Читать книгу Ek en Prins Donkerkuif - Dihanna Taute - Страница 6

Оглавление

“En? Hoe was my kind se eerste dag?” Ma het my gevolg van die kar af, verby die kombuis tot by my kamer. Dit lyk of die kosyn haar nou vashou. Dankie tog sy kom nie nader nie. “Het jy darem ’n nuwe maatjie gemaak?”

Whatever. Dit sal nie eens help om te redeneer dat ek op sestien te groot is vir ’n “maatjie” nie. Ek is mos my ma-hulle se baba. Was nog altyd en soos dit vir my lyk, gaan dinge nooit, ooit, óóit verander nie.

“Almal druggies, Ma. Die hele spul van hulle.” Ek probeer haar blik vermy. “Behalwe vir Lappop natuurlik,” prewel ek binnensmonds. Dié lewe natuurlik in die tyd toe drugs nog nie ontdek is nie. Ek slinger my swart boeksak langs my lessenaar in. Dit maak ’n klapgeluid teen my muur.

“Almal?” vra Ma benoud.

“Ja, Ma. Die hele lot. Hulle sit net heel pouse agter die gebou in die sloot en praat oor hulle gerookte naweek.” Ek gaan staan skuins by my kamervenster sodat ek Ma en die straat gelyktydig kan dophou. Net vir ingeval daai donkerkop met die kuite weer onder verbyloop.

Ma lyk of sy die horriepiep gaan kry. Onder haar rok se moue, wat tot by haar elmboë strek, sien ek haar hande bewe. Die rok se soom wat tot op haar bruin skoene hang, laat my dink aan ’n vrou uit ’n ander era. ’n Voortrekker. Of ’n kampvegter. Soos Ma wat veg vir alles wat oud en oor die muur is. Dis dalk hoekom sy nog aan Pa vasklou?

As dit moontlik is, is Ma nog maerder as vier dae gelede toe die treklorrie met haar boks hier weg is. Haar bruin hare is droog en hang vandag onversorg oor haar bleek gesig. Raak alles vir haar dalk te veel? Sal sy regtig van Pa skei?

Miskien moet ek liewer aan iets anders dink. My gedagtes dwaal terug na daardie breë skouers . . . Is die donkerkop wat ek op die skool se stoepe gesien het dieselfde donkerkop van ons straat? Ek het so ampertjies sy gesig gesien. Hy was net vyf tree van my af weg. So ampertjies. Sy oë, sy mond, sy hare . . . Migraine! Staan die spook nog steeds hier?

“My eerste dag by die nuwe skool was sleg, Ma. Uitsig Hoër, puh-leeze! Geen uitsig vir ’n lekker hoërskoolervaring daar nie.” Ek pluk my blou haarband uit my hare, krap my kopvel vinnig en skud my bokstert uit. Flippen skilfers!

Ma se oë knipper bekommerd. “Regtig, Sussie, gebruik hulle drugs?”

Regtig. Gaan sy nou daarby vashaak?

“Ek weet nie, Ma, maar dit lyk so. Hulle is almal sulke donker kinders. Lyk of hulle bedwelmd deur die lewe gaan.” Sy hoor nou niks meer nie. “Hulle rook darem sigarette ook.”

Ek vee die grynslag om my mondhoek met die agterkant van my een hand weg terwyl my ander hand deur my los hare kam. Ek het pouse gesmag om ’n trek te vat van ’n sigaret wat na my toe uitgehou is. Maar ek was te bang Hitler gaan dit aan my klere ruik. Al waaraan ek kon dink om te antwoord was: “Nee, dankie. Ek rook nie.” Asma sou ’n veel beter verskoning gewees het. Dalk sou die Bewoners van die Donkerkant my nie dan aangekyk het asof ek ’n cheap handsak is nie? Volgende keer moet ek maar eerder inval en puff.

“Drugs, Sussie? Jy moet tog daarvan af wegbly. Ek het mos vir jou pa gesê ons moes nooit . . .”

