Читать книгу ʼn Huis vir my hart - Dirna Ackermann - Страница 3

1

Оглавление

Hoe stuur ’n mens iemand met grasie in sy peetjie?

Dis die een en twintigste eeu. Die dae van ridders en hulpelose ou meisietjies wat gered moet word, is verby. Stories van galante mans op wit perde is net die rafels waarmee sprokies aanmekaargelap word, en sprokies het sy baie klein al ontgroei. Ridderskap het buitendien lankal weens verwaarlosing ’n pynlike dood gesterwe.

Xanthe ril toe ’n straaltjie reën met ysvoete by haar baadjie inkruip en so sleep-sleep teen haar nek afloop. Die oomblik toe haar koue hande die slingerende bakkie veilig op die padskouer tot stilstand gebring het, het dit begin reën. Die slierte wat uit haar poniestert losgekom het, klou aan haar voorkop en oor haar oë, maar hulle moet maar daar geplak sit.

Nog ’n kepie word wel uit haar kalmte gekalwe, maar albei haar hande is besig.

Sy bekyk die man in die pad langs haar so tussen die slierte deur met ’n frons wat hom hopelik terug op sy ysterperd sal laat klim en die hasepad laat kies. “Nee. Ek het nie hulp nodig nie, maar e … dankie vir jou … bedagsaamheid.”

Hy reageer nie, roer nie eens nie. Staan net sy staan.

Goed dan. “Watter deel van ‘nee’ begryp jy nie?”

Sy arms vou oor ’n indrukwekkende borskas onder ’n leerbaadjie met ’n lang rits tot onder sy kantige ken. Die veiligheidshelm wat hy afgehaal het, rus nou op die wit-en-silwer Harley. Nie dat sy iets van motorfietse weet nie, maar sy kán lees.

“Dalk dié deel waar ’n vrou met ’n verband om haar pols probeer om in die reën op haar eie ’n bákkie se band om te ruil?” Druppels vorm op sy hare en wimpers.

“Watter verskil maak dit of dit ’n bakkie of ’n motor is? ’n Band is ’n band.” Sarkasties, ja, maar askies vir niks. Vandag is net mooi die laaste dag wat daar met haar gesukkel moet word, en die verdingeste band is die laaste in ’n hele ry voorvalle wat haar onkant gevang het.

Nog minder is dit die tyd, of plek, om ’n indrukwekkende borskas raak te sien. Dít boonop onder ’n leerbaadjie.

Sy gestewelde voete plant wyer in ’n modderige poel asof hy beplan om sommer lank sy staan te staan. “Buiten dat dit ’n veel groter band is as die gemiddelde motor s’n, maak dit seker nie soveel verskil nie, maar ek kan sien dat jy nie juis hond haaraf met die domkrag maak nie. Of hoe dink jy?”

Sy mik die frons wat al vasgevries voel in die rigting van haar hande. Die man het ’n punt beet. G’n wonder sy draai en sy draai en niks gebeur nie. Sy dog dis net haar pols wat onkapabel is. Dat die domkrag iets kan makeer, is nie die soort nuus wat sy wil hoor nadat sy haar uitasem gesukkel het om dit onder die bakkie in te kry nie. Die kepie in haar kalmte sny nog ’n entjie dieper. Die kalmte kan enige oomblik heeltemal inmekaar tuimel. “E …”

Donker wenkbroue oor donker oë wip in die rigting van ’n donker kuif. “Jy wou sê?”

Sy harnas is te dik, niks dring deur nie. Tyd vir ander taktiek. ’n Vrou het meer skietgoed in haar arsenaal om van ’n onwelkome ridder ontslae te raak as net ’n kwaai kyk en dwars woorde.

Hy het darem die ordentlikheid om opsy te staan toe sy orent kom. Vir ’n verandering hoef sy nie op ’n man af te kyk nie. Sy moet selfs ’n paar sentimeters opkyk. Sy bewaar die frons op haar gesig en beduie na ’n kort inrit en hek ’n paar honderd meter in die pad af.

“Ek bly net daar op daardie plaas.” Eerder ’n plasie, of dalk selfs net ’n ekstra groot kleinhoewe, maar wat traak dit hom? “Jy kan regtig ry. Ek stap sommer huis toe.”

Pleks sy dit uit die staanspoor gedoen het. Die bakkie kan hier staan tot een van die bouspanne terug is en sy iemand kan kry om die wiel om te ruil.

Sy is nog besig om haarself te vertel hoe dom sy soms kan wees, toe sit hy die domkrag agter op die bakkie onder die nat seile, sluit die voertuig en staan met die sleutels in sy hand.

’n Man van aksie, lyk dit.

“Kom. Dit reën nou te hard om hier te staan en redekawel.” Hy beduie na die motorfiets en toe sy blykbaar te stadig reageer, vat hy die hand sonder verband en vou haar yskoue, sopnat vingers toe om die bos sleutels. “Klim op, dan vat ek jou gou soontoe.”

Hy moet van lotjie getik wees. Saam met ’n wildvreemdeling op ’n fiets klim waarmee hy soos die wind kan wegjaag? In watter land was hy die laaste twintig jaar?

“Jy is nie dalk –”

“Dankie, maar nee dankie,” knip sy gou enige verdere praatjies kort. Die woorde is net so stram soos haar koue lyf toe sy begin aanstap sonder om om te kyk. Natter kan sy nie eintlik nie, en daar is genoeg tyd om te stort en warm te word voor oom Benna en die man uit Engeland hier sal wees.

