Читать книгу Donkerland - Deon Opperman - Страница 3
Оглавление1
Die pad na Kanaän
En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ’n besitting gee, Ek, die Here.
— Exodus 6:7
Daar is g’n plek in die heelal waar ’n mens ver genoeg kan terugstaan, jou storie kan vertel en met die vertel kan sê nie: Hier is die waarheid presies soos dit gebeur het. Die geheue is ’n snaakse dier, ou seun – hy onthou wat hy wil en die res val soos vrot vrugte van ’n boom van hom af. Dit is nou eenmaal ’n feit: ’n Storie gaan gebuk onder die las van al die stukkies wat bygelieg en bygedroom word, en word vermink deur alles wat vergete is. Maar soos dit is met ’n kind ná nege maande in die swanger maag, of hy nou vermink is of nie, as hy wil uit, dan moet hy uit. En waar was daar ooit ’n gekraam sonder ’n gekerm? Of sonder bloed? Ja, bloed, want laat ek jou sê: Die siel kan ook bloei … op sy eie manier …
Verstaan nou een ding mooi: Vir die De Witts van Donkerland is een feit onbetwisbaar, en dit is dat Pieter de Witt, ons patriarg, nou ja, dat sy lewenspad destyds – dit was in 1838 – tydens sy vlug uit die Oos-Kaap na Natal verstrengel geraak het met dié van die swart vrou Mafungwashe, die vrou wat hy herdoop het tot Eerste omdat hy gesukkel het om haar naam uit te spreek. En daardie verstrengeling kon nooit ongedaan gemaak word nie. Dit weet ons nou. Byna honderd vyf-en-sewentig jaar ná daardie gebeure wéét ons dit.
’n Mens kan Pieter se verhaal verder terug gaan haal, nes Mafungwashe se verhaal in haar voortyd nagevors kan word. Maar hul ontmoeting was lotsbepalend, soos ’n dominee sou sê, lotsbepalend vir al die De Witts van sy nageslag.
En ja, as mens na die geskiedenis van daardie tyd kyk, dan was daar ook ’n Britse sendeling betrokke. Natuurlik, hoe dan anders? Daai lotjie witgepleisterde grafstene het hul neus ook oral ingesteek. Is dit dan nie hy, die man van die kleed, wat ons voortvlugtende patriarg besteel het nie?
Voorwaar, hier is die waarheid, hier is dit al wat tel.
Soos ek gesê het: In 1838 vlug Pieter de Witt uit Grahamstad weg. Ek raai hy het daai onderbaadjie van hom aangehad, ook sy ma se ou hempie met die pofskouers, sy pa se sy-krawat met die outydse paisleypatroon en ’n fluweelbroek sonder behoorlike nate.
En hy’s nie bang nie. Onthou, die wêreld was ongerep. Die ene boskasie. Pieter se staalblou oë sien baie raak, maar soek net een ding. Slange. Mambas, boomslange – nie bang vir spinnekoppe nie, maar slange …
Kort voor hy die Umzimkulurivier bereik, kruis sy pad eers met dié van die sendeling Grant Roberts. Die man van God is ’n stommerik, ’n onbeholpe dromer. Pieter de Witt sou hom dít kon vergewe, maar hy het meer moeite om te aanvaar dat hy respek vir ’n Engelse sendeling moet toon. Engels!
Pieter het jare later die wysheid gehad om vir sy kinders en kleinkinders te kon vertel dat hy uit Grahamstad weg is sonder om ooit terug te kyk. Lot se vrou kon by hom kom leer het. Hy was twintig – en wees. Sy ouers is maande vantevore op hul plaas vermoor deur ’n bende Xhosas wat kom beeste steel het. Hy was twintig. Het nog nooit behoorlik geskeer nie, en sy baard het gelyk soos ’n truitjie wat met slegte wol gebrei is. Daai baardjie het nog presies dieselfde gelyk toe hy op sy oudag teen die Kakies wou gaan baklei. Maar dis later se storie.
Oor sy jong dae wou hy self nooit praat nie. Dít weet ons uit oorlewering. “Sit daardie hartseer in ’n boksie,” moes sy kleinkinders by oubaas Pieter hoor. Want wat in die land aan die gang was, was veel erger. Maar sodra hy begin verduidelik, is dit dieselfde liedjie wat hy altyd gesing het: die ene oor die Engelse regering wat die grensboere soos vlooie tussen duimnaels wou dooddruk. En dan moet jy onthou dat die Xhosas van die ander kant ewe hard gedruk het. Pieter wou dus net wegkom, noord.
Daar is vertel dat Pieter de Witt wel soms oor die Groot Trek gepraat het. Hy had nie veel ooghare daarvoor nie. Hy was maar ’n alleenloper, sou altyd een bly. As dit nie was vir die Engelse nie.
Die Groot Trek was ’n soort geboorte. Ek weet nie of Pieter so daaraan gedink het as hy sy pyp gestop, dit aan die gang gekry en ver in die donkerte van Donkerland getuur het nie. Hy sou wel geweet het geboorte het vele gedaantes. ’n Moeder wat die lewe skenk aan ’n baba, ja. Maar daar is ook ander geboortes, die optrede van mense wat ander dwing om koers te verander. Dán skenk die lewe geboorte aan nuwe, ongekende moontlikhede. En in dié geheimenis lê eweneens baie bloed opgesluit.
In die vierde dekade van die negentiende eeu het die siel van die Oos-Kaap uitgebloei. Hy het dit self gesien, beleef.
Nou kan mens dink dat die mense in hoë poste in die Kaap net een ding wou weet: Hóékom wou mense wegtrek van die Oosgrens? Dáár in Kaapstad waar die wette gemaak is wat die mense in die Oos-Kaap so gegrief het. Eenvoudige vrae wek soms eenvoudige antwoorde: Niemand het kans gesien vir die smeltkroes waarin hulle hulle bevind het nie.
Ek het hierdie ding sien kom, het die magistraat van Albanie aan sy seniors in Kaapstad geskryf – jy kan dit gaan naslaan. Die mense hier trou jonk, kry kinders. Die bevolking ontplof. Die inboorlinge leef van die grond. Die Afrikaners ook. Mense soek grond, en hulle kan dit nie binne die wet van die land bekom nie.
Mense wat wou lééf.
Mense met drome.
Die Afrikaner-grensboere én die Xhosa-bevolking was veeboere. Hulle het meegeding om dieselfde weivelde. Hulle had wisselende begrippe van die permanensie van eiendom, veral beeste. Albei groepe was haaks met die regering in die Kaap, selfs nog voor Pieter se pa en ma getroud is. Die bitter vrugte van lord Charles Somerset se kleinsielige bewind meer as ’n dekade gelede is nog daagliks gepluk in ’n distrik soos Albanie. En laat dit nou weer gesê word: Jy kry Engelse, en dan kry jy ander Engelse. Daar was baie Engelse wat Somerset verpes het.
Albanie het gestrek van Grahamstad in die binneland tot by Port Frances aan die see, van Rautenbach se Drif in die weste tot Bathurst in die ooste. Die hart van die Zuurveld.
Vir iemand soos Pieter de Witt was dit nie ver genoeg van Kaapstad en sir Benjamin D’Urban, die goewerneur, nie. D’Urban wou die siel van die Britse wetgewing op sy eie manier filantropies probeer uitleef, veral die wet van 1833 waardeur slawerny in Britse kolonies afgeskaf is. Die sendelinge het wonder bo wonder nie gehou van D’Urban se manier van dinge doen nie, maar die Londense owerhede was tevrede met die wette wat hy laat uitvaardig het wat dit onwettig gemaak het vir Afrikaners om die binneland in te trek.
Jy kan jou voorstel: Wat weet D’Urban van die Zuurveld, hy wat nie hier moes veg om liggaam en siel bymekaar te hou nie? En die Xhosas sou dink: Wat weet D’Urban van vryheid, hy wat slawerny afgeskaf en dit vervang het deur dieselfde pyn en lyding as vantevore?
Die sendeling John Philip het in Londen gaan kla.
Vaderland! As mans beginne kla …
Londen het geluister.
D’Urban is in 1837 vervang deur sir George Napier. Maar kom 1838, is die dwingelandy steeds dieselfde vir Afrikaner en Xhosa. Dít het Pieter de Witt aan sy eie bas gevoel. Tussen vryheid en verknegting was daar min verskil.
Wat hy presies van Britse vryheid dink, het De Witt glo verduidelik aan enigiemand wat wou luister. Maar waarna hulle wóú luister, is hoe hy vertel van die dag toe sy pad met eers dié van Grant Roberts, sendeling van die Londense Sendinggenootskap, en daarna met dié van Mafungwashe gekruis het. Dis nou vir jou ’n storie …
Toe hy die water van ’n groot rivier deur die blare en takke sien blink, klim Pieter de Witt van sy perd af, stap voor die dier aan, versigtig, die leisels in sy een hand, geweer in die ander. Dit is drie weke sedert hy uit Grahamstad gevlug het en hy weet die glinstering voor hom moet die Umzimkulurivier wees. Dit is asof die gevoel van verligting sy knieë laat knak, en hy sak vinnig op sy hurke neer.
Die reis was sonder voorval. Pieter was waaksaam genoeg om te sorg dat hy nie paaie met die Xhosa-grensboere kruis nie. Maar dit het ook meegebring dat hy dikwels lank op ’n plek moes skuil wanneer hy van ’n hoogte af beweging en lewe bespeur het waar daar vlaktes was, want die gebied waarin hy hom bevind, is vol riviertjies en stroompies wat die heuwelagtige wêreld deurkronkel.
Hy is moeg, en honger. Hy kom regop en baan vir hom en die perd ’n weg deur die struikgewas. Toe die water oop en lig kabbelend voor hom lê, spring ’n haas regs van hom op, maar die vlug is halfhartig: Die diertjie gaan staan ’n paar treë verder weg en kyk nuuskierig oor sy skouer. ’n Maklike teiken.
Toe Pieter de Witt by die dooie haas buk, wonder hy of dit sy lot sal wees – om altyd só onder die wind te moet sluip, op sy hoede.
Dit kos hom nie baie tyd om ’n vuurtjie aan die gang te kry nie. Darem een ding wat hy kon red uit die afgebrande opstal van sy ouers – ’n ou tonteldoos.
Daar is genoeg bome en skaduwee. Die rokie van sy vuurtjie trek nie ’n streep hemel toe nie; dit raak verdwaal tussen tak en blaar.
Terwyl die haas gaar word, wonder hy of hy nie maar hier, in die ruigtes aan die oewer van die Umzimkulurivier, moet uitspan vir ’n paar dae nie. Die kruising gaan moeilik wees.
Pieter sit voor ’n vuurtjie. Hy braai die haas wat hy sorgsaam afgeslag het oor die vuur. Hy hou sy ore gespits, al het hy sy perd op lyn geslaan aan ’n boom daar naby. Die perd het eetbare gras gevind, goed en wel, maar Pieter bly waaksaam. As die perd iets hoor, sal Pieter dit dadelik weet. Sy geweer lê net langs hom oor die dooie stomp waarop hy sit. Hy het sy saal ook daarby neergelê – vir die vinnig opsaal, as dit moet.
Hy lig sy koffiekannetjie van die kole af om vir hom ’n beker te skink – en net dan hoor hy dit. Die onmiskenbare geluid van voete wat droë blare versteur.
