Читать книгу Beenaf bokkie - Dirna Ackermann - Страница 3

1

Оглавление

Wat op aarde kan ’n klomp jagters hê om so lank oor te praat? Onskuldige diertjies doodmaak? Candy versit haar gewig na die regterenkel en ril in die koelte van die oggendlug. In haar haas het sy nie net haar enkel seergemaak nie, maar ook vergeet om ’n warmding te vat en dit voel asof die winter in aantog is. Dis ’n besonder ysige Apriloggend in Pretoria.

’n Brandweerwa jaag met loeiende sirenes verby en sy kyk rond, maar sien geen teken van ’n brand nie. Dit voel net asof sy self begin stoom. Hoe lank nog? Sean het tog gesê hy dink nie die vergadering sal langer as ’n uur aanhou nie. Sy het byna ’n driekwartier ná die genoemde aanvangstyd opgedaag, en hulle wag nou al amper ’n uur vir die spulletjie om klaar te kry.

Sy verskuif weer haar gewig. Vroeër toe Sean gebel en gevra het of sy nie vir hom wil instaan as leier van die protesgroep nie, het sy ingestem sonder om twee keer te dink. Hy staan glo steeds by Binnelandse Sake waar hy sy paspoort moet afhaal, en die groep wag vir hulle instruksies. Die onderleier het die hardeware vir die operasie, sy moet dit net by hom kry.

Die oomblik toe sy hoor dit gaan oor jag, was sy al halfpad op pad na die voordeur. In haar haas struikel sy toe oor die los Persiese mat wat Malie eenkant gesit het om die vloer te was, en haar linkerenkel is die slagoffer. Dat dit net die liewe antie Maal is wat haar taal aangehoor het, is seker iets om oor hoera te skree. Haar ma sou dit nodig geag het vir ’n les oor dames wat nie die wêreld bestorm nie. Of sulke taal besig nie. Maak nie saak watter krisis sy in die gesig staar nie.

Dat haar ma nie eintlik gaan dink wreedheid teenoor diere is ’n krisis nie, is al klaar ’n gegewe. Die feit dat dit Sean is wat gevra het, sal haar nog minder aanstaan.

Vir haar dogter was dit egter meer as genoeg rede. Sedert hulle ontmoeting by ’n gemeenskaplike vriendin het Sean nie net haar oë oopgemaak vir die barbaarsheid van ’n bedryf wat glo miljoene rande werd is nie, maar is sy ook beïndruk deur die feit dat hy ’n baie aantreklike man is.

Sy sug genoeglik. Die blonde Sean Brynard met sy blinkblou oë en sagte hart. Stigter van Lewe Is Vir Almal se tak op die kampus, en die eerste man wat haar hart darem so effens vinniger laat klop. Christo in graad nege tel nie juis nie, want hy was die bure se seun en sy het griep gehad toe hy haar probeer soen het.

Hier is egter nou die eerste keer ’n man wat haar dalk haar skuheid vir die teenoorgestelde geslag kan laat verloor. Sy sal hom graag van naderby wil leer ken, maar haar ma het hom die huis belet die dag toe hy kom vra het of hulle nie ’n vergadering daar kan hou nie. Haar rede vir die weiering het sy gelukkig darem nie openbare kennis gemaak nie. Sy oë sit te naby aan mekaar na haar sin. Hy kan nie vertrou word nie.

Die deur van die saal gaan oop, en so ook ’n hele paar kele. Aantygings, verwyte en slagspreuke vul die lug. Candy loer eers vinnig na die polisieman wat oomblikke gelede opgedaag het en kners ergerlik ’n astrante sêding terug. Êrens is weer beswaardes wat moes loop kla het oor mense wat hulle grondwetlike reg op protes uitoefen.

’n Groep mans kom uit die saal gestap en die voorstes loop die trappe af. Nes Sean belowe het, sien sy sommer dadelik die voorjagter van die kommando, want hy is gebou volgens die afmetings van ’n tenk en sy spierwit hare kan op ’n afstand uitgeken word. Maar dis die snor wat die finale deurslag gee – ’n gedoente wat ’n koedoebul in ’n kompetisie vir die beste wegstaanhorings grys sal laat van jaloesie.

Candy mik verby hulle onderleier se maer ruggie toe die polisieman anderpad kyk en gee nog ’n tree nader. Sy weet sommer toe die oomblik reg is en trek haar arm terug. Nou!

