Читать книгу Wals met Matilda - Dan Sleigh - Страница 5

2 Middelburg, Karoo, 1897

Оглавление

Die pes het uit die Noorde gekom. Die boere hoor van runderpes in Rood zeer, soos hulle die nuwe rooi vlek op die gesig van Afrika, noord van die ZAR op die kaart, noem voordat Rhodes in poskantore laat opplak die uitspraak is “Rhodéésiër” asseblief. Hoe die siekte daar bo gekom het, het hulle nie aangegaan nie. Kruger se goewerment het nie gedink om die driwwe te sluit nie, transportwaens het dit suid oor die Limpopo gebring, toe oor die Vaal. In Maart daardie jaar was dit skielik oor die Oranje.

Die boere het by hulle kraalhekke gestaan en kyk; jy sien wanneer jou bees se neusvel droog word en die oë glasig en hulle nie meer hulle vlieë wegjaag nie. Daarna gaan die dier se hare staan, sy kop voel warm en die vliese in die neus en bek en oë word rooi van inflammasie, môreoggend loop geel snot uit die neusgate en die vierde dag lê jou bees opgeblaas en styf. In die Transvaal en Vrystaat is al tweemiljoen stuks grofvee dood. Wat is hul goewerment se plan, wat gaan hy maak met hulle?

Japie se pa het hom met die kapkar by die skool gehaal die dag toe die boere dorp toe gekom het om na hulle magistraat te luister. Daar was amper soveel oudste seuns as boere, daarom dat die ding in die kerk gehou is en nie in die hofsaaltjie nie. Die jong magistraat het Hollands probeer praat en partymaal het sy hoftolk hom gehelp. Die boere het gesien begrip en samewerking word hier verwag. Alle diere met gesplete hoewe is draers van runderpes en daar is geen genesing nie, sê die man. Hulle moet skiet en dan begrawe of verbrand, en daarna ook die trekbokke wat nou uit die Oos-Karoo na Namakwaland op pad is, sodat die pes nie Kaap toe draai nie. Moet niks van die vleis, velle of bene gebruik nie, skiet net en begrawe. Daarna mag daar vier maande lank geen vee op die weiding kom nie. Ammunisie sal uitgereik word, waarvoor hulle moet teken. Die winkels is verplig om krediet te gee teen ’n verband op die plaas en die goewerment sal help met die afbetaal van die rente. Die magistraat het afgesluit met strawwe vir pligsversuim en na hulle oor sy bril gekyk: Geen vrae.

Die predikant het daarna gelees uit Job wat soveel skade gely het. Die predikant was ’n ou man, heel moontlik armer as hulle, en hy het hulle probeer gerusstel: Job kon weer opstaan, sy welvaart is nie met kruiwaens by sy hek afgelaai nie, want die genade kom uit die hemel maar die mens moet dit deur die sweet van sy aangesig verdien. Die verskil was, sover hulle kon sien, wanneer hy hier klaar is gaan hy huis toe na sy erf met die uitkeervoor, die koel agterstoep en vrugtebome, en na sy lessenaar met boeke en olielamp, en hulle moet na hulle veekrale toe. Gaan hy ook vandag hier sluit met dreigemente van straf en hulle na die brandstapels toe wegstuur? Maar hy het nie, hy het vir hulle gebid. En hulle was jammer vir hulle predikant omdat sy kollektebord nou maande aaneen leeg gaan bly.

Patrone is voor die preekstoel in pakkies van twintig uitgedeel, aan elkeen volgens die grootte van sy veetrop, vir Martini, Mauser, Enfield, Webley, Smith & Wesson, en hulle het by die nagmaaltafel daarvoor geteken. Toe het Japie sy pa se karperde onder die peperboom losgemaak en ingespan, en hulle het na die losieshuis gery om sy trommel op te laai. “Dan groet jy jou meesters,” het sy pa gesê. Hy was toe sewentien jaar en in die agste standerd en nie jammer om van die skool weg te kom nie. Hy het die skoolgaan moeilik gevind oor die Engels, Latyn en Hollands waarvoor die meneer so lief is, veral die onverstaanbare grammatika, met lang sinne gevleg en gedraai soos kreupelhout, alles dinge wat net in die meneer se boek bestaan, en die meeste met ’n vreemde naam wat vir hom niks beteken nie. Daar was een met die naam lidwoord; dit het hom altyd hulpeloos na sy hande en vingers laat kyk. Dan het sy gedagtes by die venster uitgevlug plaas toe.

“Wat gaan ons maak, Pa?”

“Ek het daaroor gedink. Nie in die kraal nie, dis te na aan die werf. Ons jaag hulle in die donga.”

“En as daar reën kom dié somer?”

“Ons pak ’n dwarsmuur bo om die water te sprei; Hertog en Hans en die kleintjies. Ná ons geskiet het, pak ons bossies oor en gooi lampolie. Diere brand tot as in hulle eie vet. Ons moet kyk of ons ses of ag blikke olie kan kry.”