Pieter vries. Hy beweeg nie. Sy ore is gespits in die rigting van waar hy die geluide gehoor het.
Hy kyk, merk dat sy perd ook in die rigting kyk van waar die geluide gekom het. Mag ’n bokkie wees, maar hy twyfel …
Hy sit die koffiekan en beker stadig neer en vat saggies sy geweer. Hy kom stadig orent en haal die geweer versigtig oor, sy oë heeltyd op die bosse en bome waar hy die geluid gehoor het.
Iets beweeg tussen die bosse deur, maar hy kan nie uitmaak wie of wat dit is nie.
Beslis ’n mens …
Pieter lig sy geweer, rig dit op die persoon in die bosse. “Veza ubuso bakho akuyenzi loo nto ndiya ku kubala!” roep hy. Wys jou gesig of ek maak jou dood.
’n Stem roep op Engels uit: “Moenie skiet nie!”
Pieter wonder wat dit is dat elke slag dat hy ’n haas oor ’n vuurtjie braai, ’n Engelsman sy rus kom versteur. Dit is wat drie weke gelede buite Grahamstad gebeur het, en om die waarheid te sê, is dit hoekom hy hier is. Hy is Saterdagoggend mark toe om springhase te verkoop en het ná die tyd buite die dorp self een oor die kole begin braai.
Agterna beskou, was dit ’n dom ding om só naby aan die dorp te doen.
Dis so vyf myl te perd buite Grahamstad; elke week het hy gesit op dieselfde hoogtetjie wat uitkyk oor die boskasies en ruigtes in die rigting van Bathurst. Sy vuurtjie het hy gepak op die kole van die vorige week se vuurtjie. Sy koffiekan was laag oor ’n syvuurtjie, en die haas was vas aan ’n stok wat tussen twee mikke gelê het. Soos die haas gaar geword het, het Pieter telkens vir hom ’n stukkie daarvan afgekerf. Die ene geduld. ’n Hele week lank het hy aan daardie luukse gedink.
Vir ’n klong van twintig – nie meer nat agter die ore nie, sou sy pa gesê het, was hy nog in die lewe – het Pieter baie vroeg al geleer om na homself om te sien. Albei ouers verloor in die groot Xhosa-aanslag van 1834. Daardie nag onuitwisbaar in sy geheue vasgebrand. Die lawaai by die stal, die gebulk van die beeste. Toe die deur van hul opstal wat stukkend geskop word.
Die krete, die krete.
Albei sy ouers.
En hy? Van sy klerekas deur ’n luik na die solder, en in die donkerte met die soldertrap af, veld toe. Waar hy geskuil het tot die dag gebreek en die lig geval het op die lyke van sy ouers op die werf voor die opstal.
Pieter neem die Engelse kwalik daarvoor. Wie bou nou ’n spul forte op koppies en verwag dat die Xhosas anderkant die Groot-Visrivier sal bly? En dan nog al hul wette ook! Maklik om in die Kaap te sit en twak uitdink, moeiliker om dit hier uit te voer. ’n Mens sou dink die beterweterige spul sou uit die foute van 1819 leer, maar nee.
Terwyl hy nog so gesit en tob het, hoor hy die leerskoene agter hom gras plattrap en klippertjies skuif.
Hy’t vir hom nog vleis gekerf, nie omgedraai nie.
Toe kom die geluid van ’n geweer se haan wat oorgehaal word. Reg agter sy kop.
“Pieter de Witt …?” Die stem het nie behoort aan die hand wat die geweer teen sy kop hou nie.
Pieter het skuins oor sy skouer gekyk. Die uniform gesien van ’n Britse maarskalk, die ene rooi-en-goue knopies.
Die stem het hy herken, Boerseun soos hy. Maar in diens van koningin Victoria.
Pieter het geswyg.
“Kom nou, Pieter. Jy weet ek weet wie jy is.”
“Hoekom vra jy dan?” Hy sou dit wragtag nie vir die vent maklik maak nie.
“Omdat ek moet.”
Toe praat die vent met die geweer reg agter hom: “Is he the man?”
Pieter was onmiddellik die blou bliksem in.
“Yes.” Die Boerseun met die Britse klere kry die eenvoudige woord bitter skeef uit.
“Mister Peter de Witt, you are under arrest.”
“Wat soek jy met hierdie Engelsman?” Pieter het die man agter hom geïgnoreer.
“Kom nou, Pieter … moenie moeilikheid maak nie.” Sy vriend, as ’n mens hom vriend kan noem, was bekommerd. Dalk had die man agter hom ’n ligte skietvinger.
“En in daai uniform …” Nou meer afgemete. “Skaam jou, man.”
Uit die geskuifel van die man se voete kon Pieter maar weet, dit was nie vir hom lekker wat daar aan die gang was nie.
“Ek soek nie moeilikheid nie.”
“In daai geval, kry jou ry en daar sal nie moeilikheid wees nie.”
Nie veel kans dat dít sal gebeur nie, wis Pieter. ’n Soldaat se loon is nie te versmaai nie.
“Jy weet hoekom ons hier is.”
Pieter kyk stadig af na die vleis oor sy vuurtjie. Hy knik. Natuurlik weet hy!
“We have reliable witnesses,” kom die Ingelsman se stem agter hom, “that say you were seen selling game at the Grahamstown market this morning.”
Pieter het nie eens omgekyk na die man wat praat nie. Sy oë was steeds oor die bosse heen op soek, doer Bathurst se kant toe. “Sê vir jou baas ek laat my nie in Engels arresteer nie.”
Die Ingelsman het sy vriend gevra wat die Boertjie gesê het.
“Hy sê,” het die Engelse woorde met ’n baie sterk Afrikaanse aksent skeef en krom uitgekom, “dat as jy hom wil arresteer, jy dit in sy eie taal moet doen.”
Die Engelse maarskalk was stil. Verdwaal seker in die reglement wat hy uit sy hoof moet leer, maar toe die kalf amper in die put wil spring, kon hy nie mooi dinge bymekaar kry nie, het Pieter gedink.
“Jy woon in die Albanie-distrik van die Kaapkolonie, meneer De Witt, en as sodanig moet jy jou onderwerp aan die wette van die regering van Haar Majesteit koningin Victoria.”
Pieter draai sy kop, rig hom tot die Engelse maarskalk, op Engels, sodat die man kan weet hy is nie sommer ’n dom hierjy wat net een taal magtig is nie: “Ek het geen trou aan jul koningin gesweer nie.”
“Moontlik nie, maar jy is ’n inwoner van haar koninkryk en as sodanig onderworpe aan die wette wat haar regering uitvaardig, wat in hierdie geval uitdruklik die jag van wild sonder lisensie verbied.”
Die Engelsman het diep asemgehaal, toe voortgegaan: “Jy is reeds twee keer gewaarsku en weer vrygelaat en tog, ondanks hierdie toegeeflikheid, of miskien weens die toegewing, gaan jy voort om sonder lisensie te jag.”
Tóé praat Pieter, sy rug styf. Antwoord op Afrikaans: “Die enigste baas van hierdie plaas, Engelsman, is God … en as ek dit reg verstaan, het Hy die mens heerskappy oor al die diere op aarde gegee. Dis die enigste lisensie wat ek nodig het.”
Die twee maarskalke het mekaar agter sy rug verby aangekyk. “Hy sê,” het Pieter se verloopte vriend vertaal, “dat hy slegs verantwoording doen aan God wat aan die mens die lisensie gegee het om te jag.”
“Ek het gehoop dat hy vanself en stil sou kom,” antwoord die Engelse maarskalk, maar as dít is hoe hy dit wil speel …”
Pieter het die stygende woede in die man se stem gehoor, die naderende beweging … Soos blits het hy omgeswaai, die maarskalk se geweer uit sy hande gegryp en dit verby sy eie lyf gepluk. Hy het effens regop gekom en die geweer met krag teruggeswaai. Die kolf het die maarskalk vol op die bek getref en Pieter kon hoor hoe die lip bars.
Die maarskalk het net daar neergeslaat, sy mond bebloed, skielik nie meer seker van homself nie.
Maar Pieter se eertydse kennis het kop gehou. Hy had Pieter sekuur in sy visier – en Pieter, nou orent, het die Engelsman se geweer omhoog geswaai.
Die twee manne staan só, hul gewere op mekaar gerig, nie een bereid om toe te gee nie.
Die Engelse maarskalk het bloed geproes en sy mond probeer skoon kry.
“Liewers nie,” het die koelkop maarskalk aan Pieter gesê.
Pieter het hom eers net aangestaar, woorde wat hom ontwyk. Toe antwoord hy: “Jy weet hulle gaan nie ophou totdat ons almal hulle slawe is nie.”
Die maarskalk het al baie hieroor nagedink en antwoord toe nie minder ferm nie: “Voor die Engelse was dit die Hollanders … en ná die Engelse sal dit iemand anders wees. Mense soos ek en jy, Pieter, sal altyd slawe wees.”
Pieter wou hom eers nie ’n antwoord verwerdig nie, maar toe kon hy ook nie meer stilbly nie. “Jy miskien. Ek? Nooit.”
En nou staan hy weer by ’n vuurtjie, weer met ’n haas, en weer is daar ’n Engelsman wat uit die niet verskyn.
“Staan nader,” beveel Pieter, “tot waar ek jou kan sien.”
“Moenie skiet nie. Ek kom in die naam van God!”
Pieter tuur na die bosse. Sy geweer steeds gereed, vinger op die sneller.
Die man wat hande omhoog uit die bosse verskyn is skraal, met ’n netjiese baard – al is hy hier ver van seep en water. Hy kom daar uit die ruigtes uit soos Moses met sy staf. Oor sy skouers hang twee leersakke. Sy hoed is ook van leer, maar anders as Pieter s’n het dit ’n lekker breë rand wat die hetige Afrika-sonnetjie van sy gesig en tere Europese vel weghou.
“Dis naby genoeg.”
Die man hou nie op met beweeg nie. Óf hy verstaan Pieter nie, óf hy is domonnosel.
“Ek sê staan stil, boetie! Ek kan ’n mossie op vyftig tree plattrek, en jy is honderd keer groter en veertig tree nader.”
Die man begin iets sê in ’n geradbraakte Afrikaans. Pieter is onmiddellik geïrriteerd. As die man Afrikaans kan praat en verstaan, beteken dit dat hy al lank in die land is. Lank genoeg om drome te droom en vir mense net sonde en ergernis te skep.
“Wat daarvan?”
Die man beweeg nog ’n paar treë nader.
“Stadig …! Stadig …” Vir wat wil hy so naby staan?
“Ek het my perd in die dryfsand naby die rivier verloor,” sê die man, nou weer in Engels.
Pieter laat sak sy geweer effens. “Wragtag. Net ’n bleddie Engelsman is dom genoeg om sy perd deur dryfsand te probeer vat.”
Die Engelsman kyk Pieter fronsend aan, haal sy skouers onbegrypend op. Pieter dink, nou maar goed. Dan praat hy stadiger: “Is jy alleen?”
“Behalwe vir onse Heer, ja, ek is alleen.”
Pieter kyk agter die skraal man verby. Hy moet seker wees dat niemand anders in die ruigtes skuil nie.
Wanneer hy gerus is, beduie hy vir die Engelsman om nader te staan. Dán eers laat sak hy sy geweer, stadig.
