlak.

’n Ander gedagte neem oor: Hy stroop die laken van ’n lyk ondertoe tot by die symphysis pubis en druk die gebondelde kante weerskant onder die dye in. Gisteroggend gehang tot die sononder, sodat die son nie op hulle ongeregtighede ondergaan nie. Paulus: Brief aan die Efesiërs. Die gesig is donkerpers, bloed het by die neus en ore uitgebars. Die kadawer was ’n middeljarige vrou wat haar man vermoor het. Volgens die hof. Met gif, daaroor het hy self getuig. ’n Gruwelike affêre; in die huis was baie bloed, haar slagoffer se gesig is met die gesin se vleisbyl tot niet gemaak maar kon aan die liggaamsbou en ’n gedraaide silwerring soos ’n Noorse seedraak uitgeken word. Die gif is tussen haar klere ontdek en sy het probeer om daarvan te sluk, maar die skout kon haar verhinder. Wat Amsterdam oor haar sê, raak hom nie, die studente weet waarskynlik meer van haar af as hy. Maar respekteer die kadawer, noem dit ‘sy’.

“Toegang tot die buikholte, menere. Ondersoek ons ovaria, uterus en blaas, sit jou duim op die nawel, maak ’n horisontale snit handbreed onder die nawel. Kyk ons na die spysverteringskanaal, sit jou handpalm op die nawel, maak die snit net onder die diafragma bo die wysvinger. Blus asseblief jou tabakspyp, meneer Karsten. Jy moet die reuk van elke orgaan en al sy kwale herken. Waar maak jy die snit om te demonstreer waarom linkernier en linkertestikel laer as die regter hang, meneer Den Heyer?”

“Dit gaan om die rangskikking van hartvate, Professor. Ek sny onder die sternum, na regs.”

“Na links. In die normale anatomiese posisie kyk ons nie na die kadawer nie; sy kyk na óns. Hierdie swelling van die onderbuik, meneer Coolhaas?”

“Gas van ontbindende derminhoud. Nie swanger nie; sy het dit in die hof ontken.”

“Anatomiste dra nie bef en toga nie, meneer Coolhaas. Ons doen outopsies met ’n voorskoot aan. Wat van lewersiekte? Ons sal sien. Jou vraag, meneer Wobma, ja?”

“A, Professor, as ek mag vra … Nee, as ons gevra sou word om die normale anatomiese posisie van die manlike en vroulike geslagsdele te beskryf. Ek is onkundig.” Hy wil hê dat Hammel die laken verwyder.

“Help sy probleem formuleer, meneer Den Heyer?”

“Sê: uitwendig of inwendig?” Wobma erken dit met ’n obsene gryns.

“Antwoord, meneer Bakker?” Amper middeljarig, ’n gewese monnik getroud met ’n gewese non en ervare in toegewyde arbeid in afsondering, word Bakker miskien die rare onafhanklike student en skrywer. Maar Bakker raak die gebondelde laken met sy vingerpunte aan, die rustige gebaar van die huisdokter by ’n siekbed.

“Uitwendig, met die boonste aanhegting van die klere-makerspier as verwysing: manlik hoofsaaklik daarvóór, vroulik hoofsaaklik daarágter.”

“Goed begin. Jou sening is reg, maar jy noem die verkeerde spier. En benoem in Latyn: sartorius in plaas van kleremaker, superior in plaas van boonste, sodat kollegas – Frans, Sweeds, Skots – presies verstaan. Neem jou vraag biblioteek toe, meneer Wobma, ondersoek skelette in die ossarium, bring die antwoord in jou beste handskrif met jou anteriors en posteriors, jou mediale en laterale almal behoorlik ingespan, wanneer jy gereed is.”

Coolhaas fluister hardop agter sy hand: “Sal jy nou regkom in die donker, Jaap?”

“Orde, meneer Coolhaas. Neem die lanset; eerste snit vir appendektomie: epidermis, dermis, panniculus, peritonium. Hou jou oë op die lem, sê soos jy sny. Vermy rectus abdominus en voorkom meer bloeding en die onnodige hegwerk.”

Professor Hammel en sy eerstejaars; die studente redelik entoesiasties oor die vleeslike maar onbelangstellend in die gees, asof ’n mens lyfalleen is. Die staat eis die liggaam; wat siel genoem word, eien die kerk hom toe; wat jy vir ’n paar jaar van albei kan weghou, is die vrou wat jou ken. Maar menere, is dit werklik so dat die wonderbaarlike liggaam ons enigste lewe is? Of nie? Die miserabele tronk van ons siel, het Plato dit genoem. Wat is julle antwoord, na twee-en-twintig eeue?

Asof ’n waarskuwende hand gelig is, word die stemme stil. Die gesigte verdwyn, die verhoog is verlate, die kamer leeg. En hy dwaal terug bed toe, sit daar in die donker; gaan weer lê en trek laken en kombers oor hom.

Aan die muur se kleur raai hy die tyd, staan op, was en skeer, maak tee en roosterbrood van muwwe brood, met muwwe kaas. Hy hou sy hande oor die warm rooster en draai hulle na onder en bo vir verligting van sy artritis. Hy vergeet om die voorgeskrewe pille te drink; soms verval sy voorskrif en moet hy vir ’n nuwe ondersoek gaan, dan is ’n maand of meer verby sonder medikasie en hy verdra die pyn so lank hy kan. Hy was die mes, broodplank en gisternag se glas met die urinekleurige oorblyfsel van whisky en water onder die kraan, droog dit af, sit dit weg. Die bottel stoot hy van hom af tot sononder, diep agter in die kas tussen nuttelose skottelgoed, flessies speserye waarvan hy nooit die gebruik geleer het nie en ongebruikte potte, panne en hulle deksels. Van omtrent agtuur kyk hy of die Niksnut daar is. Wanneer dit swaar reën of as die wind in die nag verander het en sy nie gaan verskyn nie, voel hy teleurgesteld, dan skeer hy nie, bly die dag binne en lees in sy leunstoel.

Maar sy is daar. Sy beteken mooiweer en ’n lang wandeling. Op haar branderplank is sy ’n onreëlmatige swart streep soos die silhoeët van ’n naaldekoker in die goue flikkering van oggendson op water. Hy stel sy verkyker op haar, maar die weerkaatsing van lig is te skerp, hy kan nie daarin kyk nie. Die Heel Groot Baas het haar Niksnut genoem, maar sy is hoop, sy is daglig. Sy is die eerste gedagte aan oorlewing (nie aan redding nie, aan oorlewing), soos vir die seun in die seilboot wat oor die horison weggewaai is, soos vir myners myle onder in donker toegeval. Wie sou sy wees, wat noem hulle haar werklik? Vir elke Jan is daar miskien ’n Johanna, maar sommige name is enkel vroulik, name soos jy by luitspelers en hofsangers hoor: Amelia, Sofia, Helena, Theresa, Elisabeth.

En Matilda. Matilda is die geluid van wind in hoë bloekoms met wit stamme waarvan die herfswind repe bas gestroop het, droë wit takke soos moedelose arms, bleek hande hoog in afskeid. Verby, verby. Matilda is weg in die ewigheid se leegte. ’n Pleknaam, uiteindelik: Ewigheidsleegte; enkelkaartjie asseblief, eenrigting.

Dít, presies, is wat met hom verkeerd is. Al sy gedagtes verval in donkerte. Terwyl hy aan iets dink, sterf lig daaruit en word dit onaangenaam, bitter. Die kwelling waarmee hy leef kon hy self diagnoseer, maar het dit ’n wetenskaplike naam, is dit geneesbaar? Dit weet hy nie. Neem byvoorbeeld hierdie balkon. Om op sy ouderdom vir ’n hoogte bang te wees staan Bybels voorgeskryf – ’n irriterende veralgemening – maar afgesien van sy eie gemoedstoestand is hier werklik niks te vrees nie. Vyf verdiepings onder hom lê die geplaveide voorstoep van Bay View Villas. (Meer banaal kom name seker nie?) Nou die toets.

Hy skuif die deur oop en loop kaalvoet uit, hou met albei hande aan die reling vas en leun vorentoe. Daar ónder staan potplante, klein en groot, varsgroen ten spyte van die somerson en wind, want hulle is van plastiek. Hulle word maandeliks omgeruil, tydelike inwoners wat nou buitetoe gedra is en wag dat iemand soos ’n reisende tuinkabouter met ’n groen oorjas, rooi motortjie en heldergeel sleepwa hulle kom haal. Die potte staan respekvol gerangskik om die buitelyn van ’n menslike liggaam wat met blou waskryt op die sement nagetrek is, die arms oop en wyd gegooi in finale oorgawe, die bene gesprei en effens opgetrek, asof hy sou weghardloop as dit moontlik was. Dáár het iemand hom op slag doodgeval. Die polisie het gekom, hom geteken en weggeneem, maar die portret van sy sterwe tot ontsteltenis van die inwoners daar gelaat. So! Toets nogeens gefaal, want gesonde mense wat op die balkon uitkom, kyk natuurlik nie af nie maar vorentoe oor die ruim see na die dynsige horison en die ver eiland in sy eie mis van seesproei en propaganda. Waarom sou enigeen ondertoe kyk? Tog kyk hy elke keer wanneer hy op hierdie balkon uitstap, eerste na die blou man op die sement. Wat is met hom verkeerd? Hy weet nie. Hy voel onseker en bedreig. Waarvoor is hy bang? Hy weet nie.

Kyk op; baai-in dryf ’n donker strepie wat soms agter deining wegraak, waar die Niksnut wag op haar brander, die een-in-sewe-maande-brander, die stewige stuwing van wind oor water waarvoor sy sal opstaan, en wat haar sal dra, dra, dra en minute later in ekstase dydiep in sy laaste helder kabbeling uitstort. Miskien kom daar die hele dag net een goeie om te ry, maar sy laat al die kleintjies alleen strand toe loop. Vanoggend kniel sy op haar plank, gewoonlik lê sy lankuit, haar gesig gedraai, haar kort donker hare nat en vas teen haar kop. Waaraan dink sy dan, die Niksnut? Die HGB kon haar enige ander naam genoem het, Deugniet, Leeglêer, Une propre-à- rien, hy kon enige negatiewe naam aan haar geplak het, die dag toe hy hier met sy storie gekom het. (“Maak gereed om te vertrek, Koos. Dit is tyd.”) ’n Ander naam sou geen verskil aan haar maak nie; die Niksnut is wat sy doen, en sy doen dit geduldig, stadig, met baie seewater en wind en son, en sy suig die genot daarvan tydsaam in. Absorbeer? Nee, suig is kinderlik, menslik, aanmekaargehou deur sappige klanke. Ook minder skeikundig. Klinies, liewer? Nee.

Hy gaan binne, haak sy verkyker oor sy skouer en sit sy Mauritius-hoed van gevlegte palmstrooi op om te gaan stap. Aan die wykskoerantjie op sy deurmat weet hy dit is Vrydag, wasdag vir die hele vyfde verdieping. Hy tel dit op, laat dit in die groen asblik val en verlaat die gebou met die buitetrap. In die kelder staan roesgevlekte wasmasjiene en vierkantige wasbakke met plastiekkrane; ook sy fiets staan daar by ander se rommel en roes. In die ommuurde agterplaas is wasgoedlyne. Hy sal nie vandag was nie; in ’n laai of aan die haak agter sy deur moet nog klere wees. Hy sluit die agterplaas se deur en loop strand toe sonder om na die gebou om te kyk.