Die Harley brul en oomblikke later skuif hy langs haar in, leun nader. “Is jy plein steeks, allergies vir hulp, of is jy domastrant gebore?” Die woorde kom gedemp van agter die blink, donker masker oor sy gesig, maar sy hoor. Dalk omdat sy wíl hoor. Hy is ’n goeie plaasvervanger vir ’n weerligafleier.

“Al drie.” Haar pa het altyd gesê sy kan enige donkie die loef afsteek en dat haar sin vir onafhanklikheid haar dalk nog duur te staan kan kom. Dis haar stiefma wat haar geleer het: staan maar op jou eie voete. Toe kom Colin en messel haar stiefma se lessie goed vas.

Water skiet in ’n vuil bruin straal weg van die agterwiel toe meneer die ridder die fiets voor haar inswaai. Sy moet noodgedwonge gaan staan en krimp terug in die beskerming van haar baadjie se nat kraag.

Moeder Natuur gooi nou met emmers, en reën loop in stroompies oor die donker gesig van die man se helm.

Hy klim af, druk die gesigskerm op. “Klim op die verdekselse fiets, vroumens. Ek sal jou net by jou huis besorg. Niks anders nie.”

Voor sy haar kom kry, het hy sy baadjie af en hou hy dit dat sy haar arms soos ’n kleuter wat hulp nodig het met aantrek, moet deursteek. Haar kop protesteer, maar haar koue liggaam gehoorsaam soos die soetste kind. Hy rits die baadjie toe tot onder haar ken.

En sy dog ridderskap is lankal dood.

Al is sy lank genoeg om hom so ampertjies reguit in die oë te kan kyk, vul haar skouers nie eens die helfte van die ruimte wat behaaglik om haar verraderlike lyf vou nie. Hy help haar agter op die fiets, met haar arms om sy lyf in ’n T-hemp met lang moue wat sê die Stormers is baas. Sy is terdeë bewus van die ferm spiere onder die nat materiaal teen haar vingerpunte.

“Jy is buitendien nie my tipe nie,” roep hy oor sy skouer en trek weg.

Ridderskap ís blykbaar toe dood.

Net voor Roeskuil se toe hek hou hy stil en kyk oor sy skouer. Teen dié tyd is selfs haar brein koud, maar sy kry die boodskap en met bietjie van ’n gesukkel, druk sy die knoppie van die afstandbeheerder met die sleutels nog in haar baadjiesak. Beduie met ’n hand oor sy skouer dat hy agterom moet ry sodat sy by die kombuis kan ingaan.

Byna niemand gebruik in elk geval meer die voordeur nie. Vir seker nie sý nie. Nie sedert …

Hy hou reg teen die trappe stil.

Sy keer haar gedagtes en klim af. Haar nat jeans is ’n dooie gewig aan haar koue bene, haar uitgetrapte Nikes opgaardamme om haar ysige voete.

“D … dankie,” bibber sy en hou die baadjie na hom toe uit. “Die hek is st … steeds oop.”

“Sal jy hulp kan kry met die band?”

Die stemtoon van agter die skerm loop nie juis oor van toegeneentheid nie, maar toe sy laas gekyk het, was dit nog ’n vry land. As sy nie hulp wil hê nie, hoef sy hulp nie te aanvaar nie.

“J … ja.” Dis toe glad nie die ferm erkenning wat sy wou oordra nie, maar haar rittelende lyf wil nie saamwerk nie. “D … dankie.” Die laaste woord is amper ’n nagedagte, maar haar pa hét haar maniere geleer.

Hy trek die baadjie aan en trek weg met ’n vingersaluut teen sy helm. Oomblikke later brom die fiets harder. Hy het in die grootpad in gedraai en spoed vermeerder. Die klank sterf weg in die rigting van die dorp.

Sy druk die agterdeur hardhandig agter haar toe.

Vanoggend kan haar geliefde kombuis met sy warm kleure en die geur van kaneel nog in die lug haar nie eens verwelkom nie. Die werkers het darem die pannekoek gewaardeer toe sy hulle daarmee gaan verras het, maar haar kombuistafel lyk soos voor die skepping.

’n Voertuig hou buite stil.

Sy loer deur die venster. Wessel het die tjek kom haal. Hy kan hopelik sommer gou die band omruil. ’n Voorslagbouer, het haar pa altyd gesê, en vandat hy nie meer hier is nie, ’n voorslaghelper vir sy dogter.

Dit duur minute lank onder ’n stoomwarm stort voor sy ophou bewe, haar brein weer in rat kom, sy haar eie innerlike nie langer kan ontwyk nie en skaamte haar oorweldig.

Sy was sommer plein ongeskik. Een en twintigste eeu of nie, haar pa sou gereken het ’n man wat sy testosteroon werd is, sal ’n vrou met ’n gelapte hand in die reën by ’n gestrande bakkie vra of sy hulp nodig het.

Klaar.

Dis darem nie die vent se skuld dat die band op hierdie dag van alle dae besluit het om die gees te gee nie, en dat sy nóg ’n keer chauvinisme in haar werkplek moes teenkom nie. En dat sy laas nag van Rhode en Colin gedroom het nie … En dat die domkrag nie werk nie. En dat die pols wat sy dae gelede verstuit het, steeds lol nie. En … en …

Sy kan ’n boek volmaak met al die enne, maar wat sal dit help? Sy kan nie, sál nie, absoluut geheel en al glad nie toelaat dat dinge waaraan sy haar hart gehang het, waarop sy ’n toekoms wou bou en wat toe voor haar weggeraap is, haar dag verder bebodder nie.