Pieter begin hom uitvra, en is verbaas om te hoor dat die man van Grahamstad kom. “Wat soek jy hier in die bosveld?”
“Ek is verbonde aan die Londense Sendinggenootskap.”
“Sendeling?”
“Ja.”
Pieter som Roberts stil op. Hy begin ontspan.
Grant Roberts is drie weke gelede in die kantoor van die Londense Sendinggenootskap op Grahamstad ontvang deur die hoof van die genootskap, doktor John Philip.
Roberts het groot respek vir dié man, wat reeds sedert 1818 gemoeid is met sendingwerk in Suid-Afrika en na wie die dorp Philippolis genoem is, dáár waar ’n sending-buitepos vir Boesmans gestig is. In die onlangse verlede was Philip meer in Londen doenig, as lid van ’n afvaardiging wat by die Britse parlement gaan voorspraak doen het vir sterk optrede teen die Kaapse koloniste weens hul onmenslike optrede teen die inboorlingbevolking.
Dit is einste dr. Philip en sy sending wat sir Benjamin D’Urban sy pos as goewerneur gekos het, en die afgelope jaar het hy hom as die Britse regering se spesiale adviseur oor inboorlingsake op Grahamstad gevestig, waar sy standpunte oor die afskaffing van slawerny nie juigkrete uitgelok het nie by die grensboere wat in die brandpunt was van die struwelinge aan die Oosgrens met die Xhosa-bevolking.
Daar in sy kantoor het die gryse doktor Philip vir Roberts gesê hy kan nie ophou om hom te verstom oor die waagmoed van die nuwe geslag sendelinge uit Londen nie. Omdat hyself van Skotse afkoms is, het Philip van onder effens neergeslane ooglede gesê, het dit hom skoon ongemaklik gemaak wanneer hy ’n idealis soos Grant ontmoet. Hy is gewoond aan mense só konserwatief dat hulle nie graag praat nie.
Grant dink dikwels met deernis terug aan die bejaarde sendeling, sy hare spierwit grys en sy skouers effens geboë, maar sy helderblou oë vol vuur en diepe geloof – terwyl hy wat Grant is eers betreklik onlangs mondig geword het. Grant was netjies geklee, maar hy was ongemaklik in sy pak, sy gesig bleek, met hare wat nie netjies wil bly lê nie.
Hy het groot sake op die hart gehad.
“U moet verstaan, meneer Roberts,” het die waardige teoloog gemaan, “dat die sending wat u wil onderneem lewensgevaarlik is.”
Hy het van die venster weggedraai, waar hy momenteel na buite gestaar het, en Roberts, wat voor doktor Philip se lessenaar gestaan het, reguit in die oë gekyk. “Die land waar die Zoeloes woon is nog nie gekarteer nie. As die dinge wat die plaaslike Xhosas van hulle sê waar is, is hulle ’n kragtige en strydlustige stam. Hul koning is Dingaan, ’n onverbiddelike mens wat koning geword nadat hy sy halfbroer, Shaka, vermoor het.”
“Maar is dit nie die opgelegde taak van die Londense Sendinggenootskap,” het Grant gevra, “om die kennis van Christus te versprei onder die heidene en ander oningeligte nasies nie?”
“Inderdaad, maar dit is taamlik moeilik om dít te doen as ’n mens dood is.”
Die Skotte en hul humorsin … het Grant gedink, maar ’n glimlag onderdruk en vinnig gesê: “Ja, al gaan ek ook deur die dal van doodskaduwee …”
“Natuurlik, ja,” was doktor Philip se antwoord, “maar ek het gesien dat God op baie maniere tot die mens spreek. En dit was ’n Moslem wat my eens vertel het dat ’n mens op God moet vertrou, maar dat jy nietemin nie moet vergeet om jou kameel snags vas te maak nie. Gelukkig het ek daardie Moslem ontmoet toe ek baie jonk was. Sy advies is, vermoed ek, hoekom ek steeds op die ouderdom van drie-en-sestig hier is om dit met jou te deel. Ons moet die heidene na Christus bring, gewis, maar hoe langer ons lewe, hoe meer mense kan ons red.”
Roberts het begin haastig raak. “Doktor Philip, ek is dankbaar vir u ondersteuning en advies, maar dit is my diepste oortuiging dat dit my roeping is om hierdie missie te vervul.”
Philip het meer as ’n minuut lank stil na Roberts gekyk, sy hand voor sy mond, diep in gedagtes versonke. Grant het hom begin bekommer. Wat nou?
“Dan moet jy gehoor gee aan daardie roeping,” het doktor Philip uiteindelik gesê. “Die genootskap sal jou ondersteun op watter manier ook al moontlik is.”
“Dankie.”
Doktor Phillip het die jong sendeling se hande geneem en sy hoof gebuig. “Kom ons bid.”
Grant Roberts probeer onthou presies wat doktor Philp gebid het – maar tot sy ongemak besef hy dat hy die hele gebed vergeet het. Seker die opgewondenheid van die oomblik.
En nou staan hy teenoor ’n ander man. ’n Moeilike mens.
“Voor jy langs my vuur kom sit,” sê Pieter de Witt uiteindelik, “moet jy een ding mooi verstaan: Ek verdra nie ’n Engelsman of ’n missionary se gepreek nie.”
Die sendeling sê niks, en uiteindelik steek Pieter sy hand uit. “Pieter de Witt.”
Pieter se een oog vernou geamuseerd. Die sendeling se greep is fermer as dié van ander Engelsmanne waarmee hy al vantevore bladgeskud het.
“Roberts. Grant Roberts.”
Pieter kyk die sendeling op en af. “Hier is koffie as jy wil hê.”
“Loof die Heer!”
Die sendeling deins skielik terug wanneer Pieter ’n dreigende gebaar in sy rigting maak. Pieter sis behoorlik: “Onthou wat ek gesê het oor die preek …!”
“Sorry. Jammer. Dankie.”
Pieter haal ’n enemmelbeker te voorskyn en skink vir die sendeling uit sy koffiekan wat rustig stoom blaas op die kole. Die sendeling neem die beker met dankbaarheid aan.
Dan haal Pieter ’n plat blikkie uit sy sak, maak dit oop en bied vir Roberts aan.
Die sendeling begryp nie wat dit is nie.
“’n Soetigheidjie,” verduidelik Pieter, “vir die koffie.”
Roberts sit een in sy mond, soos Pieter aan hom beduie. “A,” roep die sendeling in verrukking uit, “’n gekookte lekkerny.”
“Soetigheidjie,” herhaal Pieter plegtig. Hy sit self een in sy mond sodat hy die koffie daaroor kan sluk.
Hulle drink in stilte. Pieter verkies dit so – sou ook nie omgee as die man nou verkas nie, maar hy het ’n spesmaas dit gaan nie vinnig gebeur nie. Nie sonder ’n perd nie.
“Wat is dit wat jy doen, meneer De Witt?”
Pieter kyk vinnig op na Roberts – as die man geweet het waarvoor om te kyk, sou hy die gevaartekens gesien het.
“As jy nie omgee dat ek vra nie.”
Ja, hy gee om, dink Pieter. Hoe verduidelik hy dat hy nog nooit iets anders gedoen het as vry wees nie? Hoe verduidelik hy dat hy die waarde begin besef het van dit wat vir hom so vanselfsprekend soos asemhaal was toe hy in die tronk gegooi is? Dat hy amper ’n dag lank ’n tronkvoël was?
Hulle het Pieter na die Provoos-gebou in Grahamstad geneem. Dit is al ’n paar jaar lank ’n militêre gevangenis. Pieter is alleen in een van die selle gesmyt. Sy besittings is van hom weggeneem en op die tafel gesit: bandelier, geweer, hoed, alles.
So in die verbysleep het Pieter van die ander aangehoudenes gesien – wisselend van mense wat hul roes lê en uitslaap tot Afrikaners en Xhosas wat die verbygaande prosessie dophou.
Die bewaarder was ’n rou Engelsman, sy woorde gedra deur ’n aksent wat dit só vervorm dat Pieter met moeite kon volg wat hy sê. Pieter kon verstaan hoekom die man ’n tronkbewaarder is, ver van die publiek se oog. Hy’s ’n vet vent, korterig gebou, met klere wat maande laas behoorlik gewas is. Terwyl hy praat, het die alkoholwalms Pieter reg in die gesig getref.
Hy het Pieter die sel in gestamp. “Raak gewoond daaraan. En pis in die emmer, anders ransel ek jou af.”
Toe gaan staan hy daar, anderkant die traliehek, en kyk Pieter met afsku aan. “Dirty Dutchman. Sonder julle gespuis sou ons veel minder probleme in hierdie godverlate plek gehad het.” Hy het nader aan die tralies beweeg en in Pieter se rigting gespu.
Toe hy wegstap, sien Pieter hoe die spoeglel oor sy een skoen gespat het.
Pieter het geswyg, die bewaarder se waggelstappie bekyk. Toe draai hy om en gaan sit eenkant op ’n baal strooi.
Ná ’n ruk hoor hy ’n deur in die verte oopgaan en voetstappe in sy sel se rigting kom.
Dit was sy vriend, die Afrikaanse maarskalk, handlanger van die Britte. Hy het gaan staan waar die vet bewaarder ’n ruk gelede gestaan het, in sy hande ’n fles. Hy het Pieter ’n oomblik stil aangekyk, toe die fles deur die tralies vir hom aangegee.
Pieter het nie beweeg nie.
“Whisky,” het die maarskalk verduidelik.
“Ek drink nie,” het Pieter dadelik geantwoord. Want dit wás so.
“Ja,” het die maarskalk geantwoord, “maar hý drink.” En so, sonder woorde, met sy kop in die rigting van die bewaarder beduie.
Hiér was ’n plan …
Hy het sy rug na Pieter gedraai.
“Pla jou gewete jou?” het Pieter gevra.
Die maarskalk het teruggedraai. “Ja,” sê hy. “Maar nie genoeg om ’n ander werk te loop soek nie. As ek jou weer in hierdie distrik sien, ken ek jou nie … en skiet ek voor ek praat.” Hy het omgeswaai en weggestap.
Pieter het hom geglo. Hy het die prop uit die fles getrek, aan die whisky geruik. Die plan het by hom begin posvat. Hy het ’n slukkie in sy mond geneem.
Toe die bewaarder ’n paar uur later met kos vir hom kom, brood en sop, sit Pieter op sy strooibaal teen die een muur van die sel – hy het gesien hoe die man die kos op die grond voor die traliehek neersit.
“As dit van my afgehang het,” het die woorde oor die bewaarder se vlesige vuil lippe gepeul, “sou ek al die Dutchmen in hierdie kolonie op ’n skip geboender en Australië toe gestuur het. Saam met al die swart barbare. Hierdie plek sou ’n paradys sonder julle spul wees.”
“Ek’s nie honger nie.”
“Maak soos jy lus het,” het die bewaarder geantwoord.
Pieter het die fles whisky te voorskyn gebring, die prop voor die bewaarder uitgetrek en ’n sluk geneem.
Die bewaarder het vasgesteek asof iemand hom met ’n paal teen die voorkop geslaan het. “Haai!” skrou hy. “Waar kry jy dit?”
Hoe is dit moontlik, het die lummel duidelik gedink, hierdie tronk is twee jaar oud en niemand het nog ooit iets ingesmokkel gekry nie.
