Читать книгу Stormpad na Vadersrust - Dirna Ackermann - Страница 5

2

Оглавление

“Maar Ma, jy’s steeds asbleek. Ek dink nie dis net bloeddruk nie. Buitendien, Ma weet hierdie was nie die eerste keer dat jy so ’n aanval –”

“Michaela, ek het my pille gedrink en basta nou! Eet jou pap klaar dat jy jou ry kan kry. Dis Maandag, en jy weet jy moet nog petrol ingooi.”

Nelia skink vir haar koffie uit die perkoleerder en stap yskas toe vir melk. Sy is gereed vir haar werk as ontvangsklerk by ’n plaaslike skoonheid-en-haarsalon, en soos elke ander weekdag kan jy haar deur ’n ring trek.

Michaela hap haar laaste bietjie muesli staan-staan en gaan spoel die bakkie uit, sit dit in die droograk. “Nou oukei dan,” brom sy, skielik moeg om te voel asof sy haar kop teen ’n klipmuur stamp.

“Ek sal later bel om te hoor hoe dit gaan. En,” sy sluk vinnig ’n glas lemoensap, “ek sal dalk ’n bietjie laat wees. Ek ontmoet Edward ná werk vir ’n vinnige koffie, omdat hy vanaand ’n direksiefunksie bywoon.”

Die noem van Edward se naam kry geen reaksie nie. Michaela kyk fronsend na haar ma, wat net by die kombuisvenster uitstaar. Maar voor sy haar mond kan oopmaak om nogmaals haar kommer uit te spreek, kry sy ’n half afwesige glimlag en ’n wapper van die hand wat beduie sy moet spore maak.

“Tatta,” gaan piksoen sy haar ma se wang. Sy merk die doodsklem van haar vingers om die koffiebeker, maar besluit om dit daar te laat. Die horlosie beduie in elk geval sy gaan laat wees as sy nie dadelik laat spaander nie. Buitendien, wat kan sy nog sê wat nie reeds tien maal deur haarself en Pippie gesê is nie? Voor haar vertrek om Nina by die kleuterskool af te laai op pad na haar werk, het Pepita ook nog vir oulaas gepleit, maar puur verniet.

Die Maandagoggendverkeer is soos gewoonlik ’n dagmerrie. Terwyl die verstokte ou Volksie teen ’n slakkegang voortluier, kring Michaela se gedagtes al om haar ma. Maar dis by Edward waar hulle uiteindelik vashaak.

Sy wikkel haarself gemakliker, besef sy klem die stuurwiel vas en probeer ontspan. Om te sê dat hy ongelukkig was toe sy gister se afspraak gekanselleer het, is om ’n leeu met ’n huiskat te vergelyk. Sy het geflikflooi dat hy die aand saam met haar en ’n koppie koffie op die rusbank voor die TV moet deurbring, maar sy antwoord was bruusk.

“Ek het die ander belowe, en ék kom my beloftes na. Onthou van môremiddag se afspraak. Ek móét so gou moontlik met jou praat, en nou het jy klaar vanaand ’n gesprek onmoontlik gemaak,” het hy kortaf bygevoeg en afgelui voor sy nog kon reageer.

Michaela asem diep in, maar die drukking op haar borsbeen bly sit. Saam met ’n tamaaie onrus. Daardie eksotiese blondine met die uitheemse naam wat nou die aand ook saam was, sou gisteraand weer deel wees van die geselskap – en sy het reeds geen geheim gemaak van haar belangstelling in Edward nie. Of hy dat hy dit aangenaam vind nie.

Ná hulle onderonsie was Michaela net te ongedurig om tot ruste te kom. Eers het sy probeer kaste regpak, maar die helfte van die inhoud lê steeds op die vloer. Toe het sy ’n nuwe skildery begin, maar ná ’n paar hale met die kwas weer iets anders loop soek om mee besig te wees. Heelmiddag en heelaand getob en gedwaal. Gedwaal en getob.

Aan die een kant is daar haar ma se kommerwekkende toestand en haar weiering om mediese hulp te soek. Aan die ander kant Edward se uitbarsting. Michaela knibbel onseker aan haar onderlip. Dis so algeheel teen sy natuur. Hy is passievol, dalk ’n bietjie haastig van geaardheid, ja, maar hy lewe en werk teen ’n frenetiese pas. Sy het begrip daarvoor. Tog, hierdie is ’n sy van hom wat sy nog nie gesien het nie.