Daar is al mense op die strand. ’n Spannetjie lewensredders, stil, snel meisies en seuns met rooi kostuums en pette en helderoranje boeie, oefen vóór skool. Bo by die duine versamel vier Groen Aarde-entoesiaste (boomsoeners, so noem die dagblad se irriterende omgewingsjoernalis hulle) die vorige nag se aangespoelde vullis in swart plastieksakke: ’n lang blou plastiektou, ’n bruin plastieksandaal, ’n grys plastiekdobber, wit plastiekwinkelsakke, hope deurskynende plastiekbottels en bont plastiek-sigaretaanstekers met gedrukte advertensies op. Dan loop hulle met ’n ligter gewete huis toe om hulle ontbyt te eet. Die gedagte aan ontbyt het ’n lekker, byna vergete geur van spek wat in ’n pan bak, met eiers en tamaties en sout en peper. En vars brood. Vir ’n kort oomblik dring die geur van ontbyt die kommer en ligte woede oor plastiek uit sy gemoed.

Daar lê ’n wrak wat van laatnag oorgebly het en wat niemand kan optel nie: ’n stuk van ’n hart in die nat sand geteken, met die letters N en A daarin, die orige deel is soos ’n matroos weer met die gety see toe. Origens is die toneel alledaags, bekend: ’n Bejaarde swemmer lê sy gestreepte kamerjas en hotelhanddoek op droë sand en gaan die water in om sy outydse syslag te swem. Pare stappers laat woonstelhonde los, harige bondels energie met laggende monde en pleitende oë asof hulle vergifnis soek vir die verskriklike oortredings van voorvaders, tot die tiende geslag. Op ’n sekere ekonomiese vlak word woonstelle duurder as huise en kinders se plek word deur honde met ’n geraamde stamboek geneem. Agt gladgekamde, swartgejurkte Japannese met onleesbare gesigte, wat voordag geheimsinnige bewegings met gedraaide hande en voete na die opkomende son gemaak het, is klaar weg, maar hulle voetspore lê soos ’n militaristiese uitdaging op die sand. Waarom dink hy só? Die mense is onskuldig, vriendelik, altyd óórbeleefd.

Bo die hoogwatermerk staan ’n paal met ’n drietalige kennisgewing wat vra dat die publiek nie die meeus voer nie, op las van die Stadsraad. Dit is daar op sy versoek – hy is ’n broer van die boomsoeners. Hy stut sy verkyker teen die paal om te kyk watter skepe in die nag vertrek het, watter aangekom het, watter op die oomblik na die hawepoort gesleep word. Daar is drie nuwes, twee met houervrag, een met olie; vier het Tafelbaai in die nag verlaat.

Hy stap noord. Dit is ’n slagveld hier by die oggend se hoogwatermerk waar opdrifsels bymekaargestoot lê, leë doppe van liggeel sandkrappe wat deur meeus in vlak water betrap is, grys vere met ’n donkerbruin streep, soutgebleikte stokkies, ingeduikte bruin beursies van haai-eiers met hulle harde krulletjies, bootvormige wit tjokkaskelette met skerp papegaaibekke en tientalle van die eenvoudigste wit skulpies, tussen spoortjies van vroeë seevoëls. Tussenin lê stukke ontbindende slymgroen waterhiasinte, wat lank gelede saam met nie-langer-geliefde goudvissies uit voorstedelike plastiek-bakke in die Liesbeek- en Swartrivier verwerp is en nou van oewer tot oewer in een digte, drywende mat daarop groei. Dele breek soms los en spoel soos groen vlotte see toe, maar die see kan dit nie ontvang nie, kan niks daarmee doen nie en verwerp dit ook, hy gooi die mens se gemors terug op die land.

Links van hom droom en dreun, sug en suis die vaalgroen, koue, bitter Atlantiese stroom met sy vroegoggendreuk van seegras, mossels en dieselolie. Die enigste lewe op die sonnige strook sand voor hom is vyftien of meer vaal strandlopertjies, vinnige halfonsies veer-en-been wat in die lente van halfpad om die aarde hiernatoe vlieg vir ’n vakansie van vreet, vry en verveer. Hulle pik tussen die opdrifsels, hulle hardloop en vlieg entjies voor hom uit, entjies voor hom uit. Hy trek sy sandale uit en loop ’n uur lank kaalvoet in die koue seewater, tot sy enkels en voete pyn.

Teenoor Rietvlei gaan hy teen die duin sit. Koue water laat kraakbeen krimp en veroorsaak pyn, sê die skraal, blonde spesialis wat geduldig sy rumatoïede artritis probeer behandel, met beskuldigende en moedelose blou oë agter haar bril. Daar is 52 bene, 66 litte en 214 ligamente in sy twee voete, sê sy, en elkeen pyn individueel. Hy het haar pa geken, ’n professor van argeologie. Laas keer het sy nie meer haar trouring gedra nie, maar geen teken van meer of minder lig was in haar droefblou oë te sien nie.

Hy sak agteroor op sy elmboë en hou hengelaars dop wat kuitdiep in die ysige water staan en hulle lyne ágter die branders gooi, honger vir galjoen. Hy kyk ondersoekend na die see. Die skuimende deining vorm lang rûe wat uit die weste in rye strand toe skuif, waar dit geleidelik groen en amper deursigtig opstaan teen die wind, dan krul die skuimwit top vorentoe, die wind druk dit soos ’n sluier na een kant weg, die brander breek na die regterkant en sy glasgroen muur stort met ’n klap op die sand en dreun verder en verder strandop. Hy ken hierdie stad se wortels; alles het met wind en water begin, ’n plek van skepe. Met só ’n wind en see, op só ’n helder dag in dié seisoen, het Nieuw Haerlem drie en ’n halwe eeue gelede hier vasgeloop, die oorsaak en begin van Europese nedersetting in die land. ’n Nuwe begin na ’n groot verlies. Is daaruit iets te leer? Niks, dit het toevallig gebeur, dit was die willose see en suidwestewind, waaraan daar niks intelligent, romanties of wreed is nie. Die stadsraad, waaraan daar ook niks intelligent, romanties of wreed is nie, het twee dekades gelede ’n nuwe voorstad hier agter die duine laat bou. Die vanselfsprekende naam daarvoor, om waardigheid aan hulle visie en werk te gee, sou Haarlem wees, of Nieu-Haarlem, maar hulle noem dit Table View. ’n Verspeelde kans. Meer banaal kom plekname seker nie? Dit kan, maklik.

Nou, ook hier gestrand, lê J. van der Merwe. Hy het hier vasgeloop, sy skipper het beheer verloor, hy is deur die gety agtergelaat en het in die sand vasgesak met skade aan die romp en tuig; hy sal nie maklik weer vlot kom nie. Binne-boord hoor jy nog lewe, maar dit is so ’n soort lewe: die bemanning lê leeg, speel kaart, die bootsman se drif is weg, hy gee nie meer bevele nie en kla die dag om, die skipper sit lusteloos aan wal teen ’n duin en droom. By die uitgewery noem hulle dit skrywersblok. (“Koos sit daar in Sans-souci met sy kop ín soos ’n skilpad, rus op sy louere en droom oor die verlede. Totale, massiewe skrywersblok.”) Skrywersblok is nie ’n verbeeldingsdroogte nie, jy het nie verbeelding nodig om dit te besef nie.

Hy skraap ’n hand vol droë sand bymekaar en laat dit uit sy vuis vloei soos tyd deur ’n uurglas: traag, leeg, sinloos. Agter hierdie duine, agter sy rug, lê die land waarmee hy niks te doen wil hê nie en waarvoor hy netsowel nie hoef te bestaan nie. Hy stel die verkyker op meeus wat in die vlak water met hulle lewe voortgaan, verstel die lens voor sy linkeroog, skuif dit stadig oor die stad wat soos Venus uit die see gebore is, maar hom in waansin daarvan afgesny het. “Stedelike selfmoord deur swak stadsbeplanning,” het Gawie, die aartsbewaringsargitek wie se opinies koerantopskrifte word, geskryf. “Argitektoniese sluipmoord, deur sakebelange gedryf.” En dit is Kaapstad, maar kon Hamburg, Malakka, Marseille, Rotterdam of enige ander hawestad wees, almal met hulle meeus wat in ’n dooie hoek van die dok pik tussen drywende sigaretpakkies, leë bottels, prostitute se onderklere en pienk, verdrinkte katte, en almal ewe moeg, oorbewoon, met te veel beton en te min geld.

Ou panoramas en kaarte van Kaapstad wys die intieme verhouding tussen stad en see, jy sien hulle lepellê van die heel begin af. Maar allerhande mense met hulle eie belange het tussenin gekom en stad en see is later geskei. Die stad het van toe af oud, grys en lelik geword en agter hoere aangeloop terwyl die see op ’n afstand ongeliefd vereensaam en verwaarloos het. Hulle kinders is groot, party het weggegaan, ander het sleg geword. Die stad se museums onthou nie die intieme saamlê van sy jeug nie, maar nuwe intrekkers uit die binneland prys die mooie moederstad, nêrens vind jy fraaier nie.

Duidelik, weer, dié negatiewe gedagtes: Dit ís siekte, jy het hulp nodig.

Voor sy verkyker staan twee oranje oliebore in Duncandok. Hulle torings vang die vroeë sonlig hoog bo die dubbelry wit hyskrane. Hy soek op teen die berghang, sien die kabelkar ondertoe sak, swaai die verkyker links oor Vredehoek, af na Woodstock, oor Paardeneiland se siellose grou industriële strukture, stadig verder links óm die baai tot by die lelike liggroen vyfverdieping-woonstelgebou waar hy woon. Iets mensliks, het die Rumpelstilzchen vir die jong koningin gesê, iets mensliks is vir my meer werd as al die skatte van die hele wêreld. Bay View Villas is vir hom meer werd as die hele stad, tussen berg en see.

Hy stoot sy voete in die los sand; die harde polgras op die duin roer in die wind, ritselend asof ’n spooknavorser deur ’n boek blaai. Die see se rustige oopte laat hom kalm voel, maar hy vertrou dit nie; hy ken die misleidende, sluimerende stilte in die oog van ’n orkaan. Dáárdie gebou, dié see, hierdie stukkie strand op die oorblyfsel van ’n strook duineveld met uitheemse helmgras getem en teen oortreders afgekamp, is die ekostelsel waarin hy gewortel is, sy eie opvanggebied, sy hele en enigste leefwêreld. Hy leef hier soos ’n graspol in ’n droë landskap wat na water verlang, maar met min vooruitsig op lawende reën.

“Aanvaar en berus, Koos,” het die HGB gesê. “Dit sal vir jou en ons almal die maklikste wees. Jy vryf self sout in jou wonde. Jy kan vir jou mense niks meer doen nie. Jy kan hulle probeer vereer, blomme op die graf sit, maar hulle weet nie daarvan nie. As hulle kón weet, kan hulle dit in elk geval nie vir jou sê nie. Moenie jou situasie erger maak nie. Dit is tyd dat jy na jouself begin kyk, óm jou begin kyk.”

Dit is nou ses maande vandat die HGB met die nuus hier gekom het: Aanvaar hulle dood en verlaat hierdie huis. Aanvaar? Dit was ’n verstommende slag soos die diagnose van kanker; hy kon dit nie eens glo nie. Om dit te glo sou wees soos om in aanvaarding te kapituleer. Aanvaarding kom veel makliker waar tevore twyfel was. In die groen kerkhoffie van Waltham-abdy se oorgroeide ruïne, waar Harald Godwinson, laaste Saksiese koning, voor die altaar begrawe lê met ’n lang pyl deur sy oogkas en uile en vlermuise snags die vloerstene bevuil, het hy toevallig ’n vierkantige leisteentjie plat in die gras gevind; die grys oppervlak het ’n geriffelde silwer patroon, dit lyk of die paar woorde daarop in water geskryf is. Night-night, Tom. Sweet dreams. Finale afskeid: Ons laat jou hier, ons gaan nou weg. Dít is berusting, dít is aanvaarding.