Die watergevulde ballon trek sekuur en dis ’n kolskoot. Ongelukkig net nie die kol waarna sy gemik het nie – die tenk met die snor – en dis asof die hele toneel na stadige aksie verander. Sy kyk hoe die ballon bars en die rooi suikerwater oor die verkeerde baadjie, hemp en chino’s afloop. ’n Leerbaadjie wat nie sommer van die rak by die naaste kettingwinkel kom nie, weet sy instinktief. Sandra Cilliers se dogter gaan nie deur die lewe sonder om kwaliteit op ’n afstand te kan identifiseer nie.

Haar ma sê altyd die rede waarom die basketbalafrigter haar nooit verder as laaste in die ry vir die aflosposisie laat vorder het nie, is omdat sy selfs met ’n liniaal ’n krom streep trek. Sy kan nie mik om haar lewe te red nie.

Die ontvanger van haar tuisgemaakte koeël verstar in sy spore en ’n oomblik is stomme ongeloof oor sy hele houding geskryf. Lank, gespierd, bruingebrand en êrens in die omgewing van dertig, raai sy, met donkerblonde hare wat glansend los om sy kop val. Hy kyk eers na sy gevlekte lyf, lig dan sy kop stadig. Dis toe sy in daardie paar grysgroen oë kyk, dadelik half versluier agter donker wimpers met ewe donker wenkbroue, dat sy weet; weet met ’n soort voorkennis wat tot in haar koue tone trek.

Hoe, sal sy nou ongelukkig nie kan sê nie, maar hierdie man ken haar, en hiervoor gaan sy betaal. Met rente.

Haar blik sak na die borskas onder die nat hemp, maar vliet blitssnel terug. Nou nie juis wat sy asemrowend aantreklik sal noem nie, besluit sy ’n bietjie neerhalend in ’n poging om haar skielike kortasemheid af te skud en die onsigbare band tussen hulle te verbreek, maar dis nie suksesvol nie. Hy straal ’n magnetisme uit wat sy medejagters uit fokus laat en haar verder inkatrol.

En stadig, so bietjie vir bietjie, asof om seker te maak die fyner nuanses gaan nie by haar verby nie, begin hy vir haar bekend lyk, al is sy absoluut oortuig hulle het nog nooit ontmoet nie. Sy sou onthou het.

Sy probeer wegduik agter die onderleier wat baie vinnig sy waterbom oorhandig het, maar asof hy self nie kan glo wat sy oë hom vertel nie, tree hy eenkant toe. Hy kyk met ’n frons om toe die polisieman bakarm naderstaan en ’n paar fris jagters openlik begin dreig.

Oomblikke later het die res van die protesgroep soos vlieë voor ’n vlieëplak verdwyn en is dit net sy in die oopte voor die deurdrenkte man en die dienaar van die gereg. Dis natuurlik behalwe die res van Suider-Afrika se boerenasie wat nou soos omgekrapte leeumannetjies vir haar grom, en die muisvaal ou joernalissie wie se kamera flits asof hierdie storie haar paspoort na die Pulitzer is.

’n Ystergreep omsluit Candy se pols nog voor die gedagte behoorlik gevorm het dat sy seer sekerlik vinniger as die lywige amptenaar van wet en orde kan hardloop. Die lang arm van die gereg moes seker haar gedagtes geraai het, want sy greep verstyf en sy kreun onwillekeurig: “Eina!”

Hy is óf doof óf nie geneë om met sy gevangenes te simpatiseer nie, want haar pyn en lyding maak geen indruk op hom nie. Hy dwing haar in die rigting van die man wat steeds in die nat kol om sy skoene staan.

Die polisieman versterk sy greep en Candy wonder of iemand soos in die rolprente op TV “Officer down! Officer down!” sal begin skreeu as sy hom teen sy maermerrie skop. “Meneer, ek sal u aanraai om –” begin hy.

“Baie dankie, konstabel,” word hy ferm maar vriendelik in die rede geval, “maar dis nie nodig om enigsins iets verder te doen nie.”

Die stem vang Candy onkant, want anders as die ysige oë is dit diep en warm. Heel onlogies wonder sy hoe dit sal wees as hy soet woordjies in ’n vrou se oor fluister.

“Ek is seker dat sy een of ander tyd ook aan die ontvangkant gaan staan van ’n bom uit die bloute en dan gaan wonder wat sy gedoen het om sulke behandeling te verdien. Laat haar maar gaan.”

Candy frons oor dié onverwagte vrypas, want die boodskap in sy oë sein die teenoorgestelde. Sy het gesigte begin sien van ’n harde bank in ’n koue sel vannag.

