Читать книгу Wat sien ons in die spieël - Dirkie Smit - Страница 5
1
Оглавление’n Bede om ’n volkome gemeente … of nie?
Lees Jakobus 1:2-8
1 Dat Jakobus aan mense skryf wat konflik geken het, word duidelik wanneer ’n mens hierdie boek – of laat ons maar sê, hierdie brief – met aandag lees.
Hy skryf aan gelowiges wat versplinter is, onderling én innerlik. Sy lesers is mense wat verdeeld en in stryd is met mekaar, en daarom ook verdeeld, verward en verskeurd in hulleself. En hulle weet nie wat om daaromtrent te doen nie. Hulle kom wysheid kort.
Daarom is Jakobus se brief vol lewenswyshede oor allerlei sake sommer goeie “gesonde verstand”-raad. Dit laat dié brief lyk soos die tipiese Joodse wysheidsgeskrifte wat ons in die Ou Testament ook kry. Dit lyk of Jakobus, soos die tipiese wysheidsleraars in Oud-Israel, nie sake van ’n kant af deurpraat nie. Hy begin iets oor ’n saak sê, maar los dit dan eers en kom later weer, en dalk nog wéér, daarop terug.
Net soos die wysheidsleraars vertel hy ook nie juis iets nuuts vir sy lesers nie. Hy sê nie eintlik iets wat hulle nog nie weet en waarmee hulle nie reeds saamstem nie. Hy herinner hulle bloot aan wat hulle al klaar weet en glo.
Juis daarom het uitleggers lank gedink Jakobus het nie juis ’n spesifieke doel met sy brief gehad nie. Hy het raad seker sommer losweg bymekaargesit.
Maar dit is nie heeltemal waar nie. As ’n mens mooi kyk na die probleme wat hy aanroer, die raad wat hy gee en die strategie wat hy gebruik om sy saak te stel, het hy duidelik ’n definitiewe doel gehad: Hy skryf aan gelowiges wat in “allerlei beproewings” (1:2) beland het en dit as versoekings ervaar, mense wat sonder dat hulle dit besef, verlei is op dwaalweë. Hulle doen dinge wat hulle nie behoort te doen nie. En, die ergste van alles, hulle besef dit nie!
2 Omdat Jakobus bewus is van dié probleme, wil hy hulle help om hul onderlinge en innerlike konflikte te bowe te kom. Hy wil die gemeentes aan wie hy skryf (vgl. 1:1), help om tot vrede, heelheid, genesing, vereniging, integrasie, volheid – of wat ’n mens dit ook al wil noem – te kom.
Om die toestand van heelheid te beskryf, gebruik hy in sy brief twee belangrike Griekse woorde wat in die 1953-hersiening weergegee is as “volmaak” en “sonder gebrek” (1:4). Volmaak en sonder gebrek. Só moet hulle wees, as gemeente maar ook as individuele gelowiges.
Reeds in die openingsinne van sy brief sê Jakobus reguit: Hulle moet “tot volle geestelike rypheid” kom – soos 1:4 in die 1983-vertaling dit stel. Dié Afrikaanse uitdrukking is ’n redelik vrye omskrywing van die twee terme wat náás mekaar in die oorspronklike Grieks gebruik word. Die Good News Translation Bible vertaal dit byvoorbeeld ook met twee woorde: “perfect and complete”.
Die eerste Griekse term, teleios, beteken volkome, “volmaak”. In sy brief herhaal Jakobus dié term agt keer, in verskillende vorme. Dit is duidelik vir hom ’n belangrike en veelseggende gedagte.
Die tweede Griekse term, holokleeros, beteken naastenby heel, geintegreerd, onverdeeld, ongebroke, nie verskeur nie, “sonder gebrek”. Dié woord, of dele daarvan, kom ’n paar keer in die Jakobusbrief voor, terwyl woorde wat so min of meer as die teendeel daarvan beskou kan word, naamlik dipsuchos (tweeslagtig, met twee siele, in tweespalt, dubbelhartig, verdeeld) en akatastatos (iets soos onbestendig, rusteloos, wankelmoedig), albei verskeie kere gebruik word. Die konflik, die “versoeking” (1:12) waarin hulle verkeer, het dus te make met tweeslagtigheid en onbestendigheid.
