Читать книгу Eilande - Dan Sleigh - Страница 5
1
ОглавлениеDIE ANDERSMAAK VAN CHIEF HARRY
Tien, twaalf jaar voor die wyebroek hier kom bou het, word Autshumao een rooi sonop leier van die Goringhaicona. Hy het oor die duin geloop see toe, asof hy nooit die dooies of die oorlewendes agter hom geken het nie. Hy loop bebloed, verneder en beroof met halwe daglig uit die smeulende, kortgebrande gras langs ’n vlei, onder die bitter rook van verbrande matjiesgoed en beesvel, saam met vyf kinders, vyf vroue en twee ou mans. Hulle loop met leë hande weg. Agter in die rokende puin was hulle dooies, voor hulle was die see. Daar is geen mat, pot of graafstok om saam te neem nie, geen bees of skaap nie, nie ’n melksak of ’n gooistok of ’n hond nie. Die ander, die ou mans en die vroue, het die koue liggame in ’n sloot gesleep en met takke toegepak. Omdat hulle te bang was om hierdie plek af te gee, het die ou mense bly krap in as en puin, en ’n paar woorde gesê, en later agter Autshumao aan gegaan, oor die lae duine, see toe. Die see was oop, en sy oopte was ’n soort veiligheid. Maar hy was die eerste om daar weg te loop, om weg te kom van die plek waar hy alles verloor het.
Hy het op die strand gewag vir die vrou wat sy suster se kind dra, en met die kind agter sy rug verder geloop. Hy noem haar susterskind; haar naam was Krotoa. Hy was haar dit verskuldig om haar saam te dra; ’n kind kan hulp te wagte wees van haar ma se broer. Hy neem haar en dra haar, daardie dogter, maar hy het niemand gevra om saam met hom te loop nie. Toe hulle naby die see kom, het die kind sonder ophou gehuil, en ’n vrou het die kind geneem om aan haar droë bors te sit. Autshumao het nie weer die dogter van haar geneem nie. Hy het oor die twaalf mense gekyk en gedink hy het hulle nooit gevra om hom te volg of gedreig om hom te gehoorsaam nie. Hy het hulle niks belowe nie. Hulle het agter hom aangeloop en hy het die leier van die Goringhaicona geword.
Hulle was min, maar hulle kon met seegoed en veldkos ’n tyd lank klaarkom. In die laagtes tussen die voorste duine het hulle nog daardie dag harubis gekap met klippe, en die riet met naels en tande geskeur, met tou van gerolde gras tot matte gemaak, en die matte tot huise, en die huise daar tussen die duintjies in ’n kring staangemaak met ’n takkraal van bessiedoring daarom.
Hulle dertien, die laaste Goringhaicona, het opsy van ander Koina gewoon, tussen die duine en die see, arm en meesal ellendig honger. Die see het hulle sy vis en vleis gegee, die vlakte agter die duine ná winter sy skraal veldkos. Autshumao het sy verlange na beeste en skape in sy hart gedra, maar was nog bang om weer beeste te hê. Die bees was klere en kos, en medisyne, dit was die bees, maar hy moes daarsonder bly. Hy was manalleen, en dit was veiliger om niks te besit nie. Hy kon nooit meer vet en room op die vuur sit om in rook na Heitsi-Eib’ op te gaan nie. Om vrede om hom heen te hê moes hy bly sonder Heitsi-Eib’.
Aan die einde van daardie winter het die Goringhaiqua hulle hordes beeste uit die sandveld gebring om langs die vleie en riviere te kom wei. Autshumao het ’n hoogte uitgeklim om te kyk hoeveel vee sy vyande bygekry het, want vóór soveel diere loop daar altyd oorlog uit. Aan die rook van sy vyande se andersmaakvure, swaar van room en vet, kon hy ruik dat dit met hulle goed gaan. Dit was mooi om te sien hoe hulle wit en bruin gevlekte beeste in die blink vleie staan, hoe die jong wagters op die gras speel. Beeste is mag, dan kan jy opstaan en slaan soos jy wil, teen wie jy wil. Hy het na sy eie diere daar in die vreemde troppe gesoek, maar hulle nie gesien nie.
Tog, by die see kon Autshumao en die Goringhaicona soms effens voorspoed kry. By ’n sandbaai naby die waterskepplek het wit matrose van tyd tot tyd bote uitgesleep. Engelse matrose, het hulle taal en rooibont vlag vertel. Autshumao het gekry van hulle klere en brood vir ’n brief om bewaar te word, en daarvoor heuning, ’n skilpad, ’n paar volstruisvere gegee vir vriendskap. Soms het hulle tabak gekry. Dit was waarom Autshumao daardie duintjies gekies het as sy woonplek, want dit is naby die waterskepplek en reg voor die diepte waar die skepe anker. Dit was die reede.
Autshumao en dié by hom het onder mekaar geskel oor die paar stukkies klere en skeepskos wat na hulle toe gekom het, maar brandewyn was net vir hom. Hy het hom alleen na boord laat roei en daar geëet en gedrink, en as ’n kering van die gety of draai van die wind maak dat hy moet wal toe, het hy gesorg dat sy hande leeg is voor hy by sy mense kom. Waar honger is, is armoede meesal vrede.
Hy was nie meer ’n jong man nie. Eenkeer het hy, met sy maag vol brood en brandewyn, in die winterson gesit en met die matrose gepraat, en vaak geword van die sagte deining en die hol slae van die see teen die skeepsromp, en dié dag is die skip London met hom weg, Ooste toe. Die skipper het net gesê: “Jammer, ou kêrel. Jy het gesien hoe die weer verander. Ek moet die bries gebruik om van ’n lywal af te klou. Maar oor ’n maand of drie bring ek jou tuis.”
Dit was ’n groot skip, nie so groot as wat hy al onder die Hollander se vlag gesien het nie, maar versier met rooi en ’n bietjie goud op die agterhek en op die balkonrelings langs, en om die vensters van die galery. Onderdek het twee rye swart kanonne soos slapende honde agter geslote rooi poorte gelê. Op daardie reis het Autshumao die seevolk se siektes aangesteek, hulle taal geleer en Chief Harry geword. Jy kon maar soek, Autshumao was nie meer daar nie; die skip het hom Ooste toe gedra. Maar sy hart het vroeg omgedraai en alleen huis toe gegaan. Op daardie reis het hy ook sy respek vir yster en koper verloor, want dit was so goedkoop en so volop dat die Engelsman dit weggooi. Yster sou hy self nooit weer in ruil neem nie – laat sy vyande maar vir yster verleë wees, die tyd van yster is verby. Die bees was geld, die bees was kos, medisyne, pakdier, ’n troep jong jagters, ’n horde vegters. Selfs Heitsi-Eib’ moes eers wag.
In die Ooste het hy gesien, waar die skip in ’n riviermond soms teen ’n kaai gemeer was, hoe donker mans met lang hare en rokke hulle nekke rek soos malgasse op ’n klip, om boontoe met die skip te praat. Hulle lug was stowwerig van vroegmôre af, hulle seewater lou, die kos skerp gekrui, die sterre vreemd. Donderweer het daagliks opgesteek, toegepak, en ná warm reën voor donker oopgetrek. Vaal beeste met hangore het tussen die mense gedwaal, meesal opgedroogde koeie en verse, ongelukkige diere sonder ’n bul, en maer osse wat karre trek. En bedelaars het albei hande na hom toe uitgereik, maar omdat die landsvolk hulle met klippe van die kaai verjaag het, het hy sy kop vir hulle geskud. Armoede kry jy dan weerskante van die groot see; hy was nie alleen nie. Hy het gesien hoe die Engelse handel dryf met die witrokke. Geld is oorhandig, nooit drank of tabak nie.
Agter elke kaai was ’n dorp, agter elke dorp ’n groen woud soos ’n muur, agter die woud soms bergpieke, en agter die berge, die donderweer. Hy het nie meer daarna gekyk nie. Wat was daar te sien? Dit was nie die duineveld en donker rietpolle onder daardie helder wind van sy huis nie. Soms was daar geskreeude dreigemente tussen skip en kaai. Dan weer see. Die drinkwater was laf, dit het sy maag dae en nagte laat werk, sonder ophou en met bloed en pyn. Hy het lusteloos geword, aan boord gesit en rook en na drank verlang. Hy wou nie wal toe nie, maar het onrustig aan boord gebly, geluister na die gestamp van die skip teen die kaai en die benoude gekraak uit die maste, soos ou geraamtes wat ondergronds kla. Dan vaar hulle weer verder, en eers is daar see, donkerblou en diep vir dae aaneen, dan is daar weer land.
Autshumao se gedagte was by die mense wat hy agtergelaat het, by sy susterskind. Die wêreld daar was sterk aan verander. Mense wat hy geken het, was dood. Sou Gogosoa, die vet moordenaar, nou dink dat sy vee voortaan alleen gaan loop oor die somerweiding? Hy het nog nie gesien hoe die wit mense se skepe nou oral kom, en net waar hulle kom kliphuise bou nie. Die wit man se soldate loop vir oorlog aangetrek. Vreemde nasies sal in Gogosoa se weiding kom woon; dit is hulle kinders wat sy land sal besit. Hy sien dat dit vir die Koina in komende tye beter kan wees om vriende met die wittes te bly, om eers die teenstander se vee en kinders te help grootmaak. Ver beter so, want die wit man sal regeer en sy vee gaan hierdie wêreld vol loop, uit die Kaap op langs die see tot bo by die Cochoqua, die Grigriqua, en dan, in die ander rigting die berg oor, na die son se kant: die Chainouqua, die Hessequa en die Attaqua, en die groen heuwels oor na die Gouri en die bos-Inqua. Oral sal die wit man se vee loop. Vir die guns om self ’n paar beeste te laat wei, en ’n kans om op die been te kom, moet die Koina vrede hou met hulle. So gaan dit beter wees vir die Koina, vir hulle wat sonder perde die nuwe heersers moet verwelkom.
So dink Autshumao, voordat een Hollander nog ’n graaf in Kaapse grond gesteek het. Net, hy het verwag dit gaan Engelse wees wat dit kom doen, nie die Hollander nie, want die Engelsman se skepe loop die see vol, hulle ontmoet mekaar soos vriende volgens belofte, op plekke in die middel van die see waar geen teken is om van te sê: By daardie of daardie plek kry ons mekaar op so en so ’n dag. En hy hoor die Engelse praat oor die Kaap se kos en water en brandhout. “My dear fellow, a simple takeover. No trouble at all.” Jy stamp die stinkerds opsy, en vat grond, water, bome en gras. “The natives are harmless. Like children, really.”
Die seekleur het weer groen geword. Autshumao, Chief Harry, het die laaste dae van die maande van die seereis deur die hete trope op sy rug deurgebring, sy lyf vas teen die verskansing sodat die matrose hom nie daar trap nie, en sy gesig weggedraai van die oop dekluik. As hy sy oë oopmaak, het hy rooi verf op Engelse akkerhout gesien; as hy hulle toemaak, was daar sy susterskind, en agter haar ’n liggeel mat van biesieriet in die ronding van ’n harubis-huis. In sy lang droom, dae en nagte lank, kon hy daardie droë riet ruik, en koue as tussen klippe, en beesmis.
Snags het hy, soos die meeste matrose in die trope, aan dek gebly tot die aandlug naby die einde van hulle reis koel begin word en daar voordag dou op die dek en wante blink. Snags het die goue sterre dig geweef oor hulle gehang. Die maer, swart vingers van maste het voel-voel tussen hulle gesoek, hulle van plek tot plek geskuif, goue sterre in die donkerblou nag gaan haal, ander weggeneem, verskuif, verskuif, en een nag was die nuwe hemel klaar. Hy het hom verkyk aan die skuimende Melkweg. Vir die eerste keer het hy sonder twyfel geweet waar hy was, in watter seisoen van die jaar – dit was hoe ver die maan al oor die lug gevorder het – en watter veldkosse nou gereed was, en hoe groen die weiding, en waar al die Koina se kampe en veetroppe teen hierdie tyd staan.
Die matrose van die wag het gekyk hoe Chief Harry opstaan onder sy kombers uit, en teen die wante opklim tot hy ’n staanplek in die grootmaswant kry. Onder hom het die skip sy bek herhaaldelik in die flikkerende water gedoop en met ’n swaai daar uitgelig soos ’n suipende bul, maar Chief Harry het hoër in die trappe van die want geklouter, tot hy op die grootra kon stap. Met sy arms om die mas en sy gesig teen die nagwind het hy die donker voor hom ondersoek. Hy kon niks sien nie as wemelende sterre en die effense flikkering van fosfor voor die boegpaal; niks anders hoor nie as die kreun van hout en die gekraak van nuwe tou wat oor blokke span, en die gesuis en borreling van seewater langs die lengte van die skip af; niks ruik nie as ’n koel seewind vol teer en lynolie soos dit oor die dek vee. Hy het met ’n sug die Suiderkruis, net halflyf bo die horison, in die skitterende sterreveld herken, en hy was seker dat die Kaapse duine vars en geurig van bossiekruie voor hom in die flikkerende nag lê. Heitse!
Toe hy tuis kom, was daar niks om te slag nie. Van sy jong vrouens is uit eie wil weg na die Goringhaiqua toe. Die twee ou mans was dood, of is êrens vir dood laat lê, maar ander oumense het bygekom, mans en vrouens wat maer geword het nadat hulle naastes oorlede is. Hy het hulle vertel sy nuwe naam is Chief Harry, maar hulle het hom nie geglo nie. Al sy stories, van mense wat op olifante ry en al sy Engels was dieselfde asof hy gesê het: Hoor hier, ’n oorkruiper het in my kop gekom in my slaap, en ek sien en praat vreemde dinge voor ek sterf. Daarom het hulle hom nie uitgevra nie. Dit was nie nodig nie.
Sy suster se kind was bang vir hom, en die dowe vrou wat haar versorg het, het die kind van hom weggehou. Hy het hom daaroor vererg en vir die kind soetgoed aangedra, maar sy het siek geword en die dowe vrou het hom luidrugtig daarvoor geblameer. Ook het hy begin praat van kamp verskuif, en stokke uitgetrek en matte opgerol tot die ander dit ook gedoen het, en dan ’n paar honderd tree na die een hand of die ander hand verskuif en daar sy stokke weer in die grond gesteek. Die ou mans en die vrouens het geduldig die entjies met hom saamgetrek. Hy het geweet hulle sou opstaan en gaan wanneer hy vra.
Die skraal kos is met laagwater uit ysige rotspoele gehaal. Soms was daar ’n rob op die strand, dae dood, oortrek met sandluis en diep aangevreet deur krappe en meeue. Maar Chief Harry het in sy kamp gepraat van beeste en gesien hoe die verlange in hulle gesigte kom na botter en suurmelk, vleis, en die donker rook vir Heitsi-Eib’. Hy het van skape gepraat tot hulle oë blink was van verwagting, en van beeste: die velle vir skoene en musse, die velsak, die stertkwas om vlieë te waai. Bloed, potte vol bloed, het hy genoem. In die geknik van sy groepie armes het Chief Harry gesien dat hy hulle harte gewen het. Herinneringe aan goeie dae het altyd om beeste gedraai: jong verse, grootuierkoeie, ’n swart bul met smal heupe en ’n swaar voorlyf, of dertig, veertig rooi vegosse met wye horings soos die oop knypers van skerpioene. Autshumao se droom het oumense weer hulle seuns en dogters laat sien, huise by blink vleie waar hulle vroeër gewoon het, potte vol suurmelk. Net die dowe vrou het hom nie gehoor nie, en hy en sy het saam weggekyk na die eindelose beweging van die see. Hulle het gepraat van beeste, maar die beeste het weggebly; van sy mense is dood in daardie verwagting. Ouderdom en koue het by die groep kom woon. Geen kinders is gebore nie. Daar was net sy susterskind.
