Читать книгу Slagoffers - Dine van Zyl - Страница 6

1. Luiana-vliegveld

Оглавление

Pakke biltong, sakke droëwors, slap gesmelte sjokolade tuimel vorentoe. Onder ons strek die verlate vlaktes van Afrika; ’n kronkelende rivier. Ons sit langs mekaar teen die klein Dakota-vensters, woordeloos teen die geraas van die motore, ons kaal bene sweterig op die metaalbanke, die vrag tussen ons gepak. Die vliegtuig duik steeds. Tydskrifte skuif, leë koeldrankblikke val.

Ons vlieg nou boomtophoogte, sien die grys sandgrond, die grasvelde, die yl bome wat weinig skadu gee. Die vlerke lig en sak deur warm lugstrome. Die horison kantel. Riko Lewis gryp aan die sitplek vas, die tolk se gesig verdwyn in sy hoed. Water wel op in my mond. Die vliegtuig sak af op ’n landingstrook. Wiele gor op die grondblad. Bondels stof dwarrel verby die vensters tot die vliegtuig tot stilstand kom en die motore afgeskakel word.

Ons bly verskrik sit; warm, benoud en swetend. Die deur swaai oop. ’n Muur van hitte. Dan spring die tolk op en steier uit. Ek agterna, in die wit van die Angola-son. Elke asemteug is ’n skroeiende neerdrukkendheid. Die grys sandgrond weerkaats op in my gesig, my sonbril help niks. Met my hande voor my oë loer ek deur skrefies om my. In die spikkelskadu van die bome staan soldate, wapens gereed, ammunisiebande om die lyf, magasynsakke aan die sy. Ons het geland op die Luiana-vliegveld in Angola, in die gebied wat die Portugese sedert die koloniale tydperk die Gatkant van die Wêreld noem.

Troepe begelei ons na ’n riethut met ’n militêre opvoutafel, waar ons vorms invul en ons paspoorte gestempel word asof ons wettig die landsgrens oorgesteek het.

Die tolk sê iets in Portugees – hulle ignoreer hom. Hy probeer Frans, dan Duits, dan Engels. Die reaksie is stug, bot, onvriendelik. Die wagte leun lui teen die bome. Ek kyk rond vir ’n toilet, kry ’n grashut sonder deur tussen die bome. Binne is ’n sitplek van kiaathout – die putstelsel. ’n Paar vlieë draai rond, of sit lui teen die riete. Miskruiers beur met pantserdoppe deur die sand. Daar is nie water vir my hande nie.

By die vliegtuig dut die vlieënier agter sy Ray-Bans. Die vlugpersoneel laai die vrag af – kos en mediese voorraad vir die mense van UNITA in die sogenaamde Bevryde Gebied van Angola. Ons kry stukkies verbrande vleis en warm blikkies Coca-Cola wat spuit as ons dit oopmaak. Ons eet, ons drink. Ons kruip onder die vliegtuig se vlerke in vir koelte, sit op die bagasie. Wag. Wanneer kom UNITA ons haal?

Riko Lewis trek sy hemp uit en gaan staan in die son met die 16 mm-rolprentkamera. “Die lig is te helder,” sê hy. “Ek kry g’n diepte nie. Alles lyk tweedimensioneel. Plat soos ’n almanak. Ons sal soggens moet skiet, sê maar tot so tienuur se kant, of anders laatmiddae as die goue uur begin, wanneer die skerpte van die dag sagter word en die lig verkleur.”

Dit was nie so maklik om hom op te spoor nie. Riko is ’n vryskutkameraman (vir vryskut lees werkloos) wat in ’n kombi agter die beste branderplanktoestande aan rondswerf, waar hy dan ook sommer die nag deurbring. Soms was en skeer hy soggens in ’n wasbak by die garage in Mouillepunt, en parkeer daarna sy kombi met die branderplank op die dak voor ’n telefoonhokkie in Strandstraat. Tussen ag en nege, het almal geweet, is Riko se “kantoorure”. Dis wanneer ons hom kon skakel by die publieke telefoon, afhangende van die branders en die intensiteit van die vorige aand se kuier.

Hy is die ideale kameraman vir die projek. Sonder ambisie, sonder verpligtings, sonder ego, jonk en sorgvry, maar met ’n natuurlike aanleg vir die lens. Hy het ’n tatoeëermerk op sy bors: Only the Good die Young.

“Trek aan jou hemp.”

“Dis warm!”

“Trek aan jou hemp. Jy verstaan nie die kultuur van dié mense nie. Niemand anders is kaalbolyf nie. Jy kan aanstoot gee.”