“Meneer!” Die joernalissie druk haar neus byna in die man se gesig. “Kan ons hieruit aflei dat u op een of ander manier self sal sorg dat sy kry wat haar toekom?”

Fouche Mulder ignoreer die laspos met haar skeermesstemmetjie en hou die blik van sy aanvaller gevange. Hy hoop sy gesigsuitdrukking verraai nie sy verbasing om háár onder die groep betogers te sien nie. Hy het Brynard hier verwag, en die gedagte dat sy daardie vent selfs net ken, gee hom koue rillings. ’n Oomblik het hy gewonder oor die kortstondige flits van herkenning in haar oë, maar hy is oortuig dat sy nie die vaagste benul het wie hy is nie. Dat sy weiering om iets te doen ná die aanslag op sy persoon haar onkant gevang het, is egter duidelik.

Die koue oggendlug kry ’n behoorlike houvas op sy lyf onder die nat klere en hy klem sy kake opmekaar teen die byna oorrompelende begeerte om haar agterstewe vir haar vuurwarm te klits. Hy sal alles wat hy besit, verwed dat haar vooraanstaande ouers nie die vaagste benul het waarmee sy besig is nie.

Terselfdertyd kan hy egter ook nie sy oë van haar afhou nie. Hy het geweet sy is mooi, maar die foto’s het nie die hele verhaal vertel nie. Of dalk het hulle nuwe foto’s nodig. Die laaste een wat hulle ontvang het, was ná Kersfees waar sy in ’n skokpienk parka in die sneeu in Europa baljaar. Dit het niks gewys van die weerkaatsing van die son op haar koperrooi hare nie. Nog minder die strydlustige lig in haar bokkiebruin oë, of die vol mond wat haar ontevredenheid pruil.

Dit lyk nie juis asof sy die verbale skote hoor wat uit alle rigtings op haar afgevuur word nie, en toe die polisieman haar pols los, laat spaander sy na ’n Mini ’n klompie parkeerplekke verder weg. Of liewer, sy hinkepink soontoe op onmoontlike dun hakke en hy is seker dat elke manlike oog op die stoep en sypaadjie haar pragtige figuur in die nousluitende jeans en militêre styl-hempie volg.

Sy klap die skelgeel Mini se deurtjie toe en die masjien stotter ’n keer voor sy met skreeuende bande wegtrek. Hy kom tot sy sinne toe die verslaggewertjie se hoë stem nog ’n aanslag maak op sy senuwees.

“Meneer …” Haar gesig versper sy laaste blik op die Mini en hy frons vir haar, nou rillend bewus van sy koue, taai lyf. “Meneer, gaan jy as jagter nou …”

Hy glimlag haar stil. “Sal jy my verskoon, asseblief?”

Hy druk by haar verby, dankbaar vir die voorsitter van die jagtersvereniging se hulp toe die groot man ander uit die pad druk sodat hulle die motors in die straat kan bereik.

Hoe gouer hy by die hotel kan kom om te verklee, hoe gouer kan hy Sandra kontak. Daar het meteens ’n paar ernstige sake op sy agenda verskyn, en hy en sy stiefsuster moet tog maar praat – vóór hy môre die pad aanpak terug Kaap toe, besef hy nou. Dis byna saaityd in die Overberg en hy is haastig huis toe.

Voor dan gaan hy egter gryp na die geleentheid wat omtrent vir hom op ’n skinkbord aangebied is. Of dan liewer in die vorm van ’n baie ontydige bad in wat suikerwater moet wees.

Ou Archimedes het gesê as jy hom ’n plek gee om te staan, beweeg hy die aarde met ’n hefboom. Staanplek het hy wat Fouche is gehad – daarvan getuig die gat in sy bankbalans. Die hefboom het hy kortgekom, maar dinge het dalk so pas verander.

Candy korrel met een oog oor die oggendkoerant na Malie, wat vanmôre aanmekaar in die eetkamerdeur huiwer. So al asof sy iets op die hart het, maar nie weet hoe om daarvan ontslae te raak nie.

“Wat hang jy hier rond soos ’n vink wat nie seker is watter tak is syne nie, antie Maal? Gee liefs nog ’n ou koffietjie, toe,” flikflooi sy by die vrou wat al in haar ouers se diens is sedert hulle enigste se geboorte. “Dis darem vrek koud …”

“Jou taal, Nicandra,” vermaan haar ma vanuit die eetkamer se deur. “Kry klaar en kom studeerkamer toe,” word sy beveel, en die staccato van haar ma se hakke op die gang se houtvloer is ’n eggo van die grimtrek om haar mooi mond. ’n Trek wat verskyn wanneer die lewe sake uit haar hande neem en sy nie heeltemal in beheer van dinge is nie.