In die laatsomer en die laatwinter, elke keer as die seisoene omsit en die wind uit ’n ander streek kom, was daar skepe. Dan het hulle bondels brandhout, of ’n velsak met heuning aangedra na die baai by die waterskepplek, en daarvoor skeepsbrood en tabak gekry. Chief Harry het sy Engels gebruik, en is na die skip toe geroei. Daar was gewoonlik ’n brief. “Gee dit veilig aan die skipper van die eerste Engelsman wat hier inloop. Ek het hierin geskryf hy moet jou betaal.” Maar die suiniger Hollanders het hulle briewe onder klippe gesit en ’n boodskap op die klip geskryf, dan het Chief Harry die briewe daar uitgehaal en persoonlik in die volgende wyebroek se hande gegee. Hy moes ’n bestaan maak.
Meer nuwe skepe het in die baai gekom, nuwe vlae en nuwe tale. Die wit mense het kordaat tussen die bosse geloop en geruik en gepluk en geproe. Hulle het nie vir Chief Harry oor die hout of die berg gevra nie. Ses of sewe man is met gewere en ’n verkyker teen die berg op om die land te bekyk. Die byle het teen die berghang geklink waar hulle mashout maak, drie, vier bome op ’n slag. Hulle het hom ook verbygegaan om met die Goringhaiqua by die vleie te praat oor slaggoed, en het daar aan sy vyand brandewyn en tabak gegee. Hy het geweet hulle matrose sal wil lê by vrouens, maar by hom was net ou vrouens en die kind van sy suster. Tog was hy verbaas om nuwe krale of klere by sy mense te sien waarvan hy nie geweet het nie.
’n Vreemde ding het gebeur: ’n paar van Gogosoa se mense het van beeste vergeet en by Chief Harry kom woon. Hulle sou skraal leef, maar daarvoor was hulle gewillig, solank hulle net kan by wees wanneer die roeibote wal toe kom. Drank was die nuwe andersmaak vir hulle. Dit was vir hom ’n nuwe kommer, hierdie aasvoëls wat toesak op die bietjie tabak en drank. Hy self wou dit hê. Sy mense moet al klaar ’n halwe dag ver loop om brandhout te kry, en môre-oormôre sak Gogosoa se hele horde op hierdie duintjies toe, slaan weer dood, jaag hulle hier ook weg, oor die bietjie tabak en die brandewyn. Chief Harry het hoor sê dat van Gogosoa se vrouens hulle lyf sal gee vir drank. Wat word van hom? Dit was ’n nuwe ding om nou so te werk.
Hy het nie probeer regeer oor die groeiende, ordelose groep wat by sy Goringhaicona in die duintjies hulle stokke kom plant het vir huise nie. Hy wou hulle nie hê nie. Vandat die mense hier meer en hulle veld kaler geword het, het vir hom net sy Engels oorgebly om te verruil. As die Engelse hulle kliphuise by die waterskepplek gaan bou, sal hy die eerste wees wat hier stokke uittrek om by hulle te gaan woon. Hy het sy droom van baie vee voel verdwyn; selfs sy begeerte daarna was minder.
Hy het nog sy susterskind gehad, maar hy kon haar aan niks help nie. Wanneer die tyd kom vir haar tweede andersmaak, sal hy haar daarvoor na haar pa se mense toe neem, die Elandspad oor na anderkant die berg, dat vir haar geslag word soos dit hoort. Ná hom was hulle haar naaste. Of as hulle haar nie wil ken nie, dan na haar suster, ou Oedasoa se vrou. En miskien, as sy hier by die Engelse wil bly, was sy al groot genoeg om te abba en kan sy in hulle huise gaan kind oppas, sodat sy nie soos die ander in die duintjies moet kyk vir kraletjies nie.
Hy, as ’n man sonder beeste of seuns, weet dat die Koina op hom neersien. Die dowe vrou sien hom aan as ’n gekastreerde hond sonder huis. Sy, wat alles verloor het, het vier maal andersmaak gehad: by haar geboorte, haar vrou-word, haar troue, haar kind-kry, en elke keer is geslag. Hy weet van ander soos hy, met leë mae en hopelose leë harte; ou mense by wie se andersmaak nooit geslag is nie, wat nou bymekaar moet bly dat die wildehonde hulle nie een-een raakloop nie.
By die Engelse het hy gesien jy kan die lewe vergelyk met die steil wante van ’n skip. Die een is ’n trap na die volgende: jy klim ’n ent in die voorwant, dan kom jy by die voorra waar jy rus; dan klim jy hoër in die voorwant en jy kom op die voormarsra; en weer klim jy en kom hoog in die nok van die mas op die voorbramra. Daarvandaan kyk jy net op hemel toe, of jy kyk ondertoe op klein mensies gevang op ’n skip in die wye see. Hy, met grys hare, het self nog net die eerste twee trappe van die lewe geklim. Daar was ander soos hy wat al ’n paar van die groot veranderings van menswees deurgegaan het sonder dat vir hulle geslag is. En miskien word dit, noudat jongmense van hulle hoofman wegloop en van beeste vergeet, die nuwe manier van doen, om sonder andersmaak te lewe.
Toe gebeur ’n wonderlike ding, asof ’n nuwe son oor die land opgekom het. Hy het geweet hoe die son kan verdroog, verskroei, verbrand, verteer, maar wat in daardie laat herfsdag in sy sinne gekom het, was ’n helder blydskap, soos ’n lig in die nag. Hulle was kniediep in die laagwater, tussen die blinknat klippe met seegras en kleinerige swartmossels, en het gerittel van koue. Agter hulle het ’n sterk suidewind die eindelose grys wolk oor die berg gestoot, en sy koue skaduwee het oor die baai en duine en bossieveld gelê. Toe sien hulle twee skepe uit die Ooste die baai in loop. Hulle het aan die windkant van die eiland binnegekom, en was diep gelaai. Ivoor, peper en kaneel, blougeverfde erdewerk en soet anysarak was alles dig gepak en toegemaak in die ruim, dit het Chief Harry geweet. Die wind het die skepe diep, diep die baai in gedryf, en vinnig, sodat hulle eers teen die oorkantse wal hulle seile ingehaal kon kry. Daar het hulle gedraai om na die ankerplek op te kom, maar die een is teruggedruk deur die wind, net asof ’n man sy hand in ’n kind se gesig sit en hom wegstoot. Die skip het met sy kop diékant toe probeer loskom, en dáárdie kant toe probeer loskom, maar die wind het hom gehad, gehou, en ’n boogskoot binne die branding agteruit op ’n sandbank vasgedruk. Jy kon die rook van kanonskote by die kante van die skip sien uitspring soos hulle uit daardie sand probeer losruk. Die ander skip het dit gehoor, bygedraai en benoud heen en weer geloop soos ’n tarentaal voor sy gekweste maat. Chief Harry het dydiep in die koue water gestaan en staar, en gedink: Die wind sal die geluid van skietery ver suid oor die bossieveld dra, tot waar die Goringhaiqua nou voor die reëntyd stadig na winterveld toe skuif, en as hulle sou omdraai oor die geluid, gaan dit lyk soos sprinkane wat op daardie stukkie strand toesak om op te tel wat die see uitspoel.
Hulle het die swartmossels gekook en die wittes rou geëet, en ’n paar vrouens en kinders met leë hande by die huise gelaat sodat Gogosoa se rowers niks daar kry nie, en in die vroeë aand haastig, afwagtend, strandop begin trek. Die skip het duidelik daar voor hulle vasgesit, op sy sy teen die land gekantel. Branders het oor sy romp gebreek dat die wit water soos buie reën oor hom trek. Die ander skip het ver buitekant die branding gelê, voor drie ankers. Daar was bote in die water om albei skepe, en roeiers het aan die spane gebeur. Toe die Goringhaicona hulle nagvuur aanpak, was daar voor hulle op die strand ook die oranje son van ’n groot vuur, die teken van vreemde invallers wat hulle eerste kos in ’n nuwe land kook.
Die volgende oggend vind hulle uit dat dit ’n Hollandse skip is. Hulle wou nader gaan, maar gewapende matrose het tussen hulle en die wrak gekom. Die strand was besaai met aangespoelde goed. Chief Harry het hulle in Engels toegeroep dat hy hulle sou wys waar om water te skep. ’n Hollander het hom geantwoord: Water, ja, maar ook vleis en hout. Chief Harry self sou kuslangs trek om vleis by die Cochoqua, sy bloedvyande, te probeer kry, maar hy wou eers hoor wat die Hollander hom daarvoor aanbied. Dié was vrygewig: hulle sou hom arak, rys en koper gee. As Herrie – geen Chief Harry met die Hollander nie – elke dag sorg vir brandhout, en ’n skaap elke sewe dae, dan kon hulle eet en drink. Die vrag van die skip moet geberg word, het hy gesê. Hulle gaan hier bou en hulle vrag oppas totdat hulp kom. Herrie moes sy vrouens hier weghou; hy gaan sy mense waaragtig hard straf as hulle met Herrie se vrouens lê.
Chief Harry vra die man in Engels: “Is die vrouens in jou land almal hoere?” Dit alles oor wat die man gesê het van die vrouens, want hy was nie seker waarop dit in die toekoms kan uitloop nie. Dit was in sy gedagte om vir die man ’n skaap te gee met gif in, of mossels wat in rooiwater uitgehaal is; dit was ook in sy gedagte om sy mense hier weg te neem, en die Grigriqua of Obiqua wat nie onderskei tussen jag en moor nie, aan te spoor om hierdie matrose in die nag aan te val en dood te slaan. Chief Harry het sy gedagte laat gaan terwyl die Hollander op sy matrose skreeu om hulle te haas met die berging, want daar was ’n springgety aan kom en ’n fortuin aan peper in die skip. Toe antwoord hy beleef in Engels: Dit is goed so, as die Hollander sy matrose oppas, sal die vrouens nie moeilikheid gee nie. Wat meer is, hulle kan help met die aandra van goed wat opspoel terwyl die Hollanders huise opsit. Hy het om hom gewys, na honderde stukke natbruin wrakgoed tot by die hoogwatermerk aan die voet van die duine, en hoe op elke brander nog meer uitgery kom.
En so het dit gebeur. Toe Chief Harry en sy paar mans na die duintjies toe teruggaan om hulle huise af te breek en hulle vrouens te haal, en te trek na waar die skip Nieuwe Haerlem soos ’n dooie walvis vasgewoel sit in die sand, vind hulle daar nuwe kraletjies in bont snoere om nekke en arms gebind, en ’n leë wynfles tussen die kookgoed. Ja, dit was van die Hollanders, hulle was daar en wou water en hout hê, en het daarvoor die krale gegee. Die wyn was omdat hulle vir die Hollander die skepplek gewys het.
By die wyebroek se kamp was die reël: eers werk, dan eet. Omdat dit alles vir die Goringhaicona nuwighede was, het hulle graag voor die pepertent gestaan om te kyk wat volgende uit die kiste gepak word, of hulle het aan die kokstent se flap gehang soos ’n kind aan sy ma se rok. Die kok se byl, sy messe, sy rou en gaar kos het so weggeraak. Daarom is die reël gemaak van eers werk, dan eet. Daardie en daardie mense moes brandhout soek, daardie en daardie moes groenkos bymekaarmaak vir die pot en kooigoed pluk om op te slaap, daardie en daardie moes wrakgoed aandra van die strand af na die pepertent tussen die duine. Chief Harry het hulle ’n syferfontein gewys, en die Hollander het laat spit en daar goeie water gekry, en hy het hulle die Rietvlei gewys en hulle het almal saam ’n treknet deur die vlei gesleep en ’n menigte vis gekry. Die Goringhaicona het daar goed geëet, en gewig aangesit; elkeen het een of twee stukke Hollandse klere gedra, en tabak was nie meer skaars nie. Daardie tyd was van die beste wat sy mense nog beleef het, en hulle was bang vir die dag dat die Hollander sou wegseil. As ander Koina met skape naby die kamp kom, het die Goringhaicona tussen die Hollanders in teruggetrek. Daaraan het die Hollanders geweet wanneer vreemde Koina aan kom was.
Hulle het van mekaar se tale geleer. Die Hollanders kon nie die tongklappe onderskei of namaak nie, maar kon ’n paar name onthou, en die meeste van die Goringhaicona het Hollandse woorde geleer. Die een wat die meeste reggekry het, was klein Krotoa. Sy was ses jaar oud, en het soos ander kinders maklik ’n taal geleer praat. Sy het elke dag by die kok deurgebring. Sy het help potte skuur met hande vol nat sand, en as hulle alleen was, kon jy haar land en sand hoor babbel, maar as die hoof van die Hollanders haar sou vra om ’n boodskap aan haar oom te tolk, was sy te skaam. Die kok het haar met ’n lepel in die hand langs ’n groot pot staangemaak, wat sy moes roer, en haar van die beste stukkies gevoer en bederf met soetgoed wat vir die offisiere bedoel was. Miskien was hy die een wat haar die naam Evatjie gegee het, omdat sy meesal kaal geloop het. Wat seker is, is dat hy die eerste van al die wit mense in haar lewe was met wie sy vriende gemaak het. Aan haar liefde hoef hy nooit te getwyfel het nie, die kind se oë was blink van geluk. Ongelukkig was die kok die man wat veldvrugte met soet gemmer vir haar gekook het, wat haar suikerbrood met ’n stroop van anysarak laat proe het. Uit goedheid, dit is nie te betwyfel nie, maar daarna was haar verlange na wit mense se warm kombuise, en die soetkos wat hulle maak. En dit is moeilik om te glo dat dit by haar net gegaan het oor ’n lepel suiker, ’n slukkie bier, die brood en kaas wat sy kon verwag.
Na elf maande het skepe uit die Ooste gekom om die Hollanders en hulle gebergde speserye te haal. Die Hollander het vir Chief Harry gesê: “Nou ja, Herrie, die tyd het gekom om te gaan. Ek sal vir my owerstes vertel dat julle gehelp het om die Kompanjie se goed op te pas, en dat dit ’n goeie plek is dié vir skepe. Ek wil dat hulle hier ’n plek kom bou wat hout en water vir ons skepe regsit. Dan sal hier altyd Hollanders wees.”
“Kom die Engelse nie weer nie?”
“Hulle sal. Maar ek wil dat ons eerste ons plek hier bou. Ons hys ons vlag, dan word dit ons plek. En as die Engelse iets nodig het, moet hulle dit koop by ons.”
Chief Harry het stil om hom gekyk. Altyd Hollanders hier? Dan sal hulle self hout en water regsit vir die skepe. Die hele wêreld gaan anders gemaak word. Wat word van hom en die kind?
Hierna het die wêreld anders geword. Die vlag is geplant en van een volmaan tot die volgende het die skepe hulle hout en water gekry. Skuite met kos, wrakgoed en watervate is heen en weer oor die see. Die matrose was aan land met byle, sae en watervate. Party het verlof gehad om onderkant die skepplek te was, waar hulle luise van die lyf en uit die baarde gekam het, en Chief Harry het hulle daar gewys om klere oor ’n miershoop te gooi, dat miere die luise vang. Op die gelykte agter die skepplek was offisiere besig met opmeet. Hulle het ’n stok met ’n wit lap geplant en afgetree in een rigting, klippe daar gestapel, en weer by die stok begin en anderkant toe afgetree. ’n Man met ’n boek en potlood is agterna. Op die ou end was daar ’n klomp klipstapels tussen die soutslaai en platgetrapte molshope. Chief Harry kon geen patroon of vorm daarin sien nie. Hy kon nie verstaan wat die offisiere sê nie. Hy het gevoel hy moes iets doen met sy Engels. As die Hollanders hier kom huis opsit, word hy minder werd as sy susterskind.