Op die ou end wou Colin haar nie hê nie. Uit en gedaan! In sprokiestaal: haar ridder op sy wit perd was toe al die tyd ’n verraaier op ’n donkie. Figuurlik gesproke natuurlik, want sy silwerwit sportmotor is ’n spogstuk.

Om te sit en tob omdat sy vandag vyf maande getroud sou gewees het, sal haar net weer in ’n depressie in stu, en dan is die as af, soos haar pa altyd gesê het.

Met haar pols styf vasgedraai in ’n droë verband en ’n yslike beker tee met warm sojamelk en drie Oreo’s later, voel sy bietjie beter. Sy sluk die laaste koffie en hap nog ’n Oreo. Dankie tog vir die lekker ou winkelkoekie sonder suiwel.

Nou moet die plek skoon kom. Met so iets soos die spoed van lig as sy betyds klaar wil wees. En as sy haar gedagtes ook hokgeslaan kry voor oom Benna en meneer Joubert opdaag, is haar wêreld weer dooddollies.

Hanko parkeer die fiets in die garage waar die B&B se hospita vir hom plek gemaak het en haal sy helm af. Die liewe tannie is ’n kennis van sy ma en dit lyk asof sy hom sal aanneem as sy kan.

Hy hang die leerbaadjie oor die hoek van ’n rak, opnuut dankbaar dat hy vier jaar gelede die onkoste aangegaan het om ’n waterdigte een te koop. Hy rits die klam voering uit en stap kamer toe.

Na vyftien jaar in Britse weerstoestande sou ’n Kaapse laatwinter-buitjie nie iets wees waarvoor hy normaalweg koes nie, maar toe misgis hy hom met die weer wat laas nag ’n volbloedstorm was, en ’n steekse vroumens met ’n kyk wat ’n man aan sy fiets kan laat vassmelt.

Mejuffrou Onafhanklik moes ’n lelike stel met die mansgeslag afgetrap het. Toegegee, hier teen die einde was sy eie hoflikheid ook maar baie bolangs, maar sowaar …

Nou net ’n vinnige stort en droog aantrek.

Sy broer se fiets is ’n groot hulp tot hy sy eie wiele kan aanskaf, maar afgesien van sy handskoene is Christo se ryklere te knap vir hom. Sy eie leerbaadjie, jeans en stewels moet maar diens doen. Hy moet net eenvoudig sorg dat hy nie met enige padoppervlak kennis maak nie. Om ’n leerbroek vir elke naweek se lang pad Keurbaai toe aan te skaf, is egter boaan sy doenlysie.

Ná die ontmoeting met meneer Brynard en Xanthe Patterson, natuurlik.

Hanko druk sy kamerdeur toe en sit die sleutels op die bedkassie neer. Sy nat klere beland in ’n hopie in die bad. Môre sal hy ’n wassery moet gaan soek. Hy gun sy koue lyf ’n behaaglike warm maar vinnige stort. Tyd het min geraak en dis ’n goeie ent terug Roeskuil toe.

Die logo op die vroumens se bakkie het gesê Patterson-Konstruksie. Werk sy net vir hulle, of is die steekse swartkop met die gedetermineerde trek om haar vol mond dalk die eienares van die plaas en sy mede-erfgenaam? Hy wou nog vra, maar toe val sy hom so snipperig in die rede.

Toe sy haar ken so hovaardig oplig, het dit haar sensasionele oë amper waterpas met syne gebring. Groener as ’n Engelse landskap. Helderder as die suiwerste smarag met ’n ontploffing swart strepies vanuit die donker pupil. Dik swart wimpers omsoom ’n uitdagende kyk. ’n Blik wat sê sy is ’n moderne vrou, sy oorwin haar eie drake, dankie.

Met droë klere aan, druk hy sy kuif agteroor en gryp die sleutels. Vat ook die ou handdoek wat sy hospita aangebied het. In die garage maak hy eers sy leerbaadjie droog en vee die laaste nattigheid van die sitplek af.

Nou wil hy hoor hoe ’n man so geseënd kan wees dat sy lewe drasties kan verander op ’n tydstip wat hy dit die nodigste het.

Buite drup-drup die water van die dak se rand maar het dit gelukkig opgehou reën. Hy los die helm se skerm op ’n skrefie oop. Dit help darem om die binnekant wat so vinnig in die koue opwasem, skoon te hou.

Die deurgeryde teerpad is oorstroom deur modderwater vanaf die effe hoër maar ewe verweerde padskouer. Hy kan nie vinnig ry as hy sy weg veilig wil baan nie.

Die bakkie staan nie meer daar nie.

Hopelik is dit nie die dwarstrekkerige swartkop wat die wiel omgeruil het nie.

Dalk moet hy die vrou nie so streng oordeel nie. As sy Xanthe Patterson is, kan dit nie maklik wees om te hoor dat ’n volslae vreemdeling deel van jou pa se boedel geërf het nie. Dalk is dít waarom sy so omgekrap was. Maar aan die ander kant was sy sommer platweg ongeskik. Hy wou net help; haar nie ontvoer en haar effe mankolieke bakkie kaap nie.

