Читать книгу Ek en Prins Donkerkuif - Dihanna Taute - Страница 4
ОглавлениеPretoria is miskien mega-groot en die administratiewe hoofstad van ons land, maar dat ons hier meer kwaliteit gesinstyd saam kan hê is ’n totale myth. Hier gaan die lewe oor wie die meeste geld het, wie se vrouens fashion sense het en wie se kinders die grootste brats is.
Ek wou ook nog sê dat ons soos in glad nie hier gaan inpas nie. Ma se kleresmaak is so negentiende-eeus. Pa is so suinig met sy geld dat ek soms dink ons is op die randjie van bankrotskap. En ek? Wel, ek is so ver van bederf af, dit is nie eens meer snaaks nie. Maar toe sien ek Pa knip skaars sy oë. Dit is amper asof hy nie eens na my gekla luister nie. Hy staan net hande gekruis oor sy bors en kyk strak hoe die laaste meubels by ons huis ingedra word.
Dit is laatmiddag en die treklorrie in die straat begin hoes sodat die petroldampe my asem wegslaan. “Platteland Vervoer” staan groot in roesbruin oor die lorrie se staalblou kante geskryf. Ek knip my oë ’n paar keer om te keer dat die trane in die hoeke van my oë opdam. Moet ek nie dalk ’n tantrum gooi nie? Of so hard skree soos ek kan nie? Of dalk kan ek iewers magic doepa kry wat my sal laat verdwyn.
Hier staan ek voor ’n nuwe huis, in ’n nuwe straat met die vooruitsigte van ’n nuwe skool in hierdie wildvreemde stad. Gaan enigiets hiervoor help?
Ons nuwe huis, ’n groot wit dubbelverdieping rondawel, staan onder ’n strooihoed byna die hele erf vol.
“Martin!” Ma kom met kort treetjies van die voordeur af aangetrippel. “Martin!” Statig en styf asof sy ’n stok ingesluk het. Kompleet soos daai snaakse mannetjies in die ou dae se swart-en-wit movies sonder klank.
My hand glip na my mond. Ek moet my asem diep intrek om te keer dat ek uitbars van die lag. Dit help darem teen die trane.
Soos ’n vis op land hap Ma na lug toe sy op die sypaadjie langs my en Pa tot stilstand kom. “Het hulle toe alles afgelaai?” Sy kyk bekommerd na die stotterende treklorrie, terwyl sy haar bolla terugdruk op sy plek.
Die ding trek met ’n vaart weg.
Ma se gesig is bleek. “Martin, ek vermis ’n boks.”
Onder normale omstandighede sou sy my pa “Pappatjie” genoem het.
Ek hou myself dun. Trek my skouers tot amper teen my ore op. Maak my rug hol. Ek waag dit om net so onderlangs na hulle te loer terwyl ek bid dat hulle van my moet vergeet, want as Nelia Botha se sin eers met “Martin” begin, loop dit altyd uit op rusie.
Pa frons. Sy digte wenkbroue lyk of hulle mekaar op die punt van sy neus gaan ontmoet. Dit is natuurlik nou as hulle verby sy groot, ronderaambril kan kom. Lank, lank gelede, toe my pa se Beatles musiek saans op die radio gespeel het in ons ou kombuis en ek nog op sy skoot kon pas, het hy vir my nogal so ’n bietjie soos Paul McCartney gelyk. Maar intussen het my pa ’n snor en bril gekry, en ek meer verstand.
Sy stem is grof. “Hoekom kom staan jy hier op my en skree?” Dat hy agt huise verder die straat af gehoor kan word, pla hom min. “Ek het mos vir jou gesê jy moet gaan kyk of die trok leeg is!”
My pa is deesdae al hoe meer soos Adolf Hitler die Tweede. En dit is nie net sy swart tandeborselsnor of sy donker, kortgeknipte hare wat my aan ’n Nazi laat dink nie. Nee! Dis omdat alles altyd net op Pa se manier gedoen moet word, en bogger die res.
Oorkant die pad trek ’n gordyn wat beweeg my aandag. ’n Roofkyker? Wie wil nou betaal vir ’n show terwyl daar een gratis in die straat voor jou huis aangebied word?
Ma klink eers paniekerig. “Ek eh . . . Martin, ek is amper oortuig daarvan een van my bokse is weg.” Toe verander haar stemtoon na ’n klaaglied. “Ek was mal om hiernatoe te trek!” Haar neus wip vies in die lug. “Ek moes eerder op ’n egskeiding aangedring het.”