Die ou Volla kreun toe sy skielik moet rem trap vir ’n voetganger wat voor haar insny. Sy sluk die warm woorde op die punt van haar tong. Dis Maandagoggend; dalk was die ou se Sondag ook so omgeëllie soos hare.

Sy het kort-kort by haar ma ingeloer, maar dan het dit gelyk of sy slaap, en Michaela het weer haar dwalery opgeneem, haar gedagtes ’n rondomtalie. Dan was hulle by Kayne Richardson en sy welbekende familie. Hoe ver sou die verhouding tussen hom en Pippie al gevorder het? Hoekom is hy, wat al goed in sy dertigs moet wees, nog nie getroud nie? Waaraan kan haar vriendin se vreemde gedrag toegeskryf word?

Michaela sug van verligting toe die verkeer vinniger begin beweeg. Miskien, net miskien, sal sy nog betyds wees. Nols, haar baas, is vandag terug van ’n konferensie en laat kom is nie deel van sy woordeskat nie.

Haar gedagtes is egter soos vee in ’n drukgang – hulle beur net in een rigting. Elke keer terug na haar ma. Nelia was douvoordag op, soos haar gewoonte al is vandat Michaela haar verstand gekry het. Maar vir enigeen met oë is dit duidelik dat iets skort. Dis net die wát waarby hulle nie kan uitkom nie.

Die skoolbus voor Michaela draai sonder enige aanduiding skielik links en sy slaan rem aan dat die ou Kewer amper in sy spore wieg. Die taxi agter haar se toeter blêr lank en luid. Sy wapper ’n hand by die oop venster uit sonder dat sy werklik aandag gee aan die man se argwaan. Wat om haar aangaan, gebeur alles instinktief. Sy is soos ’n motor met sy voorwiel in ’n sloot – sy het vasgeval by haar ma.

Die vrou wat vir haar ma én pa moes wees, het haar vingers deurgewerk om haar enigste te gee wat sy nodig gehad het. In al die baie plekke waar hulle gebly het tot Michaela se eerste jaar in die hoërskool, het hulle dit nie altyd breed gehad nie, maar ware gebrek het sy ook nie werklik geken nie. Dis hier in Pretoria waar hulle eintlik vir die eerste keer wortelgeskiet het, asof Nelia Beekman uiteindelik tot ruste gekom het, en dinge het beter begin gaan.

Die man wie se gene Michaela dra, het sy nooit geken nie. Dat sy naam Daniël was, weet sy darem, maar sy moes vir die grootste deel van haar lewe tevrede wees met die woorde: “Hy’s nie die asem werd wat jy mors om te vra nie, Michaela. Vergeet hom.”

Makliker gesê as gedaan, het sy baie gou uitgevind. Hoe hou sy op om te wonder oor hom? Hoe verduidelik sy dat haar hart hardnekkig weier om die feit van sy heengaan te aanvaar? Dat sy op ouderdom vier en twintig steeds rondloop met die gevoel dat sy eendag ’n stem gaan hoor en net gaan weet: Dis hy! Die stem wat sy in die gange van haar drome hoor.

Sy het egter gou geleer om nie verder vrae te vra nie. Om die verskriklike gemis diep te bêre. Te maak asof dit tog nie só ’n vreemde ding is om nie ’n pa te hê nie.

Sy druk haar tjorrie se neus verby ’n Mercedes wat wag vir die aankomende verkeer en draai in by die parkeerarea. Sy moet op en af ry voor sy ’n staanplek kry. Sy sien Stef se rooi bakkie ook aankom toe sy uitklim en wuif vir hom. Daar is nog een oop plek langs haar, en sy is gelukkig nie al een wat amper laat is nie.

Die kantoor se deur het skaars agter haar toegeswaai of Flair se hoofredakteur, Nols Ferreira, se gebulder bereik haar ore. “Beekman, ek wil jou sien. Soos in dadelik! En bring koffie saam. Ordentlike koffie! Nie hierdie gemors wat netnou vir my aangedra is nie.”

In haar haas tref Michaela se handsak net-net haar lessenaar. Sy trek groot oë vir Monica Carstens aan die oorkant. “Huismoles?”

“Moet wees,” mompel Monica. “Hy’s vanoggend erger as ’n beer wat ’n heuningkoek ontdek het, maar wat nie sy lus kan bevredig nie omdat sy tand ’n gat inhet.”