“Wat het ek tog nou weer gesondig?” frons Candy vir Malie, wat die koffiekan van die warmplaat op die buffet gelig het en naderstaan. “As Ma lyk soos –”

“Ja, toe maar,” keer Malie, maar die uitdrukking in haar oë weerspreek die strengheid in haar stem. “Vat jou beker en loop liewer gou. Jy wil hulle nie laat wag nie,” word Candy liefdevol weggejaag.

Sy los die beker net daar en sleepvoet die gang af. Wát sou sy gesondig het dat ’n studeerkamersessie nodig is? ’n Gebeurtenis wat sy as kind meer as ’n pak slae gevrees het, want dit het beteken sy het ’n misstap begaan en sy sal nie van die gevolge hou nie. Gevolge wat enigiets kon insluit, van ingeperkte voordele tot ekstra wiskunde- of vioollesse. ’n Pak slae was seer, maar gedaan en verby. Die ander het gewoonlik soos langtermyn-gevangenskap gevoel.

Dit kan nie die waterbom-episode wees nie. Dit was amper ’n week gelede, en nog geen haan het daarna iets te kraaie gehad nie. Sy het die koerante – en haar ma – met arendsoë dopgehou, maar daardie ou joernalissie se berig het nie die daglig gesien nie.

Moenie ’n fout maak nie, sy is oneindig verlig, maar waarom die debakel so ’n stille dood gesterf het, kan sy nie ontrafel nie. Dis nie haar ma se styl nie. Sy sou die vure wat die Cilliers-naam skade kon aandoen baie vinnig en baie effektief doodslaan, maar haar dogter sou nie die gevolge vryspring nie.

Candy vat haar los hare agter in haar nek bymekaar en probeer ’n bietjie orde skep deur dit in ’n koord te kinkel. Maar toe dit terugspring, begin sy daaraan vleg terwyl haar gedagtes soos soveel keer sedert verlede week al om die man met die grysgroen oë draai. Soos aasvoëls om ’n karkas, dink sy omgekrap. Hy loop soos ’n skaduwee in haar geheue rond. Altyd so op die periferie is dit asof sy steeds wag om te onthou waarom hy bekend gelyk het. Waar sy hom voorheen gesien het. Waarom sy die gevoel gehad het dat sy gaan betaal vir haar daad.

Sy diep ’n rekkie uit haar baadjiesak op en maak die vlegsel vas. “Môre, Pa, môre, Ma,” groet sy toe sy die studeerkamer binnestap. Sy let net vlugtig op die vertrek met sy kersiehoutkaste en boekrakke, sy weelderige leermeubels en oorspronklike skilderye, haar voetval onhoorbaar op die mat se dik pool.

“Sit,” beduie haar ma, en Candy gaan maak haar tuis in een van die diep leunstoele voor die lessenaar. Haar oë rus op die man wat terugleun in sy stoel, sy blik afwesig.

Haar pa is besonder bleek. Dan merk sy ook die diep lyne langs sy mond, die donker kringe onder sy oë. Asof hy baie slapelose nagte agter die rug het.

“Is Pa oukei?”

“Dis die tweede keer binne minute wat dit vir my nodig is om jou aan te spreek oor jou taal, Nicandra.”

“Skies, ag, ek bedoel, ekskuus, Ma.”

Candy kyk onderlangs na die vrou wat aan haar geboorte gegee het, maar wat sy eintlik glad nie ken nie. Blond, maar anders as die grappies wat sy verfoei, met ’n vlymskerp intellek. Mooi, statig en baie vroulik staan haar ma daar langs die boekrak. Sy is toonaangewend in die kringe waarin die Cilliers-egpaar beweeg: hy die uiters suksesvolle plastiese chirurg en sy die ewe suksesvolle gade met haar eksklusiewe boetieks waar die glitterati aangetrek en uitgedos word.

“Ek makeer niks nie, Candy,” reageer haar pa, en sy verskuif haar aandag terug na hom. Nico Cilliers het glo baie vinnig opgang gemaak ná hy en sy jong bruid en hul babadogter hulle hier in die Jakarandastad kom vestig het. Vandag is hy so in aanvraag dat sy dagboek maande vooruit vol bespreek is.