Die Goringhaiqua het soos ’n swerm sprinkane voor die wind daar aangekom, met baie lawaai en ’n klein klompie beeste vir tabak. Hulle het al geloop met die beenpype in die mond en daardeur geblaas soos rooikatte. Toe hulle die Goringhaicona tussen die Hollanders sien, het hulle skoorgesoek en klippe gegooi, en die vrouens het agter die soldate in gevlug en die Goringhaiqua van daar af met gebare getart. Chief Harry het die kind se hand geneem en agteruit gestaan, strand toe, na oopte. Sy mense het agter hom aan geretireer. Die Hollanders kon nie verklaar waarom daar twis tussen die twee groepies Hottentotte was nie, maar dit was van geen belang vir die skeepsdiens nie.
Toe Krotoa tien of elf jaar was, het daardie ding gebeur wat die wêreld verander het. ’n Paar skepe vol van die wyebroeke het gekom en by die skepplek in die sandbaai planke en rondhout en pakke seil op die gras neergegooi, en vaatjies en kiste en mandjies met boompies, en varke en honde en pluimvee in hokke aan wal gedra. Dit was dan die winkel. Chief Harry het daar tussen die vreemde mense en hulle gestapelde bagasie geloop. Hy wou graag die wyebroeke se hoofman ontmoet, maar sy hond het probeer paar met ’n teef van die wit mense, en toe ’n soldaat met ’n geweer op sy rooi hond mik, het Chief Harry van skrik sy kierie op die man se hand neergeslaan. Net sy ouderdom het gekeer dat hy nie daar ’n paar vuishoue kry nie, want die soldaat se vloeke en luide dreigemente en sy greep op die ou man se karos het gewys hy het regtig seergekry.
’n Kort blas man met ’n blou mantel het met sy rottang aan die soldaat se arm geraak, en vir Chief Harry gesê: “Gaan weg hier.” Maar hy het agter Chief Harry aangeloop tot op die strand. Hulle het mekaar bekyk en hulself voorgestel:
“Chief Harry.” Hy het net sy Engels gebruik.
“Ek is Chief Van Riebeeck. Ek het van jou gehoor. Julle is Strandlopers.”
“Goringhaicona. Watermen, in Engels.”
“Eers werk, dan eet. So was die wet by Haerlem. Reg?”
“Ja.”
“Kom wys vir my waar Haerlem se mense die bakens gepak het, die stapels klippe?”
Alles was toegegroei onder hondebos en stinkkruid, behalwe een waarop die Koina van tyd tot tyd nuwe klippe gepak het en wat nou drie of vier keer hoër as destyds was. Van Riebeeck het rondom die groot kliphoop geloop. Wat sou dit beteken? Hy het met sy oog afstande gemeet in vier rigtings, en daarheen geloop en die klein bakentjies onder die bosse uitgeskop. Toe roep hy na ’n man met ’n graaf en laat penne inslaan en lyne tussenin span, en hy laat die bagasie van die duine af na die groot kliphoop toe bring. Toe neem hy Chief Harry opsy, asof hulle oor landsake gaan beraadslaag.
“Sal jy vir ons beeste en skape kan kry?”
“Skaap, ja. Bees, nee. Die Koina hou sy bees self.”
“Ek moet osse hê om ons waens te trek. Wat is dit met daardie groot baken?”
Toe hy nie ’n antwoord kry nie, vra Van Riebeeck met sy oog op die klompie Koina-vrouens: “Die dogtertjie daar, kan sy kind oppas?”
“Ja.”
“Haar loon: tabak en arak en brood?”
“Ja.”
“Jy sal jou hond moet laat regmaak, hoor. Of los hom by jou huis. Sal jy vir ons beeste kan kry?”
“Hierdie is my hond se huis,” het Chief Harry gesê. En in sy gedagte kon hy die Hollander hoor antwoord: Ons sal sien.
“Jou mense daar, wil hulle werk? Tabak en brandewyn?”
Hulle het die dag, die eerste dag van die nuwe wêreld, help dra aan die berge bagasie wat deur die skuite strand toe gebring is. Die middag het die Hollanders gaan sit en eet aan kos wat in mandjies van die skepe af gekom het. Die Koina is nie genooi nie. Was dit spaarsaamheid? Chief Harry het gewonder of hy ooit iets uit hierdie mense gaan wen. Maar ná die maal het die Hollander liberaal wyn uitgedeel. Op hulle leë mae het dit reguit na die Goringhaicona se kop toe gegaan, sodat hulle skuifelend begin dans het. Toe blaas die Hollander op ’n fluit. Sy mense het weer begin werk: fondamente spit, bagasie opdra, tentrame timmer en met seil toespan. Die Goringhaicona het gesien dat die water laag was en hulle moes hulle aandkos bymekaarkry. Chief Harry het hulle werkloon by Van Riebeeck gaan vra. Dit was net genoeg om die eerste lus vir tabak te stil en die volgende wakker te maak.
Die Goringhaiqua in die duineveld oorkant die baai moes die skepe en die rook van baie vure naby die see gesien het, want hulle was een môre met daglig daar met beeste. Jy kon hulle ver hoor aankom. Van die duin kon Chief Harry stof bokant die bosse sien. Die beeste in aantog was al verby die vleie. En dan sien hy die beweging van rûe en horings in die verte. Daar was minder as dertig stuks, met agt of tien jong mans wat langsaan loop en fluit en stokke en kieries swaai. Dit het Chief Harry gehoor toe hy sy oor na die oggend toe draai. En hier was die vleis waarna Van Riebeeck soek, maar nie skape nie. Dit was dom van ou Gogosoa om sy beeste te laat gaan, want die bees koop alles. Waarom laat die moordenaar sy beeste gaan, of het hy so ryk geword dat beeste vir hom soos brandhout was? Beeste! ’n Man is niks sonder beeste nie. Hy moes beeste kry, want die wêreld is vinnig aan verander en hy staan nog met leë hande. As hy eendag sterwe, sal daar geslag moet kan word vir sy laaste andersmaak, en daar moet ’n vel wees om hom in toe te draai en weg te lê. Maar slaan hulle hom vandag hier dood, is hy net so kaal soos sy hond.
Hy het regop bly staan en die seuns laat verbytrek met die vee; dit was almal jong ossies. Die ongeduldige seuns, met koue beenpype in die mond in afwagting op tabak, het die diere te vinnig gedryf. Die osse se mae het grasgroen oor hulle hakskene gewerk. Ja, so werk die wit man se drank en sy tabak. Geen Koina wat met sy beestrop voor droogte weggetrek het, of hulle snags in die oop veld teen leeus en wildehonde opgepas het, sal so met diere werk nie. Maar dit is die vervloekte tabak en die wit man se blink krale wat maak dat jongmense beeste minag.
Autshumao het teenaan sy vyande opgestaan dat hulle hom sien. Hy wou iets skreeu, ’n teregwysing, ’n waarskuwing, maar hy het nie. En die seuns het sissend deur hulle leë pype geblaas en stokke en kieries laat kletter soos mense wat oorlog toe gaan, en die beeste is hygend verbygejaag met ’n geklap van horings, maar hulle het hom nie ’n tweede keer aangekyk nie. Hulle was verby waarsku.
Hy het weggebly van die werkplek af; hy wou uit die pad uit wees as daardie kinders op hulle terugpad gedrink verbykom. Hy het gedink die seuns – hulle was nog skaars mans – sou die hele dag vir die Hollander werk, brandhout breek, vir die Hollander ’n takkraal pak, bagasie dra of ander werk doen vir die drank. Maar hulle het net geruil, hand tot hand, sonder bespreking, en met hulle skat in die bladsakke omgedraai en daar weggeloop sonder om terug te kyk na die kosbare vee. Hulle tabakrook het klaar in die lug opgegaan. Nog dieselfde oggend is die eerste bees in die wyebroek se kamp neergetrek en sonder blydskap geslag. Hy het teen die berghang geloop en kyk hoe die Hollanders eers ander werk opsy sit en almal saam ’n takkraal pak. Hulle was nou eienaars van vee. In die oë van die wêreld was hulle mense van aansien. Hulle kon rieme maak, slag, rook maak vir Heitsi-Eib’, ruil, eet, andersmaak, velle brei, medisyne maak, hulle kon iets sê oor die gras en die water, en ander land-in laat wegtrek as die weiding hier te nou of te sleg word.
Die Hollanders het eers van seil en hout gebou, en terwyl hulle daaronder woon, slote gegraaf vir die fondamente van ’n groot fort, wat op die plek van die Koina se klipstapel stadig uit die sand en klei opgestaan het. ’n Diep en breë sloot is rondom gespit. Daardie eerste winter van die nuwe wêreld het dit elke dag gereën, die sloot het vol water geloop en deurgebreek see toe, en die jong rape en blomkool uit die groentebeddings is met dieselfde stroom weg.
Van Riebeeck het niemand gespaar nie, hy het hulle laat spit, walle gooi om water te keer, slote om strome weg te lei, slote om wildsbokke uit te hou, tot sy tuingrond sterker was as die winter self. Daardie tyd het Chief Harry en sy mense miserabel om rokende groenhoutvuurtjies in hulle mathuise by die Duintjies gesit. Van Riebeeck wou hulle geen kos gee nie. “Eers werk, dan eet. Dit is Haerlem se wet.” Sy eie mense was siek en hy wou die Koina in die tuin gebruik, maar hulle kon nie. Hy het met tabak probeer, maar nee, die mense kon nie met ’n graaf werk nie.
Dit was ’n swaar winter vir die Goringhaicona. Brandhout was nou skaars. Die see was te rof om op die klippe te gaan, en dit was nog te vroeg vir uintjies. Van die ouer mense is daar van koue en honger dood, en is weggelê tussen die Duintjies, sonder dat geslag is, of sonder dat die oorblywendes kon waag om weg te trek van daardie plek af soos dit hoort.
Hulle vuur het koud gebly, daar was net rook, skaars ’n vlammetjie onder op die klippe tussen die groenhout. Chief Harry het die bitter rook ingeasem en geglo dat dit hom warm maak, maar sy verstand was aan vlug van hom af, en hy moes hom soms met ’n ruk van die nek en skouers wakker maak, sodat hy nie in die koue slaap omval nie. Die dowe vrou het tussen twee ander diep in haar karos geleef. Agter die sluiers rook was niks anders nie as ’n bondel velle te sien. Na aan die dood het sy vorentoe en agtertoe gewieg; as sy aan die slaap raak, sou sy die ewigheid in stort.
Chief Harry het haar met sy vlieëjaer aangeraak, en toe sy nie opkyk nie, aan haar karos getrek. Die gesig van ’n ou skilpad het tussen haar voorarms verskyn, en hy het met sy hande beduie: “Die kind, Krotoa.”
Die skrefies van haar oë was op sy mond gerig. “Wat van die kind?”
“Sy kan werk kry by die wyebroeke.”
Haar gesig het agteruit deur die vou van haar karos verdwyn. “Dis jou dors wat praat, Autshumao,” het sy dof uit die donker spleet gefluister.
’n Winter was nog nooit so koud nie, sonder vleis, sonder ’n stuk vis. Hy het ’n arm uitgesteek en die matjie gelig om uit te kyk: deur die grys reën kon hy die swart massa van die Fort agter die duine sien hurk. Daar binne was vure, en in hulle stal was beeste en skape. Wie sou die Hollander se vyande wees? As hier weer Engelse kom, dan sal hy hulle wys waar die wyebroeke se beestrop wei. Dit sal moontlik wees om hierdie mense se beeste te vat as jy jou kans afwag. Haerlem se wet, sê die Hollander: eers werk, dan eet. Die wêreld was toe van die reën; dit sou later ’n groen jaar word, met beeste wat tot by hulle knieë in die klawer wei. Hy het om hom gekyk. Hy was koud tot in sy murg.
Die kind, deur die rook bedwelm, het met halfoop oë op ’n bossiekooi teen die muur gelê. Chief Harry het gedink: Die beste waarop jy kan hoop, is om in jou slaap te sterf. Trek jou deur toe, steek ’n groenhoutvuur aan, wag, wag, wag, en gaan sonder pyn. Rook is die heil van arm mense. Hy het haar met sy natgereënde hand aangeraak. Haar asem was flou voor in haar mond. Stadig bring hy haar terug, maar sy is onwillig. Hy lig haar slap lyf aan ’n arm op, dat sy sit. Chief Harry roep hardop na die kind. Drie ou vrouens het om die vuur gehurk en dromend gewieg, en een skrik en laat ’n oog blink in die swart gleuf van haar karos.
“Wat maak jy met die kind?” steun sy ontsteld.
“Ons moet eet.”
“Jy kan gaan werk by hulle.”
“Hulle beeste staan in ’n stal. Daar staan soldate oor. Moet ek gaan kind oppas in die Fort?” Hy het Krotoa opgehelp, en haar karos met die haarkant binne om haar gehang.
“Kom, Krotoa. Ons gaan na die Hollander toe. Daar is ’n lekker vuur in hulle huis, en elke dag kry jy soetgoed om te eet. Onthou jy witbrood met vyestroop, en soet tee? Dit sal die groot kaptein vir jou in ’n blou skottel gee.”
Die kring van ou aasvoëls om die vuur het wakker geword, en kerm in ’n yl koor: “Wat doen jy met die kind?”
“Moet sy hier doodgaan? Daar is kos by die Hollander.”
“In watter ongeluk sleep jy haar? En wie moet hier vuur oppas?”
“Pas jul eie vuur op.”
Die kind begin verskrik huil, en hy stoot haar by die deuropening uit en vat haar hand buite in sy vuis. “Hou nou op met huil. Jy kan nie met ’n snotbakkies voor die Hollander kom nie.”
Hy lei haar die duine oor, deur waterslote, en oor die vlakte waar die natgereënde gras teen hulle kaal bene vee. Druppels klou aan die vetterige buitekant van hulle karosse en gly teen hulle bene af grond toe. By ’n watergat met stringe vars paddaeiers langs die kant skep Chief Harry ’n hand vol reënwater en was Krotoa se gesig. Die koue slaan haar asem weg, en hy sleep haar hygend en huilend verder in die rigting van ’n swart kol in die reënvlae.
“Krotoa, moenie huil nie. Van vandag af gaan dit beter. Voor hoogsomer sal ons beeste hê. Dit is melk en botter.”
“Ek wil nie gaan nie.”
“Dit is beter so. Die Hollander se huis is vol kos. Brood. Rys. Krale. Het jy gesien hoe trek die vrouens aan? Kraletjies en kammetjies in die hare?”
Die strand was oorstroom, die noordewind het die reën saam met ’n skuimende hooggety dreunend teen die sandbank opgejaag tot in die bewende bossies van die voorduine. Twee roeiskuite het onderstebo op die duine gelê, veilig buite skade. Om die Fort was die wye sloot gelykvol malende modderwater, en anderkant ’n plankbruggie het ’n visnet, deur die wind gebondel, oor ’n stellasie geswaai en water gedrup. Die poort was tussen twee vishuise. Hy het die kind onder die afdak ingetrek en drie houe met sy kierie teen die swaar deur geslaan. Agter die deur het iemand geskreeu: “Twee swartes voor die poort.” En van anderkant die binneplein het ’n ander stem geantwoord: “Met of sonder vee?” En weer die uitkyker: “Dis ou Herrie en die kind, korporaal.”
