Читать книгу Split - Debbie Loots - Страница 10

3

Оглавление

Die verskil tussen Pietersburg se bo- en onderdorp is vir haar amper soos die verskil tussen Randfontein se Homelake met sy mynhuisies en Greenhills, waar die ryk mense bly. As sy op enige hoek van Pietersburg se hoofstraat staan en af ondertoe kyk, na die begraafplaas se kant toe, lyk alles droog en stowwerig, amper armoedig. As sy boontoe kyk, na die koppie wat Tzaneen se kant toe lê, sien sy die huise sit dieper in, ’n entjie weg van die straat met sy jakarandabome aan beide kante, die blomme wat bo-op die bult saamsmelt in ’n mengelmoes van wit en pers.

Vera loop by die Griek se kafee in en probeer onthou wanneer laas sy vir haarself ’n Coke en chocolate gekoop het.

Buite gaan sy staan en kyk na die leë parkeerarea oorkant die pad. Sy wonder waar die blonde vrou vir hom staan en wag het. Sy proe amper nie die Chocolate Log nie, so vinnig eet sy dit op. Haar keel brand van die Coke se gas, maar sy hou aan drink tot alles op is. Toe vat sy die bottel weer die kafee in, kry haar deposito terug en stap oor die rooi lig kar toe sonder om links of regs te kyk.

Die smaak in haar mond wil nie weggaan nie – soetsuur, chocolate-Coke en twee van Willem se senuweepille sonder water afgesluk. Hy hou altyd ’n boksie in die huis aan, net vir die wis en onwis sê hy. Sy het een pil raakgebyt.

Die kinders kom netnou huis toe en sy is nie lus vir hulle nie, sy wens sy kan nog ’n dag alleen wees, oor die ding van gister kom: die blonde man, die seks, en dat sy nie sleg voel nie. Dat sy opgewonde raak as sy daaraan dink, dat sy vir die eerste keer in ’n lang tyd uitsien na iets. Waarna weet sy nie. Hy’t niks gesê toe hy later geloop het nie, niks belowe nie. Sy weet nie wat sy naam is nie, wil ook nie weet nie. Sy wil ook nie vir hom sê wat hare is nie. Iets moet fout wees met haar. Dalk is dit die boek wat sy destyds by hulle loseerder in Randfontein geleen het, by Sonja. Toe hulle in die huis in Greenhills gebly het, die een met sy ekstra kamer wat Willem aangedring het hulle uitverhuur. Vera het voor haar heilige siel geweet dis verkeerd, die boek is vulgêr. Maar sy kon nie ophou lees toe sy eers begin het nie.

Vanoggend toe sy in die stort seep oor haar borste, haar maag en tussen haar bene vryf, kon sy dit weer voel: hy wat by haar bloes inkyk toe sy buk om die bekers op die koffietafel neer te sit, die blos op sy wange toe sy sy oog vang, sy skaam glimlaggie, sy hand op haar bors.

In die sitkamer probeer sy deur die kantgordyne sien. Sy wonder of Maryna al terug is van Potgietersrus af.

Willem se Volkswagen ry by die oprit in. Sy skrik. Sy het skoon vergeet van hom, dat hy ook vandag huis toe kom. Toe hy by die kombuis se agterdeur inloop en sy tas neersit, omhels sy hom.

Hy ruik soos altyd. Sy asem nes ’n babahondjie s’n, een wat nou net wakker geword het, die suur van sy ma se melk in sy mond. Sy lippe is sag, sy lyf hard, sy voel oor sy dag oue stoppelbaard en sy weet: hy het nie vandag kliënte gesien nie. Sy probeer die koue styfheid wat skielik oor haar lyf kom teen syne warm druk.

“Hei, dis mos hoe dit gedoen word!” sê hy met sy neus in haar nek. “Mmm, jy ruik lekker. Kinders nog nie hier nie?”

“Nee. Eers so vyfuur se kant,” sê sy teen sy oor. “Jy’s vroeg.”

“En jy’s bly, nè?” Hy soen haar op die mond en trek haar boude styf teen hom vas. Sy baard kielie haar wang en sy kan haarself nie help nie, sy lag.

“Ek dog ons het klaar gepraat.” Hy staan van die bed af op en voel vir sy onderbroek op die vloer.

“Ek weet jy sien haar weer. Waar was jy vandag? Dis Sondag. Jy’t nie kliënte gesien nie, nè?”

“Ek was op die pad, Vera. Ek’s klaar met haar, ek’t jou gesê. Hoekom krap jy so?”

“As my ma darem moet uitvind … Jy kan bly wees my pa is dood!” Sy haal ’n sigaret uit die pakkie op die bedkassie. Haar hande bewe.

“Jy bedoel seker jý is bly.” Hy gaan sit op die kant van die bed. “Jy’s nou ontslae van hom, nes jy nog altyd wou wees.”

“Nee, jý is ontslae van hom, Willem! Hy’s al een wat nooit vir jou slimpraatjies geval het nie. En maak nie saak van sy foute nie, hy’t nie agter elke vrou aangeflerrie soos jy nie!”

“Tipies. Die ou monster is dood, en nou’s hy skielik ’n hero. Lyk my jy’t vergeet van sy naam onder die swartes op die myn.” Sy druk haar vingers in haar ore. Sy’t dit al genoeg gehoor. Maar hy praat net harder. “Satan, Vera, Satan! En hoekom?” Hy slaan sy hand hard op die matras. “Nee, hoor wil jy nie.”

“Dit was oor sy hare!” sê sy, maar sy weet dit is nie waar nie.

Mens kon haar pa ruik as jy naby genoeg gestaan het. Galsterig, het haar ma dit genoem. Sy bos bruin hare het hy partykeer in ’n kort poniestert vasgemaak as dit te lank begin raak het, en die fyn krulle rondom sy kop was meestal olierig. Toe sy klein was, was sy seker dis omdat die ponie vir die swartes soos die duiwel se stert gelyk het dat hulle hom Satan genoem het, maar later het sy anders begin dink. Partykeer het haar pa vir hulle sy rooi kneukels aan tafel gewys, sonder om iets te sê. Hy was trots daarop dat almal bang was vir hom. Sy, haar ma en Ivan ook.

“Ek’s moeg,” sê Willem en staan op. Hy trek sy broek aan. “Moeg vir die alewige bakleiery. Ek’t gesê ek’s jammer. Ek’t ook vir haar gesê dis verby.”

“So dan hét jy haar weer gesien?”

Hy steek een van Vera se sigarette op en trek sy vingers deur sy kuif.

“Ek gaan haal gou my goed uit die kar,” sê hy. “Dit was ’n lang naweek op die pad.” By die deur kyk hy terug en knipoog vir haar. “Hei! Ek wou nog vir jou sê jy’t maer geword. Jy lyk mooi so sonder die hammetjies.”

Hulle loer later die aand in. Die kinders is net in die bed. Hy stel hom aan Willem voor as Simon. Simon pas hom nie. Hy lyk meer soos ’n Henk. Simon en Maryna. Vera kyk vir hom, hou aan, tot hy wegkyk. Hoekom sy dit doen, weet sy nie.

Maryna is plomp met donkerrooi hare, en sy is vriendelik. Sy vryf haar kort, dik vingers heeltyd teen mekaar en lag vir alles. Elke sin eindig sy met ’n laggie, so asof dit ’n teken is dat sy nou klaar is. Dis kort sinne, bietjie soos ’n masjiengeweer. Dit lyk vir haar asof Maryna die hartseer trek wat om haar mond kom sit wanneer sy stilbly, heeltyd probeer wegpraat.

Toe Simon badkamer toe was en sy oppad kombuis toe, loop hulle mekaar in die gang raak. Sy soen hom sonder om ’n woord te sê en vir ’n paar sekondes druk hy haar styf teen hom vas. Sy hoor Willem en Maryna in die sitkamer praat en trek haarself los. Toe loop sy die kombuis in, en hy die gang af sitkamer toe waar sy hom hard hoor saamgesels.

“Nice mense,” sê Willem later toe hulle weg is ná ’n koppie tee. “Ons moet hulle bietjie oornooi wanneer ek weer by die huis is.”

Lien draai om en loop op haar tone in die donker gang terug na haar en Ben se kamer toe. Haar ma-hulle se bedlampie skyn oor die gang deur die skrefie van die deur wat haar ma altyd oop los sodat sy vir Dawid kan hoor as hy huil.

Sy het gesien hoe soen haar ma die man wat oorkant die straat bly. Haar ma het so mooi gelyk toe sy vir hom kyk met haar arms om sy nek. Haar hare het amper wild om haar kop gestaan, asof iemand dit omgekrap het. Maar dit was mooi. Haar wange was pienk. Bietjie soos ’n prentjie in een van haar pa se boeke met die kaal vroue in wat sy en Ben partykeer onder die rooi bank uitkrap en deurblaai.

Sy is nie so kwaad vir haar ma soos sy vir haar pa was oor hy haar in die kar gelos en met die ander vrou se kar vir haar weggery het nie. Sy dink dis oor sy nog nooit haar ma so mooi gesien glimlag het nie. Sy het gelukkig gelyk. Sy ken haar ma nie so nie. Sy wens sy kan. Sy verlang na die mooi vrou toe sy in haar bed klim. Baie meer as na haar ma.

Lien haal die boekie sonder lyne en die potlood wat haar ouma gister vir haar by Oase gekoop het onder haar bed uit, en in die maanlig wat deur die kantgordyne skyn, teken sy die mooi vrou. Maar toe sy by haar gesig kom, kry sy dit nie reg nie. Die vrou se mond lyk lelik en hard. Toe vee sy dit uit met die uitveër aan die agterkant van haar potlood. Maar dit werk nie. Die vrou se gesig raak net al hoe gryser. Toe sit sy spoeg op haar vinger en vee die vrou se hele gesig uit. Dwarsdeur die bladsy.

Lien gooi die boekie en potlood terug onder die bed. Sy kyk vir haar vuil naels, kou hulle almal af en spoeg hulle tussen die bed en die muur uit voor sy later aan die slaap raak.

Toe word sy wakker en skree vir haar ma van die klomp klein katjies wat onder haar bed met hulle lang naels krap. Toe kom haar ma in en tel haar op. Haar gesig lyk soos altyd, haar swart oë kyk oor Lien se kop na iets anders in die kamer, sy kyk nie vir haar nie. Dalk kyk sy of Ben nog slaap. Lien lê met haar kop teen haar ma se bors. Sy verlang na die mooi vrou.

Dis negeuur en die bordjie in die biblioteek se venster sê hulle maak Maandae eers halftien oop.

Vera gaan staan langs die sementfontein oorkant die ingang en kyk rond. Sy sit die plastieksak neer, steek ’n sigaret op en gaan sit op die harde randjie. Die water sproei koud teen haar bloes vas.

Ná ’n rukkie trap sy die sigaret dood, tel die plastieksak op, sit dit weer neer. Wat maak sy hier? Wanneer laas was sy in ’n biblioteek? Kon dit nog op skool gewees het?

Toe die houtdeure uiteindelik oopswaai, spring sy op en draai die derde sigaret onder haar hak dood. ’n Paar mense stap saam in. Binne gaan staan sy en kyk rond. Rye donker houtrakke, die reuk van ou matte, die sagte ritseling van mense wat loop, wat weet waarheen hulle gaan, wát hulle soek. Sy voel soos ’n skoolkind, skuldig. Die boek brand deur die plastieksak teen haar bors. Waar om te begin? Sy wil nie die vroue agter die toonbank vra nie, sy kan sien hulle is die soort wat sal dink sy is mal, selfs pervers. Die katalogus. Hoe gebruik mens dit nou weer? Sy onthou hoekom sy nie van biblioteke hou nie: sy voel dom.

“My Here, Vera.” Haar pa het sy werksak hard in die hoek neergegooi en ’n Black Label uit die yskas gehaal. “Vir wat wil jy jou tyd mors? Kyk hoe skeef het jou ma se suster uitgedraai met al daai geleerdheid van haar. Alleen en vol stront.”

Hy het haar ma se jonger suster nooit op haar naam genoem nie. Vir hom was Brenda alleen omdat sy nie ’n man gehad het nie. Haar ma het die koppies hard op die droograk neergesit, maar haar pa het nie agtergekom nie. Sy weet hy het haar ma gegrief, veral as hy eers begin het met iets waaroor sy nie saamgestem het nie, en dit was baie keer.

Maar haar ma het altyd stilgebly. Dit het vir Vera gevoel asof sy haarself met haar stilstuipe straf, sy wat so dom was om as jong meisie verlief te geraak het op ’n myner, sy wat uit ’n geleerde familie kom. Maar die stilstuipe was vir almal om haar ma ook swaar, veral vir haar en Ivan.

“Oor my dooie liggaam,” was haar pa se laaste woorde oor haar plan om ná skool ’n verpleegkursus in Johannesburg te gaan doen. En dit was nog voor sy genoem het sy kon by Brenda in ’n kamer gaan bly, dit sou hom niks kos nie. “Daar is niks verkeerd met Randfontein se hospitaal nie. Jy bly onder my dak tot jy die dag mondig is, dan praat ons weer.”

Nie dat sy regtig veel belanggestel het om te gaan verpleeg nie, sy wat so menssku is. Maar haar wiskundejuffrou het destyds gesê haar punte is goed genoeg om aansoek te doen, die staat sou betaal. En dit was ’n manier om weg te kom van die huis af, van haar pa af. Maar dit was meestal omdat Brenda eenkeer vir haar iets oor haarself gesê het, iets in haar raakgesien het, en dit is wat sy dink haar aangespoor het om te wil probeer. Dit was die slag toe Brenda vir haar ma kom kuier het en haar pa dubbelskof gewerk het.