Pieter het geswyg, die vent aangegluur.
Die bewaarder het by die traliehek gaan staan. “As daai is wat ek dink dit is …”
Pieter het die fles gelig, so al asof hy die man gesondheid wou toewens, en nog ’n slukkie geneem.
“Gee hier daai fles!” skrou die bewaarder.
Pieter kyk uitdagend na die bewaarder.
“Ek sê, gee hier, of jy sal die sambok op jou kale rug voel byt!”
Pieter het begin glimlag, stadig opgestaan en na die tralies gestap. So in die stap nog ’n mond vol geneem. Die fles vir die bewaarder uitgehou.
Die vettie het sy vuil hand deur die tralies na die fles uitgesteek. “Gevangenes word nie toegelaat …” begin hy sê.
Pieter het die whisky in sy mond in die bewaarder se gesig en oë gespoeg.
Die man het benoud gegil, sy hande oor sy oë geslaan en weggedraai, sy rug na die tralies.
Pieter was blitssnel. Met een beweging het hy die bewaarder se kraag beet en pluk hy hom met ’n magtige greep met sy rug teen die traliehek vas, arm om die wag se nek geklem sodat hy die man se keel goed kan wurg.
Die vent vat-vat aan Pieter se arm soos hy probeer om die staalgreep om sy nek te breek, maar tevergeefs. Stadig maar seker het die bewaarder die stryd verloor – en sy bewussyn.
Pieter het die man sag laat afsak grond toe. Hy het sy hand deur die tralies gesteek en die bewaarder van sy stel sleutels verlos.
Pieter sluit sy sel oop, staan wydsbeen oor die bewaarder. “Sien jou in Australië,” het hy hom gegroet.
Die kamer waar hy van sy al sy besittings ontneem is, was leeg. Laat op ’n Saterdagmiddag in 1838 is die tronk in die hande van die enkele bewaarder gelaat, almal elders besig om te ontspan.
Pieter het sy geweer in die hoek sien staan. Die bandelier, hoed en kleiner dinge het nog net gelê waar hy hulle ’n paar uur tevore op die tafel neergesit het.
Hoed op die kop, bandelier oorkruis oor skouer en bors, het hy laat spaander na die stalle met die ander besittings in sy hande.
’n Engelse soldaat het voor die stalle gestaan. Voor hy tot verhaal kon kom, tref Pieter se kolf hom agter die kop. Hy syg neer langs die perd wat hy besig was om te roskam.
Pieter het sy perd gevind, met sy saal daar naby. Hy het so vinnig moontlik opgesaal, sy been oorgeswaai.
Terwyl die Engelse soldaat nog sukkel om orent te kom, steek Pieter hakskene in sy perd se lieste en trek op ’n stywe galop weg. Die Provoos-gebou se deure staan wyd oop, Pieter se pad na vryheid.
Hy het daaraan gedink om in Uitenhage se rigting te ry, maar uiteindelik het gesonde verstand vir hom gesê dit is presies wat die Engelse van hom sal verwag. Dat hy sou terugkeer na sy mense.
Daarom het Pieter de Witt op sy perd suid koers gekies, in Bathurst se rigting. Ná ’n uur se ry het hy oos geswenk, in die Groot-Visrivier se rigting, en ná nog ’n halfuur tot stilstand gekom. Hy het sy perd na ’n stroompie gelei vir sy dors, en ná ’n ruk het hulle rustig begin aanstap in die skemering, noordwaarts.
Vryheid!
Vryheid? Hoe vry is hy as ’n gewone Engelse sendeling hom kan uitvra? Pieter soek nie van uitvra nie. “Jy vat ’n kans om soos ’n profeet hier in die wildernis rond te dwaal,” sê hy, en dan, sy Engels lekker krom: “Where are your gun?”
“Ek het nie een nodig nie.”
Pieter wag dat hy moet sê: My hulp kom van Bo, maar die sendeling begin mooi leer.
“Dan is jy nog dommer as wat ek gedink het.”
“Ja, al gaan ek ook deur die dal van doodskaduwee …”
“Totdat jy die punt van ’n assegaai teen jou keel voel, of ’n kierie teen jou kop, dan praat ons weer.”
Die argument waai oor, voor dit behoorlik kon begin, dink Pieter.
Maar die Engelse sendeling bly lastig. “So, wat ís dit wat jy doen?”
Pieter gluur die man aan. Dan kyk hy weg, en swyg oor sy rede.
“Ek veronderstel jy is op pad iewers heen?” vra die geestelike.
Pieter dink: Hier sit hulle, myle en myle van Grahamstad af, ’n haas braai oor die kole, die koffie is vuurwarm en lekker sterk getrek, en die man wil weet wat hy vir ’n bestaan doen.
Stilbly is die beste antwoord.
“Was dit Zoeloe wat ek jou netnou hoor praat het?”
“Dis Pondoland dié.”
“Nee, netnou terug, jy het iets geskree …”
“Xhosa.”
“Ek … hoor … hulle is baie dieselfde.”
“Ek het in die Zuurveld grootgeword. Ek ken nie van Zoeloe nie, maar ek reken solank ek kruit vir my roer het, sal hulle my verstaan.”
Roberts is heeltemal oortuig dat die man voor hom niks weet nie van die stryd wat doktor Philip twee jaar gelede in Londen gaan stry het vir die regte van die einste Zoeloes met wie hy so met ’n gelaaide geweer wil gesels. “Ek is besiel,” sê die sendeling, “deur die wonderlike voorbeeld van Francis Owen. Hulle sê hy woon onder die Zoeloes, maar hy dra geen geweer nie. Gods Woord is sy enigste skild. Ek is op pad om by hom te gaan aansluit.”
Pieter antwoord dadelik: “Jy mors jou tyd as jy dink jy gaan die Zoeloes bekeer.”
“Ons is almal God se kinders, meneer De Witt, selfs die …”
Pieter vererg hom bloediglik. Hy staan op. “Sê my, Engelsman, hoe lank is jy al in hierdie land? Hè? Hoe lank is jy in Afrika?”
“Ek het twee jaar gelede hier aangekom, en sedertdien …”
“My mense is al drie geslagte hier,” sê Pieter afgemete, “en as ek een ding weet, dan is dit dít: Die dryfsand van hierdie land lê nie net langs die riviere nie, dis orals. ’n Man wat nie sterk staan nie, verdwyn soos ’n graf in die gras, ingesuig in die boesem van Afrika.”
“Jammer, ek volg jou nie mooi nie …”
Al weer die wegkruip agter sy swak begrip van Afrikaans.
“… maar as ek iets mag waag, ek glo dat beskawing na alle mense gebring kan word, selfs die heidene van hierdie land, as ’n mens dit net tyd gee …”
“Die hemel behoed hulle.”
“… en die genade van God.”
Die man het nog soveel te leer, dink Pieter. “Gaan jy daar instap en sê ‘civilisation!’ en dan verwag dat hulle jou ’n pot bier aanbied?”
“Daniël is in die leeukuil gewerp, maar God …”
“Dis nie Israel hierdie nie, broer, dis Afrika dié! Hier praat bloed. Dis al.”
“Jy het die swaard gekies, en ek geloof. Die tyd sal leer wie reg was.”
“Moenie jou hier kom heilig hou nie. Ons weet maar alte goed hoe werk julle Engelse – eers kom manne soos jy met ’n Bybel in die bek en as julle die mense mooi saggemaak het, kom die soldate. En as ’n man sy oë uitvee, sit hy sonder vryheid en sonder land.”
“Ek veronderstel die swart inboorlinge van hierdie land sê dieselfde van julle.”
Nou sien Pieter behoorlik rooi. “Wetter! Jy kom hier aangestap, jy kom sit langs my vuur, drink my koffie en dan beledig jy my! Ek het niemand se land gesteel nie! My mense het met bloed vir hulle geboortereg betaal. Wat het julle betaal? Laat ek jou een ding sê, mister Roberts: Dis oor jou kastige Engelse ‘civilisation’ dat ek vandag sit waar ek sit! My voorvaders het tak vir tak en klip vir klip ’n bestaan uit hierdie land gewurg, en toe kom julle Engelse en ewe skielik mag ’n man nie meer ’n boom afkap sonder toestemming nie; moet hy ’n dekselse lisensie hê om te kan jag; sy naam op sy ossewa skryf as hy in die pad wil ry, om nie eens te praat van die Hottentotte wat soos wit mense behandel word en slawe wat vrygelaat word nie. Julle het nie die fondamente hier gegrawe nie, my pa het, en sy pa voor hom, en nou kom julle met julle ‘civilisation’ en julle wil ’n huis bou op sweet wat julle nie gesweet het nie en bloed wat nie julle s’n is nie. Dis hoekom my volk in hulle duisende trek. Ons is lank genoeg geterg. Ons gaan ’n republiek in die noorde stig en ek gaan vir my ’n plaas aftree waar g’n ‘civilisation’ my kan pla nie.”
Roberts sê niks.
Sou die man verstaan wat Pieter gesê het?
Dan hoor Pieter hoe die sendeling die soetigheidjie in sy mond met ’n harde kraak tussen sy tande verbrysel. Hy hét verstaan! “Jy’s nie veronderstel om die ding te kou nie. Dis al soetigheid wat ek het. Een per koppie, nie meer nie.”
Die dag stap aan, maar Roberts bly sit. Hy praat hierdie rigting, dan daardie rigting. Vir Pieter is dit egter by die een oor in en die ander uit. Hy’t nie nou lus vir die man se kletsery nie.
Maar uiteindelik, die haas verorber, gesamentlik, en die vuurtjie wat nog net ’n lui rokie tussen die oorhangende takke instuur, kom Roberts uit by die vraag wat Pieter liewers nie wil hoor nie: “Ek het gewonder … noudat ek sonder perd sit, sal jy omgee as ek met jou saamgaan?”
“Saamgaan?”
“Ek stap saam met jou,” sê hy tot Pieter se groot verligting. Vir ’n passasier op sy perd sien hy nie kans nie. “Jy het mos gesê dat jy in die rigting van Zoeloeland gaan.”
“Gaan terug Grahamstad toe!”
“Dis nou net so ver terug as wat dit vorentoe is. En buitendien, al my voorraad was in my saalsak, en my saal was op my perd, en my perd is ingesuig in die boesem van Afrika.”
En slim vang altyd sy baas, dink Pieter. “As jy ’n geweer gehad het, was dit nou nie ’n probleem nie, nè?”
Vir ’n verandering het die Engelse sendeling geen antwoord nie.
Pieter begin opruim. “Ek is haastig,” verduidelik hy aan die sendeling wat nou met sy hande langs sy sye staan. “As die manne hulle stokke begin plant, wil ek nie agter in die tou staan nie.”
“Verskoon my, maar ek volg nie hierdie stokke-ding nie.”
En dan wil die vent die wildernis in. “Hy lyk soos ’n mens maar hy’s dommer as ’n bobbejaan,” mompel Pieter by homself. Hy neem sy geweer om vir die Engelsman te wys wat hy bedoel. Hy plant die geweer regop soos ’n stok, kolf teen die grond. “As ’n man sy plaas wil aftree, kap hy eers ’n stok in die grond. Die stok is die middelpunt. Dan stap hy ’n halfuur noord, ’n halfuur suid, ’n halfuur oos en ’n halfuur wes. Dan het hy sy plaas. Die man wat eerste sy stok plant, kry die beste grond. Met twee lywe op sy rug gaan my perd gou moeg raak. Verstaan jy nou wat ek sê?”
