Читать книгу ʼn Huis vir my hart - Dirna Ackermann - Страница 4

2

Оглавление

“Nou waar op aarde is jul koppe? Goeie land, Wessel, julle mors met voorrade en met geld wat ek nie het nie, én met die huiseienaar se tyd en geduld.” Xanthe sluk teen frustrasie wat, soos moer in mens se koffie, net nie reg wil afgaan nie.

“Eers laat julle die helfte van die sand wegspoel. Ons moet nie net nóg kry nie, maar mors ure om op te ruim en die huiseienaar se oprit weer gangbaar te maak. Vergeet nog van die straat en die buurman wat kom kla het.”

Haar selfoon lui en sonder om te kyk, druk sy die ding dood. “Toe stapel julle ’n vrag bakstene só skeef dat dit omfoeter. Maak nie saak dat dit nie baie was nie, daar sit ’n man by ongevalle wat sy gebreekte voet moet laat dokter, en dis naweek. Ons kan nou niks voor Maandagoggend doen nie.”

Daar kan nie meer veel emalje op haar tande oor wees nie. Sy het dit afgekners in die tyd sedert sy die onderneming oorgeneem het.

“Wessel, jy maak óf seker dat jou manne ordentlike werk doen, óf iemand gaan betaal. En ek belowe jou dié keer gaan dit nie ek wees nie.”

“Xanthe, ek is regtig jammer.” Die kort, stewige man lig sy pet en vee oor sy kaal kop. Nie geskeer nie, daarvan is sy seker. Sy het hom maar so sonder hare leer ken toe hy toentertyd vir haar pa begin werk het. “Die ou wat ons die begin van die maand gekry het, was nie ’n goeie aanstelling nie en dis hy wat die stene moes stapel.”

“Nou hoekom het julle dan nie gewag dat ons iemand beter soek nie?”

“Jy het die oukei gegee, want jou pa was op sy laaste en jy moes op ses plekke gelyk wees. Toe is Doepie ook so skielik weg …”

“Jammer, Wessel.” Sy moenie haar getrouste ondersteuners ook nog die bosse in verwilder nie. “Maar hoe nou? Ons kan tog nie so aangaan nie. Ons het hulp nodig, en dadelik ook.” As hulle net ’n slag iemand kan kry wat weet wat hy doen én bereid is om hard te werk.

“Ek weet. Toe ek hierdie gemors sien, het ek die ou huis toe gestuur. Ek is nie seker wat sy probleem is nie, maar het gesê hy kan Maandag kom, dan sal ons gesels. Ek hoop jy sal daar kan wees.”

“Reg so, maar wat …?” Haar selfoon lui weer, en sy pluk dit uit haar baadjiesak. “Ek is regtig baie besig, oom Benna. Die wêreld staan op sy kop. Kan ons later praat?”

“Xanthe, ons wag al hóé lank vir jou. Waar is jy?”

“Wag vir my? Waar …” Dis Vrydagmiddag! Haar polshorlosie sê dis twintig voor vier, en al ry sy nou, sal dit amper ’n halfuur duur om by die huis te kom. “Oom, ek is jammer.” Sy sug. “Ek is by ’n perseel en ons …”

“Jy het twee dae lank geweet van vanmiddag, Xanthe. Kan iemand anders nie daar oorneem nie?”

Iemand kan seker, maar sy is so oorweldig deur ’n taak waarvoor sy nie behoorlik opgelei is nie dat sy te bang is om die leisels vir ’n oomblik te laat gaan. Só weet sy ten minste watter mal perd hol in watter rigting, al weet sy nie altyd mooi hoe om te keer nie.

“Oom, kan ons dit nie uitstel nie, asseblief? Ek kan regtig nie nou hier weg nie. Met al die reën en onvoorsiene probleme is die bouers reeds agter en die huiseienaar raak moeilik.”

“Wanneer?”

“E … wat sê meneer Joubert?”

Hy praat met iemand aan die ander kant, maar sy kan nie uitmaak wat hy sê nie.

Dis nou al twee dae dat die ander erfgenaam van haar pa se boedel meer in haar gedagtes is as uit. Sy kry net nie tyd vir ’n bietjie selfondersoek om uit te vind waarom nie.