Vera was toe dertien en versigtig vir Brenda. Sy was kwaai, en mooi op ’n manier wat Vera nie kon kleinkry nie. As sy vir jou met haar donkergrys oë kyk nadat sy jou iets gevra het, moes jy mooi dink oor wat jy sê, want sy het fyn geluister. Tot vandag toe nog. Mens kom nie weg met bolangse antwoorde by haar nie. Haar ma sê Brenda dink te diep oor die mensdom en sy probleme en dan wonder sy te lank agterna hoekom sy so ontsteld raak oor alles.

“Jy gaan anders uitdraai as jou ma, Vera,” het Brenda daai keer vir haar op die stoep gesê nadat hulle bietjie gesels het. “Jy lyk dalk nes jou pa, maar ek kan sommer sien, jy’s net so slim soos jou ma.”

Maar Brenda was verkeerd oor haar.

“Veels geluk,” het sy jare later gesê, toe Vera met die trein Johannesburg toe is om haar te vertel sy is swanger, sy gaan nie die volgende jaar Joburg Gen. toe nie, sy gaan met Willem trou, nog voor sy vir haar ma of pa gesê het. “Ek hoop net dis nie ’n dogter nie.”

Toe haar pa eers dood is, die jaar wat Dawid gebore is, toe is dit te laat vir haar. Toe’s sy al te lank wat sy vandag is. Dom. Haar ma het ná haar pa se begrafnis ook nie meer stilgebly nie. Vir niemand of niks nie. Sy het oor alles iets te sê, so asof sy opmaak vir haar jare lange stilswye.

Na haar pa se dood het Vera en Willem sak en pak Randfontein toe getrek – die groot huis in Greenhills in – met die hoop dat haar ma sal help met die kinders. Maar haar ma het by Ivan en Sanet en hulle baba ingetrek, gesê hulle het haar meer nodig. En die paar kere wat haar ma kom kuier het, het sy Willem goed laat verstaan wat sy dink van sy konstante uithuisigheid, van sy kwansuise gereisery vir besigheid, en veral van hulle mooi, jong loseerder wat so sag met haar lang bene en kaal voete op die volvloermatte kon stap dat mens partykeer vir haar geskrik het as sy agter jou praat.

Vera weet nie of sy van haar ma hou noudat sy deesdae so baie te sê het nie. Sy dink as sy moet kies tussen haar ma en Robin Alexander in die oggende, dan sou dit hy wees.

* * *

Willem drafstap die poskantoortrappe twee-twee af buitentoe, hande in sy broeksakke. Hy glimlag, sy oë trek klein teen die laatoggendson en hy groet almal by wie hy verbyloop.

Poppie. ’n Vars lentebriesie in ’n tyd wat vir hom voel soos die middel van die winter. Lank en maer met ’n ovaal gesiggie en donker hare, haar laggie amper soos ’n dogtertjie s’n, ’n giggeltjie. Sy’s heelwat jonger as hy, maar hy kan sien sy hou van hom. Haar hoë wangbene met hulle fyn akneemerke laat haar eerder soos ’n tienermeisie lyk as lelik; die bleek onderlaag en donker lyne wat soos ’n kat s’n uitkrul bokant haar oë laat hom aan Cleopatra dink. Hy het dit een keer vir haar gesê in die poskantoor, waar sy agter die toonbank werk, en hy kon aan die verwilderde uitdrukking in haar oë sien sy het nie geweet van wie hy praat nie. En toe hy netnou weer daar was, sien hy die ekstra swart krulletjies wat sy langs haar oë getrek het en kry op die plek ’n ereksie.

Sy het nog nooit seks gehad nie, hy kan sien, daar’s ’n kuisheid aan haar wat hy ook by Vera opgetel het aan die begin. Vera. Hy kry ’n kol op sy maag. Sy maak hom in sy eie huis op sy senuwees, hy’s gedurig op sy hoede vir een van haar jaloerse uitbarstings. G’n mens kan so leef nie. Hy weet nie hoe lank hy nog sal kan uithou nie.

Poppie is anders as Marie. Blonde, praterige Marie, easy-going. Hy kon dadelik sien Marie val vir hom, van die eerste dag af. Marie van wie hy ook nou moet afsien. Dis beter so, sy begin al hoe meer temerig raak. Poppie is meer eksoties en geheimsinnig. Sy gaan harder werk wees. Maar vir ’n uitdaging was hy nog nooit bang nie.

Hy vee oor sy hare, stap om die hoek terug kar toe, agter om die spuitfontein verby, en toe sien hy haar.

Sy staan in die biblioteek se deur, en later sou hy vir homself sê hy het haar nie herken nie omdat dit die laaste plek was waar hy sou verwag het om haar te sien.

En ook omdat sy anders lyk as gewoonlik. Sý vrou met ’n sak boeke in die hand.

Hy gaan staan stil, bekyk haar van agter om die skietende water. Sy lyk nie soos die tipiese Pietersburg-vrou nie. Sy lyk modern. Nie mooi nie, maar anders. Hy kan sien sy is ouer as Marie en Poppie, haar groot donkerbrille voor haar oë, nes Nana Mouskouri s’n op sy nuwe plaat, haar lang steil hare, die nuwe wyepypbroek. Ja, sy het beslis maer geword. My vrou, dink hy. ’n Warmte stoot in sy bors op. Hy glimlag en stap reguit op haar af. Sy sien hom nie.

“Ek dog jy’s nie een vir lees nie. Vol verrassings, nè?” sê hy en gryp haar om haar lyf net toe sy op die randjie van die fontein wil gaan sit.

Sy gil toe die sak uit haar hande val. Mense stop, kyk en stap weer aan. Hulle buk saam af en hy tel die twee boeke op. Hy kyk vir haar. Sy lyk bang.

“Hei, dis net ek,” sê hy en gee vir haar die boeke.

“Willem.” Sy klink kortasem. Sy haal haar donkerbril af. Hy kan nie onthou dat hy al ooit die groen vlekkies in haar oë gesien het nie.

Sy probeer die boeke in die plastieksak terugdruk, maar dit val weer. Hy tel een op en lees hardop: “Nancy Friday. My Secret Garden: Women’s Sexual Fantasies.” Hy kyk vir haar en toe terug na die boek in sy hande. Hy moet gaan sit op die sementrandjie.

“Willem,” sê sy sag.

“Jy sê die hele tyd ‘Willem’. Willem wat, Vera?” Sy lyk skielik soos ’n vreemdeling, nie soos sy vrou nie. Hy skud sy kop. “Waar kry jy die boek? In die biblioteek? Onder wat? Pornografie?”

“Willem …”

“Jissis, Vera!”

“Oukei!” Sy kyk vinnig om haar rond. “Wat’s so erg aan die boek? Ons leef nie meer in die donker eeue nie.”

Hy sê niks, gluur haar net aan, die boek styf in sy hand vasgeklem.

“Ek’t dit by Sonja gekry, oukei? By die loseerder in Asterstraat,” sê sy. “Toe ons nog in Randfontein gebly het …” Asof hy nie weet nie.

“Sonja,” sê hy. Die merrie, dink hy. Sý wie se suster oorsee bly en gedurig vir haar allerhande seks-boeke gepos het. Sý wat hom verlei het, na haar kamer genooi het een aand toe almal al bed toe was en hy alleen plate geluister het in die sitkamer. Hy het op die langhaarmat gelê, oorfone oor sy ore, oë toe, hom amper doodgeskrik toe sy aan sy arm tik, oor hom buk in haar deurskynende rooi bra en broekie.

“Moet ek vir jou ’n storie lees voor jy gaan slaap?” het sy gevra.

“Ja.” Hy het nie helder gedink nie, boonop amper asseblief en dankie gesê, onthou hy.

“Ek wag vir jou in my kamer.”

Hy kon dit nie glo nie, sy geluk, onder sy eie dak. Hy is op sy tone die gang af verby hulle kamer. Hy het daar ingeloer. Vera was vas aan die slaap, soos gewoonlik; hy moet haar partykeer hard stamp om wakker te word wanneer Dawid begin huil in die nag, of as Ben siek is met kroep en hoes. Dis toe dat Sonja vir hom uit haar boek gelees het. Hulle was die aand lank besig tot hy vir Dawid hoor huil het, die outjie was net gebore, en hy’s toe vinnig die gang af terug kamer toe waar hy Vera wakker gemaak het. Willem onthou hy het daarna die laken oor sy kop getrek en soos ’n klip geslaap.

“Ek’t vergeet van die boek,” sê sy. “Ek’t dit nou die dag in ’n boks in die garage gekry en dit toe vir die eerste keer gelees.”

“Wat maak jy met dit hier in die dorp?”

Sy sit weer haar bril op, kyk vinnig om haar rond, en toe weer terug na hom. Hy kan haar oë nie sien nie, kan nie uitmaak wat in haar kop aangaan nie.

“Ek wou iets in die boek vir die vrou in die biblioteek wys,” sê sy en gaan sit langs hom op die fontein se randjie. Haar broek skuur teen sy been en die hitte van haar arm laat die hare op syne regop staan. Hy skuif verergd eenkant toe en kyk haar op en af.

“Jy wou wát?” sê hy. “Hulle sal jou toesluit, Vera, die boek is onwettig!”

“Ek weet! Ek het nie, oukei!” Dit lyk of sy bloos. “Ek was te veel op my senuwees om te onthou hoe ’n katalogus nou weer werk. Anders sou ek dit self opgesoek het. Ek wou net sien wat oor dit geskryf is. Of daar iets is om te lees daaroor, om te verstaan.” Sy probeer aan sy arm vat, maar hy pluk dit weg. “Ek het gedink as die vrou vriendelik lyk, dan sal ek vir haar die woorde in die boek wys. Net die woorde, nie die boek nie, Willem.”

Hy frons. “Waarvan praat jy? Watse woorde?”

Hy wens skielik hy’t sy mond gehou, hy’t nie gevra nie.

Sy vroetel met haar bloes se knoop voor sy fluister: “Female orgasm.” Sy haal haar bril af. “Willem. Wat is dit? Is daar so iets? In die boek …”

Hy kan sy ore nie glo nie. “Is jy van jou kop af?”

Hy sien sy skrik vir die hardheid in sy stem. Die koudheid. Dis asof sy besef sy’t ’n fout gemaak om vir hom te sê. En dis ook reg so, dink hy, sy moet weet, sy moet weet sy’t ’n manier om alles te bederf, om iets wat ordentlik en normaal behoort te wees, goedkoop te maak.

“Dis nie nodig om beledigend te wees nie!” sê sy. “Ek het haar toe nie gewys nie, oukei! Ek was te op my senuwees, ek sê mos.”

Hy skud sy kop, probeer bedaar.

“Waarna soek jy, Vera?” vra hy ná ’n rukkie. Hy kan die woorde nie sê nie. Female orgasm. Veral nie in Engels nie. Hy kan nie dink dat hy dit al ooit gesê het nie. Of daaroor gedink het nie. Hy skud weer sy kop. Uit sy vrou se mond. Hy kyk vir haar. Hy weet sy gevoelens staan oor sy gesig geskryf, maar hy kan dit nie help nie. Hy wys met sy kop na die ander boek wat sy op haar skoot vashou. “Wat’s daai?”

Toe dit lyk asof sy wil opstaan, spring hy eerste op, trek die boek uit haar hande en lees hardop: “Moeder, vertel my tog.” Hy begin skielik te lag, te hard, hy weet, maar hy gee nie om nie. Laat sy bietjie voel hoe dit voel om verneder te word. Hy blaai deur die boek. “Hemel, Vera, van die een uiterste na die ander. Wat nog?”

Sy gryp die boeke by hom. “Ek moet huis toe. My skof begin netnou.”

“En die boeke?”

“Ek sal hulle by jou Playboys bêre,” sê sy terwyl sy hulle terug in die plastieksak druk en wegstap. “Onder die rooi bank se kussings.”

Hy’s stom. Skud eers sy kop. Sy’s ’n paar treë weg toe hy agterna roep: “Lyk my die duiwel het in jou gevaar, Vera!”

* * *

Dit voel asof sy kouekoors het, haar hele lyf bewe. Sy stap vinnig kar toe, probeer om nie om te kyk nie.

Toe sy oor die groen lig draf, kan sy nie anders nie. Sy kyk terug. Hy is weg. Sy draai links by Uniewinkels se hoek op, ’n systraat in en stap twee blokke verder die dorp uit na waar die huise begin. Parkering hier is verniet. Sy druk die boeke teen haar bors vas en sluit die kar oop. Binne gooi sy alles op die passasiersitplek, draai die venster af en soek haar sigarette in haar handsak. Sy sukkel om een op te steek. Haar hande bewe.

Eers ná die tweede trek ontspan sy en laat haar kop teen die kopstuk terugval. Sy het amper met die hele sak patats vorendag gekom. Hoe dom.

Sy kyk na die boeke wat onder haar handsak uitsteek en tel die Nancy Friday op. Women’s Sexual Fantasies. Van wanneer af het vrouens sexual fantasies? En hier, in dié land, Afrikaanse vrouens? Sy dink nie so nie. Haar skoonma? Haar ma? Verregaande. G’n wonder dis verbied nie. Sy druk die sigaret dood, laat sak haar kop in haar hande. Hoekom het sy dan die boek gelees? Daar is erge goed in. Mans en vrouens, vrouens en vrouens. Almal saam, die vreeslikste goed wat vrouens in hulle koppe het oor seks.

