Читать книгу Haar beste bruidegom - Dirna Ackermann - Страница 4

Оглавление

2

“Ma.” Die stoelpote kras oor die sandkleurige teëls toe Annemé ’n boogrugstoel langs die houttafel in die middel van die ruim kombuis uittrek. Sy bly staan met haar hande op die boonste kromming. Dalk kry sy haar boodskap oorgedra as sy bly staan en ferm lyk. Om te sit beklemtoon net haar gebrek aan lengte. “Ek het regtig nie vanoggend lus vir ’n gepiekel oor Abrie nie.”

Sonlig kruip oor die wye vensterbank, oor die witgeverfde rottangstoel met sy blou kussings en streep oor die groen kruiebossies in ’n outydse blou-en-wit sopkom op die tafel. Die vertrek, in verskillende skakerings van wit, kry lewe.

“Annemé, as jy net vir my en jou pa ’n verstaanbare rede kan gee waarom julle verlowing verbreek is, sal dit ook al help om hierdie gekrap tussen ons te verwyder. Regtig, ék dink hy was die perfekte man vir jou.”

“Volgens wie se vereistes, Ma? Myne of julle s’n?”

Haar ma se mond trek plat en die gevlegte silwer bolla in haar nek glip los toe sy heftig kop skud. Sy druk die haarband wat oor haar skouer afgly in haar satynkamerjas se sak en ontrafel die stringe. “Dis uiters onregverdig om jou mislukking voor ons deur te lê. Ons het aan die begin gesê julle moet langer wag. Dis onwys om ná ’n verhouding van ’n skamele twee maande verloof te raak.”

“Ma en Pa het mekaar tién dáe geken, toe is julle getróúd.”

“Ja, maar jou pa was al agt-en-veertig en ek twee-en-veertig. Ons het lewenswysheid aan ons kant gehad en absoluut gewéét ons is vir mekaar bedoel.”

Dis waar, want ná amper vier-en-twintig jaar bestaan hulle steeds net vir mekaar. Hulle enigste kind, wat tien maande later met groot drama in die wêreld gekom en amper haar ma se lewe gekos het, staan op die kantlyn.

“Wel, ek is jammer as ek julle ideale gekelder het, maar ek en Abrie was nié vir mekaar bedoel nie.” Waarom sy in die eerste plek toegestem het tot ’n verlowing, weet sy nie meer nie, maar sy staan steeds by haar feite. Daar was eenvoudig geen passie tussen hulle nie. Elk geval nie die soort wat saak maak nie.

Toe beskuldig hy haar dat sy onvolwasse is, en boonop te blind om te sien hy is die regte man vir haar. Sy het glo ’n ferm hand nodig.

Annemé blaas deur haar neus, steeds verontwaardig. Toe vertel sy hom daardie man moet nog gebore word, en as hy lus het vir so ’n vonklose verhouding, moet hy vir hom ’n troeteldier gaan soek. Die uiteengaan was nie juis mooi of vredevol nie.

“Dis nie nodig dat ons baklei nie,” gooi haar ma wal terwyl sy koffiebekers uit die kas haal. “Jy is nog baie jonk, die regte man sal kom, my kind. Wag en kyk maar.” Sy bly staan met ’n teelepel in elke hand. “Gaan jy saam met my? Ek soek ’n baadjie of stola by my groen aand­rok. Dit is wel somer in Europa, maar dit kan koel wees saans wanneer ons uit die konsertsaal kom.”

“Ek kan nie so lekker onthou nie, hoe lank bly julle dié keer weg?”

“Daar is vier Europese hoofstede en daarna nog twee weke se uitvoerings in Londen. Jou pa gaan saam met die Londense Simfonieorkes optree en ek sal tien dae by die familie in die Meredistrik . . .” Annemé kry skielik ’n kwaai kyk. “Ek hét jou dit vertel!”

“Dat julle weggaan, maar toe was julle nog nie seker hoe lank julle gaan weg wees nie. Is dit nie baie gevra van Pa nie? Dis ’n woeste skedule.”