Ja, sy weet nog nie hoekom haar pa so ’n vreemde bepaling in sy boedel het nie. Ja, hy kry ’n belangrike deel van die plaas. Nee, sy weet nie wat hy daarmee gaan doen nie, en nee, sy is nie blind nie. Sy hét gesien hy is aantreklik. Baie aantreklik …

“Xanthe!”

Sy kyk na die selfoon waaruit so ’n ongewone kwaai stem kom. Druk dit weer teen haar oor. “Oom?”

“Het jy gehoor wat ek sê?”

“ ’Skies, Oom. Sê weer.”

“Land, kind. Waar is jou gedagtes?”

By ’n dekselse Afrikaner wat uit Engeland gekom het. “ ’Skies. Sal Oom asseblief herhaal?”

’n Sug val kaplaks in haar oor. Sy geduld raak min. “Hanko gaan die naweek weg, en ek wil nou klaarkry. Dit was al erg genoeg dat ons Woensdag moes uitstel. Hoe gou kan jy hier wees?”

Die vingers wat oor haar oë vee, is yskoud en sy bêre haar hand in haar baadjiesak. “Gee my so ’n driekwartier, asseblief.”

“Sien dan.” Hy lui af sonder om te groet. Hy ís omgekrap. Sy sal om verskoning moet vra vir haar vergeetagtigheid en verduidelik. Hy was nie net haar pa se prokureur nie, maar is ook ’n jare lange huisvriend en so soort van ’n tweede pa vir haar en Rhode.

Hanko kom orent vanuit die diep, sagte bank toe Xanthe die sitkamer in stap. Sy frons toe sy die vuur in die kaggel sien, maar sê niks nie en gaan vou net ’n arm om Ben se skouers. Druk ’n oomblik haar wang teen sy hare. “Hallo.”

Die kussings pfft toe Hanko terugsak. Hy gaan nie om verskoning vra dat hy die vuur aangepak en brandgemaak het nie. Dit is nog nie sy huis nie, maar die plek is erger as ’n yskas. Sy is meer as ’n uur laat, en Ben was al blou om die kiewe.

“Regtig askies, oom Benna. Daar was soveel nonsies by die bouery vandag, en een ou het selfs by ongevalle beland omdat iemand anders nalatig was.” Dan kyk sy die eerste keer reguit na Hanko. “Middag. Ek is jammer ek het julle so laat wag.”

“Hallo.” Hy gaan ook nie verskoning vra omdat sy lyk asof sy haar, baadjiepunte in die wind, moes haas om hier te kom nie. Sy het geweet van die afspraak; al vermoed hy sy het Woensdag net die helfte van hul gesprek gehoor. Ben het verduidelik waarom hulle moet uitstel, maar haar oë het so ’n veraf kyk gehad … asof sy net lyflik teenwoordig was.

“Wie is dit wat seergekry het?” Ben se stem is bekommerd.

“Ek dink nie Oom ken hom nie, maar ek het netnou met hom gepraat. Sy voet is nie gebreek soos ons gevrees het nie, hy kan net vir ten minste tien dae nie kom werk nie. En die ou wat die nonsies veroorsaak het, steek ek Maandag in die pad.” Aggressie en iets anders, frustrasie, moedeloosheid, trek haar mooi mond dun. Moeilik om vas te pen presies wat, want sy probeer hard om ’n ewewigtige front voor te hou.

Terwyl hulle gewag het, het Ben vertel sy was ’n ontvangsdame, maar het bedank om die onderneming te behartig toe haar pa siek geword het. Hy kon dit nou die dag al sien. Hierdie vrou trek swaar in die tuig waarin sy haarself gespan het.

“Het jy ’n bestuurder vir die besigheid, Xanthe?”

Die groen oë blits in sy rigting asof hy ’n uitgestorwe taal gepraat het. “My pa was eienaar en bestuurder.”

Nie wat hy gevra het nie. “Ek het nie bedoel om aanstoot te –”

“Oom Benna, kan ons klaarmaak? Asseblief. Ek het baie administratiewe werk om in te haal.”

Met ander woorde, ’n sensitiewe sakie.

Sy vly haar neer in ’n stoel langs die kaggel, trek albei voete op en sprei die helderkleurige kombersie wat oor die armleuning lê oor haar bene. ’n Koulike meisie, lyk dit.

“Nou, kom ons begin.” Sy nies, diep ’n snesie uit haar baadjiemou en klad haar neus.

