Читать книгу Periandros van Korinthe - D.J. Opperman - Страница 6
Eerste Bedryf EERSTE TONEEL
ОглавлениеOp die vooraand van Lukophroon se vertrek kyk hy en Periandros vanuit die hof na Korinthe onderwyl hulle op die koms van die koringkis wag.
PERIANDROS
Môre vroeg nog voor die duisende atlete na die park
toe loop, moet ons, my seun, eers op die strand ’n wildevark
as offer slag, sodat hierna die Spele van die Isthmos
’n rus en groter eenheid aan ons handelsryk besorg:
aan Kerkura, aan Leukas, Anaktorion en Apollonia,
aan Epidamnos, Potidaia en ander soos Ambrakia;
verder dat sy bloed die kuit van die katonkel en tornyn
sal ryg aan stele van die seebamboes en laat verskyn
hier waar die wildevark die waters effens rooi bevlek.
LUKOPHROON
Ja, Vader, en so die reën van die Gode na Korinthe trek!
Dis weer die ou-ou kuns: in die staat sal daar niks skort
solank die burgers hulle koringbrood het en hul sport!
Hoe nugter kan ’n digter of ’n wysgeer, as hy wil, regeer!
PERIANDROS
Verder, terwyl die meeue gulsig oor die water skeer,
sal die twee perde lê en bloei oor die geklipte:
die wit merrie van Arabië, die swart hings van Egipte,
bloei sodat die golwe proesend alle handelskepe
van die wêreld na die kuste van Korinthe sleep. –
Jy kan gerus na ons ou stad voor jou vertrek weer kyk …
LUKOPHROON
… sodat ek op die rare seereis droom van ’n nog groter ryk!
PERIANDROS
Jy spot, maar eendag sal die wêreld hierdie stad onthou
as ’n digter se grootste droom uit klip en mens gehou,
en weet tussen dié marmersale en dié spits sipresse
het eens die fynste digters, denkers en die danseresse
uit die wêreldvertes en die eilande omheen vergader
in hierdie stad Korinthe óm Periandros die oervader
van alles skoons en wys … Ba! hoe sit die rykes weer verveel
in die kalktuin die heeldag deur en kamma dambord speel. –
Kyk, daar onder kom die werkers eindelik met die koringkis!
LUKOPHROON
Hoe ruik tog so ’n digterlike stad na kaas en vis!
PERIANDROS
Jy moet ook saam die spaan in klonterige melk insteek,
saam die velle in moerbeiblare en stalwater week!
Kyk: die Feniciërs was slim, maar Periandros slimmer;
aan my nuwe drieriemskepe sien jy duisend werkers timmer,
en boë en latwerk verrys op steiers en bakstene
tot die kaal geraamtes van hoenders se borsbene.
LUKOPHROON
Vader, ek moet by Ganguloon vasstel nog voor ek vaar:
kom die present van my aan Moeder betyds ooit klaar?
PERIANDROS
Wag nou! Hulle klouter teen die trap al met die koringkis.
LUKOPHROON
Maar ek kan nie begryp waarom dit so belangrik is.
PERIANDROS
Saam met Korinthe en die ryk moet jy die koringkis ook erf;
daarom het ek die baie beelde en die spreuke laat inkerf. –
Omdat jou oumagrootjie kreupel was en minder mooi
het sy geen vryer uit die adelstand geken as nooi,
en op ’n dag toe sommer ’n gewone burgerman geneem,
maar van haar mense, die Bakchiadai, nog meer vervreem;
totdat my vader – ja, jou oupa Kuupselos – gebore is,
toe word daar oral na die kind gesoek, maar in dié koringkis
het ouma Labda hom leer slaap en een keer weggesteek.
Later as man kon hy hom op die groot wynpense wreek
en met die volk se hulp het hy die adel uitgemoor
en self geheers. Wag, ek wil nie hê die werkers moet ons hoor.
Vier werkers kom binne met kis.
Gaan sê jou moeder en jou suster moet dadelik kom kyk
hoe Oupa se lank verwaarloosde ou koringkis nou lyk!
Lukophroon af.
Pas op, moenie die sederkis laat stamp of dit laat val!
Lig dit op die tafel. Ek wil dit eers ’n rukkie hier uitstal.
Hoe vlammig loop die geel grein van die sederhout,
en ewig sal tonele uit Korinthe leef in die ivoor en goud.
Mooi! Ek moet die kunstenaars tog op ’n fees bedank.
En julle wag nou seker op die ding wat stink se klank?
Dè, vat, verdeel die klompie goue munt en koop
aandenkings dat jul later sê: “Ons bene het die kis laat loop.”
Werkers af. Melissa, Hermionee en Lukophroon binne.
