Читать книгу Split - Debbie Loots - Страница 8

2

Оглавление

Willem glimlag vir homself in die spieël. Marie wag in die parkeerarea oorkant die Griek se kafee. Hulle het gister die tyd afgespreek toe hy haar van die tiekieboks voor die biblioteek af gebel het.

Hy trek sy vingers deur sy kuif en tik liggies met sy vingerpunte oor sy wange. So ’n titsel van sy nuwe aftershave sou nou net die ding gewees het, maar Vera sal snuf in die neus kry; dis Saterdagoggend en hy het gesê hy gaan net gou kafee toe.

In die gang tel hy die karsleutels van die halfmaantafel af op en knipoog vir homself in die spieël.

Lien kom in die gang af gehardloop, haar plakkies en trui in die hand.

“Gaan ons kafee toe?” vra sy.

Sy probeer sy hand vat, maar hy lig sy arm. Hy kyk oor sy skouer kombuis toe.

“Jy kan nie vandag saam nie, ek’t ander goed in die dorp om te doen,” sê hy sag en hurk af. Hy kyk haar in die oë. “Ek sal vir jou ietsie saambring, ek belowe.”

“Ek wil nie ietsie hê nie.” Sy praat hard. “Ek wil saamkom. Ek kom altyd saam.”

“Wat nou?” Vera kyk om die kombuisdeur, voorskoot om haar lyf. Sy kou iets. “Huil jy, Lien?”

“Pappa sê ek kan nie saam kafee toe gaan nie.” Sy snuif.

Vera frons. “Willem?”

“Oukei dan,” sê hy en staan op. Hy druk sy beursie in sy broeksak en vat die kind se hand.

Toe hy wegtrek, staan Lien soos altyd op die passasiersitplek. Sy wikkel ’n los tand langs die rooi stukkie tandvleis waar haar voortande eers was, heen en weer. Haar mond is wyd oopgerek teen die truspieëltjie, en haar sweterige voete trap sy Volkswagen se wit leersitplek vuil. Hy moet homself inhou om haar nie aan die arm te gryp en plat te druk nie. Ná ’n rukkie leun sy teen die sitplek terug. Toe hulle by die stopstraat stilhou, kyk sy vir hom. Hy weet sy wil hê hy moet sy arm uitsteek en haar teen die leuning vasdruk wanneer hy links opdraai kafee toe, soos hy altyd doen. Sy gaan lank wag, dink hy, en verbeel hom hy trap die briek so hard dat sy deur die venster skiet, oor die kar se neus trek en onder die wiele beland.

Hy trek stadig weg. Hy sal ’n plan moet maak, en gou.

Die eerste keer dat hy met haar praat, is toe hulle voor die kafee stop. “Wag hier, Lien,” sê hy en rek om haar kant se venster bietjie oop te draai. Hy sluit die deur. “Ek sal nie lank wees nie. Moenie uitklim nie en moet met niemand praat nie, oukei? Los jou venster net so.”

Voor sy iets kan sê, is hy uit en drafstap hy oor die pad. Hy kyk vinnig om en sien hoe klouter sy oor bestuurderskant toe. Met haar neus teen die venster kyk sy vir hom. Haar mond is oop en sy druk haar sweterige hande teen die ruit vas. Hy herken haar amper nie, die kind met die kort, wilde boskaas, platgedrukte neus en wye oë. Vera kyk nie behoorlik na haar nie, dink hy, sy lyk verwaarloos, haar hande en voete is alewig vuil. Vera moet haar hare bietjie laat groei sodat sy meer soos ’n meisie lyk. Sy praat met hom, so deur die toe venster. Hy sien haar mond oop en toe gaan, nes ’n vis s’n. Sy noem hom op sy naam, soos sy partykeer maak om sy aandag te kry, maar hy kan niks hoor nie. Hy kyk nie weer vir haar voor hy langs Marie ingeklim het en hulle verby haar ry nie.

