Читать книгу Donkerland - Deon Opperman - Страница 4

Оглавление

2

’n Stukkie grond

Dit is waarvoor ek gebid het: ’n stukkie grond, nie te groot nie. Met ’n tuin, en naby die huis ’n fontein vars water, en ’ n stukkie woud om dit af te rond.

— Horatius

1840

Wanneer ek ook al oor die geskiedenis – óns geskiedenis – nadink, dan tref dit my telkens dat daar een ding is wat Afrika die De Witts geleer het, en dit is iets waarop jy maar kan ag slaan: Hy wat oppermag verkry deur bloedvergieting kan nooit rustig slaap nie.

Kyk nou maar: Dingaan, koning van die magtige en trotse Zoeloenasie, het in 1828 koning geword deur sy halfbroer Shaka te laat vermoor – met die hulp van een van sy ander broers, Umhlangana. En sodra daar bloed in ’n familie gevloei het, is dit asof almal kop verloor. Dit is asof hulle hul skaamte verloor het. Hul skaamte en afsku van doodslag.

Dingaan het sy hoofstat, Umgungundlovu, asook verskeie ander militêre vestings, in die Emakhosini-vallei ten suide van die Witumfolozi-rivier gebou. Net om die draai, kan jy maar sê, van waar Pieter de Witt Donkerland gevestig het. Dingaan het hom omring deur sy vroue en howelinge, sodat Umgungundlovu altesame vyfhonderd mense gehuisves het. Sy krygers was altyd paraat in dié militêre kampe, maar hy kon ook staatmaak op derduisende volgelinge wat binne dae na sy hoofstat kon opruk.

Dingaan was ’n minnaar van vele, maar ook ’n uitgeslape leier. Jy ken die geskiedenis: Nadat die volgelinge van Sekonyela, die Tlokwa-hoof, ’n groot aantal beeste by Dingaan geroof het, het Dingaan vir Piet Retief gemanipuleer om die vee te gaan haal en terug te besorg – in ruil vir ’n paar grondkonsessies. Wat dalk nie so algemeen bekend is nie, is dat teen die tyd dat Dingaan vir Retief, sewentig medetrekkers en dertig agterryers op 6 Februarie 1838 laat vermoor het, daar al verskeie Zoeloehoofde was wat nie meer met Dingaan saamgeloop het nie. Een van hulle was Mpande, halfbroer van Shaka en Dingaan, wat saam met sy volgelinge met vee geboer het in die omgewing van die dorpie Pietermaritzburg, wat gestig is deur die Voortrekkers nadat Dingaan by Bloedrivier verslaan is. Mpande het gevoel hy is bestem vir groter dinge. Hy het egter geweet hy sou nêrens kom sonder die hulp van die Trekkers nie.

Probeer nou hierdie prentjie vir jou indink. Mpande sit in die veld op ’n heuwel ten noorde van Pietermaritzburg, omring deur hoofmanne, raadgewers en sy eie krygers. En hy onderhandel met Andries Pretorius, die gevierde Voortrekkerleier en kryger wat reeds in 1838 uit die Kaapkolonie in Natal aangekom het. By hom is Jan Serfontein en ’n jong Trekker wat as tolk optree, met ’n klompie gewapende jong boere wat die gesprek van ’n afstand dophou. Almal mense wat goed bekend was aan onse patriarg, Pieter de Witt.

“Nou goed,” roep Mpande uit.

Die twee Trekkers draai terug na hom en sy hoofmanne. Hulle kyk vraend na die tolk. Die gesprek is op ’n mespunt en hy knik net, waag dit nie om nou iets te sê nie.

“Veertigduisend,” sê Mpande. “Maar dan moet dit die einde van Dingaan wees.”

Dit is hoeveel beeste Mpande aanbied in ruil vir die hulp van die Trekkers. Die wit boere uit die suide van die land moet Dingaan, die eens magtige leier maar nou gekasty deur troubreuk deur so baie van sy hoofmanne, op sy knieë dwing.

Maar eers het Mpande vasgeskop, wou nie meer as negentienduisend stuks vee afstaan nie. Pretorius en Serfontein het aangedring op veertigduisend, en in ’n stadium moes die tolk, Johannes, benoud toekyk hoe die twee Trekkers skielik hul rug na Mpande keer en begin wegstap – die aanbod was belaglik. Mpande se “veertigduisend!” het hulle laat vassteek en omdraai.

“Veertig is reg,” antwoord Serfontein. “As ons hom help om van Dingaan ontslae te raak.”

Mpande en sy krygers sal vir die doodsteek sorg, maar die Trekkers moet eers sy leër vernietig. Die Trekkers verstaan dit goed. Aan hom wat die mag oorneem, gaan die eer om die tiran se bloed te tap, in die ryke aarde van Natalia te laat wegsypel. En wanneer dit verby is, volg die betaling aan die Trekkers: beeste.

“En ons soek werkers. Inboekelinge,” sê Andries Pretorius. Hy weet dit gaan baie sweet kos om hul plase gevestig te kry.

Johannes dra die versoek aan Mpande oor.

Mpande staan op, maak ’n gul gebaar met arms wydgestrek. “Ek sal die koning oor baie mans wees.”

“Het hulle ’n kaart van Dingaan se kraal?” wil Serfontein weet. “’n Prentjie?”

Mpande glimlag wanneer die tolk die versoek aan hom rig. Hy wink hulle nader, en sodra hulle die grond voor hom stip bekyk, begin hy met sy assegaai ’n kaart teken.

Wanneer hy klaar is daarmee, beduie hy deur die tolk na die deel van die kaart wat die naaste aan hom is: “Ek sal van hierdie kant af kom en julle van daardie kant.” Hy beduie met sy assegaai se lem presies waar hy hulle sal verwag. Toe hy klaar is, kyk hy vol afwagting op na die Trekkers.

Voordat Pretorius kan antwoord, pluk Serfontein aan sy hemp se mou. “Kan ons hom vertrou?”

Die dood van Piet Retief enkele maande gelede is nog rou in die Trekkers se geheue. Maar miskien het Pretorius reg, dink Serfontein. Hier sal waarskynlik niks gebeur nie, want hier is nie Engelse sendelinge in die omgewing nie.

“Tot Dingaan dood is,” sê Pretorius. “Daarna sal ons maar moet sien.”

Mpande kyk hulle vraend aan.

Pretorius kyk Mpande vas in die oë, maar praat met Johannes: “Sê vir Mpande ons sal hom help, maar hy moet weet: As dinge nie gebeur soos ons vandag hier ooreengekom het nie … Ek herinner hom aan wat by Bloedrivier gebeur het.”

Pretorius wink Johannes en jong Diederichs, ’n Trekker wat pas mondig geword het, nader. “Sorg dat julle nie gewaar word nie,” beveel hy. “Ek soek deeglike verkenning van hoe die grond aan die oostekant van die kraal lê.”

Die twee jong manne knik soos wafferse samesweerders kop.

“Nou ja toe,” sluit Pretorius af. “Mpande het drie van sy manne gegee om julle te lei. Maar wees versigtig.”

Die twee jong manne stap vinnig weg.

Pretorius en Serfontein staar hulle ’n oomblik agterna; die onheil wil maar net nie ophou om aan hulle te knaag nie.

“Ek vertrou nie ’n man wat sy broer wil vermoor nie,” sê Pretorius.

“Vra maar vir Piet Retief,” antwoord Serfontein.

Ja, wil ’n mens sê, vra maar vir die ou tannie ook. Daardie wysheid sou soveel wyser gewees het as hulle met Piet Retief se weduwee gaan gesels het. Laat ek dit dan nou in hierdie stadium van die verhaal maar sê: Die Voortrekkers kon fluks met die vinger wys – maar nooit na die weduweemakers in eie geledere nie.

’n Jaar gelede het Magriet gekyk hoe Pieter de Witt ’n merkpaal uit die takke van ’n boom kap en die stok met ’n groot klip die grond in hamer. Plegtig het hy die plaas sy naam gegee, Donkerland, sodat hulle nie kon vergeet waar hulle is nie.

Nou lê die uitgedroogde paal eenkant, heeltemal verweer sedert Pieter dit ingeslaan het. Daarnaas staan Pieter, met sweet wat sy hemp donker vlek, besig om die laaste klippe van ’n groot stapel te pak. Die merker vir sy stukkie aarde.

Om ’n plaas uit te tree … om te sê: “Hierdie stukkie grond is myne,” is een ding. Maar om daardie stuk aarde te bewerk, te bebou tot dit ’n land van melk en heuning is – lande wat so groen lê dit maak die oog seer; beeste vet en gesond; en ’n stewige opstal vir jou vrou en kinders, iets om na te laat aan die geslagte wat kom – dis iets heeltemal anders. Dit het Pieter gou ontdek.

Hy tel die stok op, kyk daarna, vryf met sy hand daaroor. Hy bekyk sy plaas. Iets vang sy oog in die verte.

Hy gooi die stok eenkant. Soos blits is sy geweer in sy hand. Hy korrel, beweeg die loop effens na links om sy teiken te volg en trek dan die sneller.

Magriet hoor die skoot waar sy in hul nederige huisie werskaf. Dis nog net die begin van ’n opstal – Pieter bou aan soos hul behoeftes groei, met klei en klip en kalk wat hy by ’n smous uit die hawestad kry.

Sy kyk deur die venster, sien in die verte ’n klomp tarentale wegvlieg.

By sy klipstapel staan Pieter breed en glimlag. Iets vir die pot!