Ben beskou haar ’n paar oomblikke stil. “Is jy oukei?”

Sy vroetel met haar hande voor sy hulle in die rand van die kombersie toerol. “Simpel verkoue,” brom sy en gee Hanko ’n verwytende kyk. Asof dit sy skuld is.

“Reg dan. Laat ek net jou pa se redes vir die bepalings van sy boedel afhandel voor ons weer onderbreek word.”

Xanthe sit meer orent, ’n hand kom onder die kombers uit en slanke vingers met kort naels kom lê teen haar oop lippe, haar aandag stip op Ben.

Ben sug soos iemand wat swaar dra aan iets. “Xanthe, jy weet reeds jou pa en ek was van ons jong dae af vriende. Ek en Markus Joubert het saam op Stellenbosch vir prokureur gestudeer, en hy het hier by jou ouma geloseer. Ons drie het ook saam rugby gespeel, en om ’n lang storie kort te maak: Markus het vir jou pa die geld voorgeskiet om die konstruksiefirma te begin. Jou ouma en pa het in daardie stadium finansieel baie swaar getrek, terwyl Markus ’n erflating van sy oupa gehad het.”

Dít is nuus vir Hanko. In die kort agtien jaar wat hy sy pa by hom gehad het, was daar nooit tekens dat hy in die boubedryf belanggestel het nie. Of het hy in sy kindheid maar net nie geweet waar om te kyk nie?

Sy pa was prokureur tot na sy ouers se troue en het later ’n vissersvloot begin. Maar Raaswater, die kolossale ou huis wat sy oupa Els uit ’n bankrotveiling gekoop het, het hy byna eiehandig opgebou tot ’n B&B met ’n blink reputasie in die buiteland. Het dit vergoed vir ’n gemis waarvan hy wat Hanko is net nie geweet het nie?

Xanthe kou aan ’n vingernael en kyk weer na hom asof sy vermoed hy is skuldig aan iets, maar nog nie besluit het wát en presies hóé skuldig nie, dan na Ben wat in die vuur staar asof die verlede daar opgestaan het.

Die vlammelig streel haar hoë wangbene en vol mond en ’n gewaarwording vat-vat aan Hanko. Een wat hy doodgewaan het. Nee, om eerliker te wees, doodgewens het. Die bank kraak toe hy ongemaklik rondskuif.

Ben kyk op asof hy geskrik het. “Om dit dan net anders te stel, Xanthe,” sê hy vinnig, “die konstruksiefirma wat jy geërf het, is begin met geld wat Markus Joubert voorgeskiet het. Jou pa het dit egter nooit terugbetaal nie. Die klaarblyklike wanbalans tussen destyds se geld en vandag se erflating, vergoed vir dertig jaar se rente. Monetêr en moreel.”

“Oom?” Sy lyk dogtertjieklein in die yslike stoel. ’n Klank van verlorenheid in haar stem. Haar oë is verskuil in die skadu’s toe sy haar gesig na Hanko draai en dan weer na Ben.

“Ek sê –”

“Ek weet wat Oom gesê het.” Kortaf, voor sy diep asemhaal. “Hoekom dan die besigheid vir my gee?” vra sy veel sagter, amper paaiend, asof sy wil sê sy weet dis nie Ben se skuld nie. “Hoekom nie vir Hanko nie wat in der waarheid die regte erfgenaam daarvoor is?”

Goeie vraag, maar hý wat Hanko is, is dankbaar dit het nie so om gebeur nie.

“Ek weet nie, kind, ek weet nie. Ek het gevra dat hy ten minste moet verduidelik, maar jou pa was nie te oortuig nie. Hy het gesê hy weet wat hy doen, en basta. As ek nie sy wense gehoorsaam nie, kry hy ’n ander prokureur.”

Ben sit ’n ruk met sy hand oor sy mond asof hy sy volgende woorde eers bedink, sy blik op Xanthe wat na haar vroetelende vingers onder die kombers staar. Weemoed om haar mond. Haar begeerlike …

“Hanko,” Ben se stem pluk hom net betyds terug, “het jy al besluit wat jy met die erflating gaan doen?”

Vaste grond onder sy voete. Hy weet van die eerste oomblik af wat hy gaan doen, dié dat dit weke geduur het om hier uit te kom. Al was hy reeds op pad terug Suid- Afrika toe, moes hy wag vir die Britse owerheid se finale toestemming.

