Читать книгу Eilande - Dan Sleigh - Страница 4
STEMME UIT DIE SEE
Оглавление… verlatenheid was oor die diepte
Sewe van ons, of minstens sewe, het van voor haar geboorte tot ná haar dood dieselfde vrou in die hart gedra. Liefgehad? Daarvan weet ek nie. Ek weet van die woord se bestaan, en die hart sal wel ’n naam daarvoor hê, maar sy betekenis bly ’n ongekaarte baai wat elkeen self moet peil. Die meeste van ons vaar in, hoop op goeie bodem waar ons tevrede kan vertoef en ververs, en vind uit die getye wissel van maan tot maan, daar vloei vreemde en onverwagte strome, en die inwoners is nie altyd vriendelik nie. Soveel weet ons. Ander, soos Daniel Zaaijman, wat sy storie self sal vertel, kan moontlik met groter sekerheid sê. Of dalk nie. Liefgehad! Wie van ons sou erken as dit so was? Ons was soldate, ’n beeswagter, matrose, ’n klerk, mense met min emosie in ons woordeskat en bitter, bitter min emosie in ons lewens, behalwe vrees en woede.
Die sewe wat ek ken, was haar pa, Peter Havgard, en na hom Hans Michiel, die soldaat voor wie sy grootgeword het. Dan haar stiefpa, Bart, die visser. Dan advokaat Deneyn, meer geleerd as die meeste, maar die een wie se peiling van die ongekaarte reede ek die minste vertrou. Na hom die kuiper Daniel Zaaijman wat haar getrou het tot die dood. Beslis ook Jan Vos, soos ’n slaaf oor arbeid geboë, en moontlik Sven Telleson, laag gebore en deur drank verwoes. En ek, die klerk, wat nie kan verduidelik hoe ek oor haar voel nie. Onmoontlik? Ek het haar nooit ontmoet nie. Dit is net verlange, maar verlange is ’n sentiment, ’n droom, en kan nie liefde wees nie. Hoe sal een soos ek weet? Ek staan voor ’n beeld van ’n vrou en vra: Wie was jy? Ek gaan op reis, vind nog ’n beeld van dieselfde persoon deur ’n ander geskilder, en vra weer: En jy? Voor my lê nog ’n pad, nog ’n brug, nog ’n herberg met ’n bidkapel, weer dieselfde beeld, weer die vraag.
Dit is van mans wat ek vertel. Ek het dié uitgesoek wat haar gedra het in die hart, van voor haar geboorte af tot ná haar einde. Hulle het gehelp om die klein vlotjie drywend te hou. Tot ná haar dood, en die verpligting was op my, want mense sterf eers werklik as hulle nie meer onthou word nie.
Eindelik die see, die groen vrugwater waarin ons dryf, en gedryf het. Daarin woon leviatan, en daarop, en daarnaas gestrand, mense soos skuim. Hulle roep uit die see, en dit is haar naam wat ek hoor: moeder van baie, vriend van sondaars en gestrande siele, ons dogter, vriendin. Ook Autshumao roep uit die see. Van hulle vertel ek.