Natuurlik kan ’n vrou in hierdie land nie sommer saam met enigeen ry nie. Eintlik kan ’n vrou so iets seker vandag op bitter min plekke in die wêreld waag, maar ’n man se ego kry ’n onverdiende skuins klap as jy met soveel wantroue aangekyk word. Selfs deur ’n vrou wat régtig nie jou tipe is nie.

Nie dat hy meer ’n “tipe” het nie. Die lewe het hom deeglik van sulke sothede genees. Nou is daar net Zayla. Geen ander vrou kan meeding met sy Engelse rosie nie.

Die huis met sy Kaaps-Hollandse endgewels lê op die suidoostelike hoek van die eiendom en is ’n indrukwekkende gesig van die pad af.

Hanko sit oomblikke lank voor die hek op die luierende fiets om sy emosies onder beheer te kry. Druk toe die knoppie op die interkom in ’n verweerde houtskuiling wat dringend ’n nuwe laag groen verf nodig het, of verf van enige kleur. Dit gaan nie nog ’n winter oorleef nie. Dit wil sê as die somerson die smagtende hout nie voor dan ’n finale knou gee nie.

“Hallo?” vra ’n manstem effe blikkerig maar reeds bekend.

“Hanko Joubert, meneer Brynard.”

“Hallo, Hanko. Ek maak oop. Hou voor die agterdeur stil as jy nie omgee nie, asseblief.”

Die hek skuif oop. Noudat die reën bedaar het, kan hy die plek beter bekyk. Die enkelpaadjie lyk asof dit eens op ’n tyd met gruis bedek kon gewees het, maar is nou net ’n glibberige modderstraat verby die huis tot by ’n groterige gebou met vier dubbeldeure ’n goeie ent anderkant die huis. ’n Stoor dalk?

Die voorstoep is net-net sigbaar deur ’n welige tuin wat te oordeel na die lang gras en onkruid op die res van die erf dalk ’n oorgroeide tuin kan wees.

Reg rondom tot by die agterstoep, oordeel sy professionele oog, is daar werk nodig. Baie werk. Van die pad af lyk dit indrukwekkend, van naby is die verval sigbaar. Tog doen dit geen afbreuk aan die potensiaal wat soos ’n gemaklike ou mantel om alles lê nie. Nie oud genoeg om ’n nasionale gedenkwaardigheid te wees nie, maar vervloë dae se glorie kan beslis weer herstel word.

Hy ken nog nie die volle inhoud van oorlede Dawid Patterson se boedel nie, maar weet die huis is syne. ’n Erfporsie wat totaal uit die bloute gekom het en hom steeds dronkslaan, maar nie op ’n meer geleë tyd kon opgedaag het nie.

“Dis geen grap nie, meneer Joubert,” het die Brynard-prokureur hom probeer oortuig toe hy Hanko die eerste keer gebel het. Na weke en derduisende kilometers oor die water, voel dit steeds of hy enige oomblik kan wakker skrik en hom nog altyd in die benouende grense van sy verlede bevind.

Hanko bring die fiets tot stilstand agter ’n silwer Honda Jazz.

Die agterstoep is duidelik ’n latere toevoeging. Die flou oggendson blink in die ruitjies van die groot skuifraamvensters. Die sinkdak rus op houtpilare ingemessel in ’n lae maar breë klipmuur. Met ’n paar kussings daarop en ’n uitsig oor groen gras en groot bome van verskillende soorte, hou dit heerlike beloftes in van kuier in someraande.

’n Ent anderkant die bome flits die son ’n oomblik op water voor dit weer sy kop agter die grys wolke wegtrek. Dalk die kuil waarna die plek vernoem is?

So veertig, vyftig treë van die stoep af is ’n geboude braaiplek.

Twee honde kom aangedraf. Een van twyfelagtige herkoms wat met baie stem vir sy bietjie lyf, al keffend naderkom, en seer sekerlik die grootste boerboel in die heelal. Die agterdeur gaan oop en ’n man in sy laat sestigs kom oor die stoep en met die drie trappies af.

“Sersant, stil! Boerie, sit!” Die keffer gaan sit, maar bly blaf. Die boerboel kom ongestoord tot voor Hanko, sy tong ’n nat rooi vlag oor sy massiewe tande.

“Boerie!” kom ’n skerp bevel. “Sit!”

“Toemaar. Dalk is dit beter as ons eers kennis maak.” Hanko lig sy linkerhand baie stadig, vingers na binne gekrul. “Dag, ou grote.” Sy hand word goed beruik voor die slobberige tong oor die bokant sleep, en die hond met ’n grommerige wroeff kiertsregop gaan sit. ’n Vreesaanjaende gesig, want nou is hy nog hoër as wanneer hy staan.

Die ouer man lag en kom steek ’n hand uit. “Jammer, maar hulle luister net wanneer hulle lus is en soms wonder ek of hulle enige waarde as waghonde het. Hulle sal jou eerder opvreet van liefde. Dag, meneer Joubert. Hanko. Welkom in Suid-Afrika. Ben Brynard.”

Hanko skud die hand van die man met wie hy al so baie oor die telefoon gepraat het en probeer die ander een teen sy bobeen afdroog. “Dankie, meneer Brynard. Dis goed om terug te wees.”

“Ben, asseblief. Ons het al te veel gesels om nog op seremonie te staan. Kom in. Ons drink eers gou ’n koffietjie. Xanthe is net besig met ’n oproep.”