Dis ’n ope geheim dat Nols se veel jonger vrou oë het vir ’n jonger en ryker man.

“Beekman!”

“Ek kom, meneer, die water moet net kook,” roep sy terug.

Sy gooi haastig gemaalde koffie in ’n dompelpot. Stilweg dankbaar dat mens gewoond raak aan sy gebulder, want een en almal loop deur. Die kookwater volg, voor sy met die pot na sy kantoor agter ’n glasafskorting stap.

“Hier, meneer, dit moet net ’n bietjie trek.” Sy sit die skinkbord op sy lessenaar neer. Vat sy beker en sonder om na hom te kyk, gaan spoel sy dit eers uit, staan dan weer voor hom. “Meneer het geroep?”

“Maak die deur toe,” grom hy, sy oë op ’n stuk werk voor hom.

Michaela maak so, haar hart meteens in haar keel. As die groentjie hier by Flair loop sy die meeste deur onder sy skerp tong, maar dit het nog nooit agter ’n toe deur plaasgevind nie. Haar brein werk oortyd, maar waaraan sy haar hierdie keer skuldig gemaak het, weet sy sowaar nie.

“Ja, meneer?”

“Sit,” knor hy.

Sy sak op die leerstoel neer, skoon winduit geskrik. Gaan sy hier en vandag die trekpas kry? Paniek stoot suur in haar keel op. Dink, Beekman, dink!

Maar die resultaat van al haar serebrale inspanning bly ’n ronde nul. Wat sy verkeerd gedoen het, weet sy so warempel nie.

“Jou artikel oor Lerina Mason was goed,” brom hy, sy aandag steeds voor hom, waar hy met ’n rooi pen ’n gedrukte blad in ’n bloedbad verander. “Baie goed.”

Sy gaap soos ’n vis op droë grond. Dié korterige insetsel oor die dinamiese leier van ’n nuwe politieke party was volgens haar haar beste poging nog. Maar om dit uit sý mond te verneem is … is …

Sy skud onwillekeurig haar kop. Nee, woorde ontgaan haar, en sy is veronderstel om haar brood en jêm met woorde te verdien.

“Dan- … dankie,” kry sy gestamel.

Hy kyk uiteindelik op. Nols Ferreira is ’n groot man. Een met ’n ontstemmende gewoonte om almal teen die mure uit te dryf met sy grille. Sy blonde kuif ken net een koers en dis oor sy groen oë. Oë wat haar nou stadig op en af beskou. Asof hy haar vir die heel eerste keer raaksien. Nie as lid van die teenoorgestelde geslag nie, maar met daardie groen glimming wat hulle kry wanneer hy ’n storie met voorbladwaarde raakloop.

Michaela begin later voel soos ’n rasegte resiesperd op ’n bankrotveiling. Sy is op die punt om te protesteer toe sy mond skeef trek in wat sy aanneem ’n glimlag moet wees. Een wat, anders as die doring in haar lewe s’n, nooit werklik sy oë bereik nie.

Hy leun vooroor, hande op sy lessenaar ineengevou, sy blik nou op sy hande. “Ek het ’n opdrag vir jou.”

“Ja, meneer,” kry sy net geadem. Sou dít wees hoe dit voel as jou vryskelding kom wanneer jy reeds geblinddoek voor die vuurpeloton staan?

“Kry end met jou gemeneer. Hoeveel keer moet ek nog sê my naam is Nols?”

Tienduisend? Sy weet nie. Sy is nie bang vir die man nie, en sy respekteer hom as joernalis. Maar in sy teenwoordigheid kom sy naam nog nie natuurlik oor haar lippe nie.

“Ja, me- … ja, Nols. Watse opdrag?”

“Het jy die nuus gesien gisteraand?”

“Nee,” moet sy erken. “My ma was siek en –”

“Beekman, al draai die aarde terug op sy eie as, ’n joernalis bly op hoogte van wat aangaan,” tik hy die woorde met die rooi pen af. Staar geïrriteerd na die merke op sy hand voor hy weer vir haar frons. “Any case, jy vlieg môreoggend George toe. Ek soek ’n oog-tot-oog-, neus-teen-neus-onderhoud met Darius Jordan, oftewel dan Jordaan.”