“Is daai nie jou kind in die kar nie?” vra Marie toe hulle ’n entjie verby is.

“Moenie worry nie.” Hy stoot sy hand onder haar romp tussen haar bene in op. Haar sykouse is glad en hy sukkel om vatplek te kry. “Sy sal oukei wees. Ons het tyd.”

“Sy lyk nie baie happy nie.” Marie druk sy hand met haar knie weg en haar hoëhakskoen trap die petrolpedaal dieper in. Hy bly stil.

“Dis warm vandag,” sê sy. “My ma sê dis agt-en-twintig.”

Sy vee ’n paar keer onder haar neus en snuif hard. Willem sak teen die sitplek af. Die huise flits verby terwyl sy praat. Aan die begin het hy probeer luister, gemaak asof hy hoor wat sy sê, asof wat uit haar mond kom vir hom saak maak, maar hy doen dit nie meer nie. Hy dink nie sy kom agter nie. Sy hou net aan. Partykeer pla dit hom nie, hy sny uit, ander kere wens hy sy wil stilbly. Soos nou. Hy is senuweeagtig vandag. Haar pratery irriteer hom meer as gewoonlik. Hy kyk vir haar, sy oë eers op haar borste in die stywe rooi bloes, toe op haar kort rompie. Hy voel weer teen haar binnebeen op en af en probeer die sagte vleis knyp.

“Moenie vir jou stuitig hou nie, Willem.” Sy lag.

Toe sy voor die huis se garage stop, kyk hy vinnig op sy horlosie en toe agter om haar verby. Die plek se geute is afgedop en hy sien die tuin kort water. ’n Storie oor sy wat by haar ma bly en haar pa wat ’n ruk terug dood is, flits deur sy kop.

Hy kyk weer vir haar. Sy leun nou terug teen die venster. Haar boarms is tegelykertyd styf en sag, hy kan die halfmaan-sweetkolletjies op die bloes onder haar arms sien. Hy kyk van haar borste af op in haar blou oë, na die swart strepe wat oor haar ooglede getrek is, haar vol lippe. Hy leun nader.

“Nie in die kar nie, wag,” sê sy.

Hy druk sy hand agter haar rug in en maak die deur oop. Sy gil. Hulle tuimel op die gras uit, hy beland bo-op haar en druk sy ereksie hard tussen haar bene op. Hy hou sy hand oor haar mond. “Sjjj. Die bure.” Hy wens hy was nie so op sy bleddie senuwees nie.

Sy kyk rond. “Jy kan bly wees dis Saterdag, almal is dorp toe,” sê sy tussen sy vingers deur voor sy hulle saggies begin te byt. Hy maak sy oë toe en probeer ontspan.

Toe hy weer kyk, het sy die boonste knoop van haar bloes oop en haar bra is afgeskuif sodat die donkerpienk van haar tepels wys. Hy kreun en druk sy gesig in haar sagte borste in. Sy lag.

“Kom ons gaan in,” sê sy en wikkel onder hom uit.

Lien sukkel om regop te bly, haar knieë gly oor die sitplek terwyl sy deur die kar se venster kyk. Dis glibberig van haar voete se sweet en sy kan die korreltjies van die sandhoop waarop sy gespeel het teen haar vel voel skuur. Dis seer. Sy hou aan die briekhandvatsel vas, tussen die twee sitplekke, om nie om te val nie en skryf haar naam met spoeg teen die venster. Haar oupa het haar geleer om haar naam te skryf nog voor sy skool toe is. Hy sê sy is slim. Haar pa sê vir haar oupa hy moenie sy tyd mors met haar nie. Maar dan sê haar oupa sy moes haar ma se breins gekry het, want haar pa sê sulke simpel goed.

Sy sien haar nael is vuil van die sand en sy byt hom kort af en spoeg hom uit voor sy die sweet aan haar gesig teen haar mou afvee. Sy wens sy mag haar venster heeltemal oopmaak.

