Читать книгу Grilgrypers 2: Web van die mummie - De Wet Hugo - Страница 7

Оглавление

4

Jy’s eintlik baie gelukkig,” kondig die koshuisprefek met haar neus in die lug aan. “As jy in graad agt nie onder in die kelder slaap nie, is jou koshuiservaring nie volmaak nie.”

Pippa glimlag maar net. Sy het ’n vermoede die koshuisprefekte is maar net so beleefd omdat almal se ouers nog daar is. Dis waarskynlik net die stilte voor die ontgroeningstorm.

“Dan is ons baie dankbaar Pippa se kamer is hier onder in die kelder,” verbreek haar ma die effens ongemaklike stilte.

“Hier’s ons nou,” sê Neus-in-die-lug. Sy stap eerste by die kamer in, kiertsregop soos ’n professionele ballerina. “Ek sien jou drie kamermaats het reeds gearriveer en uitgepak.”

Pippa en haar ouers volg die prefek by die kamer in. In die middel is ’n heuphoë muurtjie wat die kamer verdeel. Twee staal-enkelbeddens wat reeds oorgetrek is, staan aan die regterkant van die muurtjie. Aan die linkerkant staan ook twee beddens, een reeds oorgetrek en een nie.

Die prefek wys na die leë staalbedjie en sê: “Daar’s jou plek.”

“Dankie,” sê Pippa terwyl sy die kamer versigtig waarneem. Sy’s verlig haar beddegoed lyk min of meer dieselfde as haar drie kamermaats s’n. Die hoofmeisie het al die nuwe graadagts laat weet hulle beddegoed mag nie bont wees nie. Hulle verkies glo eenvormigheid wat bydra tot die susterskap van die meisies in die koshuis. Al die beddegoed moet wit wees met óf fyn kolletjies óf dun strepe.

Op hulle naaste dorp kon Pippa en haar ma niks kry wat naastenby so lyk nie, toe moes hulle maar van ’n webtuiste af bestel. Haar eie beddegoed is vir haar die mooiste – klassiek en stylvol.

“Baie dankie vir jou hulp. Ons waardeer dit,” hoor Pippa haar ma sê terwyl Neus-in-die-lug by die kamer uitsweef.

“Pippa,” sê haar pa en sak af op sy knieë om onder haar bed te kyk, “ek wonder of hier ’n kragprop vir elkeen …”

Pippa luister nie verder nie. Sy kan nie. Dis asof ’n duisend koppiespelde gelyktydig in haar vel steek.

Haar ma se oë rek. Sy sit haar hande op Pippa se versteende skouers. “Wat is dit, Pips? Wat gaan nou aan?”

Pippa kan nie praat nie. Sy kan nie asemhaal nie. Sy lig haar arm stadig en wys na die vensterbank.

Haar pa is nou ook op sy voete. “Kalmeer, Pippa,” sê hy vinnig. “Dis maar net ’n tarantula. En dit kan jou niks maak nie. Dis in ’n glaskissie.”

“Dis Cleopatra. En sy’s my pet spider,” onderbreek ’n vrolike stem hulle.

Pippa draai om en sien ’n meisie met haar hande op haar heupe in die deur staan.

“En ek is nou super offended,” kondig die meisie aan, haar oë op skrefies getrek. Sy strompel nonchalant by die kamer in. Agter haar kom ’n amper identiese ouer weergawe van haar te voorskyn.

“Sy spot sommer net,” sê die jong vrou. “Siphokazi is ’n groot drama queen.” Sy steek haar hand uit na Pippa se ouers en hulle begin gesels.

Siphokazi kom staan voor Pippa met ’n breë glimlag. “Sorry,” sê sy. “Ek kon net nie die oomblik laat verbygaan nie. Ek is Siphokazi, een van jou nuwe roomies. Dis my bed hier langs joune.” Sy steek haar arms uit en gee Pippa ’n onverwagse druk. “En dis my ouer suster, Nomawabo. My ouers kon my nie bring nie. Hulle’s in Parys.”

Pippa glimlag en knik. Sy kan steeds nie ’n woord uitkry nie. Sy het te groot geskrik toe sy Siphokazi se troetelspinnekop sien.

“Die een in France!” sê Siphokazi vinnig. “Nie die Orange Free State nie.” Sy lag uitbundig.

Pippa kry stadig weer lug in haar longe in. “Ek’s Pippa,” fluister sy. “Dis lekker om jou te ontmoet, Siphokazi.”

“Shame, wat’s fout met jou stem?” vra Siphokazi.

“Pippa het ’n geweldige vrees vir spinnekoppe,” sê haar ma. Sy wys na die spinnekop in die glaskissie en glimlag effens.

“Toemaar,” sê Nomawabo. “Cleopatra gaan saam met my huis toe. Ek het vir Siphokazi gesê hulle sal nie troeteldiere in die koshuis toelaat nie.”