Sy is baie lief vir hom, hierdie aantreklike man met die vroeggrys slape. Hy was kleintyd haar held, want toe kon sy nog op sy skouers ry. Dis sedert hy baie bekend geword het dat hy ook so afsydig soos sy vrou geword het.

Candy trek haar voete tot op die stoel, sien haar ma frons en laat hulle vinnig sak, sit regop. Plant haar voete in haar nuwe stewels netjies langs mekaar op die mat. “Julle wou my spreek?”

“Nicandra …” begin haar ma streng.

Minute later gaap Candy haar ouers ongelowig aan voor sy verstom vra: “Ma speel seker?”

Sandra Cilliers gaan sit op die punt van die ander stoel voor die lessenaar, haar bene netjies langs mekaar, knieë skuins gekantel. Sy vou die soom van haar swart romp glad oor haar bene in die ragfyn sykouse. “Glad nie, en dat jy kan dink ek sal grappies maak oor so iets is ’n belediging.”

“Pa?” kan Candy nie anders as om tog maar net seker te maak nie. Hy het nog nie weer ’n woord geuiter nie.

’n Diep sug laat trek sy skouers krom. “Elke woord is waar, Candy. Ons het uiters dom finansiële besluite gemaak, en toe volg die ineenstorting op die wêreldmarkte.”

“Watse besluite?”

“Onder andere verkeerde beleggings. In elk geval, ons sit in ’n baie netelige finansiële situasie waar ons krediteure hulle geld wil hê, maar ons nie kan betaal nie omdat daar ’n ernstige kontantvloeiprobleem is. Die maatskappy en al drie die boetieks kan toemaak as –”

“Dis onnodig om ’n kind met die feite te belas,” word hy skerp deur sy vrou in die rede geval.

Candy hap na asem, maar voordat sy olie op die vuur gooi deur kapsie te maak omdat sy ’n kind genoem word, vra sy liefs: “Wat beteken dit nou alles?”

Dis haar ma wat antwoord. Koel. Klinies. Asof sy net op ’n afstand betrokke is, maar haar ineengestrengelde hande vertel ’n ander storie.

“Dat jou kredietkaart ingetrek word onder andere, en daar sal nie geld wees vir verdere studies in die nuwe kwartaal nie.” Haar blik vlug voor haar dogter s’n en rus op haar verknoopte vingers. “Ons kon ook nie jou eerste semester se studiegeld betaal nie. Jy sal dus moet wag tot ons weer die finansies kan bybring.”

Amper slaan Candy bollemakiesie van vreugde. Hier is ’n gaping waarvoor sy nie gevra het nie, maar wat sy sowaar gaan gryp. Met albei hande, en as dit nodig is sommer met haar tande ook. Sy wonder al weke lank hoe om die bul, of dan liewers haar ma, by die horings te pak en te sê sy dink dat sy nie langer BCom wil doen nie. Sy is nie uitgeknip vir die finansiële wêreld nie. Nes sy maar ná die eerste halfjaar van medies ook van koers verander het.

“Dis tog nie só erg nie, is dit?” vra sy ongeërg.

Sy wil nie verder leer nie. Punt. Sy wil ander dinge doen. Sy wil werk waar daar diere is, maak nie saak of hulle siek of gesond is nie. En as dit nie kan nie, dan wil sy iets doen waarmee sy mense gelukkig kan maak. Mooi plekke skep waar daar feesgevier kan word. Tafels wat so mooi gedek is met weelderige linne, blomme, silwer of watter soort versierings ook al dat dit jou sommer wil laat huil.

Met ander woorde, sy wil ’n geleentheidsbeplanner wees, maar dis blykbaar benede ’n Cilliers. ’n Cilliers betaal ander om dit te doen. “Ek bedoel, ek kan mos ’n werk kry en ook ’n bydrae …”

Die kyk wat haar ouers wissel, laat haar op die plek vergeet wat sy verder wou sê. “Wat nou nog?” Sy is gewoond aan ’n ewige gepieker oor geld, maar sy het dit nog altyd toegeskryf aan die verskille tussen haar taamlik vrygewige pa en ronduit spandabelrige ma.

“Candy …”

As dit nie vir die stoel onder haar sitvlak was nie, het sy nou flou geword. Sandra Cilliers het nog nooit, maar nóóit haar dogter aangespreek op die bynaam wat sy verafsku nie.