“Ek het ook so gedink, maar nou ja, dis sy besluit. Ons sal ses tot agt weke uit en tuis wees, maar wil jy nou van-oggend saamgaan of nie?”

“Ongelukkig het ek reeds vir De Wet belowe ek sal by een van die betaalpunte help. Twee van sy meisies het griep.”

“Ek het hom lanklaas gesien. Het julle weer stry gekry?”

“Wéér? Wat bedoel Ma weer?”

“Annemé, vandat jy en Abrie verloof geraak het, was jy en De Wet meer in mekaar se hare as in mekaar se geselskap.”

“Hoe weet Ma dit? Julle is skaars twee weke terug.”

“Ek hoor maar dinge, en ek het oë. Maar ek wou sê, ek ken julle nie so nie. Julle was nog altyd nader aan mekaar as regte broer en suster, en hy is die seun wat ons nooit gehad het nie.”

Sy weet, sy kan dit self nie begryp nie. “Ons is maar elkeen op sy eie manier besig, Ma. Ek het baie oortyd gewerk en hulle was besig met die uitleg van die tuin daar in die hoek waar hy toe die nuwe koidamme gebou het. Ma moet gaan kyk, dit lyk fantasties.”

“Môre, môre, waar is die koffie wat so lekker ruik?”

Haar pa se witgrys hare staan omtrent elkeen in sy eie koers en slaapkreukels vou die plooie in een wang nog dieper. Hy druk ’n soen op sy dogter se kop en vou sy vrou teen sy kamerjas-lyf vas, sy gesig in haar nek. “Hmm, jy ruik lekker. Hoekom is jy so vroeg op?”

“Ek wil vroeg by die winkels kom.” Sy druk hom op ’n stoel neer, streep haar vingers deur sy steeds welige kuif. “Koffie is op pad.”

Sy weet miskien nie hoe om die regte man te krý nie, dink Annemé, maar sy weet wat sy sóék. Sy mag rondloop met ’n mudsak vol onuitgepluiste probleme omdat sy eintlik net ’n geleentheidskind is, maar die voorbeeld van hoe dit tussen ’n man en sy vrou kán wees . . . Sy sluk die laaste druppels in haar beker. Hulle kan seker nie vir haar ’n groter skat nalaat nie.

“Waar is Becca dan vanoggend?” Morné Zeelie se voorkop frommel, maar hy glimlag sy dankie toe sy vrou ’n beker voor hom neersit, vat een van die brosvars sjokoladecroissants onder ’n doekie op ’n afkoelrak en breek dit oop. “Sy is tog altyd voor almal in die kombuis.”

Anne se mond wring. “Jy ken jou suster.”

“Dis Saterdag!” Annemé gaan skink vir haar nog koffie. “Goeiste, teen dié tyd weet julle mos sy lewer vroeg op ’n Saterdag croissants vir Die Koffiehut.”

“Is daardie stemtoon nou nodig?” Haar ma tik die mikrogolfdeurtjie toe, sit die houer met kookmelk langs haar pa se beker en stoot die suiker nader. “Ons was lank weg. Mens se kop is so vol van al jou belewinge, én die lyste en lyste wat jy moet onthou vir so ’n lang toer soos die een wat voorlê.” Sy klap na ’n lam brommer wat al oor die croissants zoem. “Wat is jou probleem?”

“Jammer, Ma, maar dis nou nie asof sy dit van gister af doen nie. Dis al járe.”

Haar pa se veel jonger suster het amper agttien jaar gelede, ná ’n motorongeluk waarin haar man en seun dood en sy ernstig beseer is, hier op Dennesig kom aansterk en nooit weer vertrek nie. Sy was skaars op die been, of dit was tyd vir haar broer en sy vrou se volgende toer, en skielik het hulle ’n handige babawagter gehad. Dit was nie nodig dat een van hulle moes agterbly nie.

Een keer het drie, vier en later ’n instelling geword, en toe die aanvaarde norm. Morné en Anne, wat sover moontlik saam probeer reis het, het nie nodig gehad om oor hulle dogter bekommerd te wees nie. Rebecca was mos hier, en klein Annemé is tog só tuis by haar tannie.