En dan die female orgasm. Hulle praat baie daaroor in die boek. Hoe dit voel. Wat dit is. In detail. Sy verstaan die woorde, sy weet wat dit beteken, maar sy verstaan nie hoe dit in die regte lewe werk nie. Nou voel dit sy sal nooit weet nie. Sy mag nie weet nie. Dis sonde. En sy dink nie sy het Willem al ooit so vir haar sien kyk nie. Nie eers op sy kwaadste nie. In afgryse. Asof sy melaats is. Raak sy nou nes Brenda? Is dit in haar gene? Raak sy ’n feminis? Wat is ’n feminis? Haar ma sê Brenda is een, behalwe dat sy ook ’n lesbiër is. Dis lelike woorde vir haar. Vreemde woorde. Sy wil nie so wees nie.

Sy voel skielik paniekerig en kyk op, deur die voorruit. ’n Vrou stap op die sypaadjie verby, sy lyk normaal, ordentlik, so met haar kind aan die hand. Nie soos sý nie. Haar skoonma sal die duiwel blameer as sy moet uitvind van die goed wat Vera lees en die goed wat sy doen, eers vir haar bid en haar dan uitkryt as ’n hoer. Soos destyds, toe sy gehoor het Vera is swanger met Lien.

Dalk moet sy net eerlik wees. Vir Willem alles vertel, die boek weggooi en Simon nooit weer sien nie. Sy is tog lief vir Willem, sy wil nie skei nie. Wat maak sy dan met ’n ander man?

Sy steek nog ’n sigaret op en vryf oor haar koue boarms voor sy die kar aansit en huis toe ry om te gaan aantrek vir haar skof.

* * *

Simon. Sy het nog nie weer met hom gepraat nie, hom net ’n paar keer vroegoggend die bakkie uit die oprit sien trek, sy keps laag oor sy oë. Maar dit voel nie vir haar dis verby tussen hulle nie.

Maryna, het sy gesien, werk by die bank, die navraetoonbank. Vrydae, wanneer Vera gaan om geld te trek vir die volgende week, loop sy verby haar in haar liggroen bloes en donkergroen romp. Maryna met haar hare styf in ’n bolla, in die holte van haar nek. Soos ’n lugwaardin s’n. Maar sy lyk nie soos een nie. Sy groet Vera altyd wanneer sy haar raaksien, opkyk van waar sy met ’n kliënt praat of agter die toonbank met papierwerk besig is.

Wanneer Willem vir ’n paar dae huis toe kom, gaan dinge ook sy gewone gang: seks meestal eerste, ná sy die kinders in die bed het, daarna stry hulle oor die een of ander iets, maar die boek word nooit genoem nie. Hy drink ’n paar biere, hulle baklei oor Marie, oor geld, oor die kinders en oor Lien se klosserige hare wat Vera eenkeer kort afgesny het. Dan drink hy nog bier en praat oor die plaas.

Die Moeder, vertel my tog wat sy by die biblioteek uitgeneem het, het sy besluit om te hou. Sy weet dis so goed soos steel, maar als is daar in, al die goed waaroor sy nie kan praat nie. Sy gaan die boek vir Lien gee wanneer dit tyd is.

Die Nancy Friday hou sy ook, vir haarself. Die boek laat haar op ’n vreemde manier lewendig voel, ’n opgewondenheid kom oor haar as sy dit lees, ’n soort gevoel wat sy nie geweet het bestaan nie. Wat om daarmee te maak weet sy nie. Sy vermoed dit het iets met female orgasm te doen. Maar sy is nie seker nie. Sy dink Willem is reg. Daar is fout met haar. Sy is nie meer wie sy was nie.

Toe Simon een oggend weer kom klop, ná sy die kinders gaan aflaai het en nie haar kar in die garage getrek het teen die son nie maar in die oprit gelos het vir hom om te sien, hardloop sy om die deur oop te maak, hou sy hom vas asof sy hom jare laas gesien het, soen sy hom aanmekaar. Dis vir haar te laat vir terugdraai.

Simon se kop beweeg op en af met die deining van haar maag terwyl sy vir hom uit die Nancy Friday lees. Sy hand flap sy pap penis heen en weer. Hy luister, oë op die plafon. Hy geniet die stories, sy kan sien, en sy is bly toe hy harder aan sy penis begin te trek.

“Kom hier.” Hy draai homself bo-op haar, maak die boek uit haar vingers los en gooi dit in die hoek van die kamer waar dit sag op sy broek land. Sy lag en maak haar oë toe terwyl hy in haar oor fluister wat hy alles met haar gaan doen.

“Ek’s nie liberaal nie,” sê sy. “Ek was nog nooit nie. Ek’s eintlik baie konserwatief.”

Hy lag. Sy is mal oor hoe hy lag.

“Dis waar,” sê sy. “Ek weet jy glo my nie.”

Hy lê langs haar op die bed. Hulle is in ’n motelkamer net buite Tzaneen, die enigste motel in die omgewing, dieselfde een waarin Willem seker ook al geslaap het, dink sy, en beslis nie alleen nie.

Sy steek ’n sigaret op, druk die kussings teen die muur en sit regop.

“Ek’s streng grootgemaak,” sê sy.

Hy is stil. Sy kyk vir haarself in die groot spieëlkas, haar lang donker hare hang deurmekaar om haar gesig, haar bene is gekruis voor haar kaal lyf. Sy lyk anders as gewoonlik. Sagter.

“My pa was ’n mynkaptein, hy’s ’n paar jaar terug dood.” Sy vang sy oog in die spieël, hy luister. Sy kyk weg, na die gordyne met hulle sonverbleikte blomme. Hy’t ’n rukkie gelede die venster daarmee toegetrek.

“My ma het nooit gewerk nie,” sê sy. “Haar familie dink sy’t sleg getrou. Net haar suster Brenda het kom kuier. Partykeer.” Sy kyk weer vir hom in die spieël. “Sy’s ’n lesbiër.”

Hy frons.

“Weet jy wat’s dit?”

“Ja.”

“Ek sou nie, as dit nie vir Brenda was nie.”

Sy sien hy kyk weg.

“Ek het goed gedoen op skool,” sê sy ná ’n rukkie, “biologie veral.”

“Dit kan ek glo.” Hy knyp haar been.

“Ek’s ernstig,” sê sy. “Ek wou Johannesburg toe, ek wou by die hospitaal gaan werk het daar, maar my pa wou niks weet nie. Hy wou hê ek moes in Randfontein verpleeg, elke Sondag kerk toe gaan en vir ewig onder sy dak bly.” Sy glimlag. “Met goeie ou Hendrik trou as ek dan nou moes trou.”

“Wie’s Hendrik?”

“’n Goeie man, ek sê mos.” Sy sug. “My skoolliefde. Hy wou trou. Ek wou nie.”

Hy sê niks.

“En toe ontmoet ek vir Willem,” sê sy. “Hy’t my gecharm met sy mooi praatjies. Ek het amper nie my verpleegkursus klaargemaak nie.”

“Was jy só verlief?”

Sy glimlag. “Ek was, ja.”

“En nou?”

Sy haal haar skouers op, voel skielik hartseer.

“Wie weet,” sê sy, “mens verander na ’n ruk, doen goed wat jy nooit gedink het jy sou nie.” Sy wonder skielik of sy hom moet vra oor female orgasm, of hy sal weet, maar sy is bang as sy die woorde sê, kyk hy vir haar soos Willem haar aangekyk het. Simon het klaar genoeg rede om sleg te dink oor haar. Toe druk sy haar elmboog in sy sy, byt speels sy oor. “Kom! Vertel jy.”

Hy glimlag skaam. “Ek’s gelukkig getroud.”

Toe sy snork, sê hy: “Ek is ernstig.”

“Wat maak jy dan met my?”

“Ek het seks met jou.”

“Hoekom nie met haar nie?”

“Wie sê ek het nie met haar nie?”

“Hoekom dan twee?”

“Wie sê ek het net twee?”

“Stop dit!”

Hy knyp weer haar been. “Dit voel nie genoeg nie,” sê hy ná ’n rukkie.

“Wat?”

“Wat ek met haar het.”

“Is jy lief vir haar?”

“Ja. Sy’s ’n goeie vrou. Sy sou ’n goeie ma gemaak het.”

“En?”

Hy kyk vir haar. “Lees ’n stukkie uit jou boek vir my, toe? Ons het nog bietjie tyd.”

Sy druk haar sigaret dood, gaan tel die boek in die hoek op en toe kom lê hy weer met sy kop op haar skoot.

’n Week later vertel Willem haar. Hulle sit by die kombuistafel en eet die laaste van die bredie wat sy gemaak het.

Sy ma en pa het die kinders vroeër kom haal en beesvleis saamgebring. “Willem is baie lief vir bredie, Vera,” het haar skoonma gesê en die homp vleis, toegedraai in bruinpapier en dun velletjies plastiek, op die kombuistafel neergesit.

“Ek weet, Ma. Dankie.” Vera wou haar nie in die oë kyk nie.

Ná ’n paar happe sê Willem nou: “Jy sal nooit raai vir wie ek op Tzaneen raakgeloop het nie.” Hy kyk op.

“Wie?”

“Swannie.”

Sy sluk haar hap vleis.

“Swannie?” sê sy ná ’n rukkie en kyk af in haar kos.

Hy swaai sy vurk voordeur se kant toe. “Ja, man, Johan Swanepoel. Ons buurman oorkant die straat se vennoot.”

“O.”

“Ek was in Gabriels. Hy’t glo parte gesoek vir een van hulle trokke. Ek wou nog besigheid praat, maar toe sien ek iets is fout.”

“Ja?”

“Ek vra toe hoekom hy so bek-af is. Toe sê hy hy gaan volgende week begrafnis toe.”

“Begrafnis toe?” Sy kyk op.

“Ja. Dis baie sleg.”

“Wie s’n?” Sy voel koud, haar arms en bene smelt aan haar stoel vas.

“Wat’s sy naam nou weer?” Hy kyk vir haar. “Ons buurman oorkant die straat?”

Sy bly ’n rukkie stil. Sy sukkel om sy naam te sê. “Simon?”

“O ja,” sê hy. “Simon.” Hy vat ’n groot hap. “Mmm.” Hy stoot met sy vinger ’n stukkie vleis tussen sy tande los. “Jy kan kook, Vera. Dis vir seker.”

“Is hy dood?” Sy sit haar mes en vurk neer en vou haar arms oor haar bors.

Hy kyk vir haar asof hy nie weet waarvan sy praat nie.

“O … Nee. Hy’s nie dood nie. Sy vrou is. Glo selfmoord gepleeg. Dinsdag. Haarself gehang. In die huis glo. Hy’t op haar afgekom. Die arme ou.”

Hy vat nog ’n hap. “Wat’s haar naam nou weer?”

“Maryna.”

“Dis reg, ja.” Hy skud sy vurk in die lug. “Maryna.”

“Weet jy hoekom? Het Swannie iets gesê?”

Hy lag. “Sy’t hom glo gevang met die buurman se vrou, in hulle bed. Daai sexy blonde enetjie. Sy bly links van hulle, in die siersteenhuis, die een met die oranje son op,” sê hy. “Haar man is glo heeltyd op die pad. Baie soos ek.” Hy lig sy wenkbroue, knipoog vir haar. Sy kyk af. “Ek dink sy’t aan haar senuwees gely of iets, Maryna nou. Dalk was dit die cherry op die koek.”

Sy hoor hoe die vleis in sy kieste rondmaal ná nog ’n hap. Hy byt ’n beentjie raak, haal dit uit en sit die wit stukkie op die bord se rand neer.

“Ek sou dit nooit van hom gedink het nie,” sê hy terwyl hy die beentjie van naderby bekyk. “Hy lyk nie die tipe nie.”

“Ja,” sê sy sag en tel weer haar mes en vurk op. “Die lewe is vol verrassings.”

* * *

Hy is verlief. Hy weet. Hy het al amper vergeet hoe dit voel, so halsoorkop tot oor sy ore toe.

Hy kan nie onthou dat hy ooit so oor Vera gevoel het nie, nie eers aan die begin nie. Sy was vir hom ’n challenge, hy sien dit nou. En toe hy haar uiteindelik sover kry, ná weke se sagmaak en mooipraat, toe’s sy sommer gou swanger. Hy’t gedink haar pa gaan hom te lyf gaan, destyds toe hulle hom en haar ma vertel het, hy’t Willem uit sy huis gejaag, hom allerhande name toegevoeg. Nooit weer daarna ’n woord met hom gepraat nie. Goddank die man is dood.

Willem speel met die fraiings van die rooi-en-wit blokkiesplekmatjie waarop sy roomys en sjokoladesous ’n rukkie terug nog gestaan het. Pizza eet is ’n nuwe ding in die Noord-Transvaal, en soos met alle nuwe dinge is dit verskriklik lekker. Bietjie ver om te ry vir ’n aand uit, al die pad Potgietersrus toe, maar vir háár gee hy nie om nie.

Hy kyk hoe sy van die badkamer af terugstap tafel toe. Sy lyk pragtig in haar stywe ligblou rokkie. Hy staan op toe sy by die tafel kom, skuif haar stoel uit en kyk na haar ferm klein borsies, platgedruk teen haar rok toe sy vorentoe leun om te sit.

“Poppie …” sê hy en kyk in haar oë.

“Willem.”