“Ons waardeer die aanbod,” kom dit styf oor Sandra se lippe, asof dit moeilik is om die woorde te sê. “Maar jy gaan vir ’n ruk plaas toe.”

Sou haar ma intussen ’n vreemde taal aangeleer het? “Plaas? Watter plaas?”

“Klipkloof.”

As dit lyk soos dit klink, stel sy nie belang nie en sê byvoorbaat dankie, maar nee dankie. “Waarvan praat Ma?”

“My … my broer se plaas.”

Natuurlik, die pláás. Doer êrens in die Kaapse gopse met ’n ouma en ’n oom wat sy nog nooit gesien het nie. Behalwe op ’n foto wat by die begrafnis geneem is en wat iemand aan Malie gestuur het na die oupa se dood ’n paar jaar gelede. Die begrafnis is die enigste keer waarvan sy weet dat haar ma ooit terug is plaas toe, en die foto wat lyk asof die son in die kameralens geskyn het, is Candy se enigste bewys dat sy nog familie in hierdie land het.

Haar Cilliers-grootouers in Nieu-Seeland halfpad om die aarde het sy darem al besoek, maar die rede vir haar Mulder-familie in die Kaap se afwesigheid in haar lewe kon sy nog nooit ontsyfer nie. Uiteindelik het sy ook maar opgehou neul daaroor. Dat Sandra Cilliers haar enigste familie agtergelaat het, is een van daardie feite wat mens klaarblyklik net moet aanvaar en dan aanbeweeg. En dat sy haar diep verlange na daardie familie moes bêre, het Candy toe ook maar geplaas op die lysie van feite wat mens moet aanvaar en dan aanbeweeg.

“Wat het die feit dat julle geld op is en dat ek plaas toe moet gaan met mekaar te doen? Buitendien, wie se wet sê ek móét?”

“Ehm …”

Hoeveel eerstes gaan ek vanoggend nog beleef? wonder Candy. Sy voel effe dronkerig, soos een wat aan bomskok ly. Sy kan nie dink dat sy al ooit haar welsprekende ouer so sonder woorde gesien het nie. “Ma?”

“Nicandra?” Die man in die stoel voor die venster lyk tien maal ouer as sy amper vyftig jaar, en dat die Cilliers-fondamente geskud is, is duidelik. Anders as haar ma noem hy haar nooit op haar werklike naam nie. Sy het al baie gewonder of dit nie net ’n manier is om die vrou wat eintlik die huis regeer teë te gaan nie.

“Pa?”

“Ehm …”

En ditto, wil Candy sê. Dokter Cilliers mag nie baie te sê hê in sy eie huis nie, maar om hom sonder woorde te sien, is nie ’n alledaagse gebeurtenis nie.

“Pa? Ma? Wat is dit wat julle nie vir my kan sê nie? Ek is nie meer ’n kind nie, julle kan mos openlik –”

“Wat ons bedoel,” val haar ma haar selfs skerper in die rede as wat sy dit netnou met haar man gedoen het, “is dat ons geld verskuldig is aan my broer, en hy het besluit hy wil dit nou hê. Dis hy wat geëis het dat jy plaas toe kom.”

Die woorde kom soos skote uit ’n masjiengeweer, asof Sandra Cilliers die onaangename implikasie dat hulle nie onfeilbaar is nie so vinnig moontlik agter die rug wil kry. So amper-amper is Candy ook haar eie woorde kwyt.

“Geld? Watse geld? Ek verstaan in elk geval niks. Waarvoor het julle geld nodig gehad en waarom het julle by hom geleen? Waarom nie by die bank nie? Is dít hoekom julle kontantvloeiprobleme het?”

“Nicandra, ons redes het eintlik niks met jou uit te waai nie,” kom dit amper ru van haar ma. “Maar sy … e … rentekoers was laer. Soos ek sê, dit het niks met jou uit te waai nie.”

“Maar julle wil steeds hê ek moet die wa deur die drif help trek?” Voor dié taamlik bitsige vraag soos ’n opslagkoeël kan terugkom en háár uitmekaarskiet, vra Candy vinnig: “Wat moet ek nou eintlik daar gaan doen?”

“Jou ouma geselskap hou en dalk so ’n bietjie uithelp in die huis.”

“Ek’s nie sy bediende nie. Hoekom kry hy nie betaalde hulp nie? En waaroor moet ek en Ouma praat? Ons ken mekaar van g’n Adamskant nie!”