Ag, red my. Sy het nou behoorlik die pad byster geraak. As sy eers by die storie van die trek begin, eindig dit net-net voor haar herinneringe aan my geboortedag. En spaar my dit tog net. Hoe kan sy so op dieselfde noot bly aankarring? “Kerm, kerm, kerm soos ’n kat oor ’n verdomde derm,” sou ouma Hanna gesê het.

Minute later stap Ma prewelend by die kamer uit. Sy klink soos ’n CD wat op repeat gestel is. Dit is net “jou pa” voor en “jou pa” agter. Dit is tipies my ma om nou weer aan Pa te wil gaan staan en torring. “Ons moes nooit getrek het nie. Die stad is ’n gemors van ’n plek waar al wat ’n skarminkel is uithang.” Asof die platteland nie ook sy gespuis het wat om elke hoek en draai net wag om uit te pop nie? Spul skinderbekke!

“Ek mis my ou skool, my ou kamer, ek mis vir Reqita. MA!” gil ek. Dit help nie, die mure is mos doof en Ma se gemor het in die gang af verdwyn. Luister natuurlik net as ek iets kwytraak wat nie vir hulle ore bedoel is nie.

My hand glip onder my blou T-shirt in. My vingerpunte vryf oor die plek waar ek weet die swart, fyn ink op my boonste ribbebeen blink. Dit is die woorde wat ek en Reqita net voor die trek op ons laat ink het.

“Best friends.” Reqita se stem is nog klokhelder in my ore.

Mense sal dink ons is simpel, kinderagtige meisiekinders, maar met Google Translate het ons die Bulgaarse weergawe gekies:


Nou weet niemand wat daar staan nie en niemand hoef ook te weet nie. Ma gaan natuurlik die mure uitklim as sy van die tatoe uitvind. Ek grinnik. Ek sal nogal betaal om dit te kan sien, maar sal dit nooit waag nie.

“Ek gril my morsdood vir ’n tatoeëring, dis iets wat ek nooit sal doen nie,” het Ma eenkeer gesê terwyl ek oor my Adam Levine plakkaat gedrool het.

Asof dit ooit vir Ma ’n opsie sou wees, wou ek terughap, maar ek het geweet Pa sou my vir ’n maand gehok het.

Ek wip toe die voordeur toeklap en die klank deur die huis kraak.

“Ma! Ma-ha?” My oë rol sommer vanself dak toe en ek byt die hoek van my onderlip vas. Sy het wragtig die vermetelheid om nie eens koebaai te kom sê nie.

Ek gaan sit op my bed en kyk, asof vir die eerste keer, na my nuwe kamer. Soos verwag, lyk Adam Levine nie te sleg teen die vaal roomkleurige muur nie. As ek maar net die mure kan swart verf soos ek my ouers die laaste paar dae al smeek. Maar nee! Hoekom kan ’n mens nie jou eie ouers kies nie? Hoekom moet myne so plat en blerrie ordentlik wees?

Ek het die naweek weer kaartjies in die voorste ry gehad vir Saterdag- en Sondagaand se rusies in my ouers se kamer. Kan Pa nie besef dat as ek die klop op die vloer kan hoor, ek hulle in die kamer ook kan hoor nie? Hy het besluit om hulle kamer se vloer, wat reg bokant my kamer is, as wekker te gebruik. Hy klop met ’n skoen op die vloer sodat ek in die oggend moet opstaan. Hoekom kan hulle nie net vir my ’n alarm koop soos wat enige normale tiener het nie?

Adam Levine se oë volg my. “Vir wie kyk jy, sexy?” Ek vryf met my vinger oor my voortande. Dankie tog ek het van die drade ontslae geraak voor ons hierheen getrek het. Ek is lankal uitgekuier met die idee om die skool se nerd te wees. By die nuwe skool vat Rochelle gelukkig letterlik die koek.