“Ek gaan die huis herstel en hier kom woon.”

Dit klink asof Xanthe in iets stik, maar toe hy na haar kyk, roer nie ’n spiertjie onder haar sygladde vel nie. “Wanneer?” vra sy oënskynlik komkommerkoel.

“Ek gaan die naweek Keurbaai toe, maar sal Maandag terug wees en dan begin kyk wat my te doen staan.”

“Wanneer moet ek uit wees?”

Hy kan nie regtig peil hoe sy voel nie. Steeds dieselfde onsekerheid van Woensdag, of het sy intussen gekies tussen “my plek” en “ ’n ou kliphuis”?

“Jou pa het be-”

“Soos ek sê,” val Hanko die ouer man in die rede, “sal ek volgende week eers regtig kans kry om te kom kyk en dinge in oënskou te neem. Wees rustig. Daar is baie tyd om te praat en die beste vir ons albei te beding.”

“Klink alte veel soos twee brakke wat stry oor dieselfde been,” brom sy en ontvang ’n baie besorgde kyk van Ben.

“Xanthe, kind?”

“Nou ja.” Sy spring op, gooi die kombersie eenkant en wip die dik vlegsel oor haar skouer. “Ek het regtig baie om te doen. Sal julle my nou verskoon? Oom Benna, sluit maar alles agter julle, asseblief.” Sy pik ’n soentjie teen sy hare. “Tatta.” Hanko kry so ’n sydelingse kyk, eintlik net ’n groen blits na sy kant toe. “Totsiens.” Sy verdwyn by die deur uit en haar voetstappe weerklink op die gang se plankvloer. Dan gaan ’n deur taamlik hard toe.

“Jammer,” sug Ben. “Maar ons moet dit seker te wagte gewees het.”

“Ek begryp en belowe ek sal haar tyd gee.” Hanko staan op. “Moet ek die vuur blus?”

“Nee, los maar. Dis Vrydagaande haar geliefde plek. Sy sal wel netnou hier kom sit.”

Teen die tyd dat alles agter hulle gesluit is, en Hanko die fiets in die rigting van die dorp stuur, het die temperatuur gedaal en huil die wind uit die noordweste. Die Kaap kan uitsien na nog ’n nat naweek. Mag sy mede-erfgenaam tog binne bly. Voor hy skuld kry vir nog ’n kwaal wat haar dalk pak.

Dis ’n uitgemaakte saak. Háár wêreld en dooddollies gebruik lankal nie meer dieselfde bloudruk nie.

Xanthe sit ’n beker tee en bordjie met beskuit op die koffietafel neer. Haar vingers glip toe sy die sware tafel van treinspoorsparre probeer nadersleep na die vuur. Sy stap om. Met albei hande en brute krag kry sy dit nadergestoot.

Snoesig toegewikkel in haar verbleikte pienk kamerjas sak sy op een van die twee stoele weerskante van die kaggel neer, skop haar skaapvelpantoffels uit en trek haar voete in sokkies onder haar in.

Reën kletter teen die donker skuifraamvensters en in die gedempte lig van die vlamme lyk die vertrek knusser as in daglig. Die Persiese mat wat aan haar ma behoort het, is die enigste voorwerp van waarde wat oor is nadat haar stiefma al háár persoonlike goed laat haal het: skilderye, sytafeltjies en snuisterye. Maar die sitkamerstel is glo al te verweerd en outyds; Xanthe moet dit maar verkoop, het sy gesê. Eintlik is net die raam van ’n sitkamer oor, maar dis nie langer deel van haar kwellings nie. Die nuwe eienaar kan die sitkamerstel erf, al het dit gelyk asof hy nie sy sit op die bank kan kry nie.

Wat gaan sy met die oorblywende oudhede in die huis maak? Die massiewe kombuistafel en stoele, en nog een in die eetkamer. Daar is nie plek in die Stalle nie en verkoop is buite die kwessie, veral die kombuisgoed.

Die tee en beskuit wink. Aandete was ’n appel, maar dis vergete al verby. Xanthe doop ’n homp beskuit eers en kou aan die lekkerte wat sy self geskep het.

’n Uithalerkok is sy nou nie, maar ’n boer maak ’n plan. Of in haar geval, lús maak ’n plan. Waarom moet sy droëbek sit wanneer ander hulle vergryp aan heerlikhede soos karringmelkbeskuit? Sy doop nog ’n stuk, op die oomblik salig tevrede na nóg ’n dodelike dag.