’n Oomblik dink sy dat haar gehoor haar parte speel. Dan sien sy dat hy nie grappies maak nie. Sy luister met verwarring na die alarmklokke in haar binneste. Waarom is daardie man se naam skielik soos die spreekwoordelike kat? Dit bly terugkeer. As sy nie geweet het haar ma se bloeddruk is gevaarlik hoog en dat daar al meer as een waarskuwing was nie, sou sy gister kon dink dat dit die noem van Darius Jordaan se naam was wat haar so disnis geslaan het.

“Menee- … e … Nols, die hele wêreld weet tog dat hy nie onderhoude toestaan nie. Waarom is hy nou skielik so belangrik?”

Nog belangriker, beier die klokke in haar kop, waarom sý? ’n Groot vis soos Darius Jordaan – Suid-Afrika se voorste gholfspeler vir baie jare, male sonder tal nommer een op die wêreldranglys, en sover haar kennis strek eienaar van meer as een gholflandgoed – gaan gewoonlik aan die ouens met ondervinding, ouens soos Stef, of selfs Monica.

Sy wenkbroue wip. “Wil jy vir my sê jy wil dit nie –”

“Nee!” keer sy vinnig. “Ek wonder maar net.”

Sy groen blik hou skielik hare asof hy ’n bekentenis uit haar wil dwing. “Ken jy sy storie?”

“Wel … net so bolangs. Almal weet tog dat sy dogtertjie en haar oppasser se lyke in die uitgebrande wrak van haar motor gekry is terwyl die kind se ouers oorsee was – hy vir ’n toernooi en sy vir ’n uitstalling van haar beeldhouwerk. Ook dat hulle huwelik na dié tragedie op die rotse geëindig het en dat die eertydse mevrou Jordaan vandag beskou word as ’n soort kluisenaar.”

Dat sy gister uitgevind het Darius Jordaan se stiefseun is haar beste vriendin se kêrel en dat genoemde kêrel haar grensloos irriteer, is sappige stukkies aas wat sy egter nie nou al aan sy hoek gaan sit nie. Dat hy dit wel kan en heel waarskynlik sál uitvind, sal sy haar later oor bekommer.

Hy beskou haar met geskreefde oë waarin suspisie glim. Sy wonder senuagtig of die man dalk haar gedagtes kan lees, voor hy voortgaan: “ ’n Voëltjie het in my oor gefluister dat hy sy erfplaas, Vadersrust, nou ook in ’n estate gaan omskep.”

“E … verskoon my, maar as hy gisteraand op die nuus was, hoe kan ’n voëltjie –”

“Het ek gesê hý was op die nuus?”

Sy frons vir hom. “Nou’s ek deurmekaar.”

“Vroumenskwaal,” grom hy en vat ’n sluk uit sy beker. Vir die eerste keer sedert sy by die kantoor ingestap het, lyk hy nie heeltemal soos ’n beer met ’n seer tand nie. “Jy weet dalk nie wat in die wêreld aangaan nie, maar jy kán koffie maak.”

“Dankie,” laat sy droog hoor. Wonder of die kompliment bedoel is om haar mak te maak vir iets.

“Anyway,” frons hy oor die beker se rand, “ek hoor ook dat hy en sy eerste vrou glo skielik baie tyd saam deurbring. In die geheim!” beklemtoon hy met sy beker. “En dit terwyl mevrou Jordaan nommer twee oorsee is.”

Hy sit sy beker neer, stapel sy ineengevlegte vingers oor sy neus, befrons haar bo-oor. “Ek wil eerste die storie hê.”

“Ek dog Flair verkoop nie skinderstories nie.”

Die frons begin lyk na ’n donderwolk. “Dis nie ’n skinderstorie nie!” bulder hy.

“Ekskuus,” mompel sy, maar ook nie heeltemal só jammer nie. Sy weet die tydskrif met ’n bietjie van alles en ’n ietsie vir almal, se fokus is mense. Bekende mense. Talentvolle mense. Uitsonderlike mense. Mense! Solank hulle en hul doen en late nuuswaardig is.

Sonder die smerige faktor, beklemtoon Nols gedurig. Maar dat dit ’n baie fyn skeidslyn is, kan niemand betwyfel nie. En dat hy soms wydsbeen oor daardie lyn staan, sal sy haar Krismisbonus op verwed.