“Goed, Pa.”

“Jy moet maar skiet, Japie. Ek bewe al te veel.”

“Is pa nie bang vir krediet en die verband nie?”

Sy pa kyk na die kerk en die straat en die dorpshuise met hulle rooi of groen sinkdakke soos hulle ry. “Dit is die wet. Hoe kom ons anders hier uit? Oorlede Pa het al gesê Klipvlei is nie meer ’n beesplaas nie, die wêreld het verdroë, ons het verkeerd getrek hier. Ek het gereken ek kan dit doen, maar kyk nou: Ons moet tog weer van voor af begin. Alles verander agteruit. Die volstruisveer was eentyd goed op prys. Mense het vir hulle wonderlike huise laat bou en vandag sukkel hulle om dit van die hand te sit.” Sy pa haal sy tabaksak en pyp uit. “Rook jy?”

“Nee, Pa.”

“Ons moet dit koop by die Jood, jy gaan vuurslag nodig hê. Wag tot die bokke effens nader kom, tot ons stof aan die oostekant sien. Dit sal oor ’n week wees. Ek hoor daar is omtrent tagtigduisend. Jy weet nooit wat hulle koers is nie, miskien slaan hulle ons heeltemal oor. Anders vat jy liewerster vir Hans, dan saal julle op en ry hulle tegemoet. Vat die Enfield en laat hy my Mauser gebruik. Dis ’n ligter wapen en sy koeël trek platter en verder. Skiet net en laat lê. Ry langs die trop en skiet uit die saal, die jakkalse en aasvoëls sal hulle gou genoeg optel. Later sleep ons die ander op ’n hoop.”

“Ek het al geskiet. Pa weet mos. Laas trek, drie jaar gelede.”

“Toe was dit ’n paar dosyn vir vleis. Nou mag ons nie eens velle hou nie. Nou ja, dan weet jy. Twee met een, as jy kan. Die Enfield is sterk genoeg as jy naasaan ry.”

Daar staan ander karre voor die handelshuis, en solank as wat Japie die perde aan die reling vasmaak, gaan sy pa binne. Sy pa haal hoed af en gaan by die ander staan. Die meeste boere vra ses blik lampolie, almal vra vir krediet, dan bied die winkelier agt of tien aan.

“Of meer ook, jy kan kry soveel jy vra. Ek het baie uit Port Elizabeth laat haal. Vier wavrag.”

“So jy het die ding sien kom, mister Cohen?”

“Ek het gehoor uit Transvaal. Toe maak ek reg.”

“Tien blik asseblief, meneer Cohen,” sê sy pa. “As jy dit vir my op die boek kan gee. Asseblief.”

“Jy het nie kontant nie?”

“Wat ek het, moet hou vir nood. Daarom vra ek krediet, as jy dit wil gee.”

“Wanneer om te betaal, mister Van der Merwe? Ek moet nou die risiko dra van al my klandisie. Ons kry almal swaar.”

“Ek weet nie wanneer nie. Maar daar is ’n wet gemaak in die Kaap. Die magistraat sê ons moet jou ’n verband aanbied.”

“Jy sal beter weet as ek, mister Van der Merwe. Ek hoor sê Klipvlei is nie vir bees nie, hy is vir skaap. Al die plase hier is vir skaap ná die droogte.”

“En ek hoor sê die Engelse het runderpes gestuur dat ons moet oorslaan na wol. Hulle wil wol hê. Engeland sal altyd wen, ons sien dit lankal.”

“Mister Van der Merwe, ek sit tien blik vir jou reg, dan praat jy met jou prokureur. Jy kan nou met hom praat, ek sien sy deur staan oop.”

Japie was nog nie in die prokureur se kantoor nie. Sy pa ken vir prokureur Rose-Innes, al sy papiere is daar in ’n swaar brandkas. Agter die deur hang ’n swart kleed soos ’n predikant s’n en ’n gehekelde borslap en ’n pruikie van wit wol, en teen die mure is geraamde papiere en kaste met glasdeure, vol boeke van allerhande kleure.

Die prokureur skud hand met hulle. Hy sê vir Japie se pa: “Kom, sit asseblief. Ek is spyt oor die ramp wat julle getref het. Ek raai jou aan om alle moontlike voorsorg te tref. Jou seun gaan dalk die familieplaas verloor.”

Japie se pa trek sy broekspype effens op, sit sy hoed op sy knie en vra versigtig: “Hoe vir voorsorg, meneer Rose-Innes? Gee asseblief advies.”

“Hou hom op skool so lank as wat jy kan. As jy nie kan nie, laat hom ’n ambag leer. ’n Boer kan so hard werk as hy wil, maar as die geluk teen hom draai – ek praat van veesiektes, droogte, sprinkaan, oorlog, pryse wat val – moet hy sy brood met ’n ambag kan verdien.”

“Baie waar,” sê sy pa.

“Nee, asseblief tog, Pa. Ek wil boer.”