Dis ’n massiewe kombuis met oop geelhoutbalke en ’n houtvloer. In ’n outydse es, sweerlik so groot soos ’n dansvloer, staan ’n moderne gasstoof. Weerskante is geverfde houtkassies, elk met ’n granietoppervlak en tjok en blok vol gepak. Bo-op ’n speseryhouer met laaitjies staan ’n koekblik met Delftpatrone.

Nes die buitekant, soebat die kombuis vir bietjie aandag, dalk selfs hier en daar modernisasie, maar dit is tog gesellig en huislik.

Die tafel wat omtrent saam met Van Riebeeck in die Kaap kon aangekom het, is omring deur agt stoele met dieselfde wonderlike patina. Erfstukke, dié is seker. So nie het hierdie Pattersons baie meer geld as wat dit op die oog af lyk. Daardie stel is ’n fortuin werd, veral met die hedendaagse belangstelling in ou tafels en stoele.

’n Mens moet jou gedaan loop om kos te kan berei in so ’n groot en onpraktiese spasie. ’n Slim kok sal sommer alles na die yslike tafel aandra en daar werk, maar ’n kundige hand kan die uitleg van die vertrek verander sonder om die karakter te skaad.

“Sit,” beduie Ben Brynard.

“Dankie, maar kan ek net eers hande was, asseblief?”

“Seker.” Ben wys na die wasbak. “Vat sommer die vadoek oor die stoofdeur se handvatsel om af te droog.” Hy lig ’n fles koffie van die warmplaat op die kas regs van die stoof. “Kan ek vir jou skink?”

“Dit sal heerlik wees, dankie. Geen melk of suiker nie.”

“ ’n Man na my hart,” glimlag hy.

Die uitsig deur die venster bokant die wasbak is oor die agterplaas. Hanko druk-druk sy hande net droog aan die spierwit vadoek en gaan trek ’n stoel aan die bopunt van die tafel uit.

Ben sit ’n beker voor Hanko neer. “So reg af sy ma af.”

Hanko lig die beker in ’n saluut. “My ma glo in goeie koffie en sê mens kan net proe hoe koffie regtig smaak wanneer jy dit swart en bitter drink. Ek stem saam.” Hy asem die heerlike geur diep in. Goeie koffie. ’n Versigtige sluk bevestig dit. Hm, ja, baie goed.

Hulle drink terwyl Hanko op Ben se vraag vertel sy vlug was lank, en hy is baie bly om terug te wees. Hy wag nou vir die res van sy goed wat hierheen verskeep moet word.

Dan sit Ben sy beker neer met albei palms daarom gevou. “Hanko, die testament bepaal dat jy binne ’n maand kan intrek, maar jy kan jou seker indink dat dit vir Xanthe moeilik was om te hoor sy moet haar erfenis met ’n volslae vreemdeling deel.” Sy blik flits in die rigting van die deur na die res van die huis waar voetstappe op ’n plankvloer gehoor kan word. “Dit klink dalk vir jou bietjie onprofessioneel, maar ek ken haar vandat sy ’n klein dogtertjie was. As jy kan, gee haar so bietjie ruimte dat sy net gewoond kan raak aan die gedagte.”

“Oukei, Donald. Sien jou later,” sê die stem wat klink na dié van die steekse swartkop.

Dan staan sy in die deur. Haar groen oë rek, die hand wat die koordlose telefoon vashou, sak stadig na haar sy en haar mond hang oop. Die ander hand het ’n nuwe verband om.

“Wat soek jý hier?”

Hanko kom orent.

Ben kyk verward heen en weer. “Julle ken mekaar?”

“Juffrou Patterson.” Hanko knik in haar rigting. “Aangename kennis. Ek is Hanko Joubert.”

“Oom Benna?” Sy kyk na die ouer man soos ’n kind wat hulp soek. “Hý erf my plek?”

“Xanthe?” Ben gaan vou ’n arm om haar skouers, lei haar die kombuis in. “Ek begryp nie. Van waar af ken julle mekaar?”

“Ons … e …”

“Ons het vroeër ontmoet toe ek haar met die omruil van haar bakkie se band gehelp het.”

Ben frons vir die vrou in sy omarming. “Ek dog jy sê Wessel het die band omgeruil.”

Die groen oë gee Hanko ’n kyk wat klippe kan verbrokkel. Pleks hy liefs sy tong vasgebyt het as om ’n toffierige situasie makliker te wou maak.

Sy plak die telefoon op die tafel neer en ploeg albei hande in die glimswart hare wat nou in wanordelike blink krulle om haar gesig vou. Maak ’n geluid agter geklemde kake wat hy as ’n grom sal klassifiseer. Sy frons vir Ben van onder hare wat oor haar gesig geval het en druk dit ergerlik weg. Dit val terug.

“Los dit tog maar, oom Benna, en kom dat ons klaarkry. Ek moet weer ry om iets vir Donald te gaan gee.”

Ben frons ook. “Hoekom kan hy dit nie kom haal nie?”

“Hy moes sy bakkie stuur om nog ’n vrag sand te gaan kry. Die voorsieners kan nie voor môre weer aflaai nie.”

“Wat het gebeur?”

Weer die geluid, definitief ’n grom. “Iemand was gistermiddag so haastig, hulle het die vrag sommer skuins oor ’n watersloot afgelaai. Laas nag se stortreën het die helfte weggespoel. Nou moet ons nog straat opruim ook.”