Sy het baie gebid voor sy haar CV vir hierdie werk ingedien het, tog het die leiding van die Here só sterk gevoel. Agterna het sy al getwyfel, selfs vir ’n ander werk aansoek gedoen, maar is by navraag kort en effe onbeskof ingelig sy was onsuksesvol. Nou wag sy maar. Sy moet glo die Here weet wat Hy doen.

“Ek verseker jou my bron is absoluut betroubaar en …” Nols mik ’n rooigevlekte wysvinger na haar, “Darius Jordaan is nuus. Maak nie saak of hy net ’n bietjie te hard gesug het nie, ons lesers wil dit weet. En ook waarom!”

“Hoe moet ek ’n onderhoud gaan voer met Darius Jordaan?” vra sy half desperaat met uitgespreide hande. “Hy sal my nie naby hom toelaat nie.”

Toe Michaela vyftien minute later Nols se kantoor verlaat, het sy ’n vliegkaartjie in haar hand. Haar kop draai en haar maag dreig om van haar ontbyt ontslae te raak. Sy is nie ’n roompoffertjie wat net uit kilojoules en wind bestaan nie; sy het substansie en sien vir die meeste dinge kans. Maar hiérdie plan klink vir haar na ’n resep vir ’n eersterangse flop, en sý is die hoofbestanddeel.

Stef het intussen op sy plek net buite die glaskas kom sit en knikgroet, maar sy sien hom skaars raak. Haar kop is te besig met die kulinêre penarie waarin sy haar bevind. Sy kan dit nie verhelp nie, maar … wat is nou eintlik hier aan die kook? Nols was darem alte seker van sy saak as sy reeds plek het op ’n vliegtuig én blyplek op Jongensrust, een van die mees eksklusiewe gholflandgoedere in die land.

Sy hét gevra, en is aangesê om haar werk te gaan doen. As sy dan voel iets kook, gaan vind die kombuis. Dis waarvoor sy betaal word.

Met haar kop êrens anders besig, bewandel haar voete hulle eie weg. Sy struikel oor ’n karton wat op die vloer staan en land so byna op Stef se skoot.

“Skuus,” stamel sy verleë en kyk in sy vreemd dooie grys oë. Luister na die kenmerkende tongval van iemand wat ernstige gehoorverlies het toe hy haar verseker dis alles in orde.

Oomblikke lank verskuif haar aandag van haar dilemma na die maer man wat ses maande ná haar hier begin werk het. Hy is vriendelik maar eenkant, hulpvaardig maar baie privaat. Lyk asof hy al diep in sy veertigs kan wees met sy grys poniestert. Ten spyte van sy gehoorprobleem is hy ’n uitstekende fotograaf én joernalis.

“Wassit?” wil Monica weet toe Michaela in haar stoel neerplons.

Sy vertel vinnig.

“En nou moet jy help bid. Ek het berge navorsing, inkopies om te doen, klere om te gaan was en stryk, en ’n ma wat nie gesond is nie.” Sy voeg nie by dat Pippie dalk nooit weer met haar gaan praat nie, gryp net haar selfoon.

“Verder het ek ’n ou wat klaar die josie in is vir my, en ek sal vanmiddag se afspraak óók moet afstel. As ek nie Vrydag terug is nie, moet jy weet die leeus het my opgevreet.”

Edward se silwer BMW staan reeds voor die huis in die straat toe Michaela haar jaloppie met ’n ruk voor die garage tot stilstand bring en uitspring. Verheug om hom te sien, angstig omdat sy tien minute laat is, gespanne omdat sy nie weet wat om te verwag nie.

“Haai,” waai sy tog opgewonde. Tien oor ses in die agtermiddag op ’n stinkwarm dag lyk hy asof hy nou net tussen die blaaie van ’n glanstydskrif uitgeklim het daar langs sy fensie kar. Sy gladde blonde kuif glim blink in die laatmiddagson, terwyl sy voel soos ’n verlepte slaaiblaar, haar arms vol pakkies.

“Ek sien jou sesuur by jou huis sodat ons kan praat,” was sy kortaf reaksie vanoggend nadat sy verduidelik het van die opdrag sonder om op die besonderhede in te gaan.

“Wat van jou vergadering?” het sy nog geprotesteer, maar hy het reeds die verbinding verbreek.

“Jammer ek’s laat, maar Nols het nog ’n duisend en tien dinge gehad om te sê toe ek al op pad was. En ek moes eers by die winkels uitkom.”