Dit is nou die tyd vir ’n nuwe begin en ’n nuwe Lehandi Botha!

Ek pluk my lessenaar se laai oop en haal ’n notaboekie en pen uit. Ek krap eers met die pen oor my kopvel voor ek skryf:


Hoe gaan ek dit nogal regkry? Ek probeer al vir sestien jaar en . . . Hoe kry enige meisie ’n ou?


Blerrie hoe?

Jig! Die inksmaak in my mond maak my naar. Ek gooi die pen in die asblik en haal ’n nuwe een uit die laai terwyl ek my lippe met ’n tissue afvee. Ek tik eers net met die nuwe pen teen my kop. Toe kliek ek:


Oukei! Easy peasy.


Tevrede druk ek die pen en notaboekie weer terug in my laai en staan op. Op my bedkassie glimlag ’n jong meisie met donker hare skaam. Ek tel die foto op. Reqita, my BFF.

Op drie het ons saam op ons poppe leer hare kam. Op vier het ons balanstoertjies op die muurtjie agter ons ou huis geoefen. Met Pa se hamer in die hand het ons op vyf saam ’n voëlhok gebou. Ons het saam doele gegooi by die netbalring wat Pa agter in ons erf geplant het toe ek ses geword het. Ons het saam tennis in die straat gespeel toe ons in graad twee span gekry het. En ons was saam opgemaak soos Marilyn Monroe en Elvis, ek in ’n wit rokkie en sy in ’n swart glitterpak by ons konsert in graad drie. Is daar ’n enkele herinnering waarvan Reqita nie deel is nie?

Ek voel-voel bo-oor my T-shirt aan die plek waar my tatoe veronderstel is om te wees. Ek moet haar seker nou van my nuwe skool vertel? Ek sit die foto weer terug op my bedkassie, plak myself voor my lessenaar neer en trek my skootrekenaar nader.

Die koordlose muis skuif geluidloos oor die tafel. Ek tik met ’n enkele vinger tydsaam.

Google, kliek.

Facebook.

Login, kliek.

Reqita Liebenberg

Messages.

Hi Reqi

My eerste dag by die nuwe skool was ’n totale flop. Ek het ’n blou kortbroek, blou T-shirt en ’n baadjie aangehad. Ek dink ek sal môre eerder jeans aantrek. Te veel kinders het gelag en gedink die kortbroek is my ou skool se uniform. Watter hoërskool girl dra ’n kortbroek as skooluniform?

Anyways. Ek het obviously soos ’n seer oog uitgestaan, waar die res in groen, flippen lelike groen, skooldrag my gestaan en aangaap het. Hulle het seker gedink ek is ’n freako. Lol.

My ma het glo eers oor twee dae tyd om vir my die groen tweedehandse skooldrag by die klerebank te gaan koop. Weer moet ek met hand-me-downs tevrede wees. Unbelievable!

Sy het my net vinnig by die huis kom drop, toe waai sy weer.

Jy moes gesien het, in die klas – periode net na pouse – was daar ’n girl, Reqi, ek sê vir jou haar rompie was net lank genoeg om haar stêre toe te hou, maar ook amper nie.

Die girl gaan toe en klim op die tafel en dans terwyl sy sing: “I’m all about that bass. ‘Bout that bass, no treble.”

Die Engelse juffrou het amper ’n hartaanval gekry. Toe tune die girl haar: “Chill, Juf, ek klim af.”

Ai! Ek wens sooo jy was hier om dit te sien.

Groete!

Send.

’n Verlangende sug glip uit. My lewe is amptelik verby! So verby soos ’n Wooden Mic-wenner se sangloopbaan. Die hoogtepunt van my dag is wanneer kinders nie meer maniere of respek het nie.

“G’n wonder die Fundi-varkie het my nader geklap nie,” prewel ek by myself. Kon sy dit in my DNA ruik? Of staan dit in hoofletters op my voorkop geskryf: NERD?

Ek en Prins Donkerkuif

Подняться наверх