Chief Harry vra vir Krotoa: “Wat sê hulle?”
“Hy vra of ons beeste het.”
Daar was geen woord agter die deur nie. Dit is die Hollander se gewoonte om jou te laat wag; dit maak jou nederig. Maar dit doen die Engelsman ook. Bo hulle koppe was die vlag soos ’n nat lap teen sy paal geplak. Die reën het sag teen die Fort se grondwalle gesif en slootjies daaruit ondertoe gespoel. ’n Nat wind het oor die bossietoppe gevee. Die kind het gerittel van die koue. Hy het haar belowe: “Binne sal dit warm wees.”
Toe kyk sy op na hom toe. Hulle oë hou aan mekaar vas, vir steun. Onder die punthoedjie is die gesiggie driehoekig, met twee groot swart oë, weggesak in hulle kasse bokant hoë wangbene. Haar twee beentjies onder die karos is soos stokkies. Sy is uitgeteer. As die Hollanders net vleis aan haar kan kry. “Jou ma was altyd blink in die gesig, blink arms en bene, hare blink van vet. Ek het nie ’n hoef of ’n horing om vir jou te gee nie, susterskind, maar hier binne gaan jy warm wees.”
“Ek wil nie gaan nie. Ek is bang.”
“Jy is so slim. Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie. Onthou jy die skip Haerlem? En jou mense is nie ver nie.” Hy wys deur die donker en reën. “Net daar by die Duintjies.”
Toe wag hulle weer in stilte.
Die swaar grendels is oopgeskuif, een onder naby die grond, ’n ander bokant hulle koppe. Toe die hek oopswaai, is dit Van Riebeeck self wat daar staan, toegedraai in sy swart oliekleed soos ’n nat vlermuis. Agter hom twee soldate met stukke seil om die skouers en verroeste ysterhoede op. Die water het getap van die rietdakke om die binnehof.
“Kom in.” Hy het vooruit geloop, na sy groot kliphuis teen die agterste muur. Die poort is agter hulle toegeswaai met ’n ruk van die wind en ’n slag, en gegrendel. En toe is hulle eindelik uit die reën. Maar met die toeklap van die woonhuis se deur, weer gehelp deur ’n vlaag wind, spring die skrik in Chief Harry op. Gevang. Heitse! Dan kyk hy rond: Daar is plankvloere, vensters hoog in die mure, gewere en pieke teen die muur. Deure aan die linkerhand en die regterhand, die wit tefie op ’n toumat voor ’n springende vuur.
Voor die herd was twee bankies. Van Riebeeck het een vir Chief Harry reggeskuif. Krotoa het op die mat gekniel met haar hande na die vlamme, en die hond het opgekyk en sag met haar stert teen die mat geslaan. Van Riebeeck het gesê: “Is jy die enetjie wat Hollands praat? Ek het van jou gehoor.” Uit ’n blou potjie op die herdrak het hy ’n blokkie bruin beetsuiker gehaal en in haar mond gesit, en geglimlag vir die plesier op haar gesig. Toe vra hy in Engels:
“Wel, Herrie, wat gaan van ons word?”
“Ek kan dit nie sê nie.”
“Julle is honger. Is dit waarom jy hiernatoe gekom het? Julle is almal honger. Jy het die kind gebring sodat ons vir haar kos gee.”
“Ja.”
“Ons is ook honger, Herrie. Glo jy dit nie? Vanoggend vroeg in hierdie weer het ek ’n skuit na die eiland toe gestuur om eiers en pikkewyne te soek. Hulle is nog nie terug nie. Hier het my mense gister ’n dooie bobbejaan, drie, vier dae dood, uit die berg aangedra om te eet. Ek het nie kos vir my eie mense nie.”
“Hoe eet julle dan?”
“Ons vang vis, eet robbe, pikkewyne.”
“Ja, daarvan kan jy gee.”
“Nee. Haerlem se wet: eers werk, dan eet. ’n Kind sal gevoer word, en ’n vrou kan gehelp word, maar ’n man moet werk. Is dit by julle ook so?”
“Ons is almal honger. Gogosoa het ons vee gevat. Wat daarvan as julle bobbejaan moet eet? Ons kom klaar met sprinkaan, muis, kraai, al die vullis van die veld.”
“Maar hierdie winter sal julle moet werk.”
Krotoa het ’n woordjie onthou, en hardop gesê: “Suiker.” Van Riebeeck het geluister of dit ’n versoek was, maar toe sy nie na hom kyk nie, het hy nog ’n blokkie in haar hand gesit.
“Wat is jou naam?”
Sy het haar ken op haar bors laat sak, en hy het vir Chief Harry gevra: “Evatjie?”
“Krotoa.”
“Watse kos het julle by Nieuw Haerlem gekry?”
“Brood en rys. Vleis. Arak, tabak.”
“Watter werk het die kind daar gedoen?”
“Met die kosmaak en by die potte.”
“Ek het so gehoor.” Van Riebeeck het by die deur gaan praat met iemand in die kamer langsaan, en Eva het woorde gehoor en uitgeroep: “Brood en kaas!” sodat Van Riebeeck omgekyk het.
“Jy het skerp ore, Evatjie. Wil jy nie hier by ons kom woon nie?” En aan Chief Harry: “Jy sal moet Hollands leer. Engels is nie hier nodig nie. Die Engelse kom nie, dit is klaar met hulle.” Die kind het ’n derde suikerklont uit sy hand geneem. Toe haal hy sy pyp van die rak bo die herd, stop dit sorgvuldig uit ’n vaatjie op die tafel, terwyl hy die hele tyd vir Chief Harry in die oog hou. Met sy rug teen die warm herdmuur lê hy ’n kool op die stop, suig dit tydsaam aan die brand, en laat die rook uit sy mond draal. “Engelse tabak, uit die nuwe kolonies in Amerika. Heerlik soet. Nie so erg branderig soos die swart Turkse grasse wat hulle hier aan ons probeer afsmeer nie. Smaak meer na steenkool.”
“Ek ken Engelse tabak.Virginie.”
“Juis. Seker lanklaas gerook? Die gewoonte is dat ons tabak ruil vir vleis. Dit maak nie vir my veel saak nie, maar ons het skape nodig vir vleis en ek het beeste nodig vir my transportwaens. Pakosse en trekosse. Maar jy sê jy het nie skape of beeste nie?”
Die soet ruik van pyptabak het in die kamer gehang. Chief Harry wou nog nie bedel nie. Hulle gewoonte van tabak vir vleis was nie sy gewoonte nie, hulle skepe het daardie gewoonte hiernatoe gebring. Wat erg was: behalwe sy Engels het hy niks gehad om te verruil nie. Daarom het hy stilgebly.
“Ons vaar op die oomblik sleg, Chief Harry, maar ons gaan herstel. ’n Skaaptrop, spanne werkbeeste, waens gaan jy hier sien. Ek sal daarvoor sorg, met die hulp van Bo. Graan, tuine, tabaklande. Die baai vol skepe. Baie soldate, jy sal sien.”
’n Kok het ’n skinkplank gebring met brood en kaas, en twee bekers warm, gegeurde wyn. Krotoa het teen die tafel kom staan.
“Sit eers neer,” het Van Riebeeck vir die kok gesê. “Ek wil klaar praat.” Toe tel hy op sy vingers af: “Eerstens, ’n tolk. As Evatjie wil, kan sy hier woon. Sy sal by ons tafel eet. Al wat ek vra, is dat sy my vrou help met die kinders, die wasgoed, so aan. Tweedens: loswerk soos water dra, potte skuur, brandhout. Dit kan die ou vrouens van jou werf doen. Derdens, die groot saak. Ek moet skaap en bees hê, vir skeepskos, vir ons garnisoen se spyse, maar bowenal vir my transportwaens. Al moet ek dit self gaan haal. Al moet ek daarvoor moor.”
Op Chief Harry se stil knik het Van Riebeeck die pypsteel soos ’n pistool op hom gerig.
“Dit is jou werk om vir my diere te kry.”
“Ek?”
“Ja, jy sorg daarvoor. Laat ek genoeg vee kry, en jy en jou ou vrouens en hierdie kind gaan kos hê. Kos en tabak, en brandewyn. Wat sê jy?”
Chief Harry het die aand met ’n skilpaddoppie vol snuif na die dowe vrou gegaan, en gesê Krotoa is by die Fort, maar sal dikwels kom met brood en tabak. Hy het sy boog en pylkoker omgehang, en toe in die reën uitgeloop na die Cochoqua toe, waar nog bloedverwante van Krotoa was. Hy was vaak van die middag se drink en eet, maar solank dit reën, was sy spoor veilig. In die noordweste was die lug klaar donker, en hy wou tussen sononder en daglig die stuk veld oorsteek waar die Grigriqua laat wei. Dit was nóg ’n nasie wat teenspoed vir hom beteken.
Die aand daarna het hy by die Cochoqua gekom, met twee vet wyfieskilpaaie in sy bladsak. Oedasoa het hom laat verstaan dat hy reg gedoen het deur versigtig te wees. ’n Paar nagte tevore het Grigriqua probeer om hulle huise af te brand. Die rietmatte was te nat om vuur te vat, maar hulle het weggekom met twee of drie beeste. En dit was omtrent al wat Oedasoa gesê het, want hierdie hoofman van een helfte van die Cochoqua was ’n stil man. Chief Harry het twee dae daar vertoef en gepraat met Oedasoa en met sy vrou, maar die antwoorde en die vrae het net deur die vrou gekom. Sy wou hoor van haar sustertjie, Krotoa. Sy het hom genooi om die kind na haar toe te bring. Die kind word groot, en daar wag ’n trougeskenk vir haar hier in Oedasoa se kamp. Later het sy verstaan dat Autshumao nie daardie kind sal afstaan nie, solank as wat daar kos en drank vir die Watermans in die wyebroeke se kombuis was.
Ja, dit was beter vir haar daar as om klipvisse te vang in die reën. Oedasoa se vrou was bly dat die kind nou uit die koue was. Heitse, die wit man het makliker gelewe as die Koina. Maar was die man in wie se huis sy woon, getroud? Was daar ’n vrou wat na die kind kan omsien? En Oedasoa het stil geluister en riempies gerol tussen sy handpalms. Sy oë was neergeslaan as Chief Harry praat. As sy vrou praat, was sy oë op haar. ’n Groot trougeskenk, ja, het hy gesê, maar dan sal Krotoa hier moet kom woon, trou met ’n man uit hierdie kamp, en hulle kinders moet Cochoqua wees. ’n Honderd beeste, vyfhonderd skape. Haar vee sal deel bly van die Cochoqua-trop. Met sy vrou sou hy later oor die kind se andersmaak praat.
“Wat as sy by die Hollander wil bly?” het sy gevra.
“Wat gee jy aan ’n dogter wat nie joune wil wees nie?”
“Gee skape vir die wyebroek, dan bring ek rys en tabak,” het Chief Harry gesê. “Een velsak vol rys is sewe, agt dae se kos. Julle hoef nie so op uintjies te wag nie.”
“Hoeveel skaap wil die wyebroek hê?”
“Dit is veral vir aanteel, maar ook vir eet. As hy eers ’n aanteeltrop het, sal hy ons verder met rus laat.”
“Ons kan hom dan so help.”
“En bees, veral ry-os en dra-os.”
“Heitse, ons kan nooit ons bees laat gaan nie.”
“Net vir ’n tydjie. Gee vir my twee osse en sewe skape.”
“Maar wat gee hulle vir Krotoa? Wat kry sy daar, van die Hollander?”
“Hulle eet goed. Hy het gesê hy sal vir haar klere gee soos sy vrouens dra. Almal eet goed by die Hollander.” Hy het gedink aan sy eie reis na die Ooste. “Miskien vat hy haar op ’n skip na sy land toe.”
“Gaan hy dan weer terug? Hulle bou kliphuise. Dit is nie vir weer weggaan nie.”
“Skepe kom en gaan nou die hele tyd.”
Oedasoa se vrou het onrustig na haar man gekyk. Sy het gewag tot hy sy gesig na haar toe lig, en geskrik vir die hulpeloosheid wat sy daar sien. Toe sak sy oë na die riempies onder sy vingerpunte. Sy het stil dopgehou hoe strokies wat eers springbokvel was, wat eers wilde springbok was, ronder en sagter word teen mekaar, ronder en sagter soos Oedasoa die taaiheid van die wildsbok uit hulle stryk.
“Laat jou jong mans die bees en skaap verby die Grigriqua jaag, Oedasoa,” het Autshumao verduidelik. “’n Paar elke volmaan, ’n paar elke nuwemaan, tot die Hollander genoeg het. Later sal jou mense, almal van jou kamp en hulle vrouens ook, met die wyebroek wil ruil. Hy gee vir ouvee ook tabak. Jy sal moet keer dat die wyebroek nie te veel kry nie.”
Oedasoa het gewonder oor hierdie Autshumao op wie hy nog altyd neergesien het. Hier by hulle was skaap en bees genoeg om vir altyd te voorsien. Na hierdie winterreën kan hulle ’n goeie aanteel verwag. Hy kon ’n paar vee afstaan vir rys en tabak. Autshumao sê as die jong mans sy vee verby die Grigriqua neem, sal hulle rys en tabak terugbring. Maar die Grigriqua sal hulle wil voorlê, beroof. Op die oomblik is hulle net ’n klein klompie kwaai kêrels, maar daar kom nuwe heethoofde by, arm oorlopers, vlugtelinge wat roof sal kies vóór vee oppas. Waar gaan dié saak nog eindig? Sy jong mans wat die diere wegneem, moet beloon word as hulle terugkom, met van die rys, van die tabak. Wat word daarna van hulle? Rokers, drinkers.
Toe Autshumao ophou praat en hom in sy gesig bly kyk soos ’n hond wat vir ’n been wag, het Oedasoa geknik. Eerste sal hy van sy eie goed laat gaan, dan dié van ander mans van sy ouderdom wat gewillig is.
Chief Harry het nog een dag by Oedasoa gebly, en met die vrou gepraat oor haar sustertjie, hoe slim die kind was met die taal. Die koms van hierdie Hollanders was heel waarskynlik ’n goeie ding, het hy vir Oedasoa se vrou gesê. Die Hollander het werk belowe vir die ou vrouens wat by hom woon.
En Chief Harry het sy oë oor Oedasoa se beeste en skape laat gaan as hulle voordag veld toe loop, en weer as hulle met sononder binne die kring van huise gedryf word. Dan was hy daar tussen die ou mans, en sy oë het saam getel, groepe van tien, twee hande vol op ’n slag. Dit was pragtige diere wat daagliks in nat wintergras wei. Ook oor die jong herders het hy sy oë laat gaan.
Goeie kondisie, maar het hulle boog en pyle saam veld toe gedra, of net ’n raakhomstok? Het hulle huis toe gekom met ’n bokkie oor die skouers, of net met volstruiseiers of ’n skilpad vir die oumense van die familie? Hoe ver land-in het hierdie stil Oedasoa se stem getrek? En is sy vegosse geleer om vooraan te loop?