Hulle wil waaragtig hul eie republiek gaan stig, dink die sendeling. Hy sê niks.
Ek het jou mos gesê dit is ’n storie en ’n half, en hier kom die volgende kinkel: In die dae voordat Pieter de Witt en Grant Roberts hul eie paadjies van Grahamstad af gevolg het na die oewer van die Umzimkulurivier, met en sonder perd, ontmoet twee pa’s mekaar op formele vlak in ’n Mpondokraal enkele myle wes daarvandaan. Trouens, soos Pieter dit seker later sou uitgepluis het, moes sowel hy as die sendeling vlak by daardie kraal verbygeskuur het.
Hoe weet ons deesdae van dié ontmoeting? In die lang pad wat Pieter gevolg het nadat hy die rivier oorgesteek het, is die verhaal in detail aan hom vertel. Hy het dit aangehoor met die ore van ’n Boer, en wat hy gehoor het, het hom dinge laat verstaan wat sy kinders en dié se kinders nooit almal ordentlik sou begryp nie. Nie baie het verander in hierdie land nie, nè? Ons verstaan die swartes se kultuur nie, maar sodra iemand dit verduidelik, kom ons agter hoe gesofistikeerd dit is. Soos Pieter de Witt soveel jare gelede ontdek het.
Wat Pieter de Witt ingesien het, is dat mens met piëteit na hierdie verhaal moet luister. Doen jy dit, sal jy meer van Afrika en sy mense verstaan.
Maar soos ek gesê het: Dit begin met ’n ontmoeting tussen twee Xhosa-mans. Dit is ’n samekoms met die grootste erns by albei. Die een is die klaer en die ander die persoon wat die saak moet oplos, want sy dogter is daarby betrokke. Albei mans is in hul veertigs, wat hulle groot aansien en respek besorg. Albei praat met wysheid en wedersydse respek.
Die klaer tree op namens sy broer se seun, ’n skrander man wat bestem is om eendag die hoofman van hul gebied en al die mense daarin te word. Die seun het sy intensie bekend gemaak om die beeldskone Mafungwashe as eerste vrou te neem. Sy wat later in die verhaal Eerste genoem sal word.
Die twee mans sit elk op ’n houtstomp, elmboë op die bobene. Mafungwashe se pa is die man teenoor wie die moeilike saak geopper word, want is dit nie hy wat sy seën uitgespreek het oor die voorgenome band tussen sy dogter en die verliefde jongman, hy wat eendag hoofman sal wees nie? Mafungwashe se pa knik, tuur fronsend in die verte. Natuurlik beskou hy die klag in ’n ernstige lig.
Die klaer kyk strak voor hom uit terwyl hy praat. “Die jongman is ’n eerbare mens,” sê hy. “Hy sou nie sonder goeie rede die saak teenoor my, sy oom, geopper het nie.”
“Jy moet weet ek sal my dogter se eer verdedig,” sê Mafungwashe se pa. “Is sy dan nie ’n kind wat haar pa se wense nog altyd gerespekteer het nie?”
“Die liefde maak mans mal, en vrouens nog maller,” sê die klaer.
“Dit is waar,” gee die bekommerde pa toe, “maar met Mafungwashe sal dit anders wees. Sy sou nooit haar voorouers se naam onteer nie. Maar ek weet jy is ’n man wat nie ligtelik oor sulke sake sal gesels nie. Ek sal met Mafungwashe praat. Sy sal nie vir my lieg nie. Dan sal ons twee weer praat.”
Daardie aand verskyn Mafungwashe se pa in haar hut. Die gesprek begin rustig, maar ontaard gou in woede. Dit blyk die verliefde jongman, hy wat eendag hoofman sal word, het nie valse stories verkondig nie.
Mafungwashe, op haar knieë voor haar pa, probeer haar gevoelens verdedig, maar haar pa klap haar hard deur die gesig. Hy troon bo haar uit, met die woede wat hom ’n skrikwekkende figuur maak. “Bly stil!” snou hy haar toe. “Jy sál my gehoorsaam!”
Wat mag sy sê? “Ek het hom nie lief nie,” prewel sy uiteindelik.
“Wat weet jy van liefde?!” Nog nooit het sy haar pa só hoor skree nie. “’n Mens leer om lief te hê. Hy gaan eendag ’n hoofman wees. Jy’s gelukkig hy wil jou as vrou vat.”
“Ek het ’n ander lief,” smeek sy.
Mafungwashe se pa kyk stil na haar, wys met sy voorvinger na haar, sy oë toornig en groot. “Jy sal nie my naam in die skande steek nie. Wees gewaarsku. Ek praat nie weer nie.”
Wat hom betref, is dit die einde van die saak. Hy gun haar geen verdere teenspraak nie, bied geen troos aan nie, stap net uit haar hut uit.
Mafungwashe voel die eensaamheid en onmag besit neem van haar, maar sy huil nie. Sy’t ’n krag in haar, oortuiging in haar oë. Sy sien ’n moeilike pad voorlê. Sy sal haar liefde nie versaak nie.
Die volgende dag is sy ’n entjie van die kraal af, tussen die ruigtes wat hul kraal van die Umzimkulurivier skei, saam met haar minnaar, ’n man van twintig, twee jaar ouer as haar agttien lewensjare. Hulle is in mekaar se arms. Trane stroom teen haar wange af.
Mafungwashe besef dat sy haar woorde versigtig moet kies – sy het ’n vrees dat sy dalk meer moed en durf het as haar minnaar. Maar vrouens kan mans motiveer, dit weet sy. “Ons moet saam weghardloop,” fluister sy in sy oor.
“Waar sal ons gaan?” roep hy uit. Mafungwashe se moed begin sak. “Hoe sal ons leef?”
“Ver weg. Mense sal ons help.” Luister na jouself, dink sy. Is die saak nie reddeloos nie?
Haar minnaar sien net moeilikheid en verdriet wat voorlê. “Hy is ’n hoofman se seun. Hulle sal ons soek totdat hulle ons kry.”
“Ek kan nie met hom trou nie,” roep sy uit. “Hulle sê hy’s ’n wrede man.”
“Dit is jou pa se wens.”
“My pa dink aan sy geluk, nie myne nie.”
Mafungwashe besef haar minnaar is besig om prakties te wees. Maar dit is nie wat sy nou soek nie. Sy voel gelukkig en gekoester teenaan haar minnaar, maar hy is nog jonk, die bloed bruis nie warm genoeg in sy are nie.
“Hy is jou pa.”
Die situasie raak vir Mafungwashe desperaat. “As jy my liefhet, hoe kan jy dit verduur om te kyk hoe ek met ’n ander man trou?”
En dan kom die woorde wat haar laat besef dat haar minnaar meer rype wysheid het as wat sy gedink het: “Want as ek dit nie doen nie, is ons albei dood. Ek sal jou eerder op ’n afstand liefhê as om te sterf in die wete dat jou pragtige lyf as gevolg van my vir die wilde honde gevoer is.”
Mafungwashe begin weer huil, en hou hom stywer vas. “Wat gaan ons maak?”
Haar minnaar stoot haar effens terug, maar bly haar in die oë kyk. Sy sien dat daar ’n groot droefheid van hom besit neem. “Hierdie tyd wat ons nou gehad het … hier … nou … dit was ons vaarwel.”
Hy wil haar liggies soen. Sy lippe raak-raak aan haar, sy wil nog “nee” prewel, maar ’n jong Mpondo-kryger pyl skielik uit die ruigtes op hulle af.
Die een wat hoofman gaan word.
Haar toekomstige eggenoot.
In volle krygsgewaad, spies en skild in die hand. Só woedend dat dit lyk of sy oë heeltemal wit geword het. “Vandag sterf jy!” skree hy, spies gereed.
Mafungwashe en haar minnaar kyk verskrik om na hom. Hy beweeg nader, dreigend. Mafungwashe se minnaar stoot haar weg, agter hom in, en tel versigtig sy spies en knopkierie van die grond af op waar dit in die gras lê, sy oë wat die aanvaller nie ’n sekonde verlaat nie.
Mafungwashe se minnaar praat nou met haar, ’n beslistheid in sy bewegings. “Hardloop,” beveel hy.
Mafungwashe huiwer – haar oë flits tussen haar minnaar en die woedende kryger. “Moet dit nie doen nie,” roep sy uit. “Asseblief!”
“Jy is aan my belowe,” bulder die kryger. “Jy het my vader en my voorouers se naam deur die modder gesleep. Vandag sterf julle albei.”
Mafungwashe se minnaar smeek haar weer om te hardloop, weg te kom, maar steeds huiwer sy.
Nou begin sy bloed ook borrel. “Ek sê hardloop,” beveel hy, bruusk.
Sy gee die twee mans een laaste kyk, en dan begin sy hardloop, in die ruie boskasie in, weg, weg van haar eie kraal.
Die twee mans sirkel versigtig om mekaar. Dan beweeg Mafungwashe se minnaar vinnig vorentoe en slaan met sy kierie na sy opponent.
Die jong kryger weer die hou met gemak met sy skild af en steek met sy spies na die minnaar. Die lem swiep gevaarlik naby aan sy maag verby.
Dit is duidelik wie meer ondervinding het van die krygskuns. Die twee bly om mekaar sirkel, hul konsentrasie op mekaar gerig, die hardlopende Mafungwashe vir die oomblik uit hul gedagtes verban. Hulle is onbewus van haar moeisame vordering tussen takke en bosse deur, onbewus van die hale wat takke oor haar lyf trek soos sy voortbeur, van die stukkies kleding wat afskeur en agtergelaat word aan die dorings op sommige van die takke …
Die jong kryger steek-steek met sy spies na die minnaar se maag. Mis! Die minnaar slaan met sy kierie na die kryger se spies in sy hand. Die spies vlieg deur die lug en val eenkant in die gras.
Maar die kryger het yster in sy bloed. Hy duik blitsvinnig na sy spies, gryp die steel in een rolbeweging en is dadelik weer op sy voete, gereed – gevaarlik.
Die minnaar dink hy is besig om die oorhand te kry. Hy ruik bloed. Hy glimlag effens en beweeg nader. Hy ruil sy wapens om – die spies nou in sy regterhand en die knopkierie in sy linkerhand.
Die minnaar maak ’n flous-beweging na die een kant en beur dan direk af op die kryger. Hy slaan met die knopkierie in sy linkerhand na die kryger se kop. Die hou is mis, maar die kryger sak af op sy hurke. Dan steek die minnaar met sy spies na die kryger, wat sy skild net betyds lig. Die spies se punt tref die skild en gly verby. In die proses vlieg die skild uit die kryger se hand. Maar dan, met een oogverblindende beweging kom die kryger orent en steek met sy spies van onder af op na die minnaar se maag.
Die minnaar se mond gaan oop – verbasing, skok. Hy snak na sy asem, sy oë verstar.
Die kryger beweeg nou met doelgerigtheid, seker van die eindpunt van hierdie geveg. Hulle staan lyf teen lyf. Die kryger bring sy linkerarm om die Mpondo-minnaar se nek en dryf dan die spies met een stoot nog dieper deur die minnaar se lyf. Die minnaar ruk en kreun.