Hy gaan haal die tarentaal, saam met twee ander wat hy vroeër geskiet het; stap aan na die huis wat, as hy heeltemal eerlik moet wees, nie oral honderd persent haaks is nie.

Eerste sit ’n ent van die huis dierevelle en brei – daar is nog nie genoeg plek in die huis om sulke take te verrig nie. Sy vee met haar hand oor die sagte haartjies.

“Grietjie!” roep Pieter van ’n afstand.

Wanneer sy by die huis uitkom, bokspring sy hart van voor af. Elke keer dat hy haar op ’n afstand sien en merk hoe die kind wat sy dra haar sigbaar swanger laat lyk, swel sy hart van trots. Hy het uit behoefte ’n vrou geneem, maar daar het gou ’n band van liefde tussen hulle ontstaan. Pieter is ’n korrelkop, dít het Magriet gou agtergekom, maar in daardie gespierde borskas klop ’n hart van goud. Hy is ’n man van sy woord.

En sy het hom nie in die steek gelaat nie. Daardie netjiese stuk lap waarmee sy die sitplek van sy fluweelbroek reggemaak het – dis haar handewerk. En sy hemde sit nou beter aan hom nadat sy ’n bietjie van die tierlantyntjies losgetorring het.

En sy hare! Dit kos ’n vrou se hand om die woesteling minder na ’n takhaar te laat lyk. Wat Magriet nie met ’n skêr kan regkry nie – selfs Pieter se baard lyk al na dié van ’n hardebaard.

Pieter sit die drie tarentale eenkant neer. Eerste kom nader met ’n groot kom om hul vere te pluk en hulle skoon te maak. Hoe meer hy nadink oor hul nederige begin hier op Donkerland, hoe meer is hy verheug oor die gemaklike manier waarop alles geskied. Magriet kom na hom aangestap, bly oor die tarentale wat hy gebring het. Sy wens hom geluk, en voor sy haar kom kry, het hy agter haar rug om geglip en staan nou met sy hande om haar gevou, rustig rustend op die uitstulping wat hul babatjie by haar buik maak.

“Hoe gaan dit met my seun?” vra hy.

Hy voel hoe sy effens terugleun teen hom. Dis ’n sensasie wat hom elke keer lam in die knieë maak: die wete dat hy die steunpilaar vir hierdie pragtige vrou is, dat hy haar en hul ongebore kind veilig maak deur dáár te wees vir hulle.

“Sê nou dis ’n dogter?” skerts sy.

Magriet het ná die doodslag van haar familie eers by Pieter weer leer glimlag, leer korswil en terg. Wanneer sy lag, is dit vir hom die mooiste geluide wat hy nog gehoor het.

“Jy dra te laag,” sê hy. Hy het nie die vaagste benul waarvan hy praat nie, onthou net sy ma het altyd gesê ’n vrou dra laag aan ’n babaseuntjie. “Ek wil ’n fris boerseun hê. En ek kry altyd wat ek nodig het.” Hy stryk met die plat hand oor haar maag. “Jakob Pieter de Witt. My pa se naam.” Hy soen haar op haar wang.

Magriet tree onverwags skaam weg, beduie met haar kop na Eerste – “Nie voor die volk nie …”

Pieter lag.

Eerste is maar altyd in en om die opstal. Wanneer sy die tarentale gereed het vir die pot, hervat sy haar werk aan die dierevelle wat sy besig is om te brei.

“Vir die baba?” vra Pieter haar.

Eerste knik net. Sy was tydens hul maande lange staptog nooit spraaksaam nie, en die ysige stilte tussen haar en Magriet is nog nooit heeltemal gebreek nie. Magriet se jaloesie is vir Eerste onverstaanbaar, maar daar is geen manier waarop sy behoorlik met haar kan gesels nie.

Kufuneka sikufunele indoda. Ndifuna abasebenza kweli plasi lam.” Pieter praat met haar Xhosa, tot Magriet se groot frustrasie. Maar soos gewoonlik vergeet hy om aan Magriet te verduidelik dat hy vir Eerste gesê het dis tyd dat hulle vir haar ’n man kry, want Pieter het werkers vir die plaas nodig.

En soos gewoonlik ruk Magriet haar op wanneer sy uit die geselskap gesluit word. “Ek wens jy wil ophou om haar taal in die huis te praat.”

“Ek sê maar net … dat ons vir haar …”

“Ek wil nie weet nie,” val Magriet hom in die rede. “Sy moet ons taal leer.”

Hy verstil, maar dan tref ’n blink ingewing hom. “Nou ja, leer haar dan.”

Pieter tel ’n tarentaal op en hou dit voor Eerste. “Tarentaal,” sê hy.

Eerste kyk hom onseker aan. Sy weet nie mooi wat aan die gang is nie.

“Tarentaal.” Op Xhosa vra hy haar om sy Afrikaanse woord te herhaal.

Eerste begin snap wat Pieter probeer doen. “Tarentaal,” sê sy, maar dit kom skeef uit.

“Ta-ren-taal,” herhaal hy.

“Ta-ren-taal.”

Sy vorder.

“Ja. Tarentaal.”

“Tarentaal.”

Hy tel ’n mes op, hou dit vir haar op. “Mes.”

Eerste herhaal makliker.

Pieter maak asof hy met die mes sny. “Sny,” sê hy.

Eerste volg nou goed, herhaal alles wat hy sê.

Pieter knik vir haar, bring die mes na die tarentaal. “Sny tarentaal,” sê hy. “Haal derms uit. Yitsho. Sê dit.”

“Sny tarentaal,” herhaal Eerste. “Haal uit.”

Pieter gee die tarentaal en mes vir Eerste. “Daar gaat jy,” sê hy.

Sy knik en stap weg. Eerste dra ’n ou romp en bloes van Magriet – die tradisionele drag waarmee sy uit die Oos-Kaap gevlug het is iets van die verlede. Magriet kon die skamele kleredrag nie duld nie.

Sy volg meer van ons taal as wat ons dink, kom dit by Pieter op. Hy’s verbaas om te sien dat Magriet van hom wegdraai.

“Jy is heeltemal te vriendelik met haar,” sê sy vrou sag. “Netnou kry sy gedagtes.” Sy kyk af terwyl sy dit sê, skaam oor die woorde wat haar diepste vrese só blootlê.

Pieter is skielik in ’n speelse luim. “Watse gedagtes?”

Magriet klik net met die tong om hom stil te maak.

Pieter staan nader aan sy swanger vrou. Hy plaas sy hande op haar heupe. “Watse gedagtes?” Sy stem is warmer, intiem.

“Hans gedagtes,” mompel Magriet, dadelik jammer dat sy hierdie dinge aangeroer het.

“Jy’s pragtig as jy so vies raak.”

Hulle is al ’n jaar bymekaar, en daagliks is daar nuwe dinge wat hulle van mekaar ontdek, en wanneer Pieter dit teenoor haar noem, besef sy elke keer dat die band wat tussen hulle groei, onvernietigbaar is. Só groei haar selfvertroue ook. Sy gee hom ’n speelse hou teen die skouer en loop na die ketel om koffie te skink.

Pieter tel die verdorde skerppuntstok op. Hy betrag dit behoorlik. Hy wil dit graag bewaar, ’n aandenking van die eerste dag op Donkerland. Hy sien die kaal muur bokant die vuurherd raak. Hier, dink hy. Hy vryf sy hand oor die muur. Hier sal ons dit bewaar vir ons kinders.

Pieter sit voor sy opstal met die verdorde stok tussen sy bene vasgeknyp. Hy berei die stok met olie voor sodat dit nie verder sal verdor wanneer hy dit bo sy vuurherd hang nie. Wanneer sy kinders groot is …

Hy dink met ’n breë glimlag aan Magriet se skugterheid. Hy is seker dat sy ’n seuntjie in die lewe gaan bring. Die tweede geslag De Witts van Donkerland!

Hy hoor die reëlmaat van perdehoewe. ’n Ruiter is in aantog oor die groot stuk veld wat hy voor die opstal skoongemaak het. Weiding, sê hy altyd aan Magriet wanneer sy wil weet hoekom hy met soveel vlyt dáár uitkap.

Onrustig lê Pieter die stok neer, reik na sy roer.

Dis Jan Serfontein, roer agter die rug, met daardie kenmerkende hoedjie van hom wat hy gemaak het van springbokvel wat hy self gebrei het.

“Oom Jan!” groet Pieter. Hy het baie agting vir Jan Serfontein. Die man staan al vyftig se kant toe, maar sy hart sit reg.

Serfontein groet nadat hy hom versigtig van die perd neergelaat het. Hy maak die perd se leisels naby Pieter se krip en mied vas, knik, wys dat hulle ’n draai oor die oopte moet stap.

Jan se klere getuig van meer welvaart as wat Pieter nog gesmaak het. Hy het gewis met meer aardse goed uit die Oos-Kaap hier aangeland, maar hy is ook ’n boer wat al die ander boere in die omgewing inspireer met die manier waarop hy die gawes wat God hom gegee het vermeerder het.

Pieter weet dadelik uit Jan se manier van stap dat daar iets aan die broei is. Hy voel hoe sy maag opeen trek. Weer Dingaan se moordenaars?

Jan stel hom gerus, maar hy is hier oor ernstige sake. Hy aarsel ook nie. “Ek sê jou nou, Pieter, die winde waai al weer oor die land.”

“Watse winde dié keer?”

“Daar’s net twee soorte wind wat in hierdie land waai, neef: Engelse wind of Zoeloewind.”