“Well, it was worth it om te watch hoe die prefek uitfreak toe sy vir Cleo sien,” lag Siphokazi. “Hierso,” sê sy en hou Cleopatra se glaskissie uit na Nomawabo. “Vat vir Cleo en maak dat jy wegkom. Ek wil nie hê my nuwe roomie moet counselling nodig kry nie.”

Nomawabo maak haar mond oop om te praat, maar Siphokazi sê vinnig: “Ek sal fine wees. I know you love me and I love you too. Gaan nou net. Ek en Pippa wil bond.”

Siphokazi stop die glaskissie in haar suster se hande.

Nomawabo glimlag vir Pippa se ouers. “They grow up so quickly, don’t they?” sê sy en knipoog.

Pippa slaak ’n sug van verligting. Noudat sy weet die spinnekop gaan nie daar bly nie, voel sy skielik meer ontspanne.

“Pippa, wil jy hê ons moet jou help om jou bed oor te trek en uit te pak?” vra haar ma. “Of sal ons ook maar eerder nou gaan sodat julle twee kan … bond?”

Siphokazi sit haar arm om Pippa se skouers. “Ek sal haar help,” bied sy aan.

Pippa knik. “Julle kan maar gaan, ek is oukei.”

Pippa se ouers en Nomawabo verlaat die kamer saam nadat daar baie gedruk en gesoen én beloftes gemaak is om gereeld te bel.

“Ek sal jou bed oortrek terwyl jy jou goed in jou kas uitpak. Deal?” stel Siphokazi voor.

“Dankie. Dit klink goed,” antwoord Pippa. Sy’s so dankbaar sy’t ’n gawe kamermaat gekry.

“Girl, ek’s baie bly jy’s nice,” sê Siphokazi terwyl sy die duvetoortreksel oopgooi.

“Ek het nou net dieselfde gedink,” lag Pippa.

“Want ek weet nie wat jý van hulle gaan dink nie,” gaan Siphokazi voort, “maar ons twee ander roommates is the worst.”

“Hoekom?” vra Pippa. Hopelik het Siphokazi die ander meisies maar net verkeerd opgesom.

“Hulle is snobbish, mean, evil en seriously condescending.” Siphokazi vou haar arms en beweeg haar kop en nek links en regs soos ’n volstruis terwyl sy sê: “Maar. Hulle. Moenie. Dink. Hulle. Gaan. Met. Ons. Twee. Mess. Nie! I know how to deal with mean girls.”

Pippa glimlag. Dis vreemd, maar sy voel baie veilig met Siphokazi aan haar sy.

“So, wie’s jou favourite bands?” vra Siphokazi.

Pippa dink vir ’n oomblik na. “Um, ek luister nie so baie na musiek nie, maar my gunsteling is seker Die Heuwels Fantasties.”

Siphokazi maak asof sy gaan flou word. “Girl, nee! As jy in die hoërskool is en jou favourite band is Afrikaans, is dit sad. Waar kom jy vandaan?”

“Die Moordenaarskaroo,” antwoord Pippa.

Siphokazi se oë rek. “Eew! Van nou af, as iemand jou vra waar jy vandaan kom, jok jy, okay? Hulle sal dink jy’s related tot daai psychos van The Texas Chainsaw Massacre. Sê eerder jy kom van Malibu Beach of Hawaii. Jy lyk nie verniet soos ’n blonde Barbie nie. En besides, ek kan nie BFF’s wees met ’n Karoobobbejaan wat mense vermoor nie!”

Pippa lag uitbundig. “Ek hou daarvan! Oukei, ek sal van nou af liewer jok. So van watter tipe flieks hou jy die meeste?” vra sy.

“Horrors! No doubt,” antwoord Siphokazi beslis. “Veral horrors met mummies in.”

Pippa word yskoud. Die beeld van die mummie in die skuur wat haar kop stadig draai, spring weer in haar gedagtes op.

“Wat van jou?” vra Siphokazi. “Laat ek raai. Seker comedies en romance.”

“Ja, jy’s reg. Ek hou nie van rillers nie. Veral nie van dié met mummies in nie.”

“No way!” roep Siphokazi uit. “Mummies are the best!”

Dis duidelik Siphokazi besef sy’t Pippa nog nie oortuig nie. “Mummies are só cool! En ek behoort aan ’n mummy club.”

“Wat’s ’n mummieklub?” vra Pippa onseker.

“Dis ’n club vir mense wat fans is van mummies. Daar’s ’n annual magazine en ’n monthly newsletter. En club members kan met mekaar communicate in ’n online chat room.”

Pippa forseer ’n glimlag. “Dit klink … interessant.”

“Dit ís,” sê Siphokazi. “Ek sal jou later van my magazines en newsletters wys.”

Pippa draai om en maak of sy iets uit haar tas haal. Sy wil nie hê Siphokazi moet die angs op haar gesig sien nie.

“Ons was eenkeer in Egypt op vakansie en toe het ek regte mummies in ’n museum gesien,” sê Siphokazi. Pippa kan nie help om te gril nie. “It was my greatest thrill ever.”

Grilgrypers 2: Web van die mummie

Подняться наверх