“Ons weet jy wil hier wil bly, Koos,” het die HGB gesê, “maar ander wil ook en ons het jou woonstel aan iemand beloof. Onthou dat ons in twaalf jaar net twee manuskripte van jou gekry het, en dit is nie in die gees van ons ooreenkoms nie. Kyk na jou Akte van Ooreenkoms.”

Hy het sy kop geskud en sy hand afwerend tussen hulle gelig. “Ek kan nie êrens anders woon nie.”

Die HGB het vaderlik probeer klink – advokaat Jan Opperman, soms genoem Opperwese, maar meesal bekend as die HGB, ’n gebore Voorsitter met netjiese hare, ’n reguit snor, wit hemp, duur linnepak die kleur van volstruiseierdop, en iets van die professionele kavalier, soos ’n luitenant-generaal met vakansie by die see. “Ons weet van jou terugslae. Wees verseker, ons verstaan jou gevoel. Die Direkteur: Finansies sê op gister se vergadering: ‘Koos was in ’n kettingbotsing met die noodlot se nagwa.’ Hahaha … jammer, dit is natuurlik geen grap nie. Ons sal jou help om ’n ander plek te kry; so ver as moontlik help met trek, vervoer, so aan. Dit was moeilik, maar ons moes besluit.”

“So ver as moontlik? Waarheen? Dit is my huis, ek kan nie dít verloor nie.”

“Aanvaar net, algaande word dit makliker. Die maatskappy moet die woonstel hê. Sê teen die einde van die jaar, dit gee jou genoeg tyd. Die D:F sal die reëlings kom tref. Frolich, jy ken hom.” Hy weet van Frolich: ’n man met ’n binnenshuise voorkoms, benerig bleek asof hy van ryswater leef.

Van toe af staan maandeliks ’n geregistreerde brief in sy posbus wat die Uitgewery se besluit herhaal, om hom te herinner, wakker te skud, aan te por: Jou tyd is verby, Koos. Begin pak, Koos. Gee pad en vertrek, Koos. Maar dié woonplek, met ’n uitsig op strand, berg, see en eiland moet hy vir sy oorblywende dae hê. Ses maande lank gooi hy hulle briewe weg en sluit sy oë teen hulle eise. Hulle moet dit aanvaar.

Dit is iets waarby niemand anders as hyself betrokke is nie. Hy klou aan ’n gevoel, aan iets soos hoop, die ál wat oorbly nadat geloof en liefde gefaal het. Wat hoor ons daar, wie fluister, is dit hoop wat met ons probeer praat? Hoop is ’n chemiese reaksie wat in benarde situasies vanself in die brein aanskakel en later weer afskakel. Soos met vorms van kranksinnigheid sal hulle eendag in ’n laboratorium die presiese formule van hoop ontrafel en pille daarvoor maak. Neem een ná ontbyt, geniet die dag.

Hy moet met sy verstand vasklou, aan alles vasklou, om nie hier onder te gaan en te verdrink nie. As kind het hy ’n boot gehad met die naam Heks van Endor en ’n gelapte seil (voor die glibberige dacron en terylene),’n swart Finn was dit, nie mooi om na te kyk nie, ’n geskenk van die ma van sy maat wat dertig of miskien honderd kilometer buite Houtbaai verdrink het, die boot ontmas deur ’n rukwind, weggewaai oor die horison, oop see toe. Alleen, ’n nag, ’n dag, miskien nog ’n nag, verlate en hulpeloos, tot die koue en uitputting sy hand van die tou losgemaak het. Die Finn, amper gelyk met die water, drywend gehou deur vlotte voorin, agterin, is daglank, naglank deur die steil Benguellastroom gedra voor ’n suidewind wat weke aaneen gewaai het, twintig knope, tot vyf-en-twintig maar nooit minder nie; die aanhoudende stewige stoot van die somerpassaat met sy fluistering van diepte en eindeloosheid en reuke van sout en osoon, die onskuldige bries wat jou in een nag honderd kilometer see-in sleep en daar los. Hoop is al wat jy dan oorhet. Hoop, het professor Walker van Ekonomiese Geskiedenis gesê, is geen strategie nie, maar dit wen gevegte, roer die aandelebeurs en is geneig om in die voormiddag sterker as in die namiddag te wees.

’n Houtbaaise treiler het die leë Finn ingesleep. Hy het die romp ligpers geverf en ’n mas daarvoor laat maak, dit Waratah gedoop omdat dit ’n noodlottige naam was, en met ontsag hanteer omdat dit al een seiler dood gehad het. As die Finn op haar sy loop met die kiel uit die water en hy buiteboords tussen wind en water hang, kon hy voel dat sy te hoog getuig was vir hierdie see. ‘Rank’ is die woord, die boot was rank. En hy het sy maat en sy maat se ma onthou, albei alleen in oop water, in bootjies te klein vir hierdie lewe waar selfs aan hoop, die laaste anker, ’n einde kom. “Op” oop water, nie “in” oop water nie, het daardie skrifgeleerde by die Woordfees aangedring. Hy moes ligweg van sy verstand af gewees het in daardie gevaarlike boot, maar die dood wou hom nie jonk neem nie, dit was geduldig. Dit het nog veertig jaar gewag voor dit toegeslaan het. Nou dryf hy onderwater, koud en stom, in stilte asof agter glas.

Met die terugloop is daar verskillende soorte branderryers in die water, kniediep kinders op vakansie uit die binneland op gekleurde maagplanke, dieper in staan jongelinge soos sirkusruiters op die water gebalanseer en tussen see en lug swaai vlerkswewers onder hulle kleurryke vlieërs. Die bont strandhanddoeke lê al dig bymekaar, plate helderkleurige sambrele staan in blom. Op die nat strand bou heel kleintjies ernstig, sonder om te droom dat niemand polisse uitreik vir sandkastele nie. Die oggend het goed lyf gekry. Of soos die man in 5F in sy kortverhaal oor hierdie strand skryf: Die somerdag het pram gestoot. Taal uit die skaapkraal wat ruik soos velskoen oor kaal, ongewaste voete gedra. Sy vrou het soms gesê, jy word te maklik geskok, Koos. Maar hoe kry iemand sulke boersheid op papier? Menslike gewelddadigheid is een ding, maar kruheid is iets anders: heelwat nat, donker, stinkende keldertrappe laer in hole wat hy nie graag besoek nie.

Die wind kom nog lig van voor af, maar sal namiddag opstaan soos dit omtrent elke somersdag hierdie tyd van die jaar opstaan, dit gebeur eenuur smiddags, jy kan jou horlosie daarop stel. Dit blaai skielik vinnig deur die slapbandboek, druk onverwags al die strandsambrele skuins, ruk die hoek van die oranje handdoek om, krap in ’n kind se kuif, al die bontgekleurde vlieërs spring in die lug om aan-aan te speel, en elkeen van hierdie deinings staan op met ’n wit kop, maak ’n tonnel van honderd tree lank wat deurskynend, bottelgroen en skuimend strand toe rol. Dit verstaan hy, hieroor voel hy gerus – geen direksie of komitee bestuur die namiddagsee nie. Al is dit gevaarlik en onbetroubaar, al verander dit gedurig, is hierdie vonkelende stuk baai met sy seelug soos sjampanje die Niksnut se speelplek, die plek van sy oorlewing en vryheid.

Wat wag op hom as hy sy woonstel vir ’n ander huis, iets soos ’n aftree-oord of ouetehuis, moet verlaat? Dan betree hy die voorhof van die hel, ’n katastrofe van ouderdom met sy tirannie van verlies van selfstandigheid. Jeug kan nie herwin word nie, dit is begryplik, maar jy kan ook nie bekostig om van herinnerings weg te draai nie; hulle is die betekenis van jou lewe. En hy kan nie nou al nie. Afhanklikheid sal sy einde wees. Vryheid is al wat hy oorhet.

Soos hy loop, kyk hy ondersoekend op na Bay View Villas. Naoorlogs, reghoekig, eenvoudig van styl (of stylloos), die grondverdieping hurk half ágter ’n duin en daarop staan nog vier verdiepings. Die boonste ry van sewe ligblou woonstelle is Goeie Hoop Uitgewers se eiendom, daarin woon skrywers. Die een in die middel van die ry is syne. Wie woon in die onderste vier rye? Baie ryk mense woon daar met hulle honde en die uitsig oor Tafelbaai waarvoor hulle duur betaal, mense wat ernstige geld gemaak het uit platinum, politiek, eiendom, misdaad en aandele. Hulle is te oud vir die plesier van die vlees, nagritmes en dowwe ligte, hulle wil nie na Ibiza of Antigua nie, hier is genoeg vir hulle tanende behoeftes, met ’n sekretaris, inwonende verpleegsters, sjef en chauffeur (korrek uitgespreek). Arbeid is goedkoper hier en belastings laer. Tussen hulle is die oudpolitici maklik om te herken van hulle dae aan lamppale, maklik om te vergeet, moeilik om te vergewe, minder opreg as hulle honde. Jy sien hulle op die strand loer vir herkenning soos ’n glimlag of miskien ’n groet.

Op die parkeerterrein agter die gebou kom Eddie Fortuin van Goeie Hoop Uitgewers hom tegemoet, en die dag begin. Só begin dit met hulle vervolging, só begin die irritasie. Iets word van hom verwag.

Hy kry nie besoekers nie. Daar is nie meer onderhoude met koerante en radio nie, dít het alles opgehou, en hy is bly daaroor. Jy nooi die mense in jou huis en het geen beheer oor wat môre in die koerant staan nie. Die laaste keer was met ’n joernalis en ’n fotograaf van ’n artikelreeks “Waaraan smul ons skrywers?” vir ’n vrouetydskrif. Hy wou nie deelneem nie. Hy het niks teen eet as natuurlike proses nie, maar is nooit werklik honger nie; as student was hy meesal tevrede met ’n Heineken en kaastoebroodjie vir middagete, en wat meer is, smaak is persoonlik, privaat. Hulle reeksnaam was afstootlik; die allitererende “s” kon bly, die res word verwoes deur hulle werkwoord wat ’n onnatuurlike verhouding met bord en beker veronderstel en assosiasies met ’n gemaksugtige lewe, groot maag en hartvatprobleme. Cornelia het gesê: “Toemaar, man, dis niks”, haar oudste broodplank uit die kas gehaal en twee gesonde snye volkoringbrood, twee wind-droog harderbokkems, ’n beker bier en ’n mes daarop neergesit.

“Ja, dit is ook ’n maaltyd,” het die joernalis met ’n gefrustreerde trek van haar mond gesê, want die boodskap was klaar volledig gedefinieer, wat kon sy daaroor skryf? Enige teks, ’n kursiefgedrukte resep in ’n raam, kleurfoto’s van oumagrootjie se fyngehekelde tafeldoek met twaalfstuk-Spode-servies en gestyfde servette in antieksilwerringe plus die gebruiklike Imari-fles met geel rose, ’n paar byskrifte, alles sou oorbodig wees. Die vis, bier en brood het ’n halfblad-foto geword met ses of sewe soorte vaal, geel en bruin teen ’n diffuse blou-en-wit agtergrond, met ’n klein swart-wit-foto’tjie (twaalf jaar oud, of meer) van hom in die onderste hoek by ’n aanhaling uit In oop water oor ’n seekaptein wat sy rooi vuis in ’n skottel gekookte meeueiers op die kajuittafel slaan: “Nie goed nie? Godsverdomd, bly daarsonder.”