In die eerste paar sinne van sy brief, en spesifiek in vers 4, maak Jakobus duidelik wat sy doel met die skrywe is. Hy wil sy lesers aanspoor en help om ontslae te raak van die konflik en tweespalt wat hulle innerlik én onderling verdeel en verskeur. Hulle moet onverdeeld, “sonder gebrek”, “volkome” wees – as gemeente, maar ook as individuele gelowiges.
3 Die eerste gevolg wat die konflik en tweespalt in en tussen hulle het, is dat dit hulle laat “twyfel”. Dit maak hulle “onbestendig” (1:7-8). Soos gesê, gebruik Jakobus hier die Griekse woorde dipsuchos en akatastatos, wat presies die teenoorgestelde van volkome en heel en geïntegreerd beteken. Letterlik beteken dié woorde: in twee verdeel, twee harte gee, twee siele, twee hunkerings, dubbele prioriteite. Dit is wat die beproewings aan hulle doen.
Anders gestel: Hulle weet nie wat om te doen nie. Hul konflik met mekaar maak dat hulle aan die een kant verskeur word tussen onchristelike, vleeslike, wêreldse optrede teenoor mekaar en, aan die ander kant, dié soort optrede wat die Woord van God, die Here, die Gees van hulle verwag. Hulle staan deurentyd voor hierdie keuse, hierdie versoeking. Verskeurd. Onseker. In vertwyfeling. Met twee harte.
En omdat hierdie twee drange in hulle woed, weet hulle nie hoe om die rusies en onenighede tussen hulle te hanteer nie. En so word hierdie beproewings vir hulle versoekings.
4 Maar hierdie gelowiges wil nie toegee aan dié versoekings nie. Daarom bid hulle om wysheid (vgl. 1:5), hulp, raad en leiding. Maar, sê Jakobus, selfs in hul gebede is hulle nie oortuig, enkelvoudig en duidelik oor wat hulle wil hê nie.
Hulle bid, maar is by voorbaat nie seker of hulle die leiding wil hê wat hulle vermoed hulle gaan kry nie. Hulle pleit om wysheid, maar eintlik weet hulle diep binne-in reeds wat van hulle verwag word, en dít wil hulle juis nog nie volledig, van harte, doen nie.
Hulle bid dus terwyl hulle eintlik nog nie volkome oortuig is van wat hulle wil hê nie. Elkeen se hart is verdeeld, onbestendig. Hulle kom iets kort, maar hulle weet nie mooi wat nie.
Dáármee wil Jakobus hulle help. Die beproewings is nie onoorkombaar nie, sê hy. Trouens, dit kan nog ten goede vir hulle meewerk. God sal hulle sonder voorbehoud help én sonder verwyt oor wat hulle dalk reeds aangevang het in hul pogings om die konflik en die krisisse te hanteer. Hy sal hulle die nodige wysheid, leiding en raad gee … as hulle bid.
Maar dan moet hulle “gelowig bid en nie twyfel nie” (1:6). Hoewel in vers 5-6 en 7-8 in die Grieks twee verskillende woorde gebruik word, het die Afrikaans in albei gevalle net die een woord, “twyfel”. Jakobus verduidelik in vers 5-6 wat hy met dié woord bedoel: Dit is om in verskillende rigtings gejaag te word, soos ’n brander in die see deur die wind heen en weer gedryf word.
Hy bedoel daarom heel moontlik nie – soos ons dikwels dink – dat hulle, wanneer hulle bid, nie moet twyfel of hul gebed verhoor gaan word nie. Hy bedoel eerder: Wanneer hulle bid, moet hulle nie op twee gedagtes hink en twyfel oor wat hulle wil hê nie. As hulle waarlik wysheid wil hê, sal God hulle dit sonder voorbehoud en verwyt gee. Maar as hulle wysheid vra terwyl hulle eintlik hul eie soort gebedsverhoring verlang, is hulle onbestendig en dubbelhartig. Dan word hulle in twee rigtings gedryf. Hulle misbruik die gebed. En dan moet hulle nie dink hulle gaan iets ontvang nie.