’n Meisie met vlegsels en groen strikke in haar hare loop by die kafee uit. Sy lek al om ’n roomys-cone. Dit lyk lekker. ’n Man hou haar hand vas. Lien is dors. Toe hulle ’n entjie verder is, kyk die meisie om en glimlag toe sy vir Lien sien. Lien steek vir haar tong uit en trek haar gesig op haar lelikste. Sy wil sien of sy die meisie kan laat huil soos sy en haar boetie Ben hulle klein boetie Dawid laat huil as hulle lelike gesigte trek. Hulle doen dit want dan kom haar ma in die kamer in en sy kan sien hoe hulle probeer om hom te troos. Lien maak dan sj-sj-sj en klap saggies aan sy doek met haar hand deur die kot se relings. Hy’s al meer as twee en hy’s ’n regte sissie. Hy dra nog doek en toe hy een aand van sy bed afval, toe sit haar ma hom weer terug in die ou kot. Haar ma sê sulke tye Lien en Ben is soet kinders en noem Lien haar regterhand. Partykeer gee sy haar ’n soentjie op haar voorkop voor sy weer uitloop. Maar toe eendag vang sy vir Lien en Ben net toe hulle haar boetie wakker maak en vir hom lelike gesigte trek, en toe gee sy hulle hard pak met haar plakkie. Nou moet hulle buite speel en roep haar ma hulle net in om te kom eet. Haar maatjie langsaan sê haar ma sê sy mag nie meer met Lien speel nie, ook nie by haar nuwe skool nie, want Lien speel te rof. Sy is in Lien se klas. Sy sê haar ma sê Lien lyk soos ’n weeskind wat ’n wind gesluk het met haar maer bruin bene en kort wit hare. By die skool speel niemand met haar nie. Die juffrou sê Lien moet vir haar ma sê om haar elmboë te skrop, sy soek nie vuil kinders in haar klas nie.

Die meisie met die groen strikke trek haar pa se hand en wys met haar roomys na Lien toe. Lien skrik en gly teen die sitplek af en gaan sit op die vloer met haar kop op haar arms. Sy kyk nie toe iemand teen die venster klop nie, maar sy kan deur die oop skrefie hoor wat die man sê toe hy wegloop. “Kom, Veronique,” sê hy, “aan sulke klas mense is daar nie salf te smeer nie.”

Lien wens haar naam was Veronique.

“Jirre, Lien, hoekom lê jy op die warm trui?” Willem maak die vensters oop en vee die kind se vuil handmerke aan die binnekant van die voorruit met sy mou af.

“Ek het ietsie vir jou!” sê hy toe sy nie antwoord nie. Hy haal ’n boksie Toff-o-Luxe uit die vol papiersak in sy arms. “Hoekom is jou gesig so rooi? Ek was nie só lank weg nie, jy’t seker maar aan die slaap geraak, nè?” Hy wink haar nader. “Kom, staan bietjie hier langs my.”

Sy klouter op die sitplek.

“Ek gaan een van die dae my eie besigheid begin,” sê hy terwyl hy in die truspieëltjie kyk en wegtrek. Hy vee oor sy hare. “’n Spares shop.”

Hy druk haar met sy arm teen die sitplek vas toe hulle opdraai in die straat huis toe.

Sy bly stil, sê niks. Sy doen dit partykeer, sommer net om moedswillig te wees. Hy weet nie of sy iets vir Vera gaan sê nie, en of hy dalk gou ’n storie moet uitdink nie. Nee wat, dink hy, wat weet ’n sewejarige kind tog nou? Hy sal die kans moet vat.

Toe hulle by die huis stop, hardloop Lien reguit kombuis toe. Willem loop vinnig met die papiersak melk en brood agterna.

Vera se wange is rooi van die oond se hitte en haar lang swart hare plak teen die kante van haar gesig vas. Sy kyk nie vir hom nie, sit die rak vol koekies wat sy uit die oond gehaal het op die ingeboude tafel neer, gooi die oondhandskoene op die vloer en stap die gang af kamer toe, hy agterna.