Miskien, dink hy, en kyk see toe, weg van meneer Fortuin, moet hy ter wille van sy gesondheid liewer bier drink in plaas van sy nagtelike Skots-en-damwater. Hy het altyd die geur van goeie Plzner geniet, met outydse heuningbruin gedagtes aan Oos-Europese plaashuise met lae mure onder ’n donker turfdak, ’n koue kamer blou van houtrook, hamme in die skoorsteen, ’n haan op die balk, en kalwers, kinders en die swart melkbok se tweeling in hawerstrooi op die vloer. Maar hier kom weer ’n boodskapper, ’n stem uit die wêreld van mense. Wat soek hulle van hom? Omdat hy die foon in sy woonstel ontkoppel het en weier om ’n selfoon te dra, stuur hulle die bode, en jy kan daarop staatmaak: Hy bring moeilikheid.

Meneer Fortuin bring ’n boodskap en die maatskappy se dagboek en kalender vir aanstaande jaar. “Wat, meneer Fortuin, gaan daar nóg ’n jaar wees?”

In die gebou se agtermuur is ’n soort winkeltjie, ’n venster met tralies, met die gewone rommel vir mense wat hulle by die see verveel, koerante met inligting wat hy nie wil weet nie, bont tydskrifte met gesigte op, ’n rooi koelkas met koeldrank, geel grafies in rooi emmertjies, pette met ’n punt soos ’n skopgraaf, rakke met sonbrandgoed, sakkies met uitskot grondboontjies en rosyne, aartappelskyfies, sigarette, droëvrugte, pakkies glansvrugte (rooi kersies, groen vye, geel suurlemoen, oranje pynappel) besmeer met soet siersuiker in slingerende wit strepe.

“Dit lyk of iemand sy draad daaroor getrek het,” sê meneer Fortuin opgewek.

Nou herinner Fortuin hom aan iets, aan iemand irriterend lank gelede, ’n jongeling in sy gehoor. Hy het sy humeur toe heeltemal verloor. Waaroor was dit? Vergeet. “Hulle kan nie van huis tot strand oorleef sonder eet nie, meneer Fortuin. Waar hulle gaan, móét hulle eet anders vrek almal van honger.” Dan voel hy effens skaam oor sy sinisme. Praat oor iets anders. “Is daar vandag weer voetbal op julle voorblad?”

“’n Baie mooi meisie, op Clifton se strand. Ek koop vir Meneer een?”

“Terwyl die planeet om ons vergaan, verkwis julle nogmaals ’n kosbare voorblad op seks en sport. Hoe gaan ons oorleef?” Hy klink horingoud. Bly liewer stil. Op die stoep loop hulle verby die polisie se blou skets wat lyk asof hy, bang om deur die wind weggewaai te word, met albei hande aan die grys plaveisel klou.

“Dié ou rus al drie maande hier,” sê Eddie Fortuin met ’n lag. “As hy nie huur betaal nie, moet hy werk. Maak van hom ’n visdam of rotstuin.”

Dou-gesprinkelde plastiekpotplante en -blomme het in die voorportaal aangekom. In sy posbus, die middelste een in die boonste van vyf rye, langs die outydse hysbak van donker-bruin kiaat en glas versier met geelkoper, staan ’n liggeel koevert. Die papier is grof, kunsmatig vergeel en grys gegrein om ou ivoor voor te stel. Advertensie, gemik op hom. Hy het niemand om iets gevra nie. Sy korrespondensie is min en uitsluitlik inkomend. Verlede week het ’n kaartjie van NALN in Bloemfontein hom met die verjaardag gelukgewens wat hy anders sou vergeet het, van Goeie Hoop Uitgewers kry hy sesmaandeliks ’n staat wat sy inkomste aandui (tans, geen) en maandeliks geregistreerde briewe waarin hulle sy woonstel terugeis. Daarop antwoord hy nie.

Hy ruk die koevert oop wat veronderstel is om na ivoor te lyk (uitgestote olifantbul, oud, stuurs, lank in die tand, dít dink hulle van hom) en haal die brief uit. ABC Bank is trots om u te kan meedeel dat me. Mandy Masikele-Watson aangestel is as u persoonlike bankier met wie u alle persoonlike (die tweede keer!) finansiële sake soos rekenings, boedel en ander behoeftes (wat het sy behoeftes met hulle te doen; wat weet hulle van hom?) kan bespreek. Bel haar gerus oor enige probleme wat u mag ondervind. Enige probleme. Hy frommel die papier en smyt dit in die geelkopersandbak by die hysbak se deur; as iemand ’n sigaret daarop laat val, sal dit uitbrand. ’n Bank wat trots is. Waarop, op hulle matelose gierigheid? Hy wil niks met trots te doen hê nie, dit is een van die sogenaamde sewe sondes waarteen die ab die seuns in die kapel gewaarsku het.

Die irritasie styg. Wat dink die mense van hom? Trots Suid-Afrikaans. Pseudopatriotiese propaganda om vet politici met duur pakke wat deur nepotisme ’n skuiling gevind het in die kussings te hou en die laaste bloed uit die land te suig. Hulle het gehoor daar is motors en geld en huise in politiek, daarom sit hulle daar soos bosluise aan ’n koei. Enige probleme wat u mag ondervind. Hy probeer sy nuwe persoonlike bankier se naam te onthou en kan nie. In ’n toestand van ligte woede en stygende onrus daaroor stap hy die krakende en kreunende hyser binne – die seelug eet aan die outydse houtkas, sy katrolle en kabels – en vergeet van die glimlaggende jongman langs hom. Die ou masjien ruk geweldig aan hulle, pluk hulle die lug in.

Hy is gedurig in opstand teen die wêreld, halfpad die hel in, besete deur ’n kollektiewe irritasie oor burokrate, parlementslede verkies deur halfgeletterdes wat stem oor dinge waarvan hulle geen begrip het nie, kapitalistiese vandale wat die natuurlike blommevelde in erwe uitmeet en hulle stootskrapers en betonmengers instuur sodat dit dáár nie weer lente sal word nie, klerewinkels waar kleurkeuse tot bruin, geel en swart beperk is, oor die fiets wat hy op advies van sy dokter gekoop het met die groot kabelkrul oor die agterrat en vier-en-twintig verstellings wat hy nie nodig het of verstaan nie. Deur ’n proses van selektiewe wantroue het hy dit reggekry om hom hier te isoleer, te fortifiseer, burokrate te ontduik en ’n beskaafde, individuele bestaan, eenvoudig en amper waardeloos soos dit is, te voer in ’n woonplek van sy keuse. Sy lewe moet uit hulle hande bly. Wees waaksaam, behou afstand, vra geen hulp nie, groet niemand nie anders wil hulle jou siel van jou hê. Wys weerstand, wantrou elke rekening van die munisipaliteit, elke omsendbrief van sy stadsraadslid vir wie hy nie gestem het nie, elke advertensie wat afslag beloof, alle beloftes deur ministers en burgemeesters. Beskou met agterdog elke koerant, glo nie die goudprys nie. Skryf weerstand: Op die metrostasie in Marseille, met ’n trap op, meer as vyftig trappies van onder na bo en op elkeen ’n helderrooi plakker met die groot geel M wat kitskos adverteer, was elke M sorgvuldig met die hand aangevul tot Merde, Merde, Merde, Merde … deur ’n toegewyde konkurrent, ’n nihilis of dieetkundige.

In die woonstel loop meneer Fortuin dadelik op die balkon uit, kyk tydsaam links en regs oor see, stad, strand en horison en kom glimlaggend terug. “Darem mooi,” en asof hy pizzas aflewer, plak hy ’n swart drasak gemerk met Goeie Hoop Uitgewers se naam en handelsmerk, ’n vrou met ’n anker in blou-en-wit, op die geelhouttafel.

Hulle drink koffie, swart en bitter; hy het nie melk of suiker nie. Meneer Fortuin slurp sy warm koffie. “Sterk, swart en bitter,” sê hy met ’n wye glimlag en noem die naam van ’n vroulike politikus wat haar man én kabinetspos in dieselfde skuif verloor het. “Laat ek stilbly,” sê hy. Sy donker oë beduie geheimsinnig oor die baai Robbeneiland toe: “My voorland.”

Voorland. Die gedagte tref onverwags, ’n klap in sy gesig. Spot hy oor wat by die Woordfees gebeur het? Weet die man met wie hy praat?

Dit het begin met die heel eerste vraag, van ’n sleggeskeerde jongeling in die agterste ry. Moontlik ’n eerstejaar wat ’n dosent wou beïndruk, het hy naïef, sonder ’n tweede gedagte, vermoed.

“Ek vra net uit belangstelling, meneer Van der Merwe. Waarom gebruik jy fossiele, woorde soos ‘reede’ en ‘ballast’, wanneer al ons woordeboeke die moderne vorm …”

Verlei deur “ons woordeboeke” het hy gereageer: “Dit vermy verwarring …” Toe stop hy. Amper gevang, daar. “Ballas”, is wat die seun hom wou hoor sê, sy vraag was bedoel vir die vermaak van die grynsende gesigte langs die hele agterste ry. Jy het ’n vuil mond, boet, soos ’n morsige badkamer in ’n gastehuis met ’n witboordjie-adres. Die boersheid het hom geïrriteer. “En dit voorkom ’n idiotiese gegiggel van adolessente manstudente.”

Die voorsitter het geglimlag, gewys: volgende vraag. Hy het nog altyd geïrriteerd gevoel toe ’n man met ’n blinkgeskeerde kop, twee ringetjies in die linkeroor, in die tweede ry opstaan en hees, nasaal en sangerig met dramatiese oorbeklemtoning uit In oop water voorlees: “‘… lavéér onder brám en fók op die vóórland af, ’n skór en ásper kus, boomloos, swart geskroei.’” (Hy onthou hom by die vorige aand se handtekeningsessie, met ’n suikerbekkiegroen hemp en poinsettiarooi broek. Goed dat hy links is; elke been in sy regterhand het nog gepyn na die gelukwensing van tweehonderd, driehonderd entoesiaste.) “Wat bedóél jy hier, meneer Van der Merwe, wat betéken hierdie woorde, wat probeer jy eintlik sê?” Dit was geen stem vir ’n teks oor mense in lewensgevaar op ’n dodelike kus nie. Totaal onvanpas, was sy eerste gevoel. En twee fotograwe het soos honger hiënas voor hom bly sirkel en op hom aangelê: flits, flits, van ver en van naby, voor en langs hom: flits, flits, flits.

Die HGB was ongelukkig oor sy optrede by daardie sessie. “Jy is nie gevra om vir die resensente te preek nie. Hulle wil net jou teks verstaan om dit vir die publiek toeganklik te maak.”

“Dit is nie bedoel vir mense wat nie kan verstaan nie, laat hulle by hulle portuur vermaak gaan soek. Wat is sulkes se mening werd?Aanmatigende akademici, gevange in hulle vak en jaloerse joernaliste wat na ’n seepkis soek. Los die lesers om self te oordeel.”

“Nederiger, Koos. Ek twyfel of die Woordfees jou weer gaan nooi, en daar gaan al ons reklame. Dan moet jy nie kla nie.”