Sy vroetel met die kettinkie om haar nek. Haar naels is lank en rooi geverf, nes haar lippe, en oor haar oë wat afkyk, is pikswart strepe getrek. Twee ekstra lang krulle loop uit haar ooghoeke so ’n entjie teen haar slape op. In die halfdonkerte kan hy amper nie die akneemerke onder haar onderlaag sien nie. Sy kon ’n model gewees het, sy is so lank, dink hy, of ’n lugwaardin. Hy het nog altyd ’n ding vir lugwaardinne gehad. Al het hy nog nooit gevlieg nie. Hy dink aan die foto van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se lugwaardinne wat hy nou die oggend in die koerant gesien het. Hulle het in ’n ry by die groot Boeing se trap af gestaan, hulle blou uniforms se rompies net kort genoeg om knie te wys, bolla in die nek en bolhoedjie op die kop. Pragtig.

“Ek wil oor begin,” sê hy.

“Wat bedoel jy?”

Hy draai sy trouring heen en weer om sy vinger voor hy opkyk. “Ek wil ’n nuwe lewe saam met jou hê, Poppie. Dis wat.”

Hy glimlag, vat haar hand op die tafel en soen haar vingers, een vir een. Hulle ruik soos rose.

“Ons ken mekaar skaars, Willem. Hoe seker is jy van alles?” Haar stem bewe.

“Poppie,” sê hy, “ek’s lief vir jou. Ek wil met jou trou, môre as ek kan. Ek wil jou hê, jou elke dag van my lewe sien, vir altyd.”

Hy dink hy sien trane in haar oë.

“My make-up.” Sy lag terwyl sy onder haar oë tik. “Jy’s nog getroud.” Haar wimpers fladder.

“Nie meer vir lank nie, nie as ek dit kan help nie,” sê hy. “Dis verby tussen my en Vera, al lankal, eintlik al van die begin af. Dis net die kinders.”

“Wat van hulle?”

“Dit gaan sleg wees.” Hy probeer glimlag. “Maar moenie worry nie, ek sal dit uitsorteer.”

Die kelner kom met die rekening en Willem druk sy hand in sy sak vir sy beursie. Hulle is stil totdat die kelner wegloop.

“Dit was heerlik, dankie,” sê sy.

“My plesier.”

Sy kyk na haar goue horlosie. “Dit raak laat.”

“Oukei,” sê hy. “Ek vat jou terug, op een voorwaarde.”

Sy lig haar dun wenkbroue. “En dit is?”

Hy leun nader. “’n Soen.”

Sy is stil die sestig kilometer terug Pietersburg toe. Elke nou en dan kyk hy vir haar. Sy kyk by die venster uit, die koppies flits agter haar in die maanlig verby en die lig skyn nou en dan deur die stywe krulle wat sy hoog op haar kop vasgesteek het.

“Kan ek môre ’n brief kom pos?” vra hy.

“Gaan die brief oorsee?” Sy klink ernstig.

“Wat?”

Sy lag. “Ek terg. Ek’s nou by die oorsese toonbank. Reg langs die ingang vir die swartes.” Sy trek haar neus op. “Net vir ’n maand of so. Vir opleiding. Dan’s ek weer terug by plaaslik.”

“Solank ek weet waar om jou in die hande te kry, is als reg. Dalk kan ek jou steel vir middagete?”

Sy leun skielik oor en soen hom lank op sy wang. “Dit sal lekker wees.”

Hy voel die taaiheid, ruik die soetheid van haar lipstiffie nog lank nadat hy haar afgelaai en dit afgevee het, ook nog in die donker badkamer by die huis waar hy dit probeer afwas het. En, verbeel hy hom, selfs toe hy in die bed langs Vera klim, kan hy nog voel hoe plak sy wang teen die kussing vas.

Toe Vera ná ’n rukkie haar kaal lyf na hom toe draai, haar been oor hom gooi, hou hy sy oë toe, probeer hy met lang, eweredige asemhaling wys hy slaap. Maar toe sy haar hand onder sy lyf inwikkel en haar vingers om sy ereksie vou, kan hy nie meer nie. Hy draai sy lyf haastig bo-op hare, sy wang anderkant toe, sy penis stotend teen haar dy.

* * *

In die biblioteek kom dit by haar op. In die koelheid en die stilte, net voor sy by die groot houtdeure uitloop. Willem het weer iets met ’n ander vrou aan die gang. Dis ook nie dieselfde een as laas, die witkop Marie nie; dis iemand anders, Vera kan dit ruik aan hom. Háár ruik aan hom. Maar dit maak nie saak nie. Nie meer nie. Sy’t besluit sy gaan bly.

Vandat Maryna begrawe is, was sy nou al ’n paar keer by die dominee op die dorp. Sy het hom die hele storie vertel, ná sy belowe het om terug te gaan kerk toe. Al haat sy die plek van kleins af al, die klomp geveinsdes in hulle kerkhoede en dasse wat haar en Ivan altyd skeef aangekyk het wanneer haar pa hulle in sy ou DKW voor die NG Kerk gaan aflaai het. En hulle ’n uur later weer kom optel het. Hy en haar ma was nooit kerk toe nie, nie sover sy kan onthou nie, maar sy en Ivan moes. Vera kon dit nie kleinkry nie, maar sy het geweet vra help nie. Haar ma sou net haar kop skud en na haar pa kyk om te antwoord, en haar pa sou sê hy hoef nie te verduidelik nie want terwyl hulle onder sy dak bly, geld sy reëls, en basta met die res.

Die dominee het vir haar gebid en voorgestel sy gooi die Nancy Friday-boek weg. Dit was vir haar moeilik, maar sy het. Haar ma het eenkeer gesê alles in die lewe het ’n prys, en sy dink dis die prys wat sy moes betaal om ’n goeie vrou te kan wees. Dit, en om alles waaroor sy in die boek gelees het te vergeet. Maar die Moeder, vertel my tog het sy tog gehou. Sy moes ’n boete betaal netnou toe sy vir die bibliotekaresse sê sy’t dit verloor. Dit was nogal baie vir ’n ou boek, maar sy gee nie om nie. Dis amper asof sy haar skuld afbetaal het; nie net vir die biblioteekboek nie, maar ook vir Simon, en die Nancy Friday-boek, alles is op een slag afbetaal. Maar sy voel nie soos sy gedink het sy sou nie. Soos die dominee gesê het nie.

Buite die biblioteek is die laatmiddagson nie meer so skroeiend soos vroeër nie. Vera stap vinnig die trappe af. By die sementfontein staan sy stil, druppels water waai teen haar gesig en arms vas. Sy maak haar oë toe en lig haar kop, keer haarself net toe sy haar mond wyd in die koel mis wil oopmaak. Die mense sal skrik.

* * *

Willem het besluit om ’n week of twee af te vat, sy sales was goed genoeg vir die volgende twee maande se rekeninge. Hy wil al sy aandag aan die ding met Poppie gee, net totdat hy seker is van haar gevoelens vir hom. Dit lyk boonop asof Vera sy tydjie by die huis geniet.

Hy het nie verwag om haar wéér daar te sien nie, langs die biblioteek se fontein. Al het hy geweet dis haar af-dag en sy kan enige plek op die dorp wees. Soos by Oase of die OK, wat ver weg van die munisipale geboue af lê, of die Griek se kafee in die bodorp. Nie hier voor die biblioteek nie. Wat soek sy?

Sy hand gly stadig van Poppie se boud af en hy gaan staan. Poppie ook. Sy kyk vir hom. “En nou?”

Hulle is ’n paar meter van Vera af. Dit lyk asof sy opkyk, maar haar oë is toe, sy’t ’n leë OK-sak in haar hand en die mis van die fontein waai teen haar vas. Hy kan haar harde tepels teen die nat bloesie sien druk, twee bruin knoppies tussen die verbleikte lap se rooi rose en groen blare. Sy het wragtig nie ’n bra aan nie. Hy dink al hoe meer sy is nie lekker nie.

“Wat maak die vrou? Is sy mal?” sê Poppie.

Hy’t sy tong verloor, voel dit vir hom. Hy skud sy kop.

“Wat’s fout, Willem? Dit lyk of jy ’n spook gesien het.” Poppie trek aan sy arm. “Hei!”

Haar lang naels druk diep in sy pols in en dis asof hy skielik wakker skrik. Hy stoot Poppie vinnig aan die arm agter om Vera verby, en toe hulle ’n ent weg is, fluister hy: “Dis Vera, Poppie. My vrou.”

“Dís jou vrou?” Sy gaan staan en begin te lag, dit klink anders as die mooi, sagte laggie waaraan hy gewoond begin raak het. “G’n wonder jy wil haar skei nie.”

“Wat bedoel jy?” Hy probeer om nie geïrriteerd te klink nie, stuur haar verder weg tot hulle agter die biblioteek gaan staan. ’n Man en vrou loop tussen die rakke boeke deur in die groot glasvensters. Die vrou staan stil en kyk vir hulle. Niemand is gewoonlik hier agter rond nie. Hy probeer verby Poppie ’n skewe glimlag vir haar gooi, maar toe hy weer kyk, is sy weg.

“Sy’s mal. Dis duidelik. En lelik.” Poppie staan met haar hande in haar sye. “En vir wat vat jy haar kant?”

“Ek’t net geskrik toe ek haar sien, dis al,” sê hy.

Hy trek haar nader, gooi sy oog weer vinnig biblioteek se kant toe. Niemand nie. Hy kyk vir haar. “Jy’s die enigste een vir my, Poppie.”

Sy trek uit sy omhelsing los. “Jy’t ’n week om vir haar te sê, Willem. Ek het my beginsels.”

Sy vingers gly van haar arm af toe sy omdraai en wegloop. ’n Entjie verder gaan staan sy en kyk om, daar’s trane in haar oë. “Of ék sê vir haar. Jy kan kies.” Toe loop sy verder. Hy kyk haar agterna tot sy om die draai verdwyn.

Hy voel vir sy sigarette in sy hempsak. Miskien is dit die beste, hoe gouer hoe beter. Terwyl die kinders nog klein is. Ná ’n rukkie skiet hy sy stompie iewers in ’n bedding in en stap agter om die biblioteek terug kar toe, hande in sy sakke.

Vera se kar staan nie voor die garage toe hy by die huis aankom nie. In die kombuis druk hy sy neus in die OK-pakkies op die tafel, ’n hongerte is skielik oor hom. Daar’s niks lekkers in nie, sy koop altyd net wat nodig is.

Hy trek ’n stoel onder die tafel uit, voel aan sy hempsak vir sy sigarette, haal die leë pakkie uit en gooi dit in die rigting van die asblik. Dalk het sy sigarette onthou. ’n Tweede gekrap in die sakke lewer weer niks op nie. Die bier is op, die laaste een het hy gisteraand gedrink. Melk dan maar. Hy trek die yskasdeur oop en dink eers hy sien gesigte toe hy die sespak sien. Botteltjies Castle. Yskoud. Hy krap in die boonste laai rond vir die oopmaker.

Die gas van die vinnige slukke bier laat sy wange bol en hy stop om asem te skep, breek ’n wind op. Hy klots die oorblywende bier in die bottel rond, sit dit op die tafel neer voor hy die koskas oopmaak en wiegend aan ’n handvatsel ’n pak chips uithaal. Dis wragtig Krismis. Hy steek ’n hand vol in sy mond en vat nog ’n sluk bier.

Vera stop buite en ’n rukkie later hardloop die twee seuns in en spring in sy arms. Willem kreun en hurk af. Hy kyk vir Ben met sy waterblou oë, nes sy pa s’n. Die kind kyk hom weer te ernstig aan.

“Waar was Pappa?”

Hy vra hom altyd. En altyd met ’n frons. Maak nie saak of Willem weke lank op die pad was en of hy hom vroeër die dag gesien het nie. En Willem sê altyd dieselfde ding, so vrolik as wat hy kan. “By die werk, seun!”

Hy kreun weer en sit hulle neer, vryf die twee se hare deurmekaar. “Waar kom my twee laaities nou vandaan?”

“Die crèche, Pappa,” sê Dawid. Hy’s ’n mooi kind, met sy donker oë en blas vel. Maar hy kan sien hier kom moeilikheid. Die kind is nou maar eers drie, maar hy staan nie vir hom terug nie, ook nie vir Vera nie. Sy het ’n sagte plekkie vir hom, sê die kind lyk nes haar oorlede pa. Hy reken dit is omdat hulle hom sy naam gegee het. Hy hoop net nie hy haal die ou man se streke ook uit nie. Nie dat Vera se ma beter is nie. Hy kan nie onthou dat hy al ooit in sy lewe so ’n swartgallige ou vrou teëgekom het nie. Hy loop maar lig vir haar.

Willem staan op toe Vera en Lien inkom. “Dankie vir my bier, skattebol,” sê hy, “en die chips.” Hy leun nader om haar te soen. Haar bloes voel droog.

Sy omhels hom, haar lippe is sag teen sy mond. “My plesier.”

Oor Vera se skouer sien hy Lien trippel, haar skooltas in haar hand. Sy kan nooit stilstaan nie. Altyd iets.

“Pa …”

“Nie nou nie.”

“Ek wil net ietsie vra, Pappa!”

“Later,” sê hy.

“Pappa …”

Haar hare lyk vir hom by die dag yler. Hy’s verlig toe hy sy vingers deur sy eie digte kuif trek. Lien glimlag. Hy skrik half. Haar voortande lyk vir hom vreemd, dis asof hy hulle vir die eerste keer raaksien. Dis te groot vir haar mond, amper soos ’n haas s’n. Die kind lyk elke dag onaardiger. Hy sukkel nou nog meer om haar te verdra ná sy destyds vir Vera van Marie gesê het.