“Was daar dan niemand om toe te sien dat hulle hul werk behoorlik doen nie?”

’n Diep plooi vorm tussen haar wenkbroue, en haar kwaai kyk wys die vrou is behoorlik omgekrap. Selfs meer as vroeër in die reën.

“Wessel was daar, maar moes gou na ’n ander perseel ry toe hulle nie genoeg teëlsement gehad het om klaar te maak nie. Hy is so lank opgehou dat daar nie tyd was om terug te gaan nie.”

“Hoe het daardie manne dan by die stasie gekom?”

“Gestap. Dis nie so ver daarvandaan nie, maar hulle was ook maar lekker dikbek. Dit het reeds begin reën.”

Albei hande druk die hare oor haar wange na agter. Dieselfde verbete trek om haar mond as vroeër in die reën.

Wat presies haar betrokkenheid is, kan hy nie raai nie, maar hierdie vrou kry swaar. In die boubedryf het jy baie dae meer as hare op jou tande nodig. Jy moet leer klippe kou, en dit lyk asof sy nog nie so lekker weet hoe ’n mens dit regkry nie.

“Maar hoekom moet jý nou ry?” vra Ben.

“Donald sê sy bakkie gaan nie voor middagete terug wees nie, hulle moet nog Paardeneiland toe ook. Ek moet die veranderde planne vir die nuwe projek vir hom vat en hom dan ’n lift gee huis toe. Hy het vanmiddag iets anders aan die gang en moet sy kar nog by die garage gaan kry. So kan óns nou begin en klaarkry dat ek kan doen wat ek moet doen?”

Die gryse Ben hensop letterlik en staan tru. “Nou, waar wil jy hê moet ons sit?”

“Hier.” Sy beduie met ’n sirkelbeweging van die verbinde hand na die kombuistafel. “Ek is lus vir koffie, en dis koud binne. Die vuur is nie aangesteek nie, en ek betaal nie Eskom se tariewe om ’n ou kliphuis warm te hou nie.”

Hanko bedank nog koffie en gaan sit, sy hande voor hom op die tafel inmekaar gevou en sy oë op die vrou wat eers melk uit ’n donkerblou kartonnetjie in die mikrogolf warm maak voor sy vir haar koffie skink en drie lepels suiker ingooi. Stadig roer, haar blik op die beker in haar hande. ’n Bewerigheid om haar mond.

Een oomblik praat sy van háár plek, die volgende van ’n ou kliphuis.

Sy is nie konvensioneel mooi nie. Nie soos Janet nie. Met haar skraal lyf in jeans en ’n groen trui, swart stewels en geen grimering nie, is Xanthe … moeilik om die regte woorde te …

Ergerlikheid stuif in sy binneste op soos hooikoors in die lente. Waarom wil hy enigsins die regte woorde vind? Hulle is niks van mekaar nie en gaan ook niks van mekaar wees nie.

Melk en koffie meng tot ’n ryk romerige heerlikheid waarvan Xanthe eers ’n lang teug sluk. Die teelepel klingel in die wasbak toe sy dit harder neersit as wat nodig is.

Wat noem mens dit nou? Boontjie kry sy loontjie? Sy wou mos vroeër so effe ongeskik wees teenoor die kastige ridder op sy ysterperd. Sy trek ’n stoel uit aan die verste punt van die tafel. ’n Heel goeie plek om oom Benna en Hanko Joubert onder oë te hê sonder om te naby te wees. Nou moet sy net vasstel: te naby vir wat?

Laat hulle klaarkry. Die man ontsenu haar, en sy hou nie van die gevoel nie.

“Ehm.” Oom Benna haal sy bril uit sy baadjie se binnesak, sit ’n koevert wat hy van die kombuiskas af opgetel het voor hom op die tafel neer en trek ’n A4-vel uit. Stryk dit versigtig plat, al is daar geen vou of kreukel in nie en strengel sy vingers op die tafel se rand inmekaar voor hy na haar kyk. Dan na die Joubert-man en terug.

Wat is so gewigtig dat hy rondvroetel soos ’n tiener wat die eerste keer ’n meisie uitvra?

Dan glimlag hy vir die jonger man doer aan die ander punt van haar oorlede ma se lang tafel. “Ons is regtig dankbaar dat jy toe wel gouer kon kom as wat verwag is, Hanko.”

“En ek is regtig jammer dit het so lank geneem, maar dit was dinge buite my beheer. Daar was oneindig baie om gedoen te kry so op die laaste.”

“Ek begryp.”

“Watter dinge?” vra Xanthe. En wat begryp oom Benna? Sy sal daarvan hou om ook in die prentjie te wees, dankie. Sy is die een wat amper vier weke moes wag.

Oom Benna trek sy asem in, blaas dit stadig uit. “Laat ons eers hier klaarmaak.”

Oukei. Dis blykbaar nie belangrik dat sy wat Xanthe is, weet nie, en aandring daarop gaan seker ook niks tot die situasie bydra nie. Wat oom Benna te vertelle het, sal wel, want sy móét weet.

“Ek sal eerstens verduidelik hoe dit gekom het dat Dawid so ’n vreemde bepaling gemaak het.”