Dis nie wat Pieter wil hoor nie. Vandat hy uit die Oos-Kaap weg is, het hy hom voorgeneem om sy eie pad te loop. Nie betrokke te raak by ander se ellende nie. Vandat sy ouers vermoor is, is sy ellende syne en syne alleen. Ander moenie hulle s’n kom byvoeg nie. “Ek stel net belang in winde wat reën bring,” sê hy.

Jan bekyk die jong boer sonder om sy gevoelens te wys. “Dis ernstige sake, Pieter. Ons soek lywe vir ’n kommando.”

“Ek is hier om te boer. As ek op kommando wou gaan, het ek in Grahamstad gebly.”

Die ouer man gee nie bes nie. “Weet jy van ’n Zoeloe met die naam Mpande?”

“Net van hom gehoor.”

“Dingaan se halfbroer. En die twee sit nie langs dieselfde vuur nie. Mpande het oor die Tugela gevlug. Sy hand van vriendskap na die boere uitgesteek. Tot in die Volksraad in Pietermaritzburg gepraat.”

Pieter kan sy ore nie glo nie. “’n Zoeloe in die Volksraad!”

“Tye verander, neef. Tye verander.”

Dis nie altemit nie. Pieter probeer hom indink hoe dit moes gelyk het, maar moet dan wrang by homself glimlag. Hy weet nie eens hoe lyk dit wanneer die Volksraad onder gewone omstandighede byeenkom nie. “Om wat te sê?” vra hy.

“Nie te sê nie.” Oom Jan Serfontein laat die opmerking ’n bietjie in die lug hang. “Te vra. Ons hulp om Dingaan vas te vat.”

Voordat Pieter hom kan beteuel, borrel die woorde uit: “En daarvoor soek julle nou ’n kommando.” Hy kan sien waarheen dinge beweeg, en hy is nie lus om ander mense se vuil werk vir hulle te gaan doen nie, die minste van alles Dingaan se halfbroer s’n.

Maar Jan bly die geduldigheid vanself. Hy besef hy moet die jonge­ling genoeg inligting gee sodat hy self kan besluit wat die beste vir hom sal wees. Hy hou van Pieter, en weet hoe die ander trekboere sal reageer as Pieter nie sy gewig by hulle ingooi nie. En buitendien, almal weet dat die mannetjie ’n baie goeie skut is. “Onder Andries Pretorius, hy wat die Wenkommando gelei het,” sê Jan.

“Ek’s bevrees Oom is nou by die verkeerde deur,” sê Pieter ferm, maar darem ook baie beleef.

“Hoe dan so?”

“’n Verdomde Engelsman het my perd langs die Umzimkulu gesteel. Ek het die hele pad van daar af na die Tugela toe gestap om hierdie plaas te vestig.”

Oom Jan is verbaas dat die man só ’n verskoning sal aanbied. “So’t jy al gesê, ja.”

“Nou ja, ek het dit wragtig nie gedoen om by die swartes se bakleiery ingesleep te word nie. As hulle mekaar wil uitmoor, sê ek: Los hulle, laat hulle aangaan. Dit spaar ons die moeite.”

Rustig haal die ouer man tien maal diep asem en begin dan uit ’n ander hoek. Soms help dit om ’n beroep op iemand se nasietrots te doen. “Ons republiek hier in Natal staan soos ’n pasgebore kalf op bewerige pote. Onder Engelse bewind kon ons nie veel doen nie. Maar hulle’t onttrek. En die Zoeloes is verdeeld. As ons wil toeslaan en wys wie’s baas, moet ons dit nóú doen.”

Pieter is egter nie ’n bok vir nasietrots nie, merk oom Jan aan sy gesigsuitdrukking.

Hul wandeling bring hulle uiteindelik terug na die opstal, waar Magriet nader staan met twee bekers koffie vir die mans. Sy gaan sit eenkant op ’n stoeltjie, gaan aan met haar handewerk.

Jan sit die gesprek voort asof sy nie daar is nie. Hy het net ’n vermoede dat sy dalk ook gevoelens oor die saak sal hê. Sy wat al deur soveel is …

“Jou plaas is skaars ’n jaar oud,” sê Jan. “Hoe lank gaan dit jou neem om ’n behoorlike trop beeste op te bou – soos dit ’n pragstuk soos Donkerland betaam? Hm?”

Pieter is stil. Laat oom Jan maar praat. Hy weet wat hy weet.

Jan kyk van Pieter na Magriet. “Die impi’s het Magriet se hele familie uitgemoor,” sê hy.

Magriet kyk op. Sy sit met gespitste ore en luister, maar gedweë laat sak sy haar blik weer na haar handewerk.

“Hoeveel beeste het jou pa gehad, Magriet?” Dis ’n teer saak, maar oom Jan weet dit is nou sy enigste uitweg, om die teer sake op te rakel.

“Tweehonderd-en-vyftig.”

“Tweehonderd-en-vyftig! Wat regtens hare is, as enigste erfgenaam.” Jan kyk Pieter vas in die oë. “Julle s’n is.” Hy laat die woorde insink. “In Dingaan se krale. Dit kan mos nie.”

Pieter kyk weg. Dit het vir hom alles sin, oom Jan se woorde, maar hy steek vas. Hy is maar vlak in sy twintigs, die opvattings wat uit sy nood gebore is, wil nie sommer opsy geskuif word nie.

“Die Volksraad het vir Dingaan ’n ultimatum gestuur: Gee terug ons beeste.” Oom Jan praat nou driftiger. “Die derduisende wat gesteel is. En wat doen hy? Hy stuur tweehonderd osse met twee manne wat Piet Retief help vermoor het. Ons sê dis nou genoeg. Tot hier toe en nie verder nie.”

Magriet begin huil. Haar wonde is rou. Sy staan op en gaan die huis binne.

Oom Jan voel skuldig. Hy wil Magriet ondersteun, maar weet nie hoe nie. Hy beduie vir Pieter om haar te gaan troos.

Pieter staan bekommerd op en gaan die huis binne. Ná ’n ruk is hy terug, ’n frons op sy gesig.

Oom Jan sit en pyp rook. Hy tuur uit oor die werf wat Pieter en Magriet die afgelope jaar hier vir hulle gemaak het.

Pieter sê nie ’n woord nie.

Dan gaan die ouer man voort, asof niks gebeur het nie. “Ons praat van baie beeste, Pieter. Genoeg om Donkerland van ‘stukkie grond’ tot plaas te omskep.”

Pieter luister stil. Oom Jan kan nie peil wat in sy gedagtes aan­gaan nie.

“Ons gaan ook elkeen ’n Zoeloeman of twee kan terugbring. ’n Inboekeling is nou wel nie ’n slaaf nie, maar hy werk net so hard. En hy kos minder.”

Magriet kom stil die huis uitgestap. “Pieter …” Haar stem is sterk, die trane van flussies vergete.

Pieter kyk op na Magriet.

“… gaan haal ons beeste,” sê sy.

Pieter weet dit sal nie meer help om wal te gooi nie. Die besluit is vir hom geneem.

“Jy kan nie alleen hier bly nie,” sê hy.

“Ons vat haar na Lenie toe,” sê oom Jan.

“Ek sal ’n bietjie vrouegeselskap geniet,” help Magriet.

“Dis te ver vir Magriet. Jy kan sien sy’s …” Pieter kan die sin nie voltooi nie. Dis sy kind wat Magriet dra, hy wil nie medepligtig wees aan ’n reis wat haar en die baba in gevaar stel nie.

“Dan kom bly Lenie hier.” Oom Jan se woorde maak die besluit finaal.

Pieter en Magriet kyk vir mekaar. Haar besluit is geneem.

“Al Magriet se beeste?” vra Pieter.

“Ten minste. En met Dingaan uit die pad uit word Mpande koning, en hy sal ons verskuldig wees.”

“Een ding het ek geleer,” sê Pieter, nou wys vir sy jare, “Zoeloe of Engels­man – as een stryd verby is, staan die volgende een gereed om te begin.”

“En met die Heer se genade,” sê oom Jan, “was ons nog elke keer op die ou end die oorwinnaars.”

Daarmee kan Pieter nie stry nie.

’n Paar dae later het Pieter sy stok teen die muur bo die vuurherd gemonteer. Hy staan terug om die oomblik in te drink, en net toe kom Magriet nader met sy saalsak, wat sy netjies vir hom gepak het met uitgebraaide vet, ’n potjie salf, opgerolde lap, beskuit en biltong.

“En so begin alles met iets wat geplant word,” sê Pieter, sy oë steeds op sy stok. Hy draai na Magriet.

“Daar’s kanfersalf en ’n paar repe lap vir verbande,” sê sy.

“En smeer?” Pieter is versot op die vyesmeer wat Magriet van wildevye maak.

Sy knik. “En al die biltong wat oor is.”

Die oomblik raak vir hom oorweldigend. “Laat ons boekevat voor ek opsaal,” sê hy.

Pieter vat sy groot Familiebybel wat op ’n rak lê en gaan sit by die tafel. Magriet gaan sit langs hom.

“Ons lees uit Deuteronomium 32,” sê hy terwyl hy oopblaai. “Indien Ik Mijn glinsterend zwaard wet, en Mijn hand ten gerichte grijpt, zo zal Ik wraak op Mijn tegenpartijen doen weerkeren, en Mijn haters vergelden. Tot so ver.” Hy maak die Bybel toe. “Laat ons bid. Heer, waak oor my huis terwyl ek weg is, hou u hand oor die nuwe geslag wat my vrou dra, en wees met u seuns in hierdie optog teen die onheiliges. Ons vra dit in u naam en uit u genade. Amen.”