Sy vertel nie dit was om ’n gholfuitrusting te koop nie en hou haar mond vir hom. Maar sy kry net ’n sydelingse aanraking van sy lippe teen haar slaap voor hy haar elmboog vasvat.

“Waar kan ons alleen gesels?”

Die grimmige trek om sy mond en die geslotenheid in sy bruin oë is ’n voorbode wat soos kouekoorsritteltits oor haar kruip.

“E … in die sitkamer, dis nie so erg warm daar nie.”

Sy sluit sukkel-sukkel die voordeur oop, laat haar pakkies langs die tafeltjie in die voorportaal en beduie na die koel, skemer vertrek wat byna nooit gebruik word nie. Hulle verkies almal die vrolike TV-kamer met sy uitsig op haar ma se pragtuin.

“S- … sit?” kry sy gestamel. Haar hartklop is ’n oerwoudtrom wat waarskuwingseine teen haar stembande uithamer. Seine waarvan sy nog nie die boodskap kan ontsyfer nie, maar wat vertel van gevaar – dié soort wat jy gewoonlik nie oorleef nie.

“Ek gaan kry gou iets koels om te –”

“Nee dankie, ek is haastig. Iemand wag vir …”

Hy kug, kyk na iets bokant haar kop, vroetel met sy silwergrys sydas en trek die pante van sy baie duur donker pak se baadjie gelyk. Maar toe sy blik hare wel vasvang, is daar nie ’n sweem van ongemak of senuagtigheid teenwoordig nie. Ook nie van die sjarmante veroweraar wat haar voete onder haar uitgeslaan het daar in die koffiewinkel toe sy te laat ontdek het haar beursie lê by die huis nie.

Dis ’n wildvreemdeling wat ewe kalm sê: “Michaela, ek kan nie langer voortgaan met hierdie verhouding nie.”

Ek moet ’n baie swak joernalis wees, vlieg die gedagte deur haar kop. ’n Goeie een sou dit mos darem seker sien kom het, of hoe? Het ’n goeie een dan nie ’n sesde en soms selfs ’n sewende sintuig nie? Ruik hulle nie ’n storie voor daar nog enigsins ’n klankie is nie?

“Is …” Haar droë tong probeer vergeefs ’n nattigheidjie oor haar stram lippe vee sodat hulle makliker kan beweeg. “Is daar iemand anders?”

“Ja,” kom dit bondig. “Maar …” Sy gesig versag effens, maar Michaela wéét sommer dat sy nie die een is wat daarvoor gesorg het nie. “Ol- …”

“Ja?” gee sy hom nie kans om klaar te praat nie en haar wenkbroue wip. Dis die enigste manier waaraan sy kan dink om die waterigheid teë te werk wat dreig om haar ooglede te oorspoel. “Ol? Ol wie? Olga? Olivia? Olympia?”

“Oleana. Én, wou ek sê, sy is nie werklik die rede –”

Die blondine! “Daar is nie ’n direksiefunksie nie, nè?” val sy hom weer in die rede. “Jy gaan haar ontmoet!”

“Nee en ja.”

Ek is toe nie so ’n swak joernalis nie, het sy vir ’n onsinnige oomblik lus om te juig. Of was dit net ’n vrou se sesde sintuig? Wat ook al, sy het net ’n bietjie vergeet van die blondine met die vreemde naam, anders het sy haar heel boaan die o-lysie gesit.

“Verskoon my,” kom die temperament wat by haar haarkleur pas haar uiteindelik te hulp, “as daar ’n ander vrou is, watse redes het jy nog by te voeg? Wat kan dan nog verder saak maak?”

Hy sug en lyk oneindig verlig. “Jy’s reg, dit maak nie –”

Só maklik gaan sy dit ook nie vir hom maak nie. “O nee, meneer Burger, jy moet darem dink jy gaan net haai en koebaai sê en laat waai! Sê jou sê behoorlik. Ek is nie ’n stukkie kougom wat skielik sy geur verloor het en nou net uitgespoeg kan word nie.”

Hy sug weer. “Micha …”

“Michaela is goed genoeg, dankie. Kan ek nou weet wat is die werklike rede waarom ek die trekpas kry?”

Pure bravade, weet sy, maar bravade het al meer as een geveg gewen. Die satisfaksie om te sien wat sy verwerping aan haar doen, gun sy hom nie. Sy kan later uitmekaarval.