Hoog tyd. Net na haar pa se dood moes sy al hoor hy het verkies dat sy en hierdie mansmens om dieselfde tafel – weerskante aan die verste punte van dieselfde tafel, kwalifiseer sy – sit wanneer sy redes bekend gemaak word. Toe duur dit amper ’n maand voor Hanko opdaag. Intussen het die vrae oor haar pa se testament haar tot waansin gedryf, al het sy hóé hard probeer om eerder op die onderneming te konsentreer. Dit was weke van spartel om nie in haar nuwe lewe te verdrink nie. Om vrede te maak met ’n lewe wat sy al hóé lank begeer, maar nou geen idee het hoe om aan te pak nie.

Sy teug die laaste bietjie koffie, sit en kyk ’n oomblik met die mondvol na oom Benna toe hy aarsel. Kan ’n frons nie keer nie toe hy wegkyk en sluk. “Oom?”

Sy blik kom terug na haar, so halfsku, lyk dit. “Xanthe, jy moet weet jou pa was by sy volle positiewe toe hy sy testament laat verander het.”

Wat wil hy hê moet sy sê? Hoera? “Ja, Oom.”

“Goed.” Hy tel die vel papier op. “Soos jy reeds weet, erf jou stiefma en suster elkeen ’n meenthuis in die Strand en ’n trustfonds. Jy erf Roeskuil, maar die huis en ’n deel van die grond waarop dit staan, is Hanko s’n.”

Sy dog hulle gaan begin by haar pa se redes vir sy vreemde boedelbepaling.

Oom Benna het haar van die begin af gewaarsku sy is die huis en stuk grond kwyt; dat dit na ’n vreemdeling gaan. Sy was totaal oorbluf. Verward. Seergemaak. Kwaad. Iemand anders gaan nou in haar grootjie se huis sit. Maar dit was haar pa se laaste wens, en sy probeer hard om dit te aanvaar. As sy egter net sy besluit kon verstaan het …

As iemand haar net kan help om die rondomtalie van gedagtes tot stilstand te bring.

Dis ’n ou huis met groot vertrekke en deksels koud in die winter. Toegegee, dis heerlik in die somer. Dit val nog nie uitmekaar nie, maar dis ook net genade. Dit het aandag nodig. Baie aandag en eintlik lankal. Lank voor haar pa siek geword het al, maar hy het bly sê die dag wanneer hy aftree, sal sy eie huis aan die beurt kom.

Sy verdwaal so op haar eentjie in die groot ou huis, maar dit verander niks aan die feit dat sy hier grootgeword het nie. Al kon sy nie gou genoeg ná matriek wegkom nie. Met net haar splinternuwe matrieksertifikaat in haar sak, is sy as niks meer as ’n opgehemelde teedame aangestel en het sy in ’n kamer in haar nuwe baas se agterplaas gaan bly.

Nou is sy terug in die familiehuis. En oud en verwaarloos of nie, die plek het potensiaal. Finansiële potensiaal. Ongelukkig is geld nodig om geld te maak en sulke geld het sy nie.

“Jy het genoeg water met die onderste dam en die vlei,” roep oom Benna haar dwalende gedagtes terug, “en kan alles steeds aan die gang hou. Die ou stalle het jy tog reeds na jou smaak laat restoureer en inrig.”

Sommer net so? Haar huis opgee en die naweekplekkie wat sy vir haar en Colin … Nee! Die naweekplekkie wat sy ingerig het vir stedelinge om so ’n bietjie in hierdie rustige omgewing hul batterye te kan kom herlaai – is dít nou haar blyplek?

Totsiens, ekstra inkomste, oftewel dan daardie deel. Daar is nog die stuk grond in die westelike hoek wat sy verhuur aan ’n man wat kweek aanplant en verkoop, en ook die huur van die heelwat kleiner huis waarin hy en sy vrou woon, maar dis ’n druppel in ’n emmer wat elke dag groter lyk. Sy het nie die weelde van ’n trustfonds nie.

“Soos jy reeds weet, is die besigheid joune.”

Ja, en daaroor skree sy: Hoera! Of miskien moet sy bietjie wag met die feesvieringe. Sy kan uiteindelik haar droom vervul. As sy net nie geheel en al en toetentaal onbevoeg gevoel het of, as sy eerlik moet wees, heeltemal onbevoeg is om dit te doen nie.

“Jy kan daarmee maak soos jy goeddink. Dit verkoop en weer vir jou ’n ander werk kry, maar dan sal jy, afgesien natuurlik van die grond en huis wat Rikus Stander huur, ander fondse nodig hê om Roeskuil en die diere aan die gang te hou. Ek weet byvoorbeeld jy wil graag die perde behou en is deeglik bewus van die enorme koste daaraan verbonde.”

Watter ander fondse? Soos oom Benna nou al gesê het, is sy sonder werk of, om meer korrek te wees, betalende werk. Toe haar pa siek word, het sy die miserabele holte waarin sy in daardie stadium as ontvangsdame gewerk het, vinniger as in ’n oogknip vaarwel toegeroep om hom te kon bystaan.

Die werk as ontvangsdame by die klerefabriek was uit die staanspoor ’n yslike sprong die verkeerde rigting van welvaart in. Sy het daar begin werk omdat sy feitlik oornag ’n nuwe betrekking nodig gehad het ná die fiasko by C&C-Argitekte, en wie verleë is, kan nie kies en keur nie. Die aansporing om iets beters te soek het immer ontbreek.

