Читать книгу Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit - Страница 4
Voorwoord
ОглавлениеJakobus skryf sy brief aan Christene in konflik. Rondom hulle in die samelewing is daar botsings en rusies; tussen hulle as gemeentelede stryd en onmin; en binne-in hulle is daar teenstrydige begeertes, onsekerheid en twyfel oor wat hulle te doen staan.
Dié openbare, onderlinge en innerlike konflikte werk boonop op mekaar in en vererger die situasie. En so word hulle al hoe dieper vasgevang in spirale van stryd.
Boonop besef die gelowiges aan wie Jakobus skryf nie eens dat hulle self grootliks die oorsaak van hul probleme is nie.
Daarom skryf hy vir hulle ’n brief waarin hy as ’t ware ’n spieël voor hulle kom neersit (vgl. 1:23-25) sodat hulle daarin kan kyk en hulleself kan herken.
Op dié manier wou hy hulle help om hul konflikte te bowe te kom sodat hulle innerlik en onderling vrede en genesing kan vind. En as heel en gelukkige mense kan leef.
Daarom praat hy met hulle oor wysheid, wat eintlik ’n Ou-Testamentiese naam vir die Heilige Gees is, én oor gebed. Want om wysheid en die Heilige Gees moet daar gebid word. Só ontvang gelowiges heelheid, genesing en vrede.
Christene in Suid-Afrika beleef tans ook allerlei konflikte. Dit maak nie saak waar ’n mens kyk of van watter Christene ’n mens praat nie.
Rondom ons is daar groeiende spanning in die samelewing: stryd, bitterheid, geweld.
Onder ons is spanning: ingrypende meningsverskille oor waarheen en waarom en hoe en wanneer.
Binne-in ons is spanning, soms diep verborge in ons hart: twyfel, onsekerheid, tweespalt, dubbelslagtigheid.
Ons is Christene in konflik. En ook ons het ’n spieël nodig – die spieël van die Woord.
Hierdie oordenkings is in die loop van die jare gebore en geskryf. Daarom praat hulle redelik algemeen. Dit is nie vir ’n bepaalde situasie of spesifieke gelowiges bedoel nie. Tog is dit vandag dalk nog meer aktueel as vroeër – en word dit al hoe meer aktueel. Daarom sal vandag se lesers hulle maklik met die eerste lesers van Jakobus kan vereenselwig. Hedendaagse Suid-Afrikaanse Christene sal maklik hul eie persoonlike en praktiese toepassings kan maak. Want ook ons het behoefte aan wysheid – aan die wysheid van Bo, aan die Heilige Gees. Daarom word hierdie oordenkings ook met die oog op Pinkster aangebied.
Hopelik kan ook Suid-Afrikaanse Christene en kerke – vasgevang in allerlei spannings en konflikte – leiding, troos en genesing vind in Jakobus, die wysheidsleraar, se praktiese raad.
Mag die Pinkstergees ons help om waarlik ’n Pinksterkerk te wees: heel, genees en volkome.
DIRKIE SMIT