Later in sy brief kom Jakobus hierop terug en in krasse taal wys hy hoe ver hulle hul selfsugtige gebede gedryf het.
Wie bid, moet dus “gelowig” (1:6) bid. Dit wil sê, as gelowiges; as mense wat nie net sê en bely dat hulle glo nie, maar wat inderdaad glo. Om te bid is ook om iets te dóén. Ook die daad van gebed moet geloof weerspieël. Dit beteken dat bidders hulle in hul gebede moet oorgee aan God en met onverdeelde hart sy wysheid en leiding in hul beproewings soek.
5 Dat hulle om wysheid moet bid in hul beproewings, hoef ons nie te verbaas nie. Vir die Ou-Testamentiese tradisie waarin Jakobus gestaan het, was wysheid dié omvattende term om die ware, egte, goeie lewe te beskryf. Dié wysheid was nie soseer iets wat ’n mens geweet het nie, maar iets wat ’n mens was, of beoefen het.
Vir Jakobus, soos vir die Ou Testament, was “wysheid” en “goeie gawes” en die “Heilige Gees” feitlik sinoniem. In die Ou-Testamentiese tradisies gee die Heilige Gees van God die goeie gawe van wysheid. Om te bid om goeie gawes van Во, om die beste gawe, is dus presies dieselfde as om te bid vir wysheid of om te bid om die Heilige Gees.
Ook in die Evangelies blyk hierdie verband duidelik. Dink byvoorbeeld aan Lukas 11 en Matteus 7 se onderskeie weergawes van die belofte dat God gebede verhoor. Wie vra, sal kry, word daar belowe. Wie soek, sal vind. Wat? Die Heilige Gees, sê Lukas (vgl. Luk 11:13). Goeie gawes, sê Matteus (vgl. Matt 7:11). Want dié twee is presies dieselfde. Dit is die beste gawe moontlik. Dit is die uitnemende gawe wat die goeie Vader in die hemel vryelik gee vir dié wat soek, wat vra, wat klop: wysheid, die Heilige Gees.
Jakobus praat hier in dieselfde tradisie en gees. Die gemeente wat in soveel konflik verkeer – met mekaar en elkeen met hom- of haarself – kom een ding kort: die goeie gawe van die Vader in die hemel, die Heilige Gees, die wysheid van Bo. Dié goeie gawe, die Heilige Gees, die wysheid van Bo – so sal ons later sien – sal hulle help, leer hoe om te leef, die deugde en die krag gee om konflikte te oorwin. Dit sal hulle genees, as gemeente en as enkelinge heel maak, geregtigheid en vrede skenk. Dit sal hulle in staat stel om ware godsdiens te beoefen, waarlik vry te wees, waarlik gelukkig.
Kortom, as die kerk telkens (ook elke jaar as voorbereiding vir en in afwagting van die herdenking van die Pinksterfees) biddend, vraend en kloppend bymekaarkom, dan doen ons presies wat Jakobus ons hier oproep om te doen: Ons bid om die Heilige Gees, ons bid om die beste gawe van Bo en ons bid om wysheid van God.
6 Maar as ons dit doen, moet ons onsself ondersoek en vra of ons dit as gelowiges doen. Dit wil sê, of ons dit bedoel.
Begeer ons waarlik dat ons gebede verhoor word? Of begeer ons heimlik iets anders?
Verlang ons waarlik dat die Heilige Gees ons sal vervul – as gemeente, kerk en gelowiges? Wil ons werklik hê dat die Gees ons ware lewenswysheid, geesvervulde gedrag en Christelike deugde moet gee? Of het ons dalk in ons hart, diep verborge, eintlik ander motiewe, bedoelings en begeertes wat ons wil hê God moet vervul, ander gebede wat God moet verhoor?