“Ek’t gesê nie nou nie.” Hy weet hy praat te hard.

Vera kyk op van waar sy besig is om die res van die chips in ’n bak uit te gooi. “Wat’s fout?”

“Niks,” sê hy en knipoog vir haar.

Vera frons.

Lien loop koponderstebo kamer toe, die seuns agterna.

“Wat maak jy heeldag met jouself, Willem?” Vera steek ’n chip in haar mond. “Seker lekker vir jou om bietjie af te wees, nè?” sê sy.

Hy gaan sit by die kombuistafel. Vera gee ’n bottel bier en die oopmaker aan, trek ’n stoel langs hom uit en gaan sit. Sy’t ook ’n bier in die hand.

“En nou?” vra hy ná sy eerste sluk.

“Ag, ek’s net lus,” sê sy. “Dit lyk altyd so lekker. En?” Sy kyk vir hom.

“Nee, ek drink al lankal bier,” sê hy en kyk af.

“Willem!”

“Oukei, oukei. Ek’t die tuin natgemaak vanoggend. Die garage bietjie uitgesort. En toe die gras gesny. Het jy nie gesien nie?”

“Ek het,” sê sy. “En toe?”

“Toe’s ek dorp toe, Vera.” Hy probeer die byt uit sy stem hou. “Ek’t gaan gesels met Cecil in die spares shop.”

“Wat sê hy?” Sy trek haar gesig ná haar eerste sluk bier.

“Nee, sake lyk goed,” sê hy. “Ons gaan nou die vennootskap-ding doen. Hy’t die papiere reg. As dinge goed gaan, is ons oor twee maande partners van die grootste en beste spares-winkel in Pietersburg!”

Sy vat nog ’n sluk en trek weer haar gesig. Hy wens sy wil ophou met haar aansittery.

“Jy moet oppas vir Cecil, Willem,” sê sy. “Die dorp lê vol oor sy wheeling en dealing.”

Hy probeer kalm bly. “En hoe sal jy nou weet? Is dit oor jy deesdae so lekker in die dorp rondlê?”

“Biblioteek toe is nie in die dorp rondlê nie,” sê sy. “En jy hoef nie so sensitief te wees nie, ek probeer maar net help.” Sy kyk by die venster uit.

“Wat het toe van jou wildslaghuis-planne geword?” vra sy. “Dáár was nou ’n goeie idee vir jou.” Sy kyk weer vir hom. “Dalk moes jy bietjie gewag het voor jy met Cecil geteken het.”

Hy vererg hy hom. Wat weet sy van besigheid? Wie’s sy om hom te vertel?

“Ek sou die slaghuis ook saam met Cecil begin het, Vera. Hy’s die een met die contacts vir die wildsplase. Anyway, besigheid is besigheid. Jy moet net weet wat jy doen.”

“Het jy al weer geld by jou pa geleen?”

Hy staan skielik op. Hy’t nou genoeg gehad van haar stront.

“Ek moes. Waarmee dink jy het ek die share in die spares-besigheid gekoop? Die sales wat ek op die pad doen, sit elke dag kos op die tafel, vir jou en die kinders, dit betaal die rekeninge. Daar’s niks oor die einde van die maand nie. Boggerol!”

Hy kyk rond vir sy sleutels.

Sy gryp sy arm. “Wag. Kom sit, Willem. Asseblief. Jy’s reg, weet jy. Ek waardeer dit dat jy so hard werk. En die spares-besigheid is ’n goeie idee. Dis net dat ons jou pa-hulle al klaar so baie skuld. Ek’s bekommerd oor waarmee ons hulle gaan afbetaal. Jy weet my salaris is maar min.”

Haar glimlag irriteer hom en hy kyk weg.

“Maar elke bietjie help tog, nie waar nie?” sê sy.

Hy trek sy arm los en sit die bier hard op die tafel neer. Sy moenie dink sy kan hom een oomblik aanvat en dan ewe skielik witvoetjie soek nie. Hy’s nie ’n fool nie. Sy met haar buie.

“Jy’t darem ’n manier om iets wat mooi is lelik te maak, Vera. Jy’t my nou skoon my lus vir die bier laat verloor.” Hy loop deur toe. “Ek gaan ’n entjie ry.”

“Gaan jy weer by jou nuwe girlfriend kuier?” Haar stem is skril.

Sy staan op, gryp sy bottel op die tafel en tiep al twee hulle biere in die wasbak uit. Hy wil probeer keer, dis geld die drein af, maar toe los hy dit. Hy voel skielik moeg, amper verlig. Dis nie sy skuld nie. Niemand met gesonde verstand kan met so ’n vrou huishou nie.

“Ek’t nie meer krag nie, Vera.”

Sy gaan sit weer by die tafel, haar kop tussen haar hande. “Ek’s jammer, Willem. Ek weet nie wat my makeer nie. Ek sal ophou.”

Haar oë pleit toe sy opkyk. Hy kyk weg.

“Kom sit weer, asseblief. Ek gaan nou begin kos maak. Pap en wors en daai lekker tamatie-en-uiesous waarvan jy so baie hou.”

Hy sê niks. Hy kyk deur toe.

Sy staan op en maak die yskas oop. “Hier’s nog ’n bier.” Sy hou een uit na hom en mik vir die oopmaker. “Kom, ek maak die bottel oop vir jou.”

“Nee, los.” Hy sien die karsleutels langs die ketel blink en tel dit op. “Netnou gooi jy dit ook in die drein af,” sê hy en loop by die oop agterdeur uit.

* * *

Dis besig in die gang. Die swart verpleegsters koek voor hulle teekamer saam, party kyk af op hulle horlosies wat bokant hulle groot borste vasgesteek is, ander lag hard en stamp en stoot mekaar vriendelik.

Dis vir Vera vreemd om soveel swart gesigte saam op een plek te sien, sy probeer altyd om hulle nie aan te gaap nie. Hulle oë is skerp, hulle vang jou kyk en laat mens dan simpel voel met hulle strak geterugstaar in jou oë. Aan die begin wou sy by die matrone kla oor hulle hulle so wit hou, maar sy het dit nou gewoond geraak.

Die matrone sluit altyd hulle teekamer. Seker oor sy bang is iets raak gesteel of in die kaste weggesteek om later uitgesmokkel te word hostel of lokasie toe.

Partykeer voel dit vir haar asof die swart verpleegsters hulle werk beter doen as sy, die helpers ook. Wanneer sy by die swart pasiënte se sale verbyloop op pad uit, staan sy partykeer ’n rukkie in die deure en kyk vir hulle, hoe maklik hulle die siekes versorg en bedsere dokter, hoe bedpanne net op die regte plek tussen die lakens ingeskuif word, die warmte waarmee hulle met die kinders praat, die gelag met oop monde en tande wat teen donker velle afsteek.

Die kere wat sy saam met een in ’n wit saal gewerk het, het sy gevoel of die swart verpleegster net reg staan om die ding waarmee sy besig is uit haar hande te vat, asof sý die een is wat die bedpan onder die siek man se wit boude wil inskuif of uithaal, asof sy nie uit senuweeagtigheid druppels pie op die bed gaan laat beland nie. Nie die ou man se lyf te vroeg gaan laat sak en hoop hy voel nie sy louwarm ontlasting deur sy dun blou vel in sy lyf intrek nie.

Die verpleegster kyk meestal af, haar gesig uitdrukkingloos, wanneer Vera haar kwaai aangluur, sý wat net daar is om goed aan te vat, sy wat dadelik behoort uit te loop met die vuil lakens, bedpanne en medisynebottels. Die matrone staan gewoonlik by die deur. Sy hou alles met valkoë dop. Swart verpleegsters en helpers bly nie langer in die saal as wat nodig is nie. Die wit pasiënte en hulle mense raak kriewelrig en praat partykeer hard met die matrone, veral as daar ’n plaasboer se vrou of kind lê en dit lyk asof die verpleegsters te lank rondstaan.

Die matrone kom van voor af in die gang af geloop, daar’s twee nuwe wit verpleegsters kort op haar hakke. Die laatmiddagson skyn in geel strepe deur die hoë venstertjies oor die vroue, en vir ’n oomblik lyk hulle vir Vera soos gesalfdes uit die Bybel.

Eers toe die matrone die swart verpleegsters se teekamer oopsluit en ’n klomp van hulle by die vertrek inbondel, sien sy die ou vrou in haar donkergroen rok en swart hoedjie agter die twee wit verpleegsters staan, verder af in die gang. ’n Klompie swart verpleegsters staan nog in die gang en gesels terwyl Vera probeer verbydruk. Sy wil huis toe, haar skof eindig vroeër op ’n Donderdag en sy het klaar vir haar payslip gaan teken by die personeelafdeling.

Toe sy by die swart verpleegsters en die matrone verby is, staan die vrou in die donkergroen rok reg voor haar. In haar pad.

“Skuus,” sê Vera, koponderstebo, en mik óm die vrou.

“Is jy Willem Barnard se vrou?” vra sy, nie sag genoeg dat net Vera haar kan hoor nie.

Vera kyk op. Die vrou lyk moeg, twee diep kepe trek haar mondhoeke af, haar digte wenkbroue gooi ’n skaduwee oor haar oë. Grys hare steek onder haar bolhoed uit en staan aan weerskante van haar gesig af weg. Die dun hoedrekkie om haar ken trek styf. Van naderby lyk sy amper bekend, soos iemand wat dalk by Vera se ma gekuier het toe sy ’n kind was, in Randfontein, op die stoep wanneer haar pa by die werk was. Miskien iemand wat Brenda aangestuur het vir haar ma om te help. ’n Charity case, soos haar ma dit noem.

“Hoekom wil tannie weet?” vra sy.

Die stilte wat skielik oor die gang sak, suis in haar ore. Sy kyk om haar rond, vang party se oë, ander kyk weg. Die ou vrou sien niks. Vera kan nie ver genoeg omdraai om te sien waar die matrone is nie. Sy kyk terug vir die vrou.

“Is jy?” vra die vrou weer. “Dit lyk soos jy.”

“Ja, ek is Vera Barnard,” sê sy. “Willem se vrou.”

“Hy skuld my dogter geld.” Die vrou se stem is nou harder.

Vera voel oor haar leë uniformsakke vir sigarette.

“Marie het ’n kind gehad, ’n seuntjie. Sy seuntjie. Hy’s twee maande oud. Willem het haar gesê hy sal help, maar hy het nog nie. Laas maand net die helfte gegee van wat hy beloof het.”

Vera hoor iemand asemhaal en sy is nie seker of dit sy is nie.

“Ek’s jammer, tannie.” Vera praat sag. Sy kyk rond. Almal kyk weg, niemand praat nie.

“Jammer help sweet blow all,” sê die vrou. “Die kind moet eet, hy het doeke en klere nodig, en dis net om mee te begin.”

Vera kyk weer terug. Die matrone staan in die gang, haar gesig is rooi. Sy draai skielik om en loop weg, die twee nuwe verpleegsters skarrel agterna. Vera vee oor haar voorkop en gee die swart vroue voor die teekamerdeur ’n vuil kyk. Sy voel die trane kom. Die skande, hier voor húlle. Een vir een loop die verpleegsters die teekamer in.

Vera vat die ou vrou onder haar elmboog. “Kom, tannie.” Sy druk haar die gang af en stap by ’n oop agterdeur uit.

Dis warm buite.

“Waar is tannie vandaan?”

“Ons bly in die onderdorp. Ek moes loop van daar af.”

“Ek sal tannie gaan aflaai.”

Die vrou gaan staan en trek haar elmboog los. “Ek weet nie of Marie sal wil …”

“Oukei, die dorp dan.”

“Dankie.”

Sy help die ou vrou in die passasiersitplek van haar kar in. Toe sy om die Anglia loop om ook in te klim, sien sy iemand kom nader. ’n Swart vrou. ’n Verpleegster.

Vera slaan die kardeur hard toe, slinger haar handsak oor op die agterste sitplek en sukkel om die kar aan die gang te kry. Toe die swart verpleegster aan die venster klop, trap sy die petrol ’n paar keer diep in voor sy die kar in eerste rat sit.

Die verpleegster bly staan.

Vera draai die venster af en kyk op. “Wat is dit?”

Die vrou buk af. “Ek soek ’n lift dorp toe, asseblief.”

Sy is mooi, vir ’n swart vrou. Maer, met ’n lang nek. Haar gesig lyk soos ’n wit mens s’n. Seker ’n baster. Vera voel die trane kom toe sy weer aan die baba dink, maar sy sluk hulle terug. Toe raak sy kwaad vir die verpleegster. Bleddie cheek.

Die verpleegster se gesig bly strak, haar donker oë stip op haar. Vera kyk vir die vrou langs haar. Dié klou ’n gehawende handsak styf teen haar bors vas, staar voor haar uit asof sy nie ’n woord tussen hulle twee gehoor het nie.

“Ek wil by die OK kom voor hulle toemaak,” sê die verpleegster.

Vera kyk na haar halfoop handsak wat op die agterste sitplek lê. “Ek weet nie, mag jy …”

Die verpleegster frons. “Mag ek wat?”

“Ek’t al klaar iemand in die kar.”

“Ek sal agter sit.”

“My handsak … My man sal nie daarvan hou nie.” Vera se gesig word warm en sy staar na haar kneukels wat al hoe witter raak soos sy stywer om die stuurwiel klou.