“Ek het geen benul oor wat in Fouche se kop aangaan nie, maar dis sy voorwaardes vir uitstel.” ’n Grimlag vertrek Sandra se mond en dit lyk vir ’n oomblik asof sy stoei met haarself. Dan is dit asof iets anders net oorneem toe die lyne om haar mond só styf span dat dit lyk asof hulle kan knak. “Ek wens jou sterkte toe met daardie kwasterige ou vrou,” kom dit bitter van haar. “Daar is nie met haar huis te hou nie.”

“Sandra! Dis nie nodig om die kind ook te vergiftig nie.”

“Óók?”

Die netjiese wenkbroue lig en Candy sien die voortekens. Sy tree vinnig tussenbeide deur liefs die aandag op haarself te vestig.

“Nie een van hulle het al ooit in my belanggestel nie, en ek weet net mooi bogghe- … e … niks van huiswerk nie. So sê maar vir hom ek is nie beskikbaar nie.”

“Nicandra, jy wou help, en hierdie is die een manier waarop jy wel kan. Fouche … e … jou oom laat ons geen keuse nie. Óf jy gaan plaas toe óf ons moet dadelik sy geld terugbetaal.”

“Maar dis afpersing!” kners Candy. Nes haar ouers ook maar besig is om te doen. Dit lyk asof dit ’n familiekwaal kan wees. “Ek kan nie sien dat hy so iets kan eis nie, newwermaaind deurvoer.”

Dit sê baie van Sandra Cilliers se gemoedstemming dat sy haar dogter se swak taal sonder teëspraak aanluister.

“Jy is reg, hy kan ons nie dwing nie,” antwoord haar pa. “Maar eintlik het hy die hef in die hand, want die vervaldatum van die leenperiode het reeds gekom en gegaan, en hy wil sy geld terughê.” Hy glimlag apologeties. “Nes ons jou ook nie kan dwing nie, Candy. Ons hoop maar net jy sal bereid wees om ons te help.”Candy se stewel tref die kas. Dit tuimel grond toe en land skuins bo-oor die een wat hom vooruit gegaan het.

“Hulle is stupid en nou moet ek die gelag betaal!” tier sy en gaan sit voor die spieëltafel in haar aantrekkamer. Sy gluur eers na haar eie beeld, en dan na Malie wat in die deur agter haar staan. Arms oor haar bors gekruis asof sy keer vir iets.

“Wat dink hulle is ek, antie Maal? ’n Meubelstuk? Of ’n ruilding? Iets wat hulle in ruil kan aanbied elke keer as hulle ’n gemors aanvang.”

“Honou, meisiekind,” keer Malie en kom staan agter haar. Sy woel Candy se vlegsel los en begin stadig, ritmies haar vingers deur die hare kam sodat dit binne oomblikke in krullerige wanorde om Candy se skouers hang.

“Moenie dinge sê waaroor jy later spyt gaan wees nie,” paai sy terwyl haar geoefende vingers die stremming uit Candy se kop en nek masseer. “Dis mos darem nie so erg nie, of hoe?”

“Nie so erg nie?” spoeg Candy byna. “Natuurlik is dit so erg! Dis mý lewe wat eenkant toe geskuif moet word terwyl hulle s’n …”

Meteens tref die omvang van die hele knoeiery haar soos ’n vragtrein uit die duisternis. Sy snak na asem, maar die tranevloed kom of sy dit nou wil hê of nie. Sy vlieg om, druk haar gesig in die sagte omvang van Malie se middel en begin snakkend huil.

“Hoe kan hulle, antie Maal, hoe kán hulle? Ek is nie een van die rokke in my ma se winkels nie.”

Hoe lank sy so gesit het in die enigste moederlike arms wat sy ooit geken het, weet sy nie, maar eindelik bedaar haar snikke en sy kyk op. “Jammer,” prewel sy.

Sy sien hoe Malie haar eie wange afdroog en dan die borsel optel, beduie dat sy moet terugdraai.

“Wat ek wou sê,” begin Malie met ’n snuif en stadige hale die opstandige krullebos tem, “jy kry tog ook iets uit die deal. Eintlik kry jy baie meer as hulle, want nou hoef jy nie langer op universiteit te bly nie. Dalk is dié jou kans, dalk gaan jy uitvind wat jy regtig wil doen met jou lewe. En,” sy glimlag half pleitend, half verskonend, “dis baie mooi daar. Ek is seker jy sal lekker kuier.”