Dan val die knopkierie en spies uit die minnaar se hande. Sy arms hang langs sy sye, te min krag in hul spiere oor om die spies te probeer uitpluk.
Die kryger ruk sy spies terug en uit die minnaar se lyf. Mafungwashe se geliefde bly ’n paar sekondes nog staan, maar sak dan vooroor op sy knieë en val vorentoe op sy gesig. Sy oë sien niks meer nie, al is hulle oop. As hulle kon gesien het, sou dit die laaste spoor wees wat Mafungwashe se voet gelaat het toe sy op vlug geslaan het.
Die kryger onthou die rigting waarin Mafungwashe verdwyn het. Hy soek in die gras totdat hy seker is hy het haar spoor, en dan begin hy hardloop, agter Mafungwashe aan, seker dat hy haar sal vind en vandag nog sy naam in ere sal herstel.
Die jong kryger is vinniger en gemakliker in die ruigtes as Mafungwashe, wat teen hierdie tyd deur die struikgewas strompel, amper histeries. Met elke tree wat hy gee, haal hy haar in. Hy kan haar nog nie hoor nie, maar hy weet dit sal nie te lank wees nie.
Hy kry stukkies van haar kleding wat aan doringtakke hang.
Nie meer lank nie …
In die ruigtes langs die Umzimkulu sit Pieter de Witt en Grant Roberts mekaar en takseer. Pieter kry die gevoel hy dring nie tot die sendeling deur nie. Dit is asof die man nie wil hoor nie. Hier sit hulle, weke se harde reis weg van enige ander Boere of Britte, en die man wat almal rondom hom wil kersten, begryp nie dat Pieter hom nie wil saamneem nie.
“Onder die omstandighede,” sê die man van God, “sou dit nie baie goeie maniere van jou wees om my hier agter te laat nie.”
Bid jou aan! Goeie maniere! En wie het vir hom koffie gegee, en ’n soetigheidjie? Wie het hom saam laat eet aan die haas?
“O, nou is ek skielik ’n jintelman. Hoeveel Engelse is daar nie wat sê dat ek en my mense kwalik beter as barbare is nie? Hè?”
“Wel, moet jy hulle nie nou reg bewys nie?”
Dan hoor hulle albei die geritsel in die bosse.
Pieter gaan staan botstil, luister met gespitste ore.
Maar soos Pieter seker kon verwag het, registreer dit nie heeltemal by Roberts dat hulle nie meer alleen is nie. “En buitendien,” sê hy, maar Pieter maak hom dadelik stil.
Nóú besef Roberts wat aan die gang is. Sy oë rek groot wanneer hy sien hoe Pieter met sy geweer in die hand stil in die ruigtes verdwyn.
Roberts kom stadig orent. Hy kyk onseker om hom heen, sien vir die eerste keer werklik hoe bebos en wild dit rondom hulle is.
Hy draai in die rondte, al in die rondte, en ruk dan van die skrik wanneer hy ’n vrou se gille in die boskasie hoor.
Roberts hoor ’n geworstel in die bosse, en dan kom Pieter te voorskyn – met ’n swart vrou wat hy saamtrek en naby die vuurtjie los.
Die bruutheid van Pieter se optrede skok die sendeling. “Liewe hemel! Liewe hemel!” roep hy uit.
“Ufuna ntoni apha?” vra Pieter. Wat soek jy hier?
Sy is te bang om te antwoord.
“Antwoord my. Wat soek jy hier?”
“Wie is sy?” vra Roberts.
“Hoe sal ek nou weet? Dis wat ek wil uitvind.” Hy gee Roberts ’n vuil kyk vir sy dom vraag. Dan gee hy weer aandag aan die vrou: “Praat nou of daar is moeilikheid. Wie is jy? Wat soek jy hier?”
Die arme vrou is só oorstelp van emosie dat sy deurmekaar huil en praat, sodat Pieter nie ’n woord kan volg nie.
“As jy nie nou bedaar nie, gee ek jou ’n pak slae.”
Mafungwashe kalmeer, maar dit duur ’n ruk en verg baie geduld van Pieter. Wanneer sy praat, is sy naby aan histerie. “Hy wil my doodmaak! Hy wil my doodmaak!”
“Wie?”
“As hy my vang, gaan hy my doodmaak.”
Dit frustreer Pieter dat sy so sukkel om ’n behoorlike antwoord te gee.
En dan moet Roberts ook sy neus kom insteek: “Wat sê sy?”
“Sy sê iemand wil haar doodmaak.” Wanneer Pieter weer na die vrou kyk, sien hy dat sy al hoe kalmer word. “Wie wil jou doodmaak? Hoeveel van hulle is daar?”
Pieter sal dit nie hardop sê nie, maar hy sal graag wil weet of hy hom ook uit die voete moet maak of nie. ’n Mens kan nooit té versigtig wees nie. Hy onthou sy ma en sy pa – soos hy hulle die heel laaste keer gesien het. In hul eie bloed op die grond, vermink. Hy soek nie dieselfde lot nie.
“Daar is net een wat my wil doodmaak,” sê sy. “Ek het weggehardloop.”
“Vra haar hoekom.”
“Dis wat ek doen, Engelsman!”
Het hulle nie só gestaan en gesels nie, sou hulle die aanstormende Mpondo-kryger deur die bosse hoor aankom het. Hy bars deur die rand van die ruigtes, met sy spies en skild in die hande.
Pieter vlieg om, gereed om te vuur.
Roberts skuil agter Pieter.
“Ndize kuthatha le ntombazana!” roep die kryger uit. Ek het gekom vir daardie meisie!
“Sy sê jy wil haar doodmaak,” antwoord Pieter. “Hoekom?”
“Hierdie meisie is sleg.” Daar is minagting in sy stem. “Sy het skande oor my huis gebring.”
“Wat sê hy?” Roberts kan maar net nie sy plek ken nie.
Pieter haal sy oë nie van die kryger af nie.
“Sy’t skande oor sy huis gebring.”
Pieter kan die spanning tussen die kryger en die vrou aanvoel, die vrees wat haar laat wegdeins van hom af. “Wat het sy gedoen?” vra hy aan die kryger.
“Sy is gekies om met my te trou, maar sy het haarself aan ’n ander man gegee.” Daar is trots in sy stem, maar Pieter merk ook die pyn wat die gedagte van haar ontrouheid bring. En die pyn wek die woede, dit weet hy.
Mafungwashe hoor wat die kryger sê en herhaal haar woorde van vroeër: “Ek wil hom hê, nie vir jou nie.”
“Hy is dood.”
Sy het die nuus verwag, maar dit ruk haar steeds. ’n Rou kreet ontglip haar lippe. Mafungwashe laat sak haar kop, haar lyf skud van die huil.
Roberts het nie die vaagste benul wat aan die gang is nie. Pieter verduidelik in gedempte toon aan die sendeling wat gebeur het. Die kryger het haar minnaar vermoor.
Mafungwashe droog haar trane af. “Jy is ’n wrede man!” skel sy op die kryger. “Jy is ’n wrede man!”
Dan draai sy smekend na Pieter. “Musa ukumvumela andithathe ndiya kucela. Ndiya kucela.”
Roberts lei af dat sy smeek om beskerm te word of saamgeneem te word.
“Bly stil, vrou!” bulder die kryger.
“Wat de donner moet ek nou maak?” vra Pieter aan niemand in die besonder nie.
“Jy gaan hom tog nie toelaat om haar dood te maak nie, gaan jy?” Roberts weet nie hoe nie, maar hy voel hy moet ingryp om die gang van sake te beïnvloed. Die stem van rede, die stem van God.
“Óf sy moet vrek, óf hy moet vrek,” antwoord Pieter, met die onrus wat steeds in hom groei. “Hy sal nie sonder haar weggaan nie. Sy is aan hom belowe, maar toe gaan raak sy verlief op iemand anders. Sy eer is op die spel.”
Die kryger het nou genoeg gehad van die onsekerheid. Hy wil sy taak volbring. “Gee my die meisie, of daar is moeilikheid.”
Pieter kyk van die kryger na Mafungwashe.
“Ons kan nie toekyk hoe ’n jong vrou weggesleep word na ’n gewisse dood nie!” roep Roberts uit.
Die vraag maak Pieter sommer ergerlik. “Wat stel jy voor? Sal ons boekevat? Ek weet: Hier is jou kans om ’n siel te wen. Praat jy met hom.” Hy stamp Roberts vorentoe. “Kom, praat jy met hom. Goeie oefening vir die Zoeloes. Vertel hom van civilisation.” Hy stamp Roberts tot voor die kryger.
Die kryger se toorn ontvlam. “Daardie vrou is myne. Dis nie jou besigheid dié nie.”
“Kyk,” sê Roberts, onsekerheid wat van elke woord drup. “Ek is seker ons kan hierdie saak op ’n beskaafde manier skik.”
Die kryger verstaan nie. “Ek wil haar nóú hê!”
“Wat sê hy?” vra Roberts oor sy skouer aan Pieter, wat net sy skouers ophaal.
“Dis kwalik die tyd vir oppervlakkige grappies,” mor die sendeling.
“Dis die laaste keer dat ek praat,” kom dit afgemete van die kryger.
“Ja, natuurlik … inderdaad … net ’n oomblik,” ploeter die sendeling voort. “Om hemelsnaam, De Witt, wat sê hy?”
Roberts draai na Pieter om te hoor wat hy antwoord. Met dié lig die kryger sy knopkierie om Roberts oor die kop te slaan.
’n Enkele skoot weergalm deur die bos.
Roberts is spierwit van die skrik. Hy het nie gesien hoe die knopkierie gelig word nie.
Pieter staan met sy geweer teen die skouer; laat dit dan stadig sak. Hulle kyk stil na die lyk van die kryger. Pieter met ’n gevoel van onbehaaglikheid; Roberts met suiwer afsku en walging jeens die jong Boer voor hom.
Die vrou se asem is ook weggeslaan. Sy kyk stadig van die dooie kryger op na Pieter.
“Hy’t gesê dit was jou laaste kans,” verduidelik Pieter sag.
“Jy’t hom geskiet,” prewel Roberts.
Niemand is so ondankbaar soos ’n onnosel sendeling nie, dink Pieter. “Ja,” antwoord hy. “En het ek ’n sekonde langer gewag, het jý daar gelê.”
Roberts loop stadig na die lyk. “Maar hy’s dood.”
“Natuurlik is hy dood. Wat dink jy is dit hierdie – ’n kleilat?”
“Maar ek … ons … hy …”
Pieter haal die blikkie soetigheidjies uit sy sak, maak dit oop, haal een uit en hou dit uit na Roberts. “Dè.”
Roberts kyk ’n oomblik na die soetigheidjie en strompel dan die ruigtes in, waar Pieter hom hoor braak.
Dis ’n harde wêreld hierdie, dink Pieter. En die bliksem besef nie eens dat ek pas sy lewe gered het nie.
Terwyl die sendeling vrede maak met sy verknorsing, gaan sit Pieter op ’n stomp om sy geweer te herlaai. Dis nogal ’n proses.
Mafungwashe hou hom dop.
Pieter kyk na Mafungwashe en dan weer terug na sy geweer.
Mafungwashe staan stadig op en stap oor na die lyk van die kryger. Die man langs wie sy nooit snags sal lê nie. Sy por sy liggaam met die een voet om seker te maak hy is dood, en dan begin sy op hom skree – ’n aanmekaar gebabbel soos sy hom slegsê en vervloek.