Die vrou langs haar kyk vir die eerste keer na hulle kant toe. “Fok Willem, Vera,” sê sy skielik, “dis jou kar.” Sy kyk weer vorentoe. “Gee die arme vrou ’n lift, man.”

Vera laat sak haar kop op haar hande. Dalk sal die ou vrou stilbly as daar iemand anders in die kar is, dalk sal sy dan nie verder hoef te hoor oor Willem en die baba nie.

Sy klim uit, skuif haar sitplek vorentoe en staan eenkant. Dit lyk of die verpleegster glimlag.

“Pasop net my handsak,” sê Vera.

Sy klim terug en trek met ’n vaart weg. Hulle ry in stilte deur die hospitaal se hekke dorp toe.

In die truspieëltjie lyk die verpleegster amper koninklik met haar ken in die lug, haar oë wat buitentoe kyk. Vera wonder hoeveel sy in die hospitaalgang gehoor het.

“Waar bly jy?” vra Vera.

“By die hospitaal. In die hostel.”

“Bly julle almal daar?”

Sy kyk vir Vera in die truspieëltjie. “Jy meen nou die ander swart verpleegsters?”

“Wie anders?” Vera skud haar kop.

Die verpleegster kyk weer by die venster uit. “Meeste van ons bly daar. Maar party bly by hulle mans en kinders in Sheshego-lokasie.”

Sy het ’n mooi stem.

“Is jy ’n regte verpleegster?” vra die ou vrou ná ’n rukkie en kyk met ’n stywe nek agtertoe.

“Ja, mevrou, net soos dié mevrou.” Sy wys met haar kop na Vera toe.

“Kan dit wees?” Die ou vrou kyk vir Vera.

“Ja, selle opleiding.”

Vera wil nie met hulle praat nie. Sy wens hulle wil stilbly. Sy wil van die twee ontslae raak, so gou as moontlik, sy wil alleen wees.

By die eerste verkeerslig net voor die dorp draai sy links op.

“En nou?” Die vrou langs haar klink senuweeagtig. “Gaan jy nie dorp toe nie?”

Vera sê niks.

“Waar gaan jy nou, mevrou?” Die verpleegster leun vorentoe net toe Vera oor die tweede stopstraat ry. Die kar kreun die steilte uit, verby die huise wat diep agter in hulle erwe lê, die lang grasperke wat voor uitstrek tot waar die sypaadjies begin. “Ek moet vyfuur weer by die hospitaal wees, mevrou. Ek moet nog by die OK kom.”

“Ek moet geld by die huis gaan haal,” sê Vera. “Het jy jou pasboek by jou? Ek wil nie in die moeilikheid raak met jou in my kar nie.”

Die verpleegster antwoord nie, sy sit net weer terug en kyk by die venster uit. Haar ken is nog hoër gelig. Vera trap die pedaal dieper in. Sy is bly sy het dit genoem, sy skuld haar niks.

By die huis stop sy voor die dubbelgarage. “Bly sit, ek’s nou terug.”

“Lekker plek, nè?” sê die vrou langs haar. “Kos seker ’n fortuin elke maand, só ’n plek. En dan wil hy niks betaal vir sy eie kind nie.”

“My man betaal ook nie,” kom dit van agter af. Vera en die ou vrou kyk vir mekaar voor hulle omdraai. “Hulle is almal dieselfde, swart en wit, hulle wil net seks, seks, seks en dan, net so, split hulle, vat die pad.” Sy klap haar vingers, kyk nog steeds by die venster uit. “Hoor nie eers of daar ’n baby is nie.”

Die twee kyk weer vorentoe.

“Gee my handsak aan, asseblief,” sê Vera en maak die deur oop. Sy het sigarette nodig. Die dag het nie einde nie.

“Hier, tannie.” Vera druk die note in haar hand. Hulle staan buite Oase se ingang.

“Dankie,” sê die ou vrou. “Jammer oor ek jou by die werk kom pla het.” Sy vroetel aan die rek om haar ken. “Jy’s self ’n ma, ek het gedink jy sal verstaan.”

Die verpleegster maak haar keel hard skoon en toe hulle omkyk na waar sy agter hulle uitgeklim het, groet sy vinnig en stap weg.

“Ek gaan terug Randfontein toe,” sê Vera terwyl sy die verpleegster agterna kyk. “Na my ma toe.”

“Gaan jy hom los?”

“Ek dink so, ja.”

“Ek moet OK toe.” Die ou vrou lyk skielik kriewelrig. “Weet jy wat daai swart verpleegster se naam is?”

Vera skud haar kop.

“Ek’s Magda,” sê die ou vrou en glimlag vir Vera voor sy ook vinnig koers vat.

Vera kyk vir die soveelste keer op haar horlosie. Dit maak nie saak nie, sê sy vir haarself. Dis verby. Hy kan doen wat hy wil, seks hê met wie hy wil. Sy’s klaar met hom. Sy’t besluit. Net daar toe sy voor die ou vrou gestaan en gesê het sy gaan terug Randfontein toe. Niks wat hy doen, traak haar meer nie. Dis verby. As haar hande net wil ophou bewe, haar hart net nie so vinnig wil klop nie.

Sy swaai haar bene van die bed af en sit met haar hande op haar knieë. Dis donker. Oorkant sien sy iemand in die huis beweeg, die staanlamp in die sitkamer brand. Sy staan op, kyk deur die kantgordyne. Hulle het nooit weer ná Maryna se dood gepraat nie. Dis amper drie maande. Wat is daar in elk geval om vir hom te sê? Dat sy seergemaak is omdat sy nie die enigste ander vrou in sy lewe was nie? Dat sy dink hy is ’n liegbek, nes haar man, of dat sy jammer is, jammer dat sy op haar manier skuld dra oor Maryna.

Sy kyk op haar horlosie, outomaties. Moet weer kyk om seker te maak sy het reg gesien. Dis tweeuur in die oggend.

Sy gaan sit weer op die kant van die bed. Haar ma wou vroeër niks weet toe sy haar gebel het nie. Maar sy moes iemand vertel.

“Hy verneuk my, Ma. Weer. Ek kan nie meer so aangaan nie.” Sy kon dit nie uitkry nie, vir haar ma sê daar’s ’n kind ook nie.

“Ek het jou van die begin af gesê hy is moeilikheid, maar jy’t mos nie ore nie.”

Vera was moeg. Sy wou nie stry nie. “Kan Ma nie net met die myn reël vir blyplek nie? Asseblief. Ma het tog nog kontakte daar.”

“Wat van werk? Hoe gaan jy vir jouself sorg? En die kinders?” het sy gesê. “Het jy al daaraan gedink? Daar’s nie werk by die hospitaal nie. Dis vol.”

“Ek sal ander werk kry, Ma.”

“Daar’s altyd Brenda,” het haar ma skielik sagter gesê. “Ek is seker sy’t ’n kamer of twee.”

“Ek’s nie een van Brenda se charity cases nie, Ma. Ek het nog my trots. Ek kan nie sak en pak met die kinders daar aankom nie. Dis nie reg nie. Willem se pa sê ook dinge raak al hoe erger in Johannesburg. Hy sê dis gevaarlik vir die wittes. Ek ken Randfontein.”

“Jy gaan hom in elk geval weer terugvat, Vera, jy weet dit. Dis nie die eerste keer nie.”

“Dis verby, Ma.” Sy het die trane voel kom. “As Pa geleef het, sou hy my gehelp het.”

“Sou hy? Regtig?” Haar ma se stem was koud.

Vera kon nie verder praat nie.

“Selfbejammering kry mens nêrens in die lewe nie, Vera. Jy’t jou eie bed gemaak. Jy kon jou bietjie geleerdheid verder gevat het as jy net jou kop gebruik het, nie geval het vir die eerste, beste man se mooipraatjies nie.”

Toe klink haar ma skielik moeg, moeg vir haar. “Jou pa is dood en ek het my hande vol met jou broer-hulle se nuwe baba. Sanet is sieklik na die geboorte.”

Vera moes die foon toedruk sodat haar ma nie die trane wat weer begin loop het, in haar stem kon hoor nie.

“Hoekom probeer jy nie eers weer kyk of jy jou huwelik kan uitsorteer nie, my kind,” het sy gesê toe Vera lank stilbly. “Gee dit nog ’n rukkie, toe, dan praat ons weer.”

Iemand loop skielik vlak verby die kamervenster buite. Dit voel of al die bloed in haar lyf in haar voete opdam, sy kan nie vorentoe of agtertoe nie. Haar hart klop in haar ore. Toe sy begin loop, is dit stadig die gang af, by die kinders se kamers verby waar die gordyne dig toegetrek is.

Sy gaan staan voor die voordeur, buk af, loer deur die vis-ogie, sien Simon se erf van hoek tot kant, wit in die lig van die maan en die straatlamp. Sy sien die gholfbalposbus wat reg in die middel rond uitbult so duidelik asof dit amper voor die deur staan.

’n Swart gesig doem skielik in die ogie op. Sy gil agter haar hand en gee ’n paar treë terug.

Toe haar asemhaling bedaar, kyk sy weer deur die ogie. Die gholfbalposbus is terug. Als lyk stil.

Toe hoor sy dit. ’n Sagte klop. Dit kom van agter af, die kombuis. Sy draai om, loop stadig op haar tone tot vlak voor die deur tussen die gang en die kombuis en loer om die kosyn. Behalwe vir die maan is die venster bokant die wasbak donker. Weer ’n sagte klop.

“Wie’s daar?” Haar stem is hard.

Sy loop tot voor die wasbak en kyk op haar tone deur die venster. Toe sien sy haar in die buitelig op die trappie sit, ’n swart vrou met ’n kind op haar rug. Vera maak die venster oop, die vrou draai om en kyk op in haar oë.

“Mevrou,” sê sy, die swart verpleegster van vroeër.

Vera skud haar kop, so asof dit die vrou weer op haar regte plek terug sal sit, uit haar lewe, waar sy hoort.

“Wat maak jý hier?” Sy sluit die agterdeur oop en staan eenkant toe. “Kom in!”

Die vrou staan op, loop in en gaan sit skeef op ’n stoel. Vera maak die kombuisdeur toe en gaan staan voor die vrou. Sy lyk vreemd sonder haar wit uniform, meer soos haar soort. Anders as sy.

“Ek’t jou gevra, wat maak jy hier? Ek het my amper doodgeskrik!”

Die vrou lyk bang en haar oë is moeg. “Ek soek plek om te bly vir ’n paar dae, mevrou. Asseblief.” Haar vingers speel met die onderste knoop van die kombers om haar lyf. “Ek’t gehoor die ou mevrou sê jy’t kinders, jy sal verstaan.” Sy kyk vir Vera. “Vandag. Buite voor Oase.”

“Maar my hemel, dis mos nie dieselfde nie!”

Vera loop om die tafel, sit die ketel aan, stoot die deur tussen die gang en die kombuis op ’n skrefie toe. Haar hande klap hard teen haar bobene soos sy voel vir sigarette in haar kamerjassakke voor sy een uitvis en tussen haar lippe vasknyp terwyl sy die laaie een vir een van bo af deurgaan op soek na vuurhoutjies. Sy gaan sit oorkant die vrou, voel haar donker oë op haar toe sy die asbakkie in die middel van die tafel nader trek.

Eers ná sy die eerste diep teug se rook uitblaas, kyk sy vir die vrou. “Wat wil jy hê? Ek’t al die geld wat ek kon vandag vir die ou vrou gegee.”

“Ek soek net plek om te bly vir my kind. Asseblief. My ma het hom van die lokasie af gebring. Ek het nie geweet nie. Sy’s siek. Sy kan nie meer na die baby kyk nie. Ek moet plan maak, mevrou.”

“Jy’s seker mal,” sê Vera. “Jy kan nie hier bly nie. My man moenie eers weet jy was hier nie, in die huis, wat nog te sê van jou kind. Jy weet dis teen die wet. Hulle kan ons almal toesluit.” Sy staan op, sit die ketel af en begin in die kaste rondsoek vir ’n ou beker. “Wil jy ’n koppie tee hê?”

“Asseblief, mevrou.” Dit lyk asof sy trane teen haar mou afvee.

Vera voel die vrou se oë op haar terwyl sy tee maak.

“Ek het my eie probleme,” sê sy sag. Sy sit ’n blikbeker voor die vrou neer. “Ek het drie suikers ingeroer.”

“Dankie.” Die vrou trek die tee nader en vat ’n slukkie.

“My man kan enige tyd terugkom,” sê Vera.

“Ek weet.”

“Jy weet wat?” Vera skuif die ou stompies in die asbak met haar sigaret eenkant toe voordat sy dit dooddruk.

“Ek weet mevrou wag vir hom, heelaand al.”

“En hoe, as ek mag vra, weet jy dit? Loer jy mense af, of wat?”

“Ons is al lankal hier,” sê sy. “Ons het agter die garage gesit.” Sy wys in die rigting van die agterdeur.

“Hoekom kom jy dan nou eers uit?”

“Ek was bang vir jou man, as hy kom en hy sien my en sê die polisie. Ek hoor mense gaan dood in die tronk. Hulle familie sien hulle nooit weer as hulle toegesluit raak nie. Ek is bang, mevrou. Vir my kind.”

“Ag, dis belaglik.” Vera skud haar kop. “Jy oordryf. Dis net as mens onwettige goed aanvang dat jy in die moeilikheid raak. Vra my! Ek sit nou in die moeilikheid oor jou! As hulle jou hier kry, dink hulle ek is kop in een mus met julle.”

Die vrou sê niks.