Sy oë vat vlam en die humeur wat sy nou eers regtig raaksien, slaan op sy wange uit en kleur hulle ’n ongesonde rooi. “Jy, Michaela Beekman, is net eenvoudig te high maintenance! Geen man kan dit volhou nie!” sê hy en ploeg sy vingers deur sy kuif.

Sy staar verstom na die vreemde verskynsel van ’n deurmekaarkop-Edward. Doodeenvoudig omdat haar verstand tyd nodig het om die woorde wat by sy mond uitkom te begryp.

“Wat bedoel jy?” kry sy uiteindelik die vraag wat in haar kop rondkletter oor haar lippe.

Sy ander hand kry nou ’n ploegbeurt. “Kan ons dit nie daar laat nie, asseblief?”

“Nee! Ek dink ek het die reg om te weet wat so ’n aantyging beteken.”

Hy lyk radeloos, maar Michaela wag, arms om haarself gevou. Net ingeval sy nodig het om haar stukke bymekaar te hou.

“Michaela …” Hy vee oor sy gesig. “Wat ek bedoel, is …” Hy sug. “Ek is nie die man vir jou nie, want ek het nie genoeg reserwes om die leegtes in jou op te vul nie. Ek –”

“Micha?”

Hulle swaai beide in die rigting van die deur, waar haar ma staan, haar figuur kersregop, haar wange bleek. ’n Hele winter se koue is in haar blik wat oor Edward skeer, voor sy haar dogter aankyk. “Is daar fout?”

“Nee, Ma,” jok Michaela oopoë. “Edward is nou net op pad uit.”

Sy stap verby haar ma, gaan hou die voordeur oop. “Dankie dat jy my kom sê het,” glimlag sy, maar weet dis eintlik net ’n meganiese beweging van haar lippe. Tande wys. Haar emosies, vermoed sy, lê êrens in ’n vertrapte hopie op die sitkamermat.

Nelia sit ’n beker tee voor haar dogter neer waar sy kop in die hande en met traannat wange langs die kombuistafel sit. “Drink, dit sal jou beter laat voel.”

Michaela reageer werktuiglik. Gril sidderend vir die soet brousel. “Jig, Ma, dis aaklig! Ma weet ek drink nie suiker nie. Hoeveel lepels is hier in?”

“Vier. Hoogvol,” kom dit kalm. “Maar as jy nog oor suiker kan kapittel, is jou hart nie naastenby so stukkend soos ek gevrees het nie.”

Die beker ratel toe dit terugkantel op die tafel en warm tee spat oor Michaela se hand.

Nelia is dadelik by met ’n nat lappie. “Tsk, jy kan jouself verbrand as jy nie versigtig is nie.”

Michaela staar dom na die hande wat skielik so teer eers hare afvee en dan die tafelblad skoonmaak. Sy stroop haar trane weg teen haar pienkbont bloes se mou. Kyk vir die eerste keer sedert haar ma die hele gesprek met Edward uit haar getorring het werklik na die vrou wat op haar skoonmaaktaak konsentreer. Sien die donker kringe om haar oë, die afgeremde kepe om haar smal mond. Skaamte oor haar selfgesentreerdheid oorval haar. Sy het toe nooit vandag gebel soos sy belowe het nie.

“Hoe voel Ma?” Sy vat sommer die lappie oor, gaan spoel dit uit en hang dit oor die rand van die droograk. Net voor sy terugdraai, begin haar selfoon êrens in die huis roep.

“Ek’s nou terug,” roep sy en draf gangaf agter die klank aan. Edward …? kry hoop se vingers ’n houvas in haar.

Sy vind die selfoon uiteindelik in haar handsak onder ’n sytafeltjie in die sitkamer, maar teen dié tyd het die gelui opgehou. Missed call sê die skermpie. Sy herken Pepita se nommer, voel hoe hoop se houvas glip en dan weggly met die finaliteit van iets waaroor daar eintlik klaar begrafnis gehou is.

Sy skakel dadelik terug.

“Pippie,” antwoord sy haar ma se onuitgesproke vraag toe sy ’n paar minute later weer langs die kombuistafel neersak, die beker optel en dit ledig.

“Michaela?” kom haar ma se verskrikte stem oor die geilheid wat in haar keel opstoot. Sy moet baie vinnig ’n bietjie water gaan sluk voor die tee weer te voorskyn kom.

Nelia vat haar dogter se arm vas. “Wat is verkeerd?”