“Kwanele! Kwanele!” roep Pieter haar tot orde.
Sy kom mettertyd tot bedaring.
“As jy so lawaai, is daar netnou nog moeilikheid,” merk Pieter droogweg op. Sy geweer is amper klaar gelaai.
Sy antwoord nie.
Pieter sug en skud sy kop.
Roberts kom uiteindelik vanuit die ruigtes aangestap. Hy vee sy mond met ’n sakdoek af.
Mafungwashe kniel voor Pieter.
Roberts steek vas net waar hy is wanneer hy die toneeltjie sien. Hy hou hulle stip dop.
“Ubusindisile ubomi bam ngo kunidingowakho,” sê Mafungwashe aan Pieter.
Pieter antwoord nie, kyk haar net ernstig aan, weeg haar woorde, onseker oor wat hom te doen staan. Daan gaan hy voort met die herlaai van sy geweer.
“Wat het sy gesê?” vra Roberts.
“Ek het haar lewe gered en nou is sy myne.”
“Angekhe ndibuyele kubo ngoku kuba bangandibulala. Apho uya khona nam ndihamba nawe.”
“Sy kan nie teruggaan nie,” vertaal Pieter vir die sendeling,”hulle sal haar doodmaak. Sy sê waar ek gaan, sal sy gaan.”
“Die Here werk op misterieuse maniere. Jy was onwillig om my te laat saamstap met jou, omdat ek jou vordering sou vertraag. Maar nou … As jy een saamneem, kan dit net sowel twee ook wees, nè?”
“Sy is klein,” sê Pieter. “My perd sal haar nie voel nie.”
“O, ek sien,” snip Roberts, “wanneer ek vra, is die antwoord nee, maar wanneer die kans kom om jou eerste slaaf …”
“Sy is nie my slaaf nie, meneer die sendeling!” Pieter is dadelik onstuimig kwaad. “Sy kan loop net wanneer sy wil. Sy vra om saam te kom … en anders as met jou, het sy hande om te help as ek my plaas afgetree het. Gaan huis toe, terug Engeland toe. Jy hoort nie hier nie.”
Roberts antwoord nie, staan net stuurs sy situasie en oordink.
Mafungwashe kyk stil na Pieter.
Pieter kyk na Mafungwashe. Hy knik een keer: Ja.
Mafungwashe laat sak haar kop dankbaar.
“Wat gaan jy met hom doen?” vra Roberts, en wys na die lyk van die kryger.
“Jou gemors, maak jy dit skoon. Die rivier is net hier onder.”
“Jy kan nie ernstig wees nie.”
Hoe ver kan hy hom treiter? wonder Pieter. “Ek het nie ’n graaf nie, jy gaan nie nou klippe kry om hom mee toe te pak nie, en ek gaan nie slaap met ’n lyk wat langs my lê en vrot nie. As jy ’n beter plan het, luister ek graag; so nie, die rivier is soontoe.”
Pieter haal sy blikkie soetigheidjies uit sy sak, haal een uit en hou dit uit na Mafungwashe – maar nie na die sendeling nie. “Eet dit,” sê hy. “Dis lekker, soos heuning.”
Sy huiwer. Dan neem sy die soetigheidjie en sit dit in haar mond.
“Wat is jou naam?” Pieter besef hy moet ’n soort verstandhouding met haar begin vestig.
“Mafungwashe.”
“Mafungwashe. Eerste dogter.” Hy kyk haar ’n rukkie peinsend aan en sê toe: “Ek noem jou Eerste.”
“Eerste.” Sy sê dit versigtig na, soos hy dit uitgespreek het.
Pieter knik goedkeurend. “Eerste dogter van jou vader en eerste dienskneg op my plaas.”
“Julle moet my vergewe, maar ek dink ons moet nou bid.” Roberts voel hier het vandag soveel dinge gebeur dat ’n gebed die enigste manier sal wees om kalmte vir die gees te verkry.
Pieter wil nie in Engels bid nie. “’n Leeu vra nie om vergifnis elke keer as hy ’n bok vang nie.”
“Ek vrees jy is ’n goddelose mens.”
Pieter kom vinnig en onverwags orent.
Die sendeling dink Pieter gaan hom aanrand, maar Pieter stap oor na sy saalsak wat langs sy saal lê. Hy haal ’n ou Nederlandse Familiebybel daaruit. “Hierdie Bybel het aan my oupa behoort,” sê hy deur dun lippe, “en aan my pa ná hom, en nou behoort dit aan my. As God met my wil praat, sal hy hier praat, nie in gebed met ’n donnerse Engelsman nie.”
“Meneer De Witt,” vermaan die sendeling hom. “Ons het pas ’n mens hier doodgemaak. Gods Woord verbied dit baie duidelik.”
Pieter gaan nie met sy geloof laat mors nie. “Adam en Eva is uit die paradys verban, of het jy dit vergeet? Ons lewe in die wêreld, en die wêreld is ’n wildernis, my magtag! As ek hom weggejaag het, sou hy eenvoudig gewag het tot ons slaap – en dan teruggekom het. En as hy dit nie vanaand gedoen het nie, sou hy dit môre of oormôre gedoen het. Sy eer was op die spel en hy het gesterf terwyl hy dit verdedig het. As hy nie hierdie vrou tot verantwoording kon bring nie, sou hy dit nie anders wou gehad het nie, want tussen sy eie mense sou hy nie meer met eer kon lewe nie. Ek weet nie wat hulle jou by jou missionary-skool geleer het nie, maar hoe gouer jy dit vergeet, hoe beter. Dis Afrika dié; hier praat bloed. Dis al.”
Maar Roberts besluit om Pieter te ignoreer. Hy sak op sy knieë neer en vou sy hande voor hom in gebed. “Onse Vader wat in die hemel is, U het my na hierdie onverbiddelike land gebring om u werk te doen, maar die duisternis wil my oorweldig, wil die pad vorentoe versluier …”
“Donner!” Pieter wil nie met die man inmeng wanneer hy bid nie, maar bly hoef hy nie te bly nie. Hy slinger sy geweer dwars oor sy bors en stap na die kryger se lyk. “Eerste! Yiza!” roep hy. Hy vat die kryger onder die skouers, beduie aan haar om die voete te vat.
Roberts hou op bid en hou vir Pieter en Eerste dop terwyl hulle die lyk wegdra.
Net voor hulle in die boskasie in kan verdwyn, snou Pieter vir Roberts oor sy skouer toe: “Sorg dat jy weg is voor ek terugkom, of jy sal rede hê om te bid.”
Roberts keer terug na sy gebed: “O Heer, waarom het U U aan my onttrek? Al wat ek wil doen, is u werk, om om te sien na u kudde, om …” Dan raak hy skielik stil. Hy maak sy oë oop. Hy staan op en kyk na waar Pieter en Eerste verdwyn het. Weer sak hy op sy knieë neer en bring sy hande saam in gebed. “Daar staan geskryf dat ’n mens nie doodslag mag pleeg nie, en dit het ek gedoen. Vergewe my daarvoor … en vergewe my ook … vir dít wat ek nou gaan doen. Dit is ’n sonde, maar een wat u groot naam sal uitdra.”
Roberts staan uiteindelik op. Hy stap reguit na Pieter se saalsak en begin daarin krap. Hy bring ’n stukkie wit lap te voorskyn. Dan loop hy na die vuur en krap in die rand tot hy ’n stokkie kry waarvan die punt tot houtskool verbrand is. Hy lê die lappie op die grond neer en begin met die houtskool daarop skryf, sy boodskap oor die daad wat tot God se eer sal strek.
Wanneer sy boodskap klaar is, vou hy die lappie toe en lê dit versigtig neer op die stomp voor die rivier. Dan kom hy orent en gryp wat hy nodig het.
Skaars dertig tree van die sendeling af sleepdra Pieter en Eerste die lyk tot by die water van die Umzimkulu. Pieter stoot die lyk in die rivier in en gee dit dan nog ’n stoot om hom dieper in te stuur. Die lyk dryf stadig in die stroom in. Pieter en Eerste kyk hoe dit wegdryf. Wanneer dit die hoofstroom bereik, beweeg dit al hoe vinniger uit hul lewe uit.
Eerste kyk na Pieter, en dan nederig weg. Soveel het vandag in haar lewe verander dat sy amper nie kan glo dat sy haar lewe toevertrou het aan hierdie man wat sy eers vandag leer ken het nie.
“Nou ja toe,” sê Pieter en begin terugstap na die kamp.
Roberts is weg, sien hy wanneer hulle die oopte bereik. “Goed so,” sê hy, en in sy gemoed wil hy juig. Hy kan nie elke dag met dié vent opgeskeep sit nie; hy sal daarvan mal word.
Hy stap rustig na sy vuurtjie. Net wanneer hy op die stomp gaan sit, vries hy, agterstewe in die lug. Hy kyk verstom af na die gevoude wit lappie op die stomp. Dan kyk hy verder. Geen saal nie. Sy saal is weg!
“Waar’s my saal?” Pieter is nou heel verdwaas, kan nie mooi begryp wat aan die gang is nie. Hy vou die lappie oop. Sien die woorde daarop in houtskool geskryf: Your horse is in the service of the lord.
“Bliksem!” Dit voel of iemand sy maag weggekerf het – al sy aardse besittings weg! Hy het die dag ingekom met ’n handjie vol van die allernodigste goed, nou het hy net vir Eerste.
Pieter gaan sit, staar na die vuur. Die swernoot het darem sy koffiekan en bekers gelos. Sy mes, ’n paar ander dingetjies wat sy gulsige vingers in sy haas nie bymekaar kon skraap nie. En daar staan sy geweer nog. Sy Bybel, merk Pieter, lê nog netjies toegedraai waar hy dit neergesit het.
Nou goed, dink hy, as dit dan nie anders kan nie, sal hy soos die Israeliete van ouds te voet na Kanaän stap. Eerste, sien hy, is gereed vir die lang pad vryheid toe. Nie ’n dag se stap nie. Nie ’n week nie. Maande.
Pieter en Eerste stap op na die rand van ’n hoë plato. Die rand loop van links na regs voor hulle. Hulle stap nader en kom tot stilstand. Voor hulle lê ’n vallei groen en wyd uitgestrek. Woes en leeg, soos die Bybel sê.
Pieter se gemoed skiet vol. Die maande se stap was nie verniet nie. Die voetseer, die honger. Die slange wat hulle moes trotseer. Dit was nie verniet nie.
Pieter en Eerste staan sy aan sy en aanskou die landskap waar hul toekoms lê.
Dan sien Pieter dit: Teen ’n lang hoogtetjie staan ’n ossewa. Hy beduie aan Eerste hulle moet in daardie rigting beweeg.
Hoe nader hulle kom, hoe meer raak sigbaar: Die ossewa is uitgespan, en die trekker se vee en osse wei in die omgewing, nie te ver van die ossewa nie. Naderby kan hy die mense begin tel: ’n man, ’n vrou, nog ’n jongerige vrou en vier kinders.
Die vrou is besig om kos te maak in ’n pot wat oor ’n vuurtjie hang. Die man moet baie moeg wees, want hy staan nie eens op wanneer hy die wit man en swart vrou sien nader stap nie, die man voor en die swart vrou ’n klompie treë agter hom. Hy vat net sy roer wat teen die ossewa se wiel staan en hou dit by hom, kolf teen die grond.