Hy luister na my. Hy mag jonk en loskop wees, maar ons werk goed saam. Hy was van groot hulp met die voorbereiding van ons ekspedisie. Die kameratoerusting kon ek huur, maar al die ander goed moes ek self aankoop. Ons het alles in vier trommels gepak, elke trommel se inhoud oor en oor nagegaan, en dit duidelik gemerk. In die voorraadtrommel was ons films en klankbande, in die mediese trommel was enigiets van slangbytserum tot verbande tot Riko Lewis se hooikoorspille. In die negosietrommel het ek ’n klomp pakke tee gesit, Long life-melk, lekkergoed, sout, suiker en aanmaakkoeldrank. In die rommeltrommel was die res. Gaslampies, flitse, blikborde en bekers, papierhanddoeke, kleefband, rolle tou, dun en dik, ’n groot vel plastiek om oor toerusting te gooi as dit reën, slaapsakke, ’n skêr, naalde en sterk gare, en my woordverwerker.

Net jammer op Waterkloof-lugmagbasis wou die vlieënier slegs die helfte van ons goed neem en moes ons holderstebolder twee nuwe trommels pak, sodat ek nou nie weet wat is in en wat nie.

Ek was in die filmateljee besig toe die telefoon lui, en het effens geïrriteerd geantwoord; ek hou nie daarvan om gesteur te word as ek besig is met redigering nie. Maar die persoon aan die ander kant was nie die gewone inbeller nie. Dit was nie iemand wat wou kommentaar lewer op ’n dokumentêre program wat ek gemaak het, of wat ’n sappige nuusbrokkie wou deel nie. Dit was ’n selfversekerde, welsprekende persoon met ’n aura van geheimsinnigheid. Hy het gesê hy is die Suid-Afrikaanse skakelpersoon van die UNITA-rebellebeweging van Angola. Kan ons gesels?

“Waaroor? Savimbi?” Die charismatiese leier.

“Nie oor die foon nie, Nell. Kan jy my ontmoet vir ete by La Perla, net om die draai daar van julle?”

Buite het die seemeeue op die vensterbank geskree. In Angola was UNITA besig om te mobiliseer teen die MPLA-regering, wat reeds vyftigduisend Kubaanse soldate ingevoer het. Aan die noordelike grens van Namibië het SWAPO-vegters die land probeer binnesypel en duisende jongmanne van Suid-Afrika is opgeroep vir militêre diensplig. Ek het geril van ’n vinnige toevloei van adrenalien, en die moontlikheid van ’n scoop. Om daar te wees wanneer dinge gebeur.

Ek het die aanbod aanvaar en toe opgewonde na die klanktegnikus gedraai. “Ons moet klaarmaak. Ek het ’n afspraak vanmiddag.”

La Perla was vol soos altyd. Maar vir ons was daar plek by ’n tafel in die hoek. My gasheer het met sy rug teen die muur gaan sit. Hy het homself as Brian voorgestel. Geen van nie, geen rang nie, en hoe hy ook al probeer het om soos ’n civvy te lyk, kon ek die militêre agtergrond sien. Die ferm skouers, die reguit blik, die ontwerpersklere wat netjies soos ’n uniform aan hom sit. Tog het hy die gesetheid gehad van ’n middeljarige man wat sy kantoor uit ’n restaurant bedryf.

Hy het niks bestel nie, maar kos en wyn het op die tafel verskyn. “Dankie, Bruno.” Sy oë het vinnig na die mense om ons gekyk, byna onopsigtelik. Geoefen. Hy het aan die wyn geruik. “L’Ormarins Blanc Fumé, ’n besonderse wyn. Ek drink dit altyd as ek in die Kaap kom.”

“Jy wou met my praat oor Savimbi?”

Hy het gewag tot die kelner buite hoorafstand is. “Moenie sy naam hier noem nie.”

“Hoekom nie?”

“Sekerheid.”

“Hier? In La Perla?”

“Veral. Jy weet nie wie naby jou sit nie. Praat van Spyker.” Weer die oë wat vinnig rondkyk. “Ek sal sommer dadelik vir jou sê waaroor dit gaan. UNITA voer ’n rewolusionêre oorlog. En ’n rewolusionêre oorlog is ’n politieke oorlog. Spyker moet die steun van die Amerikaners kry, maar Viëtnam is nog vars in die Amerikaners se geheue. Die hele suidelike en sentrale Afrika wag om te hoor of die VSA hulle gaan help. Sou die VSA weier, mag Zambië, Botswana en Namibië onder Kommunistiese druk swig.”

“En waar kom ék in die prentjie?”

“UNITA soek ’n bietjie publisiteit. Jy het al baie goed aangepak. Het jy nog nooit daaraan gedink om ’n dokumentêr oor Spyker te maak nie?”