Ja, daar was ’n haas en ’n paar fisante, en dit was min vir die jong herders van so ’n groot kamp. Waarmee was hulle die dag agter die beeste besig? Hulleself die hele dag styfgemaak? Die seun wat die haas dra, is verwelkom, geprys as ’n jagter. Chief Harry, agter in die kring, het stil toegekyk; dit was ’n eer wat hy nooit geniet het nie. Toe Oedasoa in die voorste ry omdraai, was dit sy gedagte ook toe hy Chief Harry aankyk.
Die reën het opgehou en hy is terug Duintjies toe. Sy mense se hutte was leeg. Hy het spore gesoek, maar niks behalwe die reën se spore gesien nie. Die vuurgat in die groot hut was koud, die hout halfgebrand en skielik geblus. Hulle kalbas, vol tot bo met vars reënwater, het aan sy stok agter in die hut gehang. Die biesiemandjies was weg uit die dakkoepel. By die buiteherd het die skulphoop gelê soos hy dit laas gesien het: plat, koud en bespat met nat sand. Niks het daar bygekom nie. Van die hoogte van die duin kon hy mense sien werk aan die walle van die Fort; kruiwaens is teen planke op gestoot, boontoe. Ander het ronde seeklip aangedra uit ’n boot op die strand. Op die oop see naby die eiland het ’n diepgelaaide boot onder smal seil geloop.
Hy is onrustig na die Fort toe. Toe hy by die poort kom, lê sy hond daar teen die muur, sy pens dik gevreet. Die hond het hom aangekyk, gegaap en sy oë toegemaak. ’n Soldaat met ’n piek en ’n verroeste ysterhoed het uit die waghuis gekom met twee stukke van ’n vars, rokende potbrood wat drup van botter in sy hand. Met sy mond vol het hy grond toe beduie. Hy wou hê Chief Harry moes sy boog, pylhouer, assegaai en raakhomstok daar neersit. Hier was die Fort, die kanonne, die pieke en gewere, al die soldate. Hulle was nie vir hom bang nie, maar hy was vir hulle soos ’n kind, hy kon iets onverantwoordeliks doen. Hy moes daar op Van Riebeeck wag. Langs hom, waar die wagkamer se deur oopstaan, kon hy die dikte van die Fort se mure sien: twee vol armlengtes, pure klip, klei, breë hout. Bo-op het dakbalke gelê, swaar jong bome die volle wydte van die kamer, van die een muur tot die ander. Hy het hom probeer voorstel hoe hulle so ’n boom afkap, hoe die bylhoue klink in die diep bos onder die bergkranse, hoe soldate sukkel om hom teen die skuinste uit die bos te haal, hoe hulle stewels in die swart grond gly, hoe hulle vloek op hulle god. Hulle was nie kapabel sonder trekvee nie. Dit was hulle swakheid. Hulle moes osse kry.
Toe Van Riebeeck kom, sê Chief Harry vir hom: “Jy gaan baie osse nodig hê om al jou werk gedoen te kry.”
“Ja, ek het jou dit gesê.”
“Wat word van ons Koina na jy ons beeste in die hande het?”
“Jy oordryf nou. Wat het jy by Oedasoa gehoor, sal hy vir ons bees en skaap laat kry?”
Chief Harry het gedink: Wat verstaan hierdie man van die Koina se behoefte? Dis nie soos sy tee-en-brood nie. Die bees is alles, alles. Hy sê: “Ek sien my hond voor jou hek lê. Die vrouens is weg daar by die huise.”
“Hulle het kom werk vra.”
“En Krotoa?” Chief Harry het die onrus in Van Riebeeck se gesig gesien.
”Wat sê Oedasoa? Is hy gewillig om te voorsien?”
“Skaap en bees vir rys en tabak, elke nuwemaan. Maar hoeveel, wil hy weet? Hy vra hoeveel rys en hoeveel tabak.”
“Hy sal genoeg kry. Soveel as wat die diere werd is.”
“’n Bees het nie ’n prys nie. Jy kan nooit genoeg betaal nie.”
“Elke ding het sy prys. Elke man het sy prys, Chief Harry. Maar ons sal niemand bedrieg nie. Niemand sal met leë hande weggaan nie.”
Maar hy het klaar gesien hoe die bees al in rook opgaan vóór die jong manne omdraai huis toe ná die ruil. En hy het gesien hoe hulle teen ’n bos staan, en die wit man se kosbare drank uit hulle blase in die grond laat wegloop. Klaar. Dít is ruilgoed. Dit verander tot niks.
“Nou waar slaap Krotoa, wil Oedasoa weet.”
“Eva slaap in ons kinders se kamer. Wil jy haar sien? Kom.”
Hulle het binnetoe gegaan en Van Riebeeck het sy kok aangesê om vir Chief Harry kos en drank te bring.
Die kind, toe sy kom, was soos ’n Hollandse meisietjie in swart en wit, met houtskoentjies teen die winter en ’n gestyfde klapmus. Haar gesig was effens voller, haar oë vol lag. Sy het geruik soos ’n Hollandse vrou. Sy was gelukkig. ’n Ent van Chief Harry af het sy gaan staan en na die Hollander gekyk asof sy wag op permissie. Van Riebeeck het dit opgemerk, sy mantel oor sy skouer geflap en buitetoe gegaan sodat die werkers hom buite sien in hierdie weer, en dit hulle aanspoor. Noudat hy weet dat daar beeste sou wees, kon hy verder beplan. Hy sou eerste ’n brandyster laat smee.
In die groot kamer het Chief Harry vir Krotoa gevra: “As hulle nou die hele dag vir die wyebroek vuurmaakgoed dra, wie gaan vir ons huise sorg?”
Krotoa het ernstig geantwoord: “Hulle gaan nie weer Duintjies toe nie. Hulle bly nou hier.”
“En die kos wat die Hollander belowe het?’
“Hulle kry dit. Hulle eet in die vishuis voor die poort.”
Chief Harry het sy hande stadig oor sy gesig getrek, van bo af ondertoe, asof sy vingerpunte sy gesigvel afstroop. Sy Goringhaicona het weggeraak in die Hollander se werk. Die huise by die Duintjies gaan in die wind verweer, leeg bly en volgende droëtyd uitmekaar waai. Hy sal die winter alleen daar wees, sonder die hond, en moet sy eie kos en brandhout soek. Daar is drie leë hutte, vir die hiënas, vir hom, vir die hei-nun. En kom Sonqua in die nag, seil hulle op die maag by sy deur in, en daar is nie ’n hond om te blaf of ’n wagbees om te bulk nie.
“Jy moet onthou, Autshumao, my naam is nou Eva.”
Chief Harry het geknik. Dit gaan baie anders wees as vroeër. Die kok het ingekom. Daar was ’n skottel melk-en-brood en ’n beker Spaanse wyn. Chief Harry het diep gedrink, en geëet van die warm melk-en-brood.
“En my heer het gesê jy kan die huise hier bring. Julle kan dit agter die buitemuur opsit.”
“Jou heer,” sê hy. “Praat jy van die wyebroek? Sê hy nou waar ek moet slaap?”
Sy het geduldig geswyg onder sy dreigende oë. Noudat hy alleen staan, die een wat nie kos het nie, nou wil hy oor haar heer speel. Toe hy sy wyn opgeslurp het, sê sy dat sy na die kinders moet gaan kyk.
Chief Harry het buite die poort omgedraai om Van Riebeeck agterna te kyk. Hy staar teen Van Riebeeck se rug en dink hy weet wat in die man se gedagtes is. Daar loop hy langs die stuk wal wat van die reën ingestort het, waar die soldate op steiers werk om die wal met sooie en klippe te stut. Hy is bekommerd oor sy stuk wal. Van die see af lyk sy Fort party dae asof dit deur swaargeskut platgeskiet is. As die inboorlinge wou, kon hulle teen daardie skuinste op hardloop soos kinders teen ’n sandduin. So ver was hulle nog te vreedsaam en onderling verdeeld om aan moord te dink, maar as hulle sou saamspan, was daar moeilikheid vir hom. Of sou hulle nie die moed hê nie? Daardie trekvee sal van die Koina moet kom, wie anders kan dit voorsien? ’n Heining van pale, hoog en dig genoeg om leeus en Koina buite te hou, is nodig om sy trekvee te bewaar. Hy gaan honderde boomstompe nodig hê om die veekraal te vergroot, van die geelhout agter die Tafelberg; hier groei geen ander bome wat lank en swaar genoeg is nie. Daar sou baie bome moet kom, en baie osse om die hout uit die bos tot by die wapad te sleep. Daarna ’n tweede voorspan, om ’n wa met ’n vrag stompe tot by die Fort te bring. Dan moet die stompe tot balke gereep word. Dit is waaraan die wyebroek daar in die reën loop en dink.
Toe die eerste nuwemaan kom, het Chief Harry vir die Cochoqua by die drif in die Brakkerivier gaan wag, dit was die ou oorstaan vir die Koina, vir die Cochoqua uit die noorde, en die Chainouqua van oorkant die berg. Die stroom het sterk geloop en die drif was diep na die reën. Gewoonlik het hy hier geproe of seewater by die mond ingestoot het, maar nou in die hart van die winter was die afloop te sterk, en daar was min kans vir vis in die vleie laer af. Het Van Riebeeck geweet dat die see twee keer daagliks tot hier bo by die drif opstoot? Hier kon Van Riebeeck elke dag genoeg vet harders trek om al sy mense mee te voer. Hy sou stilbly daaroor. Hier, tussen die bosse, was ook ’n klipstapel van Heitsi-Eib’. Chief Harry het ’n kalkklip op die lang, lae hoop gaan gooi, en met sy hand oor sy agterkop van die plek af weggeloop. In ’n digte plaat slaaibos op ’n hoogte naby die drif het hy sy bondel laat val, en vir hom slaapplek gemaak.
Voor dagbreek was die vee daar op die oorkantse wal: twee mans wat ’n bees en ses skape aanjaag. Chief Harry het sy koue lyf gestrek, ’n tydjie op hande en knieë gewag om na hulle praat te luister, en toe opgestaan. Hulle was bly om hom te sien. Dit was die eerste keer dat hulle hier kom; hulle was onseker oor die drif en wou liewer hoër op probeer. Maar hy het hulle gepaai: Dra maar die skape deur, die koei kan hier loop. Toe hulle troppie aan die Kaapse kant was, het hy hulle die Fort gewys. “En hoor, daar blaas hulle die horing.” Ver weg kon hulle die note van ’n trompet hoor. Dit was ’n vreemde geluid in hierdie land, en die herders het daarvoor stilgestaan. Al drie het gedink aan die geluid waarmee ’n olifant sy vyand wil verskrik, en by al drie het ontsag vir die Kompanjie gegroei. Toe het Chief Harry hulle op die beespad Fort toe gelei.
Die Cochoqua was stil, onrustig. Dit was die eerste keer dat hulle in die Fort kom, dat hulle wit mense sien, en die eerste sien van ’n stoel, ’n blikbord, ’n vuurslag. Hulle het weerskante van Autshumao se bankie gehurk.Van die begin van die gesprek af was Chief Harry seker dat hy Van Riebeeck in sy hand het. Hy sou net Engels praat. Van Riebeeck wou nog sy Evatjie inroep, maar Chief Harry het vir hom gesê: “Ek praat vir hulle, en jy kan my verstaan.” En aan die Cochoqua het hy verduidelik dat die kind vir die Hollander werk en dat hulle teen hom saamspan om die Koina te besteel. Van Riebeeck het drie kommetjies met brandewyn en water gevul, op tweede gedagte ’n blokkie suiker in elkeen gekrummel, drie pype met tabak gestop en aangesteek en in hulle hande gegee. Toe het hy voor sy klavesimbel gaan sit en psalmwysies gespeel. Chief Harry het sy kommetjie na die besoekers gelig, “Cheer, ho” gesê, en gedrink.
Van Riebeeck se eerste vraag was: “Wat kan ek met een koei doen, Herrie? Ek het honderde nodig.”
“Die mense sal nie hulle beeste afstaan nie. Die bees is vir hulle alles. Amper soos …” Hy het rondgekyk. Soos wat? Wat is vir die Hollander dierbaar? Op die Engelse skip was ’n kruis van hout met die figuur van ’n man daaraan gespyker, en jy kon ’n Engelsman doodslaan, maar hy sou nie daar verbyloop sonder om aan sy hoed te vat nie, anders was hy verlore soos ’n hond wat nie sy spoor huis toe kan kry nie. “As ons nie beeste het nie, moet ons rowers word, of jagters in die berge, of ons kos uit die koue seewater haal. Dit word honger en swaar dae.”
“Ek glo,” het Van Riebeeck gesê, “dat hulle tog sal verkoop of verruil. Hulle sál; die eerste bees staan klaar in my kraal.” Hy het tevrede gekyk hoe hulle aan die pype suig. Die eerste pyp maak van ’n man ’n roker. “Vra nou vir hulle, Herrie, hoeveel beeste Oedasoa het.”
“Veertig.”
“Ek wil dit van hulle hoor. Vra vir hom. Ek wil die waarheid weet.”
“Ek ken vir Oedasoa. Hy het veertig beeste.”
“Ek glo dit nie.”
Toe draai Chief Harry na die Cochoqua toe en vra: “Hoeveel beeste het Oedasoa?” En hy vertaal die antwoord: “Oedasoa het veertig beeste.”
Van Riebeeck wou dit nie aanvaar nie. As die Koina so arm is, sal hierdie diensstasie wat Here Sewentien aan hom toevertrou het, nooit aan die gang kom nie. Tientalle beeste, honderde, is nodig vir aanteelvee, trekvee, pakosse, slagvee, melkkoeie, maar die belangrikste van alles is die vervoer. Alles wat oor land moet gaan, moet deur osse geneem word. Dit is dus osse, of anders, waaragtig, gaan hy slawe maak van hierdie nasie. Hy sal met kalmte en geduld vooruit. Hulle beeste of hulle moet die las dra, maar hierdie diensstasie gaan slaag.
Hy het skoon brandewyn in hulle kommetjies gegooi. “Hoekom het die Cochoqua so min vee?”
“Die Goringhaiqua het van hulle gesteel, en die Grigriqua het ook van hulle gesteel,” sê Chief Harry.
“Nee, ek wil dit van hulle hoor.” Die agterdog het hom bygebly, maar Chief Harry het gevra, en die antwoord gegee: dit is hoe dit was, dit was nie anders nie.
Vroeg in die voormiddag het die twee mans vertrek met hulle rys in twee seilslopies en hulle tabak in growwe sak gedraai. Hulle het geloop en kou aan swart tabak. Chief Harry het gekyk na hulle spore van die oggend, bo-oor gister se skaap- en beesspore. Sy kop was moeg van sukkel met die Hollander, maar hy was tevrede dat hy gekry het wat hy wou hê. Oedasoa sou nou weet om nooit te veel bees op ’n keer te stuur nie, en Van Riebeeck sou weet hy moes betaal vir wat hy wil hê. En sy eie planne was mooi aan die loop. Die jaar gaan nog groen word vir hom en die kind.
Hulle het geloop en praat oor wapens. Hy het probeer verduidelik hoe die wyebroek se kanon en skietgeweer werk. Al wat hy met sekerheid kon sê, was dat daar geen toordery by was nie. Enigeen kon dit laat werk, ’n kind kon dit doen. Net op reëndae werk dit nie. In Indië het hy baie swart soldate gesien wat gewere dra, maar sy gedagtes daaroor het te ver vooruit geskiet, geskrik en teruggevlug na die beespad toe, na die spore van beeste in die rigting van die Fort. Ja, klein Krotoa moes vir eers by die Fort bly. As sy oud genoeg is vir andersmaak, en as sy daarna oud genoeg is om ’n man te vat, sal hy haar wegneem na die Cochoqua, of na ou Sousoa, oorkant die berg. Dit lê nog voor, die kind is skaars twaalf jaar. Maar hy moet behoorlik vrede hou met die Hollander, dat hy self eers op die been kom.