“Jy weet, Annemé . . .” Haar ma gaan sit ook by die groot houttafel wat nog aan ouma Zeelie behoort het, haar stemtoon gelykmatig, asof sy oor die inhoud van haar koffiebeker gesels. “Partykeer lyk dit asof jy liewer is vir haar as vir ons.” Dis die troebel groen van haar oë wat emosie by die woorde voeg.

Annemé buk agter die yskasdeur in om botter uit te haal.

Wat verwag hulle van haar? Dis Becca wat die eensame dogtertjie getroos het wanneer Pa en Ma weke lank wegbly. Sy het pleisters op die kleintjie se stukkende plekke geplak en haar trane drooggesoen. Dit was in Becca se arms dat sy skuiling gevind het wanneer die noordwestewind met ’n klaende geween in die kloof af en om die huis gewoed het.

Becca moes haar oortuig dat De Wet twak praat. Die wind sal hulle nie in die see inwaai nie. Ja, daar is haaie, maar ver hiervandaan. Sy kan mos sien as sy op die stoep staan hoe ver die see is. En ja, haaie byt partykeer mense, maar sy moet vir De Wet sê hy moenie soveel nonsies praat nie, sy tong sal uitval. Haaie kan haar nie só fyn kou dat sy soos maalvleis tussen hulle tande deurspoel en Becca haar stukkies met ’n sif moet bymekaarmaak nie.

Ongelukkig sit Anne en haar skoonsuster nie aldag langs dieselfde vuur nie. Becca sal maar altyd die vonke probeer doodslaan en verduidelik dat dit uiters moeilik moet wees om ’n internasionale loopbaan en ’n dogter by die huis te balanseer, maar Annemé het intussen groter en wyser geword. Haar ma is wie sy is – verslaaf aan wat sy gehad het voor haar dogter op die toneel verskyn het. En dit sorg vir baie komplekse emosies.

Die TV op die kas klik aan en die eerste klanke van die agtuurnuus dreun deur die kombuis. Annemé kom verskrik orent. Sy het nie geweet dis al so laat nie.

“Wie het nou weer die ding so hard gestel?” mor haar pa.

Annemé sit die botter terug en druk die deur toe. Sal sy hom vertel dit was hy? Gisteraand se program oor die befaamde dame Kiri Te Kanawa kon weer nie hard genoeg nie. Sy val amper oor Rachmaninoff, die boerboel wat in kwylende afwagting agter haar staan. Hy het lankal geleer die yskas kan geurige happies oplewer as hy net lank genoeg bedel.

Die ou dierasie, wat sonder ophou kan lawaai as daar ’n kat in die omgewing is, het net eendag hier aangekom met sy tong wat omtrent op die grond gesleep het van dors. Becca het hom ’n bak water gegee en die lawaaierige ou ding is nooit weer vort nie. Haar pa is geen aanhanger van die ware Rachmaninoff se musiek nie, hoewel sy en haar ma dink sy klavierkonserte is in die hemel gebore. Die effe mankolieke ou brak het ongelukkig in die middel van so ’n konsert opgedaag en toe gebly. Soos sy naamgenoot se musiek ook maar.

Annemé systap die natbekhond en is al in die gang toe haar ma roep: “Waarheen gaan jy nou? Jy het nog nie geëet nie.”

Sy gee ’n paar treë agteruit en loer om die kosyn. “Ek gaan stort. My skof begin negeuur.”

“Watse skof? Van wanneer af werk jy op ’n Saterdag?”

Haar sug val soos ’n klip tussen hulle. “Ek gaan vir De Wet help, Ma.”

“O. Ja. Jy het mos gesê.”

Annemé stap brommend kamer toe. Dis die storie en die hartseer van haar lewe. Vroeër was dit trane wanneer haar ouers weer êrens gegaan het, nou is dit gelate aanvaarding. Dis soos dit is. Vat dit en gaan aan, of gaan sit in die hoekie.