Wat? Egskeiding? Asof my ma sonder my pa sal kan asemhaal. En weereens staan ek laaste in die ry om van goed te hoor. Soos toe ek laas Maandag vir die eerste keer van ons groot trek gehoor het. Daar was nie eens genoeg tyd om protes aan te teken nie. En nadat my ouers se vriende oornag verminder het, was daar ook nie genoeg mense vir ’n staking nie.
Pa raak befoeterd. “Dan moes jy maar daarop aangedring het!” bulder hy.
Die wind pluk aan my hare terwyl ek my ouers onderlangs deur my kuif dophou. Hier kom die hoogtepunt van die show, voorspel ek. Ek vou my hande agter my rug en gee stilletjies twee tree terug. Ma lyk nes ’n spook met haar wit gesig en haar vormlose ligbruin rok aan, dink ek. As sy dalk ’n spook is, het hulle haar boks seker al hemel toe gepos? ’n Proeserige lag glip tussen my lippe uit. Pa gluur my kwaai aan met sy byna swart oë. Ek moet dit nou seker eerder laat klink na ’n hoes wat geboemerang het?
“Sorry,” kry ek skaars hoorbaar onder die hoespoging uit.
En hier staan ons helder oordag langs die straat onder die blaarlose bome se takke wat lyk of hulle hande vashou en kyk hoe die treklorrie twee blokke verder om die hoek verdwyn. Ek sug, maar net in my kop, anders hoor Pa dit en dan kyk daai swart oë my dalk middeldeur.
Ag, puh-leeze! Kan ek nie maar ook verdwyn nie? Sommer van die aardbol af. Mars? Of Jupiter? Of sal daar ’n ou op die maan wees wat my wil hê?
Ek pluk aan die punte van my swart romp dat dit skoon skeef hang. So what as Pa dink dis te kort. Dis anyway nie asof hý dit moet dra nie. Ek like die romp, want dit laat my aan ’n feetjie dink. ’n Goth een.
“Ek waarsku jou, Martin! As daar een boks weg is . . .” stry Ma verder.
Arg! Aarde sluk my in. Ek móét eerder verdwyn voor die hele buurt agterkom dat die Hitler en die Spook in die straat my ouers is. Ek meen, rêrig? As die roofkyker oorkant die straat enigsins na Ma aard, is die hele straat al vir seker van ons koms in kennis gestel.
Smekend kyk ek in die pad af. Is daar nie dalk ’n ou daar buite iewers wat my wil kom soen sodat ek uit hierdie nagmerrie kan wakker skrik nie?
Pa ruk my met sy donderstem terug uit my Prinses Lehandi-droom: “En jy, Madampie?” In plaas van voordeur toe loop, moes ek maar liewer op my maag weggeseil het. “Gaan trek vir jou ordentlik aan. Jy werk nie by die sirkus nie.”
Hoor wie praat! Dit is hy wat hierdie gesin in die grap van die jaar verander het. Dis sy skuld dat ons van die platteland af stad toe moes ontsnap.
Pa swaai sy arms woes deur die lug. Hy lyk soos ’n voëlverskrikker op ’n winderige dag.
“Jy lyk gans te verspot met daai swart stewels aan,” voeg hy by, sommer net om nie verder met Ma hoef te redeneer nie.
Ek byt hard op my tong om nie iets kwyt te raak wat my gehok gaan kry nie.
“Dis bootse, Pa, dit gaan by als.” Effens vererg draai ek om en begin voordeur toe hardloop. Ek het nie meer lus vir “Ja, Baas” nie.
“Lehandi! Jy moet daai houding . . . !” raas Pa.
In my kamer klap ek my deur hard agter my toe. Ek kan die mure amper voel tril. Pa kan nou maar in sy kanon in vlieg en kyk of ek omgee. Ek skuur verby die stapel bokse wat my kamer se vloer vol staan en val rug eerste op my onopgemaakte bed neer. Met swart naels grou ek teen my kopvel. Skilfers! As ek net my hare ook kon swart kleur. Maar nee! Ek’s nog op skool. “Té jonk om rebels te wees,” was Pa se woorde.