MELISSA
Tog pragtig! Eurúdikee wat teruggelok word van die anderkant.
PERIANDROS
Hier vlieg die wraakvoëls bo die ghwano van die wraakeiland.
LUKOPHROON
Vader se beeld in hout gekerf! Hier Oupa! Dis gebede
en verhale van ons mense en Korinthe se verlede.
HERMIONEE
Dis Gode, die magte oor die aarde, en hierso links
borrel die fontein onder die hoef van die gevlerkte hings.
LUKOPHROON
’n Mens sal baie lank die stoete beelde moet bekyk
voordat die hart die volle sin en skoonheid kan begryp.
MELISSA
Verborge hou die deksel geheime van die moederskoot.
PERIANDROS
Ja, maar die Bakchiadai se kinders is nou groot.
Periandros kyk weer na buite.
Kyk hoe sit die rykes van Korinthe belangrik maar verveel
in die kalktuin die heeldag deur en kamma dambord speel! –
Die kis kan hier ’n rukkie staan dat julle dit kan sien,
maar dan moet dit na ons slaapkamer – dis eintlik te intiem.
Kuupselos binne met kou en kwartel.
KUUPSELOS
Ha! Pik, pik, kwarteltjie, dat jy môre op die fees
die kwaaiste kwartel van die kwarteltjies kan wees!
PERIANDROS
Was jy vanoggend weer die groot grapmaker van die straat?
LUKOPHROON
Ag, Vader, hou tog op! Hy doen geen sterfling kwaad.
KUUPSELOS
Dag, ou koringkis! Met al dié tierlantyntjies aan
is jy die ware jakob vir ’n kwartelkou om op te staan.
PERIANDROS
Voordat ek daardie kou nog van die kis afklap,
vat die afskuwelike ding gou weg, en trap!
Kuupselos vat die kou van die kis af weg.
KUUPSELOS
Pik, pik deur die tralietjies dat jy my vinger byt
sodat hy bloei en bloei, dan wen jy môre die wedstryd.
HERMIONEE
Stil tog, Kuupselos! Hoe ver kan jy die diskus gooi?
KUUPSELOS
Hoe ver kan ek die dinges …? Haai, ek weet nie mooi!
Jy bedoel, Ousus, hoe ver die dinges my kan smyt!
PERIANDROS
Man, hou ten ene male op nou met die lawwigheid!
KUUPSELOS
Ek staan en mik, en staan en mik, en as ek hol,
die dinges los, draai hy my óm en óm: ’n groot vet tol!
PERIANDROS
Man, trap!
HERMIONEE
Kom, Kuupselos!
Hermionee vergesel hom uit.
KUUPSELOS
Pik, pik, kwarteltjie in jou ysterkou;
al die kinders van Korinthe hou soveel van jou.
MELISSA
Waarom die ongeduld en altyd daardie kind beledig?
PERIANDROS
En waarom alles wat hy sê en doen altyd verdedig?
Melissa af. ’n Rukkie stil.
Sal ons, my seun, nou saam na Ganguloon toe gaan?
LUKOPHROON
Nie nou nie! Ek kan Vader ook nie mooi verstaan.
Hy bly my broer, hy bly u seun, u oudste kind.
PERIANDROS
Ja! ek word soms soos die wildevark van woede blind.
Maar dink net: hy moes ná my oor hierdie ryk regeer
en nou deur hom tas God en mens my in my eer.
Met ’n oumagrootjie kreupel en jou kind ’n sot,
heers daar oor so ’n skewe wêreld ooit ’n God?
LUKOPHROON
Gaan Vader nie te ver, word ydel met die hoë naam?
PERIANDROS
Volgens die ervaring en die insig in jou doem
wissel die manier en name wat jy God sal noem. –
My seun, fyn op ’n spinnerak hang alle dinge saam,
en deur die eeue sal daar altyd na die sterre klink
as eerste vraag waaraan die mens weer telkens dink:
as daar oor hierdie aarde ’n oppermag gebied,
waarom laat hy die skending toe en die verdriet?
Dan kan die mens mos ook na eie wil en mag
sy webbe span en heeltemal sy medemens verag?
LUKOPHROON
Die siel word tog deur skade en verdriet gesuiwer,
en dit laat jou eindelik voor eie hartstog huiwer.
PERIANDROS
Ag! dis ’n skuimerige golf ná golf, en sonder rus
slaat die gedagtes eiesinnig teen ’n klipperige kus.
LUKOPHROON
Vader, voor my vertrek wil ek iets vra … of iets vertel …
wat by die skoonheid van Korinthe telkens my ontstel;
soos die glasuur op ’n gebakte kruik met fyn
geluid verspring, voel ek dit altyd in my skryn …
PERIANDROS
Ja?