Hy probeer alles, maar niks help nie.

“Jy lieg, Willem!” snou sy hom toe. Hy kyk na die trane wat oor haar wange loop, haar opgeswelde oë. Haar neus is rooi. Sy het nog nooit vir hom so lelik gelyk nie.

* * *

Hulle bly nou in Suidstraat. Willem sê dis in een van Pietersburg se beste buurte. Hy sê om te trek is soos om oor te begin. Vera wens hulle kon liewer terug Randfontein toe, as hulle dan nou moet trek om oor te begin. Terug huis toe.

Daar’s ’n gevoel wat oor haar kom wanneer sy in die oggende in Randfontein wakker word wat sy weet sy nooit in Pietersburg sal kry nie. Die Nola- en Black Cat-grondboontjiebotterfabrieke se soetsout en stowwerige graanreuke, hulle veraf gedreun wat haar altyd so van vieruur af saam met die voëltjies wakker gemaak het, is iets waarmee sy grootgeword het. En Robin Alexander se stem wanneer haar ma die draadloos in die oggende sag in die kombuis aangesit het. Dit was gewoonlik nog donker dan en dit het beteken haar pa is uit myn toe.

Wanneer sy die radio hoor aankliek, het sy haar kamerjas en slippers aangetrek en by die kombuistafel onder die helder buislig gaan sit en tee drink saam met haar ma. Hulle het nie gepraat nie, net geluister na Robin Alexander. Net elke nou en dan vir mekaar gekyk en geglimlag as hy iets snaaks sê. Hy het ’n manier van praat wat Vera gelukkig laat voel het, maak nie saak hoe donker die nuwe dag deur die kombuisvenster vir haar gelyk het nie, dwarsdeur haar kinderjare.

Pietersburg, aan die ander kant, is warm, en die sonbesies in die doringbome skree al van vroeg af so skril dat dit voel asof sy gaan mal raak. Die mense dink die dorp se jakarandabome met hulle pers blomme wat al langs die breë strate van die bodorp skaduwees oor die pad gooi, is mooi. Meeste van hulle plant oranje, rooi of geel kannas in rye teen hulle garages af, of voor die draadheinings aan weerskante van hulle hekkies, dit lyk nes klein mielieplantasies, en hulle dink dis mooi. Sy dink nie so nie. Die lug hier is te helder vir haar, te skoon. Dit laat alles rondom uitspattig lyk. Sy vererg haar partykeer. Dis soos ’n swart gesig wat ewe skielik in die dorp voor jou opdoem, tussen al die wittes. Mens skrik jouself op die plek kwaad. Jy voel amper beledig. Dis die vreemdheid van goed, dink sy, wat haar die meeste ontsenu.

In Randfontein is dinge eenvoudig. Alles voel vir haar wit en swart daar. Of grys, dit hang af van watse kant die wind die dag oor die mynhope waai. In Homelake veral, die uitbreiding waar hulle in die groot mynhuis langs die brug gebly het, is baie erwe leeg, partykeer staan net ’n klompie vaalgroen bloekombome in ’n leë plot se hoek, agter teen ’n draad. Sy dink dit gee die huise rondom spasie om asem te haal.

Sy mis Randfontein. Maar Willem wil niks weet nie.

“Ons het mos al probeer, Vera,” het hy gesê toe sy hom nou die oggend weer por, ná sy die vorige week gedreig het om haar goed te pak en die kinders te vat oor die ding met die vrou haar nog steeds woedend maak, en hy haar soos altyd sag gemaak het met sy mooi praatjies. “Ek hoort nie bo op die Wesrand nie. Die sales-ouens daar ken my nie goed genoeg nie, dit vat lank vir hulle om mens te vertrou.”