’n Geraamde afdruk, twee meter by een, van In oop water se stofomslag het ’n jaar lank in Goeie Hoop Uitgewers se portaal gehang; wanneer jy uit die hysbak stap was die reusgroot afbeelding van wye deinende koue vaalgroen oseaan, leë tuimelende dynsige ruimte, vormloos en eindeloos soos boosheid self, die eerste wat jy sien. Die titel en sy naam was in persblou onderaan gedruk. Wonderlik was dit, strelend. Met die boek se titel was die een met wisselende toonhoogtes en oorversiering ook nie tevrede nie; dit moes Op oop water wees.

“Is dit wél Afrikaans, meneer Van der Merwe? Kritici vind dit móéilik om altyd positief te wees, wéét u?”

Die voorsitter knik na ’n man met ’n ligblou pak en grys hare vlak voor hulle wat met die bril in sy hand om ’n beurt vra. “Professor Smit?” Hy krap haastig groot letters op papier en skuif ’n nota oor die tafel: Hoof Dept. Afr. U. Stell.

Die professor sit die bril in sy borssak. “Frans Smit. Ek verstout my, meneer Van der Merwe, om te sê dat hierdie woorde vir moderne lesers … hoe sal ek sê … vreemd is, selfs heeltemal duister, en dan wonder ’n mens oor dinge soos of die skrywer enigsins belangstel in kommunikasie met sy lesers.”

Daarop sal hy graag probeer antwoord. “Ek wil kommunikeer. Ek probeer bydra tot die evolusie van die Afrikaanse novelle. Ek glo dit is nodig en belangrik. Maar op my voorwaardes. Ek stel belang in verruiming en verkenning, sonder die kettings van konvensie.” Maar die een met die stemme en oorringe wie se beurt onderbreek is, was nog op sy voete en het opgewonde op sy reg aangedring. “Wát beteken: ‘Die eiland se vlak reede staan versmet van geseilde lyke? En wat is ’n bólkevanger? Ek sien min daarvan in my taal- en woordeboeke.”

Die professor het weggekyk, sy kop geskud. Die gespreksvlak was te laag. Daar was ’n gebrom in die saal, sommige skrifgeleerdes en taalkonstabels was openlik ontevrede, en die kleintjies het gehoop die grotes byt hom dood. Hulle het op die toepassing van hulle standaarde aangedring, op erkenning van die beste moderne opvoeding waarvoor hulle pa’s in goeie trou betaal het. Tot sover het hy hom bedwing. Hy weet nie meer waarom hy daardie mens ingevlieg het nie, miskien uit oormatige selfverdediging omdat hy self onseker was oor die akademiese geldigheid van sy beskouings. Hy moes die man geïgnoreer en met die professor gepraat het. Of het die sinisme, die bitter misantropie hom toe al regeer?

“Andersom! Jy sien min van jou woordeboeke daarin. Koop vir jou ander. Praat met my oor oorspronklikheid, ordening, objektiwiteit.” Dit bly dom om die hand te byt wat jou voer, maar hy was in opstand. “Een spesie wat myns insiens maar mag uitsterf, is literêre kritici en resensente. Ek het hulle nie nodig nie; ek kan self lees en het ’n weersin in teoretiese bespreking. Nou het ons hierdie afrigters wat graag aan die publiek voorsê sodat hulle nie self hoef te lees nie. Soos die Middeleeuse Kerk ontmoedig julle die publiek om boeke te lees of selfs te besit. Die nuwe sensuurraad. Wat is julle nut en bestaansreg eintlik? Is julle wagte wat die kantele van die Afrikaanse letterkunde patrolleer? Moet julle potensiële kopers waarsku teen ’n kat in die sak? Of soek julle goedgelowige onkundiges om julle gewaande kennis op te demonstreer? Parasiete, met ander woorde, wat op ander se werk teer. Julle sien in elke nuwe boek daardie ego-zol waarna julle so smag, ’n kansie om julle ou vaksoldaatjies af te stof en te paradeer. Die ‘intertekstualiteit’, ‘die parodie van dit of dat’. Spaar ons julle bloedlose geleerde disseksies, of as julle moet, doen dit met julle eerstejaars agter ’n toe deur. Julle is vol beterweterige teregwysings, waardelose vergelykings met ander. Wat het ék in godsnaam met ander te doen? Julle soek julle naam in die koerant gedruk, met julle akademiese possie daarby.” Nou was hy Hamlet wat vir Rosencrantz en Guildenstern afjak: Voertsek, gaan speel by julle maatjies. “Julle indrukke is gegrond op julle eie tweede-handse lewenservaring en patetiese persoonlikhede. As jy genoeg resensente genoeg kan betaal, word enige boek ’n sensasie. As julle dit beter as ék kan doen – waarop wag ons? Skryf self.”

“Dit is nie nodig om die vraesteller aan te val nie,” het die voorsitter gesê. “Antwoord net, so goed u kan.”

Hy het na die tafel gedraai, nog altyd gesteurd: “Hoekom weet hy nie wat dit beteken nie? As jy Afrikaans op see wil hoor, gaan luister op daardie glasveselmonsters wat die oseaan stroop van wat daarin lewe en by tienduisende in blokke verys vir uitvoer Ooste toe, vir kunsmis, katkos, veevoer, daardie soort ding. Ligpienk krefies kleiner as ’n baba se voet.” Hy het met voorvinger en duim gewys: “Snotterige viermaande-stokvissies nog sonder skelet, skaars gebore tjokka. Dit is die calamari op jou spyskaart, ingeval jou woordeboek dit ook nie weet nie.”

“Bly by die punt, asseblief, meneer Van der Merwe. Dit is ’n legitieme vraag, antwoord net.”

Hy was nog meer geïrriteerd. “Is ek gehuur om hier les te gee? Wat is sy vraag anders as ’n vertoning van verstommende onkunde? Selfs vir ’n resensent … alles in ag genome.”

Die uitdrukkinglose gesig van die halfgeskeerde snuiter in die agterste ry het woorde in sy gedagte ingeryg wat sy gevoel op die oomblik sou beskryf: Soos ’n jeugdige in sy eerste paring die negemaaltafel agterstevoor opsê om nie met ’n drenkeling se gekerm ontydig te strand nie, bedwing hy hom deur óór die gehoor heen teen die agterste muur van die saal te staar (’n 1930’s-art deco-saal, drie klein langwerpige projeksie-vensters vir 8, 16 en 32 mm-film onder die plafon en twee vierkantige luidsprekers in swart korwe aan weerskant teen die muur) totdat die geriffelde slingerpatrone in die growwe liggroen pleister en in die houtpanele onderom die mure sy aandag oorneem, en hy stadig, stadig afkoel. Tóé het hy gevoel dat hy kinderagtig en kleingeestig was, maar nie vir lank nie. Oor sy vreemde, onverwagte uitbarsting het hy later gedink: Dit is reg, die uitgewery kan Woordfees ’n apologie aanbied as hy wil: Van der Merwe se aggressiewe houding was vir ons ’n verleentheid. Maar nie van sy kant nie, hy was reg.

“Vergewe hulle, meneer Van der Merwe,” het die voorsitter gesê. “Hulle werk maar vir die daaglikse wurgpatat en tee, soos ons ander. Maar waar kom jy aan jou besondere terminologie?” Dit was ’n reddingstou, behendig gegooi, en hy het dit dankbaar gevang. Hy het weer die vraesteller in die gehoor gesoek; hy sou versoenend probeer wees.

“Hoe ek by my seepraat uitkom … Herken u die woord scheepspraet? Nie? Hooft, Vondel. Ek vertaal uit sestiende- en sewentiende-eeuse Nederlands, gewoonlik die Wes-Friese dialek: Texel, Terschelling, Schiermonnikoog. Dan gooi ek iets Kaaps by en roer goed op medium hitte. Afrikaans was nooit ’n seetaal nie; hier was net Hollands en van 1795 af net Engels. As jy Afrikaans op see wil hoor, gaan luister op die banke agter Dasseneiland: ‘Die kroegman kom moun in die wielhuis, hul’t al weer in my bonks gepis, Pa.’”

Hy was dadelik jammer daaroor. Dít was verkeerd; deur tot die student se peil te daal om ’n ontevrede gehoor se guns te wen het hy hom verneder. Dit was beslis verkeerd. Die voorsitter het hom weer gered.

“Pa?” vra hy. Hy klink opreg verbaas.

“Skipper. Schip heer. Sestiende-eeus. Maar dit hoor jy nie meer nie.”

Die resensent van die Sondagblad vra: “Skeepsname, meneer Van der Merwe, kry die bepalende lidwoord ‘die’ voor, so sê die reël: Dié Alabama … kom byvoorbeeld oor die see. Maar jy praat hier van Tijger en Burcht van Leiden asof hulle honde is.”

“Of perde. Só was dit toe my stories gebeur het. Vir seevolk was daar geen reëls nie. Mense het net gepraat, min kon skryf. Reëls was daar nie.”

Die man van die Sondagblad wys ’n dik groen boek. “Daar bestaan nou reëls.”

“Ek weet nie wie julle handboeke en woordeboeke en spellyste opstel nie. Gebruik hulle wanneer en soos jy wil. Ek gebruik dit nie; my gevoel is hulle is onbetroubaar, misleidend. As “skip heer” destyds goed was, het niks gebeur om dit nou sleg te maak nie.”

“’n Komitee van die Akademie …”

“Nou, hoeveel matrose was in daardie komitee?”

“Jou lesers is blykbaar tevrede,” paai ’n dosent van ’n noordelike universiteit. “Hulle word deur die misterie betower, soos ek.”

Moontlik was dit so. Maar die populêre pers was nie oortuig nie; die populêre pers, die dagblaaie en tydskrifte en wat destyds nog radio was, het gewerk uit ’n boek met clichés waarin ankers gegooi en seile gehys word. Nee, verduidelik hy met nadruk: Seile en ankers is láát vál; ra’s is gehys, nie seile nie. Behalwe in bote, langsgewys getuig. En hulle kyk hom aan asof hy dit uit sy duim suig: Wat is dit tog met Van der Merwe, bestaan sulke woorde dan nie net in storieboeke nie? Reëls word dan juis as gids vir storieboekmakers en joernaliste neergelê.

“Professor Smit, wil u voortgaan?” vra die voorsitter.

Maar hy het nie gewag nie. Hy het sy tas geneem en uit hulle saal geloop. Cornelia het by haar vriend, die buurman in 5F wat skryf asof hy klipmure stapel, gehoor wat by die Woordfees gebeur het. “Die liewe mensdom doen dit aan my ook, Koos,” het sy getroos. “Hoe kan enigeen hom handhaaf anders as met ’n soort aggressie?”

Die man met die stemme was nie tevrede nie, hy ook wou hom handhaaf. Hy het na sy huis toe gegaan en hom maande later aan ’n resensie oor In oop water gewaag. Toe was Cornelia nie meer daar om hom te troos nie.

Wat dwing hulle daartoe om hulle pretensies te paradeer, om neerhalende openbare uitsprake oor ander se werk te doen, om onvergelykbares te vergelyk, vals voorstellings te versprei? Is dit uit frustrasie oor hulle eie steriliteit?

“Meneer is stil.”

Hy skrik; waaroor het hulle gepraat? “Jy het gesê ‘voorland’.”