Op die wal, by die drif in die rivier, het hulle ’n paar klippe op Heitsi-Eib’ se stapel gelê. Toe het Chief Harry sy mes, ’n goeie Engelse mes, uitgehaal en die tabaksak se tou losgesny. Die rol swart tabak, heerlik van brandewyn deurtrek, het vriendelik geblink toe hy die pennetjies loswikkel, twee handbreedtes afrol en dit met een trek van sy mes lossny. Toe steek hy weer die pennetjies in, sit die rol weg en bind die sak vas.
“Die Hollander gee die stuk vir my omdat ek vir hom by Oedasoa praat. As Oedasoa maar wil leer Hollands praat, sal hy my die moeite spaar. Die Hollander sê Oedasoa moet nou weer by sy mense hoor of hulle skaap en bees wil stuur. Hulle kan maar stuur. Julle het gesien wat die Hollander daarvoor gee. En hierdie bietjie droë rys, sal julle sien, word ’n groot klomp in die pot. Sê dit vir Oedasoa. Twee dubbelhande is genoeg vir vier, vyf mense. En jy kan vir al die Cochoqua sê: as hulle by die Fort kom, kry hulle brandewyn en hulle word Jan Kompanjie se man. Maar hulle moet skaap bring, en bees.”
Eenkeer het Oedasoa en Ngonnemoa, die twee hoofde van die Cochoqua, self saam met van hulle oudstes gekom om die Hollander te ontmoet en die bouery van die Fort te bekyk. Hulle het die vee afgegee, en Jan Kompanjie se maklike andersmaak ondergaan. Met die kind die hele tyd by moes Chief Harry die Koina se woorde aan Van Riebeeck getrou oordra, en Van Riebeeck s’n weer aan Oedasoa en Ngonnemoa.
Oedasoa wou apart met Krotoa praat. Hy was gesteurd toe hy die kind in ’n blou rok sien, hy kon nie sê waarom nie. Hy het sy geskenkie van uintjies en gepoeierde boegoe oorhandig, en gevra: “Jou ma se suster wil weet hoe dit met jou gaan?”
“Goed. Dit is lekker hier.”
“Wat sal ek haar van jou sê?”
“Die vrou het twee seuntjies. Hulle moet elke dag hulle gesigte was en ek gee vir hulle kos en trek hulle klere aan.”
“Nou ja, dit is goed. Ek kan sien hulle klere is moeilik om aan te trek.” Krotoa het vir hom vreemd eenvoudig, jonk en leeg geklink. Was wit mense se dogters so? Sy was ’n goeie kind, onskuldig, sy wat tussen ou vrouens grootgeword het. “Kyk, kind. Hierdie brandewyn van hulle, moet dit nie drink nie. Dit is nie vir jong mense nie. Jong mense val op die grond as hulle dit drink, en hulle gooi op.” Sy het belowe, en toe aan die ander kant van die kamer by Van Riebeeck gaan staan en lag en praat asof hy haar vader was. Miskien was sy al Jan Kompanjie se kind. Oedasoa het gewonder of sy al deur die Hollander se andersmaak was. Net met daardie vriendelike geaardheid van haar het sy dit reggekry, sonder dat vir haar geslag is. Hy sal vir sy vrou vertel die kind is veilig, al weet hy in sy hart haar voetjies loop in nagdonker vooruit, vóór hulle almal uit.
Chief Harry het saamgegaan tot by die drif toe die twee hoofmanne van die Cochoqua op hulle afsonderlike koerse vertrek. Hy het sy klip op die stapel gegooi, sy tabak gerook, en tevrede dopgehou hoe hulle wegraak in die veld. Daardie twee, Oedasoa en Ngonnemoa, wat op hom neersien, het nou gesien dat hy die wit man se mond is.
Soos Sonqua maak as hulle jag, het hy daar vir hom ’n skansie teen die wind opgeslaan, en gewag om te kyk wat verder gebeur. Eerste het die Grigriqua aangekom met vyf mooi beeste. Chief Harry het hulle ingewag, geneem, teruggebring. Sy beloning van tabak het hy in die skrotum van ’n eland toegedraai en onder die bosse weggesit. Die nuus moes goed en gou versprei het, want die Goringhaiqua het dieselfde nuwemaan beeste gestuur. Beeste, nie skape nie. Wou hulle dan dood wees? Dit was dié keer nie die lawaaierige, lighoofdige jongelinge wat deur beenpype blaas nie, maar beleefde mans, versigtig oor wat hulle by die Fort sou ervaar. Hulle het gesê dat hulle hom daar verwag het, hy was mos die Kompanjie se mond, en hulle wou hom vra om hulle met die vee na die Fort te vergesel. Hy het hulle met die beespad langs geneem en agter die Fort om, na die kraal van geelhoutbalke waarin die Kompanjie se vee snags gehou word. Die diere was al veld toe, en aan hulle spore kon hy sien watter onverwagte getal bees die Hollander bymekaargehad het. Omtrent ewe veel skaap as bees, het hy gemeen, en na skatting omtrent vyftig van elk.
Van Riebeeck het daar by hulle kom staan. Almal het gestaan met die voorarms op die boonste balk en hulle voete tussen beesmiskoeke in die kort geweide gras. “Ons gaan dit hier regkry, Herrie. Ek kry al hoe meer hoop. As die Koina aanhou om vee te bring soos hulle nou doen, dan gaan ons dit regkry. Die groente kom ook mooi aan.”
“Is jy tevrede?”
Van Riebeeck het vermoed dat veel van sy antwoord afhang, en het sy woorde oordink. “Dit is te vroeg om te sê. Die beeste is nog te min en kom te stadig in, maar die vooruitsig is redelik. En jy, is jy tevrede?”
“Ja.”
“Jou vooruitsig goed?”
“Wat bedoel jy?”
“Gaan dit goed met jou? Kry jy wat jy nodig het? Wat dink jy van die toekoms?”
“Nee. Ek moet self brandhout soek, kos soek, alles. My mense eet nou uit jou pot uit.”
“Ek hoor vertel,” sê Van Riebeeck, “dat jy die drif oppas, dan bring jy die mense hiernatoe. Hulle kan tog die pad tot hier self vind?” Hy was onseker of Chief Harry enige invloed op die handel het, maar dit sou skade voorkom as hy hom vroeg uitskakel. “Kyk, as jy wil, kan jy by die Fort kom woon, saam met jou ander mense. Jy eet by my tafel. Laat die ou vrouens brandhout aandra vir hulle kos. Wat wil jy meer hê?”
“Jy sal wil hê dat ek vir jou moet bees oppas. Ek is nie ’n kind nie. En spit en kap kan ek nie.”
“Nee. Jy sal my mond wees. Jy praat net met die Koina. Ek sal jou kos en klere gee, en drank en rookgoed soos jy nodig het. Julle sit weer julle huise by die Duintjies op, dan loop julle soggens Fort toe, en saans gaan julle huis toe.”
Wat hy nie gesê het nie, dink Chief Harry, is dat as ek sy werk aanneem, is dit klaar met die voorstanery van ruilers by die drif, en klaar met my Engels. By sy eettafel wil hy net Hollands hoor, en die kind is altyd by om te weet wat gesê word tussen die wyebroek en die Koina.
“Ek sal vir jou werk,” sê hy vir Van Riebeeck, “dan kan jou soldate oor my wag staan.”
In die maande dat Chief Harry by die opperhoof se tafel eet, praat hy nie Hollands nie. Dit was duidelik dat hy dit goed verstaan, maar hy het gehou by sy beperkte skeeps-Engels, soos ’n drenkeling aan ’n tou vasklou, en hom verder gehelp met matroosvloeke. Juffrou Van Riebeeck het ander woorde voorgestel in die hoop dat Herrie dit sou gebruik.
Sy het hom vertel van die godsdiens wat Eva aan die leer was. Sy het hom kerk toe genooi, wat hy geweier het, en sy het daarna saam met Eva vir hom gebid. Haar prekies het Chief Harry, onbegrypend en swaar fronsend teenoor Eva, in stilte aangehoor.
Opperhoof Van Riebeeck het meer waarde daarin gesien om die man se pyp dampend en sy glas vol te hou. Hy het van Chief Harry geleer. Hy het uitgevind dat Oedasoa self veertig beeste het, maar sy Cochoqua meer as honderd keer soveel. Hy het geleer hoe die Goringhaicona strandlopers geword het. En van Eva se verwantskap met die Chainouqua van anderkant die berg, deur ’n tante wat vrou van die hoofman was. Eva was self verbaas om dit te verneem. Hy het ook gevind dat die Koina besonder min eet. Vir vis en brood was hulle lief, en vir gekookte rys, en vir melk en brood, maar vleis is net in klein hoeveelhede gebruik asof hulle ’n afkeer daarvan het. Soet nageregte, wat by die Hollandse vrouens gewild was, is nie deur hulle aangeraak nie, hoewel die kind net soveel van lekkergoed gehou het as Herrie van sy Spaanse wyn. Die twee het dikwels aan tafel in die Koina-taal woorde gewissel. Van Riebeeck wou dit nie belet nie; hy wou niks doen om Herrie te vervreem nie. Hy was tevrede solank die veetrop in die kraal aangroei. Daar was al ’n paar dragtige ooie en verse by, die begin van sy aanteelkudde.
Chief Harry het ook die aanwas van die kuddetjie dopgehou. Hy was gereeld by die uittel in die môre en die intel in die aand. Van agter die paalheining het hy soos ’n beeswagter gefluit; dit was vir hom mooi hoe die beeste hulle koppe na hom toe draai. Maar die matroos wat as melkboer gewerk het, het nie van sy fluitery gehou nie. Hy het gesê: “Een skipper. Hierdie vee het een skipper, nie twee nie.”
Die melkboer het die vee met die VOC se nuwe brandyster gemerk; hy was trots op die diere in sy sorg. Bedags is die vee veld toe geneem deur die melkboer en ’n seun, ’n weeskind van dertien jaar wat deur ’n retoerskip siek in die hospitaal gelaat is. In die vroeë lente het hy en die seun soggens die beeste na die vleie agter die Duintjies gejaag, waar wit en geel gousblom dig en soet gegroei het, en daar onder die blou lug langs die see hulle dae deurgebring waar hulle die skepe kon sien inloop en uitloop, die orang lama duskant die eiland, die orang baharu anderkant die eiland verby. Hulle gewere was nooit ver van die hand nie, want daar was leeus teen die Leeuberg se hange.
Chief Harry was saans weer by die melkery. Hy het in Engels en Koina advies gegee hoe om die koeie te laat sak, hoe om die kalwers te laat drink. Die melkboer was daaroor geïrriteer, want hy was ’n ervare melkboer. Sy pa was een, sy oupa was een. Die Koina-beeste, wild vir hom, moes met ’n spantou en ’n koptou beheer word. Daar was nie veel melk nie, die koeie was droog en taai en het nie van die melker se hand gehou nie, sodat hy met geduldige paaiwerk en krippe vol jong gras die melk uit hulle uit moes sukkel. Vir Chief Harry wou hy nie by sy kraal hê nie, want die man se gefluit het die koeie ontstem.
Een skemer het die melkboer en die seun die beeste met hulle koptoue aan die balk bokant die voerkrip vasgehad, die eerste twee gespan en die uiers met warm water gewas, met Chief Harry pyp-in-die-mond by die hek en spottend oor sulke onsin. Die melkers was met emmers tussen die knieë op hulle stoeltjies onder die koeie ingeskuif, toe Chief Harry se hond ’n keel opsit en blaffend deur die kraal hardloop. Die koeie het geblaas, geruk aan hulle koptoue, oë na die hond toe gerol, met gespande knieë rondgesteier, en dadelik melk opgetrek. Die twee melkers het vinnig uit die pad gespring, want die koeie kon nie hulle voete vind nie, en het gevaarlik geslinger. Hulle moes weer van voor af paai, die diere se flanke streel en geduldig met die emmer en stoel probeer nader kom. Die son was aan sak en daar was die hele melkkudde om gerus te stel en tot melk te bring. Hulle was bekommerd oor die donker, want hulle het maar een fakkel gehad. Maar die twee koeie wou nie weer sak nie. Die boer het gedink om ’n kalf te bring, dat die koei vir die kalf sal sak, maar hy was nog op sy hurke aan die mooipraat, toe Chief Harry van agter kom en met sy hande bakgemaak om die koei se geslagsopening ’n lang trillende asemstoot daarin blaas. Die koei het vorentoe gesteier, die melkemmer tussen die boer se knieë uitgestamp, swaar op sy voet getrap, en sywaarts teen die koei langs haar geslinger sodat die weeskind met emmer en stoel onder die diere verdwyn. Die melkboer het sy emmer, ’n halwe vaatjie met koperhoepels, aan die tou-handvatsel gegryp en met ’n wye, verwoede swaai van sy arm vir Chief Harry daarmee teen die kop geslaan dat hy agteroor in die modder en nat beesmis val.
Chief Harry het van dié dag af van die Fort af weggebly. Sommige lede van die huishouding was verlig daaroor. Eva was bekommerd en het vir Van Riebeeck vertel die vrouens sê Aut-shumao het sy karos gevat na Ngonnemoa toe. Ngonnemoa was die Swart Kaptein, wat met die ander helfte van die Cochoqua noordoos van die Kaap langs die groot riviere af wei. Van Riebeeck het haar oor die Swart Kaptein uitgevra om haar kennis te toets, want hy het self een en ander van die man geweet, hy was al by die Fort. Baie beeste, sê Eva. Baie mense en ’n klomp aanhangers wat nie herders is nie, ook nie jagters nie, maar vrybuiters wat eendag teen Ngonnemoa sal opstaan, soveel mense sal doodslaan as wat nodig is, en soveel vee daar wegdryf as wat hulle wil hê.
“Waar hoor jy dit?”
“Autshumao sê so.”
“En is daar vriendskap tussen hulle twee? Is hulle familie? Of wat hou hom daar?”
“Nee,” sê sy. Sover sy weet, het Autshumao nie bloedfamilie in daardie kamp nie. Sy het nie geweet wat hy by Ngonnemoa soek nie.
Van Riebeeck het die melkboer ingeroep en hom gevra om iemand aan te beveel wat die toesig oor die Kompanjie se beeste by hom kan oorneem. Chief Harry is gegrief, en dit sal goed wees as hulle ’n toegewing maak om hom die indruk te gee dat die Kompanjie sy gevoelens op die hart dra. Hy hoop die melkboer verstaan hoe sy diens gewaardeer word, en waarom hy nou hierdie opoffering van hom vra, maar die tyd is daarvoor geleë. Hy sal beloon word met ’n goeie pos wanneer daar een oopval.
Chief Harry was ’n week later, miskien ’n paar dae meer, met ’n troppie skape voor die poort. Hy het dit van Ngonnemoa gebring, en wou die ruilwaarde hê. Die tabak en die rys wat hy gekry het, het hy die aand onder die ou vrouens uitgedeel. Dié nuus het Eva ook vir Van Riebeeck vertel, en sy was verbaas, want haar oom was nooit ’n vrygewige man nie; hy kon nooit bekostig om een te wees nie. Heel vroeg die volgende oggend was daar ’n luidrugtige bakleiery by die Duintjies toe Chief Harry die vyf vrouens met sy kierie uit die verweerde huise veld toe jaag. En net na oggendgebed het hy dit self aan Van Riebeeck verduidelik.