Hy’s hier gebore, het hy later die aand ná ’n paar biere gesê en begin aangaan soos hy altyd aangaan, of sy nou wil hoor of nie. Oor die plaas wat sy ouers verloor het, waarvan hulle verwilder is deur die volk wat heeltyd gemor het oor geld, altyd meer wou hê, nóg. Die beeste wat hulle afgeslag en partykeer nog half lewend aan die heinings rondom die huis vasgemaak het om sy ouers skrik op die lyf te jaag.

“My ma het nou nog nagmerries van die gebulk, Vera. Hulle is later soos sleg kaffers van hulle plaas af, gedros,” het hy gesê. “Skaars klere aan hulle lywe gehad. En wat’s oor van die plaas? Boggerol. Als geplunder en afgebrand. Daar’s niks. En waar’s hulle nou? Waar’s my pa nou?” Sy weet. “In die dorp. Twee bleddie dorpsjapies. Jissis.” Hy het sy kop geskud, opgestaan en die laaste van sy bier afgesluk. “En hulle dink dis my skuld, hulle sê dit nooit nie, maar ek weet wat hulle dink. Ek kan sien in my pa se oë, as hy die dag vir my kyk.”

Dié aand, die aand toe sy gedreig het om te loop, het hy bygesê, reguit in haar oë gekyk met sy bloues: “Ek kén dit hier, Vera, die Noord-Transvaal is in my bloed, Pietersburg is my dorp. My pa-hulle sal nie oorleef as ek hulle alleen hier los nie. Nie weer nie. Asseblief.”

En al het sy geweet hy het te veel gedrink, dat dit voel asof sy teen haar sin iets van haarself vir hom gee, wat weet sy nie, maar iets, het sy ingestem. Want hy’t die aand vir haar gekyk met ’n soort sagtheid wat sy net op sy gesig gesien het as hy partykeer vir Ben of Dawid optel. Amper soos die eerste kere toe hulle net ontmoet het. Sy kon haarself nie help nie.

Die huise in Suidstraat lyk altyd toe. Stil. Vera dink nie daar bly kinders in die straat nie. Niks roer wanneer sy op die stoep staan en maak asof sy nie oor die lae betonmuurtjies langsaan kyk nie, oor die bure se vaalgroen grasperke en rooi kannaplantasies wat twaalfuur die middag begin bewe in die hitte van die son.

Willem is meestal naweke op die pad, hy lyk deesdae vir haar gelukkig. Sy is bly, dit maak dit makliker om nie aan die ander vrou te dink nie. Hulle het nog nie weer oor haar gepraat nie, maar Vera maak seker dat as sy dorp toe gaan, sy nie by die Griek se kafee langs ry nie, anders onthou sy weer die dag toe Lien die kombuis ingehardloop het. Sy kon die sweet ruik wat in die kind se hare droog geword het, al het sy toe net ’n doppie vanilla essence in die tweede baksel koekiedeeg gegooi. Die kind het gebabbel, oor haar skouer bly kyk, een stryk deur vertel van haar pa en die vrou met die blonde hare en hoe sy in die kar voor die Griek se kafee moes wag. Hoe warm sy gekry het, hoe bang sy was. Aanmekaar gepraat. Vera het haar later nie meer gehoor nie, net die kind se mond sien oop en toe gaan, haar haasbek, haar groot oë in haar rooi gesig, haar aanhoudende getrippel. Sy wou mal word.

Vera skop die kombers af, trek die oranje gordyne oop en kyk deur die kantgordyne uit oor die grasperk. Haar onderklere voel los aan haar lyf. Willem hou van haar so sonder die hammetjies om haar heupe, soos hy dit noem.

Sy onderbroek van vanoggend lê nog net waar hy dit uitgetrek het voor hy gestort het en die huis uit is. Sy voel oor haar borste en plat maag, af oor haar boude en bene en buk om haar voete te vryf. Daar is eelte aan haar kleintoontjies, die stanery in die saal keil haar bene op.