“Wag, Japie. Ons praat later. Ons het gekom om ’n kontrak met Cohen te laat optrek, en ons moet meneer Rose-Innes se advies hoor.”

Die prokureur haal die plaas se papiere uit ’n laai van sy vet, swart brandkas. “Hier is gedrukte vorms vir die eerste verbandkontrak. Dit is in Engels en dit sal omtrent ’n uur neem. Ek sal dit punt vir punt verduidelik en invul vir jou handtekening. Ek weet nie of Japie wil bysit nie. Maar daar is iets anders wat hy kan hoor. As ek mag adviseer.”

“Ek het gevra.”

Rose-Innes haal sy bril af, vou dit toe, vleg sy vingers saam en praat met sy oë op sy twee hande. “Ek lees in koerante uit Engeland dat wol hoog op prys is, soos volstruisvere eenmaal was. Maar dit was ’n mode, ’n gier wat verbygetrek het toe vrouens daarvoor moeg was. Alle mense het goeie warm klere nodig, veral in koue dele van die wêreld, en wol is die warmste en duursaamste vesel. Nou het die wolmark skielik groot uitgebrei, jy kan praat van ’n ontploffing. Engeland sit die wêreld vol in oorloë vasgevang. Ons is in Indië en in die Soedan, en dit lyk of die regering vir ander dele van die wêreld ook lus het, waarby honderde duisende soldate betrokke gaan wees. Elke man moet twee volle uitrustings, ’n oorjas en twee komberse hê. Groot fabrieke is met die modernste masjiene ingerig vir massaproduksie en uitvoer na Britse kolonies en ook na Amerika, wat weer sy eie oorloë oorsee voer; kyk waar is hy nou oorsee besig in Kuba en in Manila, die liewe Vader weet. Engeland is gereed om miljoene tonne wol en katoen te ontvang, mense praat daar al van nywerheidstede. Manchester se fabrieke verwerk katoen; dames vra by ’n winkeltoonbank net dié naam, manchester, wanneer hul katoengoed soek. In Birmingham staan al sewentig fabrieke wat wol was, kam, spin, kleur en weef. Vir die suidelike halfrond is wol die nuwe ding. Australië het laas jaar twaalfmiljoen pond wol uitgevoer. So lyk die toekoms.”

“Ons word amper gedwing, maar wat weet ek en ons hier van wolskaap?”

Die prokureur tel ’n dun blou boek van sy lessenaar op en wys dit asof dit ’n Bybel is, maar maak dit nie oop nie. Hy kyk op na Japie se pa. “Die Kaapse goewerneur het in ’95 in sy jaarlikse rapport aan die Kroon geskryf, ons Kolonie se skaapboere het ver agtergebly en is nie gereed om te lewer nie. Australië se wolboerdery vorder vinniger omdat hulle nie ons moeilikhede soos roofdiere en inboorlinge gehad het nie. Hulle is ook gelukkig dat hulle geen inheemse skaapras het wat deur verbastering die ingevoerde stoetvee verswak nie. Skaapboerdery is hier nog in die hande van individualiste, skryf hy, tradisioneel was hulle vleisboere, onbekend met wol en hoe om vir ’n mark te produseer. Groepe boere sit nou geld bymekaar en vorm maatskappye deur kapitaal gesteun om die beste stoetdiere in te voer.”

Vir Japie en sy pa klink alles na ekskuse; hulle goewerneur soek iemand om te blameer. Maar by die woord armoede kan hulle nie verby nie.

“Gaan die goewerment ons help?”

Die prokureur vleg weer sy vingers. “Niks is nog bekend nie, maar ek stel voor ons probeer om onsself eerste te help. Vroeër was ’n boer maar ’n soort opsigter terwyl die natuur self met die werk voortgaan, amper soos Adam in die Paradys, maar vandag moet ons rekening hou met al die gange van die Nywerheidsomwenteling. En glo my, daar is sygange waarvan ons nog nie weet nie. Ons behoort mense Australië toe te stuur om te gaan leer, en vir ons hier te kom wys, dan behoort ons stoetvee van daar af terug te bring. Graaff-Reinetse boere het dit gedoen, hulle het twee van hulle seuns gestuur, jong kêrels van hierdie ouderdom.” Hy knik na Japie. “Ek het alles vir hulle gereël, die korrespondensie, paspoorte, passaat heen en weer, vragbrief en invoerlisensie.”

Sy pa draai sy hoed op sy knie, sug en verneem: “Dit gaan ’n duur spulletjie wees, of hoe?”

“Hulle was nege wat saamgemaak het. Elkeen dra een-negende van die koste. Ek kan vir jou sê, meneer Van der Merwe, ek het van hierdie distrik al vier name, bure van jou wat ook graag so ’n ding wil onderneem. Hulle soek meer name.”

“Ek sal oordink, meneer Rose-Innes. Ek weet ek moet seker oorslaan na skaap, maar ek het net nie die kapitaal nie.”

Wals met Matilda

Подняться наверх