“Daar,” sê Eddie Fortuin, druk sy polse teen mekaar om boeie voor te stel en beduie na Robbeneiland. A, figuurlik; verwysend na die tronk op daardie arme eilandjie kort voor die horison, met sy geërfde probleem van politieke misbruik soos lewenslange verkragting. Hy het vroeër aan die eiland gedink as die Kaap se mooi dogter in die beskermende arms van haar ouers, die berg en baai: eers was sy onbeman en onbereikbaar, haar wit duine en dale oortrek van kleurige lenteblomme en met die omringende see en winkende oorkantse wal helder sigbaar van enige van haar skraal hoogtes. Isla Cornelia was haar eerste naam, dieselfde as sy vrou s’n. Nou wou hy die aanhoor van meneer Fortuin se boodskap, die rede waarom hy hierheen gestuur is, so lank moontlik uitstel.

“Weet jy, meneer Fortuin, my vrou se groep … Sy was een van Kirstenbosch se span wat elke jaar die goue medalje vir inheemse tuine in Chelsea gaan haal …”

Hulle het ’n naam gehad: Weskus Botaniese Vereniging, geaffilieer by die Nasionale Botaniese Vereniging, by die Departement van Natuurbewaring geregistreer as vrywillige, niewinssoekende bewaringsorganisasie. Hy hoor hulle nou gesels en lag om dié geel tafel gestapel met lêers, teekoppies en koek, twee vroue, twee van onsekere geslag en twee mans; hulle entoesiasme, kennis en energie vul die huis en brei oor die hele provinsie uit. “Hulle het hard probeer dat die eiland geproklameer word tot ’n natuurtuin van kusfynbos. Die potensiaal is daar vir ’n tweede Kirstenbosch, in die middel van Tafelbaai.”

“Vir die mense?”

“Ja.” Vir die verkwikking van stedelinge, waarvoor die hele land nou so ver soos Namakwaland ry, en ’n leerskool vir nuwe botaniste. Hulle het aangebied om dit te befonds en saam met die Nasionale Botaniese Vereniging te ontwikkel. Toe hulle hoor die laaste gevangenes is daarvandaan verwyder, en ’n verandering van regering word ’n moontlikheid, was hulle hoopvol dat Gevangenisse ook die eiland sal vrylaat. Hulle dag het eindelik gekom.

“Dit was ’n mooi gedagte gewees.” Dit klink of meneer Fortuin belangstel. Hy is ook ’n stedeling van geboorte af. “Hoe sal so iets dan gekom het?”

“Neem meeste van die geboue weg, die teer en beton, heinings, die honderde pale en paaltjies, tot die mens se spoor verdwyn. Neem indringerplante weg, maak die eiland kaal en skoon soos hy gebore is. Dit duur jare, dan bring jy die natuur terug. Kirstenbosch het materiaal beloof … Ek kan hulle hele lys vir jou opnoem, ek het dit help uitsoek.” Swaar olifantsriet, fyn sonkwasriet en slanke dekriet – dit is die harubis waarvan die ouvolk matjieshuise gemaak het oor ’n taaibosraam – pers elandsvy, geel suurvy, soutslaai, soet salie, rooi gansies, maartblom, melkbos met sy heuningreuk in die lente … Dan veldkos, al die eetbares, lekker veldkool, kraaibessie, tamarakka en koekemakranka, pienk bokelsie en wit melkelsie, uintjies om te kook soos die ouvolk gedoen het, en breë tapyte van krytwit madeliefies en bloulelies en plate rooibont bokbaaivygie, kwistig in sanderige ooptes tussen slaaibos en hondebos. En skoenlappers.

“Wilde diere?” vra Eddie Fortuin, belangstellend. Willegoet?

“Sekerlik. Diere moet jy terugbring, dinge wat daar vroeër was soos skilpad en akkedis.” Twee soorte muishond, duinemol, bruin molslang, streepmuis. En die hotnotsgot en heitsi-eibib. Op lente-oggende sal jy daar kan hoor sing tarentaal, bokmakierie, katlagter, geelsysie, fisant, janfiskaal, rooibruin bontrokkie en streepkop, uil, kiewiet en klap-klappie, groen suikerbekkies, ’n hele koor. “Het jy al voëls met dagbreek hoor sing, meneer Fortuin? Dit is mooi musiek. Engele.”

“Ek ken nie daai nie,” sê Eddie Fortuin. “Ek is van Bonteheuwel.” Bontieville. “Daar’s nie meer voëls nie. Ons moet maar …” Hy kyk weg na die ver horison.

Ons moet maar na prente in boeke kyk. Wrokkige politici het Cornelia se ideaal, haar stapels gemotiveerde versoeke, tot niet gemaak soos jy ’n wurm doodtrap. Hy onthou hulle komiteetjie om ’n koerant by hierdie geelhouttafel, die ontnugtering toe hulle lees dat die nuwe regering die eiland verdoem het tot nasionale sondebok, die Auschwitz en Dachau van die vorige regering, sy Siberië (nié Siberië nie, dit is Russies) waar goeie demokrate onskuldig gekerker is. Almal het gehoop ’n nuwe regering sou ruimer van gees wees. “Hulle sal nie hulle arme gevange slavin – geboei deur ideologie en deur die luise van haat gevreet – vrylaat nie; hulle hou haar om daagliks te misbruik. Dit word nóg ’n sleg versorgde apartheidsmonument en propagandakantoor van die Party,” het hy bitter in Misrule geskryf. “Die indoktrinasie begin reeds op die veerboot.”

Hy voel sy onvriendelikheid terugkom. Hy kyk na meneer Fortuin se beker, of hy klaar gedrink het, en gryns stroef na die bode. “Ek hou nie van politici nie, meneer Fortuin. Hulle het ’n fascis van my gemaak. Ek kla nie oor verandering nie, maar oor verlies. Ek voel sleg wanneer ek na verlore drome kyk.” By die regering is hy om meer as een rede in onguns, maar hy het geleer om nie oor hulle te praat nie en kry dit goddank reg om selde aan hulle te dink.

Eddie Fortuin rits die swart sak oop en haal ’n almanak uit met ’n foto van Tafelberg en Kaapstad (soos hy nou deur sy stoepdeur sien, maar veel weliger gekleur), en ’n vet swart dagboek met die vrou en anker in blou-en-silwer voorop gedruk. “Dié is van ons. Almal stuur vir Meneer groete en wil weet hoe dit gaan. Hulle sê Meneer moet kom kuier.”

Moet hy die kalender vir volgende jaar neem, met elk van die twaalf bladsye in dertig of een-en-dertig blokkies gekap, genommer, genaam? Party blokke is gekleur om gebore luiaards in te lig: vakansiedae.

“Nee dankie, meneer Fortuin.”

“Die dagboek?”

“Nee, dankie.”

“Ons het verwag Meneer sal so sê.” Hy haal nog iets uit die sak, ’n skottel met ’n deksel in ’n blou-en-wit doek oorhoeks geknoop, en sit dit in die middel van die tafel neer. “Ek het gisteraand iets lekkers gekook. Bobotie met rys.”

“Meneer Fortuin, ek is nie ’n siek kind in ’n hospitaal nie. As ek vir jou sê los my en my sake uit, gaan jy seer voel.”

“Ons verstaan. Maar Meneer is een van ons. ”

“Ek wil nie aan bedankings dink, of onthou watter gunste ek die en daardie moet vergoed nie. Ek wil my kop leeg hê van sulke dinge. Moenie sê dat julle verstaan nie.”

“Ons was maar so. Van altyd af.” En toe hy nie daarop antwoord kry nie: “Ek laat die skotteltjie hier staan, miskien word Meneer lus daarvoor as die lug vanaand koud word. Die Direkteur: Finansies vra wanneer dit vir Meneer geleë sal wees om hom te ontvang?”

En dit is dan wat hy geword het, of besig is om te word. Al wat hy het om die grense van sy wêreld te verdedig en hom teen indringers te verset is onbeskoftheid en ’n ongeneentheid om goedheid te aanvaar. Dit is die grimmigheid van ’n kort-gekettingde hond: Moenie my kop streel nie of ek byt jou hand af. Waarvandaan kom sy woede, is dit uit vrees, selfbejammering, of is trots sy siekte se naam? Maar hy sal Eddie Fortuin om verskoning vra, want om ’n boodskapper te beledig is ’n lelike teken van boersheid. Een eenvoudige, onskuldige woord het hom hier oor ’n afgrond van negatiewe gedagtes gedruk: Voorland. Hy het net ’n oomblik gemymer, ’n rukwind, skipbreuk. Daarná was dit verdriet oor die arme eiland, die regerende politici se daaglikse prostituut, wat hom geïrriteer het. Hy gee nie om nie. Die afspraak met die Direkteur: Finansies is gemaak vir oormôre, namiddag, tot dan sal hy ’n soort verdediging voorberei en soos ’n rooikat in ’n slagyster wag op die koeël. Hy moet in geen opsig toegee en geen verpligting of afhanklikheid aanvaar nie. Byt terug.

Hy sit in sy leunstoel met sy verkyker op sy skoot. Hy het verkeerd gedoen, te ver gegaan. Soos die vorige keer, by daardie Woordfees. By sommige akademici ontbreek dit aan ervaring. Nie geleer swem nie, en boekgeleerd bly klou hulle aan die reddingsgordel, die geërfde resep, soos huisvrouens hul mans in hul graf in kook uit Kook en geniet. Hy was verkeerd. Om met resensente te argumenteer is soos om met prostitute oor hulle gedrag te praat. Maar die ene destyds, met In oop water – ’n deeltydse dosent nogal, het hy verneem, die gode behoed sy arme studente – sy resensie was ’n web van veralgemenings en verkeerde afleidings, totaal subjektief, egosentries, ’n daad van openbare selfbevrediging waarvoor ander sou skaam wees.

Verwag dit soms, Koos, sou sy vrou sê. Jy weet al, nie alle grond is vrugbaar nie, en jy ken die verhaal: ’n Saaier het uitgegaan om te saai … ’n deel het op klip geval en gesterf. Die een met die stemme wou die tweegeveg voortsit, met sý wapens, op sý tyd en gekose terrein. Die aanslag was uit ’n donkerder, verskuilde en totaal onverwagte hoek: In oop water was ’n historiese roman en vervelig. Sy resensie het soos ander misdaad uit drie fases bestaan: bekruip, val aan, verdwyn in die agtergrond. Moedswillig en berekenend het die man begin deur te vertel wat hy op Google oor die onderwerp van In oop water kon vind en voorgegee dit was eie kennis, al het die reuk van Google se wegneem-kitskombuis daaraan gekleef. In die tweede deel het hy die boek opgesom (nou hoef niemand dit te koop nie) en waardelose tematiese vergelykings gemaak met meer as driekwart van sy vorige boeke. In die derde deel het hy toegeslaan: In oop water is gekategoriseer: Historiese roman, was die diagnose. J. van der Merwe is moontlik beter bekend by lesers van jeugverhale, sy bydrae tot die letterkunde bestaan slegs uit twee byna onleesbare historiese romans. En nie vir hóm nie, dankie, hy moes op skóól sulkes léés, en hulle vervéél hom tog só. Van der Merwe se veelvoudige afwykings van die genre historiese roman is uitgewys as veelvuldige tekortkomings. Maar die vervéling, o die vervéling, nee, nie vir hóm nie, dánkie. Hy het sy resensie aan die dagblad vir tweehonderd rand, miskien twee-vyftig verkoop. Die goedkoopste prostituut gee moontlik meer waarde vir minder geld.