Dit het haar pa se siekte geverg om haar droom te verwesenlik om in die boubedryf te werk. As hy haar maar net vroeër in sy bedryf toegelaat het … Sy destydse weiering om dit te doen gaan dalk nou haar droom én die onderneming kelder.

Sy het nie die kennis of die ervaring om dit eens uit die depressie te lig waarin dit tydens sy siekte begin verval het nie. Laat staan dit uit te brei soos sy so bitter graag wil.

Haar pa het lank met sy gesondheid gesukkel en toe hy uiteindelik gehoor gee aan haar en haar stiefma se pleidooie, was die skrif reeds aan die muur. Nogtans het die dokter gesê minstens ses maande. Hulle het gedink daar is genoeg tyd vir hom om haar touwys te maak. Ses maande waarin hy, al was dit vanuit ’n lessenaarstoel of selfs ’n bed, die leisels geleidelik kon oorhandig.

Toe slaan die maagkanker binne drie weke toe.

En asof haar posisie nie benard genoeg is nie, kan sy haar pa se oudste en getrouste kliënt verloor as sy nie fyn trap nie.

Verkoop is buite die kwessie. Dis nie net haar droom nie, maar ook haar pa se nalatenskap. Sy verkoop nie. Klaar, uit en gedaan, maar wat bly oor? Indiensopleiding vir die baas van die plek? Dit sou lagwekkend gewees het as dit nie so seergemaak het nie. Buitendien is daar niemand wat die opleiding kan gee nie.

Wessel en Donald help waar hulle kan, maar dis nie genoeg nie. Die besluite berus by haar. As sy toentertyd toegelaat is om haar hart te volg, om haar op die een of ander manier te bekwaam vir die werk wat sy haar hele lewe lank graag wou doen …

’n Stomp kantel om in die kaggel en goue flertsies vuur skiet en knetter die donker in … weg soos haar drome.

Al wat sy van kleins af wou doen, was bou. Sy wou konstruksies met bakstene en sement laat verrys en uiteindelik terugstaan en weet: ék het dit gedoen! Ek het iets permanents geskep. Om wat oud en vervalle is, uitmekaar te haal en te herskep tot iets nuuts! Iets beters. Iets vir ’n volgende geslag. Die saadjie is seker geplant toe haar pa haar as vyfjarige, ná haar ma se dood, noodgedwonge moes saamneem na die boupersele. Haar sandkastele het in bousand verrys terwyl die werkers om haar huise laat verrys het.

Toe haar pa weer getrou het, mag sy egter nie meer saamgegaan het nie. Suzette Beukes Patterson het ’n stokkie daarvoor gesteek. Ja, daar was kere dat Xanthe haar pa se arm gedraai het en smiddae of tydens vakansies op die boupersele gaan kuier het, ’n graaf gegryp het, klein takies verrig het. Gewéét het dis wat sy wou doen. Maar dit was nie genoeg nie. En haar pa het vasgeskop dat dit nie haar beroep sou word nie. Nee, het hy al die jare gesê. Die boubedryf is nie ’n plek vir een van sy dogters nie. Dis ’n ruwe manswêreld. Klaar.

Ja, het haar stiefma beaam. Almal het egter geweet Suzette is die eintlike stem agter die weiering. Want haar stiefma glo mos ’n ware vrou lyk nie net soos een nie, sy tree ook soos een op. Op boustellasies, tussen baksteenstof, dagha en in oorpakke? Nee!

Gaan doen iets anders, studeer in iets waar jy vrou kan wees, het albei gesê en na Rhode gekyk. Klein. Blond. Broos. Beeldskoon. Vrou tot in haar vingerpuntjies en modeontwerper van toenemende faam. So anders as Ousus, lank en skraal met min tekens van die volronde vroulikheid wat haar kleinsus so gewild by die mans maak.

Of gaan word ’n onderwyseres, is daar ook gesê. Sy hou glo daarvan om vir ander te sê wat hulle moet doen.

Toe keer sy maar hierdie plek met sy eise en vereistes haar rug toe en kry deur die jare drie verskillende poste as ontvangsdame. Elkeen met ’n sprongetjie in salaris, telkens by ’n effe groter maatskappy, en beland eindelik by C&C-Argitekte in die stad. Daar ontmoet sy toe die aantreklike Colin, die tweede C van C&C …

Daaraan wil sy liewer nie vandag dink nie.