’n Draaisproeier kierts-kierts op die grasperk van die mense oorkant die straat, en in die verte hoor sy ’n klein vliegtuigie sy neus die lug in druk, op pad iewers heen. Sy tas agtertoe vir haar pakkie sigarette op die bedkassie en trek een uit. Dit lyk of die bure oorkant tóg bestaan. Sy leun vorentoe. Daar’s ’n blonde man op die grasperk. Hy trek die tuinslang met die sproeier oor na ’n ander deel van die tuin, kyk skielik in haar rigting op. Sy deins agter die gordyn in, nog op haar hurke. Hy kan haar nie deur die kantgordyne sien nie, sy weet, maar haar hart klop hard teen haar bors, so asof sy uitgevang is. Haar bene voel lam toe sy regop staan en agteruit badkamer toe begin loop, haar oë stip op die venster. Sy sit die platgedrukte sigaret op die bedkassie neer.

Op ’n Saterdagoggend is daar nie veel op die dorp te doen behalwe window shopping nie. Die son se hitte is droog, amper skroeiend op haar vel wanneer sy nie in die skaduwee van die winkels se afdakke stap nie. Sy voel dit veral op die hoeke van die strate wat die hoofstraat kruis, wanneer sy wag vir die ligte om groen te word.

Niemand ken haar nie. Sy het haar wyepypbroek aan, die een wat ’n week terug nog styf gesit het maar vandag nie meer haar maag só indruk dat sy ongemaklik voel en probeer om die rolletjie om haar middel met ’n los hempie weg te steek nie. Haar lang swart hare is gewas en hang vir die eerste keer vir haar mooi om haar gesig. Dit blink. Sy het lipstiffie aangesit, iets wat sy nooit doen wanneer Willem nie by die huis is nie.

’n Kar toet agter naby haar. Vera staan op die hoek van die laaste dorpstraat wat die hoofstraat kruis.

“Hallo!” sê ’n man uit ’n wit bakkie by die verkeerslig. Hy leun oor na die passasierskant toe. Sy sien eers ’n harige arm met ’n goue polshorlosie wat die sitplek plat druk, en toe sy afbuk om te kyk: blou oë agter ’n blonde kuif.

“Buurvrou!” Hy lag. “Ons bly oorkant julle, ek en my vrou, Maryna.” Hy kyk vinnig vorentoe en toe weer terug vir haar, sy ander arm hang los oor die stuurwiel. “Julle is maar skaars, nè? Hoe lank is dit nou, vyf maande?”

“Ja … om en by,” sê sy.

“Maryna dreig lankal om julle oor te nooi, hoor. Ek sal vir haar sê ek het jou raakgeloop.” Hy krap sy kop, “Nee, weet jy, ek loer sommer later daar by julle in, kom maak ordentlik kennis.”

Die lig is groen en ’n kar toet agter hom.

“Baai,” sê hy en knipoog voor sy iets kan sê. Sy sien hoe kyk hy vir haar in die truspieëltjie net voor hy om die draai ry.

Hy klop lank voordat sy uiteindelik die deur oopmaak.

“As ek jou nie vroeër jou karretjie in die garage sien trek het nie, sou ek gedink het jy’s nie hier nie,” sê hy.

Hy staan met sy skouer teen die kosyn, die gleufies wat sy kam in sy kuif gemaak het is nog nat en sy vel tussenin blink in strepies agtertoe.

“Ek was in die kombuis besig.”

“Nooi jy nie jou buurman in nie? Dis mos nie goeie maniere om jou gaste op die drumpel te laat staan nie, jong.”

“My man is nie hier nie.”

“My vrou ook nie.” Hy lag.

Sy ruik Old Spice en Colgate toe hy verby haar druk die sitkamer in.

“Ek sal ’n vinnige koppie koffie drink, maar dan moet ek waai.” Hy vryf sy hande.

Sy kyk hoe hy op die rooi bank gaan sit en sy bene met lang kouse en veldskoene aan soos ’n vrou s’n kruis.