Daar is wel die vreugde van die weersiens, maar daarmee saam kom ook die immerse gekarring en gemopper – hoekom doen sy dit nie só nie, of waarom het sy sus besluit? Dis al asof daar êrens ’n versteekte prentjie is van wie en wat Annemé Zeelie is en sy skiet oral te kort.

Annemé trommel ’n vinnige klop teen die half toe deur.

“Kom binne.”

Sy frons en stoot die deur verder oop. “Hallo, Vernon, ek soek eintlik vir De . . .”

Hy staan langs sy lessenaar en Vernon sit voor die rekenaar.

De Wet se hande verdwyn in sy jeans se agtersakke en sy voete plant wyer. Sy kastaiingbruin hare blink in die son deur die venster agter hom, en die koper vlamme en goue punte, die somerson se nalatenskap, glim. Hy is vrek aantreklik, al moet sy dit nou self sê.

’n Onverwagse huppel-hop van haar hart laat slaan haar ore bottoe. Annemé sluk, en sluk weer, maar haar ore bly bottoe. Is sy besig om verkoue te kry? “Ek hoor jy soek my, De Wet.” Sy lek oor haar droë lippe. Sy is vir seker besig om siek te word, sy dink sy het koors.

Hy knik en kom in haar rigting, die bewegings van sy gespierde lyf soepel soos dié van ’n groot kat. Daardie soort wat klein meisietjies nog voor brekfis opeet. “Sien jou, Vernon,” sê hy. “Ek sal jou laat weet. Ek dink jy het ’n goeie idee daar beet.” Hy vat haar elmboog. “Stap saam, dan gesels ons. Ek moet net ’n draai maak by die koidamme.”

“Jy weet my skof begin negeuur, en jy het baie spesia­le aanbiedinge die naweek. Dit gaan besig wees.”

“Die ander is klaar daar, en dit sal nie nou al so besig wees nie.”

“Jy’s die baas.”

Hy lag. “Bly jy besef dit uiteindelik.”

“Kyk hier, De Wet Dekker, moenie Abrie Lange se giere hier kom uithaal nie. Ek het nie ’n temmer no-dig . . .”

“Hoe is jy dan so vroeg al op die verdediging?”

“My ma,” grombrom sy en ril teen die koue luggie wat deur haar ligte trui dring en oor haar hoendervel. Tipiese Kaapse wispelturigheid. Gister wou mens smelt, vanoggend soek jy warm klere. “Waaroor wil jy met my praat?”

“Selfde ou storie, hè?” Hy glimlag af na haar en in sy oë brand die lig wat sy so goed ken. Die een wat sê hy verstaan, want hy het al male sonder tal die paadjie saam met haar gestap. “Jy is al weer die ene skuldgevoelens, nè? Jou ouers staan op vertrek en jy wil huil omdat hulle weggaan, maar kan ook nie wag om weer net jou eie mens te wees nie?”

Annemé druk ’n oomblik haar kop teen sy boarm, rol haar gesig teen hom vas en voel die spiere onder haar wang saambondel. Sy pluk vererg terug. “Wassit met jou? Mens sou sweer ek het ’n aansteeklike siekte.”

“Ho nou, meisiekind.” Hy vat haar boarms vas, sy greep warm, maar vir ’n oomblik vermy sy oë hare. “Ek wou maar net sê dat ek besluit het om te doen wat jy gevra het.”

“Wat het ek gevra?” Sy bekyk hom deur nougetrekte oë en skielik hik haar hart. “Jy bedoel jy sal vir my ’n man soek?” vra sy, en verbasing rem haar stem dun. Het hy oornag op sy kop geval? Gister was sy oortuig hy gaan haar êrens laat opsluit omdat hy dink sy is haar wysie kwyt, en nou . . .

Sy blik flits weg voor dit amper sku terugkom. “Ja, máár ons speel volgens my reëls.”

“Ek moes geweet het!”

Sy hande val weg. “Annemé, stel jy belang in wat ek te sê het of nie?”

“Skies. Ja, oukei, maar . . .”

Die son flits koper uit sy hare toe hy kopskud. “Geen maars nie. Ek sal doen wat jy vra, op een voorwaarde: ons speel volgens my reëls.”