“Ja. Maar hy het nie eintlik ’n telefoon dat ek hom kan bel nie. Ek wil nie met hom praat by die Suid-Afrikaanse Persklub nie, dis vir die nuuskantoor. En die man is so ’n enigma, niemand weet waar om hom op te spoor nie. Dan hoor jy hy stap van basis tot basis om die troepe aan te spoor, dan hoor jy hy het gevlug na die buiteland, dan hoor jy hy is gewond, dan hoor jy hy is dood. Hoe kry ek hom in die hande?”

“In sy bos, by sy mense.” Brian het rondgekyk. By die tafel langs ons is die bestelling neergesit. Tongvis vir hom, swartmossels vir haar. “Dis ’n ervaring om hom te ontmoet. ’n Forse houding. Sy kamoefleerpak sit altyd netjies. Hy dra ’n kierie met ’n ivoorhandvatsel soos ’n septer, en ’n Colt 357 Magnum op die heup. Hy is altyd omring deur sy persoonlike lyfwagte; jy moet baie versigtig wees dat jy nie tussen hulle en Spyker kom nie.”

“Wat sal hulle doen?”

“Hulle is daar om hom te beskerm, en hulle is tot enigiets in staat. Sy lewe is gedurig in gevaar – so hulle doen dit goed, as jy daaraan dink dat hy nou een en vyftig jaar oud is.”

Ek was reeds betower deur die misterie van die man. “Watter soort mens is hy?”

“Sjarmant, briljant en charismaties. Hy voer onderhoude in Portugees, Frans, Duits en Engels. Boonop het hy ’n flirtasie met die Chinese gehad, en is hy ’n aanhanger van Mao Zedong. Maar Spyker is nie ’n volgeling van enigiemand nie, hy is uniek, ’n toonaangewer. Hy is ’n briljante diplomaat met ’n magiese leierskap wat sy mense tydens ’n rally tot histerie kan aanspoor. Hulle noem hom O nosso Presidente, Ons President.”

“En hoe gaan ek hierdie god ontmoet?” Ek was duiselig van die opwinding.

“Ek kan dit vir jou reël met die Donderdag-vliegtuig van Pretoria na Angola, sodra daar plek is.” Hy het ’n teken vir die kelner gegee. “Hulle weet al om meer garnale te bring.” Hy het sy vingers afgelek. “Wie vat jy saam? Jou span moet so klein moontlik wees. Ek sal vir jou ’n tolk gee, jy gaan hom nodig kry daar. Jy sal oor die weg kom met Engels, maar die mense praat meestal Portugees. So julle is klaar twee. Wie’s jou kameraman?”

“Riko Lewis. Ek sal self die klank doen.”

“Hy al diensplig gedoen?”

“Nee. Hy is medies ongeskik. Hy moes verlede jaar gegaan het, toe keur hulle hom af want hy kry hooikoors. Maak dit hom medies ongeskik?”

“Kan wees. Moontlik. Angola is nie vir sissies nie, dis hoekom ek aan jou gedink het. Jy het jou al bewys. In Angola het jy nie geriewe nie. Jy sal van UNITA se militêre infrastruktuur moet gebruik maak; van hulle vervoer en hulle verblyf. Onthou, Suid-Afrika het uit Angola onttrek ná die Lusaka-akkoord. Jy sal ’n gas van UNITA wees, en volgens die MPLA-regering onwettig in die land. As jy in verkeerde hande val, ken ek jou nie. Jy is op jou eie.”

“Sal ek enige kontak met die buitewêreld hê?”

“Beperkte kontak per digitale elektroniese transformator. Dis ’n instrument so groot soos jou handpalm, wat jy kan gebruik vir boodskappe na my toe. Ek is jou kontakpersoon. As jy enigiets nodig kry, of ons moet jou kom haal, of wat ook al, kry jy jou troep, of in jou geval seker jou kameraman, om die antenna oor ’n boom te gooi. Jy tik die boodskap op die DET en stuur. Jy moet net oppas wat jy sê. Moenie plekname noem nie, moenie eiename noem nie. Ons sal vir jou ’n kodenaam gee. Jy gebruik dit, en jy gebruik myne, Dolfyn. Oor ek so mal is oor die see.”

“Hoekom Spyker?”

Hy het gelag en sy kop geskud en plek gemaak op die tafel vir die vars bestelling. “Tipies joernalis. Jy mis ook niks. Dis maar iets tussen ons manne. Sy eerste vrou, Vinona, is dood – jy sal moontlik hoor dis onder vreemde omstandighede, wat natuurlik die grootste klomp snert is. ’n Weerligstraal het haar doodgeslaan. Nou is hy die vrolike wewenaar. Hy hou van vroumense. Dis nog ’n rede hoekom ek juis vir jou gevra het om die program te maak. Spyker is ’n baie besige man, maar vir ’n vrou sal hy altyd tyd inruim.” Hy het behendig die garnaal afgedop en die kop uitgesuig. Knoffelsous het in die kuiltjie van sy ken gaan lê. “Het jy ooit garnale geëet in Luanda, nog in die ou Portugese dae? Nie? Jy sal nog, eendag.” Hy’t sy glas gelig. “Viva a UNITA!”

