Читать книгу Grilgrypers 2: Web van die mummie - De Wet Hugo - Страница 6
Оглавление3
Pippa se ma trek die tas se ritssluiter toe. “Ek is seker alles is nou in,” sê sy.
Pippa lig die tas van die bed af en sit dit langs die ander een voor haar kas neer. “Um … ek dink so,” lag sy. “Ons het genoeg gepak vir drie maande.”
Haar ma gaan sit op die bed en glimlag hartseer. “Wel,” sê sy en sluk swaar, “omdat die Paarl so ver is, sal jy natuurlik net langnaweke en vakansies kan huis toe kom.”
“Ek weet,” sê Pippa en gaan sit langs haar ma en gooi haar arm om haar skouers. Dis duidelik haar ma hanteer die koshuis-toe-ganery moeiliker as sy self.
“So dis maar beter dat jy eerder te veel as te min vat,” sê haar ma en leun met haar kop teen Pippa.
“Mamma?” vra Pippa. Sy voel hoe haar ma regop kom om na haar te kyk. “Waarom wou Pappa nog altyd hê ek moet na die Paarl Hoërskool vir Dogters toe gaan?”
Haar ma staan haastig op en trek weer aan die tas se ritssluiter asof sy wil kyk of dit behoorlik toe is. “Ag, Pappa wil maar net hê jy moet in een van die beste skole in die land wees. Deesdae is ’n goeie akademiese agtergrond belangriker as ooit.”
“O, oukei. Ek het gewonder of hy my nie maar net van die plaas wil wegkry nie.”
“Jy’s lekker laf, Pips,” lag haar ma. “Waarom sal jy dít dink?”
Pippa lig haar skouers. “Ek weet nie.”
“Wel,” sê haar ma terwyl sy die gordyne toetrek, “as jou ma én as ’n vrou wat lief is vir inkopies en mooi goed, dink ek dis glad nie ’n slegte idee vir ’n tienermeisie om eerder in die Boland as in die Karoo skool te gaan nie.” Haar ma knipoog en Pippa glimlag tevrede.
“Nag, my liefie.” Haar ma soen haar op die voorkop. “Moenie te laat wakker bly nie. Môre moet ons baie vroeg opstaan en jy het ’n groot dag wat voorlê.”
“Goed, Mamma,” sê Pippa. “Lekker slaap.”
Die oomblik toe haar ma die deur agter haar toegetrek het, keer Pippa se gedagtes terug na wat sy vroeër die dag in die skuur gesien het. Sy het nie die moed gehad om haar ouers te vra of die mummie toe wel Annette is nie. Hulle was albei heeldag besonder stil, wat haar laat dink het hulle weet nie of dit wel sy is nie. En boonop was sy bang hulle kom dalk agter sy was by die skuur. Of dat sy haar mond sou verbypraat oor wat sy gesien het. Die laaste ding wat haar ouers nou nodig het, is om te dink hulle neem hulle mal dogter môre koshuis toe!
Pippa stap na die kamerdeur om die lig af te sit. Toe sy die skakelaar druk, voel sy hoe die hare agter in haar nek regop staan.
Vanuit haar donker kamer kan sy deur ’n gaping tussen die gordyne na buite sien. ’n Figuur is in die buitelig op die grasperk sigbaar. Kan dit die mummie wees? Pippa skakel die kamerlig vinnig aan en sit haar hand op die deurknop, maar dan bedink sy haarself. Haar ouers het so vreemd gereageer vandag. Sy kan dit nie nou aan hulle doen om histeries by hulle kamer in te storm nie. Sy moet dapper wees. Dalk is dit weer net haar verbeelding wat met haar op loop gaan.
Sy skakel die lig weer af. Sy het skaars ’n tree na haar bed toe geneem toe sy versteen. Die figuur staan nou nie meer op die grasperk nie, maar reg voor haar kamervenster!
Sonder om te dink, klap Pippa met haar hand na die skakelaar en die lig flits weer aan. Toe sy besef wat sy gedoen het, word sy paniekerig. As die ding met elke aan- en afskakeling nader kom, wat is volgende? Gaan die mummie dan deur haar kamervenster spring?
Miskien sal sy maar eerder met die lig aan slaap. Sy stap met babatreetjies tot by haar bed … en dan gebeur die ondenkbare.
Die hele huis en plaaswerf is skielik in donkerte gehul. Die onheilspellende stilte laat haar asem ruk. Sy maak haar mond oop om te gil, maar dan hoor sy haar pa se stem in die gang: “Bly almal net waar julle is. Die krag is af. Ek gaan gou kyk wat aangaan.”
Pippa draai verskrik na haar kamervenster. Soos haar oë aan die donker gewoond raak, kan sy in die maanlig die buitelyne van ’n jong meisie voor haar venster uitmaak. Maar dan begin die figuur swel, met agt pote wat soos tentakels uit die lyf kriewel.
Pippa steier in die rigting van haar bed. Sy gaan sit by die koppenent en vou haar knieë styf onder haar ken in. Die figuur voor haar kamervenster het in ’n reusagtige spinnekop verander!
Dan gaan die ligte skielik aan en haar kamerdeur swaai oop.
“Is jy oukei, Pippa?” vra haar pa.
“Ja, Pappa,” sê sy en probeer hard om haar stem normaal te hou. “Wat het gebeur?”
Haar pa skud sy kop moedeloos. “Eskom het gebeur, my kind. Maar gelukkig het ons ’n kragopwekker. Dit neem net ’n minuut vir die ou ding om aan te skop.”
Pippa forseer ’n glimlag.
“Is jy seker jy’s oukei?” vra haar pa.
“Ja, Pappa. Ek het net groot geskrik,” antwoord sy en giggel ongemaklik.
Haar pa lyk nie oortuig nie. “Nou maar goed dan,” sê hy. “Lekker slaap. En onthou, ons is baie lief vir jou.”
Haar pa skakel die lig af en begin die kamerdeur toetrek.
“Pappa,” keer Pippa hom.
“Ja, my kind?”
Vir ’n oomblik soek Pippa na die regte woorde. “Ek dink ek wil vannag met die lig aan slaap. En los my kamerdeur asseblief op ’n skrefie oop.”
Haar pa knik asof hy verstaan hoe sy voel. “Natuurlik.”
Sodra haar pa uit die kamer is, klim Pippa bewerig in die bed. Hoe gaan sy hierdie nag omkry? Sy is nou vir die eerste maal werklik bly dat sy die plaas môre-oggend gaan verlaat. Sy’s te bang hier. Iets voel nie reg nie.
Frankenstein se geblaf bring haar terug na die werklikheid. Normaalweg sal sy hom laat inkom en vir hom ’n lekkerny gee om hom te troos. Maar vanaand sal sy dit nie waag nie. Want sy weet waarvoor Frankenstein blaf. Sy kan dit hoor. Dis groot, met agt pote. En dit beweeg stadig oor die huis se dak.