Pieter staan op en vat sy sak. “As ek terugkom, begin ek ons opstal bou.” Hy voel al lank nie meer lus om in die tydelike opstal te bly nie. “Jy gaan hierdie plaas nie ken nie. Ons paradys.” Hy soen Magriet, raak liefderik aan haar swanger maag. “Jy wag vir my, Jakob,” praat hy met die aankomeling in haar buik. Hy verstil dan, staar innig in Magriet se oë. “Sal jy regkom?”

Magriet weet sy moenie nou sentimenteel raak nie. Dan begin die trane weer. “Sorg net dat jy terugkom,” sê sy.

Hy soen haar weer, en stap uit.

Buite staan Eerste en wag.

Usale ujonga inkosikazi,” sê hy. Sorg vir my vrou.

“Ja, Baas,” antwoord sy. Sy hou sy opgerolde beddegoed na hom toe uit.

Pieter neem dit na die perd wat oom Jan vir hom gelaat het, saal op en binne minute staan Eerste en Magriet en kyk hoe hy op ’n galop vertrek.

“As die baas terugkom praat jy die Boeretaal, hoor jy my?” Daar is geen warmte in Magriet se stem nie.

“Ja, Baas,” antwoord Eerste.

Baie ongemaklik. Dís hoe Johannes en Diederik voel saam met die drie Zoeloekrygers wat op die verkenningstog saam met hulle is. Hulle sit om ’n vuurtjie, en die drie krygers om hul eie vuurtjie. Hulle kan maar nie vergeet dat hierdie drie krygers eens deel was van Dingaan se magte nie.

Ná ’n ruk bring een van die Zoeloes vir Johannes en Diederik ’n pot bier. Hy plaas dit op die grond voor hulle neer. Die twee kyk baie agterdogtig na die pot.

“Drink dit,” sê die kryger. “Dit sal julle gelukkig maak.”

“Ons sê dankie,” antwoord Johannes hom op Zoeloe.

Die kryger knik vriendelik en stap weg.

Johannes neem die pot in sy twee hande op.

“My pa sê,” fluister Diederik, “hulle’t vir Piet Retief ook bier gegee.”

“Maak net of jy drink,” antwoord Johannes binnensmonds. “Moenie sluk nie.”

Johannes maak of hy ’n sluk neem, maar eintlik maak hy net sy lippe nat. Hy vee sy mond af, kyk oor na die Zoeloe wat dit gebring het en wat nou weer langs hulle vuurtjie gaan sit het. Hy glimlag breed en beduie met sy vuis dat hy ewe skielik sterk en dapper voel.

Diederik neem ook ’n slukkie. Hy dink ’n oomblik oor hoe dit proe. “Nogal lekker,” sê hy, en neem ’n groter sluk.

Die volgende oggend hurk Diederik en Johannes agter ’n rots op ’n koppie naby Umgungundlovu, Dingaan se sentrale kraal. Die drie Zoeloes kruip weg agter ’n ander rots net regs van hulle. Diederik en Johannes loer oor die rand van die rots na derduisende beeste wat in die vallei onder hulle wei.

“As ’n mens ’n dag lank loop, sien jy die hele tyd beeste,” sê die kryger wat gisteraand vir hulle bier gebring het.

“Sien jy daardie beeste, Dirk?” fluister Johannes. “Daar’s Boerebloed op daai beeste.”

“Bliksems!”

“Hoe ver is Umgungundlovu?” wil Johannes weet.

Die kryger beduie dat dit nie meer ver is soontoe nie.

“Ek wil dit van die … van die …” sy woordeskat laat hom skielik in die steek, “hoe de donner sê mens ‘die ooste’ in Zoeloe?”

Diederik kan nie help nie en haal net sy skouers op. “Jy’s die tolk.”

“Van die kant waar die son die dag bring,” sê Johannes uiteindelik op Zoeloe.

Die Zoeloeman knik. Hy wys na die ooste. “Ons moet ver­sigtig wees,” sê die kryger. “As hulle ons vang, sal hulle ons met knop­kieries doodslaan en ons lyke op KwaMatiwane vir die aasvoëls en hiënas los.”

“Wat sê hy?” Diederik wonder oor die woordevloed en die vrees wat in die kryger se stem deurslaan.

“Jy wil nie weet nie.”

Die manne beweeg weg van die kim van die koppie af. Diederik bly ’n oomblik agter. Hy is nou ergerlik: “Ek vra: Wat sê hy?”

Johannes begin ook gebukkend wegbeweeg van die uitsigpunt. “Hy sê: Hou jou kop laag.”

Daardie aand is Pieter saam met ’n groep Trekkers langs ’n gemeenskaplike vuurtjie. Jan Serfontein sit langs hom. Die boere om hulle heen vertel aanmekaar stories, soms lighartig, soms somber. Só ken hy sy mense, dink Pieter. Kan nie heeltemal wegkom van hul sorge nie.

Jan staan op. Hy maak sy keel skoon en kry die manne se aandag. “Manne, voor ons gaan skuinslê, wil ek dankie sê dat julle gekom het.” Jan bulder nie, maar sy stem dra. “Kry vanaand genoeg rus. Ons ontmoet die res van die kommando oormôre by die driffie. Van daar sal Andries Pretorius die bevel oorneem.”

Die boere knik tevrede.

“Verkenners is uitgestuur,” sê Jan. Hy vertel hulle van Johannes en Diederik se sending saam met die Zoeloekrygers. “Hulle behoort teen môre terug te wees. Dan sal ons ons aanval beplan.”

Pieter spits sy ore, maar nêrens is daar enige ergerlike gebrom nie.

“Ons ry op hierdie kommando omdat ons hier, in Natalia – ons eie republiek – in vrede, sonder voorskrif en sonder gevaar wil leef.” Oom Jan klink nou weer soos die man wat Pieter eergister aangespreek het. Pieter glimlag – dinge verander só gou! “Dingaan se impi’s het in die nag gekom en ons broers en susters en hulle kinders vermoor. ’n Man kan nie sy geliefdes uit die dood gaan haal nie, net ons Jesus Christus kan dit doen, maar die beeste wat Dingaan se impi’s by daardie arme siele gesteel het – hulle sal ons nou gaan haal.”

Hy bly ’n oomblik stil sodat almal na hom kyk. “Ná hierdie kommando sal die Zoeloes eens en vir altyd leer dat as jy die wind met ’n Boer saai, sal jy die warrelwind maai.”

“Hoor-hoor!” roep ’n paar om die vuur uit.

Vir Magriet breek die oomblik aan waarop sy vir Eerste wys wie die eerste vrou in die huis is. Maande lank al worstel sy met ’n groeiende gevoel van afguns jeens die swart vrou. Sy het geen werklike rede nie – Pieter se versekering daar op die eerste dag van hul kennismaking was vir haar goed genoeg, en alles wat sedertdien gebeur het, het bevestig dat Pieter die swart vrou as kneg beskou. Iemand wie se lewe hy gered het. Iemand wat haar lewe uit dankbaarheid aan hom oorgegee het. Maar vrou was Eerste nooit vir Pieter nie.

En tog.

Eerste se slaafse gehoorsaamheid aan Pieter was vir Magriet meer soos dié van ’n vrou teenoor haar man. En omdat sy self uit ’n huis gekom het waar daar van haar ma verwag is om absoluut gedienstig aan haar man te wees, het sy parallelle begin sien.

Pieter het haar afguns koddig gevind. Sy het dit nooit teenoor hom uitgespreek nie, maar kon aanvoel hy weet daarvan. Sy het haar voete mettertyd in hierdie huwelik gevind. Pieter leer liefkry soos hy vir haar. Haar swangerskap moes vir haar die teken gewees het dat sy Pieter se ewige trou het, maar swangerskap is nie iets wat in elke huwelik ewe maklik hanteer word nie. En met die verloop van die maande het hulle nog dieselfde bed gedeel, maar die vreugdes van man en vrou se samesyn moes vir eers wag, tot ná die bevalling. Met dié onthouding het die afguns teruggekeer. Het Eerste die oorbodige vrou in die huis geword.

Magriet kyk nou met openlike afguns na Eerste. “Nou ja,” sê sy uiteindelik, “nou’s dit ek en jy.”

Eerste het geen benul waarvan die vrou praat nie, maar sy kan Magriet se houding nie miskyk nie, en op haar beurt verval sy in ’n houding wat sy laas by haar pa ingeslaan het, tussen ander, jonger susters. Sy raak dikbek.

“Kom ons kyk of ons jou ’n beskaafde taal kan leer,” sê Magriet. Sy wys na die tafel. “Tafel.”

Eerste volg steeds nie wat sy moet doen nie.

“Tafel.” Magriet frons vir Eerste. “Sê dit.”

“Tafel.”

Magriet wys na die water in die kom op die tafel. “Water.”

“Water.” Die swart vrou vind haar ritme.

Magriet tel ’n stukkie boerseep op. “Seep.”

“Seep.”

Magriet vryf haar hande teen mekaar. “Was hande.”

“Was hande.”

Nou, om alles bymekaar te bring, besluit Magriet. “Was hande met seep. Elke oggend.”

Voor Eerste kan herhaal, voeg sy by: “Voor jy begin werk. Verstaan jy?”

“Was hande,” antwoord Eerste.