“Kon jy my van buite af sien?” vra Vera ná ’n rukkie.

Sy knik en vat ’n sluk tee. “Ons het eers geslaap en toe word ek wakker en loop om die huis en sien jou in die kamer.”

Vera vroetel met haar pakkie sigarette in haar sak. Sy kyk terug oor haar skouer sitkamer toe, so asof sy hom al die pad deur alles kan sien: deur die vis-ogie, verby die gholfbalposbus, deur die vis-ogie in sý voordeur, die sitkamer, al die pad slaapkamer toe waar sy langs hom gelê het. Sy kyk weer terug na die vrou en tik hard met haar vinger op die tafel.

“Drink jou tee, julle moet hier uit.”

Vera vat groot slukke, haar keel brand. Die vrou drink stadig, versigtig, met tuitlippe. Sy vat haar tyd.

Toe Vera haar leë koppie neersit, voel sy vir ’n sigaret in haar sak en kyk vir die eerste keer weer na die kind. Sy oë is oop, groot en donker, hy is tjoepstil. Hulle kyk vir mekaar, sy en die swart kleintjie, en sy wonder hoe lank hy al wakker is.

“Ek’t ’n plan,” sê sy skielik en staan op.

Dis stil buite en die klik-klak van haar plakkies slaan in haar ore op en vibreer in haar binneste, al die pad tot by sy voordeur. Hy maak die deur oop voordat sy kan klop.

“Hallo, Vera,” sê hy. Dit lyk of hy wil glimlag, sy oë is sag. “Ek het jou al van jou agterdeur af hoor aankom.”

“Hallo, Simon.” Sy kyk na haar voete en toe weer op na hom. Daar’s ’n pyn in haar bors. Haar bene voel lam. “Klank het die geneigdheid om te trek in die nag.”

Hy sê niks.

“Ek’t gesien jou lig is aan.” Sy wys na sy sitkamer toe. “Ek’t ’n guns nodig.”

“Dié tyd van die nag?”

Sy vryf haar hande, kyk om haar rond. “Daar’s ’n vrou saam met wie ek by die hospitaal werk. Sy’t ’n plek nodig om te bly, vir ’n rukkie. Ek’t gewonder, siende dat jy alleen is … of jy haar nie dalk kan help nie?”

Hy kyk terug die huis in asof iemand anders uit die donker gaan kom en vir hom besluit. Sy kyk vir hom. Hy het maer geword. Sy wens sy kan aan hom vat, hy kan sy arms om haar sit. Sy wens hy lyk nie so ver van haar af al is hy so naby nie.

“Sy’t ’n kind by haar,” sê sy sag.

Hy skud sy kop, lyk skielik paniekerig. “Ek weet nie of ek kans sien vir so iets nie, Vera. Nie nou nie. Vreemde mense in my huis.”

“Hulle kan buite in die buitekamer bly.”

“In die buitekamer?” Hy frons.

Vera wink vir die vrou waar sy onder die boom langs die huis skuil. Sy kom koponderstebo aangedraf, die kleintjie begin te huil.

“Nee, Vera,” sê hy toe hulle nader kom. Sy sien hoe hy skrik. Hy kyk vinnig die straat op en af, tree terug die huis in. “Ek kan nie glo jy sit my in so ’n posisie nie, ná alles.”

Hy maak die deur sag in hulle gesigte toe. Die baba huil harder en sy ma se lyf begin ritmies op die maat van haar susgeluide skud.

Vera kyk na die stil, donker huise rondom hulle. Dit voel asof die ligte skielik oral aangesit gaan word, asof mense gaan uitkom en hulle sien, die polisie gaan bel. Sy draai om en klop. Harder, toe hy nie oopmaak nie. Sy druk haar mond teen die deur, blaas haar asem hard oor die vis-ogie uit. “Hulle’t nêrens nie, Simon. Maak oop. Asseblief. Ek kan hulle nie help nie. Ek het my eie probleme.”

Sy gaan sit op die stoep se trappie. Dis seker hoe Brenda baie keer al moes gevoel het, dink sy. Desperaat. As sy so in die moeilikheid raak vir ander mense, haar met hulle probleme opsaal. Haar ma het haar hoeveel keer al vertel. Hoe goed Brenda is, wat sy alles doen vir haar naaste, veral vir vrouens, maak nie saak of hulle swart of wit of bruin is nie. “Dat my suster nog nie in die tronk sit nie, is ’n wonder,” sê sy altyd. Vera skud haar kop. Sy is nie Brenda nie. Wat dink sy vang sy aan?

Hulle gaan sit op die voordeur se boonste trappie. Die kind is stil. Al drie kyk om toe Simon ’n rukkie later weer die deur oopmaak, ’n skinkbord met koffie en ’n bak beskuit in sy hande, suikerpot en melkbeker met doilies oor. Hy sit die skinkbord op die onderste trappie neer.

“Maryna het nog die beskuit gebak. Ek hoop nie dis al oud nie,” sê hy sag.

“Beskuit hou maande,” sê Vera en vat een. Sy wil huil, sy is so verlig.

Die vrou maak die kleintjie los en hou hom op haar skoot vas. Hy suig hard aan ’n stuk beskuit en kyk vir Simon.

“Suiker?” vra Simon. Vera volg sy oë en sien die vrou vir die eerste keer glimlag. Sy lyk mooi. Hy haal die doilie af en die rooi kraletjies klingel.

“Ek drink nie suiker nie, dankie, meneer,” sê sy. “Ook nie melk nie.”

“My naam is Simon,” sê hy. “Sit die kleintjie op die gras neer, op die kombers, dan kan jy jou koffie drink.”

Sy staan op en met die kind wat styf met sy bene om haar lyf klou, arms om haar nek, gooi sy die kombers oor die gras oop. Die kleintjie se oë bly op Simon. Sy swaai hom af, maak seker hy sit, en kom skuif weer tussen Vera en Simon in. Toe vat sy haar koffie, doop ’n beskuit ’n paar keer voor sy hap.

“Jou vrou kan bak,” sê die vrou ná ’n rukkie, haar oog op die kind.

Simon sê niks, hy roer sy koffie lank terwyl hy die donkerte in kyk.

“Moet ons nie ingaan nie?” vra Vera later. “Die polisie patrolleer partykeer vroeg in die oggend hier in die straat af.”

“Ons sal hulle seker hoor voor hulle ons sien.” Hy leun vorentoe, kyk om die vrou vir Vera en glimlag. “Klank het mos die geneigdheid om te trek in die nag.”

“So hulle kan bly,” sê Vera. Sy kyk oor haar skouer na die bewegings van die vrou in sy spaarkamer. Die lig is aan en deur die gordyne kan mens nie sien sy is swart nie.

Hy sit langs haar op die trappie. “Vir tyd en wyl.”

“Dankie, Simon.”

Later, toe die kind slaap, kom die vrou weer uit, en hoewel hy protesteer, tel sy die skinkbord op en dra dit kombuis toe. Vera kan hoor hoe sy die koppies was en op die draaddroograk neersit. Toe raak dit stil. ’n Toilet spoel, ’n deur trek toe.

Hy skuif tot teenaan Vera en glimlag toe sy vir hom kyk. “Dis koud.” Hy sit sy arm om haar. Sy haal haar skouers op, maar nie so dat hy dink sy wil sy arm afskud nie, en kyk vorentoe, saam met hom, na haar huis oorkant die straat.

Die plek lyk anders so van ver af, nie soos die huis waarin hulle al amper tien maande bly nie. Die binnekant ken sy, maar net sekere dele van die buitekant is vir haar bekend, van party hoeke af. Ander dele is vir haar vreemd, sien sy min of kom sy glad nie by uit nie, soos agter die garage byvoorbeeld. Of waar haar kinders deur die draadheining van die buurman skuins agter hulle kruip om in sy swembad te swem wanneer hy nie daar is nie. Sy wonder skielik hoeveel mense ooit stop en ’n paar treë terug gee, sover gaan as om oorkant die straat te gaan staan en kyk vir hulle huise soos sý nou vir hare kyk: die lae, golwende betonmuurtjie, die Spaansestyl-voordeur wat die lang siersteenhuis in twee ongelyke dele deel: links die sit- en eetkamers met hulle groot vensters, drie baksteenlengtes bo en onder, en regs die drie slaapkamers in ’n ry. Eerste Lien en Ben s’n. Hulle vensters is toe, die oranje gordyne dig. Die twee slaap altyd vas. Dan is dit Dawid se slaapkamer. Die een venster met die diefwering voor is oop. Hy raak nog wakker in die nag, sy sal hom hoor van hier af. Langsaan is die hoofslaapkamer: sy kan die dubbelbed vaagweg in die maanlig sien deur die kantgordyne, selfs hoe haar lyf die beddegoed in die nag deurmekaargedraai en op ’n bondel aan die voetenent gelos het. Sy wonder of hy vir haar kyk, partykeer, hier van sy voorstoepie af.

Lien sit op haar hurke in haar ma-hulle se kamer en loer deur die kantgordyne. Die man oorkant die straat het sy arm om haar ma se skouer. Lien se bene raak lam en sy gaan sit. Sy het die swart vrou se kind gesien piekniek hou op die gras op hulle kombers netnou. Dit het lekker gelyk, al is dit nag. Haar ma lyk nie meer soos sy gelyk het toe sy die man in die gang gesoen het nie. Lien kan haar gesig sien, maak nie saak dat dit ver is nie. Haar ma frons en haar lippe lyk soos ’n lang swart streep wat oor haar mond getrek is. En dit lyk of sy koud kry, of sy gevries het, sy sit so stil. Toe sy dink haar ma kyk vir haar, kruip Lien agteruit en loop saggies terug na haar en Ben se kamer toe.

Sy klim in die bed en skrik toe hy praat.

“Waar was jy?”

“Nêrens.”

“Waar’s Ma?”

“Sy slaap.”

“Jy jok.”

Sy sê niks en rek onder die bed in om haar boekie en potlood by te kom. “Slaap nou,” sê sy.

Later kyk sy na die prentjie wat sy geteken het van al die mense wat buite piekniek hou. Sy het haar ma se gesig dié keer reggekry, die lang swart streep vir haar mond was maklik, maar die gesig van die man langs haar ma het sy met spoeg op haar vinger stukkend gevee. Sy het nie eers probeer om hom te teken nie. Sy het haar pa en Ben en Dawid ook geteken, hulle sit in die middel van die kombers. Die swart vrou en haar kind sit op die gras langs haar ma en die man, ver weg, hulle velle het sy hard ingekleur. Dit lyk donkergrys en blink en die bladsy is ingeduik, sy het so hard op hulle gesigte gedruk. Sy’t vergeet om vir hulle oë en monde te teken. Hulle lyk vir haar lelik en sy gooi die boekie weer onder die bed in.

Toe onthou sy sy is nie in die prentjie nie. Sy buk af en haal die boekie weer uit en teken haarself waar sy bokant almal vlieg. Haar nuwe wit sykouse met hulle wit blommetjies en wit blaartjies op wat haar ma vir haar gekoop het, is oor haar arms getrek. Die sykouse is vir haar so mooi, sy is seker mens kan daarmee vlieg.

“Ek weet van die ander vrou,” sê Vera skielik. “Jou buurvrou.” Sy skud Simon se arm om haar skouer af.

Hy kyk nie vir haar nie. Sy vryf oor haar dye.

“Ek’t gehoop jy gaan sê dis net ’n skinderstorie. Dat dit net ek was.”

Dit klink asof hy inasem, iets wil sê. Sy kan hoor hy kyk op, nie vir haar nie, sy oë is seker op die strale van die son wat haar huis se dak ’n sagte pienk begin te kleur, maar sy hou aan afkyk, soek nie sy oë nie, bestudeer haar toonnaels, druk haar ken dieper af in die leegte tussen die knope van haar kamerjas wat styf oor haar knieë span. Sy voel haar hart teen haar bobene klop, trek haar tone op en laat hulle een vir een terugklap teen haar plakkies.

So sit hulle tot sy die Volkswagen van die dorp se kant af teen die bult uit hoor dreun. Toe hulle al twee gelyktydig opstaan, voel sy die skielike koue teen haar skouer aftrek grond toe. Sy kyk vir hom, hy kyk vir die pad.

“Hy was nog nooit só laat nie,” sê sy. “Of so vroeg nie.” Sy stap die trappies af. Voor op die sypaadjie staan sy stil en trek haar kamerjas stywer om haar lyf vas. Die Volkswagen ry stadiger, verander na ’n laer rat en sy weet hy is amper by die hoek van die straat.

“Hy’s jou nie werd nie, Vera,” sê hy.

Sy kyk om. “En jy is?”

“Ek’t nie so gesê nie.”

Sy sê niks.

“Alles verander,” sê hy. “Partykeer is dit nie ’n slegte ding nie.” Hy draai om, stap in en trek die deur agter hom toe.

Sy is by die huis se agterdeur in net toe die Volkswagen in die oprit indraai. Hy sit nie die enjin soos gewoonlik af om die laaste entjie tot voor die garage in te sluip nie. Hy trap die petrol een keer diep in, net voor hy die kar afsit, soos ’n tiener wat nog nie genoeg van sy joyride gehad het nie, wat nie bang is vir sy pa wat vir hom in die kombuis wag nie. Seker van homself.

Sy gooi water in die ketel en sien deur die venster die ligte teen die garagedeur skyn. Van waar sy by die kombuistafel gaan sit het, kan sy hom in die sagte lig deur die oop agterdeur op die sementpaadjie sien aangeloop kom.