“Viva Spyker!”

Die kelner het uitdrukkingloos die bord met leë doppe verwyder, die paartjie langsaan het gewonder oor nagereg of liewers huis toe gaan, en ek het ’n groot sluk wyn geneem. Die situasie in Angola was dreigend. Enigiets kon enige oomblik gebeur; miskien kon ek dit vooruit loop, miskien was dit my geleentheid om internasionaal naam te maak. Om dit te kon doen, sou ek my werk moes bedank en vryskut gaan. Ek sou my voordele en aansien verloor, ek sou my pensioengeld gebruik om toerusting te huur; ek sou ’n groot waagstuk onderneem. Maar ek kon, ek wou; dit was 1986 en ek was ag en twintig jaar oud.

Hierdie één telefoonoproep om halftien op ’n Dinsdagoggend, terwyl die gety inkom en die toeristebus voor die SAUK se deur stilhou, het my lewe omgedolwe. Dit sou my vyftien jaar kos om stelselmatig uit die dieptes van die traumaput na die oppervlak van ’n normale lewe terug te keer. Ek sou my totaal uit die openbare lewe onttrek. Ek sou my vriende vermy. Ek sou nooit weer uitsaai nie, nooit weer ’n film maak nie en nooit weer skryf nie. Ek sou dikwels onder my lessenaar skuil met my knieë onder my ken opgetrek tot die verskriklike gevoel van beklemming en angs verdwyn het. Ek sou nooit weer ’n horlosie dra nie, nooit weer ’n emmer sien sonder om te onthou nie, nooit weer ’n weggooireël in ’n oorlogsberig lees van wandade wat gepleeg is en nie die werklikheid daarvan visualiseer nie.

Ek raak rusteloos. UNITA het geweet ons kom die dokumentêr oor Savimbi en sy bosvegters doen. Ons kan nie hier rondsit nie. Ek gaan na Riko toe. “Kom ons skiet.”

Ons stap op die aanloopbaan, kyk rond wat ons vir wegsnyskote kan gebruik. Bome met klein blaartjies, miskruiers, miere, ’n geelstertakkedis wat in die droë gras verdwyn. Twee UNITA-soldate beduie met hul wapens ons moet teruggaan vliegtuig toe. Ons mag nie die aanloopbaan skiet nie. Ek ignoreer hulle, stap verder. Wie dink hulle miskien is ons? Spioene of iets? Ons het ’n storie om te doen. Ons tyd is beperk. Ons is gaste in hulle land, ons wil welkom voel.

Maar Riko trek my terug. “Kom, Nell. Mens stry nie met ’n AK nie.” Tussen die bome patrolleer nog soldate. Ek gaan sit geïrriteerd op ’n trommel, die vliegtuig tik in die son. Ons drink weer warm Coke en lek sjokolade uit die blinkpapier. Die tolk lê bleek teen die vliegtuig se wiel, sy hemp donker van die sweet. Naaldekokers kom sit op ons bagasie. Riko vang een; die troepe hou hom lui dop. Hy bind tandeflos om die dun blou lyf, en die ander punt aan sy hoed, dat die insek in sirkels bokant sy kop woer. Een troep stap nader, wys skugter na die naaldekoker. Hy wil ook ’n helikopter hê.

In die verte sien ons stof. Voor jaag ’n blink gepoleerde Toyota Land Cruiser met ’n UNITA-registrasienommer. Dan volg ’n gehawende troepedraer van onherkenbare herkoms. Hulle hou in ’n wolk van dieseldamp en stof onder die bome stil. Uit die Toyota klim senhora Fernanda, senior lid van die propaganda-afdeling van UNITA. Sy is kort en stewig en die enigste persoon van UNITA met siviele klere aan. Sy het ’n glimlag soos ’n weerligstraal. Dit flits en dan’s dit weg en jy wonder of jy dit werklik gesien het. Sy was voorheen by die buitelandse missie in Parys en het ook aan Oxford gestudeer, sodat sy ewe vlot Frans en Engels praat, benewens die Portugees waarin sy skoolgegaan het. Sy het kursusse in Switserland geloop – deur medium van Duits. Sy is van die Ovimbundu-stam, maar praat normaalweg deur ’n tolk met die plaaslike inwoners. Nie omdat sy nie Imbundu ken nie, maar omdat sy haarself te meerderwaardig ag om direk met die mense te praat.

Boonop het sy ’n houding van gesag wat die offisiere beleef agter haar laat stap en die troepe onbewustelik op aandag bring, elkeen met ’n naaldekoker bo sy kop.

Slagoffers

Подняться наверх