Ek moet seker vir Hitler luister, anders sit hy my dalk op straat uit. Sonder kos. Of erger: sonder my klere, my skoene, my selfoon en my grimering. Hy is simpel genoeg om dit te doen. Die gedagte los ’n bitter smaak in my mond. Ek spring op. My CD-speler, wat op my bedkassie staan, se rooi knop gly onder my vingers. Ja, Allison Weiss is perfekto. ’n Tokkelende kitaar om my hartseer weg te toor.
Terwyl ek vir myself in die spieël kyk, mompel ek saam met die note. Dit is eers by die koorgedeelte wat ek besef die trane het oor my wange begin rol. Nee! Goodbyes is iets van die verlede, dit is tyd dat ek opdroog en aangaan.
Ek lyk soos ’n gedrog uit ’n horror movie. My spieëlbeeld het dik, swart strepe maskara op beide wange, blou oë met rooi raampies om en lang blonde hare wat lyk of dit nog nooit ’n borsel geproe het nie. Ek snuit my neus en droog die trane met die binnekant van my hande af.
My vingers bewe ongeduldig terwyl ek voel oor die knoppies van die materiaal oor my maag. Gmf! Sirkusmense sal mal wees oor die klere wat ek dra. Seriously. Ek het smaak! Ek pluk my swart korsetbloes uit en gooi dit op die grond. My lewe is soos in totally by die drein af. Asof dit my gaan red, draai ek die volume nog harder. Ja-a! Eerder Ellie Goulding.
“Pum, pum, pum-pum-pum . . .”
Met toe oë staan ek voor my spieël en dans.
Terwyl ek my stewels afrits en hulle op die vloer laat val, skud ek my nek uit lit. Die dromme pomp in my are. My skouers hou saam tyd. Die note is in my kop. Ek. Is. Ellie Goulding.
“Anything could happen,
Anything could happen . . .”
“Sit af daai blêrmusiek en trek vir jou klere aan.”
My arms ruk benoud oor my borskas. Amper ’n skouer uit lit uit. Vir wat staan sy en bekruip my?
“As jy so naak voor ’n oop venster staan en dans, gaan jy vir seker moeilikheid kry.” Ma se grysblou oë lyk vir ’n sekonde of dit wil flits. Toe is dit weer dood. “En ek het vir jou ouma gesê, grimering verniel net ’n mens se gesig.”
’n Tongklap glip uit. Ek kyk benoud verby Ma na die gang. As Pa my nou moes hoor tongklap, voel ek nooit weer die son op my vel brand nie.
“Ag, Ma-ha,” sê ek. “Ek het darem nog my vest aan.” Ek moes dalk eerder frokkie gesê het? “’n Mens kan tog seriously niks sien nie.” My oë rol dak toe. “En make-up was darem af.”
Dat Ma ouma Hanna se eie dogter is, sal ek net glo as ek die geboortesertifikaat self sien. Leithanie Johanna Diedericks was ’n ouma so na my hart. Ma, aan die ander kant, is meer iewers in die omgewing van my kleintoontjie rond.
“Jy beter mooi in jou spore trap, Sussie. Jou pa is nie een van jou vriende vir wie jy jou kan staan en opruk nie. Hy bly jou pa!” Sy swaai haar wysvinger voor haar gesig heen en weer. Dit sal nogal cool wees as sy haarself hipnotiseer. Maar dan bal sy haar vuiste op haar heupe. “Het jy die boks waarin my boeke was gevat?”
Natuurlik moes sy eers haar moederlike plig doen deur vir my te preek voor sy my van diefstal kon verdink. Sy het klaar besluit. Dit help nie eens ek stry nie. Ek steek dit seker in my kas weg, want ek het mos niks beters om met my tyd te doen as om deur boeke te blaai wat deur Noag self in die ark gebruik is nie.
“Dis seker in die hemel,” mompel ek geïrriteerd. Minstens kan Noag dit nou weer gebruik, voeg ek in my gedagtes by.
“Wat?”
“Um . . . die hemel alleen weet waar daai boks heen is, Ma. Ek het nie ’n clue nie.” Ek glimlag onskuldig.
Ma frons effens, maar dan is haar gesig weer onleesbaar. “Jou kamer gaan ook nie homself uitpak nie, Lehandi.”
“Sal dit nie nogal disco wees nie?” begin ek my openingstoespraak, maar ek sien sy gaan nie bly vir ’n redenaarskompetisie nie. Sy stap net penorent by die kamer uit en trek die deur weer agter haar toe.