Nou het haar hartewens uit die as opgestaan, al gaan dit met die vreeslike verlies van haar geliefde pa gepaard. Maar haar hartewens is al die tyd begin met ’n ander man se geld, en om dié skuld terug te betaal sit daardie man se seun met die helfte van haar erfgoed. Erfgoed waaroor sy een oomblik wil huil, en waarmee sy hom die volgende oomblik sukses wil toewens.

Sy sê mos haar wêreld en dooddollies werk nie meer van dieselfde bouplan af nie.

Haar pa was haar held. En sy was sy oogappel … in elk geval tot haar halfsussie gekom het. Ag, maar Rhode kan nie help dat sy met ’n hartdefek gebore is en die hele Patterson-huis om haar begin draai het nie.

Xanthe se selfoon lui in die studeerkamer waar sy dit aan die laaier gekoppel het en sy draf gly-gly die gang af, maar dit het reeds opgehou toe sy dit optel. Sy bel dadelik terug.

“ ’Skies, oom Benna, ek was in die sitkamer en die foon in die studeerkamer.”

“Xanthe, daar is iets wat ek nog vir jou wou … moes sê.”

“Oom?”

“Toe jou pa weier om sy planne te verander, het hy gesê hy sal met jou praat en alles verduidelik. Ek het gedink daar is nog tyd en gewag, maar soos ons weet, het die einde baie skielik gekom. Tog wonder ek of hy nie dalk vir jou ’n brief geskryf het … êrens vir jou iets agtergelaat het nie?”

“Dan sou ek tog al gesê het.”

“Ek weet, maar moes net seker maak.”

“Nee, Oom. Waar sou hy so iets gesit het?”

“Die kluis?”

“As dit in die studeerkamer was, sou ek dit al gekry het.” Sy is deur daardie plek met ’n vergrootglas in ’n poging om net so naastenby uit te pluis hóé die daaglikse kom en gaan van ’n konstruksiefirma deesdae lyk. Hoe lyk haar finansies? Hoe gaan sy voort met die boekhouwerk?

“In jou ouers se kamer?”

“Ma het alles uitgesorteer voor sy weg is. Net die kaal meubels is oor.”

“Xanthe?”

“Oom Ben,” sy verstaan die kommer in sy stem, “sy sal darem seker nie so iets van my weerhou nie, sal sy? Ek bedoel, ons het nog nooit regtig ons hande warm gemaak langs dieselfde vuurtjie nie, maar sy was ook nog nooit regtig gemeen nie. En dis tog nie asof sý die huis wou gehad het nie …” Nog minder haar suster. Rhode is iemand wat mense om haar wil hê. Ligte en die klanke van plesier.

“Jy is reg. Ek is jammer. Ek skerm maar net steeds vir jou na wat alles gebeur het.”

“Dankie, Oom.” Sy diep ’n snesie uit haar sak. “Maar ek sal soek. Is daar nog iets?”

“Hoe voel jy oor alles?”

“Ek weet nie, Oom, ek weet regtig nie. Ek is lief vir die huis …” Nou loop die trane en moet sy ’n paar keer sluk, anders gaan sy tjank in ’n deuntjie wat enige maansiek brak groen van jaloesie sal laat. “Ek is nog bietjie vuisvoos na alles, dit was ’n mislike dag, en ek verlang na my pa …” Die laaste paar woorde fluister sy.

“Waarmee kan ek help, kind? Soos ek dinge bekyk, het jy nog nie eens kans gehad om behoorlik oor hom te treur nie.”

Teen die pas wat haar trane nou loop, gaan sy binne minute vergoed vir al die dae wat daar nie tyd was om te huil nie. Die snesie is nou net rafels, en haar kamerjas se mou moet maar haar wange klad.

“Niks. Dankie.” Sy gaan hom nie nog met haar ergernisse ook opsaal nie. Hy werk hom reeds kapot terwyl sy vennoot oorsee is. “Hoe gaan dit met tannie Susan?”

“Sy is in die bed met griep, maar dit gaan reeds beter, dankie. Meisiekind, jy weet jy kan enige tyd bel as jy iets nodig het?”

“Dankie, ja. Lekker slaap. Ons praat weer.”