“Wat nogal wat is?”

“Ons begin stadig. Rustig. Ek stel jou aan iemand voor, maar ons gaan eers op dubbele afsprake.”

“Ek is nie ’n baba wat opgepas moet word nie.”

“Annemé!”

“Aag, nou oukei.” Waar kom sy in elk geval aan die idee dat sy ’n woordgeveg met hom sal wen? “Ons gaan eers op dubbele afsprake,” herhaal sy meganies. “Maar wie, as ek mag vra, gaan saam met jou, of gaan jy ook sommer so in die bondel vry?”

“Kan ons by één afspraak begin?”

“Met ander woorde, jy het reeds alles uitgewerk? Wie gaan saam met wie en waarheen?”

“ ’n Kliënt het vir Ylani vier kaartjies gegee vir volgende Woensdagaand se jazz-konsert in die Kunstekaap. Ek weet dis nou nie jou eerste musiekkeuse nie, maar dalk geniet jy dit.”

Min kans. “Ylani Morkel?”

“Ek ken net een Ylani en haar van is Morkel, ja.”

“Nee dankie. Ek is nie mal oor jazz nie, en nog minder oor Haar Hoogheid.”

“Kan jy vir my verduidelik wat met haar verkeerd is? Dis net jy wat so optree, en ek raak nou sat daarvan. Sy is vriendelik, gekultiveerd en het haar eie regspraktyk. Gun jy haar dit nie, of is dit jaloesie omdat sy mooi is?”

Annemé snork onelegant. Die gevoel kom beslis nie net van haar kant nie. Oukei, die vrou is mooi met haar rooi kop en groen oë, en op die oog af suksesvol, maar vriendelik? Aikona.

“Nie een van bogenoemde nie, U Edele, maar sê my, wie is die gelukkige man wat jy toe vir my gekies het?”

“Ek het vir Bertus gevra.”

“Ek het gesê Cameron.”

Polse oorkruis swiep sy hande voor haar gesig asof hy die lug skoonvee. “The deal is off, baby!” Hy begin aan­stap.

“De Wet, wag!” Haar vingers krul om sy biseps, voel die soepel speling van sy spiere. “Oukei. Ek sal saamwerk.” Sy sal sy speletjie speel en die kat uit die boom kyk. Kort voor lank skuld hy haar ’n guns. “Praat jy van Bertus Venter?”

“Wie anders, of het jy nou met hom ook ’n probleem?”

“Nee, hy is oukei.”

Sy kry ’n kyk, maar sy stem is heel neutraal toe hy voortgaan. “Toe Bertus hoor dis die laat vertoning, het hy ons genooi vir ete by daardie nuwe Marokkaanse restaurant in Kloofstraat. Die een waar mens dae vooruit moet bespreek om plek te kry.”

“En jy is nie bang ek verlei die man en sleep hom na sy dood nie?”

“Bertus is al mooi groot. Hy kan na homself omsien. Stel jy belang of nie?”

“Hoekom het jy eers vir hom gevra en toe vir my?”

“Stel jy belang, Annemé, of nie?”

Sy loer na hom, tuit haar mond. “Eintlik is hy meer as oukei. En natuurlik baie aantreklik. Ek kan nie verstaan dat ’n vrou hom nie lankal kansel toe gesleep het nie.”

Sy arms vou oor sy bors. “So is dit ’n afspraak?”

“Jy kan dit bank toe vat,” lag sy en soen sy ken. “Vir Marokkaanse kos én Bertus Venter sal ek selfs die hele aand in klouerige ou Eilandjie se geselskap deurbring.”

“Eilandjie?” Sy gesig waarsku sy beweeg op dun ys.

“Ja, jy weet mos, no man is an island? Net in haar geval is dit every woman – of liewers, Annemé Zeelie – beter een wees.”

“Annemé, jy praat Grieks. Die woorde van daardie liedjie pas glad nie by wat jy probeer sê nie. Dink ek, want ek weet nie wat jy probeer sê nie.”