En daar gebeur dit . . . my lewe is vir eens en vir altyd so dor soos ’n woestyn. Ek het dit geweet – wie anders se lewe sal so droog wees dat dit selfs ’n hand vol sand na ’n sappige stuk waatlemoen sal laat lyk?
Ek sit die radio af en gryp die eerste T-shirt wat ek bo in ’n boks kry. Ek pluk die swart materiaal oor my kop. “Born to be wild” staan in glitterpienk styf oor my rug gespan.
Ek gryp my selfoon en tik:
Is hier. Mis jou.
Ek stuur die boodskap en plak my selfoon op my lessenaar neer. Dit help net mooi niks nie. Reqita het ook nie op die vorige honderd SMS’e geantwoord nie.
Met ’n bedroefde sug sleep ek my lessenaar se stoel tot voor die venster, tel my gordyne van die vloer af op en klim op die stoel om die hakies aan die reling te kry. Met die gordyn se bopunt in my hand, tuur ek buitentoe. Dis nogal vreemd om ’n teerpad te sien. So anders as stofstrate wat sorg dat stof bo, onder en rondom alles saampak.
Alles is stil buite. Behalwe vir ’n figuur wat om die hoek gedraf kom . . . My knieë raak lam. My hart mis ’n skop. Donker hare. Breë skouers. Merske kuite!
“Wat ’n hunk!” fluister ek en die stoel wankel onder my voete. Ek kyk vinnig terug na my toegetrekte kamerdeur. My geheim is veilig. Ek voel twee rooi kolle op my wange brand. Is ek besig om siek te word? Dit moet die tekort aan stof wees. Of die aaklige kleur teen my mure?
Nee! Ek wens. Is dit dan hoe ’n regte crush voel? My eerste crush. Of altans my eerste crush ná meneer Benadé – my vorige rekeningkunde-onderwyser.
My hand glip na my mond. Nee! Hoe is dit moontlik? Die donkerkop het verdwyn! Spoorloos. Asof hy agtergekom het wat in my kop broei – muisneste, met baie hartjies en vlinders.
Ek pluk vies aan die gordyn om dit toe te kry. ’n Benoude gil glip uit toe ek my balans verloor en verniet na die muur gryp voordat ek hard met die vloer kennis maak. Hoeveel betaal ek vir die stukkie grond tussen my bed en my venster? Eina, oe! Sal twee bloukolle werk? Een teen my linkerheup en die ander een voel ek op my elmboog brand.
Soos ’n kreupele hinkepink ek tot by my lessenaar. Asof ek reeds beenaf is oor die donkerkop onder in die straat. Laat ek net eers asem haal.
Ek val op my bed neer en soek na die boek in my handsak. Stadig sak ek tot op die naat van my rug, kruis my bene by my enkels en vou die boek by die boekmerk oop.
My lewe maak sin as ek in my verbeelding iemand anders kan wees. As ek, die heldin, my held op die laaste bladsye vind. Dit is ook al waar ek ’n boyfriend kan hê. Al wanneer ek kan droom en kan vergeet.
My wange brand. Ek gooi die boek op die bed langs my neer en sug hardop. Asof ek so gou sal kan vergeet. My voete skop ’n denkbeeldige monster in die lug weg. Hy spat in tien kleiner monstertjies wat elkeen hulle beurt afwag om my aan te val.
Hoe maak ’n mens nuwe vriende ’n maand voor die skool vir die vakansie sluit?
Hoekom gebeur alles altyd met my?
Hoekom moes my pa my ma gaan staan en verneuk het? Dis totaal en al belaglik.
Dit voel of my kamer se mure my gaan versmoor. Dis asof die aardbol op sy kop staan. En my wêreld waarin my pa my held was, is soos ’n soppy love story waarvan die credits nog oor die skerm hardloop. Oor en uit. Net die trane wil nie stop nie.
Ek gee ’n lang sug. Een wat ek eers diep intrek terwyl ek my lippe styf toeknyp. Die vars lug kielie my verhemelte. My lippe vorm aan die een kant ’n uitlaatpyp. Die drukking laat my wange vir ’n sekonde opblaas, maar toe is dit uit en my gedagtes weer skoon. Arg! Anders as my kamer. Kan ek nie maar so hard sug dat hy hom sommer vanself opruim en uitpak nie?