“Hulle was te lui om te gaan werk. Ek het gevra: Wat van die Hollander se brandhout, en sy watervate wat moet vol kom? Wat van die vuil potte in sy kombuis? Ek het hulle goed gemoker.”
“Is hulle jou honde, of dwase kinders, dat jy hulle slaan?”
“Loop jou offisiere nie dag en nag met rottangs nie? Aan ’n kind sal ek nooit slaan nie, maar hierdie klomp was te lui om op te staan ná ek hulle een keer kos gegee het. Waarom moet ek alleen werk?”
“Is jy hulle heer?”
“Ja, dit is wat ek is. Ek was lank te sag met hulle.”
Van Riebeeck het nagedink. Dit was die eerste keer dat hy vir Herrie as ’n moontlike stamhoof sien, een wat sy mense dissiplineer, al is dit op ’n kru manier. En bevorder Herrie nie daardeur die Kompanjie se belange nie? Daarom sal hy die man ook nie belet om by die Kompanjie se beeskraal te kom nie. Laat hy sy belangstelling wys, en tuis sy ou vrouens organiseer soos dit ’n kaptein betaam. Maar is dit Herrie se opregte bedoeling?
Hy vra vir Eva: “Wat gaan aan met Herrie? Dink jy dat hy sy grief vergeet het?”
“Hy sal dit nóóit vergeet nie. My heer moet hom nóóit vertrou nie. Hy speel maar dat hy my heer se vriend is.”
Chief Harry het teen melktyd op ’n somersaand weer op die boonste balk van die kraalheining gesit om die melkery dop te hou. Hy is gesê om uit die kraal te bly. Die nuwe melkboer en die weeskind het in stilte gewerk met hulle voorkoppe teen die koei se flank aangeleun, en het net opgestaan om hulle emmers in die groot kan te gaan leegmaak. Die koeie was ná die winter in goeie kondisie en glad verhaar, mooi skoon, sonder mis op die skene of modder in die lieste. Dit was goeie vee, die koeie wat met halftoe oë in die krippe vreet. Hy het gehou van die stil en gladde werkery, hoe hulle die koei liggies span, groenvoer in die krip gee, paaiend gesels.
Oorkant op die Fort se muur het Van Riebeeck by ’n soldaat gestaan, en ook na die beeste en die melkery gekyk. Dáár was ’n man wat sonder vee in die land gekom het, en kyk waar staan hy vandag, het Chief Harry gedink. Hoe voel daardie heer in sy swart jas? Hy laat die trompet blaas, stuur soldate rond, laat weer die trompet blaas, beveel sy matrose om na die eiland te roei, laat huise bou en boompies plant, en kyk op krale vol vet beeste, spekvet skape. Ja, ’n regte groot kaptein, dié man wat nou anderdag uit ’n skuit geklim het. Chief Harry het die man beny.
Hy kon die vars melk ruik wat skuimend in die kan stort. Hy het gehoor daardie koeie gee nou meer melk as tevore, hulle uiers was groter en voller. Vir Dawid Jansz, weeskind, het hy nou geken. Hy is hier van ’n skip af gegooi. Die kind weet min van die wêreld. Sy pa was ’n matroos, sy ma was van Java, hulle kind lyk daarna. Sy werk is om met die sekel die groenvoer uit die vleie te haal. Hy slaap in die skaaphok en gaan haal sy ontbyt by die skafplek se luik. Die melkboer skel hom met dieselfde stem waarmee ’n hond geskel word. Maar die seun is ook nie skaam nie en praat teë met dieselfde stem in daardie deurmekaar taal, en laat nie die melkboer oor hom regeer nie. Hy ken die kind, het Chief Harry gedink. Hy is min werd.
Hy sien Krotoa met die Hollander se vrou bo-op die muur na haar man toe loop. Hy ken haar ook, dink hy. Sy is ’n mooi vrou, skaars twintig, skraal en met ’n sagte stem. Sy dra haar kind asof sy voor die hele kraal vol beeste kom spog met die kind wat sy verwag. Maar waar is haar twee seuntjies? Êrens in die huis is hulle nou alleen.
Chief Harry het sy kop weggedraai toe hy sien dat Van Riebeeck se vrou na hom beduie, en dopgehou uit die hoek van sy oog. Toe praat sy weer met die Hollander, en hy wink na die soldaat wat op die muur loop. Na ’n paar woorde draf die soldaat met die houttrap af grond toe. Wat nou? Chief Harry het sy oë stip op die beeste gevestig, al die melkkoeie getel, daarna die droë koeie, die kalwers, die ossies, toe die skape: ramme, jong ooie, ou ooie, lammers.
Die wêreld onder die Fortmuur het stil, bedruk geword toe die wind gaan lê. Die melkboer het nog ’n maal sy emmer in die groot kan gaan omkeer, sy koei se spanriem losgetrek, koptou losgemaak, die melkkoei uitgejaag, vlug en vinnig die volgende koei gespan. Die emmer was amper vol, dit was ’n goeie jongbees. Die soldaat wat op die muur loop, het met ’n pakkie in die hand aangekom. “Vir Chief Harry, van die edelheer se huisvrou. Trek dit vir aandete aan. Opper se bevel.” Hy het sy stem laag gehou: “Jy sal jou voete moet was.” In die pakkie was ’n wye wit seilbroek, ’n blou matrooshemp en ’n onderbaadjie van leer. Chief Harry het die klere oopgeskud en bekyk. Dit was goeie klere; hy sou dit graag teen die koue nagte aantrek. Bo van die muur af het Van Riebeeck en sy spioene hom dopgehou. Hy het sy dank aan die Hollander geknik, die bondel gevat, en geloop.
Op ’n mooi aand toe die maan vol was en daar nie ruilvee by die drif te wagte was nie, het hy die nuwe klere aangetrek, ’n volle rol tabak uit sy wegsteekplek gehaal, en na Oedasoa toe geloop. Sy bladsak was vol kanna en boegoe. Hy het dit vir Oedasoa se vrou aangebied, en sy storie aan haar uitgelê: “Met jou susterskind gaan dit goed. Ons woonhuise staan by die wyebroek, en hy kyk na ons. Ek is nou weer ’n man, en ek het ’n vrou in my huis nodig. Ek het geen beeste nie. Ek wil hê dat jy dit vir Oedasoa sê.”
“Wat wil jy van hom hê?”
“Dat Oedasoa vir my van Krotoa se troubeeste gee, om vir my ’n vrou te soek.”
“Hy sal dit nie doen nie. Hy sal daardie beeste nie eens vir haar gee nie. Kyk, Autshumao, dit is goed dat jy ’n vrou wil vat, maar wat het jy om aan haar te gee? Moet sy mossels pluk om van te lewe?”
Hy het haar in die oë gekyk, en beslis gesê: “Nee. Daardie dinge is nou klaar. Ons gaan beeste hê. Eers min, maar later word ons sterker.”
Die vreemde opgewondenheid was weer op sy gesig. Vir die eerste keer vandat Autshumao sy beeste verloor het, het dit gelyk asof hy wil lag, en sy was bly daaroor.
Sy het hom kalm in die oë gekyk. “Het jy dan met ’n vrou gepraat oor trou?”
“Nee. Ek ken niemand hier nie.”
Sy het onderneem om namens hom te praat, en hy het daarvoor bedank met ’n stuk tabak. Vir die vrou van haar keuse het hy ook tabak afgesny en aangegee. Die volgende dag het sy hom vertel wat Oedasoa besluit het: hy gee geen vee aan hierdie man vir ’n andersmaak nie, hy is te oud om deur ander geabba te word. Maar sy was gewillig om hom te help, sy sou uit haar eie trop vir hom gee. Chief Harry het die oorblywende tabak in haar hande gedruk.
Wanneer sy ’n vrou bring, het sy gebly om te help praat. “Autshumao is hoofman van die Goringhaicona. Hy werk vir die Hollander, en hulle gee hom tabak en rys en krale daarvoor. Hy is die Hollander se mond. Hy ken hulle taal. Hy gee twee koeie aan die vrou met wie hy trou, en een aan haar pa. Dan gee hy nog twee skape, om te slag vir die andersmaak.”
Eendag het sy kom sê daar is een vrou wat sy wil aanbeveel. Sy was nie jonk nie, maar gesond, stewig gebou, met ’n vol vierkantige gesig soos ’n Hollander. Sy het twee seuns gehad en ’n dogter, al drie was al getroud. Haar beeste het saam met haar seuns s’n geloop.
Hy het na haar huis toe gegaan. Dit was skoon, die grond was gevee. Daar was kalbasse met dikmelk en met heuningbier, rolle nuwe harubis-matte, en erdepotte met patrone soos bokspoortjies versier asof ’n trop steenbokkies om die rand gestaan en drink het. Hulle het sonder ’n tussenganger gepraat. Sy was gewillig om by die Fort te gaan woon. Hy het gevoel soos ’n jong man toe hy haar jawoord na Oedasoa toe neem.
Die stil man het hom binnegenooi, langs hom op ’n mat laat sit, en dikmelk aangebied. Chief Harry het ’n skilpaddoppie met snuiftabak aan Oedasoa gegee om die gesprek oop te maak. Oedasoa het gesnuif, die dikmelk gedrink, en vir Chief Harry gesê: “Dit is ’n slegte ding wat nou hier gebeur. Jy moet ophou daarmee, Autshumao. Gaan soek vir jou beeste. As jy nie beeste het nie, moet jy nie wil vrou vat nie. Jy het by my vrou gaan bees vra vir andersmaak toe ek nie wil gee nie. Dit is haar saak, maar dit is verkeerd gedoen. Jy het verkeerd gedoen deur my vrou se suster Krotoa vir die Hollander te gee.”
“Sy werk vir die Hollander. Sy kry kos, drank, tabak. Hulle eet drie maal ’n dag, en daar is elke keer wyn op die tafel. Dit is swaar om van koue te verkluim.”
“Is sy dan ’n roker?”
“Sy verdien vir my. Die tabak wat sy kry, is vir my, en ek gebruik dit vir al my mense. Die rys en brood is myne. Sy kry haar deel by die Hollander se tafel. Die drank is ook myne.”
“Wat kry daardie kind vir haar moeite?”
“Ek het gesê: sy kry kos en klere en sy slaap in ’n sterk huis. Dit het sy nie gehad voor die Hollander gekom het nie. Sy het daar meer as enigeen van jou vrouens.”
Oedasoa het geduldig gebly en sy dikmelk nader aan Chief Harry geskuif. Sy mense leef goed. Hulle is ’n sterk groep. Sover hy weet, is hulle tevrede met hulle lewe. Sy gedagte was steeds by die saak van sy vrou se beeste. “Jy het my vrou se suster agter die wit man se lekkergoed gestuur. Sy het dit nie nodig nie. As jy haar tabak gerook en haar wyn gedrink het, bly vir daardie kind niks oor nie. Jy lieg vir haar. Sy kan hier kom werk saam met die ander van haar ouderdom, dat sy ’n aandeel verdien in die Cochoqua se welvaart.” Sy asem het effens gejaag, hy het met sy hande op sy dye gesit en sy bors gelig om asem te kry, maar Chief Harry in die gesig bly kyk. “As sy daar bly, gaan sy nie van my andersmaak kry nie. Die saak is eenvoudig. Ek hoop jy verstaan.”
“Jy is reg,” het Chief Harry gesê. “Maar destyds was dit winter en daar was niks te eet nie.” Hy het nie genoem dat die kind ’n ander naam dra nie, en Hollandse klere, en dat hy oortuig was dat Eva in haar lewe nooit weer haar lyf met skaapvet sou smeer nie.
Oedasoa het stil geknik. Hy het gevoel dat hierdie gesprek nou genoeg oopgemaak was; hy kon die saak van beeste nou noem. “Jy help nou die Hollander aan beeste, Autshumao. Wat gebeur as hy die dag die hele weiding vir homself nodig het? Hy stuur soldate om die Koina uit die weiding uit te jaag. Eers die Cochoqua, die Gorachoqua, die Goringhaiqua, die Grigriqua. Daarna kry hulle Ngonnemoa se veld nodig, en vat dit. Dan Ankaisoa s’n, tot teen die berg. En dan sal die Hollander oor die berg gaan en die Chainouqua en die Hessequa uit hulle weidings uitjaag, dat sy diere daar kan loop. Waar moet ons Koina wei?”
“Dit sal nog lank wees voor hy so sterk is.”
“Maar jy, Autshumao, jy help hom vooruit. Jy is nie ’n Hollander nie, waarom werk jy teen jou mense? En nou wil ek vir jou sê oor my vrou se beeste. Dit is verkeerd dat sy iemand help wat haar eie mense probeer kwaad aandoen. Sy help jou nie solank as jy by die Hollander woon nie, dit moet jy weet. En bring die kind hiernatoe, voor daar ’n ongeluk oor haar kom.”
Chief Harry het geweet wat hy bedoel. Die kind word groot, en sy is mooi. By die Fort loop sy tussen meer as ’n honderd Hollanders wat nie een ’n vrou van sy eie het nie. Jy sien hoe kyk hulle agter die slavinne aan, agter die handjie vol wit vrouens van wie die meeste klaar getroud is, agter die Koinavrouens wie se lyf nie so toegemaak is soos die Hollander s’n nie. Wat word van ’n arm dogter in ’n vreemde huis?
So, daar was nie kwaaivriendskap tussen hulle nie, maar hierna het daar nie meer beeste van Oedasoa af by die Fort gekom nie, en Chief Harry het gevoel asof Oedasoa hom soos ’n hond sonder naam weggeskop het. Hy het probeer vra en niks gekry nie. Die ryk man maak soos hy wil, die arm man verduur wat hy moet. Wat kan ’n man doen as jy nie beeste het nie?
En by die Fort het Van Riebeeck hom bekommer oor sy nedersetting se vervoer. Sy kuddetjie was die hoeksteen van sy beplanning. ’n Koei kom een keer in die jaar by die bul, ’n os kom eers na drie jaar onder die juk. Dit kon te lank duur. As daar nie osse kom vir die Kompanjie se werk nie, sou hy die juk op die Koina lê. Hulle sou moet leer om las te dra. In China is mense die lasdraers, mense met mandjies op hulle koppe. In Suid-Amerika het die Spanjaard en die Portugees op groot skaal slawe gebruik. Hy was nie ten gunste van slawerny nie, dis op sy beste ’n noodsaaklike euwel. Maar hy sal dieselfde doen as daar nie beeste kom vir die Kompanjie se werk nie.
Chief Harry het mense wat vee kom ruil, Fort toe geneem, ook sodat hulle die Hollander en sy huis van klip sien. Die vrou wat gewillig was om met hom te trou, se twee seuns het kom kyk. Van Riebeeck het hulle vroeg die smaak van tabak laat kry, en toe Haerlem se wet neergelê van eers werk, dan eet. Die soldate op die muur het hulle dopgehou: hoe hulle rondom die Fort loop, die kanonne op die muur beskou, die stewige veekraal agter die Fort bevoel, en ’n paar skarniere van die smid se werkbank af steel. Van Riebeeck het gesê: laat begaan maar. Die namiddag het hulle by die kraalhek gestaan en kyk hoe die vee ingetel word, en onder mekaar gefluister: Heitse! Van Riebeeck het meer beeste as Oedasoa.