“Ja,” antwoord Magriet dadelik. “Jy moet. Hande was.” Sy tik haar eie kop met haar voorvinger. “Verstaan jy?”

Eerste herhaal die getik van haar voorkop met haar voorvinger. “Verstaan,” antwoord sy.

Magriet knik tevrede.

Eerste beduie na die geweer in die hoek.

Magriet volg Eerste se vinger na die geweer.

“Dwa!” roep Eerste uit.

Magriet wonder hoekom die geweer skielik belangrik is. “Jy raak nie aan daai ding nie. Hoor jy my? Nooit.”

Eerste knik versigtig. Sy besef die geweer is haar verbode.

Magriet voel dat Eerste die belangrikheid van die saak snap, en sy kyk met ’n ietwat sagter blik na die swart vrou. Terselfdertyd laat sak sy haar hand en vryf oor haar maag. “Baba,” sê Magriet.

Eerste knik met die kop, instemmend. “Unyana.”

Magriet is dadelik op haar perdjie. “Nie in jou taal nie. Baba.”

“Baba,” sê Eerste agter Magriet aan.

“Jakob de Witt.” Behalwe natuurlik as dit ’n dogtertjie is, dink Magriet.

“Jakob,” sê Eerste.

“Die volgende baas van hierdie plaas,” sê Magriet wat, sonder dat sy dit ooit sal weet, feitlik net so oud soos Eerste is maar voel dat sy danksy haar lees- en skryfkennis jare ouer as die ongekunstelde swart vrou is.

Dan hoor albei die geluid van perdehoewe, en weldra sien hulle ’n perdekarretjie, deur ’n skimmelbruin perd getrek en met ’n swart plaaswerker en wit vrou langs mekaar op die bankie, aangery kom.

Dis tant Lenie, sien Magriet, Jan Serfontein se vrou wat hier by haar gaan bly totdat die manne terug is. Sy verkyk haar altyd aan die tante. Nog goed behoue gebly deur die moeilike trekjare, maar daar is al effense tekens van molligheid. Sy dra ’n sisrok en ’n stola wat teen die koue oor die skouers gegooi is. Haar kappie is effens groter as Magriet s’n, wat Magriet heimlik laat giggel. Tant Lenie kom selde uit die huis uit, maar sy dra ’n kappie wat die maksimum skaduwee oor haar gesig werp.

Magriet roep Eerste nader om tant Lenie se goed af te pak en binnetoe te dra, en sy nooi die tante in – die koffie staan al ’n rukkie en trek in die vuurherd.

Die ouer vrou praat land en sand, en gou voel die klein woning baie huisliker en warm van die klank van vrolike mensestemme.

Tant Lenie en Magriet sit by die tafel sodat Magriet kolhaas- en dassiepelsies naas mekaar kan uitlê. Tant Lenie help haar – sy is ’n veteraan van vele pelskombersies. Skuins agter hulle hang Pieter se stok aan penne teen die muur, maar hulle is nouliks bewus van die een enkele versiering in die huis.

“Toe my eerste gebore is,” sê tant Lenie, “ons was toe nog in Graaff-Reinet, het my pa twee lammers laat slag. My ma het die wol gewas en gekam en vir my ’n babakombers gemaak. Ek het al my kinders met daai einste kombersie grootgekry. En Martie gebruik dit nou vir haar kleintjies.”

“Hulle is seker al yslik groot,” sê Magriet.

“Magdaleentjie is nou amper drie. En klein Jan vier maande. Martie’t mos enetjie tussenin verloor, Herklaas.” Die ouer vrou raak stil, kyk af na haar hande. “Haai siestog,” gaan sy dan voort. “Vreeslik gesukkel met sy bors. Baie swaar vir haar man gewees, hy was erg oor die kind.”

Magriet luister maar, meet en pas die velletjies.

Tant Lenie druk haar hande styf teenmekaar. “As jy vir my naald en gare gee, kan ek hulle solank begin vaswerk – of sê waar, dan kry ek dit. Ek sien jou voete is baie geswel.”

Magriet wonder hoe op aarde die ou tante dit raakgesien het. Haar rok hang fatsoenlik tot amper onder haar enkels. “Bo in die kis,” sê sy, en wys na die kis in die hoek van die vertrek.

Tant Lenie stap na die houtkis en maak die klap oop. Sy kry die naald en gare.

“Dink Tannie ons gaan regtig so baie beeste kry as wat oom Jan gesê het?” vra Magriet.

“Jong, dis nou een ding van ’n Serfontein: Hulle’s mos van optimisme aanmekaargesit. Ons sal maar moet sien.”

Tant Lenie kom sit weer. Sy byt ’n stuk gare af, suig dit plat in haar mond. “En hoe gaan dit met die dienskneg?” vra sy terwyl sy die gare deur die naald se oog steek. “Hopelik beter as laas toe ek hier was.”

“Sy leer nou ons taal,” antwoord Magriet. Meer wil sy nie nou sê nie.

“Goed so,” sê tant Lenie. “’n Heiden bly mos ’n heiden terwyl hy sy eie taal praat. En as Pieter ná die kommando ’n inboekeling of twee saambring, dan het julle binnekort ’n paar ekstra hande vir die plaas. Wat’s haar naam nou weer?”

“Eerste.”

“O ja,” antwoord die ouer vrou, die o lank uitgerek asof sy skielik ’n ander geheim onthou.

“Haar Mpondonaam is Mafungwashe of so iets,” verduidelik Magriet.

“Ma-fun-gwashe? My magtig.”

“Beteken glo ‘eerste dogter’ … dié lat Pieter haar Eerste gedoop het.”

Tant Lenie kyk so onderdeur na Eerste daar in die hoek van die vertrek, en dan terug na Magriet. “Jong, ek wil my nou nie inmeng waar ek my nie moet inmeng nie, maar ek sou haar ’n ander naam gee.”

Magriet kyk verbaas op na tant Lenie.

“Netnou dink mense,” verduidelik die ouer vrou, “netnou dink hulle sy word so genoem omdat sy ‘eerste’ was … as jy weet wat ek bedoel.”

Magriet kyk sprakeloos na Lenie, en dan terug na die velletjies. Sy het nie woorde om te sê hoe sy nou voel nie.

Andries Pretorius het saam met Jan Serfontein en Mpande die beplanning gedoen, maar nou is hy gereed om die leiding te neem met die aanslag op Dingaan.

Hy was eintlik ’n effens koddige vent, het Pieter de Witt jare later aan sy kleinkinders vertel. Pretorius het altyd met ’n eienaardige strooihoed op rondgeloop. Die ander Voortrekkers het hoede van springbokvel gehad, ook ander soorte vel, maar hy, die man wat Dingaan by Bloedrivier reeds ’n slag goed op sy bas gegee het en nou weer wil aanvat, hy stap rond met ’n strooihoedjie soos ’n mens dikwels later by Engelse skooldogters gesien het wanneer hulle uitstappies in die veld onderneem. Oubaas Pieter kon hom só uitlaat oor die Engelse se gewoontes.

Maar daai dag, voor hulle Dingaan sou takel, sit Andries Pretorius met sy strooihoedjie op en hy kyk Jan Serfontein en Pieter de Witt en die ander manne vas in die oë. Onthou, dis hy wat gesorg het dat die Voortrekkers by Bloedrivier goed voorbereid was. Dis hy wat die idee gekry het om die Voortrekkers ’n eed te laat aflê sodat hulle geestelik reg gestem kon wees. Dis hy wat op dissipline en ordelikheid aangedring het.

Nou sit hy weer en planne smee. Hy bestudeer Johannes en Diederik se tekening van Dingaan se kraal op die grond. Hy besef dat daar geen tweede kans gaan wees nie. As hulle nie die eerste keer slaag nie, sal dit hul einde beteken. Alles moet wéér haarfyn beplan word.

“As ons van hierdie kant af kom,” verduidelik Pretorius, “en Mpande se impi’s sprei so uit, van hierdie kop, tot omtrent hier, keer ons hulle hier vas – en het ons baie skuiling.”

“En water,” voeg Johannes by, wat dit met sy eie oë gesien het.

“Dit ook,” antwoord Pretorius.

Jan Serfontein het ander sake in gedagte. “Het julle beeste gesien?” vra hy.

“Meer as wat ’n man kan tel,” sê Diederik dadelik.

Jan wil-wil glimlag.

“’n Man soos jy, ja,” sê Johannes.

Diederik stamp aan Johannes. Jan en Pieter glimlag vir die grappie. Diederik is bekend as ’n man wat van die veld hou, nie van boeke en syfers nie.

Johannes rig hom direk tot Andries Pretorius: “Ek skat so tussen negentig- en ’n honderdduisend.”

“Tweehonderd-en-vyftig van daai beeste het aan my vrou se pa behoort,” sê Pieter onmiddellik. Hy en Jan het dieselfde sake in gedagte.

Pretorius besef hy moet duidelike riglyne neerlê vir die prosedures agterna, ná die veldslag. “Die kommandolede wie se families beeste met Dingaan se verraad verloor het, kry eerste hulle beeste. Jy sal jou vrou se tweehonderd-en-vyftig terugkry, plus rente.”

Pieter knik tevrede.

Pretorius wil almal se aandag weer kry by die taak op hande. “Nou maar goed so,” sê hy, en dan aan Jan: “Hoeveel man het ons?”

“Net oor die vierhonderd.”

“Gaaf. Reg, manne. Tyd om Dingaan te wys waar Dawid die wortels gegrawe het.”