Van haar woonstelletjie in die stad wat sy eiehandig so lekker knus ingerig het, het sy afstand gedoen en teruggetrek na haar kamer in die huis om naby die hospitaal te wees waar haar pa gelê het. Sy kon die woonstel in elk geval eintlik lankal nie meer bekostig nie, en almal het vermoed haar pa gaan nie terugkom uit daardie hospitaal nie.

“Hanko …”

Haar aandag spring terug na oom Benna en die Engelsman en haar kombuis wat sy nou kwyt is. Nie modern soos die een in die Stalle nie en allesbehalwe prakties uitgelê, maar tog so warm en bekend met die tafel en stoele van haar eie ma se grootjie.

“Hanko, soos jy reeds gehoor het, is die huis joune saam met net minder as ’n halwe akker grond. As jy egter wil verkoop, kry Xanthe of haar ma en suster eerste opsie.”

Haar stiefma en halfsuster hier kom bly? Miskien wanneer die perde horings kry.

“Wat sê jy?” vra oom Benna aan die jonger man wat met ’n onleesbare uitdrukking sit en luister.

Die hand wat sy kuif wegstoot, lyk sterk asof dit gewoond is aan harde werk, met kort, netjies versorgde naels, fyn donker haartjies op die kneukels en … Sy pluk haar gedagtes weg van die afgrond toe prentjies van daardie mooi hande op haar vel skielik toegang tot haar bewuste soek. Die afgelope maande se stres dra nou ruimskoots vrug. Sy is besig om eiehandig haar laaste bont varkie by die kampie uit te jaag.

“Ben, ja …” Die mooi hand ploeg weer deur sy hare agter in sy nek af en laat ’n baie aanloklike prentjie agter.

Oom Benna se selfoon lui, maar Xanthe hoor g’n woord wat hy sê nie. Sy stem is slegs ’n vae agtergrondgeluid terwyl aggressie in haar raas, aggressie teen haarself gemik. Sy ís besig om die kluts kwyt te raak.

Sy klem haar kake opmekaar, gee die man ’n kyk wat sy oë ’n oomblik laat rek en gluur dan vir die yskas met sy lekplek, roeskolle en vrieshokkie wat al jare niks meer behoorlik koud kry of hou nie. Hy moet maar self vir hom ’n nuwe …

Die halfgevormde gedagte stol.

Het sy nou sonder slag of stoot tou opgegooi? Het sy êrens ’n binnevrou wat sy nog nie ontmoet het nie? Een wat sommer so sonder enige as-jou-blief namens haar besluit sy is nou ’n bouer en onderhouer en wie weet wat nog, en dat ’n vreemdeling maar die huis kan kry?

Oom Benna lag en sy keer terug na die kombuis wat nou al kouer word. Dis tyd dat hulle klaar praat.

“Dankie, Ben,” sê Hanko en kom orent. Oom Benna volg.

Wat het sy gemis? Waaroor het hulle gepraat? Hoekom lyk hulle asof alles afgehandel is?

“Is daar nog iets, Xanthe?” vra oom Benna toe sy bly sit.

“E … is alles dus afgehandel?”

Die twee mans kyk vir mekaar.

“Ek begryp nie.” Oom Benna se hand kom lê sag op haar skouer. “Jy het tog ingestem dat ons Vrydagoggend weer hier bymekaarkom en dan maar alles klaarmaak. As ek nie nou ry nie, gaan Susan laat wees vir haar doktersafspraak.” Hy sug. ”Ek sal maar weer moet laat kyk na haar motor. Dis gevaarlik vir ’n vrou om so langs die pad te gaan staan.”

Wanneer het sy nogal ingestem tot ’n herontmoeting? Wat het hulle als bespreek terwyl sy ingedagte was? Moet sy maar eerder vra?

Aikona. Die Joubert-mansmens kyk hoeka na haar asof hy jammer vir haar is, en askies ’n bietjie, sy het niemand se simpatie nodig nie.

“E … oukei.” Haar stoel se pote kras oor die houtvloer. “Nee, wag.” Waar is haar gedagtes? “Vrydagoggend werk nie vir my nie, want ek het ’n afspraak met ’n kliënt. Maak dit drieuur, asseblief,” sê sy meer kortaf as wat sy wou. Simpatie het sy nie nodig nie, maar ’n bietjie selfondersoek wel. Om darem so oor ’n wildvreemde man te sit en dwaal dat jy die drade van realiteit verloor …

Sy druk haar kop ’n oomblik teen oom Benna se skouer. Net om so bietjie te vergoed vir haar kwaai reaksie. “Oom het ’n remote. Sal Oom sommer vir meneer Joubert …”

“Hanko.”

“… vir Hanko ook uitlaat?”

Hulle groet en stap uit, en vinniger as wat goeie maniere dalk sal dikteer, druk sy die agterdeur met ’n klappie toe teen die koue wind. Dis amper Oktober, maar die winter kry net nie einde nie. Byna ’n jaar lank al, voel dit.

Nou is daar nog twee dae van wonder oor haar pa se testament … Sy moet maar solank haar aandag aflei. Sy gryp die sleutels en storm na die studeerkamer om die planne te kry.

Dankie tog vir Wessel wat met die pap band gehelp het. Die bakkie staan gereed in die skuur en môre sal hy die stukkende band by die garage aflaai om reggemaak te word.

Sy sal later selfondersoek doen. Of is dit indaba hou? Sy sit mos nou met ’n binnevrou wat eensydige besluite oor háár lewe neem.

ʼn Huis vir my hart

Подняться наверх