LUKOPHROON
Dis moeilik; dis oor die gevoel van maat tot maat …
… e … e … e … oor die manier wat Vader soms met Moeder praat.
PERIANDROS
My seun, loop jou gevoelens nie met jou op hol?
’n Kind moet nooit met die verhouding van sy ouers lol.
LUKOPHROON
Ek voel God het aan man en vrou die kind gegee
dat hy opnuut gewete word tussen die twee.
PERIANDROS
Miskien! In elk geval, ek neem die erns van jou rede aan
al word die dinge, my seun, so maklik nie verstaan.
Terloops, jou moeder is die mooiste en die mees beminde
vrou, nie net vir my maar ook vir ander in Korinthe.
Tog, om by die vraag te kom wat my nou weer ontstel,
my broeis maak en waansinnig soos ek my loop en kwel:
daardie kliek van handelaars, die Bakchiadai, wat so verveel
in die kalktuin die heeldag sit en kamma dambord speel.
LUKOPHROON
Maar hulle is ’n wins en vir Korinthe geen gevaar.
PERIANDROS
O so! Nou luister wat die leier van die leër verklaar.
Met ’n slag op ’n simbaal ontbied hy die leier.
LEIER
My heer.
PERIANDROS
As jy die heerser was oor hierdie land,
wat sou jy aanvang met die nuwe handelstand?
LEIER
Ek het bewyse hulle is die voos plek in die volk
en voos plekke word netjies uitgekerwe met ’n dolk.
PERIANDROS
Goed, jy kan maar gaan.
Leier af.
LUKOPHROON
Ag! dis malligheid om te vermoor.
PERIANDROS
Nie altyd nie. Ek wil die uitspraak ook van iemand anders hoor.
Dis juis deur al die webbe dat ek jou aan my onvergete
jeugvriend stilletjies wil stuur, Thrasuboelos van Milete.
Ek en hy verkeer nog al die jare met mekaar in guns
en hy verstaan, soos g’n ander, die heerskappy se kuns.
LUKOPHROON
Gaan Vader weer die opdrag vir die rare seereis stel?
PERIANDROS
Ja, want jy moet alles duidelik aan hom oorvertel.
Ek moet in hierdie land van bietjie grond en baie klip
daeliks oor die lot van die derduisende beskik,
en uit die taai olyf, die engte tussen see en see
besluit hoe ek ’n ganse volk gaan voed en klee.
Tog, met tolgeld, die handelsvloot en garnisoen
het ek die lande van die sfinks en die lemoen,
van graan en silwer, lande wat ek net op kaarte ken,
as bondgenote of kolonies van ons ryk gewen.
Nou word die roustof in ons hawens opgehoop,
verwerk en weer opnuut aan hulle terugverkoop:
die kruike, silwerwerk, die streepkomberse van Korinthe
is in elke dorpie om die waters van die Tussensee te vinde,
en lewer nou en vir die wêreld later die bewys
die skoonheid is in hierdie staat die hoogste eis.
Ek moes die geld as middel vir ons ryk bedink,
maar het vermanend die gevlerkte hings daarop geklink.
En toe sien ek dat daar ’n ander slag van mense is:
die jonger Bakchiadai, erfvyand van die koringkis,
die nuwe rykes van Korinthe … Kyk hoe sit hulle daar verveel
in die kalktuin die heeldag deur en kamma dambord speel.
Dis winste en verliese; dis heeldag sit en kanse tel
en meedoen aan die sette van die nuwe, goue spel.
Die een koop al die kruike, ’n ander weer komberse op,
die een word baas van olies, ’n ander laat die silwer klop;
dit hou terug, laat los en stel die pryse vas,
en heers verby my, heers net soos dit hulle pas.
En nou die vraag waarop ek lank die antwoord reeds begeer:
hoe moet ’n digter, denker, ’n man wat ontwikkel is, regeer?
LUKOPHROON
Raadpleeg die wysheid uit vier streke van die winde
wat u laat saamwaai het in marmersale van Korinthe.
PERIANDROS
Ek sal, maar bo dié wysheid moet ek kan vertrou,
soos vir Thrasuboelos, en daarom stuur ek juis ook jou.
LUKOPHROON
Vader, ek is half bang om van Korinthe weg te seil;
ek voel daar dreig oor my, of eerder ons, ’n groot onheil.
PERIANDROS
Dis die opdrag en geheime taak wat jou oorspan;
beskou dit as ’n rukkie rus, jou wording as ’n man.
En vaar jy terug, mag daar ’n knop dan in jou keel opkom
wanneer jy weer sien hoe die wit wolk bo die berg uitblom,
of as jy in die nag kyk na die grootsste van gesigte:
die eerste wêreldstad, ons korf van soet en goue ligte.
Gordyn