“Wat staan jy so daar?” vra hy toe sy buitekant toe loer. “Maryna is nog by haar ma in Potties, sy kom eers later vanaand huis toe.” Hy bly ’n oomblik stil. “Ons het nie kinders nie. Sy kan nie.”

“O. Jammer.” Sy gaan sit oorkant hom op die punt van ’n stoel.

Hy lyk skielik verbouereerd. “Nee, ék is jammer dat ek so met die deur in die huis val wat my persoonlike sake betref.”

Sy glimlag. “Dis oukei.”

“Julle het kinders, nè?”

Sy oë lyk vir haar blouer as vroeër. Sy kyk af na haar hande. “Ja. Drie. Hulle is na hulle oupa-hulle toe vir die naweek.” Sy praat te vinnig.

“Dan moet dit julle dogtertjie wees wat ek ’n paar keer oor ons muur sien loer het. Sy’s mos blond, nè?”

“O ja. Lien. Sy’s maar aan die wilde kant, ek hoop nie sy’t gepla nie.”

Hy lag. “Glad nie! Sy’s enige tyd welkom. Maryna is mal oor kinders.”

Vera kyk by die venster uit, sy hou haar hande styf op haar skoot vas en rek haar nek, maak asof sy iets buite soek. “Lien hou van geselskap,” sê sy. “Is daar nie ander kinders in Suidstraat nie?”

“Ongelukkig nie. Ons praat baie daaroor, ek en my vrou nou; dis partykeer so stil soos die graf, veral oor naweke. Dis lekker dat julle nou hier is, met die kinders.”

Hy kyk rond, vroetel met sy hande. “Jy’s kunstig, nè?”

“Hoekom sê jy so?”

“Ek kan sien, al hierdie vreemde prente teen die muur … Is daai met krale geplak?” Hy wys na die bruin vrou met haar kaal bolyf wat ’n trom tussen haar bene vasdruk.

“Ja.” Sy staan skielik op. “Ek gaan gou koffie maak, melk en suiker?”

“Ja. Twee, dankie.” Dit lyk asof hy ook wil opstaan.

“Sit.” Haar stem is hard en sy sien hy frons. Sy probeer glimlag. “Ek’s nou terug.” Sy voel hoe sy oë haar kombuis toe volg.

Vera gaan sit nie weer oorkant hom nie, sy bly staan langs die koffietafel nadat sy die twee koppies neergesit het. Hy het dalk met sy oë vir haar gesê om by hom te kom sit, op die rooi bank, of dalk het sy dit vanself gedoen, sy weet nie. Hulle sit vir ’n paar sekondes stil langs mekaar, sy been druk teen haar broek. Toe draai hy skielik na haar toe, vou sy hand oor haar bors en soen haar. Sy sak terug onder die gewig van sy lyf en dit voel asof die rooi bank hulle met sy sagte kussings insluk.

Sy vingers tokkel ritmies oor haar kaal boud. Die wysie klink bekend. Sy lê skuins bo-oor hom, haar een been is oor syne gegooi.

“Dis asof ek rondloop met hierdie seerplek in my binneste,” sê hy, “’n ding wat net nie wil gesond raak nie.”

“Ek weet.” Sy vryf oor sy nat penis en krul die sagte naeltjiehare om haar vingers.

“Jy weet nie, jy’s nie ’n man nie. Jy het kinders.”

“Ek het ook ’n seerplek,” sê sy, haar hand terug om sy penis wat hard word onder haar sagte polsing. Hy trek homself onder haar uit en kyk vir haar. Sy hare is nou droog en sy kuif val vorentoe oor sy oë.

Hy buk af en soen haar tepels, trek hulle liggies tussen sy tande orent. Sy hare kielie haar bors en sy lag. Ná ’n rukkie draai hy sy lyf vir die tweede keer bo-op hare en druk haar bene met sy knieë oop. Voor sy haar oë toemaak, sien sy Willem se onderbroek lê nog op die vloer, aan sy kant van die bed.

Split

Подняться наверх