“Pippie vra of ons onthou dat die winkel môre en oormôre ’n uitstalling het by daardie bruidsfees en dat hulle oorslaap in die hotel waar dit gehou word.”

“En dís wat jou so ontstel dat jy ’n hele beker soet tee wegsluk waaroor ek kort gelede nog aangepraat is?”

“Nee.” Michaela sak weer langs die tafel neer.

Nelia kom sit oorkant haar. “Nou wat?”

“Ons het baklei.”

“Baklei? Van wanneer af baklei julle? En waaroor nogal?”

Vandat ene meneer Richardson en sy familie deel geword het van ons lewens, wil Michaela antwoord. Maar sy sê slegs kortaf: “Kayne se stiefpa.”

Die woorde klad die laaste bietjie kleur uit haar ma se gesig. Sy is so wit soos ’n lyk, maar haar stem is ferm toe sy vra: “Waarom sal julle oor Darius Jordaan baklei?”

Michaela verduidelik van haar opdrag, dat Pepita die hele ding as onderduims beskou en hewig beswaar aangeteken het. Heeltyd hou sy haar blik priemend op haar ma.

Kleur kom stadig terug in Nelia se wange, maar toe sy weer praat, is die woorde ’n skaars merkbare beweging van haar stywe lippe: “Jy gaan ’n onderhoud voer met Darius Jordaan?”

“Ma, is jy oukei?”

Michaela leun oor, vou haar ma se yskoue hande in haar eie toe, nou vas oortuig dat daar êrens ’n groot skroef los is. “Asseblief,” pleit sy, “sê vir my waarom ontstel die noem van dié man se naam Ma so?”

“Antwoord my, Michaela: het ek reg gehoor?”

“Ja. Maar hoekom –”

Die stoel skraap oor die vloer toe Nelia vinnig orent kom. “Verskoon my, dit was ’n lang dag en ek is werklik moeg. Ek gaan nou slaap.”

Michaela kyk verslae toe hoe die altyd regop figuur geboë wegstap. Sedert Darius Jordaan se naam gister die eerste keer in hierdie huis genoem is, het haar ma as’t ware oornag verouder.

In die deur draai Nelia terug. “Hoe kom jy môreoggend op die lughawe?” wil sy weet, haar stem skielik broos.

“Nols sal my vyfuur kom haal om betyds te wees vir my seweuurvlug.”

“Nou ja, ek vertrou jy sal ’n voorspoedige reis hê. Sien jou weer Vrydag. Nag.”

“Nag, Ma.”

Voetstappe begin sleep in die gang af, maar oomblikke later is Nelia terug. “Daar is iets baie belangrik wat ek jou moet vertel, maar dit kan wag tot jy terug is. Lekker slaap, my kind.” ’n Glimlag verlig meteens haar somber gelaat. Sy druk met een hand teen die kosyn asof sy ondersteuning nodig het, haal diep asem soos een wat na suurstof soek en sê: “Ek hoop jy kry die onderhoud van jou lewe.”

Dan stap sy weg, en die ligte klap van ’n deur vertel sy het nou die wêreld uitgesluit.

Nie net die wêreld nie, maar ook die dogter wat sy grootgemaak het. Onder moeilike omstandighede, in oorvloed en in tye van net-net genoeg was Nelia Beekman getrou. Het sy meer gedoen as baie ander ouers. Het sy baie, baie male haar porsie kleiner gemaak dat haar enigste kind nie gebrek hoef te ly nie, al het sy gedink Michaela weet nie daarvan nie.

Michaela skakel die kombuislig af en sleepvoet self die gang af. Te tam om haar knieë te lig, ’n loodsware leemte waar haar hart veronderstel is om te wees.

Vir vier en twintig jaar al voel sy dat die vrou wat haar ma is, haar net op ’n afstand liefhet. Sy weet vergifnis is wat die Here van haar vra, en vergewe hét sy al. Weer en weer en weer het sy vergewe. Aan die een kant haar ma, omdat sy blykbaar nie weet hoe om haar liefde vir haar dogter aan haar te kommunikeer nie, en aan die ander kant haarself.

Want wat moes Nelia Beekman nou eintlik nog gedoen het om te bewys dat sy vir haar kind lief is? Het sy dan nie alles gegee waartoe sy in staat was nie?

Stormpad na Vadersrust

Подняться наверх