Hulle begin beweeg, maar word tot orde geroep deur iemand wat ’n entjie daarvandaan na hulle roep. Hy wuif opgewonde met die arms.

“En nou?” vra Pretorius. Hy wil nie tyd verspil met beuselagtig­hede nie. Die manne moet nou net aan een ding dink. Hy stuur Johannes om te gaan vasstel wat aan die gang is – en spoedig staan almal by die geraamte in die veld wat die jong boer so opgewonde laat wuif het.

Die geraamte het nog verweerde klere aan. ’n Leersak, naby aan vodde, lê langs die geraamte, die draband en gespe daarvan nog om die geraamte se nek en skouer.

“Nou ja toe nou,” sê Pretorius aan oom Jan en Pieter. “Óf die koors óf ’n assegaai. Een van die twee.”

“Lyk vir my na ’n Engelsman se klere daai,” meen oom Jan.

“Beslis nie ’n boer nie,” sê Pieter. Hy gaan sit op sy hurke by die geraamte. Hy maak die leersak oop, kyk binne en haal ’n Bybel uit.

“’n Christen,” sê oom Jan. “Ons sal hom moet begrawe.”

Pieter maak die Bybel oop. Voor in die Bybel, verbleik maar nog net-net leesbaar, staan ’n naam geskryf: Grant Roberts. London Missionary Society.

“Bliksem!” roep Pieter uit.

Oom Jan kyk hom baie verbaas aan. Dat die jongeling nou só ter tale raak. “Wat?”

Pieter kom stadig orent. “As julle hierdie man wil begrawe,” sê hy, sy lippe dun, “is julle welkom. Maar ek verroer nie ’n vinger nie.”

Pretorius en Jan kyk hom geskok aan.

“Die wetter het my langs die Umzimkulu besteel,” verduidelik Pieter.

“Die Umzimkulu?” vra Pretorius. Dit is baie ver hiervandaan.

“Dis ’n lang storie,” is al wat Pieter wil sê.

Hy stap weg, en so in die wegstap smyt hy die Engelse Bybel doer in die gras weg. “En as julle ’n perd raakloop,” sê Pieter oor sy skouer, “hy’s myne.”

Pretorius staar hom agterna, kyk dan met ’n groot frons na oom Jan.

“Dié lat hy die hele pad van die Umzimkulu tot die Tugela gestap het,” sê oom Jan.

Die twee kyk na mekaar, ’n glimlag op albei se gesig. Hulle besef hoe sake staan.

Later dieselfde dag kyk Pretorius en oom Jan weer na mekaar, maar nou het elkeen ’n moeë glimlag. Bokant hulle draai aasvoëls in die lug. Hier voor hulle, in die vallei, lê Dingaan se kraal.

Die slagveld lê bestrooi met lyke van Zoeloekrygers. Pretorius en Mpande se strategie het uitstekend gewerk – vir hulle, maar nie vir Dingaan nie.

Boere stap tussen die lyke deur, die slag gewonne, geen bedreiging meer uit die kraal nie. Eenkant op ’n miershoop sit ’n gewonde trekboer, met ’n vriend wat besig is om sy wond te verbind.

Pretorius stap oor na Mpande en twee van sy raadgewers.

Johannes staan nader om te tolk.

Mpande praat eerste.

“Hy sê Dingaan het in die rigting van die Hlatikhulu-woud gevlug,” tolk Johannes.

“Sê vir hom ek kan nie van my kommando’s verwag om die land plat te ry om hom te gaan soek nie.” Pretorius wil nie hê dat die Trekboere verder betrek word by ’n saak tussen die Zoeloes nie. Dit gaan vir hom nou oor die beeste en regstelling.

Johannes dra die boodskap oor.

Mpande glimlag. Hy en Pretorius dink dieselfde. “Dit sal nie nodig wees nie,” sê hy op Zoeloe. “Drie van my beste krygers is reeds op sy spoor. Hulle sal hom kry.”

“Dan was vanoggend se sonsopkoms Dingaan se laaste,” sê Pretorius. Johannes knik. “En dan het ons ’n Zoeloekoning wat ons verskuldig is.”

Voor Pretorius en sy manne vertrek, is daar ’n laaste gesprek wat afgehandel moet word. Die Boere het gevra vir werkers, en nou kies hulle die inboekelinge.

’n Groep Zoeloemans staan trots en regop in ’n ry. Pieter, Johannes en ’n groepie boere staan voor hulle en kyk na hulle.

Mpande en sy raadgewers staan eenkant, langs Andries Pretorius. Oom Jan sorg dat hy naby Pieter is, sou dié raad nodig hê.

Pieter gaan staan voor ’n Zoeloekryger wat trots en regop staan. Pieter kyk hom vas in die oë, maar die man se blik wyk nie. Sy naam is Mehlokazulu. Pieter skat hom so twintig, indien nie jonger nie.

Pieter draai om en sê aan oom Jan: “Ek sal hom vat.”

Oom Jan knik.

“Jy moet weet,” sê Pieter aan Mehlokazulu, “ek neem jou nie as ’n slaaf nie. Ek neem jou as ’n werker wat saam met my my plaas sal bou. As jy ná ses maande wil loop, dan is jy vry om te loop.”

Johannes tolk vir Pieter.

Mehlokazulu hoor Johannes uit en kyk dan terug na Pieter. Hy knik. Dis goed só.

Pieter beduie hy moet met hom saamkom en stap oor na oom Jan. Hy bedank oom Jan – vir die beeste wat hy saambring wanneer hy terugkeer.

“In hierdie land moet ons volkie saamstaan, Pieter, of ons is verlore,” antwoord oom Jan.

Pieter knik, bied sy hand aan en hulle skud blad.

Op pad na sy perd vra Pieter vir Mehlokazulu of hy Xhosa verstaan.

“Hulle praat Zoeloe, maar soos kinders,” sê Mehlokazulu.

“Dis wat die Hollanders ook sê van die manier waarop my mense praat,” antwoord Pieter hom in Xhosa.

Magriet en Lenie is in die bed wat Pieter vir hom en sy vroutjie gemaak het. Sorgvuldig aanmekaargesit met sy weergawe van tappe en voeë. Plek-plek is daar nog knoetse sigbaar wat hy nie kon gelykskaaf nie, maar andersins is dit baie gemaklik en stewig en hoog genoeg van die grond sodat Magriet nog nooit enige klammigheid van onder gevoel deurslaan het nie.

Die twee vrouens slaap rustig. Elk het gemoedsrus danksy die ander se teenwoordigheid. Tant Lenie het Magriet wel wakker gemaak met ’n paar ligte snorkgeluide, maar Magriet het haar saggies gepor om op haar sy te draai, waarna Magriet weer kon wegdommel met die geluid van die krieke buitekant in haar ore.

Hulle is onbewus van drie Zoeloekrygers wat die opstal buite in ’n lang sirkelgang nader. Hulle is versigtig om geen ander geluide te maak as die sagte skuifelgang van hul voete nie. Die omsirkeling van die opstal is baie doelbewus. Hulle wil agterkom of daar enige wagte of waghonde is wat hul sake kan bemoeilik. As hulle enige perde gewaar, sal hulle weet hoeveel mans hulle in die opstal kan verwag.

Hulle is vroegdag al weg uit een van Dingaan se satellietkrale, heeltemal onbewus van die dramatiese wending wat in die loop van die dag in hul omgewing plaasgevind het. Hulle is elkeen gewapen met ’n enkele assegaai en skild, volgens die tradisie van hul vaders.

Magriet skrik skielik wakker. Iets kwel haar, maar sy weet nie wat dit is nie.

Dan besef sy – die krieke en paddas is stil.

Sy word yskoud. Langs haar hoor sy tant Lenie se rustige asemhaling. Sy spits haar ore, seker dat sy Eerste ook in die hoek van die eetruimte kan hoor asemhaal.

Dan begin die krieke weer buitekant saag, en Magriet begin ontspan.

Net so onverwags verstil die krieke weer.

Dan hoor sy iets, ’n dowwe slag, nie te ver van die opstal nie. Kan dit roofdiere wees? Sy glo nie, want al wat in hierdie omgewing probleme veroorsaak, is rooikatte.

Daar’s dit weer! Hierdie keer is die slag nie meer so dof nie.

Magriet stamp liggies aan tant Lenie. “Ta’ Lenie,” fluister sy. “Ta’ Lenie …”

Tant Lenie kom orent, ’n rukkie heeltemal onseker oor waar sy haar bevind. “Wie? Wat?”

Magriet beduie met ’n sagte “sjjjuut” dat die tante nie geraas moet maak nie.

Tant Lenie onthou nou waar sy is en besef terselfdertyd daar’s groot fout.

Die twee vrouens sit langs mekaar in die bed en luister.

’n Koei bulk angstig net buite die huis. Dan is alles weer stil.

“’n Luiperd?” vra tant Lenie.

Alles is stil, ook die krieke en paddas. Niks. Tjoepstil.

Weer fluister die ouer vrou: “Hoor jy dit?”

“Ek hoor niks nie.”

“Presies,” fluister tant Lenie. “Die krieke is stil. Bly net waar jy is …”

Sy klim uit die bed, stap na die geweer in die hoek van die vertrek, vat dit en beweeg uit die slaapgedeelte van die huisie na die kombuisdeel. Daar draai sy terug sodat sy die deur na buite behoorlik in die halfdonker kan sien.

Pieter het ’n stewige manier prakseer om die deur in die nag geslote te hou: ’n Sterk stuk hout wat dwars oor die deur lê en aan weerskante van die deurraam in gleuwe geanker is, dien as slot.