Die aanval het lank seergemaak, want dit was aanranding deur ’n onbekende en onnosele mindere. Uit watter krake in die keldervloer kruip sulkes met die kakkerlakke saam boontoe? Die onkundige uitlatings in die openbare pers was neerhalend, maar bowenal beledigend was die skok van persoonlike aantasting deur ’n mindere. Verveling! Is dit nie genoeg om te vergewe, te lag en sê dít was dan die deel wat op klip geval het nie? Hy kan nie vergewe nie omdat hy nie weet hoe nie, maar hy kan verstaan. Wanneer daar ’n gusmaandkat op sy dak kom sit en kerm, kan hy verstaan. Sy kan dit nie help nie.

In die namiddag kom die Niksnut uit die lae branding met haar plank onder haar arm; ’n mooi kind, agtien of twintig jaar oud. Hy hou haar deur sy verkyker dop. Niksnut, het die Heel Groot Baas haar genoem toe hy die eerste keer hier op sy sending was. Die HGB staan die dag hier op die balkon met sy sigaret, hy kyk oor die see, sien die swart strepie daar ver, tel die verkyker op en stel dit voor sy oë.

“Die niksnut lê waaragtig heelmiddag op dieselfde plek. Te veel geld. Ons het weer ’n oorlog nodig.”

Het jy jouself gehoor, meneer Opperman? Weg met Stalins, Mao’s, Hitlers, hulle volgelinge en obsene nagedagtenis.

“Ons het nie oorlog nodig nie.”

“Beskawing het behoefte aan soldate, Koos, ’n gedissiplineerde garde om ons te beskerm teen die aspirasies van despote en die mensdom se erflike swakhede soos eiebelang en gierigheid.” Die HGB lyk tevrede met homself, hy rook en praat oor oorlog. Besef hy dat hy ’n staatsgreep goedpraat?

“Ek het nie daardie probleem nie.”

Die HGB soek om hom vir ’n asbak, druk die sigaret op die stoepmuur dood, skiet sy stompie met sy middelvinger van hom af weg die ruimte in, en vermaan, kavalierstyl: “Jy bestaan in die verlede, Koos. Jy sonder jou af in ’n huis bevolk met gestorwenes. ’n Man kan nie sonder ’n vrou nie, jy maak ’n klug van die lewe. Jou gees kwyn. As daar met sonsak nie ’n vrou binne die drumpel is nie, is dit nie ’n huis nie. Erger: jy kort ’n dokter. En as jy nie liggaamlik siek is nie, kort jy ’n sielkundige.”

O gesalfde Salomo, u is herrese.

“Jy moet ’n vrou vat.”

Wie s’n sal ek vat? Sal ek op sy kussing met haar lipstiffie skryf, Lochinvar was hier?

Die HGB soek sy sigarette, skud een uit, steek dit aan (hy het ’n kunsie om alles net met sy regterhand te doen, asof hy moedig, argeloos selfs, met ’n ou oorlogswond omgaan), en hervat sy preek. “Miskien is jou probleem eenvoudig ouderdom. Eers was jy ’n ster, vandag is jy meer soos ’n komeet: Jy kom heel selde. Hahaha. Jammer, dit is natuurlik nie ’n grap nie.”

So is slegte maniere, bemoeiing met ander se sake, besoedeling. Opperman het hierdie kamer blou gerook, die stank was dae lank hierin. Iemand ná Cornelia; verwag die man dat dit dieselfde gaan wees? Jy word geheg aan ’n gesig en ’n persoonlikheid. Wie anders kan blomme in seesand laat groei, wie sou wil probeer?

“Of vat meer as een, soos jou buurman, die man met die Mustang. Daardie kêrel is so gereeld soos die twaalfuur-kanon. Goeie Hoop se steunpilaar.”

Hy tel weer sy verkyker op. Sy is lank, slank, jonk en los, die naamlose Niksnut, sy skud water uit haar kort bruin hare, haar nat neoprene-pak blink van son. Sy loop op kaal voete strandop met haar blou-en-wit plank onder die arm. Tussen geboue draai sy in die skaduwee weg; daar agter is dalk ’n motor en iemand sal haar oplaai en huis toe neem, iemand wat daglank verlang het om haar te sien terwyl sy op haar plank wag op wind en deining sodat sy saam met die brander kan opstaan en die wilde wit perd strand toe ry. Sy is elke oggend hier, sy wag geduldig die somerdae om. Maar die klimaat is aan verander, daar is deesdae selde genoeg sterk wind om vir haar groot branders te maak. En dan, wanneer die klimaat verander het en sonskyn soos die reën ook giftig geword het, sal sy nie meer kom nie. Ook weg.

Hy kyk haar agterna. Leef sy soos die lewe behoort te wees? Want die aardbol is groot gemaak, en meesal see. Sy doen niks, gaan waar sy wil, vra waarskynlik niks, die posbode het geen adres vir haar behalwe Tafelbaai nie, die Ontvanger van Inkomste ken haar nie, geen familie hou tuis die horlosie dop nie, sy lê stil en wag op die goue kans terwyl sy haar skippie gereed hou vir elke verandering van wind en gety wat haar in blydskap vorentoe sal dra, soos Shakespeare beloof het. ‘Niksnut’ is ’n kru, paternalistiese beskuldiging, heel moontlik uit afguns. Miskien dink ons HGB dat sy te onafhanklik is, veels te vry, miskien heeltemal vry van enige werkgewer, pa, man of kêrel. Geen gesagsfiguur in sig nie, en dít pla die HGB,’n mens uit herwinde karton geknip en afgewit. Sy is daglig, sy is hoop. Miskien is hy self nog romanties. Onder die koue rommel en puin van sy hart is miskien iets oor soos die spoor van ’n tuin, soos donker vlekke in woestynsand waar vroeër vreedsame en vrugbare oases was.

Miskien is haar naam Elisabeth, dink hy, soos sy dogter s’n was. Hy hou die verkyker op sy skoot met sy oë toe teen die flikkering van die see, terwyl vele assosiasies deur sy kop fladder en tuimel soos malgasse oor ’n skool sardyn. Eli-s’a-beth: God regeer die huis. Heilige Elisabeth, moeder van die Doper, beskermheilige van bakkers. Die Elisabethsvloed van 1302 (vier dae van storms en wind wat die see oor duine en dyke jaag, Noord-Holland verdrink en die Suidersee skep). Elizabeth Tudor wie se klinkerryke naam soos ’n uithangbord die boustyl en letterkunde van haar tyd benoem. Hoe kry jy dié sierlike naam ooit manlik gemaak? Elisabeth Kübler-Ross, sielkundige wat vyf stasies van rou benoem het: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie, aanvaarding. Laat ander dit glo; hy maak hom daarvan los, hy is nie ’n rot in ’n laboratorium nie.

Vir Elisabeth Kübler-Ross kan hy ook iets vertel oor haar stasies, soos dat tussen stasies daar haltes is met name soos Verlatenheid wanneer jy nie kan slaap nie en Verlamming waar die verstand nie die hande kan beweeg nie, en Dwaal waar gedagtes soos treine tot stilstand kom en nie ontlaai of herlaai word nie en al die masjiene en hul spore verroes en vergaan. Dít weet Kübler-Ross ook nie, dat stasies kan groei tot hulle een groot werf van roes en stilstand word. En moet hulle name hê, net soos Noupoort, De Aar, Pofadder, Drag-hoender en Putsonderwater? Het Kübler-Ross in daardie verlatenheid nie ’n mens gesien nie, op haar knieë, tussen blomme? Iets mensliks, het die kabouter gesê, is meer werd as die wêreld se kennis. Het hy nie?

Frolich sal hier kom en In oop water van die rak haal. Hy hoor hom reeds lees (hy lees graag hardop, hy het vroeër ’n boekeprogram by die SAUK gehad): “… die skerp salpeterstank van verrotte vis uit pekelkuipe halfvol reënwater tussen vergane tafels, in oop vishuise onder lae, muwwe houtdakke al langs die slymerige kade af, waar maer straatkatte in die koue skemer aas en paar.” Om die spykers van verwyt in te slaan sal Frolich aan hom voorlees, dié halfbladsy oor die IJ-front van Amsterdam, op ’n moderne stadskaart van Kattenburgplein al langs die Prins Hendrikkade tot Centraal Station en die Damrak, soos dit vyfhonderd jaar gelede gelyk maar geen oog dit die afgelope eeue gesien het of in komende eeue weer sal sien nie. Met sy verbeelding het hy dié stadsdeel afgeskil en weer herbou. Hy alleen was die ingenieur wat moderne geboue inplof, teer en beton optel, tot die honderde bruin hutte op heipale, stinkend van mens, stomend van vis en kool, skoorstene rokend met die muwwe geur van turf weer daar staan, die gevaarlike smal straatjies diep van besoedelde modder, en die Dam opnuut vol breë, bruin gragvaarders, ’n woud van maste en opgegeide seile.

Dan, op ’n wintersnag, klim ’n man met ’n swart teerseil om sy skouers ’n leertjie voor een van die hutte af en loop op houtskoene in die fyn reën weg met ’n seekis op sy skouer. Weg van justisie, weg van sy lewe, weg langs die kade waar plat bruin ligters dig gemeer wieg langs die steiers, al langs die seefront waar die teringagtige Saterdagnag-prostitute vra om met peper of tee betaal te word. In sy kis is stuurmansgereedskap wat van hom ’n beter skipheer en slegter mens gaan maak, en dik poolklere, want ’n ver reis het voorgelê. Amsterdam se lug met die reuk van turfrook, suur bier en pekelharing hang nog swaar en grys laag teen die grond, maar jy asem ook smake van nuwe dinge in, tobac, kaffee, karri. Poele reën op die kade weerkaats donker piramides gestapelde haringvate met geel verf op die deksels gemerk vir uitvoer, toegemaak onder seile, wit en groen gevlek met die nat mis van seevoëls. Die sekelmaan is skaars ’n ligvlek in die newels; dit is ’n goeie nag vir wegloop.

Van daardie skemer toneel, afgesluit aan die regterkant deur ’n groen haringkar onderstebo teen ’n meerpaal gestut in siftende reën, met die klam koue en stinkende modder, was hy alléén historikus, argeoloog en restoureerder. Met vlugge vingerwerk het hy alles in minder as vyftien minute opgerig. Hoe het hy dit destyds reggekry om een vinger vroeër, ’n ander een later te beweeg?

Wat die toneel gedurig terugbring na hom, is ’n vrou wat dié nag in die hut agtergelaat is (sy verskyn eers later, as ’n kadawer op professor Hammel se dissekteertafel) want sy het onder eed gelieg om haar ongebore kind saam met haar te laat sterf en nooit mens te word nie, om nie die sugte, sukkel, siektes en sonde van gees en liggaam te erf nie maar met ’n sneeuwit siel te gaan waarvandaan dit gekom het, soos ’n onafgelewerde brief, adres onbekend. Want daar bestaan ’n gees, al kan niemand dit sien nie. Of so sê hulle. Dit het Hammel lewenslank bekommer.

Regoor sy woonsteldeur lê Gawie se wit seiljag voor die sakkende son geanker. Die jag se naam is Suidoos; Gawie en sy vrou drink waarskynlik sjampanje of koel wyn en kyk hoe die son vir die eerste keer dié dag die diep kloof agter Duiwelspiek verlig. Net ’n uur lank, dan styg nag uit dieselfde klowe; dit styg, dit daal nie soos in stories nie, dit sypel op uit die grond, versamel in holtes, vorm poele, word enkeldiep, dakdiep, spoel bergaf oor Vredehoek en die Tuine, oor die stadskom se strate, lamppale, dakke, af oor die dokke, uit oor die baai en die skepe en die eiland, dieper en donkerder tot die lug daarvan vol is, en op tussen die sterre in. Nag kruip in almal wat daar woon van buite af in. Dink aan dood: Hy is nie van jou nie, hy sluip van buite af in, hy is ’n inbreker, ’n sluipmoordenaar.