Hy lui af en sy sleepvoet na haar ouers se kamer. Of liewers, die byna leë vertrek waar dit eers was. Sy skakel die lig aan en gaan sit kruisbeen in die middel van die kaal matras.

Sy was skaars ses toe haar pa met Suzette Beukes getroud is, maar kan nog haar eie ma se meubels onthou. Die swaar stinkhoutstel met bal-en-kloupote met sy losstaande kaste en spieëltafel, die goudkleurige gordyne.

Deur die jare het haar stiefma die kamer herhaaldelik laat moderniseer, en sy sal toegee dat Suzette Beukes Patterson goeie smaak het. Sagte grys en wit. Ingeboude kaste in stede van die donkeres van vervloë se dae. Baie lig en rustig. Dis ’n mooi vertrek. Leweloos, maar mooi.

Kan hier êrens ’n brief wees wat verduidelik?

Alles het so vinnig gebeur. Sy het nog gesukkel om die skokkende nuus te verwerk, vrede te maak met die feit dat tyd vir afskeid min is, toe is daar géén tyd meer nie. Hoekom het haar pa nie …?

Vergeefse gedagtes. Hulle is soos warrelwinde. Tornado’s, en kort voor lank, steier mens onder hul aanslag. Liefs op die hede fokus en dalk tog nog kans hê vir ’n oplossing of ontknoping.

Drie dae na haar pa se begrafnis het haar stiefma alles uitgepak. Haar man se klere vir die hospies gaan gee, die beddegoed laat was en in die gangkas gesit, snuisterye en ornamente gebêre, nog goed uit laaie in kartonne gepak, en toe is sy sak en pak hier weg.

Suzette het gesê die ou plek is onleefbaar sonder haar man en sy gaan maar eerder troos soek by haar dogter en dié se man. Sy sal by hulle bly tot tyd en wyl haar meenthuis uitgeverf en leefbaar is.

Die res van haar goed het Suzette ’n week later laat haal.

Die kartonbokse! In haar haas om op te kom, duik Xanthe amper die rand van die bed mis. Haar stiefma het kartonbokse vol papiere uitgegooi en hulle staan steeds in die kantoor se hoek. Sy is aangesê om alles deur die snippermasjien te sit, maar daar was eenvoudig nog nie tyd vir sulke onbenullighede nie.

Ure later het sy ’n seer rug, ’n yskoue lyf, branderige oë en genoeg opgefrommelde papier om ’n oerwoud se bome te kon spaar, maar weet sy ook Suzette Beukes Patterson het nie iets wat aan haar stiefdogter geadresseer was hierin gegooi nie.

Xanthe strompel nies-nies die koue vertrek uit sitkamer toe. Die beker tee met sy bruin velletjie op lyk asof dit spot met haar vergeefse pogings, en die beskuit lyk onaptytlik in die dalende lig van die vlamme. Voor haar eie fut finaal uit is, is dit dalk ’n goeie idee om die vuur te blus. Dan liewers maar die koue met ’n warmwatersak en op haar eentjie gaan aandurf.

Onder haar donskombers, met die watersak in haar arms, lê sy en herkou aan maande en maande se gebeurtenisse en onthullings. Die pyn van verraad. Dat Colin haar nie wou hê nie, kan sy dalk nog hanteer, maar dat hy en haar suster … dat hulle nou getroud is … So baie trane waarvan sommige in die geheim toegelaat is om te loop. Ander wat gesluk en gesluk en gesluk is. Dalk kan sy nou maar ’n paar wegpink, of hulle sommer toelaat om na willekeur te loop.

Sy is ’n moderne vrou. Sy staan op haar eie bene. Sy skrik nie vir die drake wat die lewe op die mees onmoontlike oomblikke by die deur inlaat nie. Sy het geleer om te baklei. Om die drake sommer met haar tong dood te piets.

Helde op wit perde met skerp swaarde wat kom help, is stories vir dogtertjies, vir meisietjies wat nog moet leer dat die sterre in hul oë eintlik goëlery is. Sprokies.

Nou sal dit nie sleg wees as ’n ridder opdaag en net één van haar ou drakies verslaan nie. Hy hoef nie eens op ’n wit perd te ry nie. Hy moet net dapper wees en ’n skerp swaard saambring.

ʼn Huis vir my hart

Подняться наверх