Lenie vorder tot by die deur en gaan staan dan stil, ore gespits vir enige geluide aan die ander kant.

Alles is stil.

Tant Lenie sien die maanlig skyn deur ’n kraak in die rof afgewerkte deur. Sy beweeg nader en sit haar oog teen die krakie. Buite sien sy die stil werf voor die opstal in die maanlig. Niks beweeg daar nie. Sy staan weg van die deur om terug te gaan bed toe, maar hoor dan ’n enkele lang krapgeluid teen die deur.

Sy draai om om weer deur die kraak te gaan loer.

’n Oog kyk van die ander kant van die deur terug na haar.

Tant Lenie steier terug. Haar asem is skoon weggeslaan van die skrik en sy kan nie ’n dooie geluid uitkry nie. Sy staan etlike sekondes versteen, en dan swaai sy om en storm terug na Magriet.

“Kruip weg!” sis tant Lenie met ’n harde fluisterstem. “Kruip weg!” En dan, wanneer sy teenaan die bed is: “Onder die kooi! Onder die kooi!”

Tant Lenie gooi die geweer op die kooi neer en stampstoot vir Magriet uit die kooi.

Magriet is verskrik en verbouereerd.

“Zoeloes!” verduidelik Lenie. “Kruip weg!” Sy stoot vir Magriet grond toe, en Magriet kruip onder die kooi in.

Skielik hoor hulle ’n geweldige slag teen die deur.

Tant Lenie swaai om en gryp die geweer van die kooi af.

Nog ’n dawerende slag tref die deur.

Tant Lenie loop met ’n draai in die huis totdat sy in lyn met die deur, maar ’n goeie drie tree daarvan weg is.

Die deur sidder in die kosyn soos dit van buite geskop word.

Tant Lenie mik die geweer na die deur en trek die skoot af.

Die slag van die skoot dawer deur die huisie, splinters vlieg oral en vir ’n oomblik ruik tant Lenie net buskruit. Maar haar blik wyk nie van die deur nie.

Sy hoor iemand buite kreun, en hoor dan die dowwe slag soos hy neerstort.

Dit is onverwags tjoepstil. Nóg mens, nóg kriek, nóg padda maak enige geluid.

Tant Lenie kyk af na die geweer in haar hande. Sy sal moet herlaai! Sy soek met haar oë op skrefies deur die vertrek, sien dan die kruithoring op ’n rakkie in die kombuisgedeelte van die huis.

Die ouer vrou laai blitssnel die geweer. Dis ’n behendigheid wat Magriet gou sal moet aanleer, dink tant Lenie – laat die kind net eers gebore word. Die gedagte flits deur haar en word dadelik vervang deur haar vrees dat iemand nou deur die verswakte deur sal breek. Sy kyk vinnig na die bed waar Magriet sigbaar is, oë so groot soos pierings. Sy stamp die kruit vas, stoot die laaistok in sy plek langs die loop, gereed vir enigiets.

Onverwags is daar ’n helse slag teen die deur – die Zoeloes het dit met ’n groot rots probeer oopgooi.

Tant Lenie vuur weer ’n skoot deur die deur. Splinters spat in alle rigtings.

Weer herlaai tant Lenie, met hande wat amper nie vinnig genoeg kan beweeg nie.

Die aanvallers skop teen die deur, en ’n gedeelte daarvan breek weg.

Tant Lenie se oë bly vasgenael op die deur, maar van waar sy onder die bed lê, sien Magriet eerste raak waar die werklike bedreiging vandaan gaan kom. Sy sien iets beweeg teen die dekgras wat Pieter vir die huisie geprakseer het – en besef skielik dis twee mensebene wat deur ’n gat in die bedekking kom!

Sy snak na haar asem …

Twee voete gevolg deur bene kom deur ’n gat in die grasdak, en dan die boude en maag …

Magriet skree onmiddellik, hoor die kreet asof iemand anders dit in die kamer maak, en sien hoe tant Lenie omswaai van waar sy besig is om nog kruit in die geweerloop te laai.

Die aanvaller land op die misvloer van die slaaphoek. Hy hurk en sien Magriet reg voor hom onder die bed lê.

Magriet skree weer.

Tant Lenie het haar geweer klaar gelaai. Sy gooi die laaistok neer en lig die loop.

Op dié presiese oomblik tref nog ’n rots die deur van die huisie met ’n vernietigende slag, en dit val na binne.

Nog ’n aanvaller storm in, assegaai omhoog gelig, gereed vir die doodsteek.

Maar tant Lenie hou kop.

Sy trek die sneller en sien hoe die aanvaller in sy spore gestuit word.

Sy het hom in die borskas getref – ’n doodskoot.

Die aanvaller stort neer, en tant Lenie swaai om, met nog ’n kreet van Magriet in haar ore. Die aanvaller wat deur die dak gekom het, het Magriet aan die hare gegryp en begin haar onder die bed uitsleep.

Tant Lenie besef daar is nie tyd om nou die geweer te probeer laai nie en sy gooi dit eenkant.

Magriet skree histeries, met gedagtes aan haar ouers se sterfte wat deur haar bevange gemoed flits. “Nee-nee-nee-nee-nee-nee! Asseblief, nee!”

Die Zoeloeman trek Magriet aan haar hare orent en begin haar wurg.

Tant Lenie spring met een magtige sprong op die aanvaller se rug, hang daaraan soos ’n vel. Sy krap met haar vingers na sy oë. Hy los Magriet en gryp tant Lenie se hande vas, trek hulle weg van sy gesig. In die proses pluk hy haar tot reg voor hom. Dan slaan hy haar met die vuis teen die kant van die kop. Sy steier weg van hom en val neer, half bewusteloos. Nou kan hy weer al sy aandag aan Magriet gee.

Sy staan versteen van die vrees.

’n Glimlag sprei oor sy gesig; hy is besig om die oorhand te kry en neem ’n tree in Magriet se rigting.

Skielik hoor hy iemand agter hom praat. Verbaas draai hy om, reg in die pad van die swaaiende stok wat nog tot kort vantevore teen die vuurherd gemonteer was. Pieter de Witt se Donkerland-baken.

Die Zoeloeman slaat neer, sy kers gesnuit.

Eerste staan met die stok in haar hande. Magriet kyk met verstarde oë na haar.

Eerste stap tot by die Zoeloeman se bewustelose liggaam. Sy tree met een voet oor sy lyf sodat sy oor sy maag staan. Dan lig sy die stok bokant haar kop, skerp punt na onder, en bring dit met mening af. Die stok deurdring sy buik bo die midderif, ’n fatale wond.

Eerste staan met haar hande bo-op die stok. Sy lig haar gesig stadig, sluit haar oë. Sy is net so geskok soos Magriet.

Tant Lenie kreun en Magriet kyk na haar, sien ’n beroering in die hopie mens daar op die vloer.

Stadig begin ’n ander gewaarwording tot Magriet deurdring. Sy kyk stadig af na haar voete. “Eerste,” sê sy met ’n huilstemmetjie.

Eerste kyk af, sien die plas om Magriet se voete. Haar water het gebreek.

Dagbreek. In Pieter de Witt se opstal op Donkerland klink Magriet se krete vir die soveelste maal op. Haar barensnood is groot. Eerste het gaan water skep in die stroom daar naby, water wat sy nou eers warm moet maak oor die vuurtjie wat sy buite op die werf aan die gang gekry het. Sy haas haar na Magriet wat natgesweet op die kooi lê.

Die ellendes van hierdie nag sal lank by haar ingeprent bly. Eers die aanval, daarna die bevalling en dan die baba wat maar net nie wil uit nie.

Intussen moes sy ’n vuur aan die gang kry en die drie dooie Zoeloes sleep tot agter die opstal. Die een of ander tyd sal hulle nog begrawe moet word, net nie nou nie. Nóú is ’n groter probleem.

Tant Lenie sit op die rand van die kooi. “Ek dink hy lê dwars,” sê sy aan Magriet. “Ek dink die baba lê dwars.”

Eerste het ’n idee wat die vrou probeer sê; sy het sulke geboortes al gesien. Sy sit die emmer water langs die bed neer. “Druk, Mies. Ek druk.” Sy beweeg nader om aan Magriet te raak.

Tant Lenie stoot haar weg. “Nee, nee, nee,” sê die ouer vrou.

“Ek ken, Mies,” antwoord Eerste. “Ek druk. Ek druk hom.”

Magriet kreun van intense pyn.

“Gaan kry nog water op die vuur,” beveel tant Lenie.

Eerste kyk Magriet bekommerd aan, maar stap tog met die water na die vuur. Buite die deur steek sy vas.

Pieter de Witt het pas van sy perd geklim. Hy gee die teuels vir Mehlokazulu – en dan sien hy vir Eerste raak. “Eerste!” roep hy uit.

“Baas.”

“Kyk wat het ek vir jou gebring.” Hy beduie na Mehlokazulu. “Ek het jou gesê ek sal vir jou ’n man bring. Sy naam is Mehlokazulu. Nou ja toe. Waar is my vrou?”

Eerste kan nie woorde vind om te praat nie. Sy is te bang om te antwoord, asof haar woorde die dinge van die afgelope nag finaal sal bevestig.

“Waar is my vrou?” vra hy in Xhosa.

Eerste beduie bangerig na die huis agter haar.

Hy kry ’n beklemming om die hart – iets is nie pluis nie. Hy stap deur toe, en sien dat die deur nie meer aan die kosyn is nie. “Wat de donner gaan hier aan?” roep hy uit.