Onthou, Koos, het die Heel Groot Baas hom vermaan, dit was nie die dood wat by jou deur ingekom het nie, dit was die lewe, en jy het nog die tuin van herinnering. Ja, dankie vir die preek, Opperwese, gee my kapittel en vers in die vorm van ’n uitgebreide voetnoot wat na verskillende betroubare alternatiewe bronne verwys en leen my tog jou sakdoek. Ek kry veel meer troos met minder pretensie uit ’n halfbottel Skots.

Sy vrou wou nie sonder ’n blomtuin lewe nie. Sy het hier in die duine voor die gebou tuingemaak en dit reggekry om die rou seesand te tem. Soms is haar plantjies toegewaai sodat jy niks bo die sout wit sand sien nie, of duinemolle ruk alles onder die grond in. Dan begin sy weer: suurvy, elandsvy, melkbos, soutslaai, bietoubos, sonkwasriet, gousblom, pers vygies, bloedrooi gansies. Die eienaar wou nie ’n pyp vir ’n kraan soontoe aanlê nie en sy het haar plante elke dag met die hand natgedra, “natgegee”, het sy dit genoem. Hulle het gegroei en vir háár geblom, wit, geel, pers, rooi, goud, nog meer wit en geel en pers. In die lente het mense kom kyk, soos mense Namakwaland toe ry om te gaan blomme kyk.

Sy was vreesloos oor blomme. Sy het op ’n lente-oggend ’n korps munisipale stormtroepe, geharnas, gehelm, toegerus vir vernietiging, ’n uur lank staande gehou waar hulle begin moor het onder ’n moedige gemeentetjie skitterwit madeliefies met goue krone wat naby die sypaadjie geplak het, om hulle met die brute geweld van ses Weedeaters wat honger grom terwyl hulle laag oor die aarde skeer soos aanvalshelikopters van die gras af te maak. “Dees is wheets, madam, de four man order us, I mus’ cut him.” Later, waar sy pleit, het ’n geel bakkie aangekom wat oranje flits en ’n vangwa wat blou flits met twee blaffende swart honde agterin; albei voertuie het bygestaan met deure wyd oop en die lug krakend van kortgolfradio in onverstaanbare burokraties, in beraad met hoër pette en meer gekleurde plastiek op die skouer. “I mus’ cut him. Four man she order us.” Wie kan wen teen institusionele boewery? Sy het woedend tuis gekom, in trane (sy moes suiker inneem vir haar lewe) om die Stadsraad se Parke en Tuine te probeer skakel, maar niemand het meer telefone geantwoord nie. Sy het besef die wêreld waarvoor sy leef bestaan nie meer nie.

Eendag is sy net oorlede. Net oorlede, Cornelia. Hy sou die oggend gaan om haar by die hospitaal te haal, toe bel hulle hom. Skielik, aan ’n nosokomiese infeksie. Iatrogeniese probleme. She left lonely for ever the kings of the sea. Arnold. Hy,’n teësinnige geleentheidsdrinker, het ’n week lank elke dag ’n bottel whisky uitgedrink; by haar begrafnis was hy die enigste wat gelag het. Eric en Elisabeth was hier, Tilla het in Stevenage by vriende gebly. Iatrogenies, nosokomies: Twee nuwe woorde en ’n waardering vir die bottel is wat hy van dié duur lewensles oorgehou het. Haar bokbaaivygies, rietpolle, wit gousblom en geel en pers magrietjies bestaan nie meer nie.

Die sonondersee skitter rondom Gawie se jag, deur die verkyker lyk dit of die fyn wit sloep op ’n kussing van diamante en silwer lê. Gawie en sy vrou sal nie daarvan weet nie, vir húlle lê die blink veel verder wes, horison-ver. Hierdie stil dae kom hulle laatmiddag stadig met die ligte landbries uitgeseil op amper rimpellose water om agter die buitenste boei, teenoor hierdie woonstelgebou, te anker. Daar geniet hulle die sononder met droëwyn, iets om te eet en musiek, die twee van hulle; later skakel hulle navigasieligte en ’n enjin aan en gaan weer die hawe binne en huis toe, tot môre.

Dit word laat, die sonlig kom horisontaal binne en vul sy kamer. Oor ’n paar maande sal dit ook verander, die son sal noord skuif en op ’n ander plek ondergaan, die wind sal verander, getye sal met die ekwinoks hoër opkom, uiteindelik sal die branders skuimend oor hierdie duine stoot. Erken ook, Koos, dat jy die dinge soms nie oplet nie? Dit het vir jou so alledaags geword soos koerante. Dink daaroor of jy nog dié plek by die see verdien waar die aandster en ’n sekelmaan soms ingehaak oor die horison hang. Maar jy sien nie meer die majesteit van sononder nie en stel jou nie meer die draaiende aardbol, twee-derdes see, ’n blou-en-wit eiland in die donker heelal, voor nie. Jy word blind daarvoor.

Hy wag op die skemer wanneer die son oor die wit jag ondergaan. Hy haal whisky uit sy kombuiskas, stort sy glas halfvol, tap kraanwater by, skroef die bottel toe en stoot dit weer weg tot ver agter in die kas. Dit is die uur vir nostalgie, sentiment, selfsensuur en matige dronkverdriet. Die uitgewer het ’n afspraak gemaak. Oormôre kom die Direkteur: Finansies, ’n soort verheerlikte boekhouer, op besoek; dit is tyd vir onderhandelings met die vyand, of anders is daar oorlog. Hy weet wie sy teenstander is en waarteen hy hom moet verdedig: persoonlike aanvalle, terrorisme teen sy integriteit. Dit is nie hy wat oorlog gesoek het nie. Hy erken sy aandeel aan die toestand waarin hy hom bevind, maar aanvaar nie skuld daarvoor nie. Dit is verkeerd. Kan hy hieroor huil?

“Ons kan vir jou daagliks ’n koerant laat aflewer,” het die HGB aangebied.

“’n Donkie sal dit meer waardeer.”

“Dit is nie nodig nie, Koos. Werklik, dit is nie nodig om gedurig snedig te wees nie. Jy bereik niks daarmee nie. Aanvaar dit net.”

“Ek kan nie deur ’n vergrootglas tik nie.”

“Daar was blinde skrywers. Homeros, Milton het dikteer, het hulle nie?”

Die HGB het ’n vaderlike vinger gewys: “Jou probleem is skrywersblok. Totaal. Dig soos potklei.”

Hy sluk diep uit die glas en staar uit sy stoel na die verdonkerende horison terwyl hy wag dat die alkohol aan hom begin werk. In die huidige ekonomiese en geestelike omstandighede benodig hy, waarskynlik ander ook, slim strepies en letters soos braille agterop elke bottel gedruk, soos die wit Plimsoll-lyn op ’n vragskip se romp wat oor lading waarsku, strepies wat sê: P vir proe, S is slukkie vir die smaak, MS is een metrieke sopie vir die amptelike geleentheid, OD vir outydse dop vir somber sononder, ¼, ⅓ of ½ vir die kwart, die derde en helfte van jou bottel, LD is een loopdop, SD is ’n slaapdop, PVW is Padvervoerwet se perk, MF jou mediese fonds se toegelate kwota vir lewerprobleme. So weet jy waar jy staan met Bank en Gesondheid, openbare vyande nommer een en twee.

Hy sluk twee maal van die lou, liggeel mengsel in sy glas. Vroeër het hy die ruimte en tye van sy lewe met iemand gedeel, nou het hy hier van alles te veel. Te veel leë ruimte, te veel tyd, hy kry nie sy nagte om nie en weet nie wat om met sy dag te maak nie. Werk, eet, slaap, die prosesse van bestaan, het nie meer sin nie. Hy het geen lus om ’n nuwe manuskrip te begin nie, sy verstand is leeg soos sy versmorende, doellose lewe in hierdie onnodig lang dae. Die whisky begin fluister en sing in sy kop, die inersie voel soos ’n positiewe krag, ’n bevryding uit die liggaam se tronk; iets goeds soos ’n tydelike selfmoord.

Aandete, dan. Wat, in die naam van die Vader? In die kombuis sit hy ’n eier en ’n aartappel in ’n pot en kook hulle terwyl hy na sy stoel teruggaan en ingedagte voor die venster sy whisky en water drink tot die pot droog gekook het: een oneetbaar sag en die ander onsmaaklik hard. Dit gaan baie werk kos om die pot te skuur, makliker om dit weg te gooi. Hy laat val sy pot en kooksel in die vullisblik, sny brood, sny nog een vir môre, skep grondboontjiebotter met sy vinger uit ’n fles en smeer dit oop, gooi die orige skimmel brood weg en eet staande by die opwasbak in die kombuis. Roosterbrood en Skots, notre pain de chaque jour. Hy skink nog ’n halfglas, tap water by, stoot elke keer die bottel weg tot diep agter in die kas, en verafsku sy ete.

Buitetoe. Uit op die balkon om na die stand van die sterre te kyk. Stuurman! Hoe staan die nag? Hy het dié plek, hierdie wye horison werklik nodig, hy voel hy verdien dit. Hy was by San Giustino, tussen Città di Castello en Sansepolcro om die seesand tussen sy tone te voel waaroor die jonger Plinius geskryf het: Die see en strand hier is ’n sterk inspirasie. Wanneer ek by my Laurentium skryf, gebeur dit altyd … Dit is ’n setel van die Muse; hier praat hulle met my.

Sy muse het hom verlaat, jonk oorlede.

Op die elektries verligte plaveisel, vier verdiepings onder, is die blou omlyning wat hom herinner aan die afgietsels van slagoffers in die strate van Pompeji, almal só gevang in die patetiese houdings van hulle sterwe. Wat, as hy self daar onder lê as ’n buitelyn met al sy probleme opgelos? Hy draai weg van die dounat balkonreling af. Lewend sal hulle hom nie vang nie. Hy is bang om te slaap, die nag word te lank. Hy sal versigtig wees om nie die lig te vroeg af te skakel nie.

Op die tafel langs sy bed is sy leeslamp, die vorige nag se glas water met stof op, sy bril, twee bundels kortverhale (Met beste wense aan Cornelia van Bart Zaayman) waaruit boekmerke steek, papier en potlood. Want hy sal wakker word, in die donker miskien een of ander vreemde gedagte neerkrap, en môreoggend wonder wát so belangrik was aan ’n frase wat hy dan skaars kan ontsyfer. Hy gaan lê. Die selfverwyt begin dadelik: Dis my skuld dat hulle almal weg is, ek het hulle almal verongeluk. Dit is ek wat hulle weggestuur het, ek het hulle aan boord genooi, op hierdie seiljag, in daardie vliegtuig, in hierdie gehuurde motor, oor dié horison, oor daardie see, na daardie woestyn of na dáárdie maan. Ek was hulle loods, skipper, drywer, laksman.

In die nag skrik hy skreeuend wakker. Hy lê met sy vuiste teen sy bors, knyp sy oë toe tot sy gedagtes en wilde hartslag bedaar, dan maak hy hulle oop en haal asem met sy tande opmekaar gebyt. Sy oë word aan die donker gewoond. Dáár is die venster se reghoek, die stoel, die klerekas. Hy staan op en loop badkamer toe. Hy dwaal in die donker, van bed tot venster tot stoel, van leë kamer tot leë kamer.

Wals met Matilda

Подняться наверх