Hy het die twee veewagters uitgewys: Dawie en Hendrik, woordeloos sloffend deur die droë kraalmis met jas en kossak oor die skouer, sweetkolle tussen die blaaie, stok in die vuis. Hulle het die groot hek toegemaak en met slot en ketting verseker, voor hulle die melkgoed en kookwater in die kombuis gaan haal het. Chief Harry het gelag. Kan die trop ooit veilig wees met sulkes agter die vee? Dié twee sou nie ’n vinger lig om die trop te beskerm nie.
Toe hoor Chief Harry op ’n dag by sy ou vrouens by die Duintjies dat Van Riebeeck se vrou teen die volgende donkermaan haar kind sou hê. Dit was nuus waarop hy lank gewag het. Dit was die kans vir die grootste andersmaak van sy lewe. Hy sou die lewens verander van almal wat hy ken en ook van die nog ongeborenes. Hy sou die hele wêreld verander. Met die vrou in kraam en die man, soos hy hom leer ken het, onwillig om in ongesteldheid ver van haar te gaan, kon hy doen wat hy al lank bedink. Hy het die saak nog vir homself gehou; eers kort voor dit gebeur, sou hy dit aan ander uitlê.
Hy wou die vrou se toestand self sien, dat hy die dag beter vooruit kan bepaal, maar sy het nie meer buitetoe gekom nie. Dit het nie saak gemaak nie, sy plan was so eenvoudig dat hy dit enige tyd tussen aandster en dagster aan die gang kon sit. En eendag vertel die ou vrouens onder mekaar: nie meer as vyf dae nie, dit kan selfs ’n dag of twee gouer gebeur.
Dit was Oktobermaand, die blomtyd was op sy rypste. Die winteropslag was ’n mat van groen, deurmekaargerankte klawer, jong stinkkruid en suringstingels. Suring en ramnas het dig gemeng gestaan oor die duine en op na die berg se kant toe. Die bye het dronk en swaar rondgeklouter oor die liggeel blomtoppe, oor die wit blomme, soms afgeval tussen die sappige stingels om laer af in die taai bruin krone van oranje en wit gousblomme te gaan drink. Die groen sap het getap uit die bekke van die Hollander se beeste wat kniediep in die weligheid loop en vreet. Hulle uiers was van ’n grootte wat Chief Harry in sy leeftyd nie gesien het nie. En dit was alles Van Riebeeck s’n, hy wat nou saans in die melkplek gaan kyk hoe die skuim diep en geel op die emmers staan. Die Hollanders sou hulle hierdie somer dik vreet aan botter, en boepens suip aan karringmelk, dikmelk, room. En sulke beeste: rustige koeie, vet, saggeaard en blink verhaar. Heitse, die wyebroek was ’n gelukkige man! Sy vate staan vol botter. Wat word in dié land van die man wat nie beeste het nie?
Hy het ’n paar keer saam met die trop veld toe gegaan, heel vroeg, net na sonop en sodra daar klaar gemelk is, verby die Duintjies, buite sig van die Fort, tot by die groot vlei van die Groen Punt, waar die see amper rondom die trop was. Daar het die trop gesuip, met die snoete blasend teen die diep, vars reënwater. Tussen die riete was watereendjies aan nesmaak. Dit was nou alles die Hollander se weiding, sonder teenspraak van enigeen. Dit was ’n plesier om met daardie trop in die gousblom te loop wei. Hier het hulle die dag lank gebly, en as die beeste op die hitte van die dag gaan lê, moes die weeskind Fort toe loop om hulle middagkos te haal. Met sy terugkom het ’n vuurtjie al gebrand, en hulle het die erdepot daarin gesit om warm te word. Warm kos moet die wyebroek op die middag hê, selfs in hierdie warm maand.
Hy het met sy mense gepraat. Hulle weet hoe die Hollander elke sewende dag twee maal in die kerk gaan sit: een keer voor die middag, en een keer in die laatnamiddag. En tussenin is daar ’n groot maaltyd, en dan moet hulle gaan lê, soos hulle vee. Dit is altyd ’n stil dag. Die werkery kom heeltemal tot stilstand. Almal moet in die kerk wees, behalwe net drie man. Almal in die Fort moet kerk toe gaan, behalwe daardie drie. Die Hollander het dit op ’n papier laat skryf en die papier aan die klokpaal gespyker, dat niemand kan sê hulle weet dit nie. Hulle word geslaan as hulle nie gaan nie, of hulle betaling word weggevat, of hulle word in die gevangenis gehou op brood en water. Sodat almal kan ophou werk, en hulle was en aantrek, lui die klok. Later lui hy weer.
Nog later lui hy ’n laaste maal. Dan gaan almal in die kerk sit, behalwe drie man. Chief Harry het gesê hulle moet hulle reghou vir die derde lui van die klok in die Fort. As die Hollander in die kerk ingaan, was dit tyd vir die andersmaak.
Die dag tevore moet hulle goed eet in die kombuis, en sorg vir baie brandhout op die Hollander se herd, genoeg water in sy vate, dat hy nie onrustig word nie. Die ou vrouens sal die oggend by die huis wees, want dit is ’n stil dag in die Fort. Hulle moet stokke uittrek, matjies oprol, bondels maak, alles gereed om op die kop te lig. Nie ’n woord moes enigeen praat oor hierdie saak nie, veral nie voor Krotoa wat nou ’n spioen van die vyand is nie. As hulle hier by die Duintjies die klok die derde keer hoor lui, moes die vrouens alles op die kop lig en die pad vat na die groot vlei toe. Loop, nie hardloop nie. As die soldaat op die muur hulle opmerk, moet hulle nie haastig word nie, maar lag en vir hom met die hand waai.
Daardie dag het Ngonnemoa agt skape gestuur. Chief Harry en Eva was albei daar om te praat toe die koperdraad en krale oorhandig en die danksegging van tabak en arak uitgedeel is. In die nag is Van Riebeeck se derde seun gebore.
Toe hulle hoor dat die kind gebore is, het Chief Harry gesê: Môre is dit weer kerk, dit is die dag wat vir ons opsy gesit is. Toe die klok die oggend die eerste keer lui, het hy hulle gemaan om binne te bly en gereed te maak. Toe dit die tweede keer lui, het hy hulle aangesê om ’n begin te maak. Die soldaat op die Fort se muur het na hulle kant toe omgekom en sonder ’n woord neergekyk op hulle pakkery, soms omgedraai om aan die ander kant af te kyk na die swartgeklede gemeente wat die binneplein oorsteek na die kommandeur se voorhuisdeur toe. Heel laaste het die maer sieketrooster, boeke onder die arm, met die trappies opgegaan. Van Riebeeck het ’n oomblik by die deur verskyn om hom te groet, opgekyk na die soldaat op die muur en na die vlag bo die poort. Toe lui die sieketrooster die klok die derde maal, en trek die voordeur agter hom toe.
Die soldaat het sy hande oor die tromp van sy geweer gevou, sy kop gebuig in die rigting van die kommandeurshuis en die Onse Vader hardop gesê. Toe hy omdraai, was die Goringhaicona, bondels op die rug, al ’n honderd tree of meer van die Duintjies af op trek met hulle besittings, kinders en honde.
Met die tweede gelui het Chief Harry saam met die kerkgangers oor die binneplein geloop, en op die stoeptrap gewag op die amptenare met hulle swart jasse en wit krawatte soos pikkewyne, met hulle silwergespes en wandelstokkies. Party kon hy skaars herken in hulle Sondagklere; ewe vreemd was hulle blinkgewaste gesigte en sagte stemme. Een of twee het langs ’n vrou geloop wat hoog en donker aangetrek was in ’n rok wat elke sewende dag uit die kis kom. Chief Harry het beleef geknik na dié wat hy herken het, en met ’n siniese gryns sy bakhand voor ’n paar van die geëerdes gehou. Hy het onderlangs dopgehou hoe hulle kop-omhoog boontoe gaan, hoe elkeen met die ingaan voor Van Riebeeck buig en sy hand skud, en hoe die sieketrooster met die ingaan eers sy hand om die deurkosyn steek en die kloktou ’n enkele, harde, laaste pluk gee.
Hy het op die sieketrooster se hakke binnegegaan, maar in plaas van die gemeente na die voorhuis te volg, links gedraai na die woonkwartier. Krotoa se plek was in die kinderkamer. Hy het deur die eetkamer geloop, die blou tabakfles op die rak in sy bladsak leeggemaak, en die kinderkamer se deur oopgestoot. Die kamer om haar was eenvoudig, kaal, van growwe hout aanmekaargetimmer. Sy was op ’n bankie voor ’n spieël besig om kammetjies in haar hare te druk. Haar rug het voor hom styf geword van skrik. Hy het by die deur bly staan.
“Waar lê die vrou met die kind?” het hy gefluister.
“In hulle slaapkamer.” Sy het na die kamer langsaan gewys.
“Die ander kinders?”
“Een eet in die kombuis. Die ander slaap in daardie kis.”
“Kom saam.”
Krotoa het die kamme netjies langs mekaar op die tafel gelê, en na hom toe gegaan. Haar swart skoentjies het beurtelings vooruitgeflits, haar Sondagrok het weerskante op die grond geswaai soos sy loop. Chief Harry het waarderend gekyk na die regop kind met die kantkraag oor haar skouers. Sy het goed gebaat by die Hollander. Hy het haar hand stewig in syne geneem. “Ons moet hier uit. Jy kan anderdag weer kom.” Toe sy terugbeur na die kind, sit hy sy hand oor haar mond, ruk haar die eetkamer in, en sleep haar agterna. “Hier gaan ’n lelike bakleiery gebeur, en ons trek weg, voor die Hollander uit die kerk uit kom.”
Sy het onder trane gekerm. “Die kind. Lambertjie kan in sy kussing versmoor.”
“Lambertjie? Wie sien na óns om? As ons by die voordeur uitloop, Krotoa, dan loop jy suutjies langs my. Jy kyk nie op na die soldaat nie. Ons loop by die poort uit na die Duintjies toe. Jy sal sien ons mense is voor ons, en as hulle ons sien, sal hulle gaan staan en vir ons wag.”
Die soldaat op die muur het sy aandag verskuif van die groep trekkende Strandlopers na die twee wat by die voorhuisdeur uitgekom het. Hulle hande was leeg. Die dogter was seker geregtig op die blou rok wat sy dra. Daar was niks om te rapporteer nie. Uit die raadsaal het die klank van psalmsang gekom, begelei deur ’n klavesimbel en ’n goeie, sterk tenoorstem. Dit was ’n heerlike lentedag. Die vlag het roerloos aan die paal gehang. Die soldaat het sag begin saamsing.
Chief Harry en die kind het die Goringhaicona halfpad na die vlei toe ingehaal, waar hulle by hulle bondels in die lang gras sit. Ver voor hulle het die beeste gelê en kou, maar die skaaptrop het nog geloop en pluk aan die gras.
“Hier wag ons. Dit sal nie lank wees nie.”
Effens voor die middag het Hendrik Willers, melkboer, kierie in die hand die kortpad oor die rug na die Fort toe gevat. Sondae was dit sy beurt om te gaan kos haal, want ’n muts brandewyn word ná die diens uitgedeel. Toe die melkboer goed uit sig was, het Chief Harry twee skril fluite tussen sy duim en wysvinger uitgestoot, en sy mense vorentoe beduie. Die seun Dawie het uit die gras opgestaan met ’n geweer in sy hand, en op ’n granietklip ’n ent anderkant die skape geklouter om te kyk wat aangaan. Die Goringhaicona het op ’n ry aangekom. Die mans het hulle stokke teen mekaar gekletter; hulle het gepronk, gefluit en geskreeu. Die vrouens met bondels op die koppe het agterna gedraf. Die Kompanjie se beeste het opgestaan, saamgebondel en toe padgegee van die jillende, fluitende Koina af.
Dit was heerlik om weer agter beeste te loop, wonderlik om die swaar, swaaiende lywe te sien draf, om die dowwe gestamp van blad teen blad en die klap van horings teen mekaar te hoor. Die Koina het die trop amper op loop gehad, toe die seun op armlengte sy wapen op Chief Harry mik. Autshumao het geskrik, met sy kierie probeer keer en sy assegaai met krag vorentoe geslinger. Nie sonder plesier nie het hy gesien hoe dit diep onder die seun se borsbeen ingly, hoe hy die geweer laat val en met ’n verskrikte gesig en ’n lang steun op sy knieë in die diep gras neersak. Twee mans het hom met kieries in die geil blomme in gemoker. Voor hulle het die skaaptrop in verskillende rigtings uitmekaargevlug, maar die beeste was amper omsingel. Hulle het die beeste geslaan en gejaag dat hulle spoed kry. Almal, tot die kinders, het geraas gemaak, met klippe gegooi, met stokke geslaan. Krotoa het huilend probeer byhou. Chief Harry het haar blou rok en haar skoene afgeruk en weggesmyt.
“Kom, kom. As die Hollander jou vang, slaan hy jou dood.”
Sy het gillend geprotesteer teen die leuen, en in haar lang onderrok tussen die bosse deur gesukkel agter die mans en ou vrouens aan. Chief Harry het teruggedraai, haar aan die arm gesleep, gesoebat, gedreig om by te hou. Sy het gesnik van vrees en verlange na die stil voorhuis waar sy suiker en konfyt uit porseleinbakkies geëet het.
Voor haar het haar mense gejubel oor wat hulle gedoen het. Chief Harry het gedans met sy kierie en gooistok bo sy kop. Heitse, om weer die draers van alles wat goed is in die lewe hier voor hom te hê, om hulle grasasems te ruik, om hulle stemme te hoor, om die swiep van hulle stertkwaste oor die hakskene te sien. Heitse, hoe dood was hy nie al die jare sonder vee nie. Maar vandag het hy drie maal andersmaak gehad. Hy was Strandloper, toe Sonqua, en nou is hy Hottentot, soos die Hollander dit sien – alles, alles in een voormiddag. En hy het mense, die Goringhaicona, wat rook aan Heitsi-Eib’ kan opstuur. Nou kan hy ’n kring van nuwe harubis-huise maak. Hy kan dit al sien: die rook van hulle oggendvure hang klaar blou voor sy oë, en dit is tyd vir melk en uitjaag veld toe, en niemand mag sê waar hy kan laat wei nie.
Maar Krotoa se gehuil het hom laat omdraai.
“Wat tjank jy so? Kan jy nie jou mond toehou nie?”
Sy het harder gehuil. Amper lam van verdriet het sy die woorde uitgesukkel: “Waarom het jy dit gedoen, Autshumao?”
Hy het haar boarm styf vasgegryp. “Vir jou. Daar is jou andersmaak. Kyk hoe bly is ons mense.”
Sy het gekla: “Is nie.” En hy moes hard op die beeste skreeu om nie haar gehuil te hoor nie.
“Twee en veertig spekvet beeste, ’n hele klomp melkkoeie met groot uiers, ja, vir jou en vir my en vir ons mense. Ons kan dit nou doen net soos by Oedasoa en Vet Kaptein, soos dit behoort.”
Sy het hom nie geglo nie, en gehoop dat hy dit aan haar verdriet sou merk. Maar dit was die dag van sy andersmaak, en hy het nie omgegee wat sy of die hele wêreld van hom verwag nie. Eendag sou die Hollander uitvind dat niemand in die land lank sonder beeste kan wees nie. Dan sal hulle weer hulle goed op hulle skepe laai en hier padgee, en hy sal sy vee op die vlakte onder die berg laat wei. Dit was alles sy werk, dit was sy dag, en sy gees was trots en verlig. Die gedagte het by hom opgekom dat hy heelwat slimmer is as wat hy geweet het.