“Hygend, De Wet, moenie so dom wees nie. Ek kan nie met jou praat of vir jou glimlag óf frons nie, en behoede my as ek aan jou vat! Sy kyk my asof ek die fyndruk op die kontrak is wat verhoed dat sy iets ongeldig kan verklaar. Maar ek het nuus vir haar. Jy kan haar trou en elf kinders maak as jy die energie het, maar ek het jou eerste geken. Sy sal met my opgeskeep sit tot in lengte van dae.”

“Klouerig?”

“Is jy dom of dik, Daai? Die vrou hang aan jou soos ’n klimplant. Ek verbaas my dat mens nog nie haar suiers se merke op jou kan sien nie.”

Hy lag en sy hande verdwyn in sy agtersakke. “Ek het nie geweet jy is jaloers nie.”

“Sý is die jaloers ene. Ek? Ek vertel haar net hoe die lewe werk. En nou moet ek loop. Laat weet my die res van die detail.”

“Oukei, poppielap,” hoor sy voor sy omtrent ’n werker met ’n kruiwa hoog gestapel met rankplante en stutte uit sy baan uit loop. “Ag, askies.” Sy vryf haar skeen, verseker die verskrikte man dit is nie sy fout nie en hink dan na die uitgang, waar sy by haar betaalpunt inskuif.

Sy kan nie vir De Wet voorskryf nie, maar sowaar, met Ylani Morkel sal hy die fout wat hy met Miranda gemaak het, verdriedubbel. Die vrou is die ene professionaliteit en perfekte vroulikheid, haar kom-hier-kyke en guitige laggie ingesluit, maar sy het die persoonlikheid van ’n blanko foliovel. Dié sonder lyne.

Skaamkry wil-wil aan haar vatplek kry, maar ’n klant kom nader met sy trollie vol gelaai met potplante, versierde blombakke, sakkies kompos en plantvoeding, en sy skud die gevoel met ’n innerlike skouerophaling af. Die waarheid bly die waarheid. Hy verdien beter.

Die klant stoot die trollie tot langs haar, sug en vee oor sy beplooide gesig. “Nou word ek te oud vir sulke inspanning.”

“Meneer moes hulp gevra het van die manne wat hier werk.”

“En toegee ek word oud?” lag hy. “Nog so nooit as te nimmer nie.”

“Ag nee wat, u is nog jonk.”

“Dankie, juffie, jy maak ’n ou man se dag.”

Annemé glimlag sonder om regtig te registreer wat hy sê en begin meganies elke artikel oplui terwyl De Wet se laaste woorde saam met elke piep van die skandeerder eggo.

Is sy jaloers? Haar poniestert wip om haar gesig toe sy hewig kopskud.

Die klant lag. “Muisneste?”

Sy glimlag skaapagtig maar antwoord nie, en dis so amper-amper of sy skud weer kop. Maar die vraag bly knaag: Is sy jaloers?

Die klant teken sy kredietkaartstrokie en stap agter ’n helper met sy gelaaide trollie aan. Annemé glimlag meganies vir die volgende persoon met ’n wavrag plante terwyl ’n klipsware ding op die krop van haar maag kom lê.

As sy nou op wortelvlak eerlik moet wees? Ja, sy is jaloers! Netnou vat Ylani Morkel vir De Wet weg . . . En dan?

“Hoekom lyk my skapie dan so bekaf?”

Annemé kyk op van die leë beker voor haar. Sestien jaar jonger as haar broer, staan Rebecca Zeelie daar met geen teken van grimering wat die spore van die ouderdom probeer verbloem nie. Haar blou oë lag met ’n lewenslus wat aansteeklik is en elke grysgestreepte bruin krul staan omtrent in sy eie rigting. Sy moet haar hande vanmôre al ’n heel paar keer deur hulle gestoot het – haar gewoonte wanneer sy haastig of ingedagte is. Sy trek ’n stoel uit oorkant Annemé.

“Môre, of liewers, amper middag. Jy sit in die heel agterste hoekie in Die Koffiehut, jou rug na die deur, met ’n gesig wat lyk asof dit suidwaarts wil emigreer, en jy lyk pootuit, my boklam. Het iemand jou tekenboek afgevat, of was julle so besig dat jou gô nou al uit is?”