Die kinders speel eenkant. Wanneer hulle die vreemde paar aangestap sien kom, hou hulle ’n rukkie op en staar die twee net aan. Maar dan kry hul lewenslus weer die oorhand en speel hulle voort.
Pieter kom, uit eerbied en goeie maniere, so tien tree van die sittende trekboer tot stilstand. “Dagsê,” soos dit ’n Afrikaner betaam.
“Dagsê.” Die trekboer is versigtiger, sy groet minder geesdriftig.
“Ek is Pieter de Witt van die kolonie in die Oos-Kaap. Ek’s op pad noord om vir my ’n plaas uit te tree.” Die hele sak patats.
“Jakob Oosthuizen.” Hy knik in die rigting van die ouer vrou. “My vrou Hanna,” en daarna na die jonger vrou, “en Magriet van der Merwe.”
Pieter knikgroet vir die twee vrouens. Albei het kappies op en is aangetrek asof hulle swieriger uitspanplekke gewoond is: behang van die gehekelde skouerdoeke, rokke wat die grond om hul voete behoorlik skoonvee.
Hanna Oosthuizen knikgroet eweneens. Magriet glimlag effens en knikgroet terug.
“Die Oos-Kaap sê jy?” Jakob Oosthuizen kom self uit die distrik Beaufort, maar hy swyg vir eers daaroor.
Pieter knik.
“Dis nogal ’n entjie.” Jakob kyk Pieter goed op en af. Sien die roer. Iets makeer. “Waar’s jou perd?”
“In diens van die Here.” Wanneer hy Oosthuizen sien frons, sê Pieter haastig: “Dis ’n lang storie.”
Die trekboer is nie baie spraaksaam nie. Beter om versigtig te wees. “Jy sê jy’s op pad noorde toe …?”
Pieter knik.
“Jy moet weet …” Oosthuizen swyg dramaties, nie seker hoe hy sy nuus aan die jongman hier voor hom moet oordra nie. “Dingaan se impi’s het ’n paar maande gelede amper driehonderd mans, vrouens en kinders by Doringkop en Bloukrans en ander plekke langs die Boesmansrivier vermoor. Ons was daar …” Hy beduie na Magriet. “Magriet ook. Ons was onder die gelukkiges wat die aanval oorleef het. Magriet se man was nie.”
Magriet laat sak haar kop. Pieter kan haar gesig nie sien nie, maar is seker sy is in trane.
“Ek stel voor jy dink twee keer voor jy in daardie omgewing vir jou ’n plaas loop uittree,” sê Oosthuizen. Terwyl hy praat, bly sy hande besig met die kerf van ’n stuk biltong.
“Ek reken ons voorouers moes twee keer gedink het voor hulle dit goedgedink het om hulle op hierdie kontinent te kom vestig,” merk Pieter op. “Maar hier is ons nou. En wat die Zoeloes betref, ek sukkel eerder met ’n Zoeloe as wat ek met ’n Engelsman sukkel.”
Oosthuizen knik sy kop stadig. Hy is dit roerend eens met Pieter. Hy maak met die hand ’n gebaar na sy kamp. “Jy’s welkom.”
Pieter kry sy sit, en hy en Oosthuizen raak aan die gesels. Hy is verbaas om te hoor hoe goed voorbereid die Voortrekkers was toe die eerste trekke in 1835 uit die Oos-Kaap weg is. Oosthuizen is, nes Pieter, eerder ’n trekboer, omdat hy nie van die begin af by een spesifieke trek ingeskakel het nie, hoewel hy meestal saam met georganiseerde trekke getrek het. Alleenloper, eens boer in die Koup, maar soekend na die paradys.
Pieter vertel hom van die verlies van sy ouers, slagoffers van die geplunder aan die Oosgrens, en hoe dit gekom het dat hy sonder perd maar met lyfkneg sy lang staptog na sy eie Kanaän aangedurf het. Pieter leer uit die ouer man se opmerkings – maar hy maan homself telkens om nie ook gehap te word deur die donker hond wat Oosthuizen se gemoed in besit geneem het met die groot slagting van mens en dier by Bloukrans nie.
En so tussendeur vang sy oog dié van Magriet, en haar oog vang syne, en hy voel iets begin roer in hom. Die soort gevoelens wat hy laas in Grahamstad ervaar het by die aanskoue van vrolike jong meisies.
’n Paar uur later sit hulle om die vuur aan vir ete – Oosthuizen en sy vrou, Pieter en Magriet. Hulle eet in stilte. Pieter doop ’n stukkie brood in die bredie op sy bord en byt dit af. Terwyl hy kou, kyk hy onderlangs na Magriet, wat oorkant die vuur van hom sit en eet. En hy sien sy hou hom ook dop. Sy hart wil bollemakiesie slaan. Dan kyk sy weer weg, en ’n diepe, diepe verlange groei by hom.
Hul kos het net mooi gesak of Oosthuizen klop sy pyp teen sy skoen uit. “My vrou,” sê hy vir Hanna, “tyd om lappe te trap. Ek wil voor sonop inspan.”
Almal staan op; Pieter ook, uit hoflikheid. Maar eintlik weet hy nie nou wat om te doen nie. “’n Goeie nag se rus vir julle,” is al waaraan hy kan dink om te sê. Dis mos hoe beskaafde mense dit doen. En dan voeg hy by, amper vergeet daarvan: “Dankie vir julle gasvryheid.”
Oosthuizen knik net vir die jongman se amper formele hoflikheid. Maar hy is ook nie blind nie, en wag vir Pieter om weer te praat.
“Ek wou nog vra …” stamel die jongman.
Oosthuizen, Hanna en Magriet draai terug.
“of ek …” hy soek na woorde, “toestemming kan kry om met Magriet te praat.”
Oosthuizen kyk na Magriet, merk geen teken van kommer by haar nie en draai dan terug na Pieter. “Magriet is ’n weduwee. As jy met haar wil praat, moet jy maar vir haar vra.”
Magriet kyk Pieter vas in die oë. Sy knik, duidelik, doelbewus. Pieter weet nie dat sy wil bokspring en “Ja, ja, ja!” roep nie. Hy weet nie van haar frustrasies om altyd die vrou in die wa te wees wat maak of sy slaap nie.
Die Oosthuizens stap weg na die agterkant van die wa. Nou is dit net Magriet en Pieter wat agterbly. Hy staan nader aan haar. “Ek is nie ’n man van baie woorde nie,” sê hy.
Magriet kyk hom net stil aan.
“Soos ek gesê het. Ek gaan vir my ’n plaas aftree. Ek soek ’n vrou. En seuns. Om die grond te bewerk.”
Sy wag om te sien of hy nie nog gaan praat nie, maar merk dat hy met groot afwagting na haar kyk, sy senuwees aan flarde oor haar moontlike reaksie.
“Wie is sy?” vra Magriet uiteindelik.
“Wie?”
“Wat saam met jou hier aangekom het?”
“My dienskneg.”
Pieter is gesout in die weë van die natuur, van oorleef tussen wilde diere waar ’n man se staal daagliks getoets word, maar van die draaie wat ’n vrou se gemoed kan maak, weet hy niks. Hy antwoord Magriet se vrae sonder om ooit daaraan te dink dat hulle uit onsekerheid en agterdog spruit. Hy twyfel nie aan sy eie eerlikheid nie, hoekom sou enigiemand anders?
“Waar kom sy vandaan?”
“Dis ’n lang storie.”
“Jy’t baie lang stories.”
“Ek kom ’n lang pad.”
“Wat’s haar naam?”
“Eerste.”
“Eerste?”
“Haar Xhosa-naam is Mafungwashe.”
“Mafung- …” Magriet sukkel om die naam uitgespreek te kry.
“Presies!”
Magriet staar hom ’n oomblik stil aan voor sy die vraag gevra kan kry: “Het julle …?”
Hy verstaan skielik wat sy bedoel. Dit gaan sy verstand te bowe dat sy so iets kon dink. Hy skud sy kop met ’n frons op sy gesig wat Magriet tot orde roep. “Nee.”
Magriet het genoeg gehoor. “Belowe jy om ’n goeie man te wees?”
“Ek belowe.”
“Dan is my antwoord ja.” Formeel gesê, maar sy gee ’n tree nader.
Pieter knik. Hy beweeg op sy beurt nader, maar raak nie aan haar nie.
Toe die Oosthuizens se ossewa die volgende oggend vertrek, staan Pieter en Magriet langs mekaar en kyk hulle agterna. Eerste staan ook en kyk, tien tree agter die nuwe paartjie.
Om oor soveel jaar terug te kyk, is ’n waagstuk, maar ek kan my voorstel dat hierdie episode in die lewe van Pieter de Witt soos volg afgeloop het: In Februarie 1839 kom hy en sy vrou, Magriet, saam met Eerste in ’n vallei in die heuwelwêreld duskant Weenen aan. ’n Raps meer as twee maande gelede is, soos die kraai vlieg, die Slag van Bloedrivier sestig myl hiervandaan deur Andries Pretorius en vierhonderd drie-en-sestig manne, met tweehonderd agterryers, teen Dingaan se tienduisend krygers gewen. Dit is ook net meer as ’n jaar nadat Dingaan nie ver hiervandaan nie, by Umgungundlovu, vir Piet Retief en sewentig Voortrekkers om die lewe gebring het. Met eerwaarde Francis Owen wat staan en toekyk.
Maar tien teen een wis Pieter nie veel van hierdie geskiedenis nie. Jakob Oosthuizen het hom ’n bietjie kon vertel; ander brokkies het hy sekerlik langs die pad ingewin by mense wat hy en sy twee medereisigers raakgeloop het.
Pieter was ongetwyfeld met hartseer vervul oor die dood van Retief, met wie sy ouers nog in Grahamstad bevriend was. Maar aan die geskiedenis – daarvan kan jy verseker wees – het Pieter hom min gesteur. Sy gedagtes, heelpad van die Umzimkulurivier af, was by die inslaan van sy penne, die bakens waardeur hy die grens van sy plaas, sy eie plaas, wou afmerk. Hy glo daarin dat sy lewe sal orde en rigting kry sodra hy sy eie lappie grond het. Hy glo ook dat ’n mens dinge reg moet doen.
Dis maklik om nóú so te sê, maar eintlik was sy doelwit baie eenvoudig: Hy wou ’n plaas afbaken, gaan boer. In vrede gelaat word.
Wanneer hy die eerste stok inkap om die afbakening van sy plaas te begin, is Magriet en Eerste aan sy sy. Hy gebruik ’n klip om die stok in te dryf in die aarde in, en wanneer dit diep genoeg is sodat nóg wind nóg weer dit sal ontwortel, gooi hy die klip eenkant neer.
Hy kyk na die stok en na die horison. “Ek noem hierdie plaas Donkerland,” verklaar hy. “Sodat ons nooit sal vergeet waar ons is nie.”
Magriet kyk toe, in haar mooi paisleypatroonrok en kappie. En agter haar, ’n goeie klompie treë terug, staan Eerste, skouers kaal, en haar aardse goed in haar hande geklem.
Pieter gaan staan met sy rug na die stok, teenaan die stok. Hy haal diep asem, en neem dan die eerste tree in Donkerland in.