7 Jakobus wou gemeentes in konflik help om reg te leer bid, om sonder dubbelhartigheid te bid vir die wysheid wat hulle nodig het in hul beproewings, in die stryd wat hulle onderling en in hulleself ervaar. Soos genoem, wou hy hulle help om “volmaak” en “sonder gebrek” te wees.
Die 1983-vertaling, het ons gesien, vat die twee Griekse uitdrukkings in 1:4 saam in een strofe: “sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom.” Die term “geestelik” of “gees” kom glad nie in die Grieks voor nie. Om die waarheid te sê, Jakobus praat nêrens in sy brief van die Gees nie. En tog is dit ’n geskikte vertaling van wat Jakobus eintlik wou sê.
Soos ’n tipiese Joodse wysheidsleraar wil Jakobus hê hulle moet bid om wysheid. En dit beteken om te bid om die Heilige Gees van God.
Jakobus wil hê die kerk, die gemeente, moet sy onderlinge stryd en konflik oorkom. Dít is die gawe van die Heilige Gees van God.
Jakobus wil hê hulle moet innerlik genees word, dat hul innerlike gebrokenhede, spannings en verskeurdhede oorwin word. Dít is die werk van die Heilige Gees van God.
Jakobus wil hê hulle moet saam met mekaar en in die wêreld leef, soos wat die wet van God van hulle vra. Dít is die vrug van die Heilige Gees van God.
Jakobus wil hê hulle moet pleit om die volle, ryke, wonderbare, voortgesette werk van die Heilige Gees van God onder en in hulle.
Jakobus pleit – in een woord – dat hulle waarlik ’n Pinksterkerk sal word, met die versugting na die Pinkstergees in elkeen se hart en op elkeen se lippe …
Die vraag is net: Wíl hulle dit regtig wees … of (nog) nie? En ons?
Vrae vir groepbespreking – of vir persoonlike oorpeinsing |
1.Maak vooraf seker dat jy mooi verstaan wat die eintlike probleem is wat Jakobus se brief wil aanpak. Dit sal ’n groepsgesprek oor hierdie gedeelte vlotter laat verloop. Wenk: Probeer eers in jou eie woorde saamvat wat jy in dié bespreking gehoor het. Wat dink jý is die eintlike punt? Dit sal help om moontlike misverstande op te klaar en moeilike uitdrukkings eers duidelik te begryp. Die leier kan die gedagtegang probeer saamvat.
2.Herken julle as groep die soort konflik waarvan Jakobus praat – in jul persoonlike lewe én in die kring waarin julle beweeg? Onthou, dit gaan oor konflik tussen gelowiges onderling én oor konflik binne-in gelowiges, selfs oor die wisselwerking van oorsaak en gevolg tussen dié twee vorme van konflik. Gesels daaroor.
3.Nog meer spesifiek: Is julle bewus van verkeerde maniere waarop gelowiges bid – dalk julle self? Dikwels begeer ons dinge van God wat eintlik juis ons onderlinge konflik vererger: in die huisgesin, gemeente, of tussen kerke. Probeer ons nie soms deur ons gebede eintlik vir God aan óns kant kry in daardie onderlinge konflikte nie?
Kyk weer na deel 6. Soms vra ons in ons gebede dinge van God wat ons eintlik nie regtig wil hê nie, omdat die prys van die gebedsverhoring te hoog gaan wees. Gevolglik bid ons dan gebede wat ons eintlik hoop juis nié verhoor gaan word nie. Het die groep die moed om hieroor te gesels?
4.Bespreek die implikasie daarvan dat die “goeie gawe van Bo”, die “Heilige Gees” en “wysheid” eintlik in talle Bybelse tradisies presies dieselfde is. Wat sê dit van ons verwagtings rondom Pinkster? Kan julle dit prakties toepas op jul eie gebede of jul gemeentelike bidure, dalk rondom Pinkster?