“Hallo, Becca. Nee, ek sit maar en dink.”

“Dit moet ’n gewigtige dink wees, my witkoppie.”

Tussen De Wet en Becca het sy meer troetelname as wat daar ure in ’n dag is. De Wet het darem min of meer by “poppielap” vasgehaak, en hy gebruik dit nooit voor buitestanders nie. Becca s’n sluit die ganse diereryk in, hoewel hulle meestal op die plaas rondboer. As Becca die dag Annemé se geboortenaam gebruik, is sy gewoonlik in die moeilikheid.

Becca wink die kelner nader. “Koffie, asseblief, seun, en moenie vir my kasaterwatertjies aandra as jy ’n tip wil hê nie, gehoor.”

“Mevrou?”

“Flou koffie, boeta. Moenie flou koffie bring nie.”

Die effe oorgewig tiener skarrel weg en Annemé lag. “Jy weet, Becca, dis ’n wonder dat iemand nog nie jou harspan ingeslaan het nie.”

“Hoe so, my skapie? Ek is dan die liewe goedheid vanself. Ek weet maar net wat ek wil hê en is nou al te oud om met iets minderwaardigs tevrede te wees.”

“Seker dié dat my ma amper voor sonop al klippe wou kou en die gruis oor my uitspoeg.”

“Ai, my lam, ek is so jammer. Ek moes geweet het toe sy sommer vroegoggend so met die instap al begin karring het oor alles en nog wat, maar soos ek die ding sien, vergewe tog. Daar is net te veel wat sy nog moet doen, en sy voel skuldig dat hulle al weer op pad is, maar ook nie genoeg om eens te droom om by haar kind te bly nie. Wat het sy nou weer te sê gehad?”

“Ag, sy kry net nie end oor Abrie nie.”

Rebecca vat die koffie by die kelnertjie, teug ’n versigtige slurpie en gee hom ’n sprankelende glimlag. “Jy kan maar ontspan. Jy het jou tip verdien.”

Hy lyk so verlig dat Annemé amper hardop lag, maar sy weet ook hoe dit voel om van fooitjies afhanklik te wees. Haar ma glo nou maar eenmaal ’n kind moet vroeg die waarde van geld leer, en sy het lank kelner gespeel voor sy uit pure desperaatheid besluit het om joernalistiek te doen.

As sy dan nou nie haar musiekgawes wil ontwikkel nie, sal sy die een of ander kwalifikasie kry en basta, het haar ouers – of liewer, haar ma – besluit. Daar is geen toekoms in die skryf en illustreer van kinderboeke nie.

Maar kinderstories is waar haar hart lê. Stories om klein hartjies aan te moedig wanneer die wêreld dreig soos ’n gloeiende draak. Om einaplekke wat nie met pleisters gedokter kan word nie, beter te maak omdat ’n prentjiekarakter onvoorwaardelike aanvaarding belowe.

Op haar rekenaar en in die sketsboeke wat haar kamer vol lê, is daar genoeg stories en prente van muise en monsters om haar eie uitgewersmaatskappy mee te begin, maar sy self het minder moed as een van haar muiskarakters om iets daaromtrent te doen. Êrens langs die pad het sy die passie verloor, en nou sit sy in ’n werk wat sy pes, maar sy sien ook nie uitkoms nie.

“Laat ek hoor. Wat het jou ma nou weer te sê gehad oor Abrie?”

“Hy was glo die perfekte man vir my, en die breek van die verlowing is die rede vir die gekrap tussen my en haar.”

Becca sit haar beker neer en haar hand is warm toe sy dit oor Annemé s’n vou. “Abrie is ’n oulike man met besonderse musiektalente . . .” Sy hou albei hande op toe Annemé haar mond oopmaak om te protesteer. “Maar sy is verkeerd, hy is nié die man vir jou nie.”

“Dankie,” kan Annemé net sug. “Ek is jammer dat ek hulle weereens teleurgestel het, maar ek is nou eenmaal nie hulle nie. Ek het blykbaar ’n talent om die verkeerde mans te kies.”