Eerste antwoord hom in Xhosa – sy kan nie vinnig genoeg woorde in Afrikaans vind vir wat sy moet sê nie. “Drie Zoeloemans het gekom om ons dood te maak. Maar ons het hulle doodgemaak. Hul lyke lê daar agter die huis.”

Pieter kan sy ore nie glo nie. Dan hoor hy ’n geluid uit die huis en hy kyk met ’n frons na Eerste.

Bendifuna ukumnceda,” babbel sy. “Ek wou haar help. Ek wou haar help maar mies Lenie wou my nie toelaat nie.”

Pieter, gevolg deur die babbelende Eerste, storm die huis in. Hy sien Magriet op die kooi en Lenie langs haar.

Asiyondaba yam leyo. Asiyondaba yam …”

“Bly stil,” snou hy haar toe, “my magtig!”

Eerste raak stil.

“Wat gaan aan?” vra hy tant Lenie. “Het hulle haar seergemaak?”

Tant Lenie staan op van die kooi af. “Die baba lê dwars. Ek kry hom nie gedraai nie. Ek het alles probeer wat ek kon.”

Pieter stoot haar bruusk uit die pad en gaan sit langs Magriet. “Grietjie, Grietjie, kan jy my hoor?”

Sy is in ’n beswyming, hoor hom nie praat nie.

“Dis ek, Pieter. Ek is terug.” Hy voel hoe die desperaatheid sy asem aanjaag. “Hoor jy my? Ek’s terug. Ek het die beeste – al jou Pa se beeste en nog meer.”

Hy sien geen reaksie op haar gesig nie en besef skielik sy is waarskynlik by kritiek verby, moontlik op haar laaste. “Magriet … vrou! Jy mag nie nou opgee nie. Hoor jy wat ek sê? Moenie nou tou opgooi nie. Hy moet uit. Jy moet druk.”

Met elke woord soek hy ’n flikkering van haar ooglede, ’n frons, ’n glimlag, ’n grimas – maar Magriet hoor hom nie.

“As die baba dwars lê,” sê tant Lenie verslae, “gaan druk nie help nie. Hy moet gedraai word.”

Pieter vlieg orent. “Nou draai hom dan!” skree hy.

“Ek het jou gesê,” sê die ouer vrou, “ek het alles gedoen wat ek kon. Dit help nie.”

Pieter is buite homself van hulpeloosheid. Hy loop ’n desperate draai deur die vertrek. “Hy moes eers oor ’n week of twee gekom het,” sê hy moedeloos.

“Die aanval …” prewel tant Lenie. “Toe daai diere …”

Maar Pieter luister nie na haar nie. Hy soek ’n oplossing. Die lewe in die veld het hom geleer daar is altyd ’n oplossing. Jy moet net soek. Met oop oë. Moet jou nie bly verknies oor dít wat reeds verby is nie. Fokus op dít wat nog moet gebeur. “Eerste!” roep hy.

“Nee, Pieter,” keer tant Lenie, “sy’s nie ’n vroedvrou nie.”

“Sien jy ’n vroedvrou hier?” roep hy uit. “Laat haar probeer.”

Ungamnceda na?” vra hy aan Eerste. “Kan jy haar help?”

“Ek kan probeer, maar ons het te lank gewag.”

“Doen wat jy kan.”

Eerste gaan sit op die bed, wydsbeen op haar knieë oor Magriet.

Tant Lenie staan ’n paar treë terug, haar hand geskok oor haar mond gedruk. “Die skande,” fluister sy ná ’n ruk.

Pieter kyk angstig toe.

Eerste masseer eers Magriet se maag, maar dit help nie, want Magriet is bewusteloos.

Tant Lenie kyk met afsku na die toneel.

Pieter sien niks anders as Magriet se gesig nie. Hy wil hoop, hy soek uitkoms, maar tot sy smart sien hy hoe die lewe in haar oë verdwyn.

Pieter gaan hurk vinnig langs die bed, vat Magriet se hand wat oor die rand van die bed hang. “Magriet …” Hy prewel, hy roep: “Magriet!”

Magriet se oë sien nie meer nie.

“Sy’s weg,” sê tant Lenie, amper saaklik.

“Vrou!” Die kreet kom bitter oor sy lippe, diep uit sy hart.

“Pieter … sy’s weg.”

Eerste hou op om Magriet te masseer.

Pieter kom stadig orent. Eerste klim van die bed af.

“Sy moes die beeste gesien het,” sê hy. Die hartseer maak sy tong dik in sy mond, die tweede keer in sy lewe.

Eerste buk oor Magriet se lyk, plaas haar oor teen Magriet se maag. “Baas,” roep sy. “Baas!”

Pieter staan nader aan Eerste en die lyk van sy vrou. Eerste staan opsy terwyl sy beduie dat hy sy oor teen Magriet se maag moet druk.

“Ag nee, Pieter!” roep tant Lenie uit. “Dis mos nou …”

“Sjuut! Sjuut!” Hy wil alles hoor wat hy kan. “Sy hart!” roep hy ná ’n ruk. “Ek hoor nog die baba se hart.”

“Dit gebeur soms,” sê tant Lenie wysneusig. “Hy sal oor ’n minuut of wat stil wees.”

Pieter kom stadig orent. Die brutaliteit van tant Lenie se woorde wil-wil in woede oorkook.

Maar dit is Eerste wat tot sy redding kom. “Tarentaal, Baas,” sê sy.

Is die vrou van haar sinne beroof? “Wat sê jy?”

“Tarentaal, Baas.” Sy beduie met haar hande terwyl sy die Afrikaanse woorde een-een uitsê: “Mes. Sny. Trek derms. Uit.”

Hy verstaan eers nie wat sy bedoel nie.

“Trek uit. Tarentaal, Baas.”

Dit tref hom soos ’n donderslag. Die baba moet verlos word.

Hy pluk die mes uit die skede aan sy heup.

“Pieter?” Tant Lenie is besig om heeltemal tred te verloor met wat aan die gebeur is.

“Ek gaan hom uithaal.”

“Pieter, nee!” Sy deins in afgryse van hom weg. “Jy kan dit nie doen nie. Waar is jou respek?”

Hy het nie nou tyd om hom uit te laat oor haar onnosele kortsigtigheid nie. “My seun lewe nog!” roep hy uit.

“Dis heidense dinge,” sê sy ferm. “Jy sal gestraf word!”

Nou praat hy, kort en kragtig: “Dit lewe nog hier binne. Hoekom moet ek al twee verloor?”

Pieter sny Magriet se nagrok oor haar maag oop.

“Pieter, dink mooi voor jy dit doen,” waarsku tant Lenie weer.

“Magriet is weg.” Hy weier om ag te slaan op haar vermaning. “Die kind lewe. Ek gaan hom nie saam met haar verloor nie. Staan weg!”

Pieter se hand bewe met die mes. Hy plaas die punt daarvan teen Magriet se swanger maag.

Tant Lenie draai weg. Sy het al baie diere afgeslag, maar ’n mens is nie ’n dier nie, veral nie ’n mens teenaan wie se lyf sy die vorige aand aan die slaap geraak het nie. Sy kan nie kyk nie.

Eerste staan langs Pieter. Sy praat sag, stadig, gerusstellend terwyl die mes sy koers vind: “Stadig … stadig …”

Die mes gly deur Magriet se vel.

“Nie te diep nie,” vermaan Eerste.

Tant Lenie hou nou met albei hande haar mond toe.

Pieter gee die bebloede mes vir Eerste om vas te hou en druk dan sy hande in Magriet se maag. “Kom …” prewel hy, “kom, seun.”

Pieter lig die baba op; hou die bebloede seuntjie in sy twee hande voor sy gesig in die lug. Die naelstring hang pers en bloederig tussen hulle.

“Jakob,” fluister hy.

“Jakob,” beaam Eerste.

Die volgende dag begrawe Pieter de Witt sy vrou soos dit ’n Christen betaam, met skriflesing, gebed en gesang, onder ’n wilgerboom op Donkerland. Die wilgerboom staan op ’n stil plekkie langs die Tugela.

In die maande wat kom, maak hy Magriet se kudde beeste behoorlik syne. Mettertyd sal die beeste aanteel. Die grond hier is vrugbaar, en alles wat Pieter saai sal op die duur vrugte dra.

’n Ruk lank sal daar geen Engelse of Zoeloewinde oor Donkerland waai nie. Pieter de Witt sal weer trou. Sy sal drie keer vir hom kinders baar, van wie net een, Schalk, sal oorleef.

En Jakob?

Hy word met groot sorg versorg deur haar wie se lewe Pieter aan die ander kant van die Umzimkulu gered het. Jakob wat soos ’n kalf uit ’n moeras gepluk is nadat Eerste sy pa se hand in die verlossing gelei het, sal ’n groot man word. In die eerste anderhalf jaar ná sy geboorte sal sy soos ’n moeder vir hom wees, sy tandvleisies masseer wanneer sy eerste tande wil deurbreek, sy handjies vashou wanneer hy op sy eie wil begin stap. Hy sal ’n man word, en vir die eerste deel van sy lewe het hy sy wit hofie teen haar swart bors laat rus, sy wat haar lewe verskuldig is aan die eienaar van Donkerland. Nou sal jy begin verstaan wat ek bedoel het toe ek gesê het die De Witts se geskiedenis is onlosmaaklik vervleg met dié van Mafungwashe.

Donkerland

Подняться наверх