Dit is ’n goeie posisie om in te wees, dink sy terwyl sy vir hom kyk. Jy sien altyd die waarheid in mense raak wanneer hulle dink niemand kyk nie. Hy loop koponderstebo. Sy lang kuif swaai heen en weer soos hy sy bene vorentoe gooi, los, so uit sy heupe, amper pronkerig, voor hy die lang blonde hare met sy vingers uit sy gesig trek en opkyk, in haar oë vas, en sy, vir ’n sekonde, voor hy besef wat aangaan, die geluksaligheid op sy gesig sien.

Die bogger, dink sy, toe sy sien hoe sy glimlag vries, hoe die lig in sy blou oë verdof en hy huiwer, soos ’n hings wat in die bek geruk word.

Sy staan op toe hy die kombuis inloop en sit die ketel af. Met haar rug na hom begin sy die knope van haar kamerjas losmaak.

“Vera …”

Sy draai om, die kamerjas val grond toe. Sy trek haar nagrok oor haar skouers, laat val dit langs haar.

“Wat maak jy?” sê hy en kyk haar kaal lyf op en af asof hy dit vir die eerste keer sien.

“Wat dink jy?”

“Het jy dan geen skaamte nie?”

“Ek is jou vrou.”

Hy kyk af, skud sy kop. “Ek’s jammer.”

Sy voel hoe haar tepels regop staan in die koue van die oggendlug deur die oop agterdeur, die hoendervleis op haar bene.

“Ek weet wat aangaan, Willem. Jy wil skei.” Haar tande begin skielik op mekaar te klap. “Ek wil ook skei. Ek weet van jou kind.”

Sy sien hy skrik. Sy stap nader en druk haar bewende hand oor sy mond, begin sy belt los te maak.

“Nee, Vera,” sê hy en stoot haar weg. “Dis genoeg. Ek het beginsels.”

Sy begin lag, en toe sy sien hoe verbaas hy is, lag sy nog harder, sy sit haar hand voor haar mond om te probeer keer, maar sy kan nie. Dit voel asof haar lyf saam lag, soos ’n ou mens met ritteltit. Sy kan sien hy dink sy is nou finaal van haar trollie af toe hy haar kamerjas optel en oor haar skouers probeer trek. Dit laat haar nog harder lag.

“Kom,” sê hy sag en vat haar om haar skouers. “Kom lê. Jy gaan die kinders wakker maak as jy so aangaan.”

Waar die trane vandaan kom, weet sy nie. Willem het die kinders skool toe gevat, die matrone gebel en gesê sy kom nie vandag in nie. Hy het haar gedwing om van sy pille te drink, dokter Beukes gebel, en toe nog twee ingegee. “Slaap bietjie,” het hy sag gesê ná sy dit afgesluk het. Hy’t haar hare uit haar gesig gevee en opgestaan. Sy vingers was warm. Toe moes sy ingesluimer het, en nou vee sy daar waar hy geraak het en die trane loop en maak die kussing nat sonder dat sy ’n spier in haar gesig roer.

Van waar sy lê, sien sy dis stil oorkant die straat. Alles lyk dig toe. Sy lig haar kop, spits haar ore. Verbeel sy haar of hoor sy ’n kind huil? Sy laat val haar kop terug teen die kussing, lig dit dadelik weer, draai die nat, koue kussing om, lê weer terug en maak haar oë toe.

* * *

“Sy’t heeltemal uitgehaak, Poppie,” sê Willem sag en loer oor sy skouer kamer toe. Die deur is op ’n skrefie getrek.

“Sy weet … nee, dis nie oor ek haar gesê het nie, sy’t self … ” Hy gaan sit op sy hurke, rug teen die muur.

“Ek moet seker maak sy’s orraait voor ek enige moves maak, sy’s kapabel en sê ek moet die kinders vat.”

Hy dink hy hoor iets en staan op. “Ons praat later.”

Hy loop op sy tone kamer toe, luister by die skrefie. Klink stil. In die kombuis haal hy die laaste bier uit die leë yskas en soek sy sigarette in sy hempsak. Hy gaan sit op die trappie by die kombuisdeur en steek ’n sigaret op. Dis halfvier. Hy moet onthou om die kinders netnou te gaan haal. En kos te koop; dit is nou ook sy probleem.

Hy kyk hoe die wit, dynserige sigaretrook voor hom in die lug op trek. Hy voel beter. Daar’s nou nie meer omdraai nie. Hy het geskrik toe Vera hom sê sy weet van die kind, maar nou is hy amper verlig. Dit maak dinge makliker, hy is nie lus vir ’n uitgerekte bakleiery nie. Sy wil ook skei.

Hy bekyk die droë agtertuin. Sy oë volg die lyn van die buitekamerdak, op na die donserige wolkie wat reg bokant in die lug hang. Hy dink skielik aan Poppie, en gisteraand. Dit het baie vir haar beteken. Sy’t nou wel nie so gesê nie, maar hy weet – sy’t hom alles gegee. Hy glimlag voor hy ’n sluk bier vat en weer aan sy sigaret trek. Hy kon haar nie net so alleen in die hotelkamer los nie, veral nie nadat hy so ampertjies alles opgeneuk het nie. Dit was so hittete of dinge het sleg uitgedraai.

Eers kon hy nie wag om die spul krulle op haar kop los te torring nie, kon dit sien wanneer hy sy oë toemaak: swart lokke wat sag oor haar spierwit skouers bons, oor haar kaal borsies, haar pienk tepels.

Sy het in haar deurskynende kamerjas uit die badkamer geloop, voor die spieëlkas gaan staan, haar rug na hom toe terwyl hy vir haar op die bed gelê en kyk het. Sy het met geoefende vingers knippies uit die korf getrek en die pruik afgehaal, en op die kas neergesit. Sy’t haar kop vooroor gegooi, haar vingers ’n paar keer deur haar yl skouerlengte hare getrek, regop gestaan en omgedraai na hom toe. Al haar make-up was af en vir die eerste keer vandat hy kan onthou, het hy gerek om die bedlampie langs hom af te sit en was dit ’n gesukkel om sy ereksie weer aan die gang te kry.

“Hoe voel jy, Willem?” wou sy later weet.

In die donker kon hy sien haar bruin oë was stip op hom, haar lippe dun en wit sonder haar rooi lipstiffie, en hy moes homself herinner dat hy langs die vrou lê op wie hy verlief is, met wie hy gaan trou.

“Goed, Poppie, ek voel goed,” het hy gesê en sy oë toegemaak. ’n Rukkie later het hy haar lang bene weer onder die laken oopgetrek. Dié keer was daar nie probleme nie.

Toe hy nog ’n keer oor die grasperk voor hom kyk, sien hy iets kleins langs die garage lê, helder geel. Dalk ’n stukkie speelgoed? Hy skiet sy stompie links oor die gras, tel sy bier op en stap soontoe. Die babaskoentjie is voos. Hy bekyk die ding van alle kante af. Dis te klein om een van sy kinders s’n te wees. Hy kyk rond. Snaaks, daar is nie ander kinders in die buurt nie, nie sover hy weet nie. Hy sal by Vera hoor.

Vera. Hy kyk op sy horlosie, sluk die laaste van sy bier af en volg die kronkelende sementpaadjie met ’n drafstap die agterdeur in. Hy gooi die skoentjie in die asblik.

“Mamma slaap nog,” sê hy en kyk in die truspieëltjie na sy drie kinders, styf ingeryg op die Volkswagen se agterste sitplek. Lien sit soos gewoonlik langs die venster, Ben aan die ander kant met klein Dawid in die middel, sy ronde gesiggie wat uitdrukkingloos vorentoe kyk.

Oor ’n paar dinge stem hy en Vera saam en is hy haar dankbaar, hoewel hy dit nie vir haar sal sê nie. Dié dat sy nooit gedink het dis nodig om die kinders Sondae kerk toe te stuur nie – sy sê sy het ’n oordosis daarvan gekry toe sy ’n kind was en die NG Kerk soek in elk geval net mens se geld. En dat sy nie erg was oor familiename vir die kinders nie, behalwe natuurlik vir Dawid. Maar dan is sy naam ook kort, nes die ander twee s’n.

“Dis ’n onnodige las wat mens saamdra, ander mense se name,” het sy gesê toe Lien gebore is. En hy het saamgestem. Hy wat self swaar dra aan die naam van sy oupa, ’n beesboer wie se skoene hy volgens sy pa nooit sal kan volstaan nie. En hy kon Vera die skuld gee sonder om sleg te voel, haar heidense maniere blameer, toe sy ouers kla oor die kinders se volksvreemde name.

“Waar het jy gehoor mens noem jou kind Lien? Waarvoor staan dit, Willem? Lien klink soos ’n bynaam, nie soos ’n volwaardige noemnaam nie,” het sy ma eers gesê.

En toe Vera aandring op Ben, nadat hy gebore is, net omdat dit vir haar sterk klink, was sy pa die ontstigte een. Dit was sy eerste kleinseun. “Ek ken niemand met die naam Benjamin nie. Dis ’n Kakie-naam, sover ek weet.”

Met Dawid se geboorte, kort ná Vera se pa dood is, het sy ouers niks gesê toe sy hom na haar pa wou noem nie. Hy dink hulle was maar te bly sy het iets tradisioneels gedoen, iets wat vir hulle sin gemaak het. Hy self het gedink dis vreemd dat sy hom Dawid wou noem. Sy wat nooit met haar pa oor die weg gekom nie – inteendeel, hy het altyd gedink sy kon hom nie verdra nie. Hy sal seker nooit verstaan hoe haar kop werk nie.

“Oupa kom julle netnou vir die naweek haal,” sê hy en kyk vir hulle in die spieëltjie.

“Gaan ons nie visvang nie, Pappa?” vra Ben.

“Die dam is toegemaak vir die naweek, seun.” Hy wil nie vir die kind lieg nie, maar eerder dít as om hom te sê sy ouers staan op skei. Hy is so sensitief, die outjie.

“Hoekom is die dam toe?” vra Lien.

Hy is bly sy kan nie sy gesig sien nie. “Hulle maak die dam skoon, Lien.” Hy probeer om nie kortaf te klink nie, dit maak haar gewoonlik net meer knaend oor ’n ding. Sy bly stil en hy is verlig, kry dit selfs reg om vir haar in die spieëltjie te knipoog, maar sy kyk nie vir hom nie.

“Jannie sê hy en sy pa gaan die naweek visvang,” sê sy.

“Seker by die Ebenaeser-dam,” sê hy.

“Nee. Hy’t gesê by die dorp se dam.”

“Lien. Asseblief. Los dit. Hulle maak die dam die naweek skoon, ek het netnou daar verbygery.”

Sy kyk nou vir hom, hy sien haar donker oë vlugtig in die spieëltjie voor hy vorentoe kyk. Hoekom kon sy nie mooi gewees het nie? Of net ten minste stil? Dis oor Vera haar nie genoeg aandag gee nie, die kind het nie ’n voorbeeld van hoe om te wees nie, sy ken nie haar plek nie. Hy sien swarigheid vir haar. Sy en Poppie sal nie oor die weg kom nie.

Die seuns is stil. Hy steek sy arm agtertoe en kielie Dawid se been. Hy voel die vet beentjie onder sy vingers wegswaai. Nog so klein en al klaar so vol kak.

Hy kyk weer in die truspieëltjie na die drie wat op ’n manier te oud lyk vir hulle jare, te ernstig, en skud sy kop voor hy vrolik “Jan Pierewiet” begin te fluit.

“Die kinders is weg, Vera,” sê hy sag. Hy gaan sit op sy kant van die bed. Haar rug is na hom toe gedraai. “My pa’t hulle kom haal. Hy stuur groete.”

Hy kyk venster toe, dit begin skemer raak. Sy lê al lank. Hy het Poppie belowe dié naweek sorteer hy alles uit.

Sy draai skielik om na hom toe, haar oë so wawyd oop en donker dat hy skrik.

“Naand,” sê sy en glimlag, “ek het lank geslaap, lyk my.”

“Jy het ja.” Hy vee oor haar hare. Dit voel sag. Hy trek sy hand vinnig weg. “Hoe voel jy?”

“Oukei.” Sy sit regop.

Hy druk die kussing agter haar rug in, rek om die bedlampie aan te sit.

“Nee, los,” sê sy. “Ek’s nie lus vir die lig nie.”

Sy tel die laken van haar bors af op en kyk af oor haar lyf.

“Ek’t jou aangetrek.” In die sagte lig lyk sy vir hom jonk, soos jare gelede.

“Ek en die kinders trek volgende week terug Randfontein toe,” sê sy.

Hy sê niks.

“Wat’s haar naam?” Haar oë is op iets buite die venster.

“Poppie.”

“En jou kind se naam?”

“Michael.”

“Weet sy van hom, jou nuwe girlfriend, weet sy jy het nóg ’n kind, by ’n ander vrou?” Sy kyk vir hom.

“Nee.”

“Poppie,” sê sy sag, asof sy met haarself praat.

Sy sit skielik regop, dit lyk asof sy iets sien. Hy probeer deur die kantgordyne kyk, verbeel hom hy sien ’n swart vrou en ’n baba. Hy skud sy kop, kan nie wees nie. Sy oë is terug op Vera, wat bleek lyk toe sy teen die kussing terugsak, amper asof sy ’n spook gesien het. Sy maak haar oë toe. Sy’s beslis nie lekker nie.

Hy staan op en vat aan haar skouer. “Ek gaan maak vir jou tee.”

Split

Подняться наверх