Candy knik. Ja, sy weet. Sy het gekry wat sy wou hê, maar darem …

Malie is maar altyd die een wat sal kom met die pleidooi vir redelikheid. Sy en Sandra het saam grootgeword op die plaas waar Sandra en Nico ontmoet het net voor die einde van haar matriekjaar. Toe hy moes teruggaan universiteit toe wou sy glo nie agterbly nie, en hulle is getroud kort ná haar laaste vraestel. Malie het later gekom om te help met die versorging van die wittebroodsbaba wat blykbaar nog te vroeg gebore is ook.

Die jong Sandra het eers gaan werk om haar man deur die laaste jaar van sy mediese studie te help, en daarna het sy self ’n paar grade versamel. Toe het sy eers een boetiek, toe nog een en ’n klompie jare later nog een oopgemaak. Uiteindelik het sy haar eie maatskappy wat haute couture invoer op die been gebring.

“Antie Maal, waarom wou my ouma en oupa van die Kaap my nie hê nie? Weet jy?”

“Wie sê hulle wou nie?”

“Hulle het nooit enige poging aangewend om my te leer ken nie. En dit help nie ek vra vir Ma nie.”

Die hande wat haar kleintyd gebad, haar seerplekke beter gedokter, haar rokke se some ingesit en menige aand die dogtertjie wat na haar ouers verlang aan die slaap gesus het, vou liefderik om Candy se kop. Sy lig Candy se gesig agteroor sodat hulle mekaar in die oë kan kyk. “Hoekom gaan jy nie plaas toe en vra dit vir jou ouma nie? Gaan kyk self of dit so is soos jy dit uitmaak.”

“Ek wil nie gaan nie! Ek sal nie gaan nie!”

“Hoekom nie?”

“Wat moet ek daar gaan doen?”

“Meisiekind, toe jy kleiner was, wou jy so graag plaas toe gaan. Hier is mos nou jou kans. Gebruik dit en gaan ontmoet jou familie. Dalk wag daar vir jou ’n verrassing.”

“Watse verrassing?”

“Dalk is dinge anders as wat jy dink. Maar hoe sal jy weet as jy nie gaan kyk nie?”

“Vir wat is dit so ingewikkeld?” Candy sug, wetend sy gaan nie ’n antwoord kry nie. Malie bewaar ook maar die stilte. Soos sy heel waarskynlik aangesê is, maar dit maak nie minder seer nie.

Candy vee oor haar oë. “Het jý ooit teruggegaan?”

“Nee.”

“Hoekom nie? Wat van jou mense?”

“Jy weet my ma is in Nelspruit, maar ek het nog ’n niggie op die plaas.”

“Nou hoekom het jy nooit weer gaan kuier nie? Ek begryp dit plein eenvoudig nie. Waarom is daar soveel geheime oor hierdie gesin en daai dekselse plek?”

“G’n geheime hier nie. Ek het net nie gedink dis belangrik nie. Die lewe wat ek hier gebou het, is vol en goed.”

“Wat? Wat is nie belangrik nie?”

“Ek het na jou ma-hulle toe gekom omdat ek nie langer daar wou bly nie. Is maar al.”

“Antie Maal! Hóékom wou jy nie langer daar bly nie?”

“Ag, kind, dis lank terug se dinge. Maar as jy dan móét weet: die man wat gesê het hy wil met my trou, het toe in ’n ander vrou se bed loop klim. En ’n bok verander nie sy streke nie. As hy dit voor die troue gedoen het, sou hy na die tyd ook.”

“En toe?”

“Toe niks.”

“Jy’t nie weer teruggegaan nie, want hy is nog daar, nie waar nie?”

“Hy’s nog daar,” sug Malie. “Ek het darem vergewe, maar dit het so lank gevat dat teruggaan op die ou end nie meer belangrik was nie. Ek sê mos my lewe is hier.”

“Wou jy dan nie ’n man en kinders hê nie?”

Malie lag. “ ’n Man mis ek nou nie juis nie, en verder het ek vir jou. Glo my, jy’s meer as ’n handvol. Ek bejammer die man wat jou eendag trou. Hy vat sommer vir homself twee arms vol moeilikheid.”

“Ek is g’n moeilik nie,” mor Candy sonder om werklik aandag te gee aan haar eie woorde.

Sal sy tog maar gaan? Sal sy self gaan kyk? Wie is reg? Haar ma wat feitlik die bestaan van haar enigste familie al die jare geïgnoreer het, of antie Maal wat glo dinge is anders as wat Candy haar dit al die jare voorgestel het?

Beenaf bokkie

Подняться наверх