“Lammetjie . . .”

“Dié dat ek vir De Wet gevra het hý moet vir my ’n man soek.”

Becca verstik en koffie spat toe die beker die tafel tref. Sy is rooi in die gesig toe sy uiteindelik weer normaal kan asemhaal. Die kelner is blitsvinnig daar met ’n hoop servette waarmee hy die tafel skoonvee. “Jy het wát gedoen?”

Annemé kan ’n giggel nie keer nie, maar wag tot die kelner wegstap voor sy antwoord. “Ek dink jy het goed gehoor.”

“Ongelukkig glo ek nie my ore nie, herhaal asseblief.”

“Ek. Het. Vir. De Wet –”

“En wat was sy reaksie?” Becca se oë is pieringgroot toe sy Annemé in die rede val.

“Eers het hy gedink ek is van lotjie getik, maar vanoggend ewe skielik sê hy dis oukei, hy sal my help. Ek weet nie wat hom anders laat besluit het nie, maar ek gaan ook nie ’n gegewe perd in die bek kyk deur te loop delf nie.”

Die beker lig weer stadig na Becca se mond, maar bly halfpad in die lug hang terwyl dit lyk asof sy iets in die binnekant soek. Dis etlike sekondes voor sy weer haar oë na Annemé lig. “En het hy gesê wat hy van plan is om te doen?”

Annemé vertel. “Hopelik sal ek teen volgende week al kon vrede maak met ou Eilandjie se teenwoordigheid, maar ek sien uit na ’n kuier saam met Bertus. Hy is nie net vrek aantreklik nie, maar dink net, ek kan mevróú dókter Bertus Venter word.”

“En sy mooi gesig en die titel is wat die deurslag gee?”

“Tsk, nou is jy laf. Natuurlik soek ek baie meer, maar ’n dokter kan nie dom wees nie, ons sal oor baie dinge kan gesels.”

“So, lekker gesels is waarom dit gaan? Wat van liefde? En gedeelde belangstellings? Dieselfde waardes? En passie? Hoe weet jy julle sal aanpasbaar wees? Jy is ’n passievolle mens, Annemé, en die bietjie wat ek al van hom gesien het, is hy maar ’n bleeksiel.”

“Hoe kan jy so sê? Hy en De Wet is dan muurbalmaats.”

“My gansie, die feit dat hy rats is op sy voete en darem ’n bal kan raakslaan, sê nog niks nie. Jy wil darem seker ’n man met vuur in sy are hê, of hoe? Vat dan liewer een van De Wet se ander pelle. Iemand wat een van sy ander sporte saamdoen.”

“De Wet is van lotjie getik wanneer dit by sport kom en gaan nog eendag in ’n lyksak huis toe kom. Buitendien . . .” Annemé lig haar selfoon toe ’n SMS van haar vriendin Julia deurkom. “Ek kan met De Wet self by die huis aankom en dit sal nog nie goed genoeg wees nie.”

“Is jy bereid om daardie teorie te toets?”

Annemé se vinger huiwer bokant die miniatuurtoetsbord en sy kyk stadig op, seker sy het nie reg gehoor nie. “Hoe nou?”

“Jy het baie goed gehoor.” Becca staan op. “Jy wíl net nie hoor nie.” Sy sit geld, insluitende ’n stewige fooitjie, langs die beker en mik ’n lugsoen na Annemé se kop. “Baai, my kalfie, sien jou later.”

Die outomatiese deur wat na buite lei, het al teruggeskuif en die tiener het al die beker en sy geld met ’n breë glimlag weggedra, toe hang Annemé se vinger steeds bokant die selfoon se skermpie, haar hart op dieselfde huppelstappie van vroeër en haar ore al weer bottoe geslaan.

Dis omdat Becca so gek is na De Wet. Dié dat sy nou al selfs sy manier aangeleer het om in kodetaal te praat.

Annemé vryf teen die drukking in haar slape. Sy kan nie gesond wees nie. Sy sal maar iets neem vir griep voor sy vanaand bed toe gaan